Christus die Lewende gee aan sy gemeente vrymoedigheid om die Woord teen alle dreiging te spreek

Predikant: 
Ds Hannes Breytenbach
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2015-11-29
Teks: 
Handelinge 4 : 1-31
Preek Inhoud: 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus

In Handelinge volg ons die gang van Jesus Christus met sy Evangelie van Jerusalem na Samaria en van Samaria  na Antiogië en van Antiogië na Klein Asië en van Klein Asië na Rome in Europa.

In die hoofstuk wat ons teks voorafgaan, is Jesus Christus geopenbaar as die lewende wat op aarde die koninkryk van God gebring het en wat nou na sy hemelvaart voortgaan met sy werk op  aarde, nou vanuit die hemel, en wat tekens oprig van God se volmaakte koninkryk, nou deur sy apostels te gebruik.

Daar was in Jerusalem die  herders van die ou tyd af: die owerstes en die ouderlinge en die skrifgeleerdes wat die volk  op ‘n dwaalweg gelei het en Jesus Christus afgewys het as die gestuurde Seun van God. Daar was in Jerusalem ook die begin van ‘n gemeenskap, die volk uit alle volke en tale en nasies met sy wortels in die Ou Testament, aan wie Christus geloof gegee het om in Hom te glo, gelei deur die herders wat Christus gegee het, die apostels. Die skeiding was nog nie so duidelik sigbaar nie. Die apostels het byvoorbeeld spesifieke tye opgegaan om in die tempel God te aanbid.

In ons teks word hierdie skeiding egter duidelik en is die begin van die voltrekking daar – by die vraag na wat jy het aan Jesus Christus, spesifiek Hom as die enigste in wie die saligheid is. Dit is duidelik uit ons teks: Jesus Christus gaan voort met sy werk op aarde, en gaan voort om sy kerk van alle tye te bymekaar te maak. Hy is die enigste een in wie die saligheid is. Hy gee aan mense wat van nature angstig en halfhartig is die vrymoedigheid om sy Naam te bely en getuienis oor Hom te lewer en so diensbaar aan Hom te wees. En soos die gemeente destyds bid ons voortdurend om diensbaar te wees en vrymoedig die Woord uit te dra en ons mag verseker weet dat God Homself hiervoor insit om ons die vrymoedigheid te gee.

Die Heilige Gees werk hierdie vrymoedigheid in ons. Hy, die gestuurde van die Vader en die Seun, openbaar Jesus Christus aan Jerusalem want Hy werk in Petrus en Johannes en in die kreupelman die geloof, want die genesing vestig alle oë op Christus. Petrus in sy toespraak verklaar dat dit die werk van God is. Ons lees wanneer Petrus hoofstuk 4 die owerstes van die volk aanspreek, dat Hy vervul is met die Heilige Gees. En in 4:31 lees ons dat die aanbiddingsplek geskud is waar die gelowiges saam tot God gebid het. ‘n Teken van God se werk in die laaste dae wat uitloop op die dag wanneer hemel en aarde weer geskud sal word. Wanneer God sy volk ontmoet. Eks 19:18. Die Heilige Gees het die gelowiges vervul en hulle kon die Woord met vrymoedigheid spreek.

Wat ons in ons teksgedelte sien is die stryd, en die vervolging deur die Joodse Raad van die apostels.  Die stryd tussen die herders  wat nie vir Jesus van Nasaret erken nie en die herders  wat die Naam van Jesus van Nasaret, die Here wat opgestaan het verkondig.

Dit bring die vraag na die amp van die ouderling in ons moderne samelewing na vore. Die wyse waarop die ouderling in die huise die lewende Christus presenteer, en die wyse waarop die gelowiges luister stempel die vrymoedigheid of die gebrek daaraan wat daar in die gemeente oor die evangelie bestaan.

Tema: Christus die Lewende gee aan sy gemeente vrymoedigheid om die Woord teen alle dreiging te spreek

  1. Die Lewende Heer gee lewe aan ‘n kreupelman en bewys dat Hy sy werk vir sy volk voortsit

Op Pinksterdag het drieduisend mense in Jerusalem tot geloof gekom.

Na die genesing van die kreupel man en die onderrig uit die Woord het die getal toegeneem tot vyfduidend man.

