'Wie My woord bewaar, sal die dood in ewigheid nie sien nie. Ja Amen'.

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-04-17
Teks: 
Johannes 8 : 51
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 17 April 2016 AD, 10:15
(nagmaal)

Votum: Ps
121:1

Seën

Ps 68:4

Wet

Ps 66:8

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed
(afgesluit met sing van Onse Vader)

Geloofsbelydenis
(sing) (tafel in gereedheid)

1e Tafel:
Johannes 8:12-59; Ps 103:1

2e Tafel:
Johannes 8:51 (teks) & Preek; Ps 103:2

3e Tafel:
Lofverheffing; Ps 103:4

Danksegging
& Dankgebed & Voorbede

Kollekte

Ps 81:4,5,6,8,9,12

Seën

Preek: Johannes 8:51

“Voorwaar,
voorwaar Ek sê vir julle, as iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der
ewigheid nie sien nie.”

Christus se
woord is die bron van wysheid.

‘n Wysheid
wat baie filosowe en geleerdes op aarde mis.

Oor hierdie
wysheid skryf Paulus: “Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in
verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons
heerlikheid, wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie
- want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie
gekruisig het nie - maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor
nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, wat God berei het
vir die wat Hom liefhet.” (1 Korinthiërs 2:7-9)

Deur die
Heilige Gees mag ons die bedoeling van Christus se Woord begryp, en ook toepas
in ons eie lewe.

Als is ons
nie filosowe of geleerdes of wêreldheersers nie.

Om te
luister na Christus se Woord bring wysheid.

Soos daar in
Psalm 119 staan: “U gebooie maak my wyser as my vyande ... Ek is verstandiger
as al my leermeesters, want u getuieniss is my bepeinsing.” (Ps 119:98-99)

Ons het
nounet Christus se woorde uit Johannes 8 gelees.

Jesus is
hier in ‘n debat gewikkel met die Joodse godsdienstige leiers, die Fariseërs en
Skrifgeleerdes.

Mens proe in
hierdie hoofstuk steeds dat die mense onwillig is om Jesus se woorde ernstig op
te vat.

Jesus het
eers oor vryheid gepraat.

Hy het sy
hoorders op die moontlikheid gewys om in Hom die ware vryheid te vind.

Maar dit het
voorgekom asof die Jode Hom nie begryp het nie.

Hulle was
trots daarop dat hulle die nageslag van Abraham was, ‘n volk wat gesteld was op
sy vryheid, en wat bereid was om met bloed daarvoor te veg.

Tog het
Jesus oor ‘n heel ander slawerny gepraat, waarin hulle vasgeketting was.

Christus het
hulle daarop gewys dat hulle nie Abraham as vader gehad het nie, maar in feite
die duiwel.

Hulle was
slawe van die duiwel.

Hulle is
naamlik daarop uit om Hom om die lewe te bring.

Dit sou
Abraham nooit gedoen het nie.

Maar die
duiwel wel, wat ‘n mensemoordenaar van die begin af was.

Verder het
hulle ‘n probleem gehad met die legitimasie van Jesus.

Was Hy ‘n
profeet, of nie?

Het Hy God
se Woord gespreek, of nie?

En dan kom
Jesus met die pragtige woorde in ons teks:

“Voorwaar,
voorwaar Ek sê vir julle, as iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der
ewigheid nie sien nie.”

Gemeente,
hierdie is nie sommer net ‘n onbesonne opmerking nie.

Dis nie net
‘n wilde stelling in die hitte van die debat nie.

Inteendeel,
Christus sê dit heel plegtig.

Voorwaar,
voorwaar.

In die
Grieks staan daar twee keer: Amen, amen.

En ons weet
mos wat amen beteken: dit is waar en seker, ongetwyfeld.

Die Jode wat
daar staan en luister het, het dit nie verstaan nie.

Hulle het
nie hulle harte oopgestel vir die wysheid van bo nie.

Hulle het
die werking van die Gees geblokkeer.

Hulle het
dit belaglik gevind, dat hierdie man soiets kon sê.

Nou weet ons
dat U van die duiwel besete is – het hulle gereageer.

