God is die Skepper van hemel en aarde

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-04-03
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) Sondag 9
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
3 April 2016 AD, 17:30

Votum

Seën

Ps 19:1

Gebed

Skriflesing: Genesis 1 – 2:7

Ps 19:2,3

Teks: HK Sondag 9

Preek

Amenlied: Ps 8:1,3,4

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 139:3-7

Seën

Preek:
Heidelbergse Kategismus Sondag 9

Het Adam en Eva ‘n naeltjie gehad?

Elke baba wat gebore word, se naelstring word afgeknip.

Maar Adam en Eva is mos nie gebore nie?

Het hulle ‘n naeltjie gehad op die plek waar alle ander
mense se naelstring afgeknip is?

Of nog ‘n vraag: het Adam en Eva hare op hulle kop gehad,
toe hulle geskape is?

Of moes die hare eers nog begin groei?

Deur die eeue het mense al oor hierdie vrae kopgekrap.

In die Middeleeue was dit vir kunstenaars ‘n ernstige
kwessie, as hulle ‘n skildery van Adam en Eva in die paradys moes verf.

Skilder jy Adam met ‘n naeltjie, kon jy die risiko loop
om uit die kerk geban te word.

Want Adam was nie gebore nie, maar geskape…

Vandag wonder mense dalk nie meer so baie oor Adam se
naeltjie nie.

Wel hou mense hulle vandag besig met vrae wat in feite
oor presies dieselfde gaan, vrae soos:

Hoe oud is die sterre?

Hoe oud is die verskillende gesteentes en rotsformasies op
aarde?

Het Adam en Eva al sterre gesien in die nag, of moes die
lig van die sterre eers nog die aarde bereik?

Hoe oud is die aarde eintlik?

Alles vrae wat te make het met die ontstaan van die
aarde, die ontstaan van die heelal.

Vrae wat direk te make het met die onderwerp van die
eerste artikel van die Apostoliese Geloofsbelydenis:

Ek
glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde.

Deur al die eeue, so is dit ook vandag, was hierdie
geloofsartikel nie vanselfsprekend nie.

En laat ons eerlik wees, waarskynlik almal van ons
ondervind van tyd tot tyd aanvegtings – oftewel twyfel.

Hoe het hierdie aarde ontstaan?

Het God regtig die aarde geskape soos dit in die Bybel
staan?

Ek het ‘n keer ‘n artikel gelees oor ‘n predikantsgesin,
so ‘n halwe eeu gelede.

Die pa was predikant, hy was getroud met ‘n paar kinders,
wat dus in die pastorie opgegroei het.

Hoewel die pa elke Sondag gepreek het en sy vrou en kinders
netjies in die kerk gesit het,

het die gesin tuis in die pastorie nooit meer uit die
Bybel gelees nie.

Hulle het selfs nie eers meer gebid nie.

Die rede was dat pa sy geloof verloor het.

Dit was geheim, die gemeente mog dit nie weet nie – want
dit sou hom sy werk kos.

Maar hy het regtig nie meer geglo nie.

Dit het gekom deurdat hy, met die lees van boeke oor
ewolusionisme, sy geloof in die skepping verloor het.

Op die leerstellings van Charles Darwin kon hy geen
weerwoord gee nie.

En hierdie gesin was nie die enigste nie, so was en is
daar tallose mense in die Westerse wêreld wat die afgelope eeu hulle geloof
sien wankel het, as gevolg van die ewolusionisme.

Ook vandag nog, in die 21e eeu, blyk dit dat die
ewolusionisme ‘n aantreklike opsie is vir die wat nie in ‘n God wat almagtig
is, en Skepper van hemel en aarde is, wil glo nie.

Dit spreek dus vanself dat – as ons Sondag 9 behandel wat
oor die skepping gaan – dat ons die leer van die ewolusionisme eerlik onder oë
sal moet sien.

Sondag 9 handel oor meer sake as net die skepping van die
wêreld.

Die kerk bely in hierdie Sondag ook dat God die
almagtige, danksy Jesus Christus, my Vader is.

Ons bely hier ook dat God die skepping elke dag in stand
hou deur sy voorsienigheid.

Die voorsienigheid van God sal weer aan die orde kom in
Sondag 10.

En die feit dat God ons Vader is deur Jesus Christus, sal
weer aan die orde kom in Sondag 13.

In hierdie preek fokus ons dus spesifiek op God as die
Skepper.

