Praat vrymoedig oor God, maar moenie sy naam misbruik nie

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-06-08
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 36
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 8 Junie 2014 AD, 17:30

Liturgie:

Voorsang: Ps 85:1,2,3

Votum

Seën

Ps 26:2

Gebed

Skriflesing: Levitikus 24:10-23

                        Mattheüs
5:33-37

                        Mattheüs
23:15-22

Ps 24.1-3

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 36

Preek

Ps 15.1-5

Gebed

Geloofsbelydenis: Nicea

Ps 26.3

Gebed

Kollekte

Ps 147:1,7

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 36

As jy ‘n dvd
by die videowinkel uitneem, kyk jy dan na die tekentjies agterop, byvoorbeeld
of daar ‘n ‘L’ staan, vir Language, wat dui op vloekwoorde?

Of as jy op
TV ’n film kyk, let jy op die kodes aan die begin van die film, die ouderdomsbeperking,
taalgebruik, ensovoorts?

In die derde
gebod, wat ons vandag behandel, gaan dit oor die gebruik van God se Naam.

Ek verkondig
u God se Woord met hierdie tema:

Tema: Praat vrymoedig oor God, maar moenie sy naam misbruik nie.

1 Die naam van God

2 Misbruik van die naam van God

a)    Vloek

b)    Jouself vervloek

c)     Vals sweer

d)    Onnodig sweer

e)     Swyg

1 Die naam van die HERE

Jy mag die
naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie.

Wat is die NAAM van die HERE?

In die derde
gebod word die naam HERE met vier
hoofletters geskryf.

Op ander
plekke in die Bybel word Here net met een hoofletter geskryf.

Dit is nie
toevallig nie.

Die
vertalers wou so ’n onderskeid aandui tussen twee woorde wat in die Hebreeuse
grondteks staan.

Die eerste
woord in Hebreeus is Adonai, dit word
in ons Bybel vertaal met Here, met een hoofletter.

Adonai, oftewel Here, beteken: Hy is ons Meester, ons Eienaar, ons behoort aan
hom.

Hy het ons
gemaak en Hy regeer oor ons.

Hy is ons
Baas, ons Here.

 

Die tweede
Hebreeuse woord is Jahweh.

Hierdie
woord kan mens die eienaam van God noem.

Sy
verbondsnaam.

Die naam
waarmee Hy Homself aan sy volk bekend gemaak het.

Jahweh beteken: Ek is wat Ek is.

Oftewel: Ek
bly dieselfde. Ek is betroubaar.

Jy kan op My
vertrou.

Hierdie
naam, Jahweh, word in ons Bybel vertaal met die woord HERE, met vier
hoofletters.

Nou vind ons
in die derde gebod spesifiek hierdie naam.

En die
bedoeling is dat hierdie naam dui op wie God self is, en wie Hy vir ons is.

Dit is in
lyn met die bedoeling van die derde gebod.

God verwag
dat ons met respek praat oor sy persoon, oor wie Hy is.

 

Dit bring
ons by ’n volgende saak.

Dit gaan dus
eintlik nie net oor ’n naam nie, maar dit gaan veral daaroor dat ons met
eerbied praat oor wie Hy is.

En dat dit
vir ’n skepsel verbode is om op ’n ydele, of ’n leë wyse, of ’n afkrakende wyse
oor Hom te praat, of na Hom te verwys.

Om sy naam
te gebruik as ’n kragwoord, of as ‘slang’, of as ’n stopwoord.

En, soos ons
almal weet, hierdie gebod is nog steeds baie aktueel.

Want hoeveel
keer hoor jy dit nie om jou heen nie, dat die Here se Naam sommer net gebruik
word.

‘o my Here’;
‘Jisses’; ‘o my God’; ‘o Jeez’; ensovoorts.

Dit is
waarna ons nou in die tweede punt gaan kyk.

Noudat ons
weet wie die HERE is, wat sy name is.

 

2 Misbruik van die naam van God

a)    Vloek

In die
eerste plek dink ons aan vloek.

Hom bewus
slegsê.

Kom ek noem
‘n duidelike voorbeeld uit die Bybel.

Dink aan die
geskiedenis van Goliat, wat die God van Israël gevloek het.

Elke dag het
hy naby die Israëliete se tente kom staan, en bewus lelike dinge gesê, nie net
oor die bang Israëliete nie, maar ook oor hulle God.

Dit is iets
wat God nie geduld het nie.

God het toe
vir Dawid die moed gegee om daarteen op te staan en Goliat dood te maak.

Nog ‘n
voorbeeld.

Die koning
van Assirië, Sanherib, het op ‘n stadium die HERE bewus gevloek en gehoon.

