Die tiende gebod is die hoogtepunt van God se wet

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-09-07
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 44 vraag en antwoord 113
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 7 September
2014 AD, 10:15

Voorsang: Ps 110:1-4

Votum

Seën

Ps
26.1,4,5

Wet

Ps 51:2,8

Gebed

Skriflesing: Romeine 7

Ps 61.1,4,5

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 44,113

Preek

Amenlied: Ps 139:1,3,12

Gebed

Kollekte

Slotlied: Ps 97:6,7

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 44,113

Elke Sondag
as ons die tien gebooie lees, hoor mens sommige dinge wat tydsgebonde is, en
ander dinge wat tydloos is.

Dit geld ook
vir die tiende gebod.

Tydsgebonde
in die sin dat ons herinner word aan ‘n kulutuur waarin jou osse bepaal het
hoeveel land jy per dag kon ploeg.

‘n Gesonde
en sterk os was baie werd.

Dit was ‘n
tyd waarin donkies die funksie gehad het wat motors en vragmotors vandag het.

Tydsgebonde
dus in woorde soos os en esel, of dienskneg en diensmaagd.

Maar tydloos
wat betref die betekenis van die gebod, Jy
mag nie begeer nie
.

Die
voorbeelde wat in die tiende gebod genoem word, kan vervang word met ander
voorbeelde.

Jy mag nie
begeer die huis, die vrou, die man, die kinders, die ouers, die werknemers, die
beroep, die besigheid, die gesondheid, die uiterlik, die motorkar, of wat ook
al van jou naaste is nie.

Dit gaan
steeds oor: jy mag nie begeer nie.

As ons v/a
113 lees uit die Heidelbergse Kategismus, val dit op dat daar geen van hierdie
voorbeelde genoem word nie.

Wel staan
daar:

Dat ook die
geringste lus of gedagte teen enige gebod van God nooit in ons hart mag opkom
nie.

Tereg word
die voorgaande nege gebooie hier by die laaste gebod betrek.

Want, om
maar ‘n voorbeeld te noem:

Wie die huis
van sy naaste begeer, sondig ook teen die 8e gebod – jy mag nie steel nie.

En wie die
vrou van sy naaste begeer, sondig ook teen die 7e gebod – jy mag nie egbreek
nie.

Daarom het
ek as tema vir vandag se preek oor die 10e gebod gekies:

Tema: Die tiende gebod is die hoogtepunt van God se wet

Mens sou ook
kon sê: alle gebooie het hulle beginpunt in die 10e gebod.

Ons het dit
alreeds gesien by elke gebod afsonderlik.

Dat nie net
die daad, die oortreding metterdaad, sondig is nie,

maar ook die
begeerte wat daaragter skuil.

Om enkele
voorbeelde te noem:

Oor die 8e
gebod sê die Kategismus:

Ook bose
planne wat mense beraam om te steel is sondig, net soos die daad self.

En ook
hebsug is ‘n oortreding van die 8e gebod.

Oor die 7e
gebod sê die Kategismus:

God verbied
nie net onkuise dade nie, maar ook gedagtes en begeertes.

Oor die 6e
gebod sê die Kategismus:

God leer ons
dat dinge soos nyd, haat toorn en wraakgierigheid net so goed doodslag is.

Dit is
naamlik die wortel van die doodslag.

En nou, in
die 10e gebod, kom dit nogmaals apart aan die orde.

 

Die 10e
gebod is die hoogtepunt van God se wet.

Mens kan ook
sê: die 10e gebod lê die fondamente bloot.

By uitstek
die diepte van God se wet kom aan die lig in hierdie gebod.

Want God se
wet wil nie net ons dade kontroleer nie.

Maar ook ons
woorde, en selfs jou gedagtes.

Iets wat
niemand kan kontroleer nie.

Watter
gedagtes jy het, kan iemand wat reg langs jou sit, nie eens hoor nie.

Ons sê soms:
ek kan jou gedagtes lees.

En dan
bedoel ons:

Ek het ‘n
redelik goeie vermoede waaraan jy nou besig is om te dink.

