Ons goeie God het aan ons ‘n owerheid geskenk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2016-01-10
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 36
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
10 Januarie 2016 AD, 17:30

Voorsang: Ps 8:1,5,6,7

Votum: sing Ps 121:1

Seën

Ps 21:5,9

Gebed

Skriflesing: Romeine 13

Ps 72:6,7

Teks: Nederlandse Geloofsbelydenis art. 36

Preek

Ps 72:9,11

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 22:11,12

Seën

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 36

Ons het nou by die tweede laaste artikel van
die NGB gekom.

Die laaste twee artikels het mekaar te make.

Art. 36 handel oor die aardse owerhede.

Art. 37 oor die hemelse owerheid en die finale
regspraak op die jongste dag.

Alle aardse owerhede opereer onder die gesag
van die hemelse owerheid, waarvandaan alle gesag ontvang word.

Ons gaan in hierdie preek fokus op die feit
dat aardse owerhede nie toevallig bestaan nie, maar dat hulle ‘n geskenk van
God is.

Verder gaan ons aandag skenk aan wat die taak
van die owerheid is.

En dit gaan ons ook bring by die verhouding
tussen die owerheid en die kerk.

Dit is alles dinge waaraan hierdie artikel
aandag skenk.

Tema: Ons
goeie God het aan ons ‘n owerheid geskenk

  • die waarde van hierdie geskenk

  • die taak van die owerheid ten
    opsigte van die kerk

  • die taak van die kerk ten opsigte
    van die owerheid

  • die waarde van hierdie geskenk

    As mens die eerste sin van hierdie artikel
    lees, veral teen die agtergrond van die huidige politiek in Suid-Afrika, dan
    wonder mens of daar nie ‘n fout in hierdie sin ingesluip het nie.

    Moes dit nie, pleks van die ‘verdorwenheid
    van die menslike geslag’, eerder wees: die ‘verdorwenheid van konings, vorste
    en owerhede’ nie?

    Soms kry mens deesdae in ons land die gevoel:
    as die owerheid net wil padgee, dan sal die land veel beter op homself aangaan.

    As die owerheid net wil padgee, dan hoef
    mense nie meer hulleself krom te betaal aan belastings nie.

    As die owerheid net wil padgee, dan sal blank
    en swart, bruin en Indiër heel goed met mekaar oor die weg kom in hierdie land.

    Dit laat my dink aan wat die Jode wat destyds
    in Rusland gewoon het, aan die tsaar as seën toegewens het: “May the Lord bless
    the Tsar and keep him far away”.

    So voel ons deesdae ook in Suid-Afrika.

    Wat as die regering en veral die president
    êrens inmeng, maak hulle net probleme.

    Maar gemeente, tog is daar nie ‘n fout in
    hierdie eerste sin van art. 36 nie.

    Art. 36 se eerste sin is heeltemal in die
    kol.

    Die goeie God skenk ‘n owerheid aan ‘n land.

    Dit is ‘n stelling wat deur en deur
    Skriftuurlik is.

    Dink aan Romeine 13:1: “Laat elke mens hom
    onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe
    van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel.”

    En dink aan 1 Petrus 2:13: “Wees dan
    onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here – of dit die
    koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante”.

    En dink aan Titus 3:1 “Herinner hulle daaraan
    om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om gehoorsaam te wees, bereid tot
    elke goeie werk”.

    Kortom, gemeente, dit is uit en uit die
    Bybelse boodskap:

    ‘n Owerheid is ‘n geskenk.

    Selfs ‘n slegte owerheid is ‘n geskenk.

    Want hoe sal ‘n land sonder ‘n owerheid lyk?

    Dink vir ‘n oomblik aan ‘n gesin sonder
    ouers.

    Sê nou maar pa & ma sterf onverwags in ‘n
    motorongeluk, en die kinders bly alleen agter by die huis.

    As niemand hulle oor die kinders ontferm nie,
    wat sal van die kinders word?