Jesus Christus het die koninkryk van God op aarde opgerig. Die heerskapppy van die koninkryk kom vestig. As tekens van die koninkryk  het Hy wonders gedoen. En nou sit Hy hierdie werk voort deur sy gestuurdes, die apostels. Die werk van Jesus op aarde voor en na sy kruisdood, opstanding en hemelvaart sit hy nou in die bedeling van die Heilige Gees voort, want die Gees is daarop uit om die heerlikheid van Christus openbaar te maak. Christus maak alles nuut, nadat  Hy die ellende, en die sonde, sonder angel gemaak het. Die herders van die volk van God  (owerstes, ouderlinge) sien in Christus ‘n bedreiging. Die gestuurdes of herders van Christus, Petrus en Johannes verkondig dat die volk maar een naam nodig het om gered te word en dit is juis die naam van Jesus Christus wat opgestaan het. Die geneesde man is ‘n lewende bewys van die kragtige Woord van die Lewe, ‘n kragtige bewys van die werk van die Lewende. Petrus verbind hierdie wonder direk aan Christus wat opgestaan het volgens die Skrifte en die Raad van God. Hiervan is die apostels oor en ooggetuies.

Terwyl Petrus die gemeente leer, kom die priesters en hoofman van die tempel en die Saduseers daar  en is ontevrede dat Petrus leer dat Jesus Christus uit die dood opgestaan het. Die apostels het die kreupel man in die Naam van Jesus van Nasaret gesond gemaak en so het Petrus hierdie Jesus wat sy werk op aarde so voortsit kragtig verkondig. Hierdie kragtige getuienis aangaande Jesus dra vrug. Aan die een kant kom daar uitermate groei van die gemeente – aan die ander kant wek dit hierdie weerstand van die Joodse Raad. Ook in die weerstand teen die evangelie sien ons die getuienis se vrugte. Of daar is geloof op die getuienis aaangaande Jesus, of daar is ongeloof en verharding en teenstand. 

Die raad sit die apostels in die gevangenis vir die nag, kom die volgende dag bymekaar en daag die apostels voor hulle en begin die ondervraging: deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen? Asof die apostels ‘n bedreiging vir God se volk is met hierdie getuienis wat hulle bring.

 

En dan bring Petrus vol van die Heilige Gees, vol van vertroue op die Here die waarheid. Hulle bedreig niemand nie, hulle het ‘n weldaad gedoen aan ‘n siek man, hulle doen ‘n weldaad deur Jesus van Nasaret te verkondig. In die Naam van Jesus Christus die Nasarener het hulle dit gedoen. Dit beteken die Jesus wat hulle verkondig, het dit gedoen. Die Raad was daarvoor verantwoordelik dat hy gekruisig is, hulle het gereken een man moet vir die volk sterf en dan is hulle klaar met Hom maar Hy wat gekruisig is deur hulle, is deur God uit die dode opgewek. Hulle is dus nie ontslae van Hom nie want God het Hom opgewek, Hy lewe, Hy het hierdie man sy gesondheid gegee. Hulle het Hom verag maar Hy het die veragte man oorgemaak, nuutgemaak, ‘n nuwe lewe gegee. Hulle het Hom verag maar Hy het sy veragte, in sonde gevalle volk kom red. Petrus sê met groot oortuiging vers 12  En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.

En dan sien ons die verdere effek. By die raad. Toe hulle die vrymoedigheid/openhartigheid/vertroue van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken.

Die apostels het ‘n besondere amp gehad.

Om te getuig, te onderrig aangaande die lewende Jesus Christus.

Dit is die basis van die amp van elke gelowige.

Dit is die basis van alle ampswerk in die kerk.

Want elkeen, die hele wereld moet hoor van God se werk deur Jesus Christus, en dat Hy opgestaan het en leef.

Mense moet tot erkenning kom dat daar slegs een weg is waardeur sondaars gered word.

Is die lewende teenwoordigheid van Christus vandag in sy gemeente deur sy Woord en Gees, in sy kerk, en in elkeen van ons se lewe, vir ons een te veel? Sien ons dag vir dag sy werk in ons lewens? Volg ons deur Hom God se leiding in ons lewe? Staan dit reg teenoor, krities, medelydend vraend teenoor  die samelewing waarvan ons deel is? Vanuit die versekering dat Hy vandag net soveel   in ons midde teenwoordig is as toe Hy op aarde was as toe Hy gebore was uit Maria.

