Die hoogste wysheid van mense is nog maar dwaasheid by God. Die dwaasheid van God is hoër as die hoogste wysheid van mense

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-05-22
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 14
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 22 Mei 2016 AD, 17:30

Votum

Seën                       

Ps 18:1

Gebed

Skriflesing:
Mattheüs 1:18-25; Lukas 1:26-38

Sb 4:2,3

Skriflesing:
1 Korinthiërs 1:17-31

Sb 4:4,5

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 14

Preek

Ps 89:3-6

Gebed

Geloofsbelydenis
(sing)

Kollekte

Ps 89:7

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 14

Die feit dat
die Here Jesus ontvang is van die Heilige Gees, en gebore uit die maagd Maria,
is belangrike waarhede uit die Bybel.

Anders sou
hierdie feite nie ‘n plek gekry het in die Apostoliese Geloofsbelydenis nie.

Want hierin
het die kerk die hoofsake van die Bybelse leer, die belangrikste heilsfeite, in
twaalf artikels saamgevat.

Die
Apostolicum is maar ‘n kort geloofsbelydenis.

In die Bybel
staan daar soveel meer, wat nie genoem word nie.

Soos
byvoorbeeld die feit dat Jesus wonders verrig het.

Of dat Jesus
gelykenisse vertel het.

En selfs die
feit dat Jesus gedoop is, word nie in die Apostoliese Geloofsbelydenis genoem
nie.

Maar dat
Jesus ontvang is van die Heilige Gees en gebore uit die maagd Maria, dit staan
wel daar.

Hieruit kan
ons aflei dat dit belangrike, wesentlike, gegewens, feite in die Bybel is.

Vandag mag
ek u God se Woord verkondig oor hierdie heilsfeite.

Tema: Die hoogste wysheid van mense is nog
maar dwaasheid by God. Die dwaasheid van God is hoër as die hoogste wysheid van
mense.

  1. Wat vir mense onwaarskynlik is,
    is tog die waarheid

  2. Christus se unieke geboorte is
    die begin van sy Middelaarswerk

  1. Wat vir mense onwaarskynlik is,
    is tog die waarheid

    Die heilige
    ontvangenis en geboorte van Christus het ‘n eksplisiete plek gekry in die Bybel
    en ook in die Apostoliese Geloofsbelydenis.

    Dit is dus
    iets wat belangrik vir ons geloof is.

    Tog is daar
    baie mense wat anders daaroor dink.

    Vir baie mense,
    wat die Bybel nie ernstig vat nie, is dit soos ‘n sprokie uit ‘n sprokiesboek. Die
    feit dat Maria as maagd in verwagting geraak het.

    Hierdie is
    vir baie nie-Christene ‘n rede om die Bybel en die  Christelike geloof bespotlik te maak.

    En vir
    liberale Christene is hierdie heilsfeite iets wat hulle liewerste agterweë
    laat, en nie so ‘n prominente plek gee as wat die Apostoliese Geloofsbelydenis doen
    nie.

    Daar is
    mense wat op sig baie bewondering vir die persoon van Jesus het, vir sy
    wysheid, vir sy opofferingsgesindheid, maar tog sal hulle hierdie heilsfeite as
    ‘n sprokie van die hand wys.

    Dat dit
    egter nie oor sprokies gaan nie, maak die Skrif vir ons baie duidelik.

    En uit ‘n
    apologetiese oogpunt, sou mens ook die sogenaamde ander moontlikhede kon oorweeg,
    op die punt van hulle geloofwaardigheid.

    Daar is
    hoofsaaklik drie moontlikhede, wat die mense al oor die geboorte van Jesus
    geopper het.

    Hierdie
    idees vind mens nie net vandag by hedendaagse ongelowiges of liberales nie,
    maar hierdie selfde idees het al eeue gelede ook bestaan, tot terug in die
    eerste eeue.

    Die eerste
    moontlikheid waarop mense gewys het, is dat Jesus gewoon die seun van Josef
    was.

