Jy is gesalf met die Heilige Gees. Verwag baie daarvan

Predikant: 
Ds DM Boersma
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2015-12-27
Teks: 
I Johannes 2 : 20, 21 en 27
Preek Inhoud: 

Preek
1Joh2,20.21.27

Dirk M Boersma (Living Hope Church, Akasia)
gehou in VGK Maranata, 27 Des 2015

Teks in Afr 33 vertaling

20      En julle het die salwing van die Heilige en weet alles.

21      Ek het nie aan julle geskrywe omdat julle die waarheid nie ken
nie, maar omdat julle dit ken en omdat geen leuen uit die waarheid is nie.

26      Dit het ek aan julle geskrywe met betrekking tot die wat julle
mislei.

27      En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en
julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing
julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié
julle geleer het, so moet julle in Hom bly.

 

Inleiding:

Vóór elke jaareinde moet
nuwe ouderlinge en diakens gekies word.

Dis elke jaar spannend
vir die kerkraad: gaan ons voldoende brs vind om tweetalle te stel?

Dit lyk asof dit elke
jaar moeiliker raak.

Almal raak besiger.
Meer mans moet kursusse volg om hulle werk te behou. Die tyd raak minder. En
ons moenie vergeet dat die vaders in hul gesinne aanwesig moet wees. Jy kan nie
elke aand van die huis af weg wees nie.

En die tyd vir die
gesin raak al so min wanneer jy elke dag 6 uur van die deurpad afklim en moeg
by die huis kom.

Maar gelukkig, daar was
weer nuwe ouderlinge en diakens gekies.

Hulle kan na die
vakansie aan die werk spring.

Kan ons maar sê:
‘gelukkig, die gemeentewerk is onder beheer’? Ons kan verlig asemhaal?

Nee, daarmee is ons nog
nie klaar nie.

Is die ampsdraers dan
die enigste gawes wat Jesus vir die gemeente gee?

Tog nie?

In ‘n gesonde gemeente
behoort sowel die leierskapsgawes as die gawes wat almal ontvang het, raakgesien
en gewaardeer te word.

Dis nogal interessant om met hierdie woorde te begin:

“En julle het die salwing van
die Heilige en weet alles.” (v. 20)

“En die salwing wat julle van
Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer
nie” (27a)

Sjoe, dit laat jou
wonder.

Wanneer Johannes reg
is, het ons ‘n salwing ontvang en weet ons alles.

Dit klink soos ‘n
gradeplegtigheid, waar die skoolhoof sê: ‘Julle is nou klaar met julle studies,
julle kan aan die werk spring. En julle weet so baie, dat niemand julle nog
iets kan leer nie.’Maar…het ons wel ‘n predikant nodig om preke te hou?

het jy ‘n ouderling nodig
om geestelike adviese vir jou te gee?

is dit nog nodig om vir
die nuwe jaar planne te maak om elke dag Bybel te lees en om saam met ander
Bybelstudie te doen?

Kom ons luister na die
Woord van God om te leer wat ons van hierdie salwing kan verwag.

Tema:         Jy
is gesalf met die Heilige Gees. Verwag baie daarvan!

a.     Dit beskerm jou teen dwaling (verkeerde
leer)

b.     Dit bewaar jou teen passiwiteit

1         
Dit beskerm jou teen dwaling

1.1      
Gevaar!Dis altyd belangrik om tekste nie
sommer uit die Bybel te pluk en op hulself te gebruik nie. Een van die boeke in
die Bybel is ‘n Spreukeboek, maar nie die hele Bybel nie. Ons behoort die
woorde in hul konteks te lees.

Johannes skryf aan die
kerke in ‘n groot krisis. Hy praat van mense in die kerke wat die kerk verlaat het.
Hulle was ‘n hele ruk lidmate gewees, dalk gerespekteerde leiers. Maar hulle
het begin om ‘n verkeerde leer te bring. Leuens pleks van die waarheid.

Hulle het die kerk
verlaat, waarskynlik omdat die apostele hulle leer veroordeel het.

Daarom sê Johannes dat
hierdie mense nie tot hulle behoort nie.

