Die HERE verdien om geprys te word

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-09-28
Teks: 
Psalms 98
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 28 September 2014 AD, 10;15

Voorsang: Ps
126:1-3

Votum

Seën

Ps 92:2,6

Wet

Ps 119:26

Gebed

Skriflesing Psalm
148 & 149

Ps 149:1-4

Teks: Psalm
98

Preek

Ps 98.1,2

Gebed

Kollekte

Ps 98:3,4

Seën

Preek: Psalm 98

Psalm 98 is
al duisende jare oud.

’n Lied,
geskryf lank gelede deur ’n Israeliet in die Midde-Ooste.

Hierdie ou
lied is nog steeds aktueel.

Want die God
waaroor die lied sing, is die Skepper van alle mense.

Hy is en bly
altyd dieselfde.

Ons weet nie
wie dit gedig het nie, en ook nie wanneer presies nie.

Dit kon
plaasgevind het in die tyd van koning Dawid, duisend jaar voor Christus se
geboorte.

Dit kon ook
gebeur het in die tyd van die ballingskap, vyfhonderd jaar voor Christus.

Wat ons wel
weet, is dat die digter ons oproep om die HERE te loof.

En dit doen
hy by herhaling.

Sing ‘n nuwe lied vir die HERE.

’n Lied
waarin jy jou hoogste vreugde wys.

Ervaar jy
dit ook soms, dat daar so iets moois gebeur het, dat jy wil sing van geluk?

Dat jy
sommer jou eie lied wil skryf?

Wanneer sing
mens ’n nuwe lied?

’n Nuwe lied
sing mens inderdaad as daar iets baie belangriks gebeur het.

Ter
geleentheid van iets buitengewoons.

So
buitengewoon, dat daarvoor ’n nuwe lied gemaak moet word.
Soms, as daar ’n nuwe skool geopen word, dan word daar ’n skoollied
gekomponeer.

Of soms, as
daar ’n bruilof is, dan word daar ’n feeslied, ’n bruilofslied geskryf, wat die
gaste vir die bruidspaar sing.

Inderdaad by
buitengewone gebeurtenisse.

En dit is
hier ook die geval.

Tema: Die HERE verdien om geprys te word

1      
Sy
regterhand het wonders gedoen

2       
Alle geskape
dinge moet jubel tot sy eer

1      
Sy regterhand
het wonders gedoen

God het
naamlik wonders gedoen.

God se
regterhand en sy heilige arm het vir die oorwinning gesorg.

In vers 2
lees ons: “Die HERE het sy heil bekend gemaak” – mens kan ook vertaal: die HERE
het sy oorwinning bekend gemaak.

God se
regterhand is simbool vir sy almag.

Niks is vir
sy regterhand onmoontlik nie.

As God se
regterhand ingryp, gebeur daar wonders.

En Sy
heilige arm, dit wil sê: sy arm is volkome toegewy om die taak wat God wil
uitvoer, ook daadwerklik uit te voer.

Dan gebeur
daar dinge wat bo die krag en verstand van mense uitstyg.

En dit was
volgens die digter duidelik sigbaar.

God het ingegryp.

Tot redding,
tot heil, tot die oorwinning.

 

Soos gesê,
daar staan nie eksplisiet aan watter gebeurtenis die digter dink nie.

In die Ou
Testament vind ons in elk geval genoeg voorbeelde.

Die digter
kon byvoorbeeld teruggedink het aan die wonders uit die verlede.

Dat die volk
uit Egipte bevry is, deur die Skelfsee.

Hoe dit
plaasgevind het.

Dat God daar
duidelik sigbaar met sy almag aanwesig was.

Maar die
digter kon ook aan iets gedink het uit sy eie tyd.

Dat God se
volk byvoorbeeld die geleentheid gekry het om terug te keer uit die ballingskap.

Dat God die
gang van die geskiedenis so gelei het dat koning Kores aan die volk daardie
geleentheid gegee het.