    Ek dink dit vereis weinig verbeelding om te
    besef dat na ‘n week, of dalk vroeër, dit ‘n groot chaos in daardie huis gaan
    wees.

    Op die strate in die binnestad kan mens
    kinders sien rondswerf wat nie ‘n huis het om heen te gaan nie.  

    Hulle is klein en gevaarlike kriminele.

    Dus, ja, ook die huidige ANC owerheid is ‘n
    geskenk van God.

    Ook die grondwet en die huidige landswette is
    ‘n geskenk van God, hoewel daar beslis kritiek op sommige wette en beleide
    gelewer kan word.

    Die doel van ‘n owerheid is, sê art. 36, om die
    losbandigheid van mense in bedwang te hou.

    Losbandigheid verwys nie net na die 7e gebod
    nie, maar na enige vorm van los-bandigheid – dat mense nie met bande gebind wil
    word nie, op watter gebied ook al.

    En ja, God sy dank is daar ‘n owerheid, is
    daar polisie, is daar wette en regulasies, is daar verkeersreëls, ook in ons
    land.

    So nou en dan sien ek iemand wat, helder
    oordag, deur ‘n rooilig ry.

    Maar gelukkig laat die meeste motoriste hulleself
    aan bande lê deur hierdie verkeersreël.

    En op kruispunte waar dit te weinig gebeur,
    en op paaie waar die mense te vinnig bly ry, installeer die plaaslike owerheid
    spoedhobbels.

    God sy dank vir die geskenk van die owerheid,
    ook in ons land.

    Die doel van die owerheid is verder, skryf
    art. 36, om kwaaddoeners te straf.

    Dit is die taak van die owerheid om te sorg
    dat wette gehandhaaf word, en indien nodig daarby dwang te gebruik.

    Die sogenaamde swaardmag.

    In God se wysheid het Hy dit so verorden dat
    in ‘n sondige samelewing daar een instansie is wat die swaardmag ontvang.

    Elke terrein van die samelewing het ‘n
    eiesoortige swaardmag ontvang.

    In ‘n gesin het die ouers die swaardmag
    ontvang.

    Op skool die onderwysers.

    In ‘n land die regering.

    Die feit dat strawwe uitgedeel word, is ook
    geskenk van God.

    Strawwe kan nie net lukraak uitgedeel word
    nie, daaroor is die Bybel ook duidelik.

    By elke oortreding pas ‘n andersoortige
    straf.

    Dit is alles so deur ons goeie God bepaal.

    Rom 13:4: “hy is ‘n dienaar van God, jou ten
    goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet
    nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te
    straf.”

    En weer eens dank ons God vir die geskenk van
    die owerheid in ons land.

    Want hoewel daar moordenaars is wat op vrye
    voet rondloop, en alhoewel mense in hierdie land, soos in baie ander lande,
    ongestrafd ongebore babas mag vermoor, is dit tog ook so dat daar in ons land
    steeds ook baie kwaaddoeners gestraf word.

    Die tronke sit vol met kwaaddoeners, blank,
    swart ensovoorts.

    En in ons land is daar nog steeds
    spoedkamera’s om die paaie veilig te hou, en daar is nog steeds bouregulasies
    om geboue vir mense veilig te hou, en so kan ek nog baie voorbeelde noem.

    Ja die owerheid is ‘n geskenk om die kwaaddoeners
    te straf en die deugsames te beskerm.

    En ook is dit nog so dat die ampsdraers self
    nie bo die wet verhewe is nie.

    Die grondwet het die hoogste gesag, en politici
    is ook daaraan onderworpe.

    Daar is ook spesiale instellings om hieroor
    te waak, soos byvoorbeeld die openbare beskermer.

    Nou is ek ook nie blind en doof nie,
    gemeente, en die bedoeling van hierdie preek is nie om ‘n loflied te sing op
    die huidige ANC-regering nie.

    Wel ‘n danklied op die feit dat daar regering
    is, selfs al is dit ‘n gebrekkige regering.

