Josua lei die volk in die vernuwing van die verbond met die HERE

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-01-04
Teks: 
Josua 24 : 14-15
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
4 Januarie 2015 AD, 10:15

Voorsang: Ps 140:1,4,5,6,10

Votum

Seën

Ps 134:1,2,3

Wet

Ps 119:38

Gebed

Skriflesing: Josua 24

Ps 15:1,3,4

Teks: Josua 24:14-15

Preek

Ps 78:14,15

Gebed

Kollekte

Ps 105:6,23,24

Seën

Preek: Josua
24:14-15

Het u ook goeie voornemens vir
die nuwe jaar?

Dit is gebruiklik om hieraan
aandag te skenk op ‘n oomblik as jy oor ‘n grens gaan.

Byvoorbeeld ‘n grens in die tyd.

Of ‘n grens in jou lewe, as jy
dalk vir die eerste keer gaan werk, of jy gaan trou, of as jy jou eerste kind
kry.

Of ‘n grens in geografiese sin,
as jy verhuis na ‘n nuwe omgewing.

Op sulke oomblikke besin mens oor
‘n nuwe begin.

Goeie voornemens.

In Josua 24 het ons ook met
soiets te make.

Mens kan hierdie hoofstuk ‘n
verbondsvernuwing noem.

Die grens in hierdie geval is dat
Josua aan die einde van sy lewe gekom het.

Hy lê die leierskap oor die volk
neer.

Van hierdie geleentheid maak hy
gebruik om iets belangriks met die volk te doen: ‘n verbondsvernuwing.

 

Tema: Josua lei
die volk in die vernuwing van die verbond met die HERE

 

Wat is eintlik ‘n
verbondsvernuwing?

Dit is ‘n seremonie wat mens meer
dikwels in die Bybel vind.

Ook Moses het aan die einde van
sy lewe, as leier van die volk, die verbond met die HERE vernuwe.

En dit doen Josua nou ook, vlak
voor sy sterwe.

So ‘n seremonie het ‘n vaste
struktuur gehad.

Globaal het dit soos volg gelyk:

Eers kom die aanhef, sien vers 2
in Josua 24.

“So sê die HERE, die God van
Israel”

Dan volg ‘n historiese oorsig,
ook wel genoem proloog.

In hierdie gedeelte herinner die
HERE sy volk aan alles wat Hy vir hulle in die verlede gedoen het.

Dit is die verse 2-13.

Dan volg die verbondseis.

Dit is ons teks, vers 14-15.

Hierin staan wat die HERE
konkreet vra.

Dan volg ‘n diskussie in vers
16-21 tussen Josua en die volk, waarin die eis nog duideliker gestel word.

Vervolgens plaas Josua die volk
onder eed, vers 22.

In vers 23 word die eis nog ‘n
keer herhaal.

In vers 24 lê die volk ‘n belofte
van trou af.

En ter afsluiting van die
seremonie word daar in vers 25-28 nog enkele sake gereël oor die dokumentasie
en die argivering van die verbondsvernuwing.

 

Dit het alles gebeur in Sigem.

Hierdie plek is nie toevallig
nie.

Dit is die plek waar die HERE
destyds aan Abraham vir die eerste keer beloof het dat die land Kanaän vir sy
nageslag sou wees.

Abraham, wat God nie net
weggeroep het uit sy land Ur, maar ook weggeroep het van die afgode af, om die
ware God in die beloofde land te kom dien.

Josua maak ‘n appèl op hierdie
geskiedenis.

Kyk, julle het nou hierdie land
van God ontvang.

Die belofte aan Abraham kom in
vervulling.

MAAR WIE GAAN JULLE NOU DIEN?

Die gode aan die anderkant van
die rivier, of die God wat hierdie land aan julle gegee het?

 

In ons teks het ons dus met die
eis te make.

Wat die HERE konkreet van sy volk
vra.

Josua fokus veral op die eerste
gebod.

“Vrees dan nou die HERE ... en
verwyder die gode wat julle vaders gedien het”.

