Christus, die Vredevors, laat ons sy heil geniet

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-12-07
Teks: 
Psalms 50 : 23
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 7 Desember 2014 AD, 10:15 (nagmaal)

Voorsang: Ps
125:1,4,5,7

Votum

Seën

Ps 68:9

Wet

Gebed                                    

Nagmaalsformulier

Gebed
(afgesluit met sing van Onse Vader)

Geloofsbelydenis
(sing terwyl tafel in gereedheid gebring word)

1e
tafel: Psalm 50:1-14; Ps 50:1,

2e
tafel: Psalm 50:14-23; Ps 50:2,5

3e
tafel: Lofverheffing; Ps 50:6

Dankgebed

Teks: Psalm
50:23

Preek

Ps
50:9,10,11

Gebed

Kollekte

Ps 85:4

Seën

Preek: Psalm 50:23

Tema: Christus, die Vredevors, laat ons sy heil geniet

In die Ou
Testament lees ons dikwels oor offers.

Die mense
moes diere slag en bloed het gevloei.

In die Ou
Testament was dit ’n wydverbreide gewoonte, en dit was nie net God se volk wat
geoffer het nie.

Al die
heidenvolke het ook geoffer.

Ook vandag
word daar in Afrika nog baie diere as offers geslag.

As mens die
twee oppervlakkig vergelyk, mag mens dalk ooreenkomste sien.

Maar as mens
dit dieper analiseer, is die verskille onoorbrugbaar.

’n Tipiese
heidense offer is eintlik ’n transaksie.

Jy bring ’n
offer vir jou god (afgod), omdat jy iets van hom nodig het.

So het die
heidene byvoorbeeld vir die afgod Baäl geoffer.

Hulle het ’n
bees vir hom geslag, want hulle wou dat hy vir hulle reën stuur.

Baäl was die
god van die seisoene, van reën en vrugbaarheid.

As jy koring
gesaai het, en jy het reën nodig gehad sodat jou oes kon groei, het jy na die
tempel van Baäl gegaan, oftewel op die hoogtes soos die Ou Testament dit noem,
en jy het ’n bees saamgevat.

Nadat jy dit
geslag het, het jy jou versoek gerig:

Baäl, ek het
vir u ’n bees geslag, dit is ’n gawe van my vir u.

U sal nou
vir ’n lang ruk nie meer honger wees nie.

Maar ek wil
nou hê dat u vir my reën stuur op my landerye, want my koring moet groei.

 

Gemeente,
verstaan u nou die wese van’n heidense offer?

Dis ’n
transaksie.

Eintlik is
jy en die afgod wedersyds van mekaar afhanklik.

Die een kan
nie sonder die ander oorleef nie.

Daar was ook
heidene wat baie slim, eintlik skelm, was en wat dit reggekry het om die gode
om die bos te lei.

Hulle het byvoorbeeld
’n siek bees gebring, wat vir hulle van geen waarde meer was nie.

Maar by die
altaar het hulle dan vir hulle god gebid: kyk net hierdie pragtige bees.

Dit is
gesond en vet, dit is my gawe aan u.

Maar eintlik
was die bees siek.

So het die
mense hulle gode gekroek.

 

Om te
herhaal: die essensie van ’n heidense offer is dat dit ’n saak is van
wedersydse afhanklikheid.

Die mens het
sy god nodig, en die god het die mense nodig.

En saam hou
hulle mekaar in balans.

Ons lees in
die Bybel dat hierdie offers meestal diere was, maar soms het die mense selfs
hulle eie kinders vir hulle gode geoffer.

Hulle het
gedink dat so ’n groot offer veel groter seën sou meebring.

Wedersydse
afhanklikheid.

Nie ’n saak
van genade en vrede nie, maar ’n saak van koop en verkoop.

In hierdie
opsig kan mens sê dat die mens en sy god op dieselfde vlak staan.

