God se diepe bedoeling met die negende gebod

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-03-19
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 43
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 19 Maart 2017 AD, 17:30

Votum

Seën

Ps 15:1,2

Gebed

Doopsformulier

Bediening
doop: Emma Middeljans

Ps 23:1 (1e
beryming)

Dankgebed

Skriflesing:
2 Samuël 11

Ps 51:1,2

Skriflesing:
Mattheüs 18:15-20

Ps 12:1,2

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 43

Preek

Ps 51:3,8

Gebed

Apostoliese
Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 12:5-7

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 43

As mens aan
‘n verstokte heiden dink, dan dink mens tipies aan iemand wat byvoorbeeld die
3e gebod oortree – hy loop heeltyd en vloek. Of iemand wat die 4e gebod oortree
– hy kom nooit in die kerk nie. Of iemand wat die 6e gebod oortree – wat elke
naweek die kroeg dronk verlaat. Of die 7de gebod – iemand wat verskeie bedmaats
het.

‘n Verstokte
heiden, dit is iemand wat die 10 gebooie minag.

As ons aan
‘n gelowige dink, dink ons nie aan iemand wat die 10 gebooie minag nie. Dan
dink ons eerder aan iemand wat moeite doen om die 10 gebooie in praktyk te
bring. Maar, op een of ander manier is daar een gebod wat vir gelowiges baie
moeilik is om in praktyk te bring. En dit is die 9e gebod.

Tema: God se diepe bedoeling met die negende
gebod.

Dit is
waarskynlik die moeilikste gebod om na te kom. As gelowiges hou ons ons aan die
eerste en tweede gebod. Ons dien God alleen, en ons doen ons bes om Hom te dien
soos Hy dit in die Bybel voorskryf.  Die
derde gebod geniet by ons ook aandag. Ons misbruik nie God se naam nie, maar
probeer dit goed en met eerbied te gebruik. Die vierde gebod word nageleef. En
as dit nie gebeur nie, dan sal die ampsdraers daardie persoon daarop aanspreek.
Die vyfde gebod is by ons ook in ere, al is dit soms met val en opstaan. Die
sesde, sewende en agste gebooie – nie doodslaan, egbreek en steel nie – dit
probeer ons regtig konkreet in praktyk te bring.  Maar dan die negende gebod ...

Ek weet nie
of iemand al ooit onder die tug gestaan het as gevolg van oortreding van die
negende gebod nie? En dit terwyl die oortreding van hierdie gebod, ook in die
kerk, aan die orde van die dag is. Om ‘n voorbeeld te noem.

Ouderlinge
is op huisbesoek by iemand om hom aan te spreek op oortreding van die

  • 5e gebod – nie genoeg respek vir sy ouers nie

  • of die 6e gebod – byvoorbeeld drankmisbruik

  • of die 7e gebod – ongetroud saamwoon

  • of die 8e gebod – geld verduister;

    en nota bene
    tydens hierdie einste besoek word die 9e gebod meerdere kere oortree. Daar word
    opmerkings gemaak soos: Ja maar die en die, hulle doen dit ook. En dan gaan die
    ampsdraers gewoon aan met die gesprek, asof niks aan die hand is nie. Moontlik
    dat die ampsdraers self ook die 9e gebod oortree tydens die gesprek. Pleks van
    die gesprek te onderbreek met die vraag:

    Broer,
    suster, het jy daardie persoon oor wie jy nou praat, al daarop aangespreek?  Het jy self met daardie persoon wat jy nou
    beskuldig, hieroor gepraat?

    Of wat ook
    gebeur, dat tydens die huisbesoek gemeentelede oor ander praat en dan die
    kerkraad versoek om iets daaraan te doen. En op die vraag of hulle al self met
    die persoon daaroor gepraat het, word ontkennend geantwoord. En op die vraag
    hoe hulle aan die inligting gekom het, blyk dat dit uit die wandelgange afkomstig
    is. Opvallend hoe maklik ons, gemeentelede en ampsdraers, die negende gebod
    oortree, en dit dikwels nie eers besef nie. En hoe maklik ons, as ons self in
    ‘n hoek is, die negende gebod misbruik om uit die hoek te kom, deur ons vinger
    na ander te wys.