    Die tweede
    was dat Maria ‘n verhouding met iemand anders gehad het – soos ons uit Mattheüs
    1:19 weet het Josef aanvanklik ook hierdie gedagte gehad. Hierdie twee
    stellings is deur die eeue aangehang, as alternatief vir die ontvangenis deur
    die Heilige Gees, soos die Skrif aan ons openbaar.

    Watter een
    van die drie stellings is die betroubaarste?

    Vir ons wat
    die gesag van die Skrif aanvaar, wat deur God die Heilige Gees geïnspireer, is
    dit nie moeilik nie.

    Al mag die
    weergawe wat ons in die Skrif vind, soos deur die evangeliste Mattheüs en Lukas
    beskryf, ongewoon en uniek klink, tog neem ons dit aan as waar en betroubaar,
    omdat dit deel van God se onfeilbare Woord is.

    Maar kom ons
    kyk, vir ‘n oomblik, ook vanuit ‘n apologetiese oogpunt na hierdie gebeure.

    Apologeties
    beteken, dat jy iemand met sy eie argumente probeer oortuig.

    As jy
    byvoorbeeld vir ‘n ongelowige sê: ek neem dit vir waar aan, want dit staan in
    die Bybel, dan sal die ongelowige se reaksie tien teen een wees:

    Ek glo nie
    dat die Bybel betroubaar is nie, en dus glo ek ook nie hierdie storie nie. Dan
    is die gesprek ten einde.

    Wat die
    apologetiek egter doen, is om verder te gaan en mense met hulle eie argumente
    en denkwyses te konfronteer.

    Dit word
    vandag gedoen, dit is ook al uitgebreid deur die vroeë kerkvaders gedoen.

     

    Die stelling
    dat Jesus maar net ‘n kind van Josef was, vind mens – en dit hoef nie te
    verbaas nie – in die ou Joodse geskrifte.

    Jesus sou
    die oudste kind van Maria en Josef gewees het.

    Die tweede
    stelling dat Maria ontrou aan Josef was, is ‘n stelling wat ons, behalwe vir
    die Joodse geskrifte, ook al vind by Griekse en Romeinse skrywers van die
    eerste eeue.

    Maria sou ‘n
    buite-egtelike verhouding gehad het met ‘n Romeinse soldaat, terwyl sy al met
    Josef in ondertrou was.

    Die derde
    stelling, soos ons in die Bybel vind by Mattheüs en Lukas, vind ons vervolgens
    ook vanaf die eerste eeu by die Christelike skrywers, wat hulle uitgangspunt in
    die Bybel geneem het.

    As mens nou
    vanuit die oogpunt van ‘n ongelowige sou redeneer, watter een van hierdie drie
    stellings die geloofwaardigste is, dan sou jy – vanuit ‘n ongelowige oogpunt –
    waarskynlik uitkom by die eerste of tweede stelling.

    ‘n
    Ongelowige aanvaar naamlik die Bybel nie as Woord van God nie, maar slegs ‘n
    boek wat deur mense geskryf is.

    Mense soos
    Mattheüs en Lukas het volgens ongelowiges opgeskryf wat hulle van Jesus geweet
    het.

    En op grond
    daarvan sal ongelowiges dalk erken dat Jesus ‘n baie besondere Man was, dat Hy
    baie besondere dinge gedoen het, maar dat Hy tog maar net ‘n mens was, wat
    eintlik baie tragies aan die einde van sy lewe gekom het.

    ‘n
    Ongelowige sal ontken dat Hy God is en sal ook nie glo dat Hy uit die dood
    opgestaan het nie.

    Volgens
    ongelowiges, en selfs ook liberale Christene, het Jesus se volgelinge, na sy
    dood, opgeskryf wat hulle van Hom herinner.

    En, omdat
    hulle Hom so bewonder het, het hulle ook hier en daar die storie aangedik,
    eintlik mooier gemaak as wat dit was.

    En, so werk
    dit by beroemde persone, as mens ‘n boek oor ‘n ‘celebrity’ skryf, dan wil die
    lesers natuurlik ook iets oor sy geboorte weet.