Tema:
God is die Skepper van hemel en aarde

1         Die ewolusionisme is slegs ‘n teorie

2         Hoe ons die skeppingsgeskiedenis van
Genesis 1 en 2 moet lees

1         Die ewolusionisme is slegs ‘n teorie

Wie dit glo, moet homself ook kan verantwoord.

Dit hou in, ons sal ook ‘n antwoord moet kan gee op die
ewolusionisme.

Hierdie leer, wat groot bekendheid gekry het deur die
Engelsman Charles Darwin, wat in die 19e eeu geleef het, hierdie leer is
eintlik al veel ouer.

Deur alle eeue het mense teorieë ontwikkel oor die ontstaan
van die mens.

Byvoorbeeld dat die mens oorspronklik van diere afkomstig
sou wees.

Mens vind hierdie gedagte reeds by die ou Grieke.

Deur die Darwinisme het hierdie leer egter groot aanhang
gekry.

Darwinisme is meer as net ewolusie.

Ewolusie op sig is ‘n bekende verskynsel dat diere aanpas
by hulle omgewing.

Olifante in die Okavango Delta het byvoorbeeld breër pote
as olifante in die Kruger Wiltuin.

Dit is ‘n voorbeeld van ‘n natuurlike proses dat diere by
hulle omgewing aanpas.

Mens noem dit ewolusie.

Darwinisme, of ewolusionisme gaan egter verder.

Daar word beweer dat ewolusie ook moontlik is van een
diersoort na ‘n ander.

Dat byvoorbeeld ‘n voël kan ontwikkel uit ‘n vis, of ‘n
kameelperd uit ‘n bok.

In die werklikheid is daar egter geen voorbeelde wat hierdie
leer kan staaf nie, ook nie met alle genetiese kennis van deesdae nie.

Tussen sommige diersoorte kan daar ‘n kruising plaasvind,
soos ‘n perd en ‘n donkie wat ‘n muil tot gevolg het.

Hierdie kruisvorme is egter onvrugbaar.

As daar dan beweer word dat een diersoort uit ‘n ander
kan ontwikkel, is dit slegs ‘n teoretiese gedagte wat in die praktyk nooit
gebeur nie.

By mense gebeur daar soms snaaks dinge, wat mens dalk aan
ewolusionisme kan laat dink.

Soos dat iemand byvoorbeeld nie met 10 tone en vingers
nie, maar met 12 van elk gebore word.

In die Bybel lees ons ook van so ‘n persoon, en dit
gebeur vandag van tyd tot tyd nog steeds.

So iets is egter nie ‘n verbetering nie, maar juis ‘n
afwyking.

Elke ouer begeer dat hulle baba normaal is en lyk soos mense
altyd al gelyk het.

Afwykings is geen verbeterings nie, en soos hierbo
genoem, afwykings is ook nooit vrugbaar nie.

Iemand met 12 vingers en tone kry deurgaans weer kinders
met gewoon tien.

Ewolusionisme is dus ‘n teorie, ‘n hipotese.

Dit is opgestel deur mense wat graag wil hê dat dit waar
is, sonder dat hulle bewyse gehad het.

Daar word dikwels gemaak asof ewolusionisme op
natuurwetenskaplike feite berus, maar dit is nie so nie.

Mens hoef maar net na die persoon te kyk wat die verhaal
uitgedink het, Charles Darwin.

Sy boek, On the
Origin of Species
, uit 1859, berus nie op ondersoek nie, dit is ‘n teorie
van hom.

Darwin was ‘n persoon wat self Teologie gestudeer het.

Hy was ‘n Teoloog wat nie in die historiese
betroubaarheid van die Bybel wou glo nie.

Hy het homself ‘n agnostikus genoem.

Die skepping, soos dit in Genesis 1 & 2 beskryf word,
het hy dus eers oorboord gegooi, en toe het hy op soek gegaan na ‘n
alternatief.

Soos genoem, hy was nie die eerste nie.

Sy idees oor ewolusionisme het hy uit boeke uit die
verlede opgedoen.

Veral teoloë in die sogenaamde Deïstiese rigting.

Hierdie rigting het beweer dat God moontlik by die wieg
van die aarde gestaan het, Hy het moontlik alles geskep, maar daarna het Hy
Homself teruggetrek en alles het vanself verder ontwikkel volgens die
natuurwette.

