Glo in Jesus en jy sal lewe, al het jy ook gesterwe

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-02-21
Teks: 
Johannes 11 ; 25
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 21 Februarie 2016 AD,
10:15 (nagmaal)

Votum

Seën

Ps 122:1

Wet

Ps 122:2

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed
(afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Apostoliese
Geloofsbelydenis (sing) (tafel in gereedheid)

1e tafel:
Skriflesing: Johannes 11:1-23; Ps 146:3

2e tafel:
Skriflesing: Johannes 11:23-44; Ps 146:4

3e tafel:
Lofverheffing; Ps 146:8

Teks:
Johannes 11:25

Preek

Ps 138:2

Gebed

Kollekte

Ps 138:4

Seën

Preek: Johannes 11:25

Aan die een
kant is dit in die tyd waarin ons lewe, nie so moeilik om te sterf nie.

Danksy die
tegniek en die mediese wetenskap is daar pynbestrydingsmiddele wat sorg dat
baie mense deesdae kan inslaap sonder dat hulle ondraaglike pyne hoef te ly.

Maar aan die
ander kant is dit in ons tyd vir baie mense juis ook moeiliker om te sterf.

En dit is
dieselfde tegniek, die geweldige vooruitgang van die wetenskap, wat gesorg het
dat baie mense se geloofsekerheid begin skade ly het.

Die
wetenskap self het ‘n geloof begin word.

Baie mense
kan nie meer in God glo nie, en vertrou net op die wetenskap.

Dit maak die
sterwensproses weer soveel moeiliker.

Mense het
nie meer die sekerheid wat die Bybel gee oor die lewe na hierdie lewe nie.

Mense het so
op die wetenskap begin vertrou, dat hulle blind geraak het vir ander
werklikhede.

Dat daar
naas die wette van die wetenskap ook nog ander wette ‘n invloed het op aarde.

Dink aan die
wette van die liefde.

Kan die
liefde deur die wetenskap voorspel word?

Nee, ware
liefde bestaan juis daarin dat dit iets is wat indruis teen alle verwagtings
in.

Wetenskap
het geen houvas daarop nie.

En dieselfde
geld vir die wette van die geloof.

Mense het
blind geword vir die feit dat, behalwe vir die wonders van die tegniek, daar
nog baie meer wonders op aarde gebeur.

Vandag staan
ons stil by die wonder van die geloof.

Ek preek u,
vanuit hierdie teks, die wonder van die geloof.

Tema: Glo in Jesus en jy sal lewe, al het jy
ook gesterwe

Ons het
gelees dat Jesus berig ontvang het dat Lasarus ernstig siek was.

Dat hy selfs
op sterwe gelê het.

Jesus se
reaksie op die berig van Lasarus se siekte was soos volg:

“Hierdie
siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die
Seun van God daardeur verheerlik kan word.” (Joh 11:4)

‘n Rukkie
later lees ons in vers 14 dat Jesus daarvan op die hoogte was dat Lasarus
ondertussen gesterf het.

Hy sê
daaroor: “Lasarus is dood. En Ek is bly om julle ontwil dat Ek nie daar was
nie, sodat julle kan glo.” (vers 15)

Vervolgens
merk Thomas bietjie lakoniek op: “Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe.”
(vers 16)

Jesus het
naamlik nou vertrek rigting Jerusalem, waar die owerpriesters en Skrifgeleerdes
Hom gesoek het om Hom dood te maak.

Hierdie
opmerking van Thoms is ‘n uiting van sy kleingeloof, iets wat hy eers sou oorwin,
nie na die opwekking van Lasarus nie, maar eers na Jesus se eie opstanding,
toen hy met sy eie hande die littekens van Jesus se wonde mog betas.

Bietjie
verder lees ons in vers 17 dat Lasarus alreeds vier dae in die graf was toe
Jesus daar aankom.

Martha het
haar Heiland hieroor verwyte gemaak.

“Here, as U
hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.” (vers 21)

Jesus
reageer hierop deur te sê: “Jou broer sal opstaan”.

Martha dink
dat sy Hom verstaan:

“Ek weet dat
hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.” (vers 24)

Waarop Jesus
haar antwoord: “Ek is die opstanding en die lewe, wie in My glo, sal lewe al
het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in
ewigheid nie.” (vers 25-26)

Gemeente,
wat bedoel Jesus eintlik met hierdie mooi woorde?