    Maar, word
    dan geredeneer, mense soos Mattheüs het Jesus eers persoonlik leer ken toe Hy
    al dertig jaar oud was.

    Hoe kon
    Mattheüs dan iets van sy geboorte afgeweet het?

    Dus,
    redeneer mense, Mattheüs het toe iets baie besonders uitgedink, uit sy duim
    gesuig. By ‘n beroemde man hoort mos ‘n unieke geboorte.

    Dus, word daar
    geredeneer, die ontvangenis van die Heilige Gees en die maagdelike geboorte het
    nie regtig gebeur nie,maar dit is ‘n produk van die fantasie van die
    evangeliste.

    Hulle het
    iets uitgedink wat volgens hulle mooi en gepas was, omdat hulle hul Leermeester
    bewonder het.

    So gaan dus
    die redenering van baie ongelowiges en selfs van liberale Christene.

    Maar,
    geliefdes, in lyn met die Skrif en die Apostoliese Geloofsbelydenis kan ons en
    moet ons hierdie redenering, behalwe dat dit blasfemies is, ook as simplisties
    afwys. Hierdie redenering suggereer eintlik dat die evangeliste, as hulle nie
    dom was nie, in elk geval skelm en oneerlik was.

    Dat hulle
    goed opgeskryf het wat hulle eintlik self kon geweet het, nie waar was nie. Maar,
    gemeente, dom en oneerlik was hulle beslis nie.

    As dit
    naamlik hulle bedoeling was om die herinnering aan Jesus op te skryf, met die
    doel om so veel as moontlik mense daarmee te bereik, met die doel dat so veel
    as moontlik mense navolgers van Christus sou word, waarom, as mens mooi daaroor
    nadink, waarom sou hulle dan so ‘n verhaal oor ‘n maagdelike geboorte uitgedink
    het?

    Sou so ‘n
    ‘sprokie’ werklik die geloofwaardigheid van Jesus se lewensverhaal bevorder? Nee,
    vandag nie, en vroeër ook nie.

    Dit sou dit
    vir ‘weldenkende’ mense net moeiliker gemaak het om Christus se lewensverhaal,
    en al die ander wonders wat Hy gedoen het, te glo.

    Uit menslike
    oogpunt, of dit nou vandag is of vroeër, uit menslike oogpunt is ‘n maagdelike
    geboorte onmoontlik en ongeloofwaardig.

    Verstaan u
    hoekom ongelowiges se redenering daarom simplisties is?

    Net soos
    vandag, het vroeër ook gegeld, dat as ‘n kind uit ontug gebore is, dit iets is
    waaroor jy liewer swyg, dit is iets wat gevoelig lê.

    Dit is iets
    waarvoor nie veel aandag gevra word nie, daar word eerde probeer om die aandag
    af te lei.

    Maar as jy
    met ‘n vroom praatjie aankom, iets soos ‘n maagdelike geboorte, maak jy mense
    net nog meer agterdogtig.

    Dus, as dit
    inderdaad die geval was, dat Maria aan Josef ontrou was, dan sou die
    evangeliste die beste daaraan gedoen het om liewerste daaroor te swyg, om niks
    konkreet daaroor te skryf nie.

    Die domste
    wat hulle eintlik kon gedoen het, onthou ek praat nou uit menslike oogpunt, die
    domste wat hulle kon gedoen het, was om ‘n verhaaltjie uit te dink, soos wat
    daar nou in die Bybel staan, want daarmee maak jy mense net agterdogtig.

    Ek hoop dat
    u nog steeds begryp, gemeente, dat ons nou op ‘n apologetiese wyse redeneer.  Die verklaring wat ongelowiges aandra, asook
    liberale Christene, die argument waarmee hulle die maagdelike geboorte van die
    hand wys, is eintlik, op grond van hulle eie argumente, binne hulle ongelowige
    raamwerk waarin hulle dink, nog veel meer ongeloofwaardig.