Volgens v. 22 het hulle
ontken dat Jesus die Christus is.

Daarom noem Johannes
hulle ‘antichriste’. Hy beklemtoon dat die menswording van Jesus essensieel is,
onmisbaar vir ons geloof.

Hierdie dwaalleraars
ontken dit. Volgens hulle kan die Seun van God nie mens word nie. Jesus kan nie
teselfdertyd God en mens wees nie. Hy is net ‘n mens.

Dit kan wees dat hulle uit die gnostiek afkomstig was, wat
die goddelike en die aardse as teenstellings beskou het. Of hulle het teruggeval
in die joodse leer en daarom ontken dat ‘n mens soos Jesus die goddelike
Messias, die Christus kon wees.

Die ontkenning dat
Jesus mens geword het en dat hy die Christus is, die redder is wat God gestuur
het, het ingrypende gevolge:

Elkeen wat die Seun loën, het
ook nie die Vader nie. (v. 23)

Luister mooi.

Johannes help ons almal
om te verstaan waaroor dit gaan in die lewe en die werk van Christus.

Dalk kan jy die gawes
wat Jesus vir jou gee, keurig opsom:

·       
Hy bring vergewing; jy
hoef nie meer bang te wees vir die oordeel nie

·       
Hy gee vir jou sy
Heilige Gees

·       
Hy maak jou vry, sodat
jy nie meer ‘n slaaf van die sonde is nie

·       
Hy gee vreugde, maak
jou lewe mooi

·       
Hy vernuwe jou en bring
eer en glorie in jou lewe

·       
Alles wat ons daagliks
nodig het, ontvang ons vanweë hom

·       
Hy berei ‘n plek vir
jou in die hemelse wonings

·       
jy kry ‘n erfdeel op
die nuwe aarde

·       
Hy gee die ewige lewe

·       
Dit hou net nie op nie!
Jesus gee so baie!

Maar wat is nou die
uiteindelike doelwit waaroor dit gaan?

Kyk maar in v. 24-25:

 “As in julle bly wat julle van die begin af
gehoor het, dan sal julle ook in die Seun en in die Vader bly. En dit is die
belofte wat Hy ons beloof het, naamlik die ewige lewe.”

Dit is die groot ding:

Jesus gee vir ons
gemeenskap met sy Vader.

Johannes besef wat op
die spel staan wanneer ons verkeerde leer oor Christus tolereer en aanvaar.

Wat die gelowiges van
die begin af gehoor het, is die onderwys van die apostele oor Christus. Hulle
moet daardie evangelie, die blye nuus wat oor Christus gaan, in hul harte
bewaar en aanhou om dit te glo.

Dan sal hulle in die
Seun van God bly, en deur hom ook in die Vader bly.

In hierdie hoofstuk wys
Johannes wat gebeur wanneer jy begin sleutel aan wat die Bybel oor Jesus leer:  jy verloor Jesus self. Jy verloor die
gemeenskap met die Seun van God.

En omdat sy dood en opstanding
vir jou die deur na sy Vader oopmaak, verloor jy ook die gemeenskap met die
Vader wanneer jy verwerp wat die Bybel oor Jesus leer.

Dit klink baie
ongeskik, om daardie leraars ‘antichriste’ te noem. Is dit nie te sterk woorde
nie?

Dit gaan hier nie oor
versigtige vrae wat hulle vra nie.

Of oor verskille oor
uitleg oor bv die 1000-jarige ryk of die vrouestemreg nie.

Die ‘antichriste “loën
die Vader en die Seun” (v. 23) Dit is ‘n bewuste ontkenning van wat die 13
apostele (Paulus ingesluit) vir al die kerke duidelik en eenstemmig geleer het.

1.2      
Hoe kan jy die gemeenskap met God bewaar?

God wil vir ons wys wat
Jesus alles vir ons beteken.

Hoeveel hy vir ons wil
gee: nie net dinge nie, maar hy gee homself!

Die gemeenskap met die
Vader en die Seun is tog die mooiste, die mees kosbare gawe van God?