Maar dit bly
‘n vermoede.

Die 10e
gebod fokus dus veral op die wêreld van ons gedagtes.

Daardie vir
ander mense so ongrypbare wêreld.

Waar by
ander gebooie strawwe aan gekoppel kan word,

byvoorbeeld
die owerheid kan iemand straf omdat hy die 8e gebod oortree het.

Omdat iemand
gesteel het.

Dit is iets
wat kontroleerbaar is en wat jy dus kan bewys dat iemand dit gedoen het,

en dan kan
die persoon op ‘n regverdige wyse gestraf word.

So kan dit
ook in die kerk gebeur, dat mense vermaan word as gevolg van oortreding van ‘n
bepaalde gebod, byvoorbeeld die 4e gebod, dat mense die kerkdienste nie trou
besoek nie.

Dit is ook
iets wat kontroleerbaar is.

Maar by die
10e gebod lê dit anders.

Jou gedagtes
is nie deur iemand anders kontroleerbaar nie.

Maar tog, en
dit is so opvallend, staan hierdie gebod wel in die wet.

En die rede
daarvoor lê eintlik voor die hand:

Die Persoon
wat die 10 gebooie uitgevaardig het, is naamlik God self.

Ons Skepper
is wel in staat om ons gedagtes te volg.

Daarom is
die wet van God so deurdringend.

Dit lê die
fondamente van ons bestaan, van al ons doen en late bloot.

Dade, woorde
en selfs gedagtes word gefynkam.

Of anders
gesê, as jy in die wet kyk, dan kyk sy as’t ware in ‘n spieël.

En in
hierdie spieël (die wet dus) sien jy nie net jou uiterlik nie, maar jou diepste
wese word sigbaar.

Die 10e
gebod verrig ‘n diepteboring.

 

In antw. 113
sien ons dieselfde struktuur as by die ander gebooie.

Eers kom dit
ter sprake wat die HERE verbied.

Vervolgens
wat Hy gebied.

Net vir alle
duidelikheid:

Die HERE
verbied in hierdie gebod nie elke begeerte nie.

Wie honger
is, mag begeer om kos te vind.

Wie siek is,
mag ‘n brandende begeerte hê om gesond te word.

Mense wat al
hulle begeertes na kos, klere, liefde, huwelik, besit ensovoorts probeer
doodmaak, is juis ondankbaar en ongehoorsaam.

Dink aan die
monnike en nonne, wat die menslike begeerte na ‘n huwelik, na seksuele omgang,
probeer afsweer het.

Ondankbaar
en ongehoorsaam, dit was die konklusie van iemand soos Luther.

Hy was self
‘n monnik, en het na die bestudering van die Bybel tot hierdie konklusie gekom.

Die HERE
gebied ons juis om die goeie te begeer.

En daarom
het Luther die klooster verlaat, en hy het getrou en baie ander saam met hom.

 

Maar wat God
wel verbied is die sondige begeerte.

Van die
eerste sondige begeerte lees ons in Genesis.

Eva in die
paradys, wat gesien het dat die boom begeerlik was.

Daardie
enkele boom waarvan sy nie gebruik mog maak nie.

Genesis 3:6.

En
sedertdien vind ons hierdie woord dikwels terug in die Bybel, en dan dui dit op
die sondige begeerte van die mens.

Neem
byvoorbeeld Markus 4:19:

(Jesus
vertel hier die gelykenis van die saaier, en oor die saad wat tussen die
dorings geval het, en dan sê Hy):

“die sorge
van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede... kom en verstik die woord, en dit word onvrugbaar”

Alle
begeertes word nie deur God verbied nie.

Maar presies
soos antw. 113 sê:

Alle
begeertes wat ingaan teen enige gebod van God.

 

Toe koning
Dawid gesondig het, het hy na afloop die HERE gesmeek:

“Skep vir my
‘n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ‘n vaste gees” (Ps
51:12).

Hy het dus
nie net vir vergewing gebid nie.

Maar ook dat
die HERE sou hart sou verander,

sodat die begeerte na so ‘n misdaad nooit meer by
hom sou opkom nie.