    Ons het
    vanaand ‘n verdrietige episode uit Dawid se lewe in die Bybel gelees.

    Hierdie
    hoofstuk wys ons hoe maklik een sonde kan lei tot ‘n volgende, solank daar geen
    berou is nie. Dit het verkeerd begin toe Dawid owerspel gepleeg het met iemand
    anders se vrou.  Maar Dawid het nie berou
    getoon en met die sonde gebreek nie. Vernuftig het hy probeer om sy sonde wit
    te was.

    Dit het so
    erg geword dat selfs Uria daardeur om die lewe gebring is.

    So het elke
    sonde ‘n sneeubaleffek, as daar geen berou is nie.

    En deur al
    hierdie gebeurtenisse heen sien ons hoe Dawid steeds die negende gebod
    verontagsaam het. Skynheilig het hy Uria in sy paleis onthaal. Hy het Uria ‘n
    geskenk aangebied. Uria kry spesiaal van die koning toestemming om huis toe te
    gaan, na sy vrou toe. Toe hierdie gekonkel nie ‘n uitwerking gehad het nie,
    omdat Uria so pligsgetrou was, het Dawid hom dronk gemaak.  Skandalig dat ‘n koning so iets met sy
    onderdaan doen. Steeds het koning Dawid so ‘n skynheilige houding teenoor Uria
    gehad. Maar agter sy rug om het hy die mees venynige planne beraam. Hy het ‘n
    brief aan die leërowerste Joab geskryf, met as onderwerp Uria. Uria het niks
    daarvan geweet nie.

    Agter sy rug
    om is ‘n moordaanslag beraam.

     

    Ek vra
    myself af wat die ergste vir Uria sou gewees het. Soos dit nou gegaan het, het
    Uria as ‘n held gesterf, in die waan dat hy gestry het vir die saak van sy
    koning, wat ‘n man na God se hart was, ‘n koning vir wie hy alles oorgehad het,
    in die waan dat sy vrou by die huis vir hom wag en aan hom dink en vir hom bid.

    So het hy
    gesterf.  Ek dink dat dit vir hom veel
    erger sou gewees het as hy moes hoor dat die koning nie was soos wat hy van hom
    gedink het nie, dat sy koning ‘n vuil skurk was, dat hy van plan was om sy vrou
    af te vat. As Uria dit alles moes verneem het, dit wat alles agter sy rug om
    gebeur het, oor hom gesê en beraadslaag is, oor hom geskinder is. Ek dink dat
    ‘n mens liewer sal wil sterf as om dit mee te maak, dat dit jou ter ore sou kom.

    Hierdie
    geskiedenis leer ons indringend hoe erg dinge raak, as daar nie met die sonde
    gebreek word nie. Dawid het gesondig, teen die 7e gebod, teen die 6e gebod, en
    moenie vergeet nie, aan die lopende band ook teen die 9e gebod.

    Hy het
    steeds ‘n vrome skyn opgehou teenoor Uria, terwyl agter sy rug alles gebeur
    het.  Gelukkig het God self ‘n halt
    toegeroep aan hierdie heillose weg wat Dawid ingeslaan het, hoe hy die een
    sonde met ‘n volgende probeer wegsteek het, hoe hy steeds dieper weggesink het.

    Gelukkig het
    God die profeet Natan op hom afgestuur.

    Ons het
    vanaand ook die woorde van die Here Jesus uit Matteheüs 18 gelees.

    Miskien
    wonder u of hierdie gedeelte iets te make het met die 9e gebod.  Laat dit duidelik wees, ja alles. Die Here
    Jesus verwoord hier wat God ons gebied
    met die 9e gebod. Soos ons behoort op te tree. Want dit was eintlik die
    allerergste in die hele geskiedenis van Dawid se val in sonde. Dat dit alles
    gebeur het sonder dat Uria iets daarvan geweet het. Dat hy bewus daarbuite
    gehou is.

