Die bede vir ‘n volmaakte koninkryk

Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 48
Datum: 
2017-05-07
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 7 Mei 2017 AD, 17:30

Votum

Seën

Ps 97:1,3,4

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 13

Sb 28:1,2

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 48

Preek

Amenlied: Ps 103:9,10,11

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 97:6,7

Seën

Preek: Sondag 48

Die tweede
bede handel oor die koninkryk van God. Op skool leer mens van al die
verskillende lande en koninkryke op aarde. Daar is groot lande wat maklik is om
op die kaart, of op ‘n aardbol te vind. Lande soos Rusland, Kanada, Amerika of
Australië. Suid-Afrika, wat so heeltemal onder aan Afrika lê, is ook nie
moeilik om te vind nie. Dan is daar ook klein landjies waarvoor mens omtrent ‘n
vergrootglas nodig het om hulle te vind. Lande soos Nederland, België en
Luxemburg. Nou die vraag: vind mens die koninkryk van God ook êrens op die
aardbol? Hoe goed jy ook sal soek met jou vergrootglas, jy sal dit nie vind
nie.

Waar is die
koninkryk van God dan? Bestaan God se koninkryk nie uit alle lande van die
wêreld nie? Die Here regeer mos oor die hele aarde! Wie is dan burgers van God
se koninkryk? Daar is op aarde miljoene mense wat kinders van die Here is. Maar
ongelukkig is daar ook baie mense wat nie na Hom, na sy Woord, luister nie. Wat
hulle eie lewe lei, los van Hom.

En dan is
daar die Satan, God se vyand.

Dus, as mens
oor hierdie aarde praat, is dit ‘n verdeelde koninkryk. Sommige mense is trou
aan die Koning. Ander mense gaan hulle eie gang, gaan aan die einde van die dag
agter die satan aan. Hierdie aarde is ‘n verdeelde gebied, tans.

‘n
Strydtoneel. En dit is in kort, gemeente, hoekom die tweede bede daar is.

Dit is
hoekom die tweede bede noodsaaklik is, hoekom die Here Jesus ons opgedra het om
dit daagliks te bid: laat u koninkryk kom!

Tema: Die bede vir ‘n volmaakte koninkryk

1 Dit is ‘n bede vir gehoorsaamheid aan die
Koning

2 Dit is ‘n bede vir die behoud van die kerk

3 Dit is ‘n bede vir die vernietiging van die
teëstand

 

 

1 Dit is ‘n bede vir gehoorsaamheid aan die
Koning

In die Bybel
vind ons nie ‘n omvattende definisie van God se koninkryk nie.

Logies ook,
want die glans en heerlikheid van hierdie koninkryk gaan ons verstand te bowe. Hierdie
koninkryk word wel aan ons in die Skrif beskryf met allerlei beelde en
gelykenisse. Die koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaad (Matt 13:31). Die
koninkryk is soos suurdeeg, wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat
dit heeltemal ingesuur is (Matt 13:33).

Die
koninkryk is soos ‘n skat, verborge in ‘n saailand (Matt 13:44).

Die
koninkryk is soos ‘n koopman, wat mooi pêrels soek (Matt 13:45).

Die
koninkryk is soos ‘n net wat in die see gegooi word en van elke soort
bymekaarbring (Matt 13:47).

Die
koninkryk is soos ‘n man wat goeie saad in sy land gesaai het (Matt 13:24).

En so kan ek
nog ‘n rukkie aangaan. Met allerlei uiteenlopende voorbeelde maak Christus in
sy Woord aan ons duidelik hoe die koninkryk lyk wat aan sy Vader en aan Hom
behoort.

Ons is dalk
geneig om by hierdie koninkryk te dink aan iets soos ‘n land, geografies
gesproke. Iets soos die Koninkryk der Nederlande, of die United Kingdom. Ons
dink dan aan die koninkryk van God in terme van dit wat ons op aarde ken. Maar
ons moet dit omdraai. Aardse koninkryke sou eintlik soos die hemelse koninkryk
moet lyk! En hoe moeilik is dit nie vir sondige mense nie!

Selfs vir
gelowige mense, Godvresende burgers en politici.

As ons in
die Ou Testament die geskiedenis van die koninkryke van Juda en Israel lees, en
van die konings van Israel en Juda lees, kry ons ook nie ‘n betroubare beeld
van wat God se koninkryk is nie, al was dit God se eie volk.

