Glo in die wonder van die opstanding

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-04-16
Teks: 
Markus 16 : 9-14
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 16 April 2017 AD, 17:30
(Paasfees & nagmaal)

Votum

Seën

Ps 65:4

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed

Sb 27:1-3
(tafel in gereedheid)

1e tafel:
Skriflesing: Markus 16:9-20 & Johannes 20:19-31; Ps 26:4,5

Lofverheffing
& Gebed

Teks: Markus
16:9-14

Preek

Ps 9:1,4,5,7

Gebed

Geloofsbelydenis
(Apostoliese)

Sb 27:4,5

Kollekte

Ps 40:3,8

Seën

Preek: Markus 16:9-14

As jy aan
iemand wat nie lid van die kerk is, sou vra: hoekom is jy nie ‘n kerklid nie? Dan
kan mens seker verskillende antwoorde verwag. Die een sal dalk eerlik antwoord:
ek is nie lid van die kerk want ek hou my nie aan die Bybelse waardes en norme
nie. ‘n Ander sal moontlik antwoord: ek is nie lid van die kerk nie, wat ek het
in die verlede nare ervarings met kerkmense gehad. ‘n Ander sal miskien
antwoord: ek kan nie glo in die wonders wat in die Bybel staan nie.  So sal daar verskillende antwoorde kom. Die
laaste antwoord het baie met ons teks te make.

Want in ons
teks is daar ‘n wonder, ek dink wel die mees bekende wonder van die Bybel. Die
wonder van die opstanding van Christus uit die graf.

Tema: Glo in die wonder van die opstanding.

Wat ons in
ons teks herhaaldelik vind is ongeloof. Markus beskryf in hierdie verse
spesifiek die reaksie van die elf. Die elftal, die naaste kring van dissipels
rondom Jesus. Eintlik was dit die twaalf, maar Judas was nie nou meer daar nie.

Markus
beskryf die elf se reaksie op die opstanding van Christus.

Die reaksie
is ronduit bedroewend: ongeloof.

Want eerste
het Jesus aan Maria Magdalena, oftewel Maria van Magdala, verskyn. Ons kan
hieroor lees in die Johannesevangelie. Hoe Maria aanvanklik gemeen het dat Hy
die tuinier was. Maar hoe Jesus haar toe aangespreek het op haar naam: Maria! Toe
eers het die werklikheid van sy opstanding tot haar deurgedring. Maria Magdalena,
dit was die vrou wat vroeër besete was.  Sewe
bose geeste het Jesus uit haar uitgedryf. Vroeër was sy, om dit plat te sê,
mal.

Vroeër kon
die mense nie waarde heg aan haar woorde nie.

Maar
inmiddels het Jesus haar genees. En die dissipels het goed geweet dat sy genees
was. Maar tog het hulle geweier om haar woorde te glo. Hulle wou nie glo dat
Jesus lewe en dat Hy deur haar gesien is nie.

Markus
beskryf vervolgens dat Jesus die elf ‘n tweede kans gegee het. In vers 12
vertel Markus dat Jesus ook aan twee van hulle verskyn het op pad in die veld,
terwyl hulle loop. Hierdie twee persone moet nie verwar word met die twee
Emmaüsgangers nie, oor wie ons in Lukas lees. En wel om die volgende rede.

Toe die
Emmaüsgangers aan die elf dissipels gaan vertel het, dat hulle die opgestane
Christus ontmoet het, toe het Jesus ook al self aan die dissipels verskyn. Dit
staan in Lukas 24:33-35. Maar hierdie twee persone oor wie Markus hier in ons
teks skryf, het die goeie nuus meegedeel nog voordat Jesus aan die elftal
verskyn het. Maar helaas, noem Markus, ook dit was nie oortuigend nie.

Die elf
dissipels kon dit nog steeds nie glo nie.

Ons praat
soms oor die ongelowige Thomas.  Maar as
mens hierdie verse uit Markus so lees, kom mens agter dat die ander dissipels
nie meer gelowig as Thomas was nie. Oor Thomas lees ons in die
Johannesevangelie (hoofstuk 20).

Thomas was
die eerste keer toe Jesus aan die elftal verskyn het, nie daarby nie.

By Jesus se
eerste verskyning was daar dus net 10 dissipels. Maar na agt dae het Jesus vir
die tweede keer aan die elf verskyn, en toe was Thomas wel by.

Toe kon
Thomas ook sien, en selfs aanraak, met sy vingers die hande van Jesus aanraak. Met
sy hand die sy van Jesus aanraak. En dit het Thomas sover gebring om te bely:
my Here en my God! Was Thomas soveel slegter as die ander dissipels?  Was hy die mins gelowige dissipel? Ons teks
laat sien dat dit nie so was nie. Ook die ander dissipels se geloof het
teleurgestel. Die eerste wat Jesus moes doen, toe Hy aan hulle verskyn het, was
om hulle te vermaan. Vermaan oor hulle ongeloof. Vermaan oor hulle hardheid van
hart, omdat hulle nie die mense wou glo, wat Jesus aanskou het na sy
opstanding, en wat Jesus na hulle toe gestuur het nie.

