Ons glo in God Drieënig

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-03-27
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) Sondag 8
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 27 Maart
2016 AD, 17:30

Votum

Seën

Ps 93:1-3

Gebed

Skriflesing 1: Johannes 15:18-27

Sb 27:1,2

Skriflesing 2: 1 Korintiers 2:6-16

Sb 27:3,4

Skriflesing 3: 2 Korintiers 13:12-13

Sb 27:5

Teks: HK Sondag 8

Preek

Ps 97:1,5,6,7

Gebed

Geloofsbelydenis (Athanasius)

Sb 50:7

Kollekte

Sb 5:1,2

Seën (van Drieënige God)Preek:
Heidelbergse Kategismus Sondag 8

As daar ‘n Jehowa-getuie by u hek kom en die volgende beweer:

Daar is slegs een God en daarom is die Drieëenheid ‘n dwaalleer.

Wat antwoord u dan?

As hulle sê: daar is slegs een God, en daarom is Jesus en die Heilige Gees
nie God nie.

Wat antwoord u dan?

As jy met ‘n kollega of ‘n medestudent praat oor jou geloof, en jy vertel
dat jy in die Drieënige God glo.

En die persoon reageer: dit is mos onsin.

Hoe kan jy daarin glo?

3 is 3 en nie 1 nie.

Hoe reageer jy dan daarop?

Vanaand mag ons ons verdiep in die leer oor God Drieënig.

Tema: Ons glo in God
Drieënig

1 Die Drieëenheid in die
Bybel

2 Die Drieëenheid in die
geskiedenis

3 Die Drieëenheid vandag

1 Die Drieëenheid in die
Bybel

Ons het drie gedeeltes saam uit die Bybel gelees.

Die eerste was Johannes 15.

Wat sê Jesus hier?

Hy is baie duidelik: wie My haat, haat ook my Vader in die hemel.

Ons Here Jesus het drie jaar lank gepreek en wonders verrig.

Almal kon luister en kon sien dat Hy nie net ‘n gewone mens was nie.

In die mens het hulle God besig gesien.

In Jesus het hulle God self gesien.

Jesus het nie net na die Vader in die hemel as God verwys nie.

Hy het ook na Homself as God verwys.

Hy het die mense geleer om tot Hom te bid.

Om tot iemand te bid, dit het die mense toe net so goed geweet as vandag,
om tot iemand te bid, beteken om daardie persoon as God te beskou.

Verder het Jesus ook oor die Heilige Gees as God gespreek.

Uit die prediking van Jesus is dit duidelik dat Hy enersyds dit het oor die
almagtige God wat een is, daar is nie meerdere gode nie;

maar andersyds spreek Hy ook oor drie aktiewe Persone.

Hierdie drie Persone, elkeen met ‘n eie taak, is onafskeibaar aan mekaar
verbonde.

Dit sien ons byvoorbeeld in die ander gedeelte wat ons gelees het, 2
Korinthiërs 13.

Paulus spreek God se seën daar uit oor die mense wat in Korinthe woon.

Net soos ‘n priester in die Ou Testament die volk in die naam van die HERE
geseën het, doen Paulus dit hier ook.

In die Ou Testament is die vir ons ook bekende woorde van die Aäronitiese
seën gebruik:

Die HERE sal jou seën en jou behoed.

Die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees.

Die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.

Wat doen Paulus egter hier?

Hy seën die mense ook in die naam van die HERE, maar met die volgende
woorde:

Die genade van die Here Jesus Christus,

en die liefde van God,

en die gemeenskap van die Heilige Gees,

sy met julle almal!

Uit hierdie formulering kan ons duidelik aflei dat die almagtige God uit
drie Persone bestaan.

Maar die Jehovah-getuies dan?

Hulle is reg as hulle sê dat die woord Drieëenheid nêrens in die Bybel
voorkom nie.

Maar is hulle dan ook reg as hulle sê dat die leer van die Drieëenheid ‘n
versinsel is van die kerk?

Hierop kan ons volmondig nee antwoord.

Ons ontmoet in die Bybel drie Persone.

Van al drie hierdie Persone word gesê dat hulle God is.

