Die HERE se oproep deur die eeue heen

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-05-25
Teks: 
Romeine 10 : 13
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 25 Mei 2014 AD, 17:30

Liturgie:

Voorsang: Ps
79:1-5

Votum

Seën

S: Ps 19:1

Gebed

Skriflesing:
Joël 2:18-32

S: Ps 84:4

Skriflesing:
Romeine 10

S: Ps 19:2

Teks:
Romeine 10:13

Preek

S: Sb 31:1,2

Gebed

Geloofsbelydenis
(sing)

Kollekte

S: Sb 31:3

Seën

Preek: Romeine 10:13

Hierdie is
die derde preek uit die profeet Joël.

Dit lyk dalk
nie so nie, maar die teks, Romeine 10:13, is ’n aanhaling uit die profeet Joël.

Hoewel Joël
in sy eie tyd ’n redelik onbekende profeet was, ons weet bitter weinig van sy
persoonlike lewe, eintlik niks nie, tog het sy woorde baie bekend geword.

Nie sy
persoonlike woorde nie, maar dit wat hy gehoorsaam in opdrag van die HERE
gespreek het.

Want sy
woorde vind ons nie net in die 3 hoofstukke van die boek Joël nie.

Sy woorde
resoneer deur die res van die Bybel, en dan dink ek veral aan die Nuwe
Testament.

Wat Joël
geprofeteer het met die oog op sy eie tyd – u onthou dit waarskynlik nog – oor
die sprinkaanplaag, en oor in die eerste plek God se straf oor sy eie volk,
maar in die tweede plek God se straf ook oor die heidenvolke, en wat hy
geprofeteer het oor hoe om te ontsnap aan die oordeel; ’n ontsnappingsroete wat
God self aanbied om aan die komende oordeel te ontkom; en wat Joël geskryf het
oor die stad Jerusalem as die veilige hawe teen die oordeel; nie net vir God se
eie volk as hulle hul bekeer nie, maar vir enige persoon uit alle volke en
nasies wat tot bekering kom.

Al hierdie
woorde, al hierdie gedagtes, resoneer in die Nuwe Testament.

As Jesus
byvoorbeeld profeteer oor die komende oordeel, die oordeel oor Jerusalem asook
die laaste oordeel oor die wêreld, dan gebruik ons Heiland woorde uit die
profeet Joël.

As ons in
Openbaring lees oor hierdie selfde oordeel, oor Jerusalem en oor die hele wêreld
aan die einde van die tyd, dan vind ons weer frases uit Joël.

Joël het God
se oordeel en straf vergelyk met die graanoes en die wynoes.

God wat die
sekel in die koring steek.

In
Openbaring skryf Johanns oor ’n engel met ’n skerp sekel.

Joël
profeteer oor die parskuip wat getrap word.

Vroeër is
die druiwe of olywe-oes in ’n parskuip gegooi, ’n groot klip bak, met ’n
gaatjie onderin.

Dan het die
mense die druiwe fyngetrap, sodat die sap uit die gaatjie gevloei het, waarna
hulle dit kon opvang.

Hierdie agrariese
aktiwiteite het Joël simbool gemaak vir hoe God met die sondige wêreld afreken.

En dieselfde
beeld vind ons dus in Openbaring, as daar weer oor God se groot oordeel geskryf
word.

Verder, as
Petrus op die Pinksterdag die mense oproep tot bekering, dan haal hy aan uit
Joël.

Die son sal
verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige
dag van die Here kom.

Maar elkeen
wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Hierdie is
letterlik woorde van die profeet Joël wat Petrus gebruik.

En dieselfde
geld vir ons teks, as Paulus skryf vir die Christene in Rome.

As hy skryf
oor die verhouding tussen God se ou verbondsvolk, die Jode, en die gelowiges
uit die heidene.

Tema: Die HERE se oproep deur die eeue heen

-         
In Joël se
tyd

-         
In Paulus se
tyd

-         
In ons tyd

-         
In Joël se
tyd

Nou sou mens
die vraag kon vra: hoekom het hierdie woorde van die profeet Joël so bly
vashaak?

