Inleiding tot Nederlandse Geloofsbelydenis preke

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-01-11
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 000
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
11 Januarie 2015 AD, 17:30

Votum

Seën

Ps 9:6,7

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 10:24-42

Ps 22:9,11

Teks: lees NGB art. 1 & 30

Preek

Ps 91:5,7

Gebed                     

Geloofsbelydenis (Athanasius)

Ps 63:6

Kollekte

Sb 7:1,4,5

Seën

Preek: Nederlandse
Geloofsbelydenis (inleiding)

Verlede jaar en die jaar daarvoor
het ek op gereelde basis uit die Heidelbergse Kategismus gepreek.

Die Heidelbergse Kategismus is
een van die kerk se belydenisgeskrifte.

As mens dit korrek wil sê, moet
mens eintlik nie sê dat daar uit die Kategismus gepreek word nie, al verstaan
mens die bedoeling.

Meer korrek – al is dit dan
omslagtiger – sou wees om te sê dat die Heidelbergse Kategismus die onderwerp
verskaf waaroor gepreek word.

Die onderwerp is ‘n tema wat uit
die Bybel kom.

Soos byvoorbeeld die Drieëenheid,
of die doop, of die Onse Vader, ensovoorts.

Al wat die Kategismus doen, is om
die totale Bybelse onderrig oor ‘n spesifieke tema saam te vat.

Wannneer daar dan ‘uit die
Kategismus’ gepreek word, kom die tema’s uit die Skrif aan die orde.

Dit is belangrik dat daar aan die
hand van die Kategismus gepreek word, want so word eensydigheid voorkom.

Sê nou maar byvoorbeeld ‘n
predikant het persoonlike probleme met die leer van die Drieëenheid.

Dan sou dit kon gebeur dat die
gemeente nooit ‘n preek daaroor te hore kry nie, waardeur die predikant se
eensydigheid ook die gemeente se eensydigheid word.

Nou is dit ‘n feit dat nie alle
Bybelse tema’s in die Heidelbergse Kategismus aan die orde kom nie.

Baie van die tema’s wat ons
daarin vind, was relevant en kontroversieel in die tyd toe die Kategismus
geskryf is.

In die ander belydenisgeskrifte
vind ons ook ander tema’s uit die Skrif.

Soos fokus die Dordtse Leerreëls
op die uitverkiesing, iets wat in die Heidelbergse Kategismus prakties gesproke
geen aandag kry nie.

Die tema’s wat in die Nederlandse
Geloofsbelydenis aan die orde kom, stem gedeeltelik ooreen met die Kategismus,
al is daar ook verskille.

Die Kategismus skenk byvoorbeeld
uitvoerig aandag aan die tien gebooie, en die Onse Vader.

Dit gebeur nie in die NGB nie.

Wel is daar ander onderwerpe in
die NGB, waarop die Kategismus nie fokus nie of baie minder.

Byvoorbeeld die ampte in die
kerk.

En aandag vir die kanonieke en
apokriewe boeke.

En byvoorbeeld die eskatologie,
die leer oor die toekomstige dinge.

 

Die kerkraad ag dit belangrik dat
die gemeente ook ‘n goeie kennis van die NGB het, en verwag daarom ook van sy
predikante om van tyd tot tyd uit die NGB te preek.

So kom die Bybelse tema’s wat
daarin aandag ontvang, ook in die prediking na vore, en leer die gemeente
sodoende nog meer die volle openbaring van die Skrif ken.

Dit is belangrik dat ons as
gemeentelede ‘n lewendige kennis van die kerk se belydenisgeskrifte het.

Dit mag nie so word dat die belydenisgeskrifte
êrens op ‘n boekrak staan as die kerk se amptelike dokumente, terwyl die
lidmate nie weet wat daarin staan nie.

Toe ek in die jare negentig by
die universiteit begin studeer het, het ek saam met ander studente klas geloop
wat ook teologie studeer het, byvoorbeeld uit die NG Kerk of die NH Kerk.

Dit het my verbaas dat
verskillende van hulle nie ‘n idee gehad het wat hulle kerk se belydenisskrifte
was nie, laat staan wat die inhoud daarvan was.

Dit was jong volwasse mense wat
al ‘aangeneem was’, oftewel al belydenis gedoen het in hulle kerk.

Die belydenisskrifte van die kerk
is wel lank gelede geskryf, maar die inhoud daarvan – juis omdat hulle die
Bybelse tema’s behandel – is nog steeds baie aktueel.

Hierdie jaar hoop ek dus uit die
NGB te preek.