Van al drie hierdie Persone word vertel dat hulle Goddelike eienskappe het
en ook Goddelike dinge doen.

Jesus is ewig God saam met die Vader.

Neem byvoorbeeld Johannes 1:1.

Daar staan: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die
Woord was God.”

Met die Woord word hier Jesus bedoel, soos dit duidelik word uit vers 14:

“En die Woord het vlees geword”, waarmee Jesus bedoel word.

Die Jehovah-getuies ontken dit wat in hierdie hoofstuk staan.

Hulle sê dat mens dit anders moet vertaal:

Nie: “en die Woord was God” nie, maar: en
die Woord was ‘n god.

Hulle meen hulle kan dit uit die Griekse grondteks aflees.

Maar as mens dit soos hulle lees, dan loop mens vas met die reëls van die
Griekse taal en grammatika.

Mens kan dit hier maar net op een manier vertaal:

“die Woord was God”.

Dit was selfs al so in die begin van die skepping, sê Johannes.

Nog ‘n duidelike bewys vir die godheid van Jesus vind ons in Johannes
20:28.

Daar roep Thomas uit, nadat die opgestane Jesus aan Hom verskyn het:

“My Here en my God!”

Jesus bestraf nie vir Thomas oor hierdie uitspraak nie, maar Hy sê in die
volgende vers:

“Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien
het nie en tog geglo het.”

Ek noem nog ‘n teks waaruit duidelik blyk dat Jesus eg God is.

In Romeine 9:5 sê Paulus: “Christus ... Hy wat oor alles is, God,
lofwaardig tot in ewigheid! Amen.”

En so kan ek nog aangaan om voorbeelde te noem.

Daar is nog talle plekke in die Nuwe Testament wat laat sien dat mense
Jesus vereer het op ‘n manier wat slegs God waardig is.

Een het ek al genoem.

Jesus laat toe dat mense Hom aanbid.

En, geliefde broers en susters, die sterkste bewys vir die godheid van
Jesus kom uit die periode vlak voor sy kruisiging.

Weet u eintlik wat die rede was hoekom die Jode vir Jesus gekruisig het?

Dit was presies hierdie rede.

Naamlik dat Hy Homself God genoem het.

Pilatus het, om sy eie bas te red, Jesus oorgegee aan die Jode, dat hulle
Hom kon doodmaak.

Vir watter rede het die Jode vir Jesus die doodstraf gegee?

Ons lees dit onder andere in Lukas 22.

 

Toe Hy verskyn het voor die Sanhedrin, die Joodse regbank, het Jesus hulle
vraag oor wie Hy was as volg beanwoord:

“Van nou af sal die Seun van die mens sit aan die regterhand van die krag
van God.” (Luk 22:69)

Hulle het almal toe dadelik vir hom gevra:

“Is U dan die Seun van God?” (vers 70)

En Jesus het daarop geantwoord:

“U sê dat Ek dit is.” (vers 70)

Hierdie antwoord van Jesus mag vir ons dalk verwarring oproep.

Dit is eintlik nie goed vertaal nie.

Mens kan beter as volg vertaal: Natuurlik
is Ek dit.

Met die aanduiding Seun van God
word in die Hebreeuse taal dieselfde bedoel as om God te wees.

Die reaksie van die Jode was dan ook heeltemal logies op hierdie antwoord
van Jesus.

Want die Jode het toe geroep: “Wat het ons nog getuienis nodig! Want ons
het dit self uit sy mond gehoor.” (vers 71)

Gemeente, hierdie is dus die duidelikste bewys vir die Godheid van Jesus
Christus.

Juis om hierdie rede is Hy gekruisig.

As Hy dit sou ontken het dat Hy self God is, dan sou hulle Hom nie op
daardie aanklag gekruisig het nie.

Maar Jesus het dit nie ontken nie.

Hy het Homself nie verloën nie.

Ons het tot dusver aandag geskenk aan die Godheid van Jesus.

Maar ook die Heilige Gees is God.

Ook hieroor swyg die Bybel nie.

Die Bybel praat steeds oor die Heilige Gees op dieselfde vlak as oor God
die Vader.

So moet mense gedoop word nie net in die naam van die Vader nie, maar ook
in die naam van die Seun en die Heilige Gees.