    En ek is ook nie blind vir die feit dat ‘n
    aantal owerheispersone – let wel nie almal in die ANC-regering nie – maar wel
    ‘n aantal toenemend self korrup geraak het, en toenemend die landswette self
    verontagsaam, en toenemend moeite doen om hulleself onskendbaar te maak.

    En ongelukkig neem ons huidige staatshoof
    tans daarin die voortou.

    Ten spyte hiervan geld vir die grootste deel
    nog steeds ook in Suid-Afrika wat Romeine 13 oor ‘n owerheid sê:

    “hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede.
    Maar as jy kwaad doen, vrees dan” (vers 4)

    “maar wil jy nie die mag vrees nie, doen wat
    goed is, en jy sal lof van hom ontvang.” (vers 3)

    Hierdie reël geld nog steeds vir die oorgrote
    deel in ons land.

    Sonder dat ek blind is vir alle korrupsie, en
    omkopery.

    Wat uit die Skrif baie duidelik is, is dat
    God onreg nie vir ewig tolereer nie.

    As ‘n owerheid toenemend nalaat om sy
    Godgegewe taak uit te voer, sal daar ‘n dag kom dat God dit so sal lei dat
    daardie owerheid tot ‘n einde kom, en vervang word deur nuwe gesagsdraers.

    God sal so dit lei.

    Maar die Bybel roep nie ons op tot rewolusie
    nie.

    Ook hier kan ons die lesse uit die
    geskiedenis leer.

    ‘n Rewolusie eet sy eie kinders op.

    Die toestand na die rewolusie in Frankryk was
    tien keer erger as tydens die korrupte koningshuis daarvoor.

    En onlangs het ons dieselfde weer in die
    Midde-Ooste gesien, met die sogenaamde Arabiese lente vanaf 2011.

    Daar het in verskillende lande rewolusies
    plaasgevind.

    Die Westerse wêreld het dit selfs ondersteun,
    en tans is die rewolusie weer eens besig om sy eie kinders op te eet.

    Die huidige toestand in Libië is byvoorbeeld
    vele male erger as tydens die korrupte bewind van kolonel Gadaffi.

    Die huidige toestand in Egipte is veel
    onstabieler as tydens die korupte bewind van president Mubarak.

    In Sirië het miljoene burgers die land
    verlaat, en die vlugtelingstroom duur nog steeds voort.

    Ja, ons wens hier in Suid-Afrika om ontslae
    te raak van ‘n korrupte ANC-regering, maar tel eers jou seëninge voordat jy
    enige vorm van rewolusie oorweeg.

    Laat ons liewers ernstig neem wat hier in die
    NGB staan, ook in die hede in ons Suid-Afrikaanse konteks:

    elkeen van ons is verplig, van watter
    hoedanigheid, rang of stand jy ook al is, om jou aan die owerhede te onderwerp,
    om belasting te betaal, om aan hulle eer en onderdanigheid te bewys, en hulle
    te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van God in stryd is nie, en ook
    vir hulle voorbidding te doen.

    Mens is nie lus om belasting te betaal nie,
    as jy die geldverspilling by Nkandla sien, en daar is nog baie ander voorbeelde
    om te noem.

    Maar die omgekeerde is ook nie ‘n opsie nie.

    Daar is ook belastinggeld wat goed aangewend
    word, daar is nog hospitale, daar is nog paaie, daar is slaggate wat reggemaak
    word, vullis word verwyder, daar is nog water en krag.

    Ja, daar is ook baie stories oor hoe die
    regering faal in hierdie opsig.

    Maar tog het Christus ons beveel om aan ‘n
    gebrekkige en sondige owerheid of keiser belasting te betaal.

    Wat hom toekom, let wel, nie minder of meer
    nie.

    Daar is niks verkeerd om as burgers saam te
    staan en die owerhede verantwoordelik te hou vir wat hulle met belastinggeld doen
    nie.

    Daar is niks verkeerd om kondisies aan die
    betaal van belastinggeld te koppel nie.

    Daar is niks verkeerd om belastingbetalersverenigings
    te stig, wat sorg dat die betaal van belasting ook tot daadwerklike
    dienslewering lei.