Weer eens, om dit meer korrek te
sê: te preek oor die Bybelse tema’s wat die NGB behandel.

Soos bv. art. 1: dat daar ‘n
enige God is.

En art. 2: oor die geskrewe Woord
van God.

En art. 15: oor die erfsonde.

Ensovoorts.

As reël wil ek probeer – moontlik
dat daar hier en daar ‘n uitsondering sal wees – om dit tydens die aanddienste
te doen, as egte leerdienste.

Vanaand begin ons nog nie met ‘n
artikel nie, maar gee ek bietjie aandag aan die ontstaan en agtergrond van die
NGB.

Wie het die NGB geskryf?

Hoe het dit gebeur dat dit ‘n
kerklike belydenisgeskrif geword het?

En ook die vraag: is dit wel
nodig dat die kerk belydenisgeskrifte moet hê?

Is daar nie ‘n gevaar dat die
belydenisskrifte te veel aandag kry, ten koste van die Bybel nie?

Of om die deftige woord hiervoor
te gebruik: is daar nie die gevaar konfessionalisme nie?

En dan ook die vraag: wat beteken
dit om ‘n belydende kerk te wees?

 

Kom ons begin met die ontstaan
van die NGB.

Die NGB is waarskynlik in die
jaar 1561 geskryf.

Nou sê ‘n blote datum nie veel
nie, en dit is dalk beter om die omstandighede te skets.

Dit was ongeveer 40 jaar na die
begin van die Reformasie – Marten Luther wat in Wittenberg die 95 stellings
publiek gemaak het.

In die dekades daarna het die
Reformasie oor Europa versprei.

Dit het veral uitgekring vanuit
‘n paar stede, soos bv. Wittenberg in Duitsland, Basel in Switzerland en Genève
ook in Switzerland naby die grens met Frankryk, London in Engeland.

Wat hierdie stede besonder gemaak
het, was dat hulle geleë was in gebiede waar die owerheid nie die Protestante
vervolg het nie.

Nou was sowel Frankryk as die
Nederlande gebiede waar die Protestante wel vervolg is.

Die koning van Spanje wat lojaal
aan die pous was, was hier aan bewind.

In die suidelikste puntjie van
die Nederlande het die NGB die lig gesien.

Ons praat oor die gebied wat
vandag bekend staan as België.

Vroeër was dit bekend as die
Suidelike Nederlande.

Dit het gebeur in die stad
Doornik.

Vandag staan hierdie stad veral
bekend onder sy Franse naam: Tournai.

Doornik is geleë ongeveer halfpad
tussen Amsterdam en Parys.

Op ‘n dag in 1561, 14 September
om presies te wees, was daar ‘n kermis in Doornik.

Daar was ook baie mense van die
naburige stad Valenciennes aanwesig.

Die Gereformeerd-gesindes uit
beide stede het die geleentheid gebruik om met mekaar te praat.

Hulle het toe saam besluit om ‘n
publieke demonstrasie te organiseer, wat toe omtrent twee weke later, op 29
September, plaasgevind het.

Ongeveer honderd mense het in die
strate van Doornik Psalms in Frans begin sing.

Hierdie aksie moet uiteraard
verstaan word in die konteks van daardie tyd.

Die Bybel was verbode in die
volkstaal, en net die priesters en biskoppe het die Bybel in Latyn gelees.

Om Psalms in Frans op straat te
sing, was dus ‘n uitdaging van die Roomse gesag.

Hierdie demonstrasie van Psalms
sing het aanklank gevind by die bevolking.

Spoedig was daar al omtrent ses
honderd mense wat saamgesing het.

Die volgende dag het die aantal
demonstrante gegroei tot drie tot vier duisend.

Die bedoeling was ‘n vreedsame
betoging, om te laat sien hoe sterk die aanhang vir die Reformasie in die stad
was.

Op die eerste dag van die
demonstrasie het die owerheid niks gedoen nie, maar op die tweede dag is geweld
gebruik om die demonstrante uit mekaar te jaag.

Daar is toe ook van die kant van
die Roomse owerheid ‘n kommissie aangestel om die saak te ondersoek.

Dit is in kort, gemeente, die
agtergrond vir die ontstaan van die NGB.

Die NGB is geskryf om onder
andere vir die owerheid duidelik te maak dat die Gereformeerdes nie oproeriges
is nie, dat hulle nie opstand wil pleeg nie, maar net vreedsaam wou geprotesteer
het.

