Die dag van die HERE is naby

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-01-22
Teks: 
Sefánja 1 : 7
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 22 Januarie 2017 AD, 10:15

Votum

Seën

Ps 145:1,5

Wet

Ps 119:56

Gebed

Skriflesing:
Sefanja 1

Ps 52:1,2

Teks:
Sefanja 1:7

Preek

Ps 52:3,4

Gebed

Kollekte

Ps 85:3,4

Seën

Preek: Sefanja 1

As God sou bestaan,
dan kom ons niks van Hom agter nie.

Hierdie
arrogante woorde durf baie mense deesdae in die mond neem.

Die HERE
doen geen goed en Hy doen geen kwaad, jy hoef nie met Hom rekening te hou nie.

Maar,
gemeente, uit die profesie waarna ons vanoggend kyk, sal ons goed agterkom dat
God wel deeglik sulke lastertaal hoor.

En dat Hy
mense ook laat agterkom dat Hy ‘n God van naby is.

Dit het Hy
in die verlede gedoen.

Dit sal Hy
ook in die hede doen.

 

Tema: Die dag van die HERE is naby

  1. Wie veral met hierdie dag
    rekening moet hou

  2. Wat hierdie dag sal inhou

  3. Wat die doel van hierdie dag is

     

  1. Wie veral met hierdie dag
    rekening moet hou

    In Sefanja 1
    vind ons ‘n uitgebreide beskrywing van die gerig op die dag van die HERE.

    Dit wil sê,
    as die HERE op besoek kom by sy volk.

    Dit kan met
    straf wees, dit kan ook met seën wees.

    Sefanja
    kondig hier ‘n oomblik in die toekoms aan, wanneer die HERE kom om orde op sake
    te stel.

    Met die
    woord dag word ‘n oomblik bedoel wat
    sal kom, onafwendbaar, net soos die dag van môre onafwendbaar op ons afkom.

     

    Hierdie dag
    staan in die teken van straf.

    ‘n
    Strafgerig wat in vers 2 met kosmiese, wêreldomvattende, terme geskilder word.

    Maar uit die
    res van hierdie hoofstuk word veral duidelik dat die gerig toegespits word op
    God se eie volk.

    Op die
    koninkryk Juda, op die hoofstad Jerusalem.

     

    Aanleiding
    vir die straf, doel is om alle afgodediens uit te roei.

    Die
    Baäldiens, die afgodsdienaars met hulle priesters.

    Dit was die
    priesters, die godsdienstige leiers, wat die baanbrekers was op die weg na
    sinkretisme, die kombinasie van die Here dien maar ook deelneem aan die
    heidense welvaartskultus.

     

    Ook noem
    Sefanja die uitroei van hulle wat die leër van die hemel aanbid (vers 5).

    Daarmee word
    bedoel die hemelliggame, son, maan en sterre.

    In Israel
    het die huise plat dakke gehad, waarop die mense kon sit.

    Die mense
    het veral in die aand op die dak gesit, as die temperatuur daar lekker afgekoel
    het na ‘n warm dag, en as die hitte nog in die huis gehang het.

    Maar helaas
    was daar dus ook Judeërs, wat saans nie net op hulle dak gesit het om lekker af
    te koel nie, of om tot die HERE te bid in alle rus nie, maar wat deelgeneem het
    aan die kultus van die maanverering of sterreverering.

    Hulle het
    daar, vanaf hulle dakke, waar die sterre die beste sigbaar was, offers gebring
    aan die sterregode.

    Nie dat daar
    ‘n god op die maan sou woon nie.

    Maar hulle
    het gemaak asof die maan self ‘n god was.

    Hulle het op
    hulle dakke gekniel voor die hemelliggame.

    So het hulle
    hulself skuldig gemaak aan bygeloof.

    Afgodery wat
    oorgewaai het uit Assirië.

     

    En dan noem
    Sefanja die mense wat sweer by sowel die HERE as by Milkom, sien vers 5.

    Hoe hierdie
    word Milkom presies vertaal moet
    word, is nie heeltemal duidelik nie.

    Daar is
    vertalings, soos ons s’n, wat Milkom vertaal,
    dit was naamlik die god van die Ammoniete.

    Mens kan
    egter ook Molog vertaal.

    Dan dink ons
    aan die afgod wat die goddelose koning Manasse vereer het.

    Vir wie hy
    selfs kinderoffers gebring het.

    En nog ‘n
    derde moontlikheid is dat mens hierdie woord met ‘hulle koning’ vertaal.

    Dit sou dan
    inhou dat die koning as afgod vereer
    is.

