Rein van binne

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-02-16
Teks: 
Matthéüs 15 : 11
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 16 Februarie 2014 AD, 10:15 (nagmaal)

Voorsang: Ps
39:1,3,4

Votum

Seën

Ps 112:1,4

Gebed

Viering
nagmaal

            Lees van formulier en 10 gebooie

            Gebed

            Sing: apostoliese geloofsbelydenis

1e
tafel: Skriflesing Mattheüs 15:1-11; Ps 18:12 (By hul wat reinheid

rein bemin,
hou U, die Heil'ge, U ook rein; maar vir wie leef in valse skyn, is U ook self
verkeerd van sin.)

2e
tafel: Skriflesing ; Mattheüs 15:11-20; Ps 116:7,8

            3e tafel: Lofverheffing
& Dankgebed, Ps 116:10

Teks:
Mattheüs 15:11

Preek

Ps 19:6 (HEER, reinig U my tog / van sondes wat daar nog diep in
my hart bly steek het.)

Gebed

Kollekte

Sb 8:4
(danklied vir ons Heiland, wat vir ons sondeskuld gesterf het)

Seën

Preek: Mattheüs 15:11

In ons
kultuur word baie aandag en geld spandeer om mense te beskerm teen gevare van
buite af.

Van jongs af
word kinders byvoorbeeld ingeënt.

Dit is as
beskerming teen gevaarlike virusse en siektes van buite af.

Virusse
bedreig nie net ons liggame nie, ook ons rekenaars en die kosbare data wat ons
daar opgeslaan het word aangeval deur wat ons ook virusse noem.

Verder is
ons veral hier in Suid-Afrika baie bewus daarvan dat die oorvloedige sonskyn
gevaarlik is, en dat ons onself teen die ultra-violetstale moet beskerm.

Ook is daar
al hoe meer aandag vir gesonde eetgewoontes, skadelike stowwe wat deur
eetgewoontes ons liggaam kan binnedring.

Daar is
mense wat hulle liggaam laat de-tox.

In
Suid-Afrika is ons ook baie bewus van geweld en misdaad, nog so iets wat ons
lewe van buite af bedreig.

Kortom, ’n
groot deel van die ekonomie draai op die beskerming van mense en hulle goed
teen alle gevare van buite af.

Tema: Rein van binne

In ons teks
gaan dit ook oor beskerming, maar nie teen ’n gevaar van buite-af nie.

In ons teks
gaan dit oor ’n gevaar wat van binne-uit kom!

Die Here
Jesus is betrokke in ’n konfrontasie met die Fariseërs.

Nie wat in
die mond ingaan, sê Hy, maak die mens onrein nie, maar dit wat uit die mond
uitgaan.

Die
onderwerp waarmee Jesus hier besig is, gaan oor die Joodse rituele tradisie om
jou hande te was voordat jy gaan eet.

Die
Fariseërs het gekla oor die feit dat Jesus se dissipels hulle nie aan hierdie
tradisie hou nie.

Vir die
Fariseërs was dit nie net ’n kwessie van skoon hande nie.

Hierdie
tradisie het naamlik ook ’n belangrik verskil aangedui tussen die Jode en die
heidene.

Dit was
alles deel van die unieke eetgewoontes wat die Jode gehad het.

Hulle was
trots op hulle tradisies, dit het hulle onderskei van die heidene.

 

Maar dan verduidelik
Jesus vir sy dissipels:

Die grootste
gevaar vir ’n mens is nie dit wat van buite af kom nie – byvoorbeeld die
heidene, of die feit dat jy met vuil hande eet nie, of WAT jy eet nie – onthou
die Jode het net rein voedsel geëet, en het ander eetgewoontes as die heidene
gehad.

Maar hierdie
dinge is nie die grootste gevaar nie.

Wat jy eet,
gaan na die maag, en op sy tyd verlaat dit weer die liggaam in die heimlikheid
– bedoel word hier die toilet.

Wat jy eet,
is sekondêr.

Maar wat
primêr is, is jou innerlike toestand.

Hoe lyk jou
hart?

Is jou hart
’n bron van allerlei bose dinge?

Vers 19: uit
die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse
getuienis, lastertaal.

Is jou hart
skoon?