Hoekom het
mense sy woorde, geprofeet in die verre ou tyd, steeds bly herhaal?

Hoekom het
mense sy woorde gebruik om dinge te sê of te bewys wat relevant was vir hulle
eie tyd?

Hoekom het
selfs die Here Jesus dit gedoen?

 

Die basiese
rede wat hieraan ten grondslag lê, is die feit dat, maak nie saak oor watter
eeu uit die wêreldgeskiedenis jy praat nie, dat aan die een kant God altyd
dieselfde bly, en die manier hoe Hy omgaan met die mensheid, en aan die ander
kant dat mense ook dieselfde bly.

Mense leef
nie ewig nie.

Elke eeu
loop daar ander mense op aarde rond.

Maar tog bly
mense se karakter dieselfde.

Die mensheid
se aard verander nie.

Mense, of
hulle nou behoort aan God se volk, die kerk sê ons vandag, of dat hulle
ongelowig is buite God se volk, mense bly dieselfde, hulle gedragspatrone.

 

Joël het die
situasie van sy tyd beskryf.

God se volk,
wat in teenstelling tot die heidene, God en sy Woord geken het.

God se volk,
wat verskillende godsdienstige gebruike onderhou het.

Maar tog, sê
Joël, was dit so dat hulle hart nie meer met die HERE was nie.

Die HERE het
sy verbondsvolk nie net hulle gang laat gaan nie, Hy het Homself met hulle
bemoei.

Hy het
strawwe gestuur om hulle tot inkeer te bring.

Hy het
heidenvolke gebruik om hulle te straf.

Tog het Hy
die heidenvolke, wat hulle boekies te buite gegaan het, nie oogluikend
toegelaat om dit te doen nie.

Sy straf het
ook oor die heidenvolke gekom.

Dink aan die
dal van Josafat, waaroor ons in Joël gelees het,

die plek
waarheen die HERE al die volke ontbied het vir sy oordeelsdag.

Maar te
midde van dit alles het die HERE tog ook vir die wat tot Hom terugkeer, of dit
nou individue uit sy eie volk was of uit die heidenvolke, ’n ontsnappingsroete
aangewys.

’n Plek
waarheen hulle kon vlug, en waar hulle veilig sou wees teen die oordeel.

Joël wys die
stad Jerusalem duidelik uit as die plek van veiligheid, die skuilplek, die
bergvesting.

Almal, Jood
of heiden, wat daarheen vlug, sou gered word.

Daar laat
die HERE Hom vind.

Die HERE het
geduld, Hy gee lank geleentheid.

Maar daar
kom ’n dag waarop die geduld op is, en dan kom die straf oor almal wat hulle
teen Hom verhard het.

 

-         
In Paulus se
tyd

As ons nou
’n aantal eeue die toekoms in beweeg, en ons kom by ons teks en Romeine hfst
10, dan sien ons hier dat Paulus, hoewel dit ’n heel ander tyd en omstandighede
is, dat Paulus tog presies dieselfde proses beskryf.

Ook in sy
tyd was God dieselfde as in Joël se tyd, en was die mense met hulle
gedragspatrone dieselfde.

Wat was
naamlik die geval.

Ook in
hierdie tyd het God ’n profeet na sy volk gestuur.

Hierdie keer
was dit nie ’n relatief onbekende profeet soos Joël nie.

Hierdie keer
het God sy eie Seun gestuur as Profeet.

Hy het met
dieselfde boodskap tot God se volk gekom as Joël destyds.

Al was Jesus
se boodskap veel ryker, was die kern presies dieselfde.

’n Boodskap
wat vra vir bekering en geloof, wat praat oor God se beloftes aan sy volk, maar
ook dreig met God se straf as sy volk hulle nie bekeer nie.

’n Boodskap
wat ook aandag skenk aan die lot van die heidenvolke, net soos by Joël al die
geval was.

 

Ons ken
hierdie geskiedenis.

