Die HERE roep Abram na sy beloftes toe

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2014-03-02
Teks: 
Génesis 11 : 31-12 : 3
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANTA, 2 Maart 2014 AD, 10:15

Voorsang: Ps
44:1-3

Votum

Seën

S: Ps 146:1

Wet

S: Ps 119:11

Gebed

Skriflesing:
Genesis 11:10-12:7

S: Ps 105:4

Teks:
Genesis 11:31-12:3

Preek

S: Ps
105:23-24

Gebed

Kollekte

S: Ps 47:1,4

Seën

Preek: Genesis 12:1-3

Tema: Die HERE roep Abram na sy beloftes toe

 

Ons het die
geskiedenis van Abram gelees en hoe die HERE hom geroep het.

Abraham was waarskynlik
iemand waarvan die Kategismus sou sê: dat hy naas die enige ware God nog iets
anders gehad het waarop hy sy vertroue gestel het.

Hy het in
die land Ur gewoon.

En daar is ook
ander gode gedien.

Nie dat die
enige ware God heeltemal onbekend was nie.

 

Net om vir u
’n idee van die historiese konteks te gee.

As ons die
geslagsregister in Genesis 11 op die voet sou volg,

Beteken dit
dat Abraham ongeveer 3 en ’n half eeue na die sondvloed gebore is.

3 en ’n half
eeue, dit is ’n lang tyd – vanaf Jan van Riebeeck tot vandag ongeveer.

Aan die
ander kant is dit ook nie so lank nie.

As mens
Genesis 11 so lees, lyk dit of Abraham, wat van Noag se seun Sem afstam, ongeveer
die 9e generasie na hom was.

As mens met
die beskikbare getalle in Genesis 11 ’n sommetjie maak, blyk dit dat toe Abram
gebore is, het sy oupa oupa grootjie Sem ook nog gelewe het.

Sem het 600 jaar
oud geword.

Dit wil sê
Abraham was meer as ‘n 100 jaar op aarde saam met sy voorvader Sem.

Abraham het
self 175 jaar oud geword.

Sien Genesis
25:7.

Of Abraham
naby Sem gewoon het, is onbekend,

maar mens
kan kan beslis aanneem dat die kennis van die ware God, die God wat die
sondvloed gestuur het, nog aanwesig was onder die afstammelinge van Sem.

Hoewel daar
ook onder hulle, soos by die afstammelinge van Gam, afval van die diens aan die
lewende God plaasgevind het.

 

Daar is
eksegete wat meen dat dit juis die rede was hoekom die HERE vir Abram uit Ur
weggeroep het;

Ur – ’n
gebied waar afgode vereer is – om na Kanaän te trek, ’n gebied waar die diens
aan die HERE nog in ’n suiwerder vorm voortgeleef het.

Daar is
eksegete wat selfs opper dat Sem – Abraham se voorvader – juis daar in Kanaän
geleef het.

Sommiges
beweer dat Melchisedek – die koning van Salem waarvan ons lees in Genesis 14,
dat hy eintlik Sem was.

Melchisedek
sou dan nie sy naam wees nie, maar sy titel.

Sem sou sy
agter agterkleinseun Abraham geseën het, Genesis 14:19:

“Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die
Skepper van hemel en aarde.”

 

Of dit korrek is, om Melchisedek met Sem te
vereenselwig, moet mens dink ek in die midde laat.

Daar is ook gegewens wat daarteen pleit.

In die eerste plek is daar byvoorbeeld eksegete
wat beweer dat die geslagsregister in Genesis 11 nie volledig is nie.

Daar sou nie net 8 geslagte tussen Abraham en
Sem gewees het nie, maar eintlik meer.

Dus nie 350 jaar tussen Abraham en die sondvloed
nie, maar moontlik 1000 jaar of selfs meer.

As ons in Genesis 11 elke keer lees dat ‘n
persoon die vader geword het van die volgende persoon, bv. “Toe Serug dertig
jaar oud was, het hy die vader van Nahor geword” (Gen 11:22),

kan mens die Hebreeuse woord vir ‘die vader word
van’ ook moontlik anders vertaal.

Dit kan ook in oordragtelike sin gebruik word,
soos dit bv. staan in Genesis 10:13.

Daar staan: “En Misraim was die vader van die
Ludiete”.

Ons weet dat Misraim ‘n ander naam is vir die
land Egipte.

Egipte was dus die vader van die Ludiete.

Die Ludiete was ‘n volk of ‘n stam.

Hier word die woord dus oordragtelik gebruik.

Egipte was nie letterlik die vader van die
Ludiete nie.