‘n Elftal
ongelowige dissipels.  Dit was die begin
van die Christelike kerk van die Nuwe Testament. Op mense moet jy nie vertrou
nie. Vir mense geld: sien is glo.

En selfs dit
stel teleur. Daar is hoeveel voorbeelde van mense wat iets sien en dan nog steeds
nie wil glo nie. Nou kom die vraag natuurlik op ons af:

As die
dissipels, hulle wat Jesus so goed geken het,  wat alles gesien het wat hulle Heiland gedoen
het,  dat Hy byvoorbeeld die dogtertjie
van Jaïrus uit die dood opgewek het, dat Hy sy vriend Lasarus uit die dood
opgewek het, dat Hy self uit die dood opgestaan het.

As hulle dit
alles gesien het, en nog steeds so moeilik kon glo. Hoe moeilik sal dit dan nie
vir ons vandag wees nie?

Dit is met
die oog op hierdie vraag, eintlik ‘n wanhopige vraag, wat die Here Jesus gesê
het, nadat Hy aan Thomas verskyn het: salig is die wat nie gesien het nie en
tog geglo het.  Die evangelis Johannes
maak direk daarna die opmerking: “Nog baie ander tekens het Jesus voor sy
dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is
beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat
julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” (Joh 20:30-31)

Glo in die
wonder van die opstanding – dit is die tema. ‘n Mens doen dit nie uit homself
nie. Dit was vroeër nie so, in die tyd toe Jesus op aarde was nie. Dit is
vandag nog steeds nie so nie. Dit geld vir alle mense, vir kerkmense en
nie-kerkmense. Maar, vra ons onsself dan af, hoe kom ek dan sover?

Hoe kan ek
sover kom om te glo in die opstanding van Christus uit die dood?

Laat ons
hierdie vraag ‘n keer van die ander kant af benader.  Vra jouself die vraag wat jy as mens sou mis
as Christus nie uit die dood opgewek is nie. As Christus nog in die graf sou
lê, en die berigte van Maria Magdalena, en elkeen aan wie Jesus sogenaamd
verskyn het, onsin was. As dit so was, wat sou jy dan mis? Jy sal dan alles
moet mis wat verband hou met die opstanding van Christus.

In die Bybel
word dit alles uitgelê. Die Bybel lê vir ons uit, stap vir stap, wat alles die
konsekwensies is van die feit dat Christus uit die dood opgestaan het.

Volgens die
Bybel is die konsekwensies enorm groot. Konkreet beteken dit dat, as Christus
nie uit die dood opgestaan het nie, dat daar geen toekoms is nie.

Dan het die
dood die laaste woord, ook in jou lewe.  Voorts
sê die Bybel dat die sonde, die ellende, alle narigheid in hierdie wêreld ook
dan die laaste woord sal hê. Alles dinge wat op die dood uitloop. Wat dit
betref, om terug te kom by die vraag, maak dit dus baie sin om te glo in
Christus se opstanding. Deur daardie geloof verander die hele
toekomsperspektief. Nie net jou as kerklid se toekoms nie. Objektief,
inklusief, die hele aarde se toekoms.

As ons nou
by ons vraag terugkom: as die elf dissipels aanvanklik so moeilik kon glo, is
dit dan vir ons vandag nog moontlik om hierin te glo?  As jy besef wat die aarde alles sal mis as
dit nie waar is nie. As jy besef hoe die aarde sal lyk as dit wel waar is. As
jy dit tot jou laat deurdring, dan is dit mos geweldig aantreklik om te glo. Wie
sal aarsel om dit te glo, as daar soveel op die spel staan!? Om geloof te heg
aan die opstanding van Christus uit die dood. Dit is ook die doel van die
Bybel.  In die Bybel word uitgebreid
verduidelik wat die betekenis, wat die nut, wat die waarde van die opstanding
van Christus is.

In die Bybel
lees jy hoe jy daarby baat om te glo in die opstanding van Chrisuts.

Die Bybel is
die instrument van die Heilige Gees. Deur middel van die Bybel bring die
Heilige Gees mense tot aanvaarding van die feite, tot geloof in die opstanding
van Christus uit die dood. So werk die Gees die geloof in ons.

Deur ons in
die Skrif te oortuig van die waarde van die opstanding. Ons sou dit uit onsself
nie wou glo nie. Maar dit is wel die waarheid. Die evangeliste het eerlik
opgeskryf wat gebeur het, al het hulle as mense self ook gesukkel om alles te
kan glo.  Maar gelukkig was die Heilige
Gees aktief besig.

Eerstens om
hulle self tot gelowige erkenning van die waarheid te bring.

Tweedens dat
hulle dit toe ook opgeskryf het.