  1. Die Lewende Heer maak sy dissipels vrymoedig om Hom te verkondig as die een in wie die saligheid is

Die tempelwag het die apostels in die gevangenis gesit sodat hulle die volgende oggend verhoor kan word.

Die Saduseers was verontwaardig omdat die apostels in die tempel onderrig gee. Volgens hulle beskouing is die apostels onbevoeg om te leer. Maar hulle word ook afgewys omdat hulle die opstanding uit die dood leer en dan nog spesifiek ten opsigte van Christus. Die Saduseers het die opstanding afgewys.

Wanneer die apostels die volgende dag voor die Joodse Raad gebring word, word aan hulle gevra deur watter mag en deur watter naam hulle die volk leer. Eintlik: op wie se gesag het julle dit gedoen? En wie dink julle is julle? Hulle matig hulle aan om voor te gee dat hulle op God se gesag handel. En dit ontken die Joodse Raad.

Petrus begin met die verwysing na die daad van genesing, ‘n weldaad, en bring dit lynreg by die opgestane Here Jesus Christus. 10,11. Petrus wat twee maande gelede teenoor die diensmeisie Jesus verloën het, het nou genoeg vrymoedigheid om van Christus te getuig voor die Joodse Raad.

Die klem lê hier dat God die daad van oorlewering van Jesus omgekeer het deur die dood en opstanding van Christus. Die veragte klip is deur God ‘n hoeksteen gemaak.

Die Jode het Hom gekruisig, daarteenoor het God Hom opgewek. Die Jode dink die saak Jesus Christus is afgehandel, maar God het juis hierdie saak op die agenda. Daarom moet hulle hulle bekeer. Die regters word nou aangekla deur die twee gestuurdes van Jesus Chistus op die troon. Met verwysing na Psalm 118:22 word die bouers – dit is die leiers van die volk - vermaan dat hulle juis die hoeksteen wat die gebou moet regop en in een stuk moet hou, weggegooi het. En dit is Jesus Christus. Hulle het Hom verag. In Christus word alles vir die mense gegee. Daar is niemand anders deur wie ons gered kan word nie. Daar is maar een naam tot redding: Jesus Christus.12. En so word mense omgekeer, vrymoedig gemaak.

Vir ‘n kerkraad  is dit so belangrik: die opbou van die gemeente en van die huisgesinne staan of val by die geloof in Jesus Christus. Is Hy vir die gemeente die hoeksteen waarop die hele gebou goed saamgevoeg word? Is Hy die hoof? Is Hy die Heer wat sy leerlinge leer? Indien ons ons oog van Christus afhaal en ander dinge najaag verdwaal ons. Ons kan allerlei gemeente opbouprogramme hê maar indien ons nie rekening hou met Christus nie, is alles ‘n leë dop of ‘n sandkasteel. Ons krag is in die opgestane Here Jesus Christus en die orde in ons lewens en in ons gesinne  is afhanklik daarvan of Hy die hoeksteen is.

Die owerstes en ouderlinge van Israel was verwonderd dat Petrus en Johannes wat hulle kon herken as eenvoudige en ongeleerde metgeselle van Jesus, so vrymoedig was.

Gemeente, sien ons samelewing ons as vrymoedige metgeselle, van Jesus Christus, mense wat in ‘n lewende verhouding met Hom staan? Sien hulle dat Christus ons Saligmaker  is en dat ons ons deur Hom laat lei en dat ons leef uit hoop op sy opstandingskrag? Ons lewe in Christus is ‘n duidelike antwoord teen elke aspek van die ontkerstening van die wereld waarin ons leef. Ons lewe in Christus onderskei ons van die wereld in wat ons doen en sê, in wat ons dink en begeer, en in ons styl van lewe.

Die Joodse Raad het tipies ‘n eiegeregtige oplossing gesoek. Hulle weet  die gebeure van die genesing sal bekend raak onder die inwoners van Jerusalem. Daarom moet hulle nou die apostels verbied om verder in die Naam van Jesus te spreek of te leer. Hierdie kragtige beweging moet onderdruk word. Hulle het dus die apostels gedreig. 17 en verder.

Die apostels het egter begryp hoe pas hulle in in God se werk in Christus. Want luister na die antwoord van Petrus toe die Raad hulle beveel om nie meer in die Naam van Jesus met enige iemand te spreek nie en hulle bevel gee om nie in die Naam van Jesus te leer nie.