Ook oor die
koningskap van Godvresende konings soos Dawid en Salomo het ‘n skaduwee gehang,
wat die lig van God se koningskap en van sy ryk dikwels meer verduister as
geopenbaar het. Ons sal dus op ‘n ander manier te wete moet kom wat God se
koninkryk presies inhou. Ons is aangewese op God se eie openbaring.

Die Griekse
woord vir koninkryk kan ook vertaal
word as koninklike heerskappy, of koningskap. Hierby dink ons dan nie aan
‘n ryk nie, maar aan die bevoegdhede en die uitoefening van die gesag deur die
koning. Dit gaan by die woord koninkryk
dus nie net oor die ruimtelik geografiese aspek nie, maar ook oor – kom ons
noem dit – die dinamiese aspek, die heerskappy.

Nou in
Sondag 48 word veral hierdie dinamiese aspek aan die orde gestel.

Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons
ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp. Bewaar en vermeerder u kerk. Vernietig
die werke van die duiwel en elke mag wat teen U opstaan.

Mens kan sê
dat dit hier veral gaan oor die voorbereidende aktiwiteite van Hom wat alreeds
op die troon sit, die Koning. En die Koning is ons Vader, want so begin ons
hierdie gebed. Maar langs die Vader sit ook sy 
Seun op die troon.

Vader en
Seun is een. Wie die Seun gesien het, het die Vader gesien (Joh 14:9).Dit kan
ons nie omdraai nie, so van: wie die Vader gesien het, het die Seun gesien.

Die Seun is
die toegang tot die Vader. Dit beteken, ons is, om die Vader te kan ken, wat
ook ons Koning is, op die Seun aangewese. En om die Vader se koninkryk te leer
ken, is ons dus ook op die Seun aangewese. Hier is sprake van ‘n tweevoudige
verhouding: die van Vader-kind; maar ook die van Koning-onderdaan. Ons mag ons
Koning ook as ons Vader aanspreek. Wie dit mag doen, die Koning as Vader
aanspreek, is self uiteraard ‘n prins of prinses. En dit is ons inderdaad,
prinse en prinsesse – erfgename van die Koning. Saam met die Vader sal ons,
eendag net soos Jesus Christus, as konings heers (Openb 22:5).

Nou in
Sondag 48 gaan dit spesifiek oor hierdie verhouding Koning-onderdaan.

Die
onderdaan moet aan die Koning gehoorsaam wees. Hy moet homself gewillig deur
die Koning laat regeer. En ‘n goeie onderdaan doen dit ook. Hy luister na die
wette van die Koning. Nou is dit die ideale situasie. Die aarde is egter nog ‘n
strydtoneel. Christus is besig om te werk na ‘n koninkryk waar elke onderdaan een en al
bereidwilligheid toon vir die Koning. Dit is Christus se eskatologiese doel. Dit
is waar Hy na toe werk, tot die jongste dag. Dit sou natuurlik pragtig wees, as
dit in die hede al die geval was. Maar daardie gedagte is irreëel.

Die Koning
op die troon sê persoonlik vir sy onderdane, dat hulle hulle moet voorberei op
‘n sware stryd, meer nog selfs: dat hulle nie net êrens in die toekoms, maar
nou, vandag, ‘n sware stryd moet voer.

Wie agter My
wil aangaan, moet sy kruis opneem en My volg! Indien jou oog jou tot sonde sou
verlei, ruk dit uit. Dit is beter, dat jy, al is dit net met een oog, tog die
koninkryk binnegaan, as wat jy met twee oë in die hel gegooi word, sê Jesus in
Markus 9:47. Voorwaar, wie die koninkryk van God nie ontvang soos ‘n kind nie,
sal daar verseker nie binnegaan nie (Mark 10:15). En bietjie verder in hierdie
hoofstuk sê Jesus:

“Hoe
beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan!” (Mark
10:23)

En in
Johannes 3:3 lees ons: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir jou as iemand nie weer
gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

Dus ja, die
pad na die koninkryk is een van stryd. Ons doodsvyande, die duiwel, die
opstandige wêreld en jou eie ou mens, is harde realiteite. Wie nie daagliks
teen hierdie drie bly stry nie, sal nie die koninkryk beërf nie. Sondag 48
benoem nugter hierdie realiteit: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons
steeds meer aan U onderwerp.

Hierin hoor
ons die eerlike belydenis: ons skiet tekort. Ons kry dit self nie reg nie. Wil
U ons daarom onderwerp. Die woordjie onderwerp
dui op weerstand.

