Bid is asemhaal

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-09-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 45
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 21 September 2014 AD, 17:30

Voorsang: Ps
123:1,2

Votum

Seën

Sb 28:1-4

Skriflesing:
Psalm 143

Ps 143:1,2

Skriflesing:
Psalm 144

Ps 144:1,2,3

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 45

Preek

Ps 144:4

Gebed

Geloofsbelydenis

Ps 143:8

Kollekte

Ps 144:5,6

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 45

Asemhaal is
waarskynlik die mees vanselfsprekende saak in die wêreld.

Maar as mens
dit nie doen nie, sal jy binne ’n paar minute sterf.

Mens haal vinnig
of stadig asem, afhanklik van hoeveel lug jy nodig het.

As jy
gehardloop het, haal jy vinniger asem.

As jy in die
bed lê, haal jy rustig asem.

Ons dink
gewoonlik nie hieraan nie.

Dit is ook
nie ’n saak van wil of nie wil nie.

Asemhaal is
gewoon lewensnoodsaaklik.

Mense met
asemhalingsprobleme kan vir jou vertel hoe erg dit is.

As mens nie
normaal kan asemhaal nie.

Die tema vir
die preek is: Bid is asemhaal.

Net soos
asemhaal, kan ’n mens nie sonder gebed nie.

Wie dit nie
doen nie, sal sterf.

Gebed is ook
nie ’n saak van wil of nie wil nie.

Bid is
gewoon noodsaaklik, wil jy bly lewe.

Ons gaan na
twee punte kyk:

1                  
Hoekom bid
ek? (v/a 116)

2                  
Hoe bid ek?
(v/a 117)

1                  
Hoekom bid
ek?

Die
Heidelbergse Kategismus noem die gebed die vernaamste deel van die
dankbaarheid.

Of anders
gestel: waar geen gebed is nie, daar is ook geen dankbaarheid nie.

Wat is
dankbaarheid?

Is dit ‘n
teenprestasie vir alles wat God vir ons gedoen het?

Ons ken dink
ek die antwoord.

Maar tog bly
dit vir ons moeilik om dit werklik te besef, dat dankbaarheid nie ‘n teenprestasie
is nie.

Die
Heidelbergse Kategismus bestaan uit drie dele: 1 oor ons ellende, 2 oor ons
verlossing, en 3 oor ons dankbaarheid.

Dit is dalk
goed om vir ‘n oomblik te fokus op die verskil tussen verlossing en
dankbaarheid.

‘n Ander
woord wat dikwels in die Kategismus vir verlossing gebruik word, is
regverdiging.

Dit het
Christus verwerf.

Deur sy
offer kon Hy ons, wat skuldig was, voor God onskuldig oftewel regverdig
verklaar.

En om
daardie rede is ons tans kinders van God.

En ons weet
dat ons dit môre ook sal wees.

Dit ook ten
spyte van die feit dat ons elke dag nog sondig.

Want elke
keer as ons in ons gebed vergewing vra, in Jesus se naam, kry ons ook
vergewing.

Maar wat is
die dankbaarheid dan presies?

Calvyn
gebruik ‘n mooi voorbeeld.

Hy sê dankbaarheid
is dat ons nou in die skool van Jesus is.

In hierdie
skool leer Hy ons om hoe langer hoe meer goeie werke te doen.

Goeie werke,
dit wil sê tot eer van God en tot voordeel van ons naaste.

In hierdie
skool leer ons om hoe langer hoe meer soos Jesus te lyk, of soos die Kategismus
dit in die vorige Sondag verwoord het: om hoe langer hoe maar na die ewebeeld
van God vernuwe te word.

Nou is die
rede hoekom ons, jonk en oud, op
hierdie skool sit, nie om tog nog ‘n teenprestasie vir ons verlossing te gee
nie.

Die rede
hoekom ons op hierdie skool sit is puur omdat Jesus dit wil hê.

‘n Ouer wil
mos ook dat sy kind skool toe gaan, en ‘n ouer sal daarvoor ook die skoolgelde
betaal.

Maar dit
beteken nie dat die kind sy bes op skool moet doen as ‘n teenprestasie vir die
skoolgeld wat betaal is nie.

Verreweg die
meeste ouers dink nie so daaroor nie.

Hulle wil
gewoon dat hulle kind sy bes doen, omdat hulle van hulle kind hou, en graag die
kind so goed moontlik wil voorberei op sy toekoms.

Ouers weet
wat goed is vir hulle kinders.

Die Here
Jesus wil ons, jonk en oud, op sy skool hê, omdat dit goed is vir ons en ons
toekoms.

‘n Kind leer
nie met die idee dat hy nou met ‘n teenprestasie besig is nie.