Petrus en Johannes vers 19: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis, want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie. Sien u hulle openhartigheid, vanuit die kennis dat Jesus wat die Joodse Raad vir dood agtergelaat het, deur God opgewek is en dat Hy lewe en werk in sy kinders.

Ken jy God se doel, 10,11,12…………., sy regsaak met Israel en met die nasies, sy geregtigheid wat in Christus seevier,  dan kry jy evangeliese perspektief, jy het insig in God se doel met die wereld en hoe Hy jou daarvoor gebruik. Vertrou ons die Gees wat dit uitvoer, hou ons vas aan die belofte van die Woord, dan kan ons met ‘n oop hart praat, woorde uit die hart praat, vrymoedig praat, met geloofsmoed praat. Dan is jy geloofwaardig vir die gelowiges en in jou gedrag onberispelik voor die teenstaanders van die Naam van Jesus, al wek die Naam alle teenstand by die teenstaanders op.

Met dreiging sou die owerstes  in selftevredenheid en in opgeblasenheid die volk onder hulle magsheerskappy hou. Maar hulle het misluk. Die nuus van die genesing en die leer aangaande Christus was uit. Niks kan die werk van die Gees keer nie. Niks kan die opgestane Heer terug hou nie. God is verheerlik oor wat gebeur het met hierdie man van oor die veertig wat sy lewe lank kreupel was.

Die Gees gee die apostels vrymoedigheid vanuit die sekerheid van die saligheid en die opstanding in Christus.  Vanuit hulle oorgawe aan die opgestane Christus. Christus maak hulle vry van verlammende vrees vir dreiging en gevaar. Die apostels is openhartig: die raad moet maar   self ‘n oordeel fel oor die apostels se gehoorsaamheid aan God, maar vir hulle is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat hulle gesien en gehoor het nie. Ja om te praat van wat jy gesien en gehoor het, is om na die Gees van God te luister, om aan Hom gehoorsaam te wees, deur Hom beheers te wees. Hoe kan dit anders?

  1. Die Lewende Heer verhoor die gebed van sy gemeente vir die voortgang van sy werk

Die dissipels is vrygelaat en hulle het na die gelowiges gegaan, en alles gaan vertel wat die owerpriesters en ouderlinge aan hulle gesê het. En toe het almal eendragtig tot God gebid, 24 – 30

Hulle begin nie met vergadering hou en hulle kanse te bereken en planne te maak nie. NEE hulle sien van hulle self af en neem die toevlug tot God die skepper van hemel en aarde, die almagtige. Hulle beoordeel in hulle gebed die situasie, die omstandighede waarin die Here hulle gebring het, en hulle doen dit in die lig van die Evangelie.

 

Die gebed is nie triomferend nie. Maar ‘n gebed vir krag en sterkte, om onder teenstand te volhard en diensbaar te wees. Soos in Psalm 2 geprofeteer. Die nasies en konings staan op teen God en sy gesalfde, Jesus Christus. En die verwysing in die gebed na Herodes en Pontius Pilatus wat vergader het teen Jesus maak dit duidelik dat hulle bid vanuit die wete dat hulle net soos hulle Heiland aangeval word en teengestaan word. Maar hulle bid nie vir die oorwinning oor die bose magte en die goddelose wat teen hulle aanstorm nie. Of vir hulle eie veiligheid nie, maar vir vrymoedigheid, volharding, met God wat hulle in hulle getuienis vergesel met sy wonders en tekens wat deur die Naam van die heilige Kind Jesus plaasvind. Hulle sien hulle binne die stryd en deelnemers aan die stryd van God met die nasies, ‘n regsgeding, waarin dit God behaag om die getuienis van sy gestuurdes te gebruik in die werk van die Gees. Sodat die Skepper van alles en sy Seun Jesus Christus die enigste is in wie die saligheid is, verheerlik word as die enigste wat lof verdien.

Hulle gebruik in hulle gebed die begin van Psalm 2, ‘n Psalm van Dawid. Psalm 2 begin met ‘n vraag waarop die antwoord heeltemaal duidelik is. Waarom gaan die heidene so te kere? Dit is tog heeltemaal sinloos? Hulle het saamgespan om in opstand teen God te kom. Die konings van die aarde keer hulle teen die Here en sy Gesalfde, teen Jesus Christus dus. Teen die Here en sy heilige kneg wat sy gesalfde koning is en onlosmaaklik aan Hom gebonde is.