So gebeur
dit, danksy die Heilige Gees se werk, dat deur alle eeue heen, mense tot geloof
in die waarheid en tot belydenis van die waarheid gekom het.

So word
Jesus se woorde in elke eeu wat die geskiedenis voortrol weer waar:

Salig is
hulle wat nie gesien het nie, maar tog glo!

Vir mense
wat nie kerklid is, kan Christene soms lyk soos snaakse mense, juis omdat hulle
in onverklaarbare wonders glo.  Dit is
waar, ons glo in onverklaarbare wonders. Maar wel op goeie gesag.

Laat dit
duidelik wees, kerkmense glo nie net in enige wonder nie. As een van ons mede
gemeentelede sterf, dan glo ons nie dat die persoon, as ons net hard genoeg
bid, dat daardie persoon weer lewendig sal word nie. Die Bybel gee ons geen
waarborg dat so ‘n wonder sal gebeur nie. Wel dat die persoon op die jongste
dag sal opstaan, dit glo ons. En so is daar nog meer wonderverhale in omloop,
waarvan ons as kerklede openlik sal erken dat dit twak is. Nie alle sogenaamde
wonders is op die Bybel gebaseer nie.  In
die Roomse kerk is daar baie wonderverhale in omloop oor die heiliges. Byvoorbeeld
dat ‘n standbeeld van Maria trane huil. Of dat die bome rondom die graf van ‘n
heilige krom groei, asof hulle buig, as teken van respek. Hierdie soort dinge
is bygeloof. Dis nie so dat Christene in alle moontlike wonders glo nie.

Dis dalk ‘n
beeld wat ongelowiges oor kerkmense het, maar dit is nie waar nie.

Wat is dan
egte wonders?

Laat ons
begin deur te sê dat ‘n Christen in God glo. Die God wat Homself in die Bybel
openbaar.  ‘n God wat almagtig is,
Skepper van alles, ook van onsself.

In die Bybel
openbaar Hy aan ons dat Hy deur sy Seun Jesus Christus vir ons ‘n nuwe toekoms
bied. As kerkmense is ons dus daarvan oortuig dat daar ‘n Persoon is wat
magtiger is as die mens. Hierdie Persoon, God almagtig, doen dinge wat mense
nie in staat is om te begryp nie. Hy doen dinge wat bo ‘n menselike verstand
uitgaan, dinge wat hulle aan ons gesigsvermoë onttrek.

In hierdie
lig praat ons dan ook oor wonders. Want wat is ‘n wonder eintlik?

In ‘n
woordeboek het ek die volgende definisie gevind:

‘n wonder is
‘n verskynsel wat mens slegs deur bonatuurlike ingrype kan verklaar.

As gelowiges
sou ons konklusie dan wees: as dit so is, as jy met hierdie definisie werk, dan
is eintlik alles op aarde ‘n wonder!

Want die hele
hele wêreld met alles daarin kan slegs verklaar word deur ‘n bonatuurlike krag.  Hierdie term, bonatuurlike krag, kan
misverstand oproep.

Dit sou
beteken dat natuurlike kragte geen wonder is nie. Maar ook dit is te eng
geredeneer. Want alle dinge wat God doen, alle dinge wat Hy geskape het, alle
dinge wat bestaan, is wonderlik. Verstaan u, gemeente, dat ‘n Christen dus
eintlik ‘n ander definisie het van wat ‘n wonder is. As Christen sou ons ‘n
wonder eerder soos volg definieer:

 ‘n Wonder is vir ons ‘n bewys dat die
almagtige God leef en in beheer is.

‘n Wonder is
as die almagtige God ons verras met iets wat ons nie vir moontlik gehou het
nie.Dus weer eens: as kerkmense glo ons nie in enigiets nie, ons glo nie in
absurde wonders nie. Ons glo in God. Dat Hy in beheer is.

Dat Hy vir
sy skepping sorg.  Dat Hy ‘n almagtige
Vader is.

En alles wat
Hy as almagtige Vader doen, is wonderlik.

Ons teks
vertel vir ons oor die wonder van die opstanding van Christus uit die dood. Dit
was totaal onverwags. Maar tog het dit gebeur, dit is die waarheid.

En danksy
die Skrif, danksy die Heilige Gees, glo ons daarin.

Daardeur
word ons lewe verander, vernuwe.

Daardeur
word ‘n skitterende toekoms ons voorland.

Weer eens
die vraag: Glo ons in wonders?

Laat ons dit
noukeuriger sê: Ons glo in God, Skepper van hemel en aarde.

Ons glo dat
Hy almagtig is. Hy werk wonders, dag na dag.

En daardie
dinge wat vir ons gewoond geword het, soos die feit dat daar elke dag weer
baba’s gebore word, en die feit dat die reën val, ensovoorts ensovoorts, al
daardie ‘gewone’ dinge beskou ons ook as wonders.

Hy is die
God wat wonders doen, in die verlede, in die hede, en beslis ook in die
toekoms.

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)