‘n Kind leer
met die oog op sy toekoms.

So probeer
Christene ook nie goeie werke te doen met die idee dat die ‘n teenprestasie
moet wees nie.

Dankbaarheid
beteken dus: om by jou Onderwyser Jesus Christus op skool te sit.

Om jouself
voor te berei op jou toekoms, daar waar Hy jou eendag wil hê.

Dankbaarheid
beteken, dat jy jou lewe beskikbaar stel vir wat Hy daarvan wil maak.

 

Nou is die
belangrikste vak op hierdie skool: gebed.

As jy sou
vra: hoekom is gebed so belangrik?

Dan is die
antwoord in die eerste plek: omdat Christus, jou Leermeester, so besluit het.

En in die tweede
plek: omdat jy nie daarsonder kan nie.

Want bid is
asemhaal.

Broers en
susters, daar is maar weinig mense wat hoegenaamd nooit bid nie.

Selfs
ongelowiges wat in ‘n krisis beland het, voel die behoefte om te bid.

En ‘n atheïs
wat in sy lewe vasgeloop het, sal moeite ondervind om ‘n gebed, ‘n noodkreet,
te onderdruk.

Want nood
leer bid.

Ons as mense
kan nie oorleef sonder gebed nie.

Hoewel, in
die skool van Christus leer ons meer as dit.

Nie net bid
soos ongelowige mense as hulle in die penarie gekom het nie, maar gewoon bid
omdat God dit van ons vra, bid omdat God op ons reg het.

Dit leer ons
dus in die skool van Christus.

Of dit met
ons goed gaan of nie, elke dag leer ons om tot God te bid.

Die gebed
word ‘n daaglikse roetine, net soos asemhaal.

En so is ons
dan ook goed voorbereid, as daar ooit iets met ons sou gebeur.

Dan geld nie
vir ons: nood leer bid nie.

Maar:
Christus het ons leer bid.

 

Die
Kategismus sê: God eis van ons dat ons bid.

Ook hierdie
“eis” moet ons nie verkeerd verstaan nie.

God is nie
‘n geldskieter wat terug wil hê wat Hy vir ons gedoen het nie.

God is ons
Vader, wat weet wat goed is vir ons toekoms.

Ouers verwag
van hulle kinders om skool toe te gaan, dit staan buite diskussie.

So moet ons
ook na Christus se skool gaan.

Waar die belangrikste
vak die gebed is.

Nou is
hierdie maar net ‘n beeld, beeldspraak – en elke voorbeeld het sy beperkings.

Maar dit
help ons wel om van die gedagte ontslae te raak asof dit ‘n teenprestasie sou
wees.

 

As ons nou
verder na die Kategismus kyk, staan daar:

God wil sy
genade en Gees alleen aan hulle gee wat hom van harte en sonder ophou daarom
bid en dank.

Sonder ophou
op sy deur bly klop.

Jy hoef
jouself ook nie anders voor te doen nie.

Jy mag na
Hom kom as sy kind, elke dag, in vreugde en in verdriet.

Dink aan die
twee psalms wat ons gelees het.

Hulle is
albei deur dieselfde persoon geskryf – Dawid.

Maar in Ps
143 vind ons ‘n baie somber stemming.

En in Ps 144
totaal iets anders: ‘n blye stemming.

God wil dat
jou hart tydens jou gebed oopgaan.

Jou vreugde,
jou angs, jou verdriet, jou skuldgevoelens, jou dankbaarheid, selfs jou
agressie.

Dink aan wat
Dawid in Ps 143 byvoorbeeld oor sy vyande sê.

“Vernietig
my vyande... bring almal om wat my as vyand behandel.”

Dit klink
nogal aggressief.

 

God wil ook
dat ons onophoudelik by Hom bly aanklop.

Dit is nie
in teenstelling met wat nounet genoem is nie, naamlik dat dit van harte moet
wees nie.

Sonder ophou
beteken nie dat jy oorskakel op die outomatiese piloot nie.

In die
Roomse kerk was dit byvoorbeeld die gewoonte om die Onse Vader, die Pater
Noster, in Latyn te bid.

Kan die
woorde dan ‘n barometer wees van jou hart, as jy die woorde self nie eers
verstaan nie?

Maar selfs
as ons in ons eie taal uit gemaksuk die Onse Vader bid sonder nadenke, doen ons
dit dan van harte?

Verskyn ons
dan voor God se aangesig in al ons gemoedsstemminge?

As ons bly
is, en ook as ons somber en depressief is?

Dink aan die
gelykenis van die weduwee en die onregverdige regter.

Sy het bly
klop, asof haar lewe daarvan afgehang het.

Tot
vervelens toe.

Gelukkig is
God nie ‘n onregverdige regter nie.