‘n Voorbeeld wat dikwels gebruik word om die Deïsme te
verduidelik is die van ‘n klok of ‘n wekker.

 Soos mens ‘n
wekker stel voordat jy gaan slaap, en daarna gaan die wekker sy eie gang en
hoef jy nie daaroor bekommerd te wees nie.

So het God die aarde laat ontstaan, maar verder loop dit
op homself, en bemoei Hy Hom nie meer nie.

Darwin het hierdie idees oorgeneem, en onder andere toe
met die stelling gekom dat mense uit ape ontwikkel het – sonder dat God daarby
betrokke was.

Toe hy met hierdie verhaal vorendag gekom het, het dit
ingeslaan soos ‘n bom.

Dit was aantreklik vir mense wat nie meer die Bybel geglo
het nie, wat getwyfel het aan God se bestaan.

Dit was halfpad die 19de eeu.

Dit was ‘n tyd van groot afval in die kerke in Europa.

Dink byvoorbeeld aan die groot Hervormde Kerk in
Nederland.

Baie dominees het nie meer die Bybel geglo nie.

Die geloof in God Drieënig was volgens hulle ‘n
versinsel.

Daarom het hulle begin om hulle kinders nie meer te doop
in die naam van die Drieënige God, soos Jesus dit in die Bybel beveel het nie.

Hulle het begin om hulle kinders te doop in die naam van
geloof, hoop en liefde.

Hulle opvatting was dat God Hom nie met die alledaagse
lewe meer bemoei nie.

Die geskiedenis tik voort soos ‘n wekker.

En dit is die mens en sy intellektuele vermoëns wat van
die aarde ‘n beter plek moes maak.

Hulle het ‘n glorieryke toekoms vir die menslike ras
verwag.

Maar dit was dus, gemeente, hoekom die Afskeiding in die
19de eeu plaasgevind het.

Ds. Hendrik de Cock uit Ulrum in Friesland het ‘n baba
gedoop van ‘n egpaar uit ‘n ander gemeente.

Die egpaar wou nie hulle kind laat doop in die naam van
geloof, hoop en liefde nie, maar in die naam van die Drieënige God.

Hoekom vertel ek dit, gemeente?

Om die tydsgees ‘n bietjie te skets wat geleef het tot
Darwin sy ewolusionisme uitgedink het.

Dit was ‘n tyd waarin baie mense nie meer in die God van
die Bybel wou glo nie.

Hulle was op soek na ‘n alternatief om in te glo.

Darwin het wat dit betref in ‘n behoefte voorsien.

Mense wou nie meer van ‘n skepping hoor nie.

Die vrysinnige mens wou onafhanklik van God wees.

En solank die vrysinnige mens nog geweet het dat God hom
geskape het, het hy ‘n probleem gehad, omdat hy dan ook aan sy Skepper moes
rekenskap aflê.

Maar toe Darwin met sy verhaal kom, was dit die
alternatief waarop hulle gewag het.

Sy teorie was ‘n goeie rede om God as Skepper vaarwel te
sê.

Voortaan het hulle die leer van die ewolusionisme begin
aanhang, hoewel daar geen bewys voor was nie.

Miskien vra u uself af: ja maar wat dan van al die
argeologiese opgrawings?

Dui dit nie daarop dat die aarde miljoene jare oud moet
wees nie?

Is daar nie fossiele opgegrawe van sogenaamde
tussenspesies nie?

Gemeente, belangrik is om te besef dat die mense eers vir
bewyse begin soek het, nadat Darwin
sy teorie uitgedink het.

En, argeologiese fondse is altyd vir meerderlei uitleg
vatbaar.

Dit hang maar daarvan af uit watter oogpunt jy dit
beskou.

Kyk jy deur die bril van die ewolusionisme, of kyk jy
deur ‘n ander bril?

Argeologiese fondse praat nie self nie, hulle moet altyd
geïnterpreteer word.

Hiermee ontken ek nie dat daar nie in die verlede
bepaalde diersoorte bestaan het wat nou uitgesterf het nie.

Vir ons onbekende diersoorte waarvan die skelette
opgegrawe word.

Maar dat dit sogenaamde tussenspesies is, kan nie bewys
word nie.

Al met al, ten aansien van ewolusionisme moet ons die
volgende gevolgtrekking maak:

Die ewolusionisme is slegs ‘n teorie.

Die ewolusionisme ‘n hedendaagse volksgeloof.

Dit berus nie op historiese of natuurkundige bewyse nie.