Maar bedoel word: Egipte was die gebied waar die
Ludiete–stam ontstaan het.

As ons dus telkens lees in hfst 11 – die vader
van – dan hoef dit nie elke keer letterlik te beteken dat die een die ander een
se kind was nie, daar kon ook geslagte tussen gewees het.

Moontlik dat net die mees bekende name genoem
word.

Om ‘n voorbeeld te noem, ek het ‘n keer, toe ek
in Holland gewoon het, ‘n afstammeling van Simon van der Stel ontmoet.

U weet wel, die Kaapse goewerneur na wie
Stellenbosch vernoem is.

Die persoon stam van Simon van der Stel af.

Maar daar lê baie geslagte tussen hulle.

Tog word Simon van der Stel genoem, want hy was
‘n bekende persoonlikheid, in elk geval vir Suid-Afrikaners.

 

Hierdie klink alles dalk nou ‘n bietjie baie
tegnies,

maar ek vertel dit om aan te dui dat dit
moontlik is dat die geslagsregister in Genesis 11 nie heeltemal volledig is
nie.

En as dit die geval is, dan was daar moontlik
meer eeue tussen Abram en die sondvloed.

Met die gevolg dat Abram en sy voorvader Sem dus
nie vir ‘n rukkie tydgenote op aarde was nie,

maar dat die 600 jaar oue Sem alreeds oorlede
was toe Abram gebore is.

 

In die tweede plek is daar nog ‘n rede wat mens
kan noem, om te ontken dat God Abram juis na Kanaän geroep het, omdat dit ‘n
meer Godvresende gebied sou gewees het.

Want ‘n klompie jare later, as Abraham planne
maak om ‘n geskikte vrou vir sy seun Isak te vind, stuur hy sy dienskneg juis
terug na Haran, om daar ‘n vrou vir Isak te gaan soek.

Abraham het sy dienaar laat sweer – Genesis
24:3-4: “by die HERE, die God van die hemel en die God van die aarde, dat jy
vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete onder wie ek
woon nie; maar dat jy na my land en my familie sal gaan om vir my seun
Isak 'n vrou te neem.”

Kanaän was dus ook maar ‘n plek vol met afgode.

Maar in Haran, waar sy familie gebly het, sou
dit nog bietjie beter wees.

 

En dit bring ons by Tera, Abram se pa, en sy
orige familie wat in Haran agtergebly het.

Ons het ook oor hulle gelees.

Toe ons die gedeelte gelees het, het u dalk miskien
gewonder wie die HERE nou eintlik geroep het?

Want in 11:31 lees mens dat Tera uit Ur van die Chaldeërs weggetrek het, om na Kanaän te gaan.

Maar in 12:1 lees ons hoe die HERE vir Abraham roep om weg te trek.

Aan wie het God eintlik verskyn?

Gemeente, om eerlik te wees, ons kry hier nie
genoeg inligting om ‘n definitiewe keuse te maak nie.

Die Skrif vertel ons nie alles oor die verlede
nie.

Mens kan nie oor alles uitsluitsel kry nie.

Dit lyk of die HERE vir Abram geroep het saam
met sy pa Tera.

Dit lyk of Tera dus ook geroep is deur God om
weg te trek uit Ur van die Chaldeërs.

Maar dit lyk of Tera halfpad vasgehak het.

Haran, waar Tera hom gevestig het, lê omtrent
halfpad op die roete na Kanaän.

Aan die een kant sien ons dat Tera die HERE, die
lewende God, gedien het.

Aan die ander kant sien ons dat Tera die
afgodediens nie heeltemal agter hom gelaat het nie.

Tera het heelwat kinders en nakomelinge gehad.

Hy het ook meer as een vrou gehad.

Ons weet dat Tera die pa was van sowel Abram as
van Sarai, Abram se vrou.

Hulle het net verskillende ma’s gehad.

Ons weet dat die afgodediens ook in Tera se
nageslag aangegaan het.

Dink aan wat ons byvoorbeeld in Genesis lees oor
Ragel, Jakob se een vrou.

Ragel was die dogter van Laban.

Laban was ‘n kleinseun van Tera.

Ragel het haar hele lewe ook nog aan die afgode
vasgeklou, naas die diens aan die HERE.

Toe sy en Jakob en die res van Jakob se familie
op ‘n stadium padgee uit skoonpa Laban se huis, het Ragel die huisgode
saamgevat in haar kameelsaal.

 

Dus om terug te kom by ons teks,

op een of ander manier lyk dit of Tera en sy
gesin wel weggetrek het uit Ur,

maar dat hulle die afgodediens tog nie heeltemal
kon afsweer nie.