    Dat daar
    beraadslaag en gekonkel is om hom uit die weg te ruim.

    Dit is die
    kern van die 9e gebod. Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie,
    d.w.s. ten nadele van jou naaste. Die woord ‘spreek’ kan ons ook vervang met
    ander werkwoorde, byvoorbeeld:

    Jy mag geen
    valse getuienis teen jou naaste opwek nie.

    Jy mag geen
    valse getuienis teen jou naaste suggereer nie.

    Jy mag geen
    valse getuienis teen jou naaste toelaat nie.

    Dit is wat
    hier by Dawid gebeur het.  Dawid het niks
    vir Uria gesê nie. Hy het geen leuens vir Uria vertel nie. Maar hy het krusiale
    sake teenoor Uria verswyg, en ook teenoor ander. En dit is nie minder oortreding
    teen die 9e gebod nie.

    Die kern van
    die 9e gebod is dus:

    Dat jy niks
    onderneem nie, of dit nou met woorde is of dalk juis deur te swyg, waardeur jou
    naaste geskaad kan word nie.

    Vanuit
    hierdie kern van die 9e gebod leer die Here Jesus ons in Mattheüs 18:

    As jou
    broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen.

    Praat
    allereers dit met die persoon self uit. Die Here Jesus leer ons om oog te hê
    vir die diepe bedoeling van God se wet.

    Dis die tema
    vanaand: God se diepe bedoeling met die negende gebod.

    In die
    Bergrede het Hy ons geleer dat jy nie net die 6e gebod oortree as jy iemand
    doodslaan nie, maar ook as jy teen jou broeder sê “Raka” (Matt 5:22).

    In die
    Bergrede het Hy ons geleer dat jy ook egbreuk pleeg as jy met gulsige oë na ‘n
    man of vrou kyk. In die Bergrede leer die Here Jesus ons ook die diepe
    bedoeling van die 9e gebod. Valse getuienis teen jou naaste is nie net as jy ‘n
    ondubbelsinnige leuen vertel nie, bv. Piet
    het my pen gesteel
    , terwyl hy dit glad nie gedoen het nie. Maar die 9e gebod
    verbied ook dat jy ‘n hekel aan Piet mag hê. Dit is ook oortreding van die 9e
    gebod.  Christus openbaar aan ons die
    diepgang van God se wet. Selfs as dit waar is dat Piet jou pen gesteel het, moet
    jy nie vorentoe hardloop in die klas en vir die juffrou skreeu sodat almal dit
    kan hoor: Juffrou Piet het my pen gesteel.

    Maar
    Mattheüs 18 leer dat jy eers self met Piet praat.

    Ons lag soms
    as kinders so iets doen. Alhoewel kinders nie onskuldig is nie, is hulle nog
    klein en het dit wat hulle doen nie altyd sulke groot gevolge nie.

    Maar in die
    grootmens wêreld gaan dit nie anders nie, en wel met groot gevolge.

    Veels te
    dikwels hoor mens verhale, waarby mens agteraf moet konstateer dat daar nie met
    die persoon in kwessie gepraat is nie. Veels te dikwels hoor die kerkraad
    verhale, of kry briewe, terwyl die persoon in geding nie benader is nie.

    Is ons op
    hierdie punt maar net wêreldgelykvormig, doen ons maar net dieselfde as ons
    bure, kollega’s? Of laat ons ons transformeer deur God se goeie wet, naamlik
    dat ons daarop uit is om die goeie naam van jou naaste te beskerm?

    Verstaan u
    hoe Christus die diepe bedoeling van die 9e gebod uitwys?