In die verslag wat bogenoemde
kommissie aan die owerheid geskryf het, kan mens die volgende lees:

Vandag, toe ons die poort van die
kasteel oopgemaak het, het ons ‘n verseëlde pakket gevind, wat oor die
buitenste muur gegooi is. Daarbinne was ‘n lang geskrewe teks aan ons gerig en
aan die owerhede van die stad, in die naam van die burgers, bedoel om die
owerheid in te lig oor die suiwerheid van hulle leer.

Deur wie was hierdie geskrif in
die verseëlde pakket eintlik geskryf?

Wel, dit was op daardie stadium
onduidelik, want dit was nie onderteken met iemand se naam nie, maar anoniem.

En dit is eintlik aan hierdie
ondersoekskommissie, oftewel inkwisisie, te danke dat ons vandag weet wie die
skrywer van die NGB was, en dat dit Guido de Brès was.

Want hierdie kommissie het in sy
speurtogte uiteindelik die studeerkamer van Guido de Brès opgespoor.

Daar het hulle papiere gevind met
dieselfde handskrif daarop as die handskrif wat die brief aan die owerheid in
die verseëlde pakket wat oor die muur gegooi is, geskryf het.

Ook het hulle in sy studeerkamer
nog omtrent 200 kopieë van die gedrukte NGB gevind.

En ook het hulle briewe van
bekende hervormers gevind wat aan De Brès geskryf is, soos Johannes Calvyn en
Petrus Datheen.

Wat het toe met De Brès gebeur?

Voordat ons by hierdie laaste
jare van sy lewe kom, kom ek gee net ‘n kort oorsig van sy lewe.

Guido de Brès is in 1522 in
België gebore.

Hy was aanvanklik opgelei as ‘n
glasskilder.

In 1547 het hy waarskynlik
oorgegaan tot die Reformasie, dus 25 jaar oud.

Toe tydens ‘n vervolging hy ook
gesoek is deur die inkwisisie, het hy uitgewyk na Engeland waar hy vir omtrent
vyf jaar gebly het.

Hier het hy waarskynlik teologie
gestudeer.

In 1552 keer hy terug na die
suidelike Nederlande om verskillende Protestantse gemeentes te bedien.

Drie jaar later tydens nog ‘n
vervolging wyk hy uit na Frankfurt in Duitsland.

Hy gaan ook na Lausanne en Genève
vir verdere studie.

Einde 1558 keer hy terug na die
Nederlande, na Doornik om daar predikant te word.

‘n Jaar later trou hy met
Catharina Ramon en hulle kry vyf kinders.

Toe die vervolging in Doornik
uitbreek, vlug hy oor die grens na die Franse stad Sedan.

In 1566 keer hy weer terug na sy
geboorteland.

Hy word toe predikant in
Valenciennes, naby Doornik.

Daar was toe al die soveel
Protestante, hulle was die meerderheid van die stadbevolking, en die adel van
die stad het hulle beskerm.

Die Protestante het selfs geëis
dat die kerke aan hulle beskikbaar gestel word, wat toe gebeur het.

Die bevolking het egter toe al
die beelde wat in die kerke was, verwyder en stukkend geslaan.

De Brès was teen hierdie aksie
gekant.

Maar agv hierdie beeldestorm is
die stad toe omsingel deur Roomsgesinde soldate en ingeneem.

De Brès en sy kollega predikant
De la Grange is gevange geneem en publieklik opgehang op 31 Mei 1567.

Dit was, in kort, die onstaan van
die NGB en die geskiedenis van Guido de Brès, die predikant wat dit geskryf
het.

In baie moeilike tye, toe die
kerk verdruk en vervolg is in Nederland, het die NGB dus ontstaan.

Min het Guido de Brès toe
waarskynlik besef dat ‘n saadjie geplant is, wat in die toekoms ‘n groot boom
sou word.

Want die NGB het ‘n invloedryke
dokument geword, nie net in die Gereformeerde Kerke in Nederland nie, maar oor
die hele wêreld.

So het die HERE tydens moeilike
jare al vooruitgedink en voorsiening gemaak vir toekomstige eeue.

In die dekades wat daarop gevolg
het, het die NGB begin funksioneer in die kerke om sowel vir mekaar as vir die
buitewêreld duidelikheid te verskaf, wat hulle standpunt is.

Dit het uiteindelik daartoe gelei
dat die NGB op die sinode van Dordrecht in 1618 amptelik as belydenisskrif
aanvaar is.

Voorafgaande sinodes het die NGB
ook al as belydenisgeskrif aanvaar.