 

Watter
gebeurtenis dit ook was, in hierdie psalm word God voorgestel as die groot en
almagtige Stryder vir sy volk.

As die
almagtige God wat nie afhanklik is van mense nie.

Wat weet
wanneer om in te gryp.

Wat aktief
die wêreldgeskiedenis stuur.

Wat dit vir
sy volk opneem.

Hieroor sing
die digter.

Hy is
persoonlik daarby betrokke.

Dit was nie
‘n oorlog in ‘n ver land waarvan die digter net gehoor het nie.

Die digter
mog self, persoonlik, die bevryding meemaak.

 

Die digter
gebruik die woorde: heil en geregtigheid.

Hierdie
woorde is gedeeltelik sinoniem in die konteks van die psalm.

Heil en
geregtigheid voor die oë van die volke.

Die digter
sê: al die eindes van die aarde het die heil van ons God gesien.

Nogmaals,
watter konkrete gebeurtenis die digter in gedagte gehad het, kan ons nie meer
agterkom nie.

Wel is dit
so dat hierdie psalm, gesien die verdere verloop van die geskiedenis, ook ‘n
profesie is.

Die digter
sing profeties oor die redding wat aan die hele wêreld bekend geword het.

En dan dink
ons veral by uitstek aan Christus se oorwinning oor die dood.

Hoe Hy die
straf gedra het aan die kruis.

Gekruisig,
gesterf, begrawe, maar toe opgestaan.

Dit was toe
wêreldnuus, en dit is nog steeds wêreldnuus.

Christus
Jesus bring die oorwinning, ja redding, heil, geregtigheid.

‘n Wonder
deur God se regterhand, dat Christus uit die graf opgewek is.

 

Vir soiets
moet daar ‘n nuwe lied geskryf word.

Halleluja!

En dit geld
vir die eindes van die aarde.

Nie net vir
die volk van God nie.

Die kerk
wêreldwyd bestaan uit baie volke en nasies en tale.

Maar nie net
die kerk nie.

Elke mens op
aarde.

Elke
individu word opgeroep om te jubel!

Want in
Christus het God bewys, dat Hy ‘n Vader is vir almal wat in Jesus se Naam tot
Hom kom.

In Christus
het God heil en geregtigheid vir die hele wêreld gebring.

God bring
sake op orde in die wêreld.

Die wêreld
waar die sonde bly voortwoeker, omdat niemand in staat is om dit stop te sit
nie.

Die sonde,
wat mense in sy mag het, sondige gewoontes, sondige patrone, sondige groewe
waaraan hulle nie kan ontsnap nie.

Die sonde en
wat daaragter skuil, soos die Bybel ons leer, die Satan, die duiwel, wat ‘n
lewende werklikheid is, al sien ons hom nie met die blote oog nie.

Sy
verwoestende invloed openbaar hy in die mag van die kwaad.

Die duiwel
word sigbaar as mens sien hoe die sonde ‘n spoor kan trek deur ‘n mense se lewe.

As ons dink
aan wat die rede vir die ballingskap was destyds - dat die HERE se volk, nadat
hulle so deur Hom geseën is, nadat sy wette vir hulle vrede, stabiliteit en
voorspoed gebring het,

dat die HERE
se volk toe materialisties geraak het en gemaksugtig.

Dat hulle
materialisme hulle toe na die afgode toe gedryf het.

Hoe hulle
hulle voorspoed probeer veilig stel het deur die afgodediens.

Die
afgodediens was in wese ‘n soort verskeringswese.

Die diens
aan Baäl, om te verseker dat die reën elke seisoen weer sou kom.

God se volk
het verstrik geraak in hulle eie begeertes na meer besit, meer genot, minder
diensbaarheid, minder afhanklikheid, minder mededeelsaamheid.

 

Maar God,
deur sy heil en geregtigheid, herstel orde op aarde.

Hy bevry
mense uit hulle slawerny aan die sonde, uit hulle sondige patrone.