In die gemeente se gebed word die vyande aangewys. Israel staan saam met die heidense nasies as ‘n vyand van die Here. Hulle het hulle net soos die nasies teenoor die Here en sy gesalfde opgestel. Omdat hulle nie sy gesalfde erken nie, is hulle vyande van die Here.

Maar soos dit altyd met die vyande van die Here gaan, doen hulle teen wil en dank presies wat die Here wil. Wanneer die twee apostels hulle in die hande van die vyande bevind, is die vyande instrumente in die hand van God om sy wil, sy raad uit te voer. Want gemeente die raad van God is waarvolgens alles verloop en gebeur. Die plan van God is groter as die planne van God se kinders maar ook groter as die planne van sy vyande. Die Here wat sy plan opgeteken het in die Skrifte beheers die geskiedenis van die wereld en die geskiedenis van sy kerk.

Die gelowiges vra die Here se hulp op die dreigemente wat teenoor die apostels uitgespreek is. Hulle vra nie dat Hy die dreigemente en die vervolging wegneem nie, let goed op. Hulle sal vervolg word. Nee hulle vra juis om openhartigheid, vrymoedigheid, vertrouend op die Here om hulle opdrag, die verkondiging van God se meesterplan te kan uitvoer, voort te gaan om te getuig. Die openhartigheid ontvang hulle as die Here sy hand uitstrek, as die Here sy krag toon in wonders en tekens wat die gesag van Jesus bevestig, as hulle hou aan Christus die Heer van wie hulle getuig.

God wat die aarde gemaak het, wat troon oor alle owerhede en magte, bly nie onbeweeg deur hierdie gebed van sy kinders nie. Hy beweeg die aarde vir hulle. Hy antwoord die gebed. ‘n Antwoord wat alleen Hy die almagtige skepper kan gee. Met sy krag is Hy aan die kant van die gemeente. Hy laat sy krag voel en sien waar sy gemeente vergader is, hy laat die aarde skud sodat sy kinders geborge kan wees en die teenstaanders kan skrik. Hy ontmoet sy gemeente, Hy verseker hulle van sy bewoë teenwoordigheid en betrokkenheid, soos dit by Sinai was en soos op die laaste dag sal wees.

En hy gee sy Gees om hulle te hulp te kom vir die stryd wat hulle moet voer met die swaard van die Gees, dit is die Woord van God. Hulle word vervul met die Heilige Gees om die Woord van God teen alle verdrukking in te spreek. Wat ‘n troos vir ‘n swak en behoeftige gemeente.

Gemeente hoe bid ons? Waarvoor vra ons? Ons teks druk ons op die hart om vrymoedig, openhartig die Woord te spreek, die evangelie te vertel, God se plan, sy sending om die wereld te red, uit te saai. Deur God se plan, sy doel met die wereld, het ook ons genade ontvang, deurdat ons deel kry aan Jesus Christus en sy redding van ons. Dit beteken juis onder omstandighede van vyandskap, beproewing, vervolging, ons vanuit ons deelhê aan Christus ten spyte van die omstandighede, ons kan sien en ervaar God se werk in ons lewens. En nie daaroor stilbly nie.  Daar is geen ander Naam waardeur sondaars gered kan word nie as die Naam van Jesus Christus van Nasaret nie. Sien u die barmhartige Vader? As Hy vir u los met u eie planne, dan sal u die redding nie by Jesus soek nie. Maar die apostels verkondig dat die redding alleen van die Naam van Jesus van Nasaret is. Sy naam kan jy nie verswyg nie, sodat baie hoor en die wat glo gered word en God dank.

In ‘n situasie van kerkwees in ‘n sekulere samelewing word die grense van die kerk van Christus steeds getrek  deur die geloof  in Jesus Christus as die Lewende in wie die saligheid is.  In die tyd van die horisontalistiese samelewing met sy eiesinnige godsdiens, is die bemoediging en toerusting van die gelowiges om vanuit hulle verhouding met die Lewende Christus die ongeloof en leuens openlik, spesifiek, punt vir punt aan te spreek, onontbeerlik vir die voortgang van die skriftuurlike geloof.  Die gelowiges is elke dag op die voortpunt van die stryd om God se eer en hulle  volharding in heiligmaking.

Amen

Liturgie: 

Skriflesing
Lees Psalm 2
Teks
Hand 4:1-31
Preek