    Dus, watter
    afgod hier presies bedoel word, is nie heeltemal duidelik nie.

    Waarskynlik moet
    ons dink in die rigting van die afgodediens van koning Manasse.

    Hy was die
    koning wat naamlik ook die sterreverering in Israel ingevoer het, waaroor dit
    ook in vers 5 gaan.

    Die hoofpunt
    is in elk geval dat Sefanja ‘n afkeer het van die sinkretisme, die feit dat die
    mense behalwe vir God ook nog ‘n ander god vereer, en daarby gesweer het.

     

    Vervolgens
    noem die profeet in vers 6 nog ‘n kategorie van afvalliges.

    Ons sou hulle
    vandag noem: die gesekulariseerdes.

    Hulle wat
    verwêreldlik het.

    Hulle wat
    dit nie meer nodig vind om die HERE te soek en na sy wil te vra nie.

    Om die HERE
    te soek, wil nie sê dat Hy onbekend was nie, of dat Hy ver weg was nie.

    Met die HERE
    soek word bedoel, om Hom te eer.

    Om na Hom te
    vra, beteken, om aandag te skenk aan wat sy wil is.

    Soos ons
    later in hoofstuk 2:3 sal lees: “Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land
    ... soek geregtigheid, soek ootmoedigheid”.

     

    Tot dusver,
    gemeente, het ons in die eerste punt gekyk na hulle wat met die dag van die
    HERE in besonder moet rekening hou.

    Kortliks net
    weer: die priesters, die godsdienstige leiers, wat die baanbrekers is op die
    pad na afval.

    Vervolgens die
    wat hulle met sinkretisme besig hou – wat die diens aan die HERE kombineer met
    die afgode dien.

    Ook hulle
    wat buig en offer vir die hemelliggame, son maand en sterre.

    En ook die
    gesekulariseerdes, hulle wat leef asof God ver is en nie omgee wat hulle doen
    nie.

    Wat dit nie
    nodig ag om die HERE te soek en na sy wil te vra nie.

    Al hierdies
    moet terdeë rekening hou met die dag van die HERE wat naby is.

     

    Ons kyk nou
    in die tweede plek:

     

  2. Wat hierdie dag sal inhou

    Dit is nou
    duidelik wie, watter groepe mense, Sefanja presies op die oog het.

    En dit is
    nie min mense nie.

    Miskien is
    dit wel amper die hele volk.

    En die
    eerste opdrag wat Sefanja aan al hierdie mense gee, is:

    Bly stil!

    Swyg! (vers
    7)

    Moenie waag
    om jou mond oop te maak voor God se aangesig nie, want sy dag is naby.

     

    En dan begin
    Sefanja:

    Die HERE het
    ‘n offer berei (vers 7).

    Dit is
    beeldspraak.

    Die straf
    word hier vergelyk met ‘n groot offermaal.

    Net soos ‘n
    dier, voordat dit geslag word, in angs sy asem ophou, so moet die mense hulle
    asem ophou en swyg.

    God het sy
    gaste geheilig (vers 7).

    Hiermee word
    bedoel: diegene wat God op die oog het, het Hy afgesonder.

    Soos die
    skape en beeste wat geoormerk is om geslag te word, afgesonder word, bymekaar
    gedryf in ‘n kraal, so sonder God hulle af wat geoormerk is om geslag te word.

    Hulle lot
    staan dus geteken.

    Hulle kan
    nie meer ontsnap nie.

    So merk God
    nou die mense.

    Hulle moenie
    dink hulle sal nog kan ontsnap nie.

     

    Sefanja noem
    vervolgens enkeles wat geoormerk is, enkeles wat veral nie moet dink dat hulle
    die dans sal ontspring nie.

    Hy begin by
    die belangrikstes:

    Op daardie
    dag, as die storm in al sy hewigheid losbars, sal die vorste eerste aan die
    beurt wees!

    Hulle sal
    eerste afgeslag word.

    Net soos die
    vetste diere ook altyd eerste is.

    Reken maar,
    as die HERE kom, sal die vorste dit eerste moet ontgeld.

    Nie die
    armes, nie die weduwees of die bedelaars nie, nee die vorste.

    Hulle wat
    veilig in hulle paleise skuil.

    Afvallige
    leiers van die volk.

    Vorste,
    prinse, priesters, profete.

    Hulle is die
    hoofverdagtes.

    Hulle wat so
    ryk is dat hulle dit kan veroorloof om uitlandse klere te dra (vers 8).