 

In jou hart
mag die sonde nie meer op die troon sit nie.

In Efesiërs
3(:17) staan:

“sodat
Christus deur die geloof in julle harte kan woon”.

Hy woon in
jou hart.

Vanuit jou
hart, jou hart wat in die Bybel bekend staan as die sentrum van jou denke en
jou besluitneming en jou wil, vanuit jou hart regeer Christus oor jou lewe.

Nie die
sonde, nie jou ou mens, maar Christus op die troon.

Dis die een
of die ander.

Christus en
die sonde verdra mekaar net so min soos water en vuur.

Wanneer
Christus in jou hart woon, is sy vyande ook jou vyande.

Die
Kategismus bedoel presies dieselfde as daar staan:

“dat ons van
alle sondes altyd van ganser harte
vyande moet wees en in alle geregtigheid behae moet hê”.

Met
geregtigheid word hier bedoel: gehoorsaamheid.

Gehoorsaam
aan die wil van die HERE.

Die sonde
haat.

Maar liefde
vir God, en vir dit wat Hy van ons vra.

Sy wil, sy
gebooie liefhê, hoog ag.

Soos Psalm
97(:10) sê:

“o
Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad!”

En Psalm
119(:163):

“Leuens haat
ek en het daar ‘n afsku van; u wet het ek lief.”

 

Dit is dus,
in kort, wat die 10e gebod ons gebied.

As jy nie
las wil hê van verkeerde gedagtes, verkeerde begeertes, dan moet die sonde, die
ou mens in jou hart van die troon gestoot word, en Christus plaasneem op die
troon.

Dit moet
gebeur in jou hart.

Daarom het
ek die 10e gebod ‘n diepteboring genoem.

Die
fondament van jou bestaan word blootgelê.

Daar waar
geen ander mens jou kan kontroleer nie, daar moet dinge verander.

‘n
Diepteboring.

En juis
daarom is hierdie gebod die hoogtepunt van die wet, soos die tema sê.

Mens sou ook
kon sê: die mees veeleisende gebod.

Want hierdie
gebod dring direk deur tot jou hart.

 

Dit kan
gebeur, as jy siek is, en jy gaan dokter toe, dat die dokter sê:

ek kan nie
agterkom wat met jou fout is nie.

Hy verwys
jou dan na ‘n spesialis.

Die
spesialis doen dalk ‘n sonar, of ‘n skopie, deur met ‘n klein kameratjie jou
liggaam binne te dring en van binne te bekyk.

Van binne
uit kan ‘n infeksie soms beter opgespoor word.

Die 10e
gebod kan mens ‘n bietjie hiermee vergelyk.

‘n Kamera
wat tot in jou hart deurdring.

Soos die
Kategismus sê:

Dat ook die
geringste lus of gedagte teen enige gebod van God nooit in ons hart mag opkom nie.

Dit moet ‘n
baie gevoelige kamera wees om selfs die geringste lus of gedagte te kan
registreer.

So diepgaand
is God se wet dus.

 

Die wet
bring aan die lig wat verborge is in die diepste skuilhoeke van die hart.

Selfs
ongeregtighede waarvan ons onsself nie eens bewus was nie.

Begeertes,
wense, gevoelens, selfs drome is vol met sondige gedagtes.

Gedagtes
waaroor ons geen beheer het terwyl ons slaap nie.

Pynlik in sy
eerlikheid is God se wet.

‘n Spieël so
skoon en helder en duidelik, ‘n spieël waarvoor eintlik niemand durf te staan
nie,

omdat jy
weet dat jy nie ‘n vleiende beeld van jouself daarin sal terugsien nie,

maar net die
naakte werklikheid.

Lewensgroot,
ontdekkend, ontmoedigend.

 

Moet mens
die spieël dan die skuld gee dat jy so onaantreklik lyk?

Die vraag
vra is dit ook beantwoord.

Dieselfde
vraag vra Paulus in Romeine 7, die gedeelte wat ons gelees het.