In Efesiërs 4:30 word ons gewaarsku om die Heilige Gees nie te bedroef nie.

In 1 Korinthiërs 2:10, ons het dit gelees, word gesê dat die Gees selfs die
dieptes van God ondersoek.

Die Heilige Gees ken die Vader deur en deur.

Daar is niks oor Hom wat die Gees nie weet nie.

As dit so is, kan dit nie anders as dat Hy self ook God is nie.

Gemeente, teenoor ‘n Jehovah-getuie en wie ook al die Drieëenheid ontken,
kan u dus sonder enige skroom antwoord:

Ek glo in dit wat die Bybel oor God openbaar.

Wel een God, maar tog drie Persone.

Die beskuldiging van die Jehovah-getuies, of van die Jode, of van die
Moslims, dat ons in drie gode glo, is dus nie waar nie.

Ook ons bely saam met Deuteronomium 6:4: “Hoor, Israel, die HERE onse God
is ‘n enige HERE.”

En ook is die beskuldiging van die Jehovah-getuies dat ons God sou beledig
as ons Jesus en die Heilige Gees ook God noem, nie waar nie.

Ons beledig nie die enige ware God nie.

Ons luister slegs na wat Hy self in die Bybel vir ons sê.

Die Jehovah-getuies en almal wat die Drieëenheid ontken, het ‘n probleem
met die woorde van Jesus self, wat in die Bybel staan.

Want Jesus sê duidelik oor Homself dat Hy God is.

En dat die Heilige Gees ook God is.

Tot sover die eerste punt van die preek: die Drieëenheid van God in die
Bybel.

Ons kom nou by die tweede punt:

2 Die Drieëenheid in die
geskiedenis

Die woord Drieëenheid sal mens inderdaad nie in die Bybel vind nie.

Wel, en dit het ons in die eerste punt gesien, dat God een is, maar
tegelykertyd uit drie Persone bestaan.

Waar kom die woord Drieëenheid dan vandaan?

Hierdie woord het die kerk uitgedink.

Die woord ja, maar die inhoud kom uit die Bybel.

Die woord Drieëenheid het in gebruik gekom as ‘n kort aanduiding vir wie en
hoe God volgens die Bybel is.

En dan moet ons ‘n lang tyd teruggaan in die verlede.

In byvoorbeeld om en by 300 na Christus het daar ‘n sekere biskop Arius
geleef.

Hy was van mening dat slegs die Vader eg God is, God van ewigheid.

Die Seun en die Gees was volgens hom deur die Vader geskape.

Neem byvoorbeeld die Seun.

Hy was volgens Arius eers ‘n gewone mens, genaamd Jesus.

Maar omdat Hy so voorbeeldig gelewe het, het God Hom ‘n soort halfgod
gemaak.

Iemand wat hoër is as die mense, maar tog nog nie gelyk aan God nie.

Dit is logies dat daar toe in die kerk ‘n hewige debat ontstaan het oor wie
God eintlik was, en wat die Bybel presies leer.

In die diskussie het dit gebeur dat daar toe ook nog ‘n ander biskop met ‘n
afwykende mening vorendag gekom het.

Sy naam was Sabellius.

Hy het beweer dat mens nie van drie Persone kon praat nie.

God het wel bekend gestaan as Vader, Seun en Gees, maar eintlik was dit
volgens hom nie aparte persone nie.

Dit was eintlik slegs een Persoon wat verskillende funksies het.

So kan een persoon byvoorbeeld tegelykertyd ‘n pa, ‘n ouderling en ‘n
sakeman wees.

Dit hang maar daarvan af waar hy hom bevind en waarmee hy besig is.

Tuis, of by die kerk, of op sy werk.

En so het God ook verskillende funksies.

Hy is Vader as Skepper van die wêreld.

Hy is Seun as Redder van die wêreld.

En Hy is Gees omdat Hy nou in ons harte woon.

Drie aspekte van een persoon dus, het Sabellius gesê.

Hoe het die kerk gereageer op hierdie twee biskoppe, Arius en Sabellius?

Die leer van Arius het die kerk duidelik afgewys.

Maar ook die leer van Sabellius.

