Christus deel skatte en gawes uit vanaf sy hemelse troon

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-05-05
Teks: 
Efésiërs 4 : 8-10
Preek Inhoud: 

PRETORIA & PRETORIA-MARANATA, 5 Mei 2016
AD, 19:00 (Hemelvaart)

Votum

Seën

Ps 24:1,2

Gebed

Skriflesing:
Efesiërs 4

Ps 68:6,7,8

Teks:
Efesiërs 4:8-10

Preek

Ps
68:9,15,16

Gebed

Geloofsbelydenis:
NGB art. 37

Sb 27:3-5     

Kollekte

Ps 97:1,7

Amen

Preek: Efesiërs 4:8-10

Sê nou maar
ons bereik ‘n situasie in Suid-Afrika dat die skatkis heeltemal leeg is.

Die
tesourie.

‘n Situasie
dat die president van die land so korrup is, dat hy dit reggekry het om met
kaderaanstellings so ver te kom dat hy vrye toegang het tot die staat se
skatkis.

En dat hy en
sy vennote hulleself goed gehelp het.

Dit is nie
moeilik nie om voor te stel dat dit ‘n impak sal hê op die lewe van al die
burgers van hierdie land.

Want daar
sal geen geld meer wees om noodsaaklike voorsieninge te finansier nie, daar sal
geen geld meer wees om buitelandse skulde en rekeninge te betaal nie.

Maar sê nou
maar daar sal dan ‘n persoon kom, ‘n minister van finansies byvoorbeeld, wat
geweldig bekwaam is, en wat deur ‘n baie deskundige beleid te volg dit regkry
om die land uit sy rommelstatus weer op te trek.

Sê nou maar
daar sal dan weer geld in die skatkis kom.

As dit goed
is, sal die man op die straat, al is dit nie van die een dag op die ander nie,
maar tog met verloop van tyd, as dit goed is sal die man op die straat dan wel
iets daarvan moet begin agterkom.

Die
positiewe resultate, die krediete, die meevallers sal met verloop van tyd
deurgesluis word na die gewone man op straat.

Ook al is
dit dalk makliker gesê as gedaan.

In Efesiërs
lees ons oor die hemelvaart van Christus.Die hemelvaart is die volgende stap in
sy verhoging, na sy opstanding uit die dood.

Die
hemelvaart was ‘n noodsaaklike stap, om vanuit sy nuwe posisie in staat te wees
om dit wat Hy verwerf het, nou aan soveel as moontlik mense te kan uitdeel.

Dit is
vandag hemelvaartsdag.

Vandag
herdenk ons hierdie wesentlike gebeurtenis in die heilsgeskiedenis.

Vanuit die
hoofstuk wat ons gelees het uit Efesiërs, staan ons stil by die aktualiteit
hiervan vir ons.

Tema: Christus deel skatte en gawes uit vanaf
sy hemelse troon

Ons kyk na:

  1. wat sy skatte en gawes is

  2. hoe Hy dit uitdeel

    1         Christus
    se skatte en gawes (buit)

    Mens kan ook
    die woord gebruik, wat ek in my inleiding genoem het:

    Christus
    deel sy krediete uit.

    Of: Christus,
    die hemelse Heerser, deel sy buit uit.

    Hoekom:
    buit?

    Gemeente, ek
    dink aan dit wat ons vanaand gesing het.

    Psalm 68:8
    (berymd): “U het omhoog gevaar vol eer; die kerker was u buit, o HEER, en gawes
    u beloning wat neerdaal op die mensekind”

    Of soos daar
    in die Bybel staan, Psalm 68:19: “U het opgeklim na die hoogte, U het
    gevangenes weggevoer, U het geskenke geneem onder die mense”

    Wat bedoel
    Psalm 68 eintlik hiermee?

    Mens moet
    hierby dink aan ‘n koning uit die oudheid wat terugkeer van die slagveld, waar
    hy die oorlog gewen het.

    Met sy
    terugkoms het hy ook die buit saamgevat wat hy verower het.

    En wanneer
    hy sy eie stad weer binnetrek, het hy sy buit onder die mense verdeel.

    Dit is
    hierdie beeld, van ‘n ou oorwinnende koning, wat Paulus in ons teks op Christus
    toepas.