Die bedenker daarvan, Charles Darwin, was self ‘n agnostikus.

Hy was op soek na ‘n alternatief vir die
skeppingsverhaal.

(Tema: God is die Skepper van hemel en aarde

  1. Die ewolusionisme is slegs ‘n
    teorie)

    2         Hoe ons die skeppingsgeskiedenis van
    Genesis 1 en 2 moet lees

     

    In Sondag 9 bely ons dat God Skepper is van hemel en
    aarde.

    Maar gemeente, as ek glo dat God Skepper is, is alle vrae
    dan opgelos?

    Hierop kan ons eerlik ‘nee’ antwoord.

    In Genesis 1 vind ons slegs ‘n baie beknopte beskrywing
    van die ontstaan van die wêreld.

    Hierdie hoofstuk is met ‘n spesifieke doel geskryf.

    Die boek Genesis se naam beteken: begin.

    Moses beskryf in hierdie boek nie net die begin van die
    wêreld nie, maar ook die begin van God se volk.

    Die geskiedenis van die ontstaan van die aarde beskryf
    Moses slegs baie kort in die kader van die ontstaan van God se volk, in die
    kader van die wette wat God aan sy volk gegee het.

    Toe die HERE Moses hierdie dinge laat opskryf het, het Hy
    sy verbondsvolk op die oog gehad.

    Sy volk wat Hy uit Egipte uitgelei het, en wat oppad was
    na die beloofde land.

    Hierdie hoofstuk is dus nie geskryf om vir ons allerlei
    natuurwetenskaplike inligting te gee nie.

    Op baie natuurkundige vrae sal ons in Genesis 1 geen
    antwoord kry nie.

    Dit wil egter nie sê, omdat ons nie op al ons vrae
    antwoord kry, dat dit wat daar wel staan, nie histories is nie.

    Wat ons in Genesis 1 en 2 lees, is histories.

    Hierdie hoofstukke vorm die begin van die Ou Testament.

    Die Bybel van God se verbondsvolk.

    Wat daarin staan, is betroubaar, hoewel nie alles daarin
    staan nie.

    So werk dit altyd met geskiedskrywing.

    Daar word nooit alles
    beskryf nie.

    Daar moet altyd ‘n keuse gemaak word uit die materiaal.

    Geskiedskrywers maak altyd ‘n seleksie.

    Hulle skryf daardie dinge op wat hulle belangrik ag vir
    hulle boek.

    Dit is nie verkeerd nie, dis soos dit werk.

    Daarom is dit belangrik om Genesis 1 & 2 nie met ‘n
    natuurkundige bril te lees nie.

    Dan sou mens dinge daarin lees wat glad nie daar bedoel
    word nie.

    Mense wat byvoorbeeld beweer dat dit in Genesis 1 nie oor
    sewe gewone dae gaan nie, maar ‘dae’ wat eintlik miljoene jare lank was.

    Wie so redeneer, doen nie reg aan die hoofstuk nie.

    Toe Moses dit opgeskryf het, was dit nie sy bedoeling dat
    sy hoorders, die volk Israel, so daarna moes luister nie.

    ‘n Dag in Genesis 1 is gewoon net so lank soos ‘n dag in
    Genesis 50.

    Ek vra weer die vraag:

    Hoe weet ons dat dit wat in Genesis 1 en 2 staan,
    betroubaar is?

    Ons kan dit nie self kontroleer nie.

    Ons was nie self daarby gewees nie.

    Ons kan dit slegs glo op gesag van die persoon wat dit
    opgeskryf het.

    Of, om dit anders te sê, ons glo dit omdat dit in die
    Bybel staan.

    En die Bybel is die Woord van God.

    In die Bybel spreek God self tot ons.

    En wat Hy sê, is betroubaar.

    Hy het mense gebruik om sy woorde aan ons op te skryf.

    So het Hy Moses gebruik om die eerste boeke van die Bybel
    op skrif te stel, of soos dit toe gegaan het, op kleitablet of perkament.

    Ons glo dus in die skeppingsgeskiedenis van Genesis 1 en
    2 op goeie gesag.

    As iemand glo in die ewolusionisme, in die teorie van die
    oerknal, dan glo hy dit op ander gesag.

    Op gesag van mense soos Charles Darwin.

    Daar is al bewys dat die teorië van hierdie man
    onhoudbaar is.

