God se trou in die geboortegeskiedenis van sy volk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-08-07
Teks: 
Psalms 105
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
7 Augustus 2016 AD, 10:15 (Doop)

Votum

Seën

Ps 149:1,2

Wet

Ps 56:1

Gebed

Doopsformulier

Bediening doop aan: Addie de Vente

Ps 89:1

Skriflesing en teks: Psalm 105

Ps 105:1,2,3,4

Preek

Ps 105:5,8,9,10

Gebed

Kollekte

Ps 105:23,24

Seën

Amen

Preek: Psalm 105

Op ‘n dag soos vandag word daar baie foto’s gemaak.

Dit help jou om later terug te dink aan hierdie unieke dag.

Foto’s, video’s, ook vir die familie wat nie hier is nie.

En dikwels sorg die ma ook nog vir ander herinneringe aan
hierdie eerste weke na die geboorte.

Sy bewaar die dooprokkie, ook dalk eerste presentjies.

So kan mens later terugdink aan hierdie gebeurtenis in die
kerk.

Addie is vandag, van dit alles, niks bewus nie.

Maar tog is dit ‘n wesenlike oomblik in sy lewe.

Nou word die fondament gelê vir sy toekoms.

Met die grootste sorg is sy ouers daarmee besig.

En hulle doen dit bewus, omdat hulle so van hulle eie seuntjie
hou.

Sodat Addie later sal kan terugkyk en sê: dit was my
geboortegeskiedenis.

En onderdeel daarvan was dat ek op daardie dag en in daardie
kerk gedoop is.

Vanoggend kyk ons in die preek na die geboortegeskiedenis van
God se volk, soos Psalm 105 dit herhaal.

Ek verkondig u God se Woord onder hierdie tema:

 

Tema: God se trou in die geboortegeskiedenis
van sy volk

  • Die fondament
    van sy verbond

  • Drie episodes
    ter illustrasie

    Die fondament van sy
    verbond

    In hierdie psalm lees ons oor die geboortegeskiedenis van God
    se volk.

    Maar hierdie psalm is eers eeue later geskrywe. Die digter het
    die dinge wat hy beskryf, self nie ervaar nie. Wanneer hy presies gelewe het,
    vertel die psalm nie vir ons nie. Maar dit was in elk geval na die intog in die
    beloofde land. Toe die volk daar, reeds hulle voete gevind het.

    Toe hulle vanuit hulle gemaklike posisie agterom gekyk het, terug
    na die verlede, met die vraag: Hoe is dit dat ons in hierdie land, en in
    hierdie bevoorregte posisie, tereg gekom het?

    Hoe het dit sover gekom dat ons nou so geseënd is?

    Die digter kyk terug in die verlede, vol trots en dankbaarheid
    oor daardie besondere beginjare. Die beginjare, toe hulle Verbondsgod die fondament
    onder die bestaan van sy volk gelê het.

    ‘n Stewige fondament, waarop ‘n huis gebou kon word sonder
    krake.

    ‘n Onwankelbare fondament, naamlik God se verbond.

    God het ‘n verbond met sy volk gesluit deur sy verkiesende
    liefde.

    Hy het ‘n klein en weerlose volkie uitgekies, terwyl Hy
    almagtig was.

    Hy het die hele wêreld verbaas met sy wonderdade, en dit alles
    net vir hierdie klein volkie. Ja die digter kyk vol verwondering terug na
    hierdie beginjare van die verhouding tussen God en sy volk.

    Net so sal julle as ouers later vol trots vertel oor die tyd
    toe Addie ‘n baba was.

    Vertel aan die hand van foto’s, video’s, die eerste
    kleertjies, dooprokkie, ensovoorts.

    En net so is daar in hierdie psalm 'n terugblik op die eerste
    tydperk van God se volk.

    Hoe God – kort na die geboorte van sy volk toe hulle nog klein
    en weerloos was – dit gedra het, beskerm het, die goeie kant op gestuur het.

    Oomblikke waarop die hemelse Vader met reg trots is.

    En waar sy volk nou in dankbaarheid aan terugdink.

    In hierdie psalm is daar dus in dankbare herinnering 'n terugblik
    op die magtige dade van God.

    Met as doel om te dien as aansporing om juis ook in die hede
    trou te bly aan die HERE en sy gebooie.

    As God aan ons so ‘n uitstekende begin meegegee het vir ons
    lewe, hoekom sou die volk nou van Hom wil afdwaal?

    As God in sy verbond vir ons soveel kapitaal meegee, hoekom
    sou ons daarvan vergeet?