Hy deel regverdige
strawwe uit, om die bose kringloop, die verstikkende mag van die sonde te
deurbreek.

Ons lees in
die laaste vers:

Die HERE kom
om de aarde te oordeel.

Hy sal die
wêreld rig in geregtigheid, die volke met reg.

Ag was daar
maar meer mense wat, soos die digter, uitgesien het na die koms van God.

Dat sy
regterhand aktief raak.

As ons dit
so lees, dink ons aan die jongste dag, die oordeelsdag.

Waarop God
‘n einde sal maak aan alle sonde, dood, en ellende.

Die dag
waarop Hy alles defnitief sal herstel.

Maar dit wil
nie sê dat God tot in die tussentyd niks doen nie.

Elke dag is
sy almagtige regterhand aktief.

Hoe is Hy
eintlik aktief?

Hoe regeer
Hy eintlik?

In hierdie
psalm word gesing oor die wonderlike ingrype deur God se regterhand.

God se
ingrype deur buitengewone gebeurtenisse.

Soos die
deurtog deur die Skelfsee, of die terugkeer uit ballingskap.

Maar God se
regering is ook sigbaar in gewone dinge.

Heel gewone
dinge is nie so gewoon nie.

God regeer
deur wette aan sy onderdane op te lê.

Kom ons dink
vir ‘n oomblik aan die natuurwette.

Natuurwette
is ‘n begrip wat verwys na ‘n vaste patroon of ‘n wetmatigheid in die natuur,
waarvolgens dinge altyd, sonder uitsondering, so gebeur.

Soos die
feit dat die son elke dag weer skyn.

Die feit dat
dit met ‘n vaste patroon volmaan is, of nuwe maan.

Die feit dat
as jy ‘n voorwerp los, dit grond toe sal val, as gevolg van wat ons noem die swaartekrag.

En so is
daar baie voorbeelde van natuurwette.

Dit sal
natuurlik baie kortsigtig wees as mens net daar stop, met die gedagte dat dit
nou eenmaal so werk in die natuur, sonder dat ‘n mens verder hoef na te dink
oor hoekom dinge is soos dit is en werk
soos dit werk nie.

Die
natuurwette moet êrens vandaan kom, dit kan nie net toevallig wees nie.

Dit is God
wat hierdie wetmatighede aan sy skepping opgelê het.

Mens kan
amper sê, Hy het in die skepping ingeprogrammeer.

Want hierdie
natuurwette word nageleef sonder uitsondering.

Die skepping
rebelleer nie teen God en sy wette, soos wat die mensheid doen nie.

 

Ook aan die
mense het God wette opgelê, maar tog is sy wette, byvoorbeeld die tien gebooie,
nie meer so in ons geprogrammeer dat ons hulle outomaties doen nie.

God het die
mens geskape met ‘n wil, met ‘n keusemoontlikheid.

In die res
van die skepping, in die natuur is dit nie so nie.

Die
wetmatighede in die natuur gebeur sonder uitsondering.

Dink maar
aan die swaartekragwet.

Maar mense
het ‘n keusemoontlikheid.

Mense moet
bewus kies vir die goeie.

En as hulle
dit nie doen nie, en hulle kies verkeerd, dan kom daar ongelukke en ellende.

 

Ook in die
week wat kom vra God van sy kinders om reg te kies.

In elke
situasie waarin jy tereg kom.

So word God
in sy kinders verheerlik.

As hulle uit
vrye wil vir Hom en sy diens kies.

Gehoorsaam
aan die HERE, ons Skepper.

Terselfdertyd
het ons as sondige mense krag van bo nodig om reg te kies.

Ons moet
lewe onder God se seën, anders gaan dit met ons, sy kinders, ook nie goed nie.

Elke Sondag
mag ons weer God se seën ontvang vir die week wat wag.

So regeer
God in ons lewens.

 

Wie God se gebooie
verwaarloos, loop vas.

Raak
verstrik in die probleme, kom nie self meer daaruit nie.