In die eerste gebod hoor ons:

Jy mag geen ander gode voor my
aangesig hê nie.

Dit wil nie sê dat die HERE die
orige tien gebooie nie belangrik vind nie.

Maar in die eerste gebod word
eintlik die hele wet saamgevat.

Wie opreg die HERE alleen dien,
ontkom nie daaraan om ook die ander gebooie te hou nie.

Met hierdie eis dwing Josua die
volk om ‘n keuse te maak.

Hulle moet die konsekwensie trek
na aanleiding van wat hulle nounet gehoor het.

Verse 2-13, die historiese
proloog, wat God tot op hede vir hulle gedoen het.

En die konsekwensie is tweeërlei.

In die eerste plek positief.

Israel moet sy Weldoener opreg en
trou dien.

Met die woord “in opregtheid”
bedoel Josua radikaal.

Jy kan nie die HERE half dien
nie.

‘n Lou dienskneg spoeg Hy uit sy
mond.

En met die woord “waarheid”, wat
mens ook kan vertaal met trou, bedoel
Josua standvastigheid.

Nie ‘n lewe wat op die een
oomblik in vlam staan vir God, byvoorbeeld net na die doen van openbare
geloofsbelydenis, maar ‘n toewyding wat ook weer kan verander en weg-eb, na
gelang van die omstandighede nie.

Inteendeel, ‘n volgehoue stabiele
lewenslange diensbaarheid aan die HERE.

Dit is die eerste konsekwensie –
positief – wat die volk te doen staan.

In die tweede plek is die
konsekwensie ook negatief.

Gesien wat die HERE alles vir die
volk gedoen het, moet dit nou wel duidelik wees dat die volk nie twee gode
tegelyk kan dien nie.

Twee gode wat nota bene mekaar se
aartsvyande is.

Israel kan nie tegelykertyd die
HERE en ander gode dien nie.

Die gode aan die oorkant van die
rivier, daarmee word bedoel die gode van Mesopotamië.

Die land waar Abraham
oorspronklik vandaan gekom het: Ur.

Skynbaar het hierdie gode nog ‘n
aantrekkingskrag op die volk Israel uitgeoefen.

Dit was natuurlik volke wat
verwant was aan hulle, daar in Ur.

Mens kan dit bietjie vergelyk met
die mense wat aan ons verwant is in Europa, of in Amerika.

Die gode uit Mesopotamië het ‘n
aantrekkingskrag bly uitoefen op die volk.

En uiteraard noem Josua ook die
gode van Egipte.

Skynbaar het baie uit God se volk
daar in Egipte ook deelgeneem aan die afgodediens.

Ons sien in ons teks dat Josua,
in die eis wat hy stel, ook rekening hou met die moontlikheid van afgodery
onder die volk in die toekoms.

Dit is nie omdat Josua net ‘n
negatiewe beeld van sy volk gehad het nie.

Juis die feit dat hierdie volk
hom so na aan die hart gelê het, het hom hiertoe gebring.

As leier het hy die aard van sy
volk geken.

Baie nugter en indringend spreek
hy hulle daarom toe.

Hy dwing hulle om te kies.

Jy kan nie neutraal bly nie.

Jy moet kies, een van twee.

Of die HERE, of die afgode.

Vir sover die mense nog
afgodsbeeldjies in hulle tente weggesteek het –

dink aan destyds hoe die
kleinglowige vrou van Jakob, Ragel, afgodsbeeldjies uit haar ouerhuis saamgevat
het toe hulle gevlug het –

en vir sover die mense miskien
nog dalk afgode in hulle koppe gehad het,

daarvan sê Josua:

verwyder dit!

Maak skoonskip.

Josua staan hier aan die einde
van sy lewe.

Hy hou sy afskeidspreek.

En sy afskeid bestaan nie uit net
lofuitings en komplimente wat oor en weer geuit word nie.

As ‘n leier met hart vir sy volk,
maak hy gebruik van hierdie laaste geleentheid om nie net te wys op die
ontsaglike rykdom nie, maar ook die ontsaglike erns.