Maar die sinode van Dordrecht in
1618 was ‘n internasionale sinode, en een van die hoofredes hoekom hierdie
sinode saamgeroep is, was om sowel die NGB as die Heidelbergse Kategismus internasionaal
as amptelike Gereformeerde belydenisskrifte te aanvaar.

 

Die NGB is oorspronklik in Frans
geskryf, maar vanaf die eerste jare was daar ook al ‘n Nederlandse en Latynse
weergawe beskikbaar.

Op die sinode van 1618 is die Latynse
weergawe as amptelike versie aangeneem.

Dit beteken dat as die NGB vandag
vertaal moet word in byvoorbeeld Afrikaans, of in Sotho, of in Zulu, dat dit
vanuit die grondtaal Latyn moet gebeur.

Nie dat daar tussen die Franse,
Nederlandse en Latynse weergawes groot verskille is nie.

Wel kan daar soms misverstande
ontstaan.

Om een voorbeeld te noem.

Onlangs is daar in ons
Nederlandse susterkerke betoog dat die NGB die moontlikheid bied vir sowel mans
as vroue om in die kerklike ampte te dien – predikant, ouderling en diaken.

Want in art. 30 van die NGB staan
dat “persone” wat betroubaar is, gekies kan word.

Die woordjie ‘persone’ kan sowel
dui op mans as vroue.

In die Franse weergawe staan ook
die woordjie “persone”.

Maar in die Latynse weergawe word
spesifiek na mans verwys.

En dit is hoekom in die Engelse
Book of Praise, wat in ons susterkerke in Canada en Australië gebruik word, wat
die NGB vanuit die amptelike Latynse weergawe vertaal het, mens lees: “By these
means everything will be done well and in good order when faithful men
are chosen in agreement with the rule that the apostle Paul gave to Timothy.”

Dit was glad nie Guido de Brès se
bedoeling om in sy Franse weergawe met die woordjie ‘persone’ die deur ook oop
te maak vir vroulike ampsdraers in die toekoms nie.

Dit is des te meer duidelik uit
die feit dat De Brès eksplisiet verwys na die reël wat die apostel Paulus gegee
het in die brief aan Timotheüs.

Uit die Bybelboek Timotheüs is
baie duidelik dat broeders die roeping van God gekry het om ampsdraers te word.

 

Dit bring ons by ‘n volgende
vraag.

As dinge in elk geval alreeds
duidelik is in die Bybel, hoekom is ‘n belydenisskrif dan nog nodig?

Trek dit nie net die aandag van
die Skrif af weg nie?

In die Bybel is dit mos duidelik
wie ampsdraers moet word?

In die Bybel is dit mos duidelik
dat God drieënig is, Vader, Seun en Gees?

In die Bybel is dit mos duidelik
dat Christus mens geword het?

In die Bybel is dit mos duidelik
dat ons geregverdig word deur die geloof in Jesus Christus?

Ensovoorts.

Hoekom dan hierdie dinge nog
herhaal en oorskryf in ‘n belydenisgeskrif?

Hierdie is ‘n vraag na die nut,
die doel, die bestaansreg van belydenisgeskrifte.

Hoekom eintlik?

Hoekom is dit nodig dat daar
belydenisskrift is?

 

Kom ons probeer hierdie vraag
beantwoord.

In die eerste plek gee die
belydenisskrifte ‘n beknopte samevatting van die Bybelse leer.

Dit wat die Skrif openbaar oor
byvoorbeeld die menswording van Christus, word in een paragraaf, of in een
vraag en antwoord, kernagtig saamgevat, met die relevante teksverwysings.

Daardeur is die belydenisskrifte
baie nuttig vir onderrig aan die jeug, en aan almal om te leer wat die Skrif
oor ‘n spesifieke onderwerp openbaar.

So kan die leer van die Skrif in
‘n beknopte tyd onder die knie gekry word.

Vervolgens moet mens wys op die
feit dat die kerk ‘n belydende kerk moet
wees.

Met ‘n belydenisgeskrif spreek
Christene kernagtig uit waarin hulle glo.

So werk ‘n belydenisgeskrif
samebindend.

Dit ruim misverstande tussen
Christene op, en bewaar die onderlinge eenheid.

Ook skep dit duidelikheid na
buite toe, deur te verduidelik waarvoor die kerk staan.

 

Maar is die Bybel dan nie
daarvoor genoeg nie?

Ja, die Bybel is genoeg, en die
belydenisskrifte spreek ook net die Skrif na.

Wel is dit so dat ‘n
belydenisskrif fokus op een of ‘n paar spesifieke onderwerpe.