Dis
belangrik om te besef dat dit hier eintlik oor twee dinge gaan.

Die eerste
is die feit dat Jesus binnekort Lasarus uit die dood gaan opwek.

Hy weet dit.

Die ander
mense weet dit nog nie.

Die meeste
van hulle dink nie eers daaraan as ‘n opsie nie, want hulle ag dit onmoontlik.

Dit is die
eerste.

Maar die
tweede, dit is waaroor dit vir Jesus eintlik gaan.

Naamlik dat
Hy hierdie geleentheid wil gebruik om iets te leer vir kleingelowige mense.

By
kleingelowiges dink ons aan iemand soos Thomas, met sy skeptiese opmerkings.

Ons dink ook
aan Maria en Martha, wat wel glo in die opstanding op die jongste dag, maar
verder kom hulle nie.

Ons kan ook
aan onsself dink.

En wat die
Here Jesus vir ons, kleingelowiges, hier wil leer is wat so duidelik in ons
teks staan:

“Ek is die
opstanding en die lewe”.

Of anders
gesê: as jy by Jesus is, hoef jy nie bang te wees vir die dood nie.

As jy by
Jesus is, dan hoef jy die dood nie eers mee te maak nie.

Jesus sê:
“wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe”.

Vervolgens
vra Jesus ter bevestiging: Martha, glo jy dit, wat Ek nounet gesê het?

En Martha
antwoord dan:

”Ja, Here,
ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom.”
(vers 27)

Met hierdie
antwoord beaam sy nie direk die woorde van Jesus nie, maar ons hoor wel in haar
woorde ‘n vertroue, naamlik dat Jesus ‘n baie besondere man is, en dat mens dus
baie besondere dinge van Hom kan verwag.

Daarna lees
ons dat hoe Maria by die gesprek betrek word.

En daarna
dat dit vir hulle aldrie net te veel geword het.

Die emosies
het hulle oormeester.

Hulle moes
almal huil, Jesus ook.

Vervolgens
gee Jesus opdrag dat die steen voor die grafspelonk weggerol moet word.

In ou-Israel
was die grafte altyd uitgekapte kamers in die rots, in ‘n spelonk.

Martha het
egter nog tussenbeide gekom om te waarsku: “Here, hy ruik al, want hy is al
vier dae dood.” (vers 39)

In Israel
was dit die gewoonte om ‘n oorledene dikwels al op die dag van sy sterwe te
begrawe.

Dit is ‘n
warm klimaat, en hulle het nog nie koelkamers en sulke dinge gehad nie.

Tog gaan
Jesus voort.

En in vers
40 kom ons agter wat eintlik Jesus se bedoeling was.

Nie in die
eerste plek om Lasarus uit die dood terug te bring nie, maar in die eerste plek
is sy aandag gerig op die kleingeloof van die mense rondom Hom.

Thomas, die
dissipels, Martha en Maria, alle toeskouers.

Hy sê in
vers 40: “Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God
sien nie?”

Daarna word
die steen weggerol, en Jesus het ‘n gebed tot sy Vader in die hemel
uitgespreek.

“Vader, Ek
dank U dat U My verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter
wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat
U My gestuur het.” (vers 41-42)

Daarna het
Jesus bevel gegee dat Lasarus buitentoe moes kom.

En, soos ons
gelees het, met sy hande en voete nog met grafdoeke vasgebind, en ook sy gesig
wat nog toegedraai was met ‘n doek, het hy uitgekom.

Ons kan
verder in die Johannesevangelie lees dat die berig van sy opstanding soos ‘n
vuurtjie versprei het.

Van heinde
en verre het mense na die dorpie Betanië gekom om Lasarus te bekyk.

Hulle het
nie net gekom om na Jesus te luister nie, maar ook om ‘n glimps op te vang van
Lasarus, wat teruggekeer het uit die graf.

En baie van
hulle het tot geloof gekom as gevolg van hierdie daad van Jesus.

Nou is dit
vir ons vandag belangrik dat ons, as ons na hierdie geskiedenis luister, besef
met watter bedoeling Jesus dit laat gebeur het.

Dit het
uiteindelik nie primêr oor die opwekking van Lasarus gegaan nie.

Maar dit het
gegaan oor die geloof van die mense daaromheen.