Hoe die
grootste deel van God se volk die boodskap van die Messias verwerp het.

Hoe hulle
God se Profeet selfs gekruisig het.

En wat
daarna gebeur het.

Hoe, nadat
God eers vir sy eie verbondsvolk die kans gegee het, Hy vervolgens ook sy
apostels na die heidene gestuur het.

En hoe baie
heidene tot bekering gekom het, dit tot beskaming van die Joodse volk.

En dit is
presies waaroor Paulus in Romeine 10 skryf.

Die jong
kerk in die stad Rome het vir ’n groot deel uit bekeerde heidene bestaan.

Daar was ook
’n klompie Jodechristene onder hulle.

Maar tog het
ook vir die stad Rome gegeld, soos dit vir al die ander stede gegeld het waar
Paulus op sy sendingsreise was, en wat ook vir die stad Jerusalem gegeld het,
naamlik:

Die meerderheid van die Jode het die
evangelie afgewys.

In die stad
Rome was daar naamlik ook baie Jode woonagtig.

In daardie
tyd was die Jode verspreid oor die hele Romeinse Ryk.

Daar het
meer Jode buite die ou beloofde land, Judea, Samaria en Galilea, gewoon, as
daarbinne.

Die
sogenaamde Jode van die Diaspora.

As mens
vandag ’n besoek aan Rome sou bring, kan jy nog steeds die katakombes van die
Jode besoek.

Die Romeine
het hulle dooies veras.

Maar die
Jode het hulle begrawe, en daarvoor het hulle tonnels net buite die stad Rome
gegrawe.

Die
Christene het in latere eeue hierdie gewoonte oorgeneem, en ook katakombes
gegrawe vir hulle oorledenes.

 

Die jong
gemeente aan wie Paulus sy brief skryf, het hulle eintlik in ’n baie moeilike
posisie bevind.

Hulle het
hulle bekeer en begin glo in Jesus Christus, wat ’n Joodse Profeet was.

Maar die
meerderheid van die Jode in Rome het
Hom verwerp.

Dit het die
kerk se posisie baie kwetsbaar gemaak.

Vir Paulus,
wat self ’n trotse Jood was, was dit ’n geweldige groot hartseer.

Dat die
meerderheid van God se ou verbondsvolk die Messias wat Hy gestuur het, verwerp het.

Dit was een
van die moeilikste vraagstukke waarmee Paulus geworstel het.

Hy was self
ook een van hulle wat die Messias aanvanklik verwerp het.

Toe Petrus
op Pinksterdag die woorde van die profeet Joël aangehaal het – Handelinge 2:21:
“elkeen wat die naam van die Here aanroep, sal gered word” – en Petrus het
hierdie teks toe spesifiek op Jesus toegepas.

Met “die
naam van die Here” het hy sy hoorders dus gewys op Jesus,

toe Petrus
op Pinksterdag die Jode dus opgeroep het om Jesus as Messias aan te neem, het
Paulus, Saulus was hy toe nog, dit verwerp.

Die woorde
van Petrus het sy haat net nog laat oplaai.

Maar sy lewe
is so gelei dat hy homself later voor die lewende God verneder het.

Christus het
hom op die knieë gedwing.

En nou gebruik
Paulus hierdie selfde woorde van Joël om almal op te roep om te buig voor Jesus
– Jode sowel as nie-Jode.

In Romeine
10 fokus Paulus spesifiek op die Jode.

Paulus het
presies geweet, uit eie ervaring, wat hulle deurmaak.

Hy kon hulle
gedrag baie goed plaas.

En Paulus
gebruik nou die Ou Testament, onder andere Joël, om die situasie te
verduidelik.

Want net
soos in die tyd van Joël, is God nog steeds dieselfde.

En net soos
in die tyd van Joël, is die gedrag van God se volk ook nog dieselfde.

 

Dit is dalk
belangrik in hierdie verband om net te beklemtoon dat mens nie ’n verkeerde
onderskeid tussen die Ou en die Nuwe Testament moet maak nie.

Dis ook nie
wat Paulus in Romeine 10 doen nie.