Dit was toe
hy met sy leër Jerusalem omsingel het.

Sy
leërowerste het toe kliphard geskreeu om die Israëliete wat op die mure die
stad bewaak het, te demotiveer.

Hy wou dat
koning Hiskia se soldate in opstand kom.

Hy het bewus
Israël se God se naam deur die modder gesleep.

2 Konings
18.

Eljakim het
toe nog vir hom gevra: praat asseblief Aramees, nie Joods nie, sodat al die
mense hier nie jou gevloek en blasfemiese taal kan verstaan nie.

Maar hy het
aspris bly Joods praat.

“ Hiskía moet julle nie op die HERE laat vertrou
nie deur te sê: Die HERE sal ons sekerlik red, en hierdie stad sal nie in die
hand van die koning van Assirië oorgegee word nie.” (v30) 

“Het die gode van die nasies elkeen sy land ooit
gered uit die hand van die koning van Assirië? ... Wie is daar onder al
die gode van die lande wat hulle land uit my hand gered het, dat die HERE
Jerusalem uit my hand sou red?” (v33-35)

Maar soos
mens verder in hierdie geskiedenis kan lees, God het sulke openlike onbeskaamde
laster van sy naam nie ongestraf gelaat nie.

Nie lank
daarna is Sanherib toe deur sy eie seuns vermoor.

Hulle wat
God vloek, sal nie ongestraf bly nie.

 

2b) Gemeente, daar is ook ’n ander manier waarop mens kan vloek.

En dit is as
iemand homself vervloek, onder aanroeping van die naam van God.

‘Damn me’;
of ‘mag God my vervloek’; die Nederlanders onder ons is dalk bewus van die
Nederlandse uitdrukking, afgekort GVD.

Waar kom so
’n selfvervloeking eintlik op neer?

Dit is ’n
vervloeking wat iemand – spottend – oor homself afroep, mense wat nie werklik
in God glo nie.

Hulle maak
asof God glad nie eers bestaan nie, en dat hulle daarmee die spot kan dryf.

Hulle
gebruik God se naam as ’n kragterm, selfs as ’n vervloeking, omdat hulle meen –
in hulle kortsigtigheid – dat tog niks hulle sal tref nie, want God bestaan tog
nie.

Dit is dus
ook ’n ydelike, ’n leë gebruik van God se naam.

God sal dit
oordeel, en hierdie oordeel roep hulle ook nog oor hulle self af.

Hulle weet
nie wat hulle doen nie.

Vreeslik is
dit, om te val in die hande van die lewende
God, staan daar in die Hebreërbrief.

Jy sal
agterkom dat hy ’n lewende God is.

 

2c) Dit bring ons by die derde vorm van misbruik van God se naam.

Die
Kategismus praat oor ’n valse eed.

Dit is
ontleen aan Levitikus 19:12:

“julle mag
nie vals sweer by my Naam en so die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die
HERE.”

’n Voorbeeld
hiervan in die Bybel is toe koning Agab die wingerd van Naboth wou afvat.

Daar was
mense wat deur koningin Isebel opgehits is, omdat Agab die wingerd begeer het.

En hulle het
as getuies opgetree en in die naam van God gelieg.

Ons ken ook
wat bestempel kan word as die ergste voorbeeld van alle tye.

Hoe valse
getuies in naam van God Jesus aangekla het voor die Sanhedrin, die Joodse Raad,
en voor Pilatus.

Dit is bewus
lieg, en dan God se naam daarby betrek!

Misbruik
maak van die eed wat God ingestel het.

Die eed wat
behoort te funksioneer as ’n beroep op God, wat as Skepper alles weet.

Die funksie
van die eed is juis om vertroue tussen mense te herstel, as hulle alle vertroue
in mekaar verloor het.

’n Valse eed
is dus dubbel so erg, dit skend vertroue onherstelbaar.

Dit sal, sê
die derde gebod, nie ongestraf bly nie.

 

2d) Die vierde vorm van misbruik handel ook oor die eed.

Waar die
vorige voorbeeld gegaan het oor bewus vals sweer, gaan dit hier oor die
onnadenkende gebruik van die eed.

Onnodig
sweer.

Jesus se
mening hieroor was kort en kragtig.

 “laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat
meer as dit is, is uit die Bose.” (Mattheüs 5:33-37)

En in
Jakobus 5:12 lees ons:

“moenie
sweer nie: nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie en ook geen ander eed
nie; maar laat julle ja ja wees en julle nee nee, sodat julle nie onder ‘n
oordeel val nie.”

Soiets het
die Fariseërs gedoen.

Hulle het
beweer dat jy ‘n egte eed, by God, nie mog verbreek nie.

Maar as jy
gesweer het by die hemel of by Jerusalem of wat ook al, was jy nie verplig om
so ‘n eed te hou nie.

Die Here
Jesus het hierdie gewoonte aan die kaak gestel.

Dit is ‘n
gekamofleerde manier om tog die krag van ‘n eed te misbruik.

Jesus het
vir die Skrifgeleerdes gesê:

“Wee julle,
blinde leiers, julle wat sê: Elkeen wat sweer by die tempel – dit is niks nie;
maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde.”

Die Here
Jesus het hierdie haarklowery skerp veroordeel.

“wie sweer
by die tempel, sweer daarby en by Hom wat daarin woon;

En wie sweer
by die hemel, sweer by die troon van God en by Hom wat daarop sit.” (Matt
23:16-22)

Onnodig
sweer, al is dit in ‘n verkapte vorm, dit aanvaar die HERE nie.

 

2e) ‘n Vyfde vorm van misbruik is vandag ook nog baie aktueel.

En dit is om
te swyg.

Wie swyg,
stem saam.

In Levitikus
5:1 staan dat as iemand ‘n luid uitgesproke beswering (vloek) hoor, en dit nie
te kenne gee nie, dra hy ook verantwoordelikheid daarvoor.

Wie swyg, is
mede skuldig.

Wie sien dat
iemand steel, en nie die fluitjie blaas nie, word ook skuldig.

Wie sien dat
iemand sondig, en niks verder doen nie, dit verswyg, is ook aanspreeklik.

En dit geld
dus ook wat betref misbruik van die HERE se naam.

Dit vra
uiteraard moed, as iemand vloek, om op te kom vir die HERE se naam.

Tog behoort
dit die natuurlike reaksie te wees, as jy ‘n opregte Christen is.

Watter kind
kan dit verdra, as ander mense openlik sy pa of sy ma afkraak?

En dit
terwyl ons aardse ouers vol sondes is.

Hoeveel te
meer, as ons hemelse Vader se naam afgekraak word?

Dit is iets
wat jou hart seermaak.

Dit is iets
waaraan mens nie gewoond kan, mag, raak nie.

Dit is in
die sin dus ook ‘n toetsteen of jy werklik ‘n toegewyde Christen is.

Of dat jy
maar net ‘n naamchristen is.

Duld jy dit,
as die naam van jou goeie Vader afgekraak word?

Jesus sê in
Mattheüs 10:

“Elkeen dan
wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die
hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën
voor my Vader wat in die hemele is.” (Matth 10:32-33)

Sê daarom
iets daarvan, vra vir mense om op te hou vloek, veral as dit byvoorbeeld ‘n
kollega is met wie jy elke dag te make kry.

Laat mense
agterkom dat hulle gedrag nie aanvaarbaar is nie.

 

Nie omdat
ons sonder sonde is nie.

Maar omdat
ons ernstig wil wees oor die wet van die HERE.

Omdat ons
besef dat dit vir die HERE self ernstige sake is.

Dit is vir
hulle eie beswil dat vloekers lastig geval word.

Liewer
vooraf geswaarsku, as agteraf spyt hê, en dan is dit te laat.

Ons het uit
Levitikus 24 gelees dat in Israel God ‘n duidelike straf op die oortreding van
hierdie wet ingestel het.

Ons het
gelees oor ‘n bewuste geval hoe die HERE se naam ontheilig is – deur laster en
gevloek.

Daar was ‘n
Israelitiese vrou getroud met ‘n Egiptenaar.

Hulle seun het
op ‘n dag stry gekry met een van die Israeliete.

En om sy
teenstander – dis soos hy naamlik gedink het – te ontkrag, het hy die naam van
die HERE gelaster.

Letterlik
staan daar: die naam van die HERE deurboor.

Dis naamlik
soos die heidene gedink het.

Onthou, hy
het ‘n Egiptiese pa gehad en het so blyk dit nog baie heidens gedink.

Hulle het
gedink dat elke volk sy eie god het.

En wanneer
jy ‘n volk se god van sy krag beroof, dan kan jy jou teenstander maklik
verslaan.

Daarom het
hierdie seun met ‘n Egiptiese pa die naam van die HERE gelaster, oftewel deurboor.

Maar dit het
God dus nie geduld nie.

Hulle moes
die persoon buitekant die laer bring – ‘n visuele uitbeelding dat hulle met sy
sonde niks te make wou hê nie – en daar moes hulle hom stenig.

Opvallend is
dat direk na hierdie insident geskryf word oor die doodslag van ‘n mens, en dat
ook daarop die doodstraf gestaan het.

Hieruit kan
ons aflei dat iemand wat so met die lewende God se naam gemaak het, net so ‘n
swaar sonde begaan het as iemand anders wat ‘n mens vermoor het.

 

Met die
sonde teen die derde gebod word die Here persoonlik verneder.

Dis nie net
dat Hy nie die eer en lofprysing kry wat Hy verdien nie, Hy word gesmaad.

Dit is iets
anders as wanneer iemand byvoorbeeld teen die 7e gebod oortree.

Dan doen
iemand iets uit die swakheid van sy sondige menslike natuur, terwyl hy homself
nie bewus teen God keer nie.

Dink
byvoorbeeld wat Dawid gedoen het, toe hy Uria se vrou gevat het.

Dawid het
daarna tot inkeer gekom en God het hom gestraf, maar ook vergewe.

 

Maar iemand
wat die HERE laster, Hom vloek, keer Hom bewus teen God.

Daarom
beskou die HERE so iemand nie as onskuldig, asof dit maar net woorde was nie.

God wou nie
dat sy volk maar kon vloek en skel, sonder dat iets daaraan gedoen sou word
nie.

Wie dit
gedoen het, is swaar gestraf.

Selfs die
doodstraf.

Gemeente,
mens kan dit vandag vergelyk met naamskending.

Vir
naamskending kan iemand ook ‘n straf opgelê word.

Mens moet
met eerbied die naam, die reputasie van jou naaste hanteer.

En met nog
veel meer eerbied die naam van jou Skepper.

 

Nou is dit
wel belangrik om op hierdie punt die volgende onderskeid aan te bring.

‘n Mens kan
sê dat daar globaal gesproke twee soorte vloekers is.

Eerstens ‘n
groep mense, wat baie goed weet wie God is, wat waarskynlik self gedoop is, wat
in die kerk opgegroei het, maar wat bewus met die Here en sy kerk gebreek het.

As hulle
vloek, vloek hulle dikwels uit haat teen die Here, en teen die kerk, teen
Christene.

Hulle draai
bewus hulle rug op die HERE.

Hulle is
daarop uit om God se naam te verneder, en ook die naam van Christene.

 

Maar daar is
ook ‘n tweede groep.

Dit is mense
wat net uit gewoonte vloek.

Dit is
dikwels mense wat nie in die kerk opgegroei het nie.

Hulle het
dalk opgegroei in huise waar hulle ouers gewoond was om te vloek, en hulle het
maar net die gewoonte oorgeneem.

Om te vloek
het hulle met die paplepel ingekry.

Tog weet
hulle self nie wie die HERE is nie.

Hulle ken
net die verdraaide, karikatuurbeld van God, wat hulle van hulle ouers oorgeneem
het.

Hulle vloek
uit gewoonte.

Vir hulle is
‘n vloekwoord maar net nog ‘n kragwoord.

Sulke mense
sien en hoor mens dikwels, as dit nie op televisie of radio is nie, dalk op jou
werk, of in die winkel.

In die
township, waar ek sending gedoen het, het mens dit ongelukkig ook maar baie
teengekom.

 

Nou is dit
nie so dat ek die vloekgedrag van hierdie tweede groep wil goedpraat nie.

Ook dit is
strafwaardig.

Ons het uit
Levitikus 24:16 gelees dat nie net die gebore Israeliet, maar ook die
vreemdeling gestraf moes word by oortreding.

Ook dus die
vreemdeling, wat miskien nog nie heeltemal besef het wat hy doen, as hy die
HERE se naam ydellik gebruik nie,

die
vreemdeling wat dalk nog nie besef het hoe
groot en almagtig die God van Israel is nie.

Dit het nie
saak gemaak nie, ook hulle het onder die straf geval.

Hoewel God
hulle onkunde waarskynlik in rekening sou bring, as – kom ons noem dit –
versagtende omstandighede.

 

Gemeente,
kom ons kom terug by onsself.

Ons mag die
HERE, die lewende God, persoonlik ken.

Ons hoor
elke Sondag: Ek is die HERE jou God, wat jou bevry het.

Vir ons sê
die HERE.

Ek, wat so
baie vir julle gedoen het en doen, vaardig hierdie wet uit.

Moenie my
naam ydellik gebruik nie.

Want julle weet wie Ek is.

Julle ken
die naam van my Seun, wat julle van sonde en dood bevry.

As julle nou
nog my naam sou misbruik, dan sê die Kategismus daaroor dat geen sonde God meer
vertoorn nie as die lastering van sy Naam.

As as jy dit
tog nog doen, dan misken jy wie Hy is en wat Hy alles vir jou gedoen het.

Laat ons aan
die een kant vrymoedig, maar aan die ander kant met groot eerbied praat oor ons
God, die Vader van ons Heiland, Jesus Christus.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)