    En gemeente, siedaar die rede vir hierdie psalm.

    Die doel is: om God se wonders uit te stal, om dit in die vorm
    van ‘n skitterende lied te giet, wat gesing kan word, keer op keer:

    “Die HEER wat van geen wankel weet nie, sal nimmer sy verbond
    vergeet nie”

    Om God se enorme wonderdade oor en oor te vertel, sodat ons -
    wat ook by sy volk mag hoort – telkens opnuut onder die indruk kom.

    God se wonderdade besing, sodat mense wat Hom nog nie ken nie,
    dit sal sien en hulle sal verbaas. Verbaas oor dit wat Hy vir Israel gedoen
    het.

    Want dit was nie sommer net iets nie. Dit was egte wonders.

    Wonders van uitredding vir sy volk. En ook wonders van straf
    vir sy vyande.

    Nou kies die digter in hierdie psalm spesiaal drie
    gebeurtenisse uit die verlede om daarop te fokus. Mens sou vandag amper sê:
    drie videobande, of 3 dvd’s uit die verlede, uit die familiegeskiedenis, om
    saam met ons te bekyk.

    3 uit die uitgebreide serie van God se bemoeienis met sy volk
    in die verlede.

    Sy versorging, vanaf die babajare, die kleuterjare, die
    kinderjare, ensovoorts.

    Die eerste ‘dvd’ is vanaf vers 12, die tyd van die
    aartsvaders.

    Die tweede is vanaf vers 16, die tyd van Josef.

    En die derde is vanaf vers 23, die tyd in Egipte.

    Ons gaan nounou in die tweede punt na elkeen van hierdie drie
    kyk.

    Episodes wat terugblik op die kinderjare van God se volk.

    En die rooi draad deur aldrie hierdie episodes, dit is wat ons
    in die verse 8-11 lees. Hierdie verse is berym in die bekende lied, wat alle
    kinders in die kerk al van jongs af leer:

“Die HEER wat van geen wankel weet nie,

sal nimmer sy
verbond vergeet nie;

al sy beloftes bly
van krag

tot in die
duisendste geslag.

Verbond met
Abraham, sy vrind,

bevestig Hy van
kind tot kind.” (Ps 105:5)

Hierdie woorde
vorm die rooi draad, wat deur elke episode heen loop.

God het in die
verlede vir hierdie volk gekies. Hy het sy naam aan hulle verbind. Hy het uit
vrye genade met hulle ’n verbond gesluit.

En dus sal Hy
hierdie mense nie meer in die steek laat nie.

Hulle nie, en ook
nie hulle nageslag nie.

Ook al gaan
duisend geslagte verby, soos ons in die tweede gebod kan lees.

Dink maar net vir
’n oomblik hoe lank duisende geslagte is.

As mens dit
letterlik uitwerk, is dit ’n periode van 25,000 jaar!

Sedert Abraham
geleef het, het daar nog lank nie duisend geslagte verby gegaan nie, nie eers
’n kwart daarvan nie!

En dan vat ons dit
letterlik op, as ons sê dit is 25,000 jaar; terwyl die bedoeling hier simbolies
is, naamlik: God sal NOOIT sy verbondskinders vergeet nie!

Van sy kant bly Hy
trou. En dit wat Hy in die verlede gedoen het, daarvan kan ons leer. Daaraan
kan ons ons optrek. Want net so sal God vandag ook vir ons sorg, en dit sal in
die toekoms ook so wees!

As mens later na
foto’s kyk van toe jy ’n baba was, of filmpies, dan val dit altyd op hoe baie
jou pa en ma van jou gehou het.

Hoe sorgsaam en
versigtig hulle jou vasgehou het.

Soms is dit goed
vir ’n tiener om weer na daardie foto’s of filmpies te kyk.

Die beeld wat ’n
tiener van sy pa of ma soms vorm – dat hulle die heeltyd net kritiek op hom het
– kan dan weer reggestel word. Kyk net hoe liefdevol het pa en ma jou hanteer! Daar
is die fondament gelê vir die toekoms.

Die fondament
staan vas. So het God die fondament van sy verbond gelê onder die verhouding
tussen Hom en sy volk.

Hy het beloof: Ek
bly trou. Ek bly lojaal, tot in die duisendste geslag.

Vandag word Addie
ook in hierdie verbond opgeneem.

Vandag word die
fondament gelê. Ook hy mag lewe in God se verbond.