Asof Paulus
in sy Romeinebrief sou skryf dat in die bedeling van die Ou Testament God se
volk gered is deur die onderhouding van die wet.

Dat ’n lewe
streng volgens die gebooie jou krediet by God sou oplewer.

En dat
volgens Paulus dit nou in die nuwe bedeling verander het na die geloof.

Dat ’n mens
voortaan gered sou word uit geloof en nie meer deur onderhouding van die wet
nie.

Dit sou ‘n
verkeerde teenstelling tussen die Ou en Nuwe Testament wees.

Die Ou
Testament sê self soveel keer – bv.
deur Joël – dat die regverdige uit die geloof sal lewe, dat elkeen wat die die
Naam van die Here aanroep, gered sal word.

Ook in die
Ou Testament het die genade die botoon gevoer.

 

Paulus besef
egter dat die gedrag van sy eie volk op hierdie stadium egter presies
ooreenstem met die gedrag van God se volk in Joël se tyd.

God se volk wou
nie luister na die profeet se boodskap nie.

Dit was lank
gelede die geval.

Dit is nou
ook weer die geval.

Die volk wou
nie na Jesus luister nie.

En hulle het
selfs redes begin uitdink, redenasies, om hulle gedrag te regverdig.

Hulle het
selfs die Ou Testament, die wet, en hulle interpretasies daarvan, begin gebruik
om God se profeet aan te val.

Want Jesus
sou Hom nie noukeuring aan hulle sabbatsreëls hou nie, om maar ’n voorbeeld te
noem. Hy sou te vry wees.

En daar was
nog ander punte ook waarin Jesus van hulle verskil het. Jesus was bv. weer
strenger wat die egskeidingswetgewing betref.

So het hulle
hulle eie wetsonderhouding en interpretasies misbruik om Jesus te
marginaliseer.

Hulle gedrag
was presies dieselfde as dit waarop Joël ook al gewys het.

Die feit
naamlik dat die mense hulle klere skeur, maar nie hulle hart nie.

Hulle verhard hulleself eerder.

Hierdie
gedragspatroon het Paulus ook waargeneem by sy eie mense, en dit het hom
verskriklik verdrietig gemaak.

 

Maar Paulus
skryf dan nog oor iets anders, en dit is hoopgewend.

Want
dieselfde wat God in Joël se tyd gedoen het, doen Hy ook nou.

In Joël het
ons gelees dat daar ’n ontsnappingsroete is, ook vir die heidenvolke, en dit is
Jerusalem.

En Paulus
wys nou daarop dat dieselfde weer gebeur, en nou selfs in veel groter mate.

God sorg dat
heidene Jerusalem binnestroom, ja ’n menigte heidene neem hulle toevlug in die
plek van veiligheid wat God beskikbaar gestel het.

Hierdie keer
is dit nie letterlik die stad Jerusalem nie.

Nee, in
Paulus se tyd was Jerusalem ’n bolwerk van verharding teen die Messias.

Maar die
plek van veiligheid in die nuwe bedeling is die kerk van Jesus Christus.

Paulus mog
getuie wees hoe ’n menigte heidene die kerk binnestroom, selfs nog voordat die
meerderheid Jode dit doen.

En dit, sê
Paulus, is God se werk.

God doen dit
om sy eie volk jaloers te maak.

“Ek sal
julle jaloers maak op die wat geen volk is nie”, haal Paulus aan uit
Deuteronomium 32(:21).

 

En dit is
ook julle taak, skryf Paulus aan die Christengemeente in Rome.

Al is julle
in ’n benarde situasie, omdat julle die Joodse Messias aangeneem het terwyl die
meerderheid Jode Hom verwerp het, God het julle daar geplaas om die meerderheid
Jode in die stad jaloers te maak.

Om hulle te
prikkel om die profesieë uit hulle eie Bybel weer ‘n keer goed te lees.

Soos wat
daar staan in Joël: Elkeen wat die
Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Skeur julle hart, en nie julle klere nie.