“Wat sal ons
dan sê? Is die wet sonde?” (Rom 7:7)

Is dit die
skuld van die wet dat ons so sondig is?

Die wet wat
soos ‘n spieël alles blootlê?

En dan sê
Paulus:

“Nee,
stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het
nie.”

Immers, en
hierdie gedeelte het dan spesifiek betrekking op die gebod wat vandag aan die
orde is, die 10e gebod:

“want ek sou
ook die begeerlikheid [!] nie geken
het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie.”

En dan
vervolg Paulus in vers 8:

“Maar die
sonde het aanleiding gevind deur die gebod [-hierdie 10e gebod dus] en in my
allerhande begeerlikheid gewerk; want sonder die wet is die sonde dood.”

Deur die gebod – dit beteken:

As jy
hierdie gebod as maatstaf hanteer vir wat sondig is, en jy dring met hierdie
gebod soos met ‘n kamera jou lewe, jou hart binne,

dan word
daar allerlei begeerlikhede aan die lig gebring.

Maar sonder
die wet is die sonde dood.

Wat Paulus
hiermee bedoel, is:

sê nou maar
die wet was nie daar nie, sê nou maar dat het nie so ‘n geweldige stukkie
tegniek bestaan soos ‘n klein kameratjie wat tot in jou hart kon deurdring nie,
dan was dit ook nie moontlik om so ‘n akkurate diagnose te maak nie.

Maar so ‘n
kamera bring nou juis aan die lig wat verborge is.

Die kamera
van God se wet dring deur tot in die skuilhoeke van die hart en werp lig op die
infeksie.

Op die
kankerselle of wat ook al, wat sondige begeertes genoem word.

Maar,
redeneer Paulus dan verder, hoekom sou mens eintlik vir so ‘n ondersoek gaan?

As jy dit
nie sou doen nie, as jy nie sou toelaat dat so ‘n kamera tot in jou hart
deurdring nie, dan sou jy ook nie weet wat daar binne is nie, dan sou jy
onbewus wees of daar ‘n ernstige siekte is of nie.

En dan sou
jy rustig verder kon lewe.

Tog?

Of juis nie?

In vers 9 sê
Paulus:

Ek het
vroeër sonder die wet gelewe;

Maar toe die
gebod gekom het, het die sonde opgelewe en ek het gesterwe.

Kom ek
probeer verduidelik wat hy hier sê, weer aan die hand van die kamera.

‘n Persoon
wat in sy hart ‘n ernstige siekte het, maar wat nie bewus daarvan is nie, kan
rustig verder lewe, onbewus van die feit dat hy dalk binne ‘n week ‘n
hartaanval gaan kry.

Maar sodra
die persoon vir ‘n mediese ondersoek gegaan het, verander alles.

Vanaf
daardie oomblik het die persoon ‘n pasiënt geword, ‘n risiko-geval, op grond
van die diagnose.

En soos u
weet, pasiënte is meestal nie gelukkige mense nie, omdat hulle weet dat hulle
‘n siekte het.

En dit
bedoel Paulus dus.

Toe ek
sonder die wet geleef het, het ek nog nie besef dat ek myself op die randjie
van die dood bevind het nie.

Maar na die
ondersoek, oftewel nadat die gebod gekom het, is ek gekonfronteer met die
spieël van die wet, en toe het die sonde begin lewe.

Dit wil sê,
toe het ek eers agtergekom hoe verskriklik vuil ek is van die sonde.

En toe was
dit met my lewensgenot gedaan, en ek het as’t ware begin sterf.

Paulus sê in
vers 10:

Die gebod
wat die lewe moes wees, dié het vir my geblyk die dood te wees.

‘n Klein
kameratjie is juis vervaardig as mediese instrument ter wille van mense se
gesondheid.

Maar, in
sommige gevalle kan so ‘n kameratjie, kan die uitslag van sy ondersoek, vir die
pasiënt soos ‘n doodsvonnis wees.

Ek is jammer
meneer, maar die kamera het uitgewys dat u hart nie meer sal regkom nie.

