Die Heilige Vader soek heilige kinders

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2014-05-11
Teks: 
I Petrus 1 : 17-20
Preek Inhoud: 

Preek oor 1 Pet. 1:17-20

Bellville, 11 Mei 2014

Liturgie:

Votum en seëngroet

Ps 139:1,2,12

Gebed

L. Efesiërs 1:3-4

    Efesiërs 4:17-5:1

Ps 19:7

T. 1 Petrus 1:17-20

SB 8:4,5

Verkondiging

Ps 25:5

Geloofsbelydenis

Ps 9:7

Gebed

Kollekte

Ps 105:2,23,24

Seën

“Toe het ek
uiteindelik besef dat God my aanvaar soos ek is”.  ’n Uitspraak wat ek een keer op ’n TV-program
gehoor het.  Dit het gegaan oor hoe
Christene hul homoseksualiteit hanteer het. 
Die man wat hierdie uitspraak gemaak het, het net na hierdie ontdekking
saam met sy homoseksuele vriend ingetrek. 
Met die geruste wete dat God hom aanvaar soos hy is.

Om enige verwarring
te verhoed – my doel is nie om vanoggend die aandag op homoseksualiteit te
plaas nie.  Nog minder om mense met
homoseksuele neigings te veroordeel. 
Hier sit vandag ook ’n klomp heteroseksuele mense met ’n owerspelige geaardheid
waarteen hulle hul lewe lank sal moet stry. 
Kerklidmate met ’n selfsugtige geaardheid, of ’n skynheilige
geaardheid...so kan ons aangaan.  Vir God
is die een nie slegter as die ander een nie. 
Ek probeer maar net die vraag stel: Is dit so dat God ons aanvaar soos
ons is?  Is dit wat die Bybel ons leer?

Jy kan dit so stel:
ja, God wys ons met ons selfsugtige, gierige, owerspelige of watter geaardheid
ook al, nie af nie.  Die blye boodskap
van die evangelie is immers: so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy
eniggebore Seun gegee het!  In plaas
daarvan om ons met afsku van Hom af weg te stoot, het God ons in liefde na Hom
toe gebring en ons wat as kinders die rug op Hom gekeer het, in liefde weer in
sy arms toegevou.  Dit het Hy moontlik
gemaak deur sy geliefde Seun.  Maar
beteken dit nou dat jy mag wees soos jy is? 
Dat God jou aanvaar met al jou sonde en gebreke?  En dat Hy dus ook maar sy oë toeknyp as jy
nou maar eenmaal toegee aan jou sondige geaardheid?  Ek is nou maar eenmaal so – en God verstaan
dit?

In die teks wat ons
gelees het, sien ons dat die apostel Petrus iets heeltemal anders daaroor
skryf: “Sonder aanneming van die persoon,
dus geheel en al onpartydig, beoordeel God elkeen volgens sy dade
”.  God sluit dus glad nie die oog vir hoe ons
leef nie.  Hy kyk juis oplettend.  Hoe lyk ons lewe noudat ons deur Hom verlos
is?  Wat groei daaruit?  Wat dryf ons doen en late?

 

Miskien pas dit
alles nie so mooi in die beeld wat u nog altyd van God gehad het nie.  Dalk voel dit vir u onaangenaam om God so te
moet sien.  Maar kyk nou mooi noukeurig
na hoe Petrus dit hier skryf.  God keur
nie ons doen en late soos ’n inspekteur nie. 
Hy hou ons nie soos ’n opsigter dop nie. 
Ons noem Hom tog “onse Vader wat
in die hemel is...
”?  So vlug ons
dikwels na Hom toe, met ons sondige lewe waarin ons ons vasgeloop het.  Wanneer ons weer besef dat ons nie ons lewe
na ons wense kan manipuleer nie.  Dan kom
skuil ons weer by die die Vader.  Maar
dan wil jy tog ’n gehoorsame kind wees? 
Die Vader mag dan die reëls neerlê, want die Vader weet wat die beste
vir my is.  Dan kan jy as kind tog
aanvaar dat die Vader sy stempel op jou lewe sal wil afdruk?  En dit is wat God graag wil!