Die mens
staan eintlik – goed beskou – bo sy god, want hy is in staat om sy god te
manipuleer.

 

Soos ek gesê
het, as mens die heidense offers oppervlakkig vergelyk met die offers in die
wet van Moses, mag hulle dalk eenders lyk.

Maar as jy
na die wese kyk, is daar ’n ongelooflike verskil.

God se volk
moes diere slag vir ’n heel ander rede.

Dit was nie
’n transaksie nie.

Dit was nie
’n saak van wedersydse afhanklikheid nie.

God is glad
nie afhanklik van die mens nie.

God is
soewerein.

Hy is
heeltemal onafhanklik van die mens.

Die mens is
wel totaal afhanklik van God.

Die mens kan
nie vir ’n oomblik sonder God bestaan nie.

Maar God kan
heeltemal sonder die mens bestaan.

 

En dus het
God ook geen behoefte aan menslike offers nie.

Hoekom sou
Hy, wat alle diere op aarde geskape het, behoefte hê aan ons skape, beeste en
bokke?

Dit is die
boodskap van Psalm 50.

Vers 7-13:
Hoor, my volk, dat Ek kan spreek; Israel, dat Ek jou dit kan inskerp: Ek is
God, jou God! ... Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou
krale nie; want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by
duisende. Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van
My. As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy
volheid... Sou Ek vleis van stiere eet of bloed van bokke drink?

 

In hierdie
psalm bestraf God sy volk dat hulle vir Hom begin offer het asof Hy ’n heidense
afgod was.

Die
Israeliete het begin dink dat hulle besig is met ’n transaksie om God se guns
te wen.

Hulle het
begin dink dat God vleis nodig het, en dat hulle dit kon verskaf.

Hulle het
gedink hulle kon so betaal vir vrede met hulle God.

En daarom
bestraf God hulle:

Vers 8: Oor
jou offers bestraf Ek jou nie, en jou brandoffers is altyddeur voor My...

Inderdaad,
die Israeliete het nie opgehou offer nie.

Dit was ’n
daaglikse gewoonte.

En dit was
korrek, volgens die wet van Moses.

MAAR, hulle
intensie met die offers was heeltemal verkeerd.

Hulle
intensie was heidens, en daarom het God begin walg van die offers.

Want hoekom
het God sy volk beveel om te offer?

NIE OM DINGE
VAN GOD TE KOOP NIE.

Nie ’n
transaksie nie.

Die
Israeliete het begin geslag, in ruil vir goddelike gunste, soos reën, vrugbaarheid,
geluk, en om ‘bad luck’ af te weer.

Maar waarom
wou God dat hulle offer?

Nie omdat
hulle wedersyds afhanklik was nie.

Maar dit
moes ’n saak van DANKBAARHEID wees!

As ’n uiting
van die besef dat hulle – nietige mense – totaal afhanklik van God is.

Vers 14:
Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste.

En ons teks:
Die een wat dank offer, eer My, en die een wat op sy weg ag gee, hom sal Ek die
heil van God laat geniet.

 

Om te
herhaal: oppervlakkig mog dit eenders gelyk het.

Sowel die
heidene as die gelowiges in die Ou Testament het diere geslag.

Maar in
werklikheid was daar ’n wêreld se verskil.

Die heidene
het probeer om iets te koop van hulle gode.

Hulle het
selfs soms hulle gode om die bos probeer lei.

Maar die
ware gelowiges in die Ou Testament het hulle dankbaarheid laat blyk, vir alles
wat hulle ontvang het, onverdiend, van die lewende God.

In die geval
van die heiden was die verhouding tussen die mens en sy god die van wantroue en
selfsugtigheid.

In die geval
van die Ou Testamentiese gelowige was dit ’n verhouding van vertroue, liefde,
vrede.

Die sorg van
die hemelse Vader vir sy kind op aarde.

Verstaan u
nou die groot verskil?