Daarom sal elke
christen tog seker belangstel om te weet wat díe gemeenskap kan bevorder, en
wat dit kan ondermyn.

Johannes skryf hierdie
brief nou juis met die doel dat ons gemeenskap met God nie verbreek word nie.
Daarom wys hy die gevare aan: dwaalleer wat die basis van die christelike
geloof ontken, bring daardie gemeenskap met God in gevaar.

Daar staan dus baie op
die spel.

Jy sien ook in die
geskiedenis van die kerk dat daar gereëld dwalings was, wat die kerk aangetas
het.

Hoe beskerm ons onsself
teen hierdie aanvalle?

1.3      
Ons het die wapen reeds ontvang

Nou het ons ‘n goeie
beeld van die situasie waarin Johannes die woorde geskryf het.

Vanaf v. 20 reik
Johannes die wapen aan om in hierdie geestelike stryd staande te kan bly.

Johannes roep ons op om
te onthou dat ons die salwing van die Heilige het en alles weet.

Die wapen waarmee ons
ons kan verdedig, het God dus al klaar vir ons gegee.

‘n Salwing – wat is
dit?

Ek dink baie kinders
sal voorbeelde kan gee van mense uit die Bybelse geskiedenis wat gesalf is:

Die bekendste is seker
David. Samuel het hom tot koning gesalf toe hy nog ‘n jong seun was. Hy was toe
nog nie dadelik koning nie; hy het nog jare moet wag en baie lyding moet
ondergaan voordat Israel hom tot koning gekroon het.

Maar daar het wel
dadelik iets verander:

die Gees van die Here het van dié dag af en verder oor
Dawid vaardig geword.  (1
Sam16:13) (of: kragtig in hom gewerk)

Die salwing is dus ‘n sigbare
teken dat die Heilige Gees in die koning / priester / profeet gaan woon het en
hom beheers het.

Die mees bekende
persoon wat met die Heilige Gees gesalf is, is Jesus self.

Lukas skryf in Hd
10:38:

“Julle weet van Jesus van
Nasaret, dat God Hom met die Heilige Gees gesalf en met krag toegerus het. Hy
het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag
van die duiwel was, want God was by Hom.”

Jesus is (oa deur die
werk van die Gees in hom) die Heilige wat nou self die Heilige Gees uitdeel.
Dit is die salwing wat al die gelowiges ontvang.

Wat in die Ou Testament
tot konings, priesters en profete beperk was, is na Jesus se koms tot al die
gelowiges uitgebrei.

1.4      
Effek

Het jy al gedink oor
wat dit beteken?

Wat kan jy van die
salwing met die Heilige Gees verwag?

Johannes voeg in een
asem daaraan toe:

“Julle weet alles”. Jongmense
wat nie lus is om voorstudie te doen vir ‘n bybelstudieaand, sal seker van
hierdie teks hou!

Maar jy kan leer van
mense wat in die geskiedenis al eerder hiermee weggehardloop het.

Die ‘Quakers’ het die inwendige
lig beklemtoon en gesê: ‘ons ontvang regstreekse openbarings van God’, nes die apostele
geïnspireer was

Hulle het dus ook beweer
dat hulle nie foute kon maak nie.

Die gevolg was ook dat
hulle subjektief geword het. Die (objektiewe) Woord van God het hulle aan die
kant geskuif, en alles met hul sgn. ‘geestelike’ (subjektiewe) maatstawwe
beoordeel.

1.5      
‘Julle weet alles’

Klink dit aantrekkelik?

Ons sal moet erken dat
dit nie reg kán wees nie.

Indien dit so is, sou
al die christene in die wêreld tog oor alles moet saamstem? Hoekom kan daar
soveel verskillende sienings onder christene bestaan?

Johannes sê inderdaad
‘julle ken die waarheid.’

Maar ons moet mooi kyk
hoe hulle dit ontvang het, en wat daardie waarheid presies is.

In v. 24 verwys
Johannes na ‘wat julle van die begin af gehoor het’.

Die salwing is dus nou
verbonde aan die verkondiging van die evangelie van Christus, wat daardie
christene toe van die apostele gehoor het. Die apostele was deur die Heilige
Gees geïnspireer om die waarheid oor Christus te vertel.