Hy is nie ’n Vader
wat glad nie omgee hoe ons is nie.  Een
wat Hom nie oor sy taak as Opvoeder bekommer nie.  Hy is geen voorstander van “vrye opvoeding”
nie.  Ons kan maar bly wees dat Hy nie is
nie!  Want wat sou van ons word?  Soos ons van ons eie is– dit is glad nie goed
nie!  God is daarom ’n Vader wat van ons
wil maak wat ons tans níe is nie.  Maar hoe wil Hy hê
moet ons wel word?  Hy wil ons maak soos
wat Hy self is: “Wees heilig, want Ek is
heilig!

Petrus neem ons in
ons gedagtes terug na die bevryding van God se volk Israel uit Egipte.  Israel was vir God soos ’n kind.  “My
eersgebore seun
” het hy Farao laat weet. 
Waarom wou Hy hê hierdie volk moes vry word?  Omdat Hy dit nie langer kon verduur om hulle
as slawe te sien doodgaan nie?  Omdat daar
’n einde moes kom aan die wrede moord op al die pasgebore seuntjies?  Dit ook, ja. 
Maar veral sodat hierdie ‘kind’ van Hom ’n nuwe lewe kon begin.  ’n Lewe waarin God alleen in alles as die
middelpunt sou staan.  “Laat my seun trek,” moes Moses aan Farao
sê, “dat hy my kan dien”.  Want daar in Egipte was die Israeliete besig
om deel te neem aan die sondige en goddelose lewe van die Egiptenare.  Hulle het ook allerhande afgode gedien en
deelgeneem aan allerlei vieslike gebruike wat daarmee saam gegaan het.  Toe hulle dan ook, vrygekoop deur die bloed
van die Lam, Egipte mog agterlaat en op reis mog gaan na Kanaän, het God hulle
eers saamgevat na die Sinaïwoestyn.  Om
hulle daar eers ’n nuwe lewe, ’n ander lewe aan te leer.  Daar, in die woestyn, het die woorde wat
Petrus in ons teks gebruik het (vers 16), vir die eerste keer geklink: “Wees heilig, want Ek is heilig”.

Ook óns is deur
God vrygekoop, skryf Petrus.  Waarvan? 
Van ’n ydele lewenswandel, ’n
sinnelose lewenswyse
”.  So skets God
se Woord meerdere kere in die Bybel hoe die lewe sonder God lyk.  Ons het dit ook gelees in die brief van
Paulus aan die Efesiërs.  Heidene wat vervreem is van die lewe met God,
maak net soos hulle wil.  Hulle gee hul
oor aan die uitspattigheid en kry nooit genoeg van die onsedelikheid nie.  Hulle lewe sonder om ooit te vra of God dit
so sou wil hê, of God dit wel so bedoel het. 
En of dit jou as mens goed doen.

En so gaan dit aan
van vader tot seun, van geslag tot geslag. 
So staan dit in ons teks uit Petrus se brief.  So leer ongelowiges dit weer by hul voorvaders.  Dit word ’n taai tradisie. Verslawend.         

Maar
van hierdie lewe het God ons nou juis kom weghaal.  Hy het ons “uitgekies om heilig en sonder gebrek vir Hom te wees”, het ons ook
by Paulus gelees, in die eerste hoofstuk van sy brief aan die Efesiërs.

 

En
wat het God nie alles vir die prysgegee nie! 
Vir hierdie hoë doel het hy die grootste prys betaal.  Toe God sy kinders uit Egipteland wou
wegneem, het dit Hom baie lammers gekos. 
Diere sonder smet of gebrek, wat sorgvuldig uitgesoek is en al ’n paar
dae vantevore uitgekies is.  Die prys
moes betaal word sodat Israel kon vry word.