En dit sê
Paulus nou ook van die wet.

Die gebod
wat na die lewe moes lei, het vir my juis ‘n doodsvonnis ingehou.

God het sy
wet aan die mense gegee, as ‘n spieël, sodat hulle alle vuiligheid, alle sonde
by hulleself kon opspoor om hulleself sodoende skoon en gesond en aantreklik te
hou.

Dit is die
funksie van die wet.

Om ons by
die goeie lewe te bewaar.

Maar helaas
het by Paulus geblyk, en dit geld vir elkeen van ons, dat die kanker van die
sondige begeerlikheid so ver gevorderd was, en die spieël van die 10e gebod het
dit feilloos aan die lig gebring, dat dit eintlik te laat is.

En met
hierdie diagnose saal die wet ons dus op.

Die wet sê
net presies wat fout is.

Meer kan die
wet nie doen nie.

Jou
doodsvonnis word as’t ware meegedeel.

Verder kan
die wet jou nie help nie.

 

In v/a 114,
in die volgende Kategismuspreek gaan ons nader hierna kyk, maar net solank dit,
daar word die vraag gevra:

maar kan
hulle wat tot God bekeer is, dws gelowige mense, hierdie gebooie ten volle
onderhou?

Die antwoord
is dan baie ontnugterend: Nee.

En logies
dat vraag 115 dan daarop volg:

Hoekom laat
God die 10 gebooie dan tog so skerp vir ons preek?

Hoekom wil
God dan nog dat ons in die spieël van die wet kyk, as dit tog geen sin het nie,
ons kan dit tog nie goed doen nie.

Agteraf, sou
mens kon sê, was daardie ondersoek met die kameratjie nie die moeite werd
gewees nie.

Die pasiënt
gaan tog sterf.

Dit het net
tyd en geld gekos, en ongemak.

Dit het die
persoon nie vroliker gemaak nie, inteendeel.

En so, sê
Paulus, sou mens eintlik gelukkiger kan lewe, die tyd wat nog vir jou res, as
jy nie die ondersoek gehad het nie.

As jy nie geweet
het van die bestaan van die wet nie.

As jy nie
gedwing was om in die spieël te kyk nie.

Dan het jy
nie geweet hoe jy lyk nie, van buite en van binne, en dan het dit jou ook nie
omgekrap nie.

 

As dit vir
God se wet geld, dan geld dit dus veral vir die 10e gebod.

Omdat soos
die tema sê, dit die hoogtepunt van die wet is, die mees indringende gebod.

Maar dit is
inderdaad soos baie mense deur die lewe gaan, deur God se wet uit hulle
gedagtes te verdring.

En so leef
hulle op die randjie van die afgrond, onbewus dat hulle in die ewige
verdoemenis gaan stort.

Of ten
minste, hierdie wete verdring hulle.

MAAR, en dit
moet ten slotte nog genoem word.

En dit is
die mooie waarna ons in die volgende Kategismuspreek gaan kyk.

Soos Luther
gesê het: die 10 gebooie dryf ons na Christus toe.

Die spieël
van die wet lê jou ellende bloot.

Dit is
presies die bedoeling.

Die
werklikheid word nie rooskleuriger voorgestel nie.

Die doel is
naamlik juis dat jy na Christus toe gedryf word.

Hy is die
enigste Een wat jou kan red.

 

Die kortste
Kategismusantwoord, wat al die katkisante sal ken, is:

Waaruit ken
jy jou ellende?

En die
antwoord is: uit die wet van God.

Presies.

Die doel van
God se wet, van die spieël, is dat ons ons ellende leer ken.

Die doel is
dat jy skrik as jy agterkom hoe naby
jy aan die dood is.

Die doel is
dat jy na Jesus toe vlug.

Die enigste
Geneesheer wat hierdie hartkwaal kan genees.

Die wet is
die kameratjie, wat die diagnose maak.

Daarna moet
jy soek vir ‘n dokter of spesialis wat jou verder kan help.

Gelukkig
hoef ons nie lank te soek nie.

Want
Christus het ons reeds gevind.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)