    Christus het
    as’t ware ‘n oorwinningstog na die hemel gemaak.

    Hy het
    teruggekeer van die strydveld, dit was sy tyd op aarde.

    Hy het
    teruggekeer na die hemel as Oorwinnaar.

    En die buit
    wat Hy verwerf het, dit het Hy met Hom saamgeneem.

    En wat is
    die buit, wat hierdie koning verwerf het?

    Watter buit
    het Christus op aarde verwerf, wat Hy toe saamgevat het hemel toe?

    Die buit is
    vir ons welbekend: dit is die feit dat Christus die dood oorwin het.

    Dat Hy die
    ewige onverganklike lewe deur sy opstanding uit die dood verwerf het.

    As Seun van
    God het Hy neergedaal na die aarde, na die strydveld.

    Of soos
    Paulus skryf in vers 9:

    Hy het
    neergedaal in die onderste dele van die aarde.

    Met hierdie
    uitdrukking word nie net die graf waarin hy gelê het bedoel nie, maar breër,
    die hele aardse geweste.

    Vanuit
    hemelse perspektief gaan dit oor die hele aarde.

    Hier op
    aarde, die strydtoneel tussen die magte van die hemel en die magte van die hel,
    tussen goed en kwaad, op hierdie strydveld het Hy neergedaal.

    En soos ons
    weet, Hy het nie net na hierdie gebroke aarde gekom, hierdie geweste waar die
    sonde sy dodelike heerskappy uitoefen, om te stry nie, maar nog meer: Hy het
    selfs op die slagveld gesterf, en in sy sterwe is Hy selfs deur God die Vader
    verlaat, Hy het die hel meegemaak.

    Maar uit
    hierdie onpeilbare dieptes het Hy opgestaan.

    Hy het die
    oorwinning behaal.

    En die buit
    wat Hy verwerf het, is ongelooflik groot.

    Dit gaan oor
    die ewige onverganklike lewe.

    Hierdie buit
    het Hy saam teruggevat hemel toe.

    Vanaf daar
    gaan Hy dit uitdeel.

    Hierdie buit
    het natuurlik ‘n enorme invloed op onnoemlik veel dinge.

    En dit sal
    die aardbewoners begin agterkom.

    Paulus pas
    Psalm 68 dus toe op die triomf van Christus oor satan, oor die sonde en die
    dood.

    Sy triomf
    oor alle magte wat teen God in opstand gekom het.

    As
    Oorwinnaar het Christus teruggekeer na die hemel.

    In ons teks
    staan: bokant al die hemele.

    Volgens die
    ou Joodse wêreldbeeld was daar drie hemele.

    Die eerste
    hemel, dit was die lug met die wolke.

    Die tweede
    hemel, dit was die son, maan en sterre.

    En die derde
    hemel, dit was die woonplek van God.

    As Paulus
    hier skryf, bokant al die hemele, dan gebruik hy eintlik die oortreffende trap.

    Christus het
    plaas geneem op die hoogste troon, bo al die geskape werklikheid.

    Waar die
    hemel is, waar die troon is waar Christus sit, dit oorstyg ons begripsvermoë.

    Dit help nie
    om met ‘n ruimtetuig ligjare ver die ruimte in te vlieg om die troon te probeer
    opspoor nie.

    In daardie
    sin is dit ‘n ander dimensie.

    Die Bybel
    openbaar dat die hemel bo ons is.

    Vir ons
    hierbo, maar ook vir die mense in ander lande, al is dit aan die ander kant van
    die aarde, is dit ook bo hulle koppe.

    Die hemel is
    ‘n werklikheid wat ons verstand te bowe gaan, en wat ook ons taal te bowe gaan.

    Tog openbaar
    God dit wel in die Skrif in gewone taal.

    Dit is die
    wonder van die Bybel.

    Die Bybel,
    geskryf in gewone mensetaal, maar tog woorde van God, woorde oor sy hemelse
    heerlikheid, sy hemelse werklikheid.

    En soveel as
    wat Hy hieroor openbaar, soveel weet ons oor hierdie werklikheid.

    Christus het
    opgevaar na die hemel.

    As mens was
    sy reikwydte hier op aarde beperk.

    As mens was
    Hy nie alomteenwoordig nie.