    As hulle
    redeneer dat die evangeliste die maagdelike geboorte self uitgedink het, om
    Jesus se lewensverhaal net nog meer geloofwaardig te maak, om mense nog meer
    geïnteresseerd te maak daarin, dan mis hulle die punt.

    As die
    dissipels hierdie self sou uitgedink het, dan het hulle – weereens vanuit
    menslike oogpunt – die evangelie skade berokken.

    Want ‘n
    normale, weldenkende mens, sal nie vir so iets val nie.

    En dus bly
    daar maar een konklusie oor, naamlik: dit wat ons in die Bybel vind oor die
    geboorte van ons Heiland, al klink dit vir ons menselike logika absurd, tog dit
    het regtig so gebeur. Daar bly slegs een verklaring oor.

    Mens sou
    amper kon sê: beseffende dat hierdie feite oor Jesus se geboorte vir die
    ongelowiges ‘n struikelblok sou word, beseffende dat hulle dit lagwekkend sou
    vind, tog, desnieteenstaande, het die evangeliste dit opgeskryf. Hulle het maar
    net gehoorsaam die heilsfeite opgeskryf, al het dit dalk in die ore van hulle
    tydgenote ongeloofwaardig geklink.

    As
    evangeliste is hulle gelei deur die waarheid.

    Ja, die
    Heilige Gees het hulle in die waarheid gelei.

    Wat vir
    mense onwaarskynlik is, is tog die waarheid.

    (Tema: Die
    hoogste wysheid van mense is nog maar dwaasheid by God. Die dwaasheid van God
    is hoër as die hoogste wysheid van mense.

  1. Wat vir mense onwaarskynlik is, is tog die waarheid)

    2         Christus
    se unieke geboorte is die begin van sy Middelaarswerk

    Gemeente,
    ons lees in die Bybel in 1 Korinthiërs 1: 
    “ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode
    en dwaasheid vir die Grieke” (vers 23). Wat hier oor die kruisiging van Jesus
    gesê word, kan ook oor sy geboorte gesê word. Dit is vir die Jode ‘n
    struikelblok en vir die Grieke, hiermee word bedoel vir die heidene, die
    ongelowiges, ‘n dwaasheid.

    Dit is ‘n
    verhaal wat niemand uit homself geneig sal wees om te glo nie.

    Dit is so
    anders, dit is so uniek, dit kan net nie waar wees nie – as jy jou menslike
    logika gebruik.

    En so sien
    mens deur die hele geskiedenis, vanaf Jesus se dae op aarde: Jode, heidene,
    ongelowiges verwerp dit. Dit klink so ongeloofwaardig.

    Maar, so is
    dit nou eenmaal.

    In die Bybel
    vind ons nie verhale wat in mense se gedagtes sou opgekom het nie. Die Bybel
    staan juis vol gebeurtenisse wat vir mense ongeloofwaardig is, dwaas.

    Maar omdat
    ongelowige mense dit dwaas vind, daarom is dit nog nie minder waar nie. Eintlik
    is dit juis daarom wel die waarheid.

    Presies soos
    wat daar in 1 Korinthiërs1:25 staan:

    “Want wat
    dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as
    die mense.”

    Aan hierdie
    vers is die tema van die preek ontleen.

    Die hoogste
    wysheid van mense is nog maar dwaasheid by God. Die dwaasheid van God is hoër
    as die hoogste wysheid van mense.

    Dit begin
    dus al by die kruis, die bekendste geskiedenis uit die Bybel.

    Dat iemand
    wat self God is, aan ‘n kruis moet sterf, dit is vir ‘n mens, vir menslike
    logika, te belaglik om waar te wees. Kom af van die kruis en red Uself! Ander
    het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie.

    Laat Hom
    self van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo (Matth 27:42).

    Soos Paulus
    sê: dit is vir die Jode ‘n skruikelblok, dit is aanstootgewend om so oor God te
    praat. Asof hulle God aan ‘n kruis sou gesterf het.

    En vir die
    heidene is dit niks minder as dwaasheid, ronduit lagwekkend, dat ‘n God aan ‘n
    kruis moet sterf. Maar tog is juis dit die Evangelie!