Wil U die
weerstand breek en ons gewillig maak. Maak ons steeds meer gewillig om te buig
voor u koningsheerskappy. Dat ons steeds meer gehoorsaam word.

So is
hierdie dus ‘n bede wat ons aanspoor tot gehoorsaamheid aan die Koning.

(Tema: Die
bede vir ‘n volmaakte koninkryk

1 Dit is ‘n
bede vir gehoorsaamheid aan die Koning) 

2 Dit is ‘n bede vir die behoud van die kerk

Die
Kategismus lê eksplisiet die verband tussen God se koninkryk en die kerk.

Bewaar en vermeerder u kerk. Kerk beteken letterlik: dit wat
van die Here is.

Wat Jesus alles
oor die koninkryk geleer het, word in sy kerk werklikheid.

Die groep
mense wat aan Hom behoort. Daar waar die kerk bewaar word en vermeerder, daar
groei die koninkryk. Die kerk is in die hede die vergestalting, die
sigbaarmaking, van God se komende ryk. Kerk en koninkryk het dus alles met
mekaar te make. God vestig sy koninkryk nie deur ‘n klomp los individue nie,
maar deur ‘n kerkgemeenskap. Die kerk is die middel waardeur die koninkryk op
aarde kom, gestalte kry. Die einddoel van die kerk se bestaan is die koms van die
koninkryk, die heerskappy van God, die herstel van reg en geregtigheid, vrede
en geluk op aarde. God se koninkryk is op koms, en kry gestalte, daar waar die
onderdane van die Koning meer en meer hulle lewe aan Hom wy. Waar hulle groei
in ‘n lewe in diens van God.

As daar
persoonlike geloofsgroei is, word die kerkgemeenskap ook ryker en hegter, en
groei ook die koninkryk. Dit groei in diepte, in kwaliteit.

En as
sondaars langs die weg van geloof en bekering hulle by die kerk voeg, groei die
koninkryk ook in kwantiteit. Waar kerklede hulleself onttrek, word daar skade
aan God se koninkryk berokken.

Nou mag dit
moontlik klink asof ons daarvoor moet sorg, dat die koninkryk kom.

Dat dit van
ons afhang. Die antwoord hierop is ja en nee.

In die
eerste plek ja, God skakel mense in
by die voorbereiding en realisering van sy ryk. Paulus skryf in Kolossense 4:11
oor die gelowiges dat hulle sy medewerkers is vir die koninkryk van God. Jy
kan, ja jy moet jouself inspan vir die koms van die koninkryk. Dit hang ook van
jou af. Dit is baie erg, en baie waar, maar die koninkryk kan ook deur ons
skade lei. God se koninkryk het in die Ou Testament geweldige skade gelei deur
al die afvallige konings in Juda en Israel, en nie net hulle nie, ook elke
onderdaan wat eerder die afgode gedien het.

En so lei
die koninkryk vandag ook baie skade as kerkmense afvallig raak, of lou raak, as
die afgode van die wêreld ook hulle verlei en hulle aandag aftrek van die diens
aan die Here. So het die Here Jesus die kerkmense van sy dae ook verwyt,
Mattheüs 23:13:  

“wee julle,
skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die
hemel toe voor die mense.”

Dus ja, die
koms van die koninkryk hang ook van ons af. As ons lou is, word dit vertraag,
met die gevolg dat deur ons gedrag ander mense uitmis en die koninkryk nie sal
beërf nie.

Maar in die
tweede plek: ook nee. Die koninkryk
hang nie van mense af nie.

God laat Hom
nie ophou deur kleingeloof, onwil, selfingenomenheid of louheid nie. Ten spyte
van kerklede soos die Fariseërs destyds, het Christus sy werk nie laat
dwarsboom deur hulle nie. As die genooides nie opdaag nie, dan maar die
ongenooides. “Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle
voor in die koninkryk van God.” (Matth 21:31)

Dit koninkryk
vind hoe dan ook deurgang, die fees sal aanbreek. En daar sal ‘n ontelbare menigte wees, ook al het die genooides nie
opgedaag nie.

Mattheüs
21:43: “Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem
en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.”