Want die gevaar van afgodery bly
van alle kante dreig.

Die bedoeling is dus duidelik.

Die HERE, wat uit pure genade aan
Israel die land Kanaän skenk, het die eksklusiewe reg om as God in hierdie land
vereer te word.

Dit het Josua hulle goed
ingeprent.

Want sowel van binneuit as van
buite af het die gevaar van afgodery aanwesig gebly.

Van binneuit: die ou
liefdesaffaires met die afgode van Mesopotamië en Egipte.

En van buite af: die Amoriete in
wie se voormalige land hulle nou kom woon het.

 

Die tweede vers in ons teks, vers
15, vorm eintlik die spieelbeeld van vers 14.

Hierdie vers is ook ‘n
intensivering van die eis.

Die volk mag nie vertrek voordat
hulle self gekies het nie.

Wie gaan julle dien?

En ons sien dan hoe Josua alles
daaraan doen om die verkeerde keuse af te sny, deur homself en sy eie familie
direk hierby te betrek.

In vers 14 sien ons dat Josua
namens die HERE praat.

In vers 15 onthul hy hoe hy
persoonlik reageer op die eis van die HERE.

Hy doen dit eerste.

Hy gee daardeur aan heel Israel
die goeie voorbeeld.

En hy maak dit baie duidelik.

Selfs as julle die verkeerde
koers kies,

selfs as dit verkeerd is in julle
oë om die HERE te dien,

weet dan dat dit geen enkele
invloed sal hê op die keuse wat ek en my gesin gaan maak nie.

Laat vooraf duidelik wees: ek en
my huis, ons sal die HERE dien.

 

Josua benader dit vanuit die
negatiewe kant, met die doel om op die erns van die situasie te wys.

Dit is nou verby met
vryblywendheid.

Laat dit duidelik wees: eintlik is
daar nie ‘n keuse nie.

Dit was ‘n eis!

Die HERE het reg op julle!

Leef daarom vir Hom.

Verwyder die afgode.

Laat ons eerlik wees, natuurlik
was dit by die volk nie ‘n kwessie van of-of nie.

Of die HERE, of die afgode.

Natuurlik, die volk het die HERE
wel gedien, maar daarnaas het die afgode ook hulle plek behou.

En presies dit moes end kry.

Die dubbelheid.

Soos die Kategismus sê oor die
eerste gebod:

Dat ek nie in die plek van of
naas die enige ware God, iets versin of het waarop ek my vertroue stel nie.

Dit is eintlik vandag, net soos
toe, vir ons die groot gevaar.

Soos daar soms gesê word: die
duiwel sluip op sokkies die kerk binne.

Hy bied aan ons die opsie om
behalwe God ook op ander dingetjies te vertrou.

En so sit die afgode voet aan wal
in ‘n kind van God se lewe.

Verbondsvernuwing.

Skoonskip maak.

Verwyder al die gemors.

Neem vandag die keuse wat jy gaan
doen.

Anders is dit te laat.

Dit is Josua se boodskap aan die
volk.

 

Gemeente, ek dink dat die
aanbreek van ‘n nuwe jaar ‘n geskikte oomblik is vir ‘n verbondsvernuwing.

Hoe het jou lewe in 2014 gelyk?

Het jy voornemens vir die nuwe
jaar?

Is jy van plan om bepaalde dinge
te verander in jou lewe in 2015?

Dit is tyd vir ‘n
verbondsvernuwing.

Verbondsvernuwing as
kerkgemeenskap.

Spreek uit die afgelope jaar
opregte en troue diens aan die HERE?

Of is daar sprake van ‘n soort
dubbelheid?

Het ons as gemeente,
Pretoria-Maranata, nie soms las van louheid nie?

En is daar sondes wat ons sukkel
om mee te breek?

Die afgode van die oorkant van
die rivier.

En die afgode vandag, dinge wat
jou lewe regeer?

En dan die verlammende
groepsdruk, wat die samelewing uitoefen?