Want, het hulle uitgelê, die Bybel leer ons nie so nie.

Die Bybel gee ons juis aanleiding om te praat oor drie aparte Persone.

Gemeente, hoekom vertel ek dit nou alles?

Watter nut het dit vir u om te weet wie Arius en Sabellius was?

Ek doen dit, omdat ons besig is om onsself die vraag te stel waar die woord
Drieëenheid vandaan kom.

Op daardie vraag het ons nou ‘n antwoord.

Die vroeë kerk het met hierdie woordjie sowel die opvattings van Arius as
die van Sabellius afgewys.

Om dit kort en kragtig saam te vat, het hulle die woord Drieëenheid gebruik.

Die eerste deel van die woord (Drie) was gerig teen die Sabelliane.

Daar is inderdaad drie Persone in God.

En die tweede deel van die woord (eenheid) was gerig teen die Ariane –
hierdie drie Persone is aldrie ewig God, jy kan hulle nie van mekaar skein nie.

So het hierdie woord Drieëenheid
dus ontstaan.

Dit was ‘n kort samevatting van die Bybelse waarheid, belig vanuit twee
oogpunte.

Twee kante van dieselfde muntstuk, wat jy nie kan skei nie.

Gemeente, ek vat die tweede punt kort saam:

Die naam Drieëenheid kom uit die
geskiedenis, maar die inhoud agter hierdie woord kom uit die Bybel.

Die leer oor die Drieënige God is dus nie ‘n versinsel van die kerk nie.

Hierdie leer is so oud soos die Bybel self.

Wie hierdie leer nie wil aanvaar nie, gaan direk teen die prediking van
Jesus in.

Jesus, wat die dieptes van God ken, omdat Hy self God is.

Wie die woorde van Jesus nie wil glo nie, glo ook nie in God die Vader nie.

Want Jesus het niks uit Homself gesê nie.

Alles wat Hy gepreek het, was in opdrag van die Vader.

In Johannes 14:24 sê Jesus:

“die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My
gestuur het.”

Gemeente, wat antwoord u vir die Jehovah-getuies?

Of antwoord u niks nie?

Maak u nie die hek vir hulle oop nie?

Besef u dat ‘n Jehovah-getuie nie vir Jesus ken soos Hy is nie?

En dus ken ‘n Jehova-getuie ook nie vir God die Vader nie.

‘n Jehovah-getuie ken nie die God van liefde nie, maar hy sloof homself sy
lewe lank uit met die hoop dat hy dalk een van die 144,000 mag wees.

‘n Gemeenskap waarin harde kompetisie heers, en die ware liefde nog nie
geproe is nie.

Hier lê miskien vir ons ‘n taak.

Het u geweet dat daar in Pretoria al in elk geval vyf Jehovah-getuie
gemeentes is?

Natuurlik het dit meestal geen sin om met ‘n Jehovah-getuie in diskussie te
tree nie.

Maar miskien sou u ter voorbereiding vir die dag as daar dalk een voor u
hek staan, ‘n ope brief kon skryf.

‘n Brief waarin u uitlê wat daar regtig in die Bybel staan oor die
Drieënige God.

‘n Brief waarin u vertel wat liefde is, en ware gemeenskap, en dat God ook
liefde is.

So ‘n brief sou u aan hom of haar kon oorhandig, daardie dag as hy voor u
hek staan.

As hulle aan u die Wagtoring gee, dan gee u aan hulle ‘n ope brief.

‘n Brief van hart tot hart.

En miskien kan hierdie preek u daarmee help, om u gedagtes op papier te
kry.

Ons het ondertussen nou al gekom by die derde punt, die hede:

3 Die Drieëenheid vandag

In die inleiding het ek al die volgende genoem:

Sê nou maar ‘n kollega op die werk of ‘n medestudent raak met jou in
gesprek oor die geloof.

As jy hom of haar vertel dat jy glo in die Drieënige God en die persoon
reageer dan:

Hoe kan jy nou in soiets glo?

Drie is mos drie en nie een nie.

Hoe antwoord jy dan?

Ek dink dat die meeste van ons sal sê:

Wel, gewoon omdat dit so in die Bybel staan.

Ek glo dit wat in die Bybel staan.