Abraham het
gesterf, en ook die profete.

Hoekom sal
dit dan nie ook met U gebeur nie?

Wie dink u
dat U is?

Tog het
Jesus Homself nie laat intimideer nie.

Hy het
volgehou, miskien nie in die eerste plek vir die Joodse leiers nie, want hulle
hart was verhard,

hulle het
botweg geweier om maar iets van hierdie man aan te neem.

Tog het
Jesus volgehou, ter wille van al die ander mense wat daaromheen gestaan het,
daar by die tempel.

En ter wille
van sy dissipels wat ook staan en luister het.

En ter wille
van Johannes, die evangelis, sodat hy dit alles later kon opskryf.

Jesus het
volgehou:

“Abraham,
julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien”

“en hy het
dit gesien en hom verbly”. (vers 56)

Weer het die
Skrifgeleerdes die spot gedryf met hierdie woorde.

U is nog nie
eers vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien?

Tog het
Jesus volgehou met praat.

“voorwaar,
voorwaar, Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.” (vers 58)

En toe kon
hulle hulself nie langer inhou nie.

Hulle het
klippe opgetel om Hom te stenig.

Gemeente,
wie is bereid om te luister na die bedoeling van Jesus se woorde?

U weet dit
seker ook wel uit ervaring.

As jy
kwaadwillig is, en jy iemand nie wil begryp nie, dan klink sy woorde al gou
soos wartaal in jou ore.

Maar ons is
hier om juis gesterk en getroos te woord deur die woorde van Jesus Christus.

Danksy die
Heilige Gees se werking, mag ons die bedoeling van sy woorde verstaan.

Natuurlik
het Jesus goed geweet, dat Abraham al gesterf het, en dat die profete al
gesterf het, dat elke mens, solank as wat die jongste dag nie aanbreek nie, dat
elke mens ‘n sterfdag sal hê.

Maar tog,
tog sê Hy, Abraham het die dag van Jesus gesien.

En Hy sê dit
ook met veel klem – voorwaar, voorwaar!

Laat ons let
op die bedoeling van Christus hiermee.

Abraham het
naamlik die belofte van God ontvang: dat die sonde en dei dood nie vir ewig die
laate woord op aarde sal hê nie.

En Abraham
het geleer dat God betroubaar is.

As God iets
belowe, dat dit ook sal gebeur.

En so het
Abraham dus al die dag van Christus uit die verte gesien.

En dit was
dus die bedoeling van die woorde van Jesus.

Wie op Hom
vertrou, wie sy woorde bewaar, wie die bedoeling van sy woorde ernstig opneem,
wie glo dat dit wat Hy sê ook sal gebeur, hy sal die dood in ewigheid nie sien
nie.

Dan kan ons
ook aan ander woorde van ons Heiland dink, ook deur die evangelis Johannes
opgeskryf:

 “In die huis van my Vader is daar baie
wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir
julle plek te berei.” (Joh 14:2)

Ons kan ook dink
aan die opwekking van Lasarus, enkele hoofstukke verder, Johannes 11.

Lasarus is
teruggeroep na hierdie lewe.

Jesus het dit gedoen
om op sy mag te wys.

Dat Hy naamlik by
magte is om dit wat Hy sê, ook te doen.

Die geloof van
Marta, wat vol vertroue vir Jesus gesê het: “Ek weet dat hy sal opstaan in die
opstanding in die laaste dag.” (Joh 11:24) – hierdie geloof het Jesus nie
beskaam nie.

As teken dat Hy by
magte is om dit te doen, het Hy Lasarus teruggeroep na hierdie lewe.

Waar dit oor
gegaan het, waarvoor Lasarus se opstanding as teken, as bewys moes dien, was
Jesus se belofte: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al
het hy ook gesterwe” (Joh 11:25)

En so sal Christus
u geloof ook nie beskaam nie.

Sy woorde is
gewis.

Ook jy sal die
dood in der ewigheid nie sien nie.

Lê jou lewe in sy
hande.

Doen dit nou al,
al is dit nog lank voor jou sterfdag.

Neem my lewe, laat
dit Heer, U gewy wees meer en meer.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)