Kinders,
hierdie geskiedenis in die Bybel ken julle ook wel: toe God sy kinders uit
Egipte weggeneem het, moes die Israeliete vir elke huishouding ’n lam slag en
die bloed teen die deurkosyn smeer.  Want
op daardie nag sou die engel van God deur die hele Egipte gaan om al die
eersgebore diere en kinders dood te maak. 
Maar as die engel die bloed sien, sou hy weet: vir hierdie huishouding
het iemand reeds gesterf, by hierdie huis mag ek verbygaan.  So het daardie lam die Israeliete in daardie
huishouding gered.  So het daardie lam
die mense in daardie huishouding vrygekoop.

’n
Soortgelyke prys was God bereid om ook te betaal om óns vry te maak van ’n
sinnelose bestaan.  ’n Bestaan waardeur
jy so geboei kan word dat jy daaraan verslaaf kan raak.  Hierdie prys kon nie met goud of silwer
betaal word nie.  Dit is ’n verganklike
betaalmiddel.  Daar sou nooit genoeg goud
of silwer bymekaargemaak kon word om God se kinders los te koop nie.  Dit sou ’n afbetaling in paaiemente beteken
het.  En dan sou die koers sy waarde
verloor...’n betaling sou gemis word... Nee, God het die hoogste prys betaal om
ons vry te kry.  Hy het dit in een keer
afbetaal.  Met die kosbare bloed van die
volmaakte Offerlam, sy enigste Seun, Jesus Christus.

God
het dit ook nie gedoen op ’n skielike emosionele hoogtepunt nie, skryf
Petrus.  Een waarvan Hy gou spyt kon raak
nie.  Nee, net soos wat die Israeliete in
die laaste week in Egipte solank al ’n lam moes uitsoek en in ’n hokkie sit en
so al besig te wees met hul verlossing, net so het God die Lam wat ons sou
vrykoop, ook lank van tevore al eenkant gehou vir ons.  Ewig van tevore reeds!  Christus was daar voordat die eerste
hoeksteen van die wêreld neergelê is. 
Toe was God reeds in sy gedagtes besig met ons, broers en susters!

Julle weet dit mos!, skryf Petrus.  Dit hoor julle
mos nie vir die eerste keer nie?  Ons
vier dit tog gereeld aan die nagmaalstafel? 
Dit is mos die rede waarom ons so vreeslik lief is vir hierdie
Vader?  En vir sy Seun wat as ’n lam vir
ons hierdie offer wil bring?

En
daarom wil ons dus ook in ons lewe van hierdie liefde laat blyk.  Nou sien hy nie alles van ons lewe nie, maar
Hy kies om baie dinge nie te sien nie. 
Nou aanvaar Hy ons regtig nie meer soos wat ons is nie, maar nou oordeel
Hy elkeen se werke, elkeen se doen en late, sonder aanneming van die
persoon.  Maar beteken dit dat ons anders
behandel word?  Dat Hy by ons kies om
sekere dinge nie raak te sien nie.  By sy
eie kinders kies om verby daardie vuil te kyk? 
Dat sy liefde beteken dat Hy meer van ons kan verdra?  Juis nie! 
Hy kyk baie fyner en skerper na sy eie kinders.  Verder aan in die brief (4:17) skryf Petrus
dat die oordeel begin by die huis van God.
 Die dag sal kom wanneer God hierdie hele
wêreld sal skoonvee.  Dan sal die laaste
oordeel losbars oor alle goddeloosheid en oor die mens wat altyd eers sy eie
belange, sy eie plesiertjies, sy eie begeertes gesoek het.  Dan word dit duidelik waarheen die breë weg
lei.  Maar God is nou reeds besig om die
sonde in sy eie huis op te ruim.  In die
kerk, by sy eie kinders.  Die kinders wat
Hy teen ’n hoë prys vrygekoop het van hul sinnelose bestaan op die breë
weg.  Hy roep ons agter Christus aan op
die smal weg.  Want Hy wil deur ons lewe
aan die mense van hierdie wêreld wys hoe dit anders kan wees.  Beter...baie beter.