    Hulle wat,
    behalwe vir die buitelandse mode, ook die buitelandse afgode ingevoer het.

    Hulle wat
    gewoontes uit die buiteland ingevoer het, wat ‘cool’ is.

    Soos
    byvoorbeeld om oor die drumpel te spring (vers 9).

    Bygelowige
    gebruike.

     

    Hierdie
    mense is dus eerste aan die beurt.

    Hierdie keer
    sal die diere nie as plaasvervangers op die altaar geplaas word nie.

    Maar die
    mense self sal dit nou ontgeld.

    God sal
    Jerusalem met lanterns deursoek (vers 12).

    Alle hoeke
    en strate sal Hy uitkam.

    Net soos
    polisie vandag soms ‘n helikopter gebruik om boewe in die nag op te spoor, ‘n
    helikopter met ‘n helder ligstraal wat van bo af skyn.

    Soiets
    bedoel Sefanja, as hy in vers 12 sê dat die HERE Jerusalem met lanterns sal
    deursoek.

    Hy sal
    besoeking doen oor die manne wat dik geword het op hulle afsaksel.

    Wat dink:
    die HERE doen nie goed nie, Hy doen ook nie kwaad nie.

     

    Verstaan u
    hierdie uitspraak, gemeente?

    Daar is
    vandag baie mense wat so dink.

    Of God
    bestaan? Ek weet nie.

    Dit maak my
    ook nie soveel uit nie.

    Ek kom in
    elk geval niks van Hom agter nie.

    Hy doen nie
    goed nie, Hy doen nie kwaad nie.

    So het die
    Nazi’s ook in die vorige eeu gedink.

    En dus kon
    hulle maar hulle gang gaan, het hulle gedink.

    Gelukkig was
    dit nie so nie.

    Gelukkig het
    God gesorg dat die Nazi’s nie vir 1000 jaar, soos hulle van plan was, hulle
    gang kon gaan nie.

     

    En baie eeue
    gelede, om presies te wees, 26 eeue gelede in die dae van Sefanja, toe was
    mense maar net soos hulle vandag nog steeds is.

    Ook toe al
    het die mense gedink dat hulle baas is op aarde.

    En dat die
    HERE, as Hy daar is, tog geen goed of kwaad doen nie.

    Maar ook toe
    was God daar, die lewende HERE, en hoewel Hy geduldig en genadig is, duld Hy
    onreg nie vir altyd nie.

    Pasop, swyg,
    wees stil!

    Naby is die
    groot dag van die HERE.

    Aan die
    einde van hoofstuk 1 beskryf Sefanja met beeldende terme hierdie dag.

    Dit is
    beangstigend.

    ‘n Dag van
    benoudheid.

    ‘n Dag van
    vernieling en vernietiging.

    ‘n Stad wat
    ‘n puinhoop word.

    ‘n Dag van
    duisternis, donker dreigende wolke.

    ‘n Dag van
    besuingeskal.

    ‘n Dag van
    loeiende sirenes.

    Krygsgeskreeu
    teen die versterkte stede en hoektorings.

    Mens moet
    hier dink aan ‘n ou ommuurde stad.

    Die vyand
    het van buite af probeer binnedring.

    Die soldate
    het probeer om teen die hoektoring op te klim.

    Die mense bo
    op die muur het stene en gloeiende teer oor die soldate uitgegooi.

    Waarna die
    soldate met brullende pyn na benede getuimel het.

    Krete van
    pyn, krete van wraak, krete van doodsangs.

    Oorlogstaferele.

    Ja hierdie
    dag van die HERE lyk nie rooskleurig nie, inteendeel.

    Dit is ‘n
    dag om doodsbenoud vir te wees.

    Laat die
    inwonders van Jerusalem dit besef.

    Hulle wat
    dink dat die HERE ‘n verre God is wat goed nog kwaad doen.

    Hulle wat ‘n
    godsbeeld het, asof God nooit sal ingryp nie.

    Maar die
    lewende God verdra dit nie vir altyd nie.

    Wie sy wet
    verag, sal vroeg of laat met die lang arm van sy gereg te make kry.

    En nog hulle
    silwer, goud, nog hulle aandele, hulle welvaart, nog enige van hulle afgode,
    sal hulle op daardie dag kan red.

    Want hulle
    het teen die lewende God gesondig.

    Hy wat alles
    aan die mens maar net in bruikleen gee.

    Hy sal op
    daardie dag sy regte kom opeis.

    Deur die
    vuur van sy toorn sal die aarde verteer word.

    Vernietiging,
    jy ‘n verskriklike einde sal Hy vir die inwoners van die aarde berei.