Hierdie evangelie het
krag gehad om mense volledig om te keer. Dit is die krag van die Heilige Gees
wat deur die Woord werk. Hy is mos self die outeur van die Woord, en het op ‘n
besonderse manier in die dissipels gewerk sodat hulle alles wat Jesus gesê en
gedoen het, kon onthou en verstaan. Nie verniet word hulle die fondament van
die kerk genoem.

Die eerste christene
het die waarheid dus nie regstreeks van die Heilige Gees ontvang nie, maar uit
die tweede hand, van die apostele.

En verder het christene
dit ook nie sonder sondes en foute bewaar nie.

Die apostele moes
briewe skryf om hulle te herinner aan daardie grondleggende onderrig, die
evangelie van Christus.

Die Nuwe Testament wys
duidelik dat gelowiges wat die Heilige Gees ontvang het, nie volmaak was nie,
maar nodig gehad het om verder te groei in kennis en liefde.

Wanneer Johannes skryf
‘julle het nie nodig dat iemand julle leer nie’, kan hy dan ook nie bedoel dat
hulle glad nie onderrig benodig nie. Hy skryf tog hierdie brief vir hulle omdat
daar dinge is wat hulle nie verstaan nie?

Hy het in hs 1:1-3
duidelik gestel waaroor dit gaan:

WAT van die begin af was, wat
ons gehoor het, wat ons met ons oë gesien het, wat ons aanskou het en ons hande
getas het aangaande die Woord van die lewe

en die lewe is geopenbaar, en
ons het dit gesien, en ons getuig en verkondig aan julle die ewige lewe wat by
die Vader was en aan ons geopenbaar is —

wat ons gesien en gehoor het,
verkondig ons aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons
gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

Die evangelie is die
Woord van die lewe: Christus.

Hulle ken Christus
persoonlijk: hulle het hom self gesien, gehoor, en aangeraak.

Hulle weet wat hy vir
elke gelowige beteken.

In hs 2 praat Johannes
dan oor die dwaalleraars, wat hierdie basiese onderrig oor Christus aanval en
die gemeenskap met hom in gevaar bring.

Christene wat die
evangelie van die apostele ontvang en aanvaar het, behoort nie oop te wees vir enige
nuwe idee oor Christus nie.

Wanneer leraars met
ander idees kom, soos ‘Jesus was nie regtig ‘n mens nie; nee, hy het nie twee
nature in een persoon gehad nie.’Of: ‘Jesus het nie in ons plek gesterf nie. Hy
is ‘n voorbeeld van ‘n goeie mens.’ behoort gelowiges raak te sien dat die kern
van die geloof aangeval word.

Christene het nie nodig
om die basics oor Christus van ander te hoor nie, ons weet dit mos al!

Daarom moet jy nie so
entoesiasties en oop wees om allerhande nuwe teorië oor Jesus te hoor nie.

Dit is goed om boeke te
lees om jou kennis te verdiep. Dit is nodig.

Die doel daarvan en van
jou lees en bestudeer van die Bybel, is dat jy volwasse  raak in die geloof.

Hierdeur groei jou onderskeidingsvermoë.

Daarmee kan jy
onderskei of iemand jou help om Jesus verder te verstaan, of ‘n alternatiewe
leer oor Christus bring.

Moenie naïef wees nie,
maar onthou wat jy oor Jesus geleer het. Dit is op ‘n betroubare manier aan jou
gegee, dmv die apostele wat deur die Heilige Gees gebruik is.

Jy het  die salwing, die inwoning en die werk van die
Heilige Gees ontvang.

Dit is jou wapen teen
dwaalleer wat jou van Christus af wegvoer.

1.6      
Ampsdraers?

Nou kyk ons weer
rigting die ampsdraers. Hoekom het ons hulle nodig wanneer Johannes sê dat ons
alles weet?

In die tyd van die
apostele reeds het God die leiding van die gemeentes aan die ouderlinge (dit
sluit predikante in) oorgegee.