Hou dus aan
met klop, wetende dat Hy jou sal verhoor.

 

Vir verhoor gebruik die Kategismus bietjie
ander woorde.

God gee sy
genade en sy Heilige Gees.

Dit is iets
anders as wat God jou op al jou persoonlike wense bedien.

Want dan sou
God nie meer God wees nie, dan beskou jy Hom net as ‘n soort kersman.

Die gebed is
nie bedoel dat God op een lyn kom met ons wil nie.

Die gebed is
eerder bedoel dat ons op een lyn kom met God se wil.

Elke ouer wat
van sy kind hou, weet dat hy nie op al sy kind se versoeke kan ingaan nie.

En dat ‘n
kind soms tyd nodig het om daarmee vrede te maak.

Maar elke
ouer weet ook dat daar versoeke van sy kind is waarop hy wel kan ingaan.

Omdat
daardie versoeke in ooreenstemming is met die wil, die opvoedingstyl, van die
ouers.

En so is ons
hemelse Vader ook, Hy is net nog veel wyser.

Ons lees in
die Bybel dat Hy Homself kan laat verbid, selfs deur iemand wat God nie gevrees
het nie, ek dink aan koning Joahas – 2 Konings 13.

“Maar Joahas
het die aangesig van die HERE om genade gesmeek. Toe verhoor die HERE hom, want
Hy het die verdrukking van Israel gesien, dat die koning van Aram hulle
verdruk.” (vers 4)

Maar laat
ons nie met die HERE diskussieer hoe
Hy ons gebed moet verhoor nie, want daarvoor is ons te klein.

God is baie
wys, laat ons daarop vertrou.

Selfs Jesus
het nie met God gediskussieer nie, toe Hy in die tuin van Getsemane gebid het
nie.

Hy het wel
met God geworstel, Hy het geworstel om op een lyn te kom met God se plan.

Nie my wil
nie, maar laat u wil geskied.

En God het
sy gebed verhoor.

Nie dat Hy
die lydensbeker aan Hom laat verbygaan het nie.

Maar Hy het
‘n engel uit die hemel gestuur om Hom te troos en te versterk.

Sien Lukas
22:43.

 

Ons kom nou
by die 2e punt.

 

Tema: Bid is
asemhaal.

Hoekom bid
ons?

Dit het ons
in die eerste punt gesien.

Omdat ons op
Christus se skool sit.

Dis die
vernaamste deel van die dankbaarheidskool.

Sonder gebed
sterf die nuwe lewe, wat ons van God gekry het, af.

 

 

2                  
Hoe bid ek?
(v/a 117)

‘n Goeie
gebed voldoen aan drie vereistes, drie kenmerke, volgens antw. 117:

1)     ‘n gebed is
net ‘n gebed as dit gerig is tot God;

2)     as ons die
regte houding het, ‘n nederige houding;

3)     en derdens,
as dit gebeur in die naam van Jesus

Hierdie drie
dinge is dus ‘n voorvereiste vir ‘n gebed wat God behaag.

Ons kan dit
ook noem, die randvoorwaardes vir ‘n gebed.

Dit wat van
‘n gebed ‘n gebed maak.

En in die
eerste plek is dus dat ‘n gebed net ‘n gebed genoem kan word as dit gerig is
tot die ware God.

Wanneer
mense tot heiliges bid, soos die Rooms-katolieke, of wanneer mense tot hulle
voorvaders bid, soos hier in Afrika, kan mens dit nie ‘n gebed noem volgens
die  Bybelse definisie nie.

As ons via
‘n ander persoon, of dit ‘n heilige is of ‘n oorlede voorouer, met God praat,
is dit nie ‘n gebed nie.

Net soos ‘n
ouer wil dat ‘n kind direk met hom praat, so wil God dat sy kinders direk met
Hom praat.

Bid is om
God persoonlik aan te roep.

 

Gelukkig ken
ons God.

Hy het Hom
aan ons in sy Woord bekend gemaak.

Ons kan God
aanroep soos Hy Homself geopenbaar het.

God ons
Vader, God die Barmhartige, God die Almagtige.

 

Dan die
tweede kenmerk van ‘n gebed.

As ‘n mens
bid, neem jy ‘n nederige houding aan.

Jy
verootmoedig jouself.

Jy kan nie
bid, by wyse van spreke: Here, weet u, ek is eintlik goed né, want ek bid nou
al weer vir U, en U hou mos daarvan as ek dit doen...

Ek dink ons
voel wel aan: so ‘n houding pas nie by die sfeer van ‘n gebed nie.

‘n Nederige
houding aanneem beteken dat jy jou nood en ellende ken.