     

    Net soos aan
    die begin van hoofstuk 1, word hier aan die einde die straf in kosmiese terme
    geskets.

    Asof die
    hele aarde verteer sal word.

    Nou is dit
    so dat die Hebreeuse woord vir aarde
    ook vertaal kan word met land.

    Die konteks
    moet duidelik maak watter woord waar op sy plek is.

    Hier in
    Sefanja 1 gaan dit in die eerste plek oor die straf oor die land van Juda.

    Ons kan met
    sekerheid sê dat hierdie ‘n profesie was van die verwoesting van Jerusalem, en van
    die ballingskap, wat ‘n halwe eeu later sou plaasvind.

    Aan die een
    kant kan mens hierdie woord in vers 18 dus vertaal met land.

    Maar aan die
    ander kant is dit ook so, dat Sefanja God se gerig in kosmiese terme skets.

    Die hele
    aarde hou sy asem op, die hele aarde sal die gerig ondergaan.

    So is
    Sefanja se boodskap ook vir ons belangrik.

    Ons kan nie
    sê: Sefanja se waarskuwing is nie meer vir ons relevant nie.

    Ook ons moet
    lewe met die besef dat die dag van die HERE naby is.

    Ook ons moet
    daarmee rekening hou.

    En as mens
    in hierdie hoofstuk lees wat dit alles inhou, maak dit mens op jou hoede.

    Dit laat jou
    lig loop.

    In elk geval
    nie met die lewenshouding asof God ver is en niks op aarde uitrig nie.

     

    (Tema: Die
    dag van die HERE is naby

  1. Wie veral met hierdie dag rekening moet hou

  2. Wat hierdie dag sal inhou)

     

    3         Wat
    die doel van hierdie dag is

    Ek het
    genoem dat die gerig oor Jerusalem ongeveer ‘n halwe eeu later plaasgevind het.

    Dit was eintlik
    nog ‘n hele tyd.

    As ons dit
    met vandag vergelyk.

    Ons sien
    vandag ook baie afval van die HERE.

    Die afgelope
    dekade of twee het die meeste kerke in Suid-Afrika se lidmatetalle gehalveer of
    nog meer.

    Dis maar net
    ‘n fraksie wat Sondagoggend opstaan om kerk toe te gaan.

    Mense leef
    asof God nie belangrik is nie.

    God se
    gebooie is oudtyds.

    Mense leef
    en pleeg onreg asof niks of niemand hulle daarvoor gaan straf nie.

    Ons besef
    dat dit nie vir altyd so sal kan aangaan nie.

    Maar sê nou
    maar dit is eers oor ‘n halwe eeu wat die HERE orde op sake kom stel.

    In 2050 of
    nog later ...

    Dan sal baie
    van die mense wat vandag so onverskillig leef, al oorlede wees.

    So het dit
    dus destyds in Judea ook gebeur.

    Vyftig jaar
    later het die straf gekom wat Sefanja aangekondig het.

    Ons kan
    hierin ‘n blyk van God se geduld sien.

    Dat Hy sy
    volk baie lank die kans gegee het om tot inkeer te kom.

    En dit is
    ook moontlik, dat daar daadwerklik mense tot inkeer gekom het op Sefanja se
    prediking.

    Ons weet uit
    ander Bybelgedeeltes, dat daar tydens die regering van koning Josia ‘n
    herlewing, ‘n reformasie in Jerusalem plaasgevind het.

    Dit was in
    die tyd van Sefanja.

    Die HERE het
    vrugte gegee op Sefanja se onheilsprediking, op sy waarskuwing.

    Nie dat
    Sefanja die enigste profeet was nie.

    Daar was
    meerdere profete.

    Daar was
    helaas ook valse profete.

    Maar daar
    was ook opregte manne, wat God se wil aan die volk voorgehou het.

    Die profete
    Habakuk en Nahum was byvoorbeeld tydgenote van Sefanja.

    ‘n Seën is
    dit vir God se volk, as profete die waarheid durf te praat.

    Geen mens
    doen dit uit homself nie.

    Ons sit
    almal vas aan ons eie tyd.

    Soos ons tyd
    dink, so dink ons.

    Ons praat
    soos mense van ons verwag om te praat.

    Maar God se
    Gees laat mense na die Bybel luister.

    God se Gees
    bring profete ook so ver.

    Om uit te
    kom vir God se waarheid, om bo die beperktheid van jou eie tyd en samelewing
    uit te styg.

    Dit kan
    konfronterend en onheilspellend wees.