Durf jy om anders te wees?

Durf jy soms alleen staan?

Hier staan ek, ek kan nie anders
nie, God help my.

Durf jy leiding te neem?

So kies ek, so kies ons as gesin
en so gaan ons lewe.

Ons let nie op wat ander mense
doen of dink nie.

Ons bepaal ons koers met God se
Woord, dis waarop ons vaar, sonder om links of regs af te wyk.

 

Gemeente, hieraan het die kerk
dringend behoefte!

Ouers, gesinne, ou mense, jong
mense, wat standpunt inneem.

Wat leiding neem.

Wat hulle distansieer van die
dubbelheid van èn die afgode van die sondige wêreld, èn die HERE dien.

Nie eers wag en kyk wat die res
doen nie, maar self die regte ding doen.

Nie jou bekommer dat jy ‘n
uitsondering sal wees nie, maar die regte ding gewoon doen.

Wie gewoon in gehoorsaamheid
handel, kom verder.

Wie wyfel, kom nooit oor die
rivier nie.

Laat ons as volwasse generasie
die leiding neem.

Laat dit ons voorneme vir die
nuwe jaar wees.

Ek en my huis, ons sal die HERE
dien.

En dan vertaal jy dit na die
gewone dinge van elke dag.

Jy mag begin met die positiewe.

Neem tyd vir Skriflesing,
huisgodsdiens saam met jou gesin.

Neem tyd en stel belang in die
huiswerk van jou kinders.

Neem tyd vir dit wat jou kind op
katkisasie of Bybelstudie behandel.

En sorg dat jy in ‘n roetine kom
met hierdie soort dinge, sodat dit nie net by ‘n voorneme bly nie.

Die kerk het behoefte aan
daadkragtige gesinne.

Durf om te kies.

Ek en my huis, ons sal die HERE
dien.

Wees bewus van die lewensstyl van
jou kinders, kleinkinders, kinders van jou broer of suster, kortom kinders van
die gemeente vir wie ons almal verantwoordelik is.

As wêreldse gewoontes in hulle
lewens ingesluip het, spreek dit aan, doen iets daaraan.

As mens oor die jeug praat, dan is dit ‘n abstrakte groep wat nie beïnvloed kan
word nie.

Maar as jy praat oor jou seun,
jou dogter, jou nefie of niggie, dan is dit ‘n individu wat aangespreek kan
word.

Gee leiding, durf duidelik te
wees met jou kinders.

Ek en my huis, ons sal die HERE
dien.

 

Josua sê dit hier as leier van
die volk.

Hy sê dit nie omdat hy volmaak is
nie.

Hy sê dit in afhanklikheid van
die HERE.

In die besef dat wie alles van
die HERE verwag, sterk staan.

Laat ons dit Josua nasê.

Dit word ons voornme vir die nuwe
jaar.

Ek en my huis, ons sal die HERE
dien.

 

Dit beteken in die eerste plek
dat ons elke dag in 2015 bewus van Christus se genade gaan lewe.

Geen dag nalaat om op die knieë
te gaan om vergewing vir sondes te vra nie.

Dit beteken in die tweede plek
dat ons, geregverdig deur die bloed van Christus, ook in die nuwe jaar inhoud
gaan gee aan die lewe met Christus.

Dat ons onsself loswring uit die
wêreldgelykvormigheid.

En uit dankbaarheid werk maak van
God se gebooie.

Josua fokus op die eerste gebod.

Ons gaan oplet dat geen afgode
naas of in die plek van God kom nie.

Maar dit beteken nie dat die
ander gebooie buite beeld bly nie.

Ten aansien van die tweede gebod:
Ons gaan die Here dien soos Hy dit verlang.

Stry teen jou ou mens, wat altyd
geneig is om ander denkbeelde van God te maak.

Ten aansien van die derde gebod: Ons
gaan nie die naam van die HERE misbruik nie, bv. deur vloek.

Ons gaan ook dinge doen om te
voorkom dat ander hiermee voortgaan.