Luister na hulle wat die evangelie van vrede verkondig, die lieflike voete van die
wat die goeie boodskap bring.

Die geloof
is uit die gehoor, en die gehoor uit die Woord van God.

Daardie
einste Woord van God wat julle reeds het, o.a. die profeet Joël.

Staan daar
nie in daardie Woord, wat julle tot julle eie reken, dat God se stem oor die
hele aarde sal uitgaan nie?

 

(Tema: Die
HERE se oproep deur die eeue heen

-         
In Joël se tyd

-         
In Paulus se tyd)

 

 

-         
In ons tyd

As ons ons
teks en hierdie gebeure nou op ons eie tyd wil toepas, dan moet ons weer begin
met wat ek aan die begin gesê het.

God bly
altyd dieselfde.

En mense,
hulle geaardheid, hulle gedrag, verander ook nie.

Soos ons in
die Bybelse geskiedenis gesien het dat God se volk op ‘n stadium afvallig
geraak het, en dat die HERE dan heidene gebruik het om hulle tot jaloersheid te
prikkel, om naamlik terug te keer tot Hom, om werklik hulle hart te skeur,

So kan ons
sê dat dit vandag ook nog gebeur.

So het dit
deur die hele kerkgeskiedenis gebeur.

God het die
ou christenheid onder leiding van die pous te Rome tot jaloersheid geprikkel
deur die nuwe kerke wat wel aan die oproep tot Reformasie gehoor gegee het, en
hulle nie daarteen verhard het nie.

Maar
deesdae, nou weer vyf eeue later, het daardie hoofstroom Protestantse kerke
self afvallig geraak.

Net soos God
se verbondsvolk destyds, is daar in die nuwe bedeling ook geen kerk wat altyd
trou sal bly nie.

Mense bly
dieselfde, hulle gedragspatrone verander nie.

Dus is daar
is tye van berou en bekering, maar daar is ook tye van insinking, afval, selfs
verharding.

Dit sien ons
deesdae in die hoofstroom Protestantse kerke.

Hulle het
ingesink, hulle het afvallig geraak, hulle verhard hulle selfs teen die Bybelse
boodskap.

Maar in elke
eeu sal God ook weer vir Reformasie sorg, Hy sal die heidene, of hulle van wie
mens dit nie verwag het nie, tot geloof, verootmoediging en bekering bring, om
so sy ou maar afvallige volk jaloers te maak.

 

Gemeente,
ons is ook deel van hierdie gebeure, in die tyd waarin ons leef.

Laat ons tog
naby God se Woord leef.

Joël se
oproep, soos deur Paulus herhaal: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal
gered word.

Laat ons nie
– soos die Jode vanouds – trots wees, en aan ons tradisies, kerklike agtergrond
of wat ook al vashou en daaraan ons identiteit ontleen nie, terwyl dit
ondertussen afvallig geraak het nie.

Laat ons nie
vashou aan iets, iemand, ‘n groep of wie of wat ook al wat ingesink het,
afvallig geraak het, of selfs besig is om hulle te verhard teen God se Woord
nie.

Wat selfs
God se Woord – soos die Jode ook gedoen het – te verdraai sodat dit as wapen
teen God se profeet gebruik word.

Ons moenie
naïef wees nie.

Ons leef tot
‘n groot mate in ‘n samelewing wat afvallig raak van God se Woord.

Wat selfs
God se Woord so interpreteer, dat dit voortaan sê wat dit nog nooit gesê het
nie.

Laat ons
vashou aan God se Woord, en eenheid soek met almal wat hierdie strewe het.

God se Woord
bly dieselfde deur alle eeue heen.

Want die
outeur, die Heilige Gees, bly dieselfde.

Die Heilige
Gees se mening verander nie soos wat mense, samelewings, kerke of teoloë
verander nie.

God se Woord
is duidelik, vir elke mens, en God se Woord is naby ons.

“Naby jou is
die Woord, in jou mond en in jou hart.

Dit is die
Woord van die geloof wat ons verkondig.” (Rom 10:8)

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)