Neem byvoorbeeld die Dordtse
Leerreëls.

Daar was baie verskil van mening
oor wat die Bybel sê oor die uitverkiesing.

Die Dordtse Leerreëls vat die
Skriftuurlike onderrig hieroor saam.

Of neem die Geloofsbelydenis van
Athanasius.

Daar was baie verskil van mening
oor die leer van die Drieëenheid.

Die Geloofsbelydenis van
Athanasius wat die Skriftuurlike openbaring kernagtig saam.

So gee ‘n belydenisgeskrif
antwoord en skep duidelikheid in ‘n bepaalde tyd oor ‘n bepaalde onderwerp.

Ongelukkig is dit so – en ons
word in die Bybel self alreeds daarvoor gewaarsku – dat daar van tyd tot tyd
mense opstaan wat die Skrif verdraai.

Wat dit laat buikspreek.

Wat maak asof dit iets anders sê
as die ortodokse leer.

 

Ek sê dit met respek, maar soms
is teoloë soos advokate.

Natuurlik, mens kry goeie en
slegte teoloë, en mens kry goeie en slegte advokate.

Maar hulle het die vermoë om soms
‘n gat in jou kop te praat.

Hulle sal jou oortuig dat daar
iets in die Bybel staan, wat jy nog nooit so gelees het nie.

Hulle kan jou heeltemal verwar.

Neem byvoorbeeld die diskussie
oor die vrou in die amp, wat tans gaande is.

Vir twintig eeue het die kerk
geen probleem gehad om die Skrif te lees en dit wat daar staan, ook so te
begryp nie.

Maar die afgelope paar dekades,
onder druk van die samelewing en die tydsgees, het daar teoloë opgestaan wat
die Skrif op hierdie punt begin verdraai het.

En hulle kry dit reg om baie
Christene agter hulle aan te kry.

In die verlede het presies
dieselfde gebeur mbt ander onderwerpe, of dit nou die uitverkiesing is, die
kinderdoop, die Drieëenheid, die godheid van Christus, ensovoorts.

Hierdeur het telkens geweldige
verwarring ontstaan binne die kerk van Christus.

Die belydenisskrifte het gehelp
om die eenheid rondom die waarheid te herstel.

 

Om belydende kerk te wees,
beteken daarom nie net om die belydenisskrifte wat ons reeds het, te ken en op
te pas nie.

Dit beteken ook om in ons eie tyd
belydend te wees, ook wat betref onderwerpe wat vandag baie kontroversieel is.

Mens kan dink aan dinge wat tans
– onder druk van die samelewing en die tydsgees – baie verwarring onder
Christene veroorsaak.

Die diskussie oor die vrou in die
amp het ek al genoem.

Maar mens kan ook dink aan die
debat oor homoseksuliteit.

Of die afkalwing van die huwelik.

Om eerlik te wees, in ons tyd sal
dit die eenheid onder Christene, rondom die waarheid, baie bevorder, as daar ‘n
belydenisskrif oor punte soos hierdie geskryf sou word.

In die tyd van die Reformasie was
sake soos vrou in die amp, homoseksualiteit, die noodsaak van die huwelik, nie
kontroversieel nie.

Almal het daaroor saamgestem.

Vandag is dit nie die geval nie.

In die tyd van die Reformasie wat
daar kontroversie oor ander sake uit die Bybel.

Vandag is dit die kerk se taak om
duidelik te wees op daardie punte van die leer van die Skrif wat vandag
aangeval word.

Soos Marten Luther ‘n keer gesê
het:

As ek met volle oortuiging elke
punt van die waarheid van God bely, behalwe daardie enkele punt wat die wêreld
en die duiwel op hierdie oomblik besig is om aan te val, dan bely ek nie
Christus nie. Daar waar die oorlog gevoer word, daar word die lojaliteit van ‘n
soldaat getoets, en om waaksaam te wees op alle fronte behalwe op daardie front
waar die veldslag plaasvind, is niks anders as om te vlug nie.

 

Dit is dus ‘n oproep om belydende
kerk te wees, juis op daardie punte wat die wêreld tans dalk net nie wil luister
nie.

En om belydende kerk te kan wees,
moet daardie kerk bestaan uit belydende Christene.

Elkeen van ons persoonlik.

Ek hoop dat die komende reeks
preke oor die NGB sal help om u weerbaar te maak.

Sodat ons kan groei in ons
geloof, in ons oortuiging, in ons toewyding.

Mag die Here ons daarvoor sy
genade en die verligting van sy Heilige Gees gee.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)