Hulle het in Haran vasgehaak, en nie verder
getrek nie.

 

En dit is om
hierdie rede dat God nou ingryp in Abraham se lewe.

Abram word
opgeroep om weg te trek, nie net uit sy land nie,

maar ook om
sy vader se huis te verlaat.

 

Dit was al
’n moeilike opdrag, om uit jou land te trek.

Normaalweg
is ’n mens trots op jou land.

As dinge
goed gaan – as daar byvoorbeeld geen oorlog is nie – dan oorweeg mense dit nie
om hulle land te verlaat nie.

Jy wil bly
in jou land en jou lewe lei waar jy jou eiendom het.

 

Maar nog
moeiliker is die opdrag:  

Gaan uit jou
familie.

Verlaat dus
jou mense, jou volk.

Mens is
gewoond aan jou eie mense, jou eie taal.

Jy ken
mekaar.

Jy help
mekaar.

Die lewe is
maklik tussen jou eie mense.

Maar nou
roep God vir Abram.

Vertrek na
’n onbekende land!

’n Plek wie
se mense jy nie ken nie.

’n Plek wie
se taal jy nie praat nie.

Miskien het
Abram gewonder: sal die mense my aanvaar in daardie vreemde plek?

Sal ek in
staat wees om hulle taal te leer?

Of sal ek ’n
vreemdeling bly vir die res van my lewe?

 

Maar
gemeente, die ergste moes nog kom.

Want God het
ook gesê: Abram, gaan uit jou vader se huis uit.

Dit beteken,
laat jou pa en ma agter.

Hoe oud
Abram se ma op daardie stadium was, is onbekend.

Ons weet wel
meer oor Abram se pa, Tera.

In Genesis
11:32 staan dat hy 205 jaar oud geword het.

In vers 26
staan dat Tera 70 jaar oud was toe Abram gebore is.

En in 12:4
staan dat Abram op sy beurt 75 jaar oud was toe hy sy ouerhuis agtergelaat en
uit Haran vertrek het.

Om ’n
sommetjie te maak, Tera was dus 145 jaar oud toe Abram weggetrek het.

Dit beteken dat
Tera nog vir 60 in Haran aangeleef het, voordat hy gesterf het.

Maar die dag
toe hy gesterf het, was Abram dus nie daar om sy pa te begrawe nie.

 

So het Abram
dus sy vaderlike huis verlaat, met alles wat daarby gehoort het.

By huis moet
mens veral ook dink aan die huishouding.

Tera was ’n
man wat meer as een vrou gehad het.

Soos gesê, ons
weet dat Abram en sy vrou Sarai halfbroer en halfsuster was.

En by
huishouding moet mens dus ook dink aan die huisgode.

Waarvan
Ragel later sou gesteel het.

Die huisgode,
op daardie stadium was dit ook vir Abram afgode.

Miskien het
u nog nie so daaraan gedink nie, maar dit is wel ’n feit.

Abram was
ook ’n afgodedienaar.

Hy het –
soos die Kategismus sê, naas die enige ware God nog ander gehad waarop hy sy
vertroue gestel het.

God het
Abram glad nie geroep omdat hy so ’n voorbeeldige persoon was nie.

Die Bybel is
heel duidelik daaroor.

Abram kom
uit ’n huishouding waar die afgode OOK gedien is.

Dit was vir
hom gewoon.

Ons lees
byvoorbeeld in Josua 24(:2-3), waar Josua die volgende vir die volk sê:

“So sê die
HERE, die God van Israel: Oorkant die Eufraat het julle vaders van oudsher
gewoon – Tera, die vader van Abraham en die vader van Nahor, en hulle het ander
gode gedien. Maar Ek het julle vader Abraham van oorkant die Eufraat af geneem
en hom deur die hele land Kanaän laat trek en sy nageslag vermeerder ...”

En dit bring
Josua dan tot die oproep aan die volk:

“Maar as dit
verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie
julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien
het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my
huis, ons sal die HERE dien.” (Jos 24:15)

En om nog ’n
voorbeeld uit die Bybel te noem.

In Jesaja
29:22 sê die HERE dat Hy Abraham verlos het.

Deur hom op
te roep om weg te trek uit sy vader se huis, het Hy hom van die afgodediens
verlos.

 

Abraham moes
dus nie net sy pa en sy pa se huis agterlaat nie, maar ook die gode.

Abraham kon
voortaan slegs vertrou op daardie een God wat hom die pad na die nuwe land sou wys.

Soos ek
hierbo gesê het, Abraham was nie onbekend met die lewende God, die God van sy
voorvader Sem nie, maar hy was in die huis van sy pa Tera ook daaraan gewoond
om ander gode te vereer.