Nood, dit
wil sê: jy is diep afhanklik van God, sonder Hom kan jy niks begin nie.

Hy bepaal
jou lewe.

Hy skenk jou
die lewensasem.

En
verootmoedig, dit beteken dat jy jou ellende ken.

Dat ons
sondige mense is.

Dat dit nie
vanselfsprekend is dat God ons te woord wil staan nie.

En nog
minder vanselfsprekend dat Hy ons goedgesind is.

 

Die eerste
kenmerk van ‘n gebed is eintlik die korrekte Godskennis.

En hierdie
tweede kenmerk is die korrekte mensekennis.

Die feit dat
jy besef dat God nie van jou afhanklik is nie, maar jy van Hom.

As jy nie
van God afhanklik was nie, dan was dit ook nie nodig om dikwels met Hom te
praat nie.

Maar gesien
die feit dat elke mens van God afhanklik is, daarom is bid noodsaaklik.

Nie vir niks
die belangrikste vak in die dankbaarheidskool van Christus nie.

 

As ons Dawid
se twee gebede, Ps 143 en 144 lees, dan vind ons hierdie mensekennis ook daarin
terug.

Dawid sê in
Ps 144: “o HERE, wat is die mens dat U hom ken, die mensekind dat U op hom ag
gee? Die mens is soos die nietigheid; sy dae is soos ‘n vlugtige skaduwee.”
(v3-4)

Hoor jy
hierin dat Dawid die regte houding het, hy is nie hoogmoedig nie.

En in Ps 143
sê hy:

“gaan nie na
die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig
nie.” (v2)

Hoor jy
hierin die ellende van ‘n mens?

 

Ons kom voor
God, wat so vol majesteit is, met eerbied en respek.

Dit blyk ook
uit die manier waarop ons bid.

Hande gevou,
oë toe.

So is ons
weerloos.

So kan ons
niks anders doen nie, net bid.

 

En dan die
derde kenmerk van ‘n gebed:

Ons het geen
selfvertroue nie, maar wel vertroue op Christus.

Hoe sou ‘n
sondaar op homself voor die allerhoogste God durf verskyn?

Maar
gelukkig, ‘n sondaar gaan saam met die Here Jesus na die Vader.

Jesus neem
jou by die hand.

Gemeente,
ons dink nie elke dag daaroor na nie, dit het vir ons ‘n formule geword om ons
gebed te beeïndig: ‘ons bid dit in Jesus se naam’; of ‘ ons vra dit in die naam
van die Here Jesus Christus’.

Tog is dit
goed om weer te besef hoekom ons hierdie formule gebruik.

Laat ek ‘n
alledaagse voorbeeld gebruik.

As jy geld
uit jou bankrekening nodig het, kan jy dit gaan trek by die ATM.

Maar voor jy
die geld kry, moet jy eers jou pinkode intik.

Sonder jou
pinkode kry jy nie ‘n sent in hande nie.

Nou klink dit
dalk na ‘n bietjie oneerbiedige vergelyking.

Maar dit
help ons hooplik om wel te besef dat die vergewing wat ons van God ontvang, nie
vanself kom nie.

Die feit dat
God ons vergewe, en ons hoef dit nie eers twee keer te vra nie, dit het ‘n
oorsaak.

Dit is slegs
en alleen moontlik omdat Jesus  Christus
dit so gereël het.

Ons hoef
maar net sy naam te noem, en dan kom daar vergewing.

Sy naam is
effektief.

Want Hy het
sy kosbare bloed vergiet.

Sy
versoeningsoffer is die vaste grond onder ons gebed, soos die Kategismus dit
verwoord.

Die woorde
‘om Jesus wil’ mag dus nie ‘n uitgeslete gewoonte raak nie, en nog minder mag
ons dit oorslaan of vergeet.

Sonder sy
naam sal daar nie vergewing kom nie, net so min as wat jy geld gaan kry sonder
‘n pinkode.

Elke gebed van
ons word slegs deur Jesus by die Vader gebring.

In Hebreërs
4 word dit op ‘n baie mooi en eerbiedige wyse onder woorde gebring:

“Terwyl ons
dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemel deurgegaan het, naamlik Jesus,
die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ‘n
hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle
opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met
vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan
verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” (v14-16)

 

Geliefde
gemeente, bid is die asemhaal van ons lewe in diens van God.

Styg jou
gebed daagliks tot Hom op?

Wat ‘n
wonder is dit nie, dat by so ‘n standverskil tussen ‘n sondaar en die
hoogheilige God daarbo,

dat juis ‘n
sondaar met vrymoedigheid in die troonsaal mag verskyn.

Direk met
God mag praat.

Danksy die
Naam van Jesus.

In sy naam
kan ons asemhaal.

 

Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)