    Die goeie
    boodskap, die sogenaamde dwaasheid van die prediking, wat die volle wysheid van
    God is.

    En presies
    dieselfde wat vir die kruis geld, geld dus ook vir die maagdelike geboorte. As
    jy binne die beperkings van die menslike horison daaroor sou dink, dan is dit
    inderdaad ongeloofwaardig, selfs lagwekkend.

    Maar as jy
    bevry word uit hierdie beperktheid van jou menselike verstaanshorison, en jy
    hou daarmee rekening dat ons hier met God te make het, dan is dit nie meer
    ongeloofwaardig nie.

    As God hier
    aktief is, dan is dit juis voor die hand liggend!

    Dat Jesus,
    God se eniggebore Seun, God self, ter wille van ons mense na die aarde gekom
    het en self ook mens geword het, en dat die begin van sy menslike lewe anders
    was as by alle ander mense.

    Want juis Hy
    is, in teenstelling tot alle ander mense, nie slegs mens nie, maar ook God! By
    sy ontvangenis was God die Heilige Gees direk betrokke, en dit op ‘n ander wyse
    as by alle ander mense.

    Dit is heel
    voor die hand liggend, want dit gaan hier oor God self!

    Geen man was
    betrokke by sy ontvangenis nie.

    Nie dat
    seksualiteit op sig sondig sou wees nie.

    Josef en
    Maria het later, nadat Jesus gebore is, nog meer kinders van God gekry, maar
    toe langs die vir ons gewone weg.

    Maar Jesus
    se ontvangenis was uit die Heilige Gees.

    Die boodskap
    wat daaruit tot ons kom, is dat die ketting van die erfsonde hiermee deurbreek
    is.

    Jesus was in
    alle opsigte aan die mense gelyk, Hy het ook ‘n geboorte gehad soos ieder en
    elk, Hy het ook aan sy eie liggaam die gevolge van die sondeval ervaar, die
    gebrokenheid en ellende van hierdie menslike bestaan, maar tog was Hy sonder
    sonde.

    Hy self het
    nie deel gehad aan die onafgebroke ketting van menslike sondigheid wat deur die
    geskiedenis loop nie.

    Die wortel
    van die sonde, naamlik die opstand teen God, was nie in sy hart nie. Mens kan
    dus sy ontvangenis deur die Heilige Gees die allereerste begin van sy
    Middelaarswerk op aarde noem.

    Sy
    Middelaarswerk, die doel waarom God die Vader Hom na die aarde gestuur het.

    Om uit die
    krag van sy godheid die las van God se toorn te dra aan sy mensheid, en dit as
    ‘n plaasvervangende offer vir die mense.

     

    Christus se
    ontvangenis en geboorte – die begin van sy Middelaarswerk op aarde. Dit is vir
    die Jode ‘n aanstoot, ‘n struikelblok, dit is vir die heidene ‘n dwaasheid. Deur
    die eeue heen het mense, wat nie bevry is uit hulle beperkte menslike horison
    nie, ander gedagtes hieroor gehad.

    Jesus sou ‘n
    buite-egtelike kind gewees het.

    Of, Jesus
    sou maar net ‘n kind van Josef gewees het.

    Deur die
    eeue kom hierdie verhale terug, hierdie leuens, net soos die leuen wat vlak na
    Jesus se opstanding begin versprei is deur die soldate, wat omgekoop is, dat sy
    dissipels Jesus se liggaam gesteel het.

    Deur die
    eeue kom hierdie leuens terug, by Jode wat die Messias aanhou verwerp, by
    heidene, by ketters, by liberale teoloë, by skrywers van boeke, by filmmakers,
    by elkeen wat nie bo sy eie menslike beperkte horison uitstyg nie.

    Want soos
    daar staan in 1 Korinthiërs 1:25: “Want wat dwaas is by God, is wyser as die
    mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.”