    Hy het hier
    ‘n punt beet. Hy ken die menslike karakter. 
    Hy weet dat dit vir ons nou juis so moeilik is. Dat ons iets soveel
    makliker bespreek met iemand anders, veral met gelykdenkendes, as wat ons op
    die man afstap. Dit is dus die kern van die 9e gebod. As mens dit besef, dan
    vloei die res ook vanself daaruit voort, die res – daarmee bedoel ek – dit wat
    ons alles in Sondag 43 lees.

    Dat ons nie
    iemand se woorde verdraai nie, geen kwaadspreker is,

    geen
    lasteraar, niemand onverhoord of ligtelik veroordeel of help veroordeel nie,  dat ons alle lieg en bedrieg as duiwelswerk
    vermy. So ‘n lewenstyl, daarvan moet ons onsself weerhou, en dit sal ook
    gebeur, as ons die kern van hierdie gebod ernstig neem. In alles is jy daarop
    uit om jou naaste te waardeer, nie te devalueer nie.

    Dit beteken
    natuurlik nie dat sonde in die doofpot gestop mag word nie. Dat ons iemand ‘n
    hand bo die hoof hou nie. Die sonde moet opgeruim word, so vinnig moontlik. Maar
    dit gaan oor die intensie.

    Wil jy
    iemand se naam ten val bring, of wil jy iemand se naam red? Iemand se naam red
    beteken enersyds dat jy alles doen om hom met die sonde te laat breek, eerstens
    onder vier oë. Iemand sy gang laat gaan, en dan selfs agter sy rug skinder,
    veroorsaak ‘n sneeubaleffek. Dan kan die sonde op twee fronte voortwoeker. So
    kan ons as gelowiges nog baie leer.

    Veral op
    gebied van die 9e gebod. Niks kan ‘n kerk meer verlam as onderlinge wantroue.  As agter mense se rug om van alles bespreek
    word. As daar selfs gestook word. Maar daarteenoor. Niks het ‘n kragtiger
    uitstraling as ‘n gemeenskap waar daar onderlinge vertroue is, as mense hulle
    veilig bymekaar voel. Dit werk aansteeklik, in positiewe sin.

    Vandag mog
    Emma die doop ontvang, en ons was as gemeente getuies daarvan.

    Mag dit waar
    wees dat sy sal opgroei in ‘n hegte geloofsgemeenskap, waar daar onderlinge
    vertroue heers, waar sy ook sal leer, eerstens by haar ouers, maar tweedens ook
    by die res van die gemeente, wat die waarde van die 9e gebod is.

    Nounou as
    die kerk verby is en ons huis toe gaan, dalk koffie drink, en ons is besig om
    met mekaar te praat, en daar is iemand wat begin skinder - kom ons spreek af om
    dan die gesprek te stop. Ek bedoel nie dat jy nooit oor iemand anders mag praat
    nie. Maar Christus wil hê dat jy oog het vir die bedoeling van die 9e gebod. Dat
    jy praat en luister vanuit die houding dat jy die naam van jou naaste wil
    hooghou, en nie aftrek nie.  Dit is die
    taktiek van die satan, dat jy jou eie naam oppoets deur ‘n ander swart te
    smeer. Dis wat Adam al met Eva gedoen het. Christus gooi die roer om. Hy bring
    dit wat goed en edel is weer terug.

    Ook deur die
    prediking vandag werk die Heilige Gees.  Met
    die 9e gebod wil Hy jou lewe transformeer. Die Heidelbergse Kategismus behandel
    die 10 gebooie in die derde deel, oor ons dankbaarheidslewe.  Ook die 9e gebod is rigtingwyser in jou
    dankbaarheid vir Christus se verlossing.

    Christus
    skenk sy Gees, Hy skenk die 9de gebod, want Hy wil hê dat jy vordering maak,
    dat jy verbeter, dat jou lewe beter word.

    Hy wil nie
    stilstand sien nie, maar vooruitgang.

    Noudat u die
    preek gehoor het vanaand, broer en suster, voel u ook die groeipyne? Groeipyne
    is gesond, dis die Gees se werk.

    Amen.

     

Liturgie: 

(kyk in preek)