    Maar ook dit moet ordelik gebeur.

    Misbruik van belastinggeld hef ons
    grondwetlike plig om belasting te betaal nog nie op nie.

    Ook hier kan ons uit die geskiedenis leer.

    Vir eeue het die Hugenote onder ‘n korrupte
    regering in Frankryk gelewe.

    Uiteindelik het baie van hulle gevlug.

    Uit hulle geskrifte kan mens baie leer oor
    hoe ons as Gereformeerdes behoort te funksioneer onder ‘n korrupte regering.

    Nie rewolusionêr nie, maar ook nie passief
    nie.

    Die Hugenote het byvoorbeeld daarop gewys dat
    daar in die Ou Testament wigte en teenwigte was.

    Daar het ‘n koning geregeer, maar daar was
    ook oudstes wat deur die volk aangestel is.

    Die oudstes kon ‘n koning tot die orde roep,
    selfs sy posisie by hom afneem.

     

    Geliefdes, die komende jare sal daar ‘n baie
    dringende behoefte wees aan duidelike leiding, spesifiek ook vanuit die kerk –
    dink aan haar profetiese taak – om die samelewing die koers te wys hoe om hulle
    te gedra teenoor die falende owerheid.

    Aan die een kant sal ons moet met die
    grootste klem moet waarsku teen rewolusie.

    Aan die ander kant leer die Bybel ons ook dat
    geen mens of regering op aarde onbeperkte gesag het nie.

    Daar is wigte en teenwigte.

    ‘n Korrupte staatshoof kan van sy posisie
    verwyder word.

    Nie deur rewolusie nie, maar op ordelike wyse
    deur die laer owerhede.

    Ons het ‘n taak, en ons sal nie net in ons
    eie hoekie kan wegkruip nie.

  • die taak van die owerheid ten
    opsigte van die kerk

    En dit bring ons by ‘n volgende baie
    belangrike taak van die owerheid, soos ons dit ook in art. 36 lees.

    Daar is ‘n sin in art. 36 wat in die verlede
    al vir baie misverstand gesorg het.

    Die volgende sin:

    Dit is nie alleen die owerheid se taak om aan
    die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie, maar ook om die heilige
    Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te
    gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig en die koninkryk
    van Jesus Christus te bevorder, die Woord van die evangelie te laat verkondig,
    sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel.

    Die owerheid het dus ‘n taak wat betref die
    Woordbediening.

    Die owerheid het ‘n taak wat betref die
    uitroei van afgodery en valse godsdiens.

    Die owerheid het ‘n taak wat betref die
    vernietiging van die ryk van die antichris.

    Hoe moet die owerheid hierdie taak uitvoer?

    Moet die owerheid self bepaal wat valse
    godsdiens is, en dit dan uitroei?

    Moet die owerheid self bepaal wat die ware
    kerk is, en wat valse kerke is, en vervolgens die valse kerke vervolg?

    Nee, dis nie wat hier staan nie.

    Wat hier wel staan, is dat die owerheid se
    taak is om die heilige Woordbediening te beskerm.

    Dit wil sê, die owerheid moet die
    omstandighede in sy land skep en garandeer sodat die Woord van God in alle
    vryheid bedien kan word.

    En dit is dan deur die Woordverkondiging dat
    alle afgodery en valse godsdiens teengegaan word, en dat die ryk van die
    antichris uitgeroei word.

    Guido de Brès, wat artikel 36 geskryf het,
    het in ‘n situasie verkeer dat die owerheid in België Roomsgesind was.

    Dit was ‘n owerheid wat die Protestante
    bloedig vervolg het.

    Nou sou dit snaaks wees as hy in hierdie
    artikel sou skryf dat dit korrek is.

    En dat, mog die Protestante aan bewind kom,
    hulle dieselfde sou doen met die Roomses, naamlik hulle met bloedvergieting
    uitroei.

    Dit sou heel raar wees as De Brès dit bepleit
    het.