En dit gaan
ook oor jou en my geloof, omdat ons ook aanskouers van hierdie wonder is.

Nie
letterlik nie, maar omdat dit in die Bybel opgeteken is en ons hierdie
geskiedenis vandag gelees het.

Soos ek
genoem het, dit het nie primêr oor die opwekking van Lasarus gegaan nie.

Laat ons
nugter wees, nadat Lasarus uit die graf teruggekeer het, ‘n tweede kans gekry
het, is dit tog ‘n feit dat hy daarna nie ewig bly lewe het nie.

Ons weet nie
hoe lank Lasarus daarna nog gelewe het nie.

Daar is
berigte uit die kerkgeskiedenis dat Lasarus later lidmaat was van die eerste
Christelike kerk na Pinkster.

Daar is ook
berigte dat Lasarus, nadat die groot vervolging uitgebreek het teen die Christene
in Jerusalem – ons lees daaroor in Handelinge – Paulus, toe nog Saulus – het
daaraan deelgeneem – daar is berigte dat Lasarus toe ook gevlug het, en wel na
die eiland Cyprus.

‘n Eiland
wat relatief naby aan die kus van Israel lê.

Daar, op
daardie eiland, waar in daardie tyd nog veel meer Jode gewoon het, het hy toe
gaan woon en die Evangelie daar uitgedra.

Waaroor dit
nou gaan, is dat Lasarus miskien na sy opwekking nog ‘n hele klomp jare, dalk
dekades, geleef het.

Maar tog het
hy op ‘n stadium weer gesterf.

En toe hy
vir die tweede keer gesterf het, toe was die Here Jesus nie liggaamlik by hom
soos die eerste keer nie, ook nie vier dae later nie.

Moet mens
daarom tot die slotsom kom dat Lasarus uiteindelik, behalwe vir die
lewensverlenging, niks hierby gebaat het nie?

Nee.

En dit leer
ons as ons fokus op die eintlike bedoeling van ons Heiland met hierdie wonder.

Sy
bedoeling, nie net vir Martha en Maria en Lasarus nie, maar ook vir jou en my.

Wat Jesus
wou duidelik maak met sy wonder om Lasarus op te wek, is dit wat in ons teks
staan:

“Ek is die
opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe”.

Op grond van
‘n teks soos hierdie kan ons in die Heidelbergse Kategismus bely:

Ons dood is
nie iets wat finaal is nie, ons dood is nie meer ‘n straf op die sonde nie.

Maar ons
dood is ‘n deurgang na die ewige lewe.

Dit is ‘n
poort waardeur ons moet gaan.

Die sondige,
ellendige, gebrokene van die menslike bestaan skud ons af voor hierdie poort.

En as ons
daardeur gegaan het, betree ons die volmaakte ewige geluk.

Jesus sê:
wie in My glo, sal in ewigheid nie sterwe nie.

Dalk het dit
u opgeval dat Jesus hier ‘n woorspeling toepas op die woord ‘dood’.

Daar is dood
en dood.

Daar is ‘n sterwe
in die sin van ewig verlore gaan.

Daar is ook
‘n afsterf van die ellende en gebrokenheid, ‘n poort na die volmaaktheid.

En dit is
dus wat Jesus ons wil leer.

Hy het
hierdie wonder van Lasarus se opstanding verrig om sy boodskap te bekragtig.

Net soos Hy
ook ‘n keer vir ‘n verlamde man gesê het dat Hy sy sondes vergewe het, en om
hierdie woorde te bekragtig, dus as illustrasie dat Hy in staat is om sondes te
vergewe – het hy toe die verlamde man ook genees sodat hy weer kon loop.

 

Toe Lasarus
destyds vir die tweede keer op sy sterfbed gelê het – ons weet nie presies
wanneer nie, maar dit het ongetwyfeld gebeur – toe kon hy dus troos put uit
hierdie woorde van Jesus.

Jesus is
self die opstanding en die lewe.

Wie by Hom
bly, sal lewe al het hy ook gesterwe.

Hierdie ryke
belofte ontvang ons van ons Heiland.

Die feit dat
ons hier vandag saam aan die nagmaalstafel mag sit, illustreer dat ons by Hom wil
bly, dat ons in Hom glo.

Nooit kan
die geloof te veel verwag nie.

Glo jy dit?

Kom ons
beaam dit.

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)