    Sefanja se
    profesie is waarskynlik nie in dank afgeneem nie.

    U eerste
    reaksie sal waarskynlik ook nie positief wees nie, as u ‘n aanhoudende stroom
    van onheilswoorde oor u heen kry.

    Maar Sefanja
    se woorde is vandag ook relevant.

    God se
    onheil kom op ons af.

    God het
    geduld, maar die onreg laat Hy nie eindeloos ongestraf nie.

    Daar kom ‘n
    dag waarop die maat vol is.

    En mens se
    eerste reaksie is dikwels om so ‘n profeet, so ‘n dominee te verkwalik.

    As hy net
    onheil kan praat, laat hom maar elders heen gaan.

    Maar
    gemeente, soos dit destyds was, so is dit vandag ook.

    Juis die
    konfrontasie, die konfrontasie met woorde, ja met God se Woorde, is opbouend.

    God neem
    profete en predikante in diens, nie om die mense se gehoor te streel nie.

    Hulle bring
    die Woord soos ‘n tweesnydende swaard.

    Jesus
    Christus, ons hoogste Profeet en Leraar, is hierin by uitstek ‘n voorbeeld.

    Sy woord het
    ook pyn veroorsaak, maar het wel die genesing gebring wat daar met inkeer kom.

    So bied God
    se Woord perspektief aan sy volk, ook deur die konfrontasie.

     

    Geliefde
    gemeente, u het ‘n God wat naby u is.

    Met sy seën,
    en met sy straf.

    In Christus
    het dit tog so duidelik geword!

    God is nie
    net ‘n verre toeskouer van die wêreldgeskiedenis nie.

    Met Christus
    se koms het dit duideliker geblyk as ooit tevore!

    Hy let
    noukeurig op al jou doen en late.

    Hy sien wat
    jy doen.

    Hy sien jou
    alledaagse lewe.

    As jy jou
    werk doen.

    As jy skool
    toe gaan.

    As jou lewe
    lou is, kom Hy dit agter.

    As jy soms
    ‘n erediens versuim.

    As jy soms
    ‘n dag versuim om te bid.

    As jy ‘n dag
    die TV, of die internet, of whatsapp, moeiliker kan mis as die Bybel.

    As jy
    jouself te goed doen aan al die aangename dinge van die lewe, of dit nou
    voedsel of drank is, motors, vakansies, klere, juwele, selfone, wat ook al, en
    as jy Hom nie opreg daarvoor dank nie.

    As jy dit
    nie sien as gawes uit sy hand nie.

    God merk dit
    alles op.

     

    Gemeente,
    dit is die boodskap van Sefanja 1.

    Die HERE is
    naby, Hy sien alles.

    Hulle wat
    dink: die HERE doen goed nog kwaad.

    Hulle
    rykdomme sal geplunder word.

    Die huise
    wat hulle bou sal hulle nie bewoon nie.

    Van hulle
    mooi tuine sal hulle nie geniet nie.

    God het
    geduld gehad met sy volk, maar 50 jaar later het Hy hulle in ballingskap
    gestuur.

     

    Laat dit vir
    sy volk, sy kinders, sy kerk vandag ‘n voorbeeld wees.

    Leef suiwer
    voor die HERE.

    Vrees Hom.

    Wees bang om
    Hom te bedroef.

    Besef dat Hy
    almagtig is.

    Dat Hy jou
    lewe op die voet volg.

    Dat dit
    genade is dat jy mag lewe.

    Leef suiwer
    voor sy aangesig.

    Of jy ‘n
    tiener is, of ‘n pensioenaris, of ‘n ouer, wie ook al.

    Hy is God en
    Hy is naby ons.

    Sy nabyheid
    is ons tot seën.

    Sy nabyheid
    het Hy in Christus gewys, deur juis Hom
    te straf.

    In Christus
    bied Hy jou sy Vaderliefde, oneindige rykdom.

    Maar sy
    nabyheid kan ook jou ondergang beteken, as jy nie suiwer voor Hom lewe nie.

    Die gerig
    begin by God se huis.

    Maar, dit leer
    ons ook uit die Bybel, Hy bewaar altyd ‘n res.

    Christus sal
    nooit sonder onderdane wees nie.

    Ook nie in
    ons tyd nie.

    Al sê die
    wêreld wat, al vind die wêreld die Bybel en wat daarin staan hoe oudtyds.

    Ons gaan in
    vertroue voort, vertrouend op ons Saligmaker.

    Hy is
    Immanuël.

    Hy is God
    met ons, naby ons.

    Kom, skuil
    by Hom.

     

    Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)