    Ongelukkig is art. 36 dikwels wel in die
    trant verkeerd gelees deur die eeue.

    Dit het selfs daartoe gelei dat die
    Gereformeerde Kerke in Nederland hierdie betrokke sin uit art. 36 geskrap het.

    Maar met hierdie artikel het De Brès daarvoor
    gepleit dat die owerheid die omstandighede moet skep dat die Woordbediening in
    vryheid kan plaasvind.

    Die owerheid moet nie onderworpe wees aan ‘n
    kerk, soos in sy tyd die geval was nie, of dit nou die Roomses of die
    Protestante is nie.

    Ook moet die kerk nie onderworpe wees aan die
    owerheid nie, soos in die geskiedenis ook dikwels die geval was.

    Dink aan die Gereformeerde staatskerk wat
    daar in ons land was vanaf Jan van Riebeeck.

    Dit was ‘n kerk wat aan die leiband van die
    owerheid geloop het.

    Wat egter in hierdie artikel bedoel word, is
    dat sowel die owerheid as die kerk direk deur God aangestel is, en dus ook direk
    aan God verantwoording moet aflê.

    Sowel die owerheid as die kerk is direk aan
    God se Woord onderworpe.

    Sowel die owerheid as die kerk moet die Woord
    van God toepas op hulle eie terrein van bevoegdheid.

    Die kerk het uiteraard ‘n profetiese taak
    teenoor die owerheid.

    Die kerk moet telkens die owerheid herinner
    aan die Woord van God, wat daarin staan, en hoe dit hulle beleid moet beïnvloed.

    En soos gesê, deur die suiwere Woordbediening
    word die valse godsdiens uitgeroei.

    Uit wat De Brès hier skryf, blyk hoe
    optimisties hy oor God se Woord was.

    Die Roomse Kerk het sy lidmate verbied om in
    hulle eie taal die Bybel te lees.

    Maar, skryf De Brès, as ‘n owerheid toelaat
    dat elke mens die Bybel in sy eie taal mag hê, dan kan elke mens self die Bybel
    lees, en dan sal elke mens self agterkom hoe die Roomse kerk besig is om te
    dwaal.

    Die Bybel sal mense se oë laat oopgaan.

    Die owerheid se taak is om te sorg dat die
    bevolking vrye toegang het tot God se Woord, en tot die verkondiging van God se
    Woord.

    In hierdie opsig is ons baie bevoorreg in ons
    land.

    Veral as ons dit vergelyk met lande soos
    Saoudi-Arabië, Noord-Korea of selfs dele van China waar die Bybel ‘n verbode
    boek is.

     

     

  • die taak van die kerk ten opsigte
    van die owerheid

     

    Die lees van die Woord en die prediking van
    die Woord bring lig, en ruim die donker skuilhoeke van die dwaalleer op.

    En so het die kerk ook ‘n profetiese taak
    teenoor die owerheid, om die owerheid telkens weer in kontak te bring met God
    se Woord, en die owerheid daarop te wys hoe relevant God se Woord is vir hulle
    regeertaak.

    Die Vrye Gereformeerde Kerke het ‘n
    deputaatskap aangestel vir kontak met die owerheid.

    Dan moet mens nie net aan die nasionale
    regering dink nie.

    Mens moet ook dink aan provinsiale owerhede,
    aan stadsrade, aan wykraadslede.

    Hopelik dat hierdie deputate hulle aktief van
    hulle taak kwyt, om ‘n profetiese geluid te laat hoor, en om die kerke te
    stimuleer hoe om self aktief te wees in hierdie opsig.

    Die kerkraad het besluit om hierdie deputate,
    die deputate vir kontak met die owerheid, vanjaar  ‘n keer uit te nooi na ‘n gemeentevergadering,
    sodat hulle kan terugvoer gee oor hulle aktiwiteite.

    Soos die spreekwoord sê: ‘n land kry die
    owerheid wat hy verdien.

    Die owerheid weerspieël maar net die land se
    bevolking.

    As die land geen moraliteit het nie, as die
    mense korrup is, dan sal die owerheid dit ook wees.