Kan op den
duur ook nie meer geniet van wat mooi is in hierdie lewe nie, want die
verslawing aan die sonde versmoor alle genot.

Maar God se
leefreëls bewaar ons by die vryheid.

Wie dit
ignoreer, word ‘n gevaar, nie net vir homself en sy eie saligheid nie, maar ook
vir ander, en vir heel God se skepping.

Wie God se
gebooie nie eerbiedig nie, kies uiteindelik vir die dood.

Kom ons kies vir die lewe.

Vir die
goeie lewe in diens van ons Skepper.

Die HERE
verdien om deur ons geprys te word.

Want sy
regterhand het wonders gedoen, en doen nog steeds wonders.

 

(Tema: Die
HERE verdien om geprys te word

1       
Sy regterhand het wonders gedoen)

 

 

2          Alle geskape dinge moet
jubel tot sy eer

Laat ons
juig, en Hom loof.

Die digter
roep nie net ons, maar die hele skepping op om te juig.

Die see, die
berge, die rivierstrome.

Laat hulle
in die hande klap.

Laat ons
almal bly wees, dat God regeer.

Ja die
skepping, die natuur is ook bly, as daar mense is wat volgens God se wil lewe.

Want elkeen
wat leef volgens God se wil, het ‘n goeie invloed.

Selfs op die
natuur.

Wie aan God
se reëls hou, lewe in harmonie, nie net met ander mense nie, maar ook met sy
skepping.

 

Het u al so
na die natuurgeluide geluister?

Met die
besef dat dit ‘n loflied is tot God se eer?

As jy langs
die see sit, en die branders bulder teen die rotse, of die skuim spat op die
sand, dat die oseaan met al sy geraas eintlik ook ‘n psalm vir die HERE sing?

Die see het
sy eie klank, maar tog is dit ook ‘n loflied in sy eie toonaard op die Skepper.

En die
rivierstrome, wat van die bergkrans af stort, en op die rotse kletter, of
tussen die gladde klippe deur bruis,

het dit al
ooit vir jou geklink soos handegeklap?

Dis wat
Psalm 98 sê: die rivierstrome klap hande.

So klink
dit.

Hulle klap
hande vir die HERE.

Ook jubel
die berge saam voor die aangesig van die HERE.

Ek het nog
nooit ‘n berg gehoor wat ‘n geluid maak nie, dalk ‘n ego?

Tog jubel
die stille en onbeweegbare gebergtes op hulle manier vir die HERE.

Saam met die
eeue oue berge sing ons met die woorde van hierdie eeue ou lied tot eer van
God.

Want Hy is
nog ouer, Hy is ewig betroubaar, Hy laat nooit vaar die werke van sy hande.

Hy was deur
die eeue ‘n steun en toeverlaat.

Hy is die
almagtige, die rots van ons bestaan.

 

Saam met die
hele skepping, elke geskape ding in sy eie toonaard, jubel ons vir die HERE.

Hierdie
psalm roep ons op om ons stem te gebruik.

Ons stem
waarmee ons ou en nuwe liedere tot eer van die HERE sing.

Waar die
hart van vol is, loop die mond van oor.

Nou weet ek,
elkeen van ons het nie die gawe om te dig nie.

Die een
persoon het dalk meer talent op hierdie gebied as ‘n ander.

Maar dit mag
wel duidelik wees, hierdie oproep geld ook vir ons tyd.

Ook in ons
tyd behoort daar nuwe liedere gedig
te word, gekomponeer te word.

En dan nie
sommer enige liedere nie, nie net die soort liedere wat mens op die radio hoor
wat sing oor romantiese liefde, of oor jou taal, of oor jou land nie.

Maar
spesifiek liedere tot eer van die HERE.

Liedere wat
gepas is, en mooi, en waardig, wat betref woorde en melodie, om ons blydskap
vir die HERE te wys, en ons aanbiddig, ons eerbied vir die hoogste majesteit.