 

Jy
leef as vrygekoopte kind van Christus in hierdie wêreld as ’n vreemdeling, skryf Petrus in ons
teks.  As jy God liefhet as jou Vader, as
jy weet jy is vrygekoop van ’n sinnelose bestaan, as jy om daardie rede
doelgerig leef, jou lewe op God gerig, sal baie mense jou vreemd vind.  Irriterend vreemd.  Maar daardeur sal jy ook aandag trek.  Jy is vréémd. 
Hoekom maak jy so?  Wat besiel
jou?  Hoe kry jy dit reg om so te
leef?  Volgens die norme en waardes
waardeur jy jouself dikwels sal moet verloën. 
Jou eie belange in toom wil hou. 
En dit is presies wat God graag wil hê. 
Deur ons lewenswandel moet mense sien dat dít die lewenswandel
is wat die laaste oordeel sal deurstaan. 
Later, in hoofstuk 2:11 skryf Petrus: 
Geliefdes, ek vermaan julle as
bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd
voer teen die siel; en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as
hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die
goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking
.”

En
juis daarna let God goed op by ons.  Of
ons lewe nou ook iets laat blyk van hoe Hy dit nog altyd wou gehad het.  In plaas daarvan dat ons dink dat God nou
maar baie van ons kan verdra noudat ons sy kinders is.  Nee, Vader verwag nie eweskielik van ons ’n
volmaakte, sondelose lewe nie.  Maar wel
die begeerte om so ’n lewe te wil
lei.  Hy vereis nie dat daar nou niks
verkeerd mag gaan nie.  Hoe sou ons dit
ooit kon regkry?  Hy wil sien watter plek
Hy as ons Vader in ons lewe kry.  Wat die
offer van Christus vir ons werd is. 
Hoeveel liefde en ontsag daar vir Hom in ons lewe gegroei het.  Het ons Hom regtig as sy kinders lief?  Of beteken kerklik wees vir ons iets wat ons
maar van ons voorvaders oorgeërf het? 
Iets wat oorgelewer is aan ons? 
’n Tradisie?  Wil ons regtig
gehoorsame kinders wees?  En hom daarom
laat besluit wat wel mag en wat nie?  Ook
as ons ons eie self daarvoor in die steek moet laat?  Ons verkeerde begeertes onderdruk?

Dit
is ’n baie ernstige woord hier by Petrus, gemeente.  As jy tot jou laat deurdring wat hier werklik
staan en na jou eie lewe kyk, dan besef mens hoe ’n mens te maklik leef: “Nou
ja, God vergewe my mos.”  Maar Hy vergewe
dus nie sommer net so nie!  Dit is
belangrik om met jou kinders te praat as hulle die houding het: “Is dit dan nou
regtig nodig om oor alles so moeilik te wees?”

Ons
moet baie bly nadink oor die Lam, vlekkeloos
en sonder gebrek
, waardeur God ons vrygekoop het!  Deur die Lam laat Hy ons sien hoe Hy wil hê
ons moet wees: sonder gebrek: sonder enige foute!  En ja, deur die offer van Christus het Hy ook
laat blyk hoe lief Hy ons het.  Hoeveel
Hy gegee het sodat Hy ons nooit sou verloor nie: sy geliefde, sondelose
Seun.  Maar dit is slegs die een kant van
die verhaal.  Die ander kant is dat Hy
ook deur sy Seun gewys het hoe baie Hy die sonde, die sinnelose, doellose en
dikwels vieslike lewe háát.  Hy het die Lam daarvoor doodgeslaan!  Hy het met afsku sy Seun daarvoor
weggestoot.  Weg, in die godverlatenheid.  Vir ewig ver van Hom verwyder.  Maar dit het God dus gedoen omdat Hy ons nie
wou verloor nie.  Kyk hoeveel wou Hy doen
om u te behou!

Dan sal jy verstaan dat Hy ons dus nie sal
kan aanvaar soos ons is nie.  Nee, Hy
haat enige oorblyfsel van die sonde in ons.  Maar ons haat dit mos nou self ook?  Ons wil nou mos ook sonder enige gebrek voor
God staan?  Dit kan mos nie anders nie?

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)