    Maar nou Hy
    weer in die hemel is, kan Hy deur sy Gees orals teenwoordig wees. Daarom dat
    Jesus in Johannes 16:7 al vir sy dissipels gesê het: “Maar Ek sê julle die waarheid:
    Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die
    Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur”

    Christus het
    nou sy setel ingeneem as Koning oor hemel en aarde.

    Vanuit die
    hemel is Hy nou besig om sy buit te verdeel.

    Of, in terme
    van die voorbeeld wat ek in die inleiding genoem het:

    is Hy besig
    om krediete te verstrek.

    Of, soos die
    tema sê: Die hemelse Heerser, Jesus
    Christus, deel sy skatte en gawes uit.

    (Tema: Die
    hemelse Heerser, Jesus Christus, deel sy skatte en gawes uit

    Ons kyk na:

  1. wat sy skatte en gawes is)

  2. Hoe Hy dit uitdeel

    Die volgende
    vraag wat ons nou besig hou, is: hoe
    deel Christus eintlik sy buit, die krediete, sy hemelse skatte en gawes uit?

    Om vir ‘n
    oomblik terug te dink aan die voorbeeld uit die inleiding.

    Indien die
    minister van finansies dit sou regkry om die staatsuitgawes reg te ruk,
    internasionale vertroue te herstel, die land suksesvol weer uit sy rommelstatus
    uit te lei, hoe sal hy dan daarvoor sorg dat die man op die straat ook
    profiteer van die ekonomiese vooruitgang?

    Hopelik sal
    die burgers dit agterkom uit die feit dat paaie, infrastruktuur, en sulke dinge
    weer verbeter.

    Hopelik sal
    daar belastingverlagings deurgevoer kan word, of in elk geval nie verhogings
    nie.

    Maar of dit
    alles sal deursypel tot by die man in die straat, is dikwels maar die vraag.

     

    As ons nou
    wil weet hoe Christus sy skatte en gawes uitdeel, dan gee Paulus in Efesiërs 4
    vir ons duidelike aanwysings.

    In hierdie
    hoofstuk val die klem op die liggaam van Christus.

    Dit is die
    kerk.

    Christus
    stort sy hemelse gawes op sy kerk uit.

    Die begin
    daarvan was op Pinksterdag, toe Christus sy Heilige Gees, die Trooster, soos
    belowe, op die apostels uitgestort het.

    Hulle, die
    twaalf apostels, was die begin van die Nuwe Testamentiese kerk.

    Op die
    fondament van profete en apostels word die kerk gebou, op hulle getuienis.

    En nog
    steeds gaan Christus voort om sy buit, sy gawes, met sy kerk te deel.

    Die kerk is
    ‘n vestiging van  God se koninkryk in ‘n
    nog gebroke opstandige wêreld.

    In die kerk
    kry die nuwe, ewige, lewe al gestalte.

    In die kerk
    hoor mense die Evangelie, die goeie nuus van die opstanding uit die dood, en
    van die ewige lewe.

    Vanuit die
    kerk vloei strome van lewewekkende water.

    Die kerklede
    word toegerus, en soos hulle uitgaan die wêreld in, is hulle ligdraers.

    Die kerk het
    ‘n baie bevoorregte posisie.

    Die kerk het
    ook ‘n baie verantwoordelike taak gekry.

    Aan haar is
    die primêre opdrag gegee om die Evangelie uit te dra.

    Die hemelse
    skatte en gawes wat  Christus op sy kerk
    uitstort, die vind deur middel van die kerk hulle weg na die wêreld, na die
    mensheid toe.

    En dit is ‘n
    groot verantwoordelikheid.

    Besef u dit?

    Ons het die
    taak om die skatte uit te deel, om die goeie nuus bekend te maak.

    Ons het die
    taak om agter Christus aan ten stryde te trek teen die magte van die kwaad.

    Die wapens
    van ons veldtog is, soos Paulus in 2 Korinthiërs 10 skryf, nie vleeslik nie,
    nie materieel nie.

    Ons swaard
    is die Evangelie.

    Christus
    stuur ons in hierdie wêreld in om elke bolwerk wat hom verset teen God, te
    oorwin.