Hulle taak is die apostoliese
onderrig self te bestudeer en na te leef, en vervolgens die ander lidmate
daarmee te dien.

Dit gaan oor die
evangelie van Christus, wat vanaf die tyd van die apostele onveranderd gebly
het. Elke gelowige is verplig om hulle daaraan te onderwerp. Om daarmee besig
te bly.

Die ouderlinge is vir
jou gegee om jou te help om te groei!

Moenie trots wees nie
en dink dat jy soveel kennis het dat jy geen onderrig meer nodig het nie.

Inteendeel, gelowiges
is leerlinge van Christus, is nederig, en besef dat hulle verder moet groei, en
is oop vir onderrig. Hulle besef dat hulle nodig het om die Woord van Christus
al maar weer te hoor en dieper te verstaan.

Wanneer jy jouself aan
die Bybelse onderrig van die ouderlinge onderwerp, sal jy groei in insig,
geloof en liefde.

Die wat mag stem, kan
dus maar vandag met dankbaarheid nuwe ouderlinge verkies. Dit is gawes van
Christus om jou te help om na aan hom te bly.

2         
Dit bewaar jou teen passiwiteit

2.1      
Kyk na ouderlinge, predikante, diakens
op die regte manier

Hoe gaan ons nuwe
ouderlinge ontvang?

Ons moenie wees soos
die Quakers nie, en dink ons het genoeg aan die innerlike lig.

Die salwing van die
Heilige maak ons nie onafhanklik nie.

 

Daarom kan ons bly wees
dat ons Heer vir ons ampsdraers gee. Wat ‘n seën wanneer die gemeente gelei
word deur ampsdraers wat trou is aan Christus!

Wanneer jy dit aanvaar,
watter rol kan hulle in jou lewe speel?

Jy gaan hulle waardeer
en hulle leiding volg.

Maar jy moet ook daarteen
waak dat jy die ouderlinge oorskat en jou salwing onderskat.

Moenie hulle belang en
werk nie só beklemtoon dat jy die werk van die Heilige Gees in jouself onderwaardeer.

Dit gebeur

·       
wanneer jy dink daar is
altyd ‘n predikant of ouderling nodig om die Bybel vir jou uit te lê. – nee, jy
kan self groei in jou verstaan van die Bybel!

·       
Of wanneer jy nie durf
bid nie, maar

·       
wanneer jy self nie
boeke lees nie, maar afhanklik is van die kennis en oordeel van ander

·       
wanneer jy bang is om
inisiatiewe te neem in die gemeente. Asof die kerkraad enige ding moet goedkeur
voordat dit mag gebeur.

Ons het almal die
salwing ontvang. Die Gees van Christus woon in jou. Hy laat jou groei deur die
diens van die ampsdraers. Maar hy werk nie net wanneer die ampsdraers aanwesig
is nie.

Die rol van ampsdraers
is nie om jou afhanklik te maak nie, maar om jou toe te rus.

Soos Paulus in Efese 4,12-13
sê:

“En Hy het gegee sommige as
apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars,

om die heiliges toe te rus vir
hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus,

totdat ons almal kom tot die
eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse
man, tot die mate van die volle grootte van Christus;”

Die ampsdraers se werk
is om almal hier voor te berei en toe te rus, sodat ons almal self ons
dienswerk kan uitvoer wat God ons roep om te doen.

Los daarom die take wat
Jesus vir jou gee, nie vir die ampsdraers nie.

Jy is geroep om te dien
en jou taak in die gemeente te verrig.

Jou salwing beteken dat
jy jouself soos ‘n priester aan die Here toewy.

Jou salwing

Johannes wys jou op die
salwing wat Christus jou gegee het om jou te bewapen teen aanvalle op jou
geloof. So beskerm hy jou gemeenskap met Christus en die Vader.

Die gemeenskap mag
dieper word wanneer die ampsdraers jou meer laat verstaan van wat Jesus vir jou
beteken.

Maar staan dan ook jou
plek vol as ‘n gesalfde, in diens van die Here.

Die Gees bly in jou en
werk in jou. Vertrou op hom!

 

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)