Ten aansien van die vierde gebod:
In 2015 bly Sondag vir ons ‘n rusdag, liggaamlik en geestelik.

Ons sal ook nie ligtelik ‘n
erediens, of dit nou ‘n oggend- of ‘n aanddiens is, versuim nie.

Ten aansien van die vyfde gebod: Ons
sal daarvoor sorg dat ons ons kinders in die opvoeding leer wat gehoorsaamheid en
respek is.

Ons sal as ouers die gesag ook
nie ongeloofwaardig maak deur ons eie optrede of lewenswyse nie.

Ten aansien van die sesde gebod:

Ons sal baie respek hê vir die
lewe as geskenk uit God se hand.

Ons sal ons distansieer van alles
wat die lewe skade berokken, ook ons eie lewe.

Ten aansien van die sewende
gebod: Ons sal met seksualiteit omgaan soos God dit in sy Woord van ons
verlang.

In woorde, dade en gedagtes sal
ons ons inspan om hierdie goeie gebod na te leef.

Ons sal ons seksualiteit gebruik
tot God se eer, en tot uitbreiding van sy kerk.

Ten aansien van die agste gebod: Ons
sal die besit van ander mense respekteer.

Ons sal ons eie besit beskou as
‘n geskenk van God, wat ons in bruikleen ontvang het.

Ons sal vrygewig wees.

Ons sal dit gebruik nie net vir
onsself nie, maar vir die koninkryk van God.

Ons sal geen afgod van ons besit
maak nie, maar lewe met die besef dat mens ook daarsonder gelukkig sal wees.

Ten aansien van die negende
gebod: Ons sal die waarskuwing van Jakobus in 2015 ter harte neem: die tong is
soos ‘n klein vuurtjie wat ‘n groot bos aan die brand kan steek.

Ten aansien van die tiende gebod:
Ons sal tevrede wees, in teenstelling met die wêreld om ons heen, wat steeds
meer wil hê.

In voorspoed dankbaar en in teëspoed
geduldig.

 

Gemeente, dit is in kort die
verbondsvernuwing vir 2015.

In afhanklikheid van Christus,
deur die krag van sy Gees, kan ons hiervoor ja sê.

Kies vandag.

Kies vir die HERE en sy diens.

Dit is wat hierdie hoofstuk in
die Bybel vir ons wil leer.

Kyk op na waarmee God besig is.

Mense stel altyd teleur.

Hoe dikwels was Josua nie
teleurgesteld in die halstarrige volk nie.

Maar die omgekeerde was ook waar.

Josua het ook teleurgestel.

Josua, die sterk leier met
standvastige geloof, het ook gesterf.

Al mog hy 110 jaar oud geword
het.

En dan lees ons in vers 31 die
droewige mededeling: Israel het die HERE gedien al die dae van Josua.

Maar daarna?

Jy kan dit raai.

Mense stel teleur.

Maar die doel van elke
Bybelhoofstuk is dat ons opkyk.

Wat doen die HERE?

Die HERE hou sy verbond in stand,
Hy vervul sy beloftes.

Josef se beendere kon nou
uiteindelik begrawe word.

En ook Josua, een van die weinige
uit die woestyngenerasie wat trou gebly het, mag in die beloofde land begrawe
word, op sy eie erfdeel.

So lees ons van die een na die
ander belofte wat vervul word.

Laat ons nie daaroorheen lees
nie.

Die HERE vervul sy beloftes.

En uiteindelik is Hy nie die God
van dooies nie, maar van lewendes.

Josua en sy generasie is begrawe
om op God se tyd op te staan in die beloofde land op veel groter skaal: die
nuwe aarde.

Dit geld ook vir die getroues
vandag.

Die HERE gaan verder, van sy kant
bly Hy altyd trou aan die verbond.

Wat Hy van ons verlang is dat ons
trou bly, ook in 2015.

En jy kan trou bly, as jy elke dag opkyk.

Kies vandag, wie jy gaan dien in
die nuwe jaar.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)