    Om elke
    skans, elke redenering, elke gedagtegang, wat mense teen die kennis van God
    opwerp, af te breek.

    Om elke
    bedinksel, elke wêreldbeeld krygsgevange te neem in gehoorsaamheid aan
    Christus.

    En ja, dit
    is nie net ‘n kwessie van dat jy mense oor die Evangelie moet inlig nie.

    As dit die
    enigste was, as die kerk bloot ‘n informatiewe taak gehad het, as die kerk
    bloot maar net Bybels kon uitdeel, dan was ons taak vinnig afgehandel.

    Om mense in
    te lig oor God, en oor Christus se opstanding uit die dood, en oor die
    opstanding uit die dood vir elkeen wat in Hom glo, om mense in te lig oor die
    heilsfeite, om mense te voorsien van ‘n Bybel, dit is nie so moeilik nie.

    Hierdie taak
    sou mens binne die bestek van een jaar dalk kon voltooi.

    Maar, die
    werklikheid is helaas, dat meer aan die hand is.

    Ons lewe in
    ‘n oorlogsgebied, die kerk moet stry teen die magte van die kwaad.

    Mense moet
    nie net ingelig word nie, maar ook moet alle misverstande, alle waanbeelde,
    alle persepsies, alle verduistering van verstand, dit alles moet opgeruim word.

    In die lig
    hiervan het die kerk ‘n haas onbegonne taak.

    Ons weet
    hier in Suid-Afrika maar al te goed hoe moeilik dit is om mense se persepsies
    te verander.

    Maar
    gelukkig is die Heilige Gees aan ons kant.

    As ons maar
    bereid is om onsself heeltemal hieraan toe te wy.

    As lid van
    die kerk, van die liggaam van Christus.

    Christus vra
    toewyding.

    Ons kan nie
    lyf wegsteek nie.

    Hoekom nie?

    Omdat die
    lewe van ander mense op die spel staan.

    Besef ons
    dit as kerk van Christus nog wel?

    Of is ons te
    veel met onsself besig?

    Besef ons
    nog ons primêre taak?

    Of is daar
    so baie interne ‘issues’, dat ons nie meer by hierdie taak uitkom nie?

    Die hemelse
    Heerser, Jesus Christus, deel sy skatte uit.

    In hierdie
    proses het Hy aan sy liggaam, die kerk, ‘n verantwoordelike taak gegee.

    Om hierdie
    taak effektief uit te kan voer, is daar eenheid nodig.

    Hiermee
    bedoel ek nie eenheid tussen alle moontlike denominasies op aarde nie.

    Dit is ‘n
    valse eenheid.

    Maar eenheid
    rondom die waarheid.

    Geloofseenheid.

    Skriftuurlike
    eenheid.

    Paulus wys
    op die belang hiervan in die verse wat volg op ons teks.

    Ons, is
    naamlik lede van die liggaam van Christus.

    Ons moet
    volwasse wees, in terme van kennis, in terme van eenheid.

    Paulus noem
    dit in vers 13: totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die
    kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man.

    Hierdie is
    beeldspraak, dit bedoel:

    Voordat jy
    as ‘n soldaat in Christus se leër kan stry, moet jy volwasse wees, jy moet ‘n
    volwasse sterk man wees, anders kan jy nie oorlog voer nie.

    Soldate in
    die leër is mos, as dit goed is, manne op die hoogtepunt van hulle liggaamlike
    krag.

    Ons behoort
    nie onmondig te wees nie, ons behoort nie die hele tyd heen en weer geslinger
    te word deur elke wind van lering nie (vers 14), of deur die bedrieëry van
    mense nie.

    Mense is
    slu.

    Selfs mense
    wat hulleself Christen noem, deur sluheid bring hulle die gelowiges op ‘n
    listige wyse tot dwaling, buig hulle hulle koers ongemerk af om ander saam te
    neem op hulle dwaalspoor.

    ‘n Soldaat
    van Christus moet sulke dinge kan optel.

    Hy moet nie
    die heeltyd heen en weer geslinger word nie.

    Hy moet nie
    staan en wonder watter rigting hy op moet gaan nie.

    Dit help nie
    jy sit al jou kragte in op die verkeerde front nie.