(Tema: God se trou in die geboortegeskiedenis van sy volk

  • Die fondament van sy verbond)

    Drie episodes ter
    illustrasie

In Psalm 105
herinner die HERE sy volk aan ’n paar episodes uit die verlede.

Dis amper soos 3
DVD’s uit die verlede wat die HERE sy volk weer laat kyk.

Kom ons begin met
die eerste. Die eerste episode gaan oor die allereerste begin. Dit is die verse
12-15. Toe die volk nog maar ’n handjievol mense was.

Dan dink ons aan
die tyd van die aartsvaders.

Die geboorte van
die volk het gelê in God se roepstem.

Hy het Abram
weggeroep uit Ur van die Chaldeërs.

Hy moes sy familie
agterlaat, sy familiegrond en besit, en nog belangriker: ook die gode, die
afgode, wat sy familie vereer het, moes hy agter laat.

En as vreemdeling
moes Abraham die res van sy lewe in Kanaän deurbring.

As ’n buitelander
wat van die een na die ander plek getrek het.

Wat geen regte
gehad het nie, geen eiendom.

Die enigste vaste
besit wat hy in hierdie land verwerf het, was ’n graf.

’n Grafspelonk wat
hy gekoop het (Gen 23) by sy vrou se afsterwe, vir haar en later vir homself.

Vir hom het dit
dus veral die beloofde land gebly. Dit
wil sê, die land van die belofte. Die
land wat aan hom beloof is, maar wat nog nie sy eie was nie.

Sy lewe lank moes
hy net vashou aan die belofte.

Wil dit sê dat hy
’n mislukte lewe gehad het? Nee, allermins.

En daarop vestig
hierdie episode, soos Psalm 105 dit beskryf, ons aandag.

Dit word kortliks
beskryf, alles kan nie opgeskryf word nie, net soos nie alles gefilm kan word
nie. Maar die belangrikste, dit is wel vasgelê.

Ons lees: Toe
hulle min mense was, min en ook nog vreemdelinge, en hulle van nasie tot nasie
getrek het, van die een koninkryk na die ander volk, het Hy geen mens toegelaat
om hulle te verdruk nie.

Ja God het selfs
konings om hulle ontwil gestraf.

Raak my gesalfdes
nie aan nie! Doen my profete geen kwaad nie!

Dit is die
essensie: naamlik dat God in sy verbondstrou hulle bewaar het toe hulle klein
en kwetsbaar was!

Dit was dus ’n tyd
wat Abraham net nog van die belofte kon leef.

Die belofte het
nog nie gerealiseer nie.

Maar Hy wat die
belofte gemaak het, het wel vir Abraham beskerm!

As verbonskind het
Abraham deur die lewe gegaan.

Die HEER wat van
geen wankel weet nie, sal nimmer sy verbond vergeet nie!

Dit mog die
aartsvaders ervaar. Hoe sondig hulle self ook was, God het trou gebly. Selfs
toe hulle van die pad afgedwaal het, die pad wat die HERE God vir hulle
uitgestippel het. Dink aan hoe Abraham op ’n stadium die beloofde land verlaat
het, na Egipte getrek het, en van plan was om hom daar permanent te vestig,
veral toe hy deur Farao met geskenke oorlaai is, omdat hy die swaer van die
koning geword het. Dit alles omdat hy ’n onbetroubare eggenoot vir sy vrou was,
en sy huweliksverbond met haar nie gestand gedoen het nie.

Daarenteen het God
wel trou gebly aan sy verbond. Gedurende heel Abraham se lewe, en ook in die
tyd van die ander aartsvaders,  Isak en
Jakob.

Hoe dikwels het
hulle nie ook die spoor byster geraak nie. Tog het God hulle telkens weer
teruggetrek, het Hy hulle nie in die steek gelaat nie.

Dit was, gemeente,
tot dusver die eerste episode wat Psalm 105 beskryf, verse 12-15. Van begin tot
einde getuig hierdie episode van God se trou.

Die 2e
episode, ons lees dit in vers 16-22, het presies dieselfde tema.

Alleen, nou gaan
dit oor ’n later stadium. Mens sou kon sê: God se volk is nou ’n peuter. Uit
hierdie periode kom die verse 16-22.

Dit gaan oor die
tyd van Josef, die seun van die laaste aartsvader, Jakob.

Nog steeds het
hulle soos nomades deur die land Kanaän geswerf.

Nog steeds het
hulle met die belofte geleef.

Nog steeds was dit
net die beloofde land, nog nie hulle eie land nie.