    God sy dank,
    dat sy Heilige Gees die evangeliste in die waarheid gelei het, sodat Mattheüs
    en Lukas noukeurig opgeskryf het wat gebeur het met die geboorte van Jesus
    Christus.

    Dat hulle
    hierdie gegewens, hierdie heilsfeite, nie volgens eie goeddunke, hulle
    eie-wysheid, verswyg het nie, dat hulle die Evangelie nie aangepas het om dit
    meer aanvaarbaar en geloofwaardig vir hierdie wêreld te maak nie, maar dat
    hulle gehoorsaam die feite opgeteken het, hierdie feit wat dalk vanuit menslike
    oogpunt ongeloofwaardig of aanstootgewend was.

    Want, dit
    leer ons uit Sondag 14 v/a 36, dit is nie net nuttelose inligting nie, maar dit
    is vir ons van groot WAARDE, van groot NUT, hierdie heilige ontvangenis en
    geboorte van Christus.

    Daar staan
    in antw. 36: Hy is ons Middelaar, en met sy onskuld en volkome heiligheid bedek
    Hy voor God my sonde, waarin ek ontvang en gebore is.

    Juis Hy, wat
    nie in sonde ontvang en gebore is nie, maar ontvang is van die Heilige Gees,
    juis HY is as Middelaar in staat om al my sondes voor God te versoen.

    Soos ek gesê
    het, hier vind ons al die begin van sy Middelaarstaak, reeds by sy ontvangenis.

    Geliefde
    broers en susters, ons het in hierdie preek gesien dat dit baie menslik is om
    skepties te wees oor die waarheidsgehalte van dit wat die evangeliste opgeskryf
    het oor Christus se geboorte.

    As ons
    vassit binne ons menslike verwysingsraamwerk.

    En dit geld
    nie net vir ongelowiges nie, dit geld ook vir kerkmense.

    Soos Paulus
    gesê het: vir die Jode ‘n struikelblok.

    Met Jode het
    hy kerkmense bedoel.

    En so is dit
    vandag nog steeds. As kerkmense sal ons ook bly aangeval word deur aanvegtings.

    Dat die
    duiwel ons weer terugtrek binne ons beperkte menslike sondige horison, sodat
    ons nie meer uitsig kan hê op God se wonderwerke nie.

    As kerkmense
    het ons dit ook nodig om telkens weer te bid: O God, ek glo, maar kom my
    ongeloof te hulp!

    Tel my uit
    bo my sondige beperktheid, hierdie sondige kleingelowigheid van my. Bevry my
    daaruit!  Gee my sig op die grootsheid
    van u heilswerke!

    U dade, wat
    my verstand en begripsvermoë te bowe gaan.

    Moenie dat
    die duiwel dit regkry om my af te trek, om my lewe weer somber en uitsigloos te
    maak nie. Ja die duiwel bly listig en aktief.

    Hoeveel
    kerkmense, hoeveel teoloë het hy nie al in die strik wat hy gespan het,
    vasgetrek nie?

    Mense wat
    nie meer die Bybelse getuienis oor Christus se ontvangenis en geboorte wil of
    kan aanvaar nie. Met alle gevolge van dien.

    Want wie
    begin om die unieke geboorte van Christus weg te redeneer, eindig uiteindelik
    sonder ‘n Middelaar.

    Hulle hou
    nie meer ‘n Verlosser oor nie, ‘n Verlosser wat met sy onskuld en volkome
    heiligheid my sonde voor God se aangesig kan bedek.

    Hulle sak
    vergoed weg in die moeras van hulle beperkte menselike horison.

    Daarom die
    oproep tot u vandag gemeente, weer die oproep:

    Durf om te
    glo in die wonders wat die Bybel ons openbaar.

    Laat vaar
    jou kleingeloof.

    Hou vas aan
    dit wat in die Skrif geopenbaar word.

    Want so word
    jy uitgetel bo jou menslike beperkthede.

    So ervaar jy
    die vryheid in Christus.

    Hy wat na
    hierdie wêreld gekom het om jou Middelaar te wees!

    Amen.

     

Liturgie: 

(kyk in preek)