    Hier lê vir die kerk en elke gelowige ‘n
    belangrike taak.

    Om profeties die koers te wys, en dit wat
    fout loop aan te kaart.

    Om priesterlik te dien in die samelewing, op
    te voed sodat die inwoners van ons land se moraliteit verbeter.

    Om koninklik te stry met ‘n goeie gewete teen
    alles wat God se Woord verbied, eerste in ons eie lewe en ook in die
    samelewing.

    NGB art. 36 sluit af deur in duidelike terme
    afstand te neem van die optrede van die Wederdopers.

    Die Wederdopers was oproerig en het die gesag
    van owerhede en regeerders verwerp.

    Hulle het gepoog om die regsorde omver te
    stoot.

    Hierdie optrede het teruggegaan op hulle
    teologie.

    In die Wederdopers se denke was die owerheid
    nie ‘n geskenk van die goeie God nie, soos De Brès dit aan die begin van
    hierdie artikel gestel het.

    Volgens die Wederdopers was owerhede nie
    nodig nie.

    Elke mens moes direk onder God se gesag lewe.

    Net God is Koning, niemand anders nie.

    Hierdie siening, wat op eerste gehoor mooi
    klink, het egter vir anargie gesorg.

    Want elkeen het begin doen wat goed was in sy
    eie oë.

    In die 16de eeu was daar verskriklike oorloë
    en opstande in Europa, geweldig baie mense het gewelddadig om die lewe gekom.

    De Brès weet dus uit ervaring wat gebeur as
    mense owerhede aan die kant skuif.

    Nie verniet het hy sy artikel begin deur te
    skryf dat die goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag
    konings, vorste en owerhede aangestel het.

    Ja ook die Wederdopers is deel van die
    verdorwe menslike geslag.

    En ook die Gereformeerdes is deel van die
    verdorwe menslike geslag.

    Ook Wederdopers en Gereformeerdes sal, as
    daar geen owerheid is nie, word soos ‘n kind wat opgroei sonder ‘n ouers wat
    toesig hou en uitdraai as ‘n klein krimineel.

    Laat ons ons daarom ver daarvan bly om die
    regsorde omver te wil stoot.

    Dit is tot ons eie skade, selfs as dit oor ‘n
    korrupte regering gaan.

    ‘n Rewolusie gaan sy eie kinders opeet, dit
    het die geskiedenis oor en oor bewys.

    Gemeente, daar is een voordeel om onder ‘n
    korrupte en falende regering te lewe.

    Dit laat mens des te meer verlang na die
    wederkoms van ons Here Jesus Christus, die Koning van alle konings.

    Aardse vrede en voorspoed vertroebel so
    dikwels mense se sig op die koninkryk van die hemele.

    Miskien moet ons bietjie meer bid vir ons
    susterkerke in die buiteland, wat in ongesteurde aardse vrede en welvaart lewe,
    onder effektiewe owerhede.

    Bid dat hulle nie wêreldgelykvormig word en
    ophou verlang na die hemelse vaderland nie.

    Dit geld natuurlik net soveel vir ons.

    Want ook in ons land is daar nog steeds, ten
    spyte van so baie dinge wat fout loop, en ten spyte van die enorme
    geweldskultuur, tog is daar in ons land nog vrede en voorspoed vir baie mense.

    In die preek oor art. 37 gaan ons spesifiek
    fokus op die hemelse owerheid, op die feit dat daar ‘n dag van oordeel en
    regspraak gaan kom.

    Nie net elke regering, koning en president
    nie, maar ook elke mens op aarde moet homself voorberei op daardie dag.

    Dit is die kerk se profetiese taak om die
    wêreld, en ook die owerheid, aan hierdie komende dag te bly herinner.

    Die koms van hierdie dat is ‘n skrikwekkende
    gedagte vir elke president, koning of regering wat aangejaag het.

    Maar vir die gelowiges is dit ‘n blye
    vooruitsig.

    As Christene mag ons uitsien en verlang na
    daardie dag.

    Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)