Hoogstaande
liedere.

 

Hierdie
psalm roep ons op om ons stem te gebruik, maar nie net dit nie.

Psalmsing
met die siter, staan daar,

en met
trompette en basuingeklank.

Juig voor
die aangesig van die Koning.

Ons sang en
musiek moet van kwaliteit wees, vir die Koning waardig.

Dit mag nie afgeskeep
word nie.

In die kerk
sing ons met orrelbegeleiding.

Dit is nie
toevallig nie.

‘n Orrel is
waarskynlik die mees geskikte instrument om ‘n groot groep mense wat sing, te
begelei.

‘n Orrel het
genoeg volume, dieselfde hoeveelheid waarvoor mens ‘n hele orkes van ander
instrumente nodig het.

Daarby is
dit prakties, want net een persoon is nodig om dit te speel, terwyl mens vir ‘n
orkes ‘n klomp mense nodig het.

Dus vir
gemeentesang is ‘n orrel uitermate geskik.

Mens moenie
te gou jouself laat beïnvloed deur praatjies dat ‘n orrel ouderwets is nie.

Daar is nie
iets beters wat ‘n orrel kan vervang nie, wat volume betref, wat klank betref (dan
kan mens veral aan ‘n pyporrel dink), en ook wat die praktiese kant betref.

Dit beteken
ons as gemeente wat wil bly sing tot eer van die HERE, sal moet bly belê in ‘n
goeie instrument, maar nie net dit nie, ook persone wat dit goed kan speel.

Orrel speel
is nie maklik nie.

Om goed te
kan orrel speel is baie moeiliker en verg baie meer oefening as om goed te kan
sokker speel, byvoorbeeld.

As gemeente
sal ons vir die toekoms saam verantwoordelikheid moet neem, dat daar kinders
opgelei word, kinders wat musieklesse neem, wat in die toekoms die gemeentesang
kan begelei.

Dit is
eintlik baie armoedig as ‘n gemeente met ‘n sogenaamde ‘backtrack’ moet begin
sing.

Soms in baie
klein gemeentes kan dit ‘n noodoplossing wees, maar dit is ‘n antiklimaks
vergeleke met dit wat ons in Psalm 98 lees.

Siters,
trompette, basuine, ...

En in ander
psalms lees ons nog van ander instrumente ook, byvoorbeeld die tiensnarige
harp, die tamboeryn, fluit, simbale.

‘n Hele
orkes.

Soos ek
genoem het, ‘n orrel is juis so prakties omdat dit die volume van ‘n orkes gee,
terwyl net een pesoon nodig is om dit te speel.

Maar dit wil
nie sê mens kan nooit ‘n orkes gebruik nie.

Juis op
byvoorbeeld feesdae sal dit tot ekstra lof en glorie vir die HERE wees.

Gelukkig is
daar ‘n klompie kinders in ons gemeente wat musiekles volg, en daar is ook
volwassenes wat ‘n instrument kan speel.

Hierdie is
ook ‘n boodskap wat uit die teks kom, ja selfs ‘n bevel wat Psalm 98 ons gee,
dat ons die HERE sal loof, die HERE wat wonders gedoen het, dat ons Hom
daarvoor ekstra sal prys.

Hier lê ‘n
mooi taak vir ons, en as kerkraad in samewerking met ‘n kommissie of twee, kan
ons dit uitwerk,

dat ons
voortaan op die feesdae, waarop ons spesiaal God se wonderdade gedenk, Hom ook
sal loof in ons eredienste met siter, trompette, basuine,

of in terme
van die instrumente wat daar vandag onder ons bespeel word, fluit, blokfluit en
dwarsfluit, orrel en klavier, viool, kitaar, trompet, en watter instrumente
daar ook nog mag wees.

Juig voor
die HERE, o ganse aarde.

Breek uit in
psalmsing.

Sing tot eer
van die HERE ‘n nuwe lied.

Want Hy het
wonders gedoen.

 

Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)