    Hoe dikwels
    gebeur dit nie in die kerk dat daar oor allerhande sake gestry, gestudeer,
    gedilibereer word, vir jare lank, sake wat altyd duidelik in die kerk was, word
    ineens op los skroewe geplaas.

    En so word
    alle kragte vir jare gemors, kragte wat eerder vir die kerk se primêre taak
    ingespan kon geword het.

    So is die
    duiwel op sluwe wyse besig om die kerk telkens van sy primêre taak af te lei.

    Met die
    gevolg dat die skatte nie uitgedeel word nie.

    Dat die
    skatte wat die kerk ontvang het, onder die stof beland.

    Dan roep
    Christus ons terug, dat ons omkeer, dat ons weer ons bekeer.

    Paulus het
    hierdie brief geskryf, onder andere aan die Efesiërs.

    Toe hy
    hierdie brief geskryf het, was die gemeente in Efese nog nie ‘n halwe eeu oud
    nie.

    Hy spoor die
    mense in Efese aan om nou vinnig volwasse te begin word.

    ‘n Gemeente
    moet deurgroei om volwasse te word.

    Om as
    gemeente ‘n eenheid te vorm.

    Om anders te
    wees as die wêreld rondom hulle.

    Om in hulle
    lewenswandel waardig te wees aan hulle hemelse roeping.

    Sleutelwoorde
    in hierdie opsig is dinge soos:

    Nederigheid.

    Sagmoedigheid.

    Lankmoedigheid.

    Gelduld.

    Selfbeheersing.

    Standvastigheid.

    Hierdie is
    woorde wat in die kerk nooit uit die mode mag raak nie.

    Aan die einde
    van hierdie hoofstuk noem Paulus nog ‘n paar konkrete dinge.

    Christus
    duld geen leuens in sy gemeente nie.

    Halwe
    waarhede is ook ‘n leuen.

    En toorn,
    die omgekeerde van lankmoedigheid.

    Die son mag
    nie ondergaan oor julle toorn nie.

    Moenie die
    duiwel ‘n vastrapplek in die gemeente gee nie.

    Bitterheid,
    woede, toorn, geskreeu, lastering, boosheid, dit moet uit julle middel geban
    word.

    Hierdie is
    woorde gerig aan die Efesiërs.

    Hulle is ook
    vir ons aktueel.

    Laat die
    positiewe in die kerk oorheers.

    Vriendelikheid,
    barmhartigheid, vergewingsgesindheid na mekaar toe, soos God in Christus ook u
    vergewing geskenk het.

    Kan u in
    liefde lewe met al u medegemeentelede?

    Kan u mekaar
    opreg in die oë kyk?

    Lê daar
    êrens ‘n wrok rond in die gemeente.

    Sorg dat dit
    opgeruim word.

    Sodat ons sy
    hemelse skatte en gawes nie verduister nie.

    Wie sy
    hemelse gawes verduister, staan ‘n sware straf te wagte.

    Laat dit
    nooit van ons gesê word nie, dat as gevolg van gebrek aan eenheid, gebrek aan
    daadkrag, gebrek aan bereidheid, gebrek aan standvastigheid, gebrek aan
    onderskeidingsvermoë, die rivier van hemelse gawes in die kerk doodgeloop het,
    en nie vandaar uit as ‘n lewewekkende stroom in die samelewing ingevloei het
    nie.

    Laat ons
    gewillige soldate wees, gewillige arbeiders in Christus se koninkryk.

    Gewillig en
    bereid, volwasse en verantwoordelik met die hemelse gawes wat oor ons
    uitgestort word.

    So mag ons
    medearbeiders wees, mag sy doel ook ons doel wees.

    Sy doel is,
    soos ons teks dit sê, om alles tot volheid te bring.

    Mens kan ook
    vertaal: sodat Hy alles sal vervul.

    Mens kan
    hier terugdink aan al God se beloftes in die Skrif.

    Beloftes dat
    Hy die verbond sal herstel.

    Tot en met
    die oudste belofte, die moederbelofte.

    Christus
    werk, saam met sy Vader, na die voltooing van alle dinge toe, die herskepping
    van alle dinge.

    Dit is sy
    buit, wat Hy met sy kerk deel.

    Ons mag
    medeburgers wees, ons sien uit na ‘n nuwe hemel en aarde.

    Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)