    Die ewolusionisme is nie ‘n alternatief om waarde aan te
    heg nie.

    Dit funksioneer slegs as alternatief vir bepaalde mense,
    vroeër en helaas deesdae nog steeds, mense wat ‘n probleem het met God, met die
    kerk, met die Bybel, en teen beter wete aanklank vind by die ewolusionisme.

    Maar nou die volgende vraag:

    As ek glo in die skepping van die aarde deur God, mag ek
    dan nog as natuurwetenskaplike ondersoek doen na die ontstaan van die aarde?

    Hierdie vraag kan ons sonder meer met ja beantwoord.

    Natuurlik, God wil graag hê dat ons studie maak van, ons
    verdiep in, en ons verwonder oor sy groot skepping.

    Maar, as mens moet jy wel eerlik met jouself wees.

    Jouself afvra: hoekom wil ek eintlik ondersoek doen na
    die ontstaan van die aarde?

    Doen ek hierdie ondersoek omdat ek die boodskap van
    Genesis 1 en 2 verwerp?

    Omdat ek eintlik ‘n alternatief soek?

    ‘n Alternatief waarin – soos dit die geval was by Darwin
    – waarin God nie aanwesig mag wees nie?

    Of, wat ook ‘n dryfveer kan wees, doen ek ondersoek na
    die ontstaan van die aarde, omdat ek nie oortuig is van dit wat in Genesis 1 en
    2 staan nie?

    Omdat ek dit wel graag sou wou glo, maar omdat ek tog
    diep in my hart twyfel?

    Probeer ek so met my natuurwetenskaplike ondersoek dalk
    ‘n bewys te vind dat die Bybel tog reg is?

    Gemeente, in beide hierdie gevalle werk jy dan met
    verkeerde motiewe.

    En in beide gevalle oorskat jy jou eie moontlikhede.

    Die ontstaan van die aarde het ons nie persoonlik
    meegemaak nie.

    Ons was nie ooggetuies nie.

    Om daaroor iets te beweer op grond van jou eie ondersoek,
    dit is te hoog gegrepe.

    Kan jy byvoorbeeld iets vertel oor jou eie geboortedag,
    iets wat jy kan onthou?

    Nee, jy kan nie, tensy jy vir ander mense vra, ander wat
    aanwesig was by jou geboortedag, soos jou pa of jou ma.

    Hoeveel minder sou ons met sekerheid kon sê oor die
    ontstaan van die aarde, so lank gelede?

    Laat ons eerlik wees.

    Wat verhinder ‘n mens, wat verhinder die moderne mens om
    nie in die skepping te glo nie?

    Uiteindelik kom dit hierop neer.

    Die mens voel homself te groot.

    Hy wil nie aanvaar dit wat die hemelse Vader aan hom
    vertel oor die ontstaan van die aarde nie.

    Hy is nie tevrede met sy Vader nie.

    Hy wil geen Vader hê nie.

    En daarom wil Hy ook nie hoor dat hy deur sy Vader geskape
    is nie.

    Want as dit so sou wees, dan kan hy nooit meer loskom van
    sy hemelse Vader nie.

    Daarom is die belangrikste vraag: hoe is jou verhouding
    met jou hemelse Vader?

    Die almagtige God, wat ook jou Skepper is?

    Erken jy Hom, of probeer jy van Hom af wegkom?

    Jy is deur Hom
    geskape.

    Alle mense, Christene en nie-Christene, is die werk van
    sy hande.

    Moenie probeer om van Hom af weg te vlug nie.

    Soos die digter van Psalm 139 sê:

    “Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u
    aangesig? ... Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van
    die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.” (vers 7,9)

    Erken sy seggenskap in jou lewe.

    Dit sal jou slegs goed doen.

    Hy is ‘n goeie Vader.

    Hy het jou die lewe gegee.

    Hy sal die lewe ook weer neem op sy tyd.

    Hy wil jou lewe in die regte bane lei.

    Hy wil vir jou geluk gee, ewige geluk.

    Hy gee sekerheid, houvas.

    Die Heidelbergse Kategismus getuig hiervan, ‘n mens wat
    homself veilig voel by sy hemelse Vader.

    Op Hom vertrou ek so “dat ek nie twyfel nie of Hy sal my
    met alles wat nodig is vir liggaam en siel versorg en ook al die kwaad wat Hy
    oor my in hierdie jammerdal beskik, my ten beste bestuur, omdat Hy dit kan doen
    as ‘n almagtige God en ook wil doen as ‘n getroue Vader.” (v/a 26)

    In Genesis 1 en 2 vertel ons hemelse Vader aan ons, sy
    kinders, in kindertaal hoe Hy die hemel en die aarde geskape het.