God gaan
verder, Hy laat Hom nie ophou deur mense nie. Hy roep ons juis op om gehoorsaam
agter Hom aan te gaan, ook ons,
gevestigde kerklede, soos ons in hierdie kerk veral is. As ons om ons heenkyk,
sien ons hoe baie gevestigde kerke besig is om te kwyn. Dit raak ook ons. Ja,
dit is skadelik vir die koms van die koninkryk, ook in hierdie land. Desnietemin
gaan Christus tog verder.

Hy roep ons
op om Hom net trou te bly volg, daar bymekaar te kom waar die lig van sy Woord
helder brand. So is hierdie bede dus ook bede vir die behoud van die kerk.

(Tema: Die
bede vir ‘n volmaakte koninkryk

1 Dit is ‘n
bede vir gehoorsaamheid aan die Koning

2 Dit is ‘n
bede vir die behoud van die kerk)

3 Dit is ‘n bede vir die vernietiging van die
teëstand

God gaan
verder. Christus, ons Aanvoerder in die stryd, bly opruk. Ons mag agter Hom
aangaan. En daar waar sy koninkryk kom, daar moet die duiwel en sy heerskappy
agteruitwyk. Nie dat hy homself maklik laat verdring of wegjaag nie.

Hy pleeg
verset tot die uiterste. As dit goed is, voel u hierdie verset van die satan in
u eie lewe, in u eie liggaam. En as dit goed is, maak dit jou bekommerd.

En dryf dit
jou na Christus toe!

Op allerei
maniere probeer die duiwel om sy stukkie grondgebied te behou.

Hy is
buitengewoon listig in die beraam van planne om die opmars van die koninkryk
van God te blokkeer. Natuurlik gaan hy dit nie regkry nie, maar hy rig wel veel
skade aan. Hy saai tweedrag en onderlinge wantroue. Hy probeer die eerste
liefde te blus. Op allerlei slinkse wyses kom hy na ons en probeer ons mislei. Hy
is self baie belese in die Skrif. Hy probeer, soos by Jesus destyds in die
woestyn, die Bybel op sy eie manier te gebruik en toe te pas. Hy ken ons
kultuur ook op sy duimpie. Hy weet presies waar die swakplekke in elkeen se
karakter is. Van al hierdie dinge maak hy gebruik. Hy weet hoe hy iets, of in
ons karakter, of in ons kultuur, of in die wêreld om ons heen, die beste kan
gebruik om ons te laat struikel. En so gaan hy aan, ook in die 21e eeu, om
aanslae te beraam teen die vrou en haar kind, om dit te stel in terme van Openbaring
12.

Hy sal nie
ophou nie, totdat die dag kom dat hom vergoed sy plek gewys word (Openb 20). So
wees gewaarsku.

Gewaarsku
deur Christus self. Vlug na Hom toe. Want op Golgota is die stryd teen die
satan besleg. Die oorwinning is behaal. Wie trou by Christus bly, is in Hom
meer as ‘n oorwinnaar (Rom 8). Nie dat ons daarom agteroor kan leun nie,
allermins. Aanhoudend probeer satan om skape van die kudde af te skeur.

Maar deur sy
Gees sorg Christus dat ons op ons hoede bly. Dat ons die geeste onderskei en
beproef.

Want laat
dit duidelik wees. Satan kan nie doen net wat hy wil nie. God stel hom paal en
perk. En op ‘n vir ons verstand onverklaarbare wyse gebruik Hy selfs die werke
van die satan. Die beste voorbeeld hiervan is Golgota self. Satan het hom tot
die uiterste ingespan om God se Seun aan die kruis te kry. Met die gedagte dat
dit dan met Hom gedaan sou wees. Hy het egter nie daarmee rekening gehou, dat
God langs hierdie weg juis sy heilsplan tot vervulling gebring het nie!

Die tweede
bede ‘u koninkryk kom’ is ‘n bede vir
die groei en voortgang van God se werk in hierdie wêreld. ‘n Bede teen die bose en die kwaad. ‘n Bede vir die vrye toevoer van genade en
geregtigheid na verlore mense. Dit is tegelyk ‘n bede vir die terugkoms van die Here Jesus. Want eers dan sal die
koninkryk in sy volkomendheid aanbreek. God sal dan alles in almal wees.

Die aarde
sal vol van Hom wees.

Ook aan die
ruimtelike aspek van sy koninkryk sal dan niks meer ontbreek nie.

Dan gaan die
bede vir die volmaakte koninkryk volledig in vervulling.

Dan sal ons
nog veel meer as nou besef, wat Jesus bedoel het toe Hy vir Pilatus gesê het:
“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Joh 18:36).

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata