Met die eerste gebod leer God ons vertrou

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-05-25
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 34 vraag en antwoord 94
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 25 Mei 2014 AD, 10:15

Liturgie:

Voorsang: Ps
78: 7,8,9

Votum

Seën

Ps 37:2,3

Wet

Ps 78:3,4

Gebed

Skriflesing:
Genesis 22:1-19

Ps 71:1

Skriflesing:
Genesis 28.10-22

Ps 118:4

Teks: HK Sondag
34,94

Preek

Ps 73.11,12

Gebed

Kollekte

Ps 37:23-25

Seën

Preek: HK Sondag 34,94

Die vorige
Kategismuspreek het vyf punte gehad.

Dit het
gegaan oor vyf verskillende oortedings teen die eerste gebod, soos mens dit
vind in v/a 94:

Afgodery,
towery, waarsêery, bygeloof, en die aanroeping van heiliges en ander skepsele.

Ons het
gesien dat hoewel hierdie woorde wys op die 16e eeu, die tyd van die
Reformasie uit die Roomse kerk, dat dieselfde woorde vandag, in ’n ander vorm,
nog steeds springlewendig is.

Ons het
gesien dat sonde teen die 1e gebod verskillende vorme kan aanneem.

Dat
verskillende dinge, van die tegniek tot medisyne, van jou eggenoot tot ’n
kerklike denominasie iets kan word waarop jy jou vertroue stel, in die plek van
of naas God.

So kan
hierdie dinge afgode word, dinge wat die direkte sig op God verdring.

As mens dit
so hoor, sou jy dalk kon dink:

Dit is
ontsettend moeilik om die eerste gebod wél na te kom.

Dit sal wel
verskriklik moeilik wees om die HERE te ken en sy wil korrek te doen.

Maar
gemeente, gelukkig is dit nie so nie.

Moses het
alreeds vir hierdie misverstand gewaarsku, toe hy vir Israel gesê het:

“Want
hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie
ver nie.” (Deut 30:11)

Wie die HERE
persoonlik leer ken het, sal hierdie gebod nie as ’n swaar las ervaar nie.

Wie in God
sy Bevryder gevind het, soos die aanhef van die wet sê, luister graag na
hierdie gebod.

Tema: Met die eerste gebod leer God ons vertrou

1 Abraham (hoe hy die vader van alle gelowiges geword het)

2 Jakob (hoe hy vertroue net op God geleer het)

1 Abraham (hoe hy die vader van alle gelowiges geword het)

Met hierdie
preek gaan ons spesifiek dus na die positiewe
kant van die 1e gebod: wat die HERE ons gebied.

As jy bly
wil wees in God, dan sal jy Hom eers moet ken.

Hierop
vestig die Kategismus ons aandag.

Onbekend
maak onbemind.

Ken is nie
net teoreties ken nie.

Mense wat
wel die Bybel ken, maar die HERE nie liefhet nie -Jesus sê ronduit oor hulle:

“Hierdie
volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver
van My af.” (Matt 15:8)

Die HERE ken is in die Bybel sinoniem vir die
HERE liefhê.

God ken beteken onafskeidelik met Hom
verbonde wees.

Hom vertrou.

Dink aan die
voorbeeld van Abraham.

God het vir
Abraham, deur die loop van sy lewe, geleer
om op Hom te vertrou.

Hy het hom geleer om die eerste gebod werklik in
praktyk te bring.

Dink aan toe
God vir Abraham die eerste keer geroep het.

Hy moes uit
Ur vertrek na die land Kanaän.

Hy moes maar
glo dat daar ’n beter lewe vir hom wag, vir hom en sy nageslag.

Al wat hy
gehad het, was God se woorde.

Maar pas in
die land, het hy al moed verloor, en uitgewyk na Egipte.

Daar het hy
die pad byster geraak.

Sy vertroue
op God het gewankel.

Hy het
gemeen hy moes homself uit die penarie red deur ’n leuen te vertel.

Sara sou nie
sy vrou wees nie, net sy suster.

Maar God het
voortgegaan om Abraham te leer om werklik op Hom te vertrou,

om – in dié
sin – die 1e gebod in praktyk te bring.

Die
bekendste voorbeeld is natuurlik toe die HERE vir Abraham op die proef gestel
het, met die oproep om sy seun te gaan offer (ons het dit gelees).

Abraham moes
na die spesifieke berg reis, met slegs die hoop dat die HERE hooplik een of
ander plan sou maak.

Nog ’n
voorbeeld hoe die HERE vir Abraham geleer het om die 1e gebod
werklik in praktyk te bring, is deurdat Hy vir hom en sy vrou Sara onvrugbaar
gelaat het.

Hulle het
nie ’n kind gekry nie, terwyl God tog belowe het dat hulle ’n nageslag sou kry.

Hierdie
proef het beide Abraham en Sara nie deurstaan nie.

Sara het
maar gesê Abraham moes ook haar slavin Hagar tot vrou vat.

En Abraham
het daarop ingegaan.

So het beide
Abraham en Sara weer misluk.

Sara het nie
misluk omdat sy onvrugbaar was nie – dit het duidelik aan haar gelê en nie aan
Abraham nie – maar Sara het misluk omdat sy ook kleingelowig was.

Hulle het
saam ’n alternatiewe plan bedink, om vir nageslag te sorg.

Sodat
Abraham deur Hagar ’n kind kon kry.

 

Geliefde
gemeente, so gee die Bybel vir ons sig op die lang pad wat die HERE, die
lewende God, met Abraham geloop het.

God het hom onderrig
om die eerste gebod werklik in praktyk te bring.

En
uiteindelik het God vir Abraham so ver gekry dat hy erken het God is almagtig,

dat Hy sy
beloftewoord sál nakom.

Dat God self
sal sorg vir nageslag.

 

En later, ook
toe Abraham al Isak as kind ontvang het, moes hy hom ineens gaan offer.

So ver het
God gegaan om Abraham vertroue te leer.

En Abraham
HET dit geleer.

Dat God sy
belofte sou waarmaak.

’n Nageslag,
maar nie net dit nie.

Ook dat die
Verlosser uit sy nageslag gebore sou word.

Hoe dit sou
gebeur het Abraham nie geweet nie, maar hy het geleer om groot te dink oor God.

In Hebreërs
11 lees mens hoe ver God vir Abraham uiteindelik gekry het.

Daar staan:

“want hy [Abraham] het gereken dat God mag het
om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom [Isak] ook, om so te
spreek, terug ontvang.” (Hebr 11:18-19) 

Gemeente,
verstaan u: dit is WARE GELOOF.

Uiteindelik
is dit sover dat Abraham werklik op God vertrou.

En dit is ook
hoever God elkeen van ons, vir jou en my, wil kry.

Dat ons dit
Abraham durf nasê:

Ek reken
daarop dat God by magte is om my en ook my geliefdes uit die dood op te wek.

Dit is ware
geloof.

Dit is wat
die 1e gebod ons gebied.

Dit is wat
dit beteken om die 1e gebod na te kom, in positiewe sin:

Ek glo dat
God dit kan doen!

Ek vertrou
Hom.

Langs ’n
baie lang pad het God dit aan Abraham geleer.

Dit het lank
geduur, maar uiteindelik het God vir hom sover gekry.

Ondertussen
het Abraham heelwat misstappe begaan:

-         
sy eie vrou verstoot in Egipte;

-         
’n tweede vrou gevat om ’n kind te kan kry.

Maar
uiteindelik, lank na Isak se geboorte, het God vir Abraham sover gekry.

Dat hy slegs op God vertrou.

En
sedertdien, danksy God se geduld met hom, kan Abraham nou vir alle mense ten
voorbeeld gestel word:

Abraham, die
vader van alle gelowiges.

 

(Tema: Met
die eerste gebod leer God ons vertrou

1 Abraham
(hoe hy die vader van alle gelowiges geword het)

 

 

2 Jakob (hoe hy vertroue net op God geleer het)

Daar is nog
’n bekende figuur uit die Bybel wat met val en opstaan moes leer vertrou.

Dit was
Abraham se kleinseun Jakob.

Om op God te
vertrou, dit was by hom ook nie ’n aangebore eienskap nie, soos dit trouens by
niemand is nie.

Ons het ’n
gedeelte gelees wat handel oor die lewe van Jakob.

God het aan
hom by Betel verskyn.

Daar mog
Jakob hoor wie die HERE vir hom is.

Miskien ken
u die lewe van Jakob in groot lyne.

Hoe hy
opgegroei het met sy tweelingbroer Esau.

Hoe hy op ’n
skelm manier die eersgeboortereg ingepalm het.

Hoe het
later, saam met sy ma, sy pa bedrieg het.

Dit is alles
voorbeelde van hoe Jakob se karakter was.

’n Houding
dat hy homself wel uit situasies kon uitred.

Solank ek
myself nog kan uitred, hoef ek God nie daarby te betrek nie.

Maar God het
nie genoeë daarmee geneem nie.

Hy het
persoonlik aan hom verskyn, te Betel.

 

Gemeente, is
dit nie algemeen vir die lewenshouding van baie mense nie?

Dalk veral
as jy nog gesond is, as jy nog alles met jou liggaam kan doen (dink jy
tenminste);

as jou
liggaam nie protesteer as jy werk nie of as jy sport doen nie;

as jy kan
werk vir jou eie inkomste;

as jy ’n
bietjie verstand het om sake na jou hand te sit.

So het Jakob
sy vetroue nie op God alleen gestel nie, maar hy het vir ’n groot deel op
homself vertrou.

Maar in die
lewensloop van Jakob sien mens dan dat God hom dit steeds meer probeer afleer.

Hoe God hom
probeer leer om die 1e gebod na te leef.

Naamlik
slegs op God vertrou.

Dit het
begin toe Jakob hals oor kop moes vlug.

Dit was nie
vir hom aangenaam nie.

Tog het hy
die terugslag die hoof gebied.

Deur hard te
werk, deur sy verstand te gebruik, het hy dit reggekry om Laban se veestapel
buitengewoon uit te brei, veral tot sy eie voordeel.

Ten koste
van Laban, ’n familielid wat hom onderdak verskaf het, het hy homself verryk.

Ondertussen
het Ragel in sy lewe verskyn, maar hierdie keer was Laban hom te slim af.

Hy het eers
Lea tot vrou gekry.

Hy moes 7
jaar langer bly vir Ragel.

Selfs
hierdie teleurstelling het Jakob die hoof gebied.

Maar om
werklik op God te vertrou, dit het hy nog steeds nie geleer nie.

Ten spyte
van God se verskyning aan hom te Betel.

 

Tog het God
Hom met Jakob bly bemoei.

Hy het hom
op die proef gestel.

Hy het hom
in benarde situasies gebring met hierdie doel.

Jakob moes
weer hals oor kop vlug.

Hierdie keer
weg van sy skoonpa af.

Maar goed,
hy was nog sterk genoeg om dit te doen.

En toe hy op
die pad terug die konfrontasie met Esau sien aankom het, het hy homself daarop
ook goed voorberei.

Waar hy
nooit vrygewig was nie, het hy nou ineens ’n oorvloed aan geskenke vir Esau
gestuur.

Maar ook
weer met ’n bymotief.

So het hy
homself probeer uitred.

Maar weer
het God aan hom verskyn.

Hierdie keer
in die nag, toe ’n engel, gestuur deur God, met Jakob geveg het.

Hy het Jakob
nie doodgeslaan nie, maar slegs gedoen wat God op daardie oomblik wenslik geag
het:

Hy het Jakob
mank gemaak aan sy heup.

Die eerste
teenslag wat sy liggaam getref het.

Op sy
gesondheid kon hy voortaan nie meer volledig vertrou nie.

 

Daarna het
daar egter nog iets baie meer ingrypends gebeur.

Daar was
naamlik ’n persoon wat dit vir Jakob moeilik gemaak het om slegs op God te
vertrou.

Iemand wat
sy geloofsgroei steeds gerem het.

En dit was
sy eie vrou, Ragel.

Toe hulle
vlug, het Ragel die huisgode van haar pa gesteel en saamgevat.

Ragel kon
skynbaar nie sonder hierdie afgode lewe nie.

Ragel se
hart was nie onverdeeld vir die HERE nie.

Dit het ook
uit haar houding geblyk.

Sy het ’n
ondankbare karakter gehad.

Selfs nadat
God haar gebed verhoor het en haar tog ’n kind gegee het, ’n seun soos sy wou,
was sy nog nie tevrede nie.

Sy moes en
sou net soveel kinders soos Lea haar sussie kry.

Maar daar
het ’n dag gekom toe dit vir die HERE genoeg was.

Ek sê dit
met die nodige skroom, want God se weë is vir ons onbegryplik.

Dit gaan ons
verstand te bowe.

Maar ons
lees wel in Genesis dat God vir Ragel op ’n sekere oomblik uit hierdie lewe
weggeneem het.

Ons sou sê:
’n vroegtydige dood.

Sy het
gesterf toe haar jongste seun gebore is, Benjamin.

Vir Jakob
was dit ’n mokerslag, sy lieflingsvrou was daar nie meer.

Maar feit is
wel dat dit voortaan vir hom makliker geword het om op God te vertrou.

Hy het nie
meer vir Ragel gehad wat hom heeltyd afgerem het nie.

Teen Ragel
het hy nie gedurf om in te gaan nie.

God het daarom
besluit om hierdie afgod van Jakob af weg te vat.

En so het
die HERE aanhou werk aan die lewe van Jakob.

Nog meer
dikwels sou Hy die lewe vir Jakob moeilik maak, sou Hy hom op die proef stel.

Dink aan die
angste wat Jakob uitgestaan het toe sy lieflingseun, Josef, op ’n dag verdwyn
het.

En dit was
nog nie die einde nie.

Op ’n
stadium het dit gelyk of hy Benjamin ook kwyt sou raak!

Hy het sy
ander seuns nog so gewaarsku voor die reis: moenie julle jongste broer saamvat
nie!

‘As hy ook
omkom deur ’n ongeluk, sal my grys hare met verdriet in die doderyk neerdaal!’

God het bly
werk aan Jakob.

Die
aartsvader het ’n lang lewe nodig gehad om volledig op God te leer vertrou.

Maar God het
vir hom geleer.

Deur
vreugde, maar moenie vergeet, ook deur verdriet.

 

En so leer
God elke mens.

God se weë
met ons is soms onnaspeurlik.

Maar uit sy
omgang met mense in die Bybel kan ons wel baie leer.

Veral sy
omgang, sy verbondsomgang, met sy kinders.

Hoe Hy
byvoorbeeld vir Abraham en Jakob se lewens gelei het.

Hy gebruik
voorspoed.

Hy seën
ryklik.

So kan ons
ook die seën, die geluk, goeie gesondheid, goeie werk, ’n gesinslewe, ens. as
God se omgang met jou sien.

Dit is alles
geskenke van God.

En jy mag
weet: al hierdie mooi dinge het ek nie toevallig nie.

Dit is so
beplan deur God.

Dit
verdubbel jou vreugde, as jy besef dat al die mooi dinge bewus ’n geskenk van
God aan jou is.

Met al
hierdie voorspoed leer Hy jou om op Hom te vertrou.

 

Maar nie net
voorspoed nie, uit die Bybel leer ons dat God ook teëspoed kan gebruik om mense
nader aan Hom te bring.

Die eerste
gebod is dus ’n kwessie van vertroue.

Hy leer ons,
met val en opstaan, dat ons ons vertroue al hoe meer op Hom stel.

Hy kan ons
dit ook leer deur soms dinge waarop ons geneig is om te vertrou, ons te laat
ontval.

Naas die
woordjie vertroue gebruik die
Kategismus nog ’n ander woord.

Jou vertroue
uit God blyk veral daaruit dat jy jou aan God onderwerp.

Die
Kategismus sê: jy onderwerp jou in alle ootmoedigheid en lydsaamheid.

In die nuwer
uitgawe van die Kategismus staan: in alle nederigheid en geduld.

Dus in alle
situasies jou onderwerp aan heel God
se wil.

Soms mag dit
vir ons lyk of steel voordeliger is as om eerlik te bly.

Soms lyk dit
vir ons beter om terug te slaan, eerder as om na te laat om jouself te wreek.

En so kan ek
nog baie situasies opneem.

Dit kan soms
swaar val.

Veral as die
HERE teëspoed op jou pad toelaat.

Die Bybel
ken baie voorbeelde van mense wat deur die mand geval het.

Dink aan die
profeet Jona, dink aan koning Saul, ding aan die ryk jongman wat sy goed moes
gaan verkoop en aan die armes gee, dink aan Petrus.

Tog noem die
Bybel ook voorbeelde van mense wat, danksy God se genade, regop gebly het, in
die sin dat hulle bly vertrou het.

Dink aan
Josef wat in die tronk gegooi is deur sy baas, wat enorme onreg daar gely het,
terwyl Potifar se vrou die skuldige was.

Dink aan
Moses, wat, soos daar in Hebreërs 11 staan, hom nie deur die skatte van Egipte
laat verlei het om God en sy volk te vergeet nie.

Dink aan
Dawid wat hom nie laat verlei het om koning Saul om die lewe te bring nie.

Dink veral
aan ons Heiland, wat Homself volkome onderwerp het aan die wil van sy Vader.

Hoe ook die
satan, sy vyande en selfs sy vriende geprobeer het om Hom af te trek van die
pad wat God uitgestippel het.

Onderwerping
aan God se wil, dit is ’n houding wat vrug dra.

En danksy
ons Heiland se geduld, oftewel sy lydsaamheid, is Hy, net soos Josef baie eeue
vroeër, verhoog tot die troon.

Hy regeer
nou oor die heelal, aan God se regterhand.

Hy het alles
van sy Vader verwag, en dit ook verkry.

 

Broer en
suster, as Christene mag ons ook alles verwag van ons hemelse Vader.

Hy sal die gelowiges
verlos en verhoog op sy tyd.

Ons mag
hoop, veral as ons verdruk word, of moet ly, ons mag uitsien na die dag waarop
Christus se majesteit openbaar gemaak word,

en wanneer
ons saam met Christus verhoog sal word.

Daarom moet
ons in moeilike omstandighede nie onsself wil red deur oneerlikheid of leuen,
of deur water by die wyn te doen, deur die skerp kantjies van God se gebooie af
te slyp, deur self die roer in hande te neem nie, maar net deur trou die HERE
te bly volg.

“die wêreld
gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir
ewig.” (1 Joh 2:17)

Laat ons God
so liefhê, dat ons bang is om Hom te vertroorn, Hom verdriet aan te doen.

Dat ons
eerder alle skepsels loslaat as om die minste of geringste teen sy wil te doen.

Wie vader of
moeder, seun of dogter, man of vrou liefhet bo My, is My nie waardig nie, sê
Jesus in Mattheüs 10:37.

Laat ons
naas God niks of niemand hê waarop ons vertrou nie.

“Wie het ek
in die hemel, HEER –

wie kan ek
newens U begeer?

Wat het ek
waar my hart, onrustig,

hom op die
aard’ in kan verlustig?

Beswyk dan
ooit in bittersmart

of bang nood
my vlees en hart,

dan sal U
wees vir my gemoed

my rots, my deel, my eewge goed.”

Kom ons sing
dit nou as amenlied: Psalm 73:11.

 

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)