    Alle presiese details noem Hy nie.

    Hoekom sou Hy dit moes doen?

    Ons kan dit tog nie bevat of kontroleer nie.

    As jou vyfjarige kind vir jou sou vra waar hy vandaan
    kom, hoe sal jy dan antwoord?

    Gee jy dan ‘n wetenskaplike beskrywing van die seksuele
    gemeenskap en die bevrugting van die eiersel deur ‘n saadsel?

    As jy dit sou doen, sou die kind weinig daarvan begryp.

    Nee, jy probeer om die saak op die kind se vlak te
    verduidelik.

    En dan bedoel ek nie dat jy ‘n leuen vertel, byvoorbeeld
    dat kinders deur die ooievaar gebring is nie.

    Nee, jy verduidelik dat ‘n baba uit sy ma se maag gebore
    word.

    En dat die baba in die ma se maag begin groei het, toe sy
    met pappa getrou het.

    Want elke kind moet ‘n ma en ‘n pa hê.

    En dat, as daar ‘n pappa en ‘n mamma is, dat God dan
    daarvoor sorg dat daar ‘n kindjie kom in die mamma se maag.

    In kindertaal dus, verduidelik jy iets wat te groot is
    vir ‘n vyfjarige kind om te bevat.

    En so, gemeente, maak God ook met ons.

    Hy daal af na ons vlak.

    Dit beteken nie dat Hy ‘n leuen vertel nie.

    Hy vertel die waarheid op so ‘n manier dat ons dit kan
    verstaan.

    En die belangrikste wat Hy dan vermeld is: dat Hy die hemel en die aarde uit niks geskape het.

    Dat Hy elke dag
    nog deur sy voorsienigheid die hemel en aarde in stand hou.

    En dat Hy ook jou sorgsame Vader is.

    Het Adam en Eva ‘n naeltjie gehad?

    Moes Adam en Eva se hare nog begin groei, of het God
    hulle so geskape dat hulle vanaf dag 1 van hulle lewe al volwasse gelyk het?

    Kon Adam en Eva al sterre in die lug sien, of moes dit
    nog ligjare duur voordat die eerste sterre op aarde sigbaar geword het?

    So kan ‘n mens baie vrae vra, wat ons met ons verstand
    nie kan deurgrond nie.

    Ons weet wel uit Genesis dat God alles goed geskape het.

    Nie net elke ding op homself nie, maar ook in harmonieuse
    samehang met mekaar.

    Soos ons vandag sou sê: ‘n perfekte ekosisteem.

    En soos ons weet – in ‘n goed funksionerende ekosisteem
    moet daar ou en nuwe dinge wees.

    Bepaalde insekte sal nie oorleef as daar nie vanaf die
    begin dooie boomstamme gelê het, wat besig was om te verrot nie.

    Adam en Eva self sou nie oorleef het, as hulle nog ‘n
    seisoen moes wag totdat die vrugte ryp kon word nie.

    En so kan ek nog heelwat voorbeelde noem.

    Die wonder van die skepping is so groot, mens kan dit nie
    verklaar in ons denkkader nie.

    Soos ‘n Amerikaanse teoloog tereg gesê het: God het die
    aarde geskape ‘with the appearance of age’.

    God het ‘n volwasse goed funksionerende aarde geskape –
    in alle opsigte.

    Vrugte in oorvloed, ‘n magdom aan sterre sigbaar in die
    nag, geologiese rotsformasies, canyons met hulle riviere, en wie weet – dalk
    ook ‘n naeltjie vir Adam en Eva.

    Laat ons veral nie te min van God dink nie.

    En laat ons veral nie te gou geïntimideer voel deur die
    ewolusionisme nie, wat ‘n alternatief opdis wat volledig irrasioneel is, en –
    eerlik beskou – ‘n magdom onwaarskynlike statistiese wonders in jou keelgat wil
    afdruk.

    Ons gaan nounou weer die Apostoliese Geloofsbelydenis
    sing, en dan kan ons nog steeds – ook in die 21e eeu – met eweveel
    vrymoedigheid en oortuiging as die kerk van alle eeue sing:

    Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van
    hemel en aarde.

    Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)