Hulle is op die
proef gestel. Dit het wel gelyk of hierdie beloofde land hulle nie aanvaar het
nie, hulle wou uitspoeg. Daar was hongersnood. Elke staf van brood het Hy
verbreek. ’n Staf is iets waarop mens kan leun.

Soos ou mense op
’n kierie leun. Daarsonder kan hulle nie loop nie.

So kan mens sonder
brood ook nie leef nie. Dit is as’t ware die staf waarop jy steun. Maar dit het
dus weggeval.

Tog het God, wat
van geen wankel weet nie, nog nie sy verbond vergeet nie.

Selfs nog voordat
die hongersnood in al sy hewigheid toegeslaan het, het God reeds maatreëls
getref. Sy verbond het eise gestel, en dus het Hy vooruit beplan. En dit word
in hierdie episode vertel. Josef is naamlik as slaaf verkoop.

Vir vader Jakob
was dit die mees troumatiese gebeurtenis van sy lewe.

Hy het gedink dat
sy seun deur ’n roofdier verskeur is.

Maar hierdie
episode word in Psalm 105 juis op hoopgewende toon belig.

Die vernederende
weg – om as slaaf verkoop te word en selfs om in die gevangenis in Egipte te
beland – dit was God se weg om te sorg vir behoud in die toekoms. Josef het
deur ’n diep dal gegaan.

Eintlik moet ek
sê, want ons kyk nou met Psalm 105 terug na die begindae van God se volk. Dit
is God se volk, in sy eerste kinderskoentjies, wat nog maar net wankelrig kon loop,
wat hier deur ’n diep dal gegaan het, wat oor die randjie van die afgrond
geloop het.

Maar
desnieteenstaande, die fondament van die verbond was nog daar.

En na baie jare
het dit stelselmatig duideliker geword: eers vir Josef en later ook vir sy
broers en ook vir sy vader Jakob, dat hierdie juis God se weg was.

Dat Hy ’n nuwe
toekoms voorberei het vir sy volk. En so kyk Psalm 105 terug.

Hierdie tweede
episode met betrekking tot Josef maak ons nederig.

Dit spoor ons aan
tot verootmoediging.

Maar dit vul ons
veral met bewondering vir die God van die verbond.

En dan kom ons by
die derde en laaste episode, wat Psalm 105 belig.

Hierdie derde
episode neem die grootste deel van Psalm 105 in beslag.

Dit was, sê maar,
die volk in sy kleuterjare.

Hierdie periode
het begin met ’n belangrike verhuising.

Tydelik is die
opvoeding voortgesit op ’n ander plek.

Die beloofde land
het vir ’n paar eeue op afstand gelê.

Nie dat die Vader
sy verbond vergeet het nie.

Dit laat hierdie
periode nog duideliker as ooit sien!

Hier in Egipte hou
die hemelse Vader sy kind noukeurig dop, soos wat hy opgroei.

Raak my gesalfde
nie aan nie! Want as jy dit doen, kom jy aan My!

Wel, dit het die
Egiptenare meer as een keer ervaar. Dit volk het al hoe groter geword, die HERE
het hulle baie vrugbaar gemaak, lees ons in vers 24.

Ja hulle het selfs
magtiger as die Egiptenare geword. God het agter hulle gestaan. Hy het Moses en
Aäron gestuur. En die Egiptenare moes dit ontgeld.

Hulle,
afstammelinge van die opstandige Gam, is gekonfronteer met God se wonders. Duisternis.
Alle waterstrome wat in bloed verander het. Paddas.

Steekvlieë. Muskiete.
Hael. Sprinkane. Duisternis.

En tot oormaat van
ram, die dood van alle eersgeborenes.

Ja, Hy, die HERE, Hy
is ons God! Sy oordele gaan oor die ganse aarde!

Ja hulle God,
hulle Vader, kan alles! So dink ’n kleuter mos oor sy pa!

So gaan Addie ook
opkyk na sy pa. En so was dit ook met God se volk in Egipte.

Hulle hemelse
Vader was werklik tot alles in staat!

As jy maar naby
Hom gebly het, was jy veilig! Selfs al moes jy midde deur die see trek! En ook
in die dorre woestyn kon hulle veilig agter Hom aantrek.

Met die beloofde
land wat steeds naderby gekom het.

Hy het wonders
gedoen. Water uit die rots. Brood uit die hemel.

Vleis om op te
raap.

Hoe dikwels het
God se volk nie aan hierdie episode teruggedink nie!