Hierdie is honder persent ‘n korrekte antwoord.

Saam met die kerk van alle eeue bely ons ons geloof in die Drieënige God,
en ons spreek slegs die Bybel na.

Maar, ek kan myself voorstel dat die ander persoon nie baie gedien gaan
wees met die hierdie antwoord nie, behalwe vir die feit dat hy ook die Bybel
moet begin lees om agter te kom wat daarin staan.

En dit sal natuurlik pragtig wees.

Tog sou jy in so ‘n gesprek meer kon sê, veral as jy agterkom die persoon
is bereid om te luister.

Jy kan daarop klem lê dat God groot en almagtig is, dat Hy ons
verstandelike begrip te bowe gaan.

Iets wat vir ‘n mens en sy verstand nie moontlik is nie, dit is by God wel
moontlik.

Soos byvoorbeeld dat Hy drie Persone is, maar tog een Wese bly.

Vir menselogika klop dit nie.

Maar jy kan dit wel glo op gesag van God, wat in die Bybel tot ons spreek.

Stel jou voor dat jy as mens slegs lengte en breedte kon sien, en geen
diepte nie.

Hoe sou ek die dieptedimensie dan aan jou moes verduidelik?

As jy geen diepte kan sien nie, dan sal jy dit ook nooit verstaan nie.

Of hoe vertel jy vir iemand wat sy hele lewe al blind was, hoe kleure lyk?

Wat die verskil is tussen blou en groen, rooi en geel?

Dit is ‘n dimensie wat hulle ontgaan.

En so is die lewe van God, die ewige God, in ‘n ander dimensie as ons
menselewens.

En om daardie rede kan jy nie met jou menselogika alle dinge bewys wat God
in die Bybel sê nie.

Jou menselogika is daarvoor ontoereikend.

Met wiskundige formules bewys dat God wat een is, ook drie kan wees, dit
kan jy nie.

Net so min as wat jy met wiskundige formules dit verkeerd kan bewys.

God se werklikheid oorstyg ons logika, ons berekeninge.

Jy sou hoogstens ‘n vergelyking, ‘n analogie, kon trek met iets uit ons
werklikheid.

‘n Voorbeeld.

En dan moet mens nie aan wiskunde dink nie, maar dan sou mens aan iets soos
die huwelik kon dink.

Die huwelik sou mens by wyse van spreke ‘n tweeëenheid kon noem.

Dit is twee persone, maar tog is dit een huwelik.

Hulle vorm saam een vlees, een wese.

Man en vrou kan nie van mekaar geskei word nie.

Man en vrou kan jy ook nie teen mekaar uitspeel nie, hulle vorm ‘n hegte
eenheid.

Aan die ander kant kan jy hulle wel van mekaar onderskei.

Die man het ‘n ander funksie as die vrou, en omgekeerd ook.

Die huwelik, ‘n tweeëenheid, dit is iets wat jou ‘n bietjie op weg help om
meer van die Drieëenheid te begryp.

Maar u weet natuurlik net so goed soos ek dat hierdie vergelyking maar ten
dele is.

Ons huwelikke is gebrekkig, ‘n volledige tweeëenheid is dikwels nie ‘n
werklikheid nie.

Maar miskien dat hierdie voorbeeld ‘n ongelowige, of ‘n twyfelaar, kan
bevry uit die gevangenis van sy eie logika, en dat hy homself meer oopstel vir
die boodskap van die Bybel.

Wat die Bybel vertel oor God, die Drieënige God.

Gemeente, in die Kategismuspreke van die komende weke, DV, hoop ons om
uitgebreid stil te staan by elkeen van hierdie drie Persone van die enige ware
God.

Die Vader, Skepper van alle mense.

Die Seun, Jesus die Redder, wat elke mens wil bevry van sonde en oordeel.

En die Heilige Gees, die Vernuwer, wat in die hart van elke mens wil kom
woon.

Vir hierdie Drieënige God leef ons, vir Hom aanbid ons.

O Vader, laat u liefd’ ons blyk.

O Seun, maak ons u beeld gelyk.

O Gees, send u vertroosting neer.

Drie-eenge God! U sy al d’eer!

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)