As jou hart
skoon is, sal jy outomaties goeie dinge doen.

Maar mooi en
eerbiedwaardige tradisies en gebruike is nie ’n waarborg dat jy werklik skoon
van binne is nie.

 

Jesus vertel
dit veral vir sy dissipels.

Hy doen dit
om hulle te waarsku.

Vir hulle,
en ook vir ons, is dit nie altyd aangenaam om gewaarsku te word nie.

Maar dit is
nodig.

En onthou,
as iemand jou waarsku, kan hy dit doen omdat hy jou liefhet, en jou wil red.

En so sien
ons hoe Jesus sy dissipels waarsku.

Hy vertel
vir hulle die waarheid.

Dit is nie
wat in die mond ingaan, wat die mens onrein maak nie, maar wat uit die mond
uitgaan.

In feite is
dit die kern van die boodskap van die Bybel.

Dat jy besef
dat jy onrein van binne is, en dat jy daarna verlang om gereinig, skoongemaak
te word, van binne uit.

 

Soos gesê,
’n groot deel van die wêreld se ekonomie draai op die behoefte van mense om
hulleself te beskerm teen gevare van buite.

Van die wieg
tot die graf.

Hoewel, as
ons luister na die woord van Jesus in ons teks, moet ons besef dat ons nie
genoeg gedoen het as ons onsself op alle moontlike maniere beskerm het, ten
minste teen gevare van buite af nie.

Jy het
naamlik die belangrikste nog vergeet!

Jy kan so gefokus
raak op alle soorte eksterne gevare, dat jy heeltemal vergeet dat die grootste
gevaar binne in jouself is.

Ons kan woon
huise met hoë mure en alarminstallasies, ons kan groot en veilige motors
bestuur, ons kan gesonde, gebalanseerde en veral duur kos eet, ons kan die mees
gevorderde medisynes, vitamines en minerale gebruik, maar al hierdie dinge het
nog nie die gevaar in ons hart aangespreek nie.

Die Skrif
leer ons: ons en ons kinders word in sonde ontvang en gebore.

Dit is
realiteit.

Dit wat in
die mond ingaan, kom ek noem dit die eksterne faktore, maak nie die mens onrein
nie.

Daar is ’n
onreinheid wat reeds aan die binnekant sit.

En dit moet
uitkom.

 

En dit bring
ons by die ryke betekenis van die sakramente: doop en nagmaal.

’n Baba word
in sonde ontvang en gebore.

Die
doopwater maak sigbaar dat God daardie baba wil reinig, van binne uit.

Die nagmaal
herinner ons aan die bloed van Christus, wat vir ons aan die kruis gevloei het.

Vir al ons
sondes en oortredinge.

Om ons van
binne uit te reinig.

Slegs deur
Hom kan ons van binne skoongemaak word.

Wie nie na
Jesus toe kom en sê: ek wil Here, word gereinig, so iemand is in prinsipe ’n
tydbom.

So iemand
mag baie mooi skoon van buite lyk, optimaal gesond en beskerm teen die gevare
van buite, pragtig geklee en behandel met die kosbaarste skoonheidsprodukte.

Maar van
binne vrot dit.

Slegte
gedagtes, egbreuk, hoerery, valse getuienis, lastertaal, diewery, moord ...!

 

Die feit dat
u vandag nagmaal toe gekom het, bewys dat u – dank die Here – dat u dit besef.

U het
selfbeproewing toegepas, en tot die konklusie gekom:

ek het
daardie reiniging van binne-uit nodig.

En noudat
ons nagmaal gevier het, mag ons dankbaar terugkyk en sê:

Dankie HERE,
u het al my krankhede genees;

U het my
lewe verlos van verderf en verrotting;

U bloed
reinig my van my sondes, my sondige dade, my sondige woorde, my sondige
gedagtes.

Dankie dat
ek nagmaal toe mog kom, om van binne uit skoongewas te word,

Ontslae te
raak van alle gifstowwe,

Nuwe
beskerming te ontvang teen die duiwel, die sondige wêreld, maar veral ook teen
myself, teen my ou sondige hart.

Dankie dat u
’n nuwe hart aan my gee.

Help my dat
my nuwe hart steeds meer my gedagtes, woorde en dade bepaal.

Maak my rein
van binne.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)