Tot op vandag. Dis
soos die gunsteling DVD wat kinders wil kyk oor toe hulle klein was. Hierdie
episode staan op nr. 1 in God se gesin.

Hierdie episode
word hoeveel keer nie in die Bybel weer herhaal nie.

Telkens, deur alle
eeue heen, herinner die profete die volk hieraan.

God se volk het
nooit moeg geword om hieraan terug te dink nie.

Die episode van
die tien plae, die pad oor die bodem van die see, die manna wat uit die hemel
gereën het, en die Sinaï.

Steeds weer, oor
en oor, hoe dikwels lees ons nie hierdie geskiedenis in die Ou Testament terug
nie!

Inderdaad, hierdie
kleutertyd was funderend vir die toekomstige bestaan van God se volk.

Die HEER wat van
geen wankel weet nie, sal nimmer sy verbond vergeet nie.

Dit is die rooi
draad deur al drie episodes heen, wat Psalm 105 beskryf.

Soos ek al eerder
genoem het, hierdie Psalm is geskryf in ’n tyd toe God se volk reeds lank
gevestig was in die beloofde land.

Dit is geskryf
vanuit die perspektief dat God sy belofte waargemaak het.

Die belofte wat
vir die eerste keer by Abraham geklink het, en wat God steeds weer herhaal het,
ook aan Isak, Jakob, die twaalf seuns van Jakob, aan Moses en Aäron, tot in die
dae van Josua die vervulling gekom het.

Dit het werklik
gebeur!

En die persoon wat
hiedie Psalm geskryf het, ons ken nie sy naam nie, hy is gebore en getoë in die
beloofde land. Die land het sy eie land geword.

En hierdie les
leer hy ons uit die geskiedenis. Die HERE is betroubaar.

Wat Hy beloof, bly
van krag.

Verbond met
Abraham, sy vrind, bevestig Hy van kind tot kind.

Hierdie psalm sluit
dan ook af met die oproep:

Bly by die HERE. Luister
na Hom. Bewaar sy wette.

Hierdie oproep sal
Addie ook gereeld in die toekoms hoor.

Addie, bly by
pappa. Addie, gee vir my ’n hand.

Addie, kom hier. Net
so is die HERE as hemelse Vader steeds met sy kinders besig. Om hulle naby Hom
te bewaar.

En hierin gee Hy
aan julle, die ouers van Addie, ’n groot taak.

Addie sal van
julle moet leer hoe om te lewe.

Julle sal hom moet
voorleef hoe om die HERE te loof, hoe om sy Naam aan te roep, soos in vers 1
staan. Julle het die taak om God se wonderdade vir hom te vertel. Julle het die
taak om hom te leer om omhoog te kyk, en te besef dat daar ’n hemel is. Dat
daar ’n hemelse Vader is, wat in liefde op ons neerkyk.

Julle sal hom moet
leer dat alle bome en blomme en heel die skepping ’n kunswerk is van die
Skepper, wat ook vir Addie self geskape het.

Julle het die taak
om hom te wys op die wonder van die lente, as dit weer orals gaan begin blom,
en op die trekvoëls wat die lente gaan aankondig, ja alle tekens om ons heen
wat daarop wys dat die Heilige Gees aktief is.

So volg julle as
ouers in die voetspore van die digter van hierdie psalm.

Om die nuwe
generasie te wys op God, die Een wat wonders doen, die Een wat groot dinge
gedoen het.

Saam met jou kind
gaan jy oor en oor luister na al die episodes uit die geskiedenis van God se
volk. Eers aan die hand van ’n Kinderbybel, en later, as hy geleer het om te
lees, dat hy self uit die Bybel begin lees.

En vertel veral
vir Hom baie oor die Here Jesus.

Want waar die
wonders van die uittog uit Egipte die mees gewilde episode was vir God se volk
van die Ou Testament, so kyk ons vandag terug op ’n episode wat nog ver daarbo
uitgestyg het.

Die grootste
wonder van die geskiedenis, dat God sy eie Seun na die aarde gestuur het, en
dat Hy die dood oorwin het. Ja leer julle kind sy Heiland en Verlosser ken. Dat
hy met Hom deur die lewe gaan.

Vandag het Hy, ons
Here Jesus  Christus, sy Naam aan Addie
verbind.

Ons mog dit met
ons eie oë sien.

Gedoop in die Naam
van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Die Drieënige God
wat sy belofte nie sal breek nie.

Ewig sy verbond
met Abraham, sy vrind, sal gedenk, van kind tot kind.

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)