Of dit by
die ou Sem ook die geval was, dat hy afvallig geraak het, dit weet ons nie.

Wat ons wel
weet, is dat Sem opgevoed is in ’n Godvresende gesin.

In Genesis
6:9 staan dat Noag, Sem se pa, ’n regverdige, opregte man was onder sy
tydgenote.

Nog ’n
opvallende detail.

Noag het net
een vrou gehad.

En Sem, toe
hulle in die ark ingaan, het ook net een vrou gehad.

Ook hieruit
blyk dat hulle die HERE en sy skeppingsorde ernstig geneem het.

Maar by
Abram se pa, Tera, was dit nie meer die geval nie.

Tera het ten
minste twee vroue gehad.

By Abram
self sien ons ook die neiging tot poligamie.

Dat daar van
afval sprake was, so in die loop van die geslagte, dit is heel duidelik.

Maar God is
genadig, en Hy gryp nou in, in die lewe van Abram.

Hy kry die
oproep – vir hom waarskynlik ’n baie pynlike oproep:

Abram, ek
wil hê jy moet nie net jou land, en jou familie nie, MAAR OOK jou vader se huis
verlaat.

 

Gemeente, sê
nou maar die HERE sou van jou al hierdie dinge vra, hoe sou jy daarop reageer?

Sou jy
bereid wees om jou land te verlaat?

Sou jy
bereid wees om jou volk en taal agter jou te laat?

Sou jy
bereid wees om jou ouers en dit wat vir hulle kosbaar is, agter jou te laat?

Kortom, om
alles wat jy is, alles wat jou identiteit definieer, om dit agter jou te laat?

Ek dink dit
was ’n geweldig moeilike besluit vir Abram om te neem.

Aan die een
kant.

Maar aan die
ander kant lees ons in vers 2-3 van die beloftes wat die HERE aan hom gemaak
het.

Luister ’n
bietjie na hierdie beloftes.

Ek sal jou tot
’n groot volk maak en jou seën.

Ek sal jou
naam groot maak, en jy sal tot ’n seën gestel word.

Ek sal seën
wie jou seën, en wie jou mag vervloek, sal Ek vervloek.

Alle
geslagte van die aarde sal deur jou geseën word.

 

Hierdie
uitdrukking: Ek sal seën wie jou seën, en Ek sal vloek wie jou vervloek,

was ’n
tipiese frase wat by ’n verbondsluiting gebruik is.

Is dit
vandag nie nog steeds so nie?

As twee
lande ’n verbond sluit, dan beloof hulle vir mekaar dat hulle ook gesamentlike
vriende en vyande sal hê.

Jy kan nie
’n verbond sluit met China, en terselfdertyd ’n vriend van Taiwan bly nie.

Suid-Afrika
kan nie vriende wees met China, maar terselfdertyd aan die Dalai Lama ’n visum
toestaan nie.

So was dit
in die ou tyd ook tussen volke.

En Abram kry
nou hierdie aanbod in die skoot gewerp:

Die
allermagtigste moondheid sluit met hom ’n verbond.

Die
allerhoogste God verbind sy Naam aan hom.

Abraham hoef
nie bang te wees om sy vaderhuis te verlaat, en na ’n onbekende land te vertrek
nie.

Want die
almagtige Verbondsgod gaan saam met hom.

 

Dit is
miskien die grootste beloftes wat ’n mens maar kan ontvang.

Abram moet
sy mense agterlaat.

Maar uit hom
sal God ’n nuwe volk skep.

Moenie
hierby vergeet wat ons reeds weet oor Abram en sy vrou, naamlik dat hulle geen
kinders gehad het nie (sien Genesis 11:30).

Tog belowe
God dat hy Abram tot ’n groot volk sal maak.

Ek sal jou
naam groot maak.

Elke mens op
aarde sal jou naam ken.

Jy sal
beroemd word.

En die HERE
sal hom beskerm, waar hy ook gaan.

En dan al
die geslagte van die aarde sal deur hom geseën word.

 

As mens in
ons teks lees: en deur jou sal al die geslagte van die aarde geseën word,

dan is
hierdie aan die een kant ’n belofte aan Abram, maar aan die ander kant is dit
ook ’n opdrag.

As Abram
gehoorsaam doen wat God hom opdra, as Hy die pad stap wat God hom wys, dan sal
daarop seën rus.

Soos die
tema van die preek dit verwoord: Die
HERE roep Abram na sy beloftes toe.

Dis net soos
wat ons byvoorbeeld in die tweede gebod lees, waar die HERE sê:

Ek bewys
barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.