Laat ons
nooit hierdie groot verskil vergeet nie.

’n Mens kan
nooit iets van God koop nie.

’n Mens kan
nie met ’n offer vrede by God koop nie.

As ’n
nietige mens kan jy slegs God gehoorsaam en aanbid.

Soos ons in
vers 16 en verder lees:

Maar aan die
goddelose sê God: Wat ... neem jy my verbond in jou mond – terwyl jy die tug haat
en my woorde agter jou werp? As jy ’n dief sien, dan geval dit jou by hom, en
jou deel is met die egbrekers. Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong
vleg bedrog. Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moder beskimp jy.
Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan
jou straf en jou dit ordelik voor oë stel.

 

Gemeente,
lewe u ook so dat u dink u kan met God vrede maak deur ’n offer?

As u
verkeerde dinge gedoen het, dat u God kan tevrede stel deur weer ekstra jou bes
te doen met iets anders?

Dis nie soos
ons God moet aanbid nie.

Hom aanbid
beteken om dankbaar te wees.

Soos ons
teks sê: Die een wat dank offer, eer My.

 

Ek hoop dat
dit duidelik is.

Die Bybel
het ’n hekel aan alle mensgemaakte godsdiens, of dit nou heidense bygeloof is
uit die tyd van die Ou Testament, of dat dit die tradisionele Afrika gelowe is,
of dat dit ’n moderne Westerse moralisme is.

Die enigste
ding wat vir God aanvaarbaar is, is opregte dankbaarheid.

Om Hom te
vertrou.

Te besef dat
net Hy die vrede kan herstel.

Dat net Hy
vir seën kan sorg.

Dankbaarheid
vind sy uiting in gehoorsaamheid aan sy wil.

 

Die offers
waaroor ons in die Ou Testament lees, het oppervlakkig dalk gelyk soos die
heidense offers.

Maar
inhoudelik was hulle uniek.

Die bloed
wat gevloei het, mog die Israeliete nie drink soos die heidene nie.

Die heidene
het gedink daar was towerkrag in die bloed.

Maar God se
volk moest die bloed uitgiet op die grond.

Die bloed
het gesimboliseer dat die mens moes sterf vir sy sondes.

Maar dat die
dierebloed mog dien as voorlopige plaasvervanging.

Dit was ’n
gedagte, ’n konsep, wat vreemd was vir die heidene.

God het dit
egter so ingestel om vooruit te wys op die koms van die Messias.

Dierebloed
het die vrede voorlopig gehandhaaf.

Amper soos
’n wapenstilstand.

Maar finale
vrede sou eers gesluit kon word as die Messias gekom het, en as sy bloed
gevloei het.

 

Die offers
het nie die blywende vrede gebring nie. Christus se koms het egter die blywende
vrede gewaarborg.

In hierdie
tyd herdenk ons veral dat Christus na die aarde gekom het.

Ons dink
terug aan die tyd toe Hy nog nie gekom het nie, die tyd van die Ou Testament,

toe God se
volk in spanning gewag het op die koms van die Messias, die Gesalfde, Hom wat
God aangekondig het, om die vrederyk te vestig.

In ons teks
sê God: Die een wat dank offer, hom sal Ek my heil laat geniet.

By die woord
heil kan ons dink aan redding, versoening, maar ook meer:

Volledige
vrede, volledige herstel van die band tussen die Skepper en sy skepsel.

Ons herdenk
die vredebringende tyd, die vrolike, die salige tyd, toe Christus as Vredevors
op aarde verskyn het.

Toe Hy sy
bloed laat vloei het.

Vandag mag
ons eet en drink, en sy versoening herdenk.

Ons mag die
vrederyk ervaar, wat Hy al hier in sy gemeente gestig het.

Ons mag
uitsien na die nuwe aarde, as Hy die vrede wêreldwyd sal bring.

Hy, Christus,
die Vredevors.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)