Eintlik
staan daar: diegene wat my gebooie onderhou, hulle sal Ek seën tot in die
duisende geslag.

God se
beloftes en ons gehoorsaamheid is nou aan mekaar gekoppel.

En so beloof
God aan Abram ook enorme dinge, wat sal realiseer as hy gehoorsaam die pad stap
wat God hom wys.

God wys die
pad na sy beloftes, Hy roep ons om daardie pad te stap.

Die HERE
roep Abram na sy beloftes toe.

 

En dit bring
ons by die vraag: hoe is dit moontlik?

Wat kan
Abram bied aan al die geslagte van die aarde?

Watter
voorreg sal alle nasies geniet, te danke aan Abram?

Kom ons
probeer die antwoord vind in die geskiedenis van Abram se lewe.

As ons na
Abram se lewensloop kyk, sien mens dalk iets wat hom ’n seën vir alle nasies
gemaak het?

Het hy dalk
iets besonders ontdek of uitgevind?

Het hy dalk
iets groots en indrukwekkends gebou?

Wat het hy
gedoen?

As ons na
die lewensloop van Abraham kyk, kan mens nie eintlik iets besonders vind nie.

Hy het dus
nie beroemd geword deur sy eie dade of prestasies nie.

Die rede
hoekom hy beroemd geword het, is – kort gesê – omdat God in sy lewe gekom het.

En dit wat
God in sy lewe gedoen het.

Dink
byvoorbeeld daaraan dat God hom en Sara ’n kind geskenk het.

’n
Wonderkind, omdat hulle al so oud was.

 

Laat ek die
vraag herhaal: hoekom het Abram so beroemd geword?

Hoe word al
die nasies van die aarde deur hom geseën?

Vir die
antwoord moet ons nie na Abram se eie prestasies kyk nie.

Ons kan
hoogstens kyk na sy gehoorsaamheid aan God se gebooie.

Hy het die
pad gestap wat God hom gewys het.

En hierdie
gehoorsaamheid – dink aan die woorde van die 2e gebod – het God
geseën tot in – by wyse van spreke – die duisendste geslag.

Sy nageslag
het die Israeliete geword, die verbondsvolk van God.

Aan hulle
het God sy Woord geopenbaar.

Hulle moes
sy Woord na die nasies dra.

En
uiteindelik, dit was deur Abram se nageslag, is die Redder van die wêreld
gebore: Jesus die Messias.

 

Nou het ons
dus ’n antwoord op ons vraag.

Al die
geslagte van die aarde sal geseën word deur Abram, want Abram was die voorvader
van Jesus Christus.

Maar weer
eens, dit was nie Abram se prestasie nie.

Dit was
genade van God.

Want Abraham
en Sara was onvrugbaar.

Abraham was
ook nie ’n geloofsheld nie.

God moes hom
leer hoe om te vertrou.

Dit was die
HERE wat hom so ver gebring het om sy land te verlaat, en na ’n onbekende plek
te trek.

Dit was die
HERE wat hom veilig daar laat aankom het.

 

Vandag word
elkeen wat die lewende God dien ’n kind van Abraham genoem.

God leer
alle volke op aarde met die voorbeeld van Abraham hoe om op Hom alleen te
vertrou.

Abraham was
nie ’n geloofsheld nie.

Maar in
Abraham se lewe sien ons die aanwesigheid van God se genade.

Uit sy lewe
kan ons leer hoe om God besig te sien in ons lewe.

Uit sy lewe
kan ons leer dat God betroubaar is.

Ons kan leer
dat God hulle wat Hy uitgekies het, nie in die steek laat nie.

God het baie
dinge aan Abram belowe.

In Jesus
Christus sien ons hoe God al daardie beloftes vervul het.

 

Is jy ook ’n
kind van Abraham?

Dien jy die
lewende God?

Hy roep vir
jou ook om baie dinge agter jou te laat.

Hy beloof
jou ’n beter lewe.

Volg Hom,
stap die pad wat Hy jou wys.

Lewe op die
kompas van sy Woord.

As jy so
lewe, dan sal jy ook tot ’n seën gestel word, nie net in jou eie generasie nie.

Maar ook vir
die nageslagte.

Ons weet nie
hoeveel geslagte daar nog op aarde gaan volg nie.

Een ding is
wel duidelik: die leefstyl van die voorouers het ’n beduidende invloed op hulle
kinders en kindskinders ens.

En dieselfde
geld ook nog vandag.

Jou lewe
persoonlik, maar ook ons lewe as kerk, as gemeente, het ’n direkte invloed op
die nageslag.

Deur
gehoorsaamheid in die hede maak God die pad oop na die toekoms.

 

Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)