God se oordeel en geduld, soos ons dit sien in hoe Hy gehandel het met die generasie voor die sondvloed

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-02-02
Teks: 
Génesis 6 : 1-8
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 2 Febraurie
2014 AD, 10:15

Voorsang: Ps 13:1-5

Liturgie:

Votum: sing Ps 121:1

Seën

Ps 136:1,3

Wet

Sb 28:3,4

Gebed

Skriflesing:
Genesis 6-7:1

Ps
73:1,2,5,6

Teks:
Genesis 6:1-8

Preek

Ps 73:12

Gebed

Kollekte

Ps 136:18-20

Seën

Preek: Genesis 6:1-8

Tema: God se oordeel en geduld, soos ons dit sien in hoe Hy gehandel het
met die generasie voor die sondvloed

 

Ons het die
geskiedenis gelees van Noag en die groot vloed.

In die boek
Genesis lees ons oor die skepping van hemel en aarde.

Ons lees oor
die eerste mense op aarde: Adam & Eva.

Hulle was
die ouers van Kain en Abel.

Kain het sy
broer Abel vermoor.

Daarna het
Adam en Eva nog kinders gekry, o.a. Set.

Tussen Kain
en Abel was daar ’n groot verskil in lewenshouding.

Tussen Kain
en Set het dieselfde verskil aan die lig gekom.

Set het God
gedien met sy hele hart.

Kain het God
nie gedien nie.

Tussen Set
se nageslag en die van Kain was hierdie verskil ook sigbaar.

 

Ondertussen
het daar heelwat eeue verbygegaan.

In hierdie
eeue het sommige mense God gedien, maar ander het hulle nie gesteur aan hulle
Skepper nie.

Hulle het
gedink hulle kon enigiets doen op aarde, net wat hulle wou.

Hulle het
die wil van God, sy gebooie, geminag.

Hulle het
sonder God gelewe.

Met die
gevolg dat die aarde ’n gevaarlike plek geword het.

 

En dan lees
ons in Genesis 6:

Toe die HERE
sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels
wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die HERE berou dat Hy
die mens op die aarde gemaak het ... En die HERE kom dan tot die slotsom: Ek
sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg.

 

Ek dink
almal sal met my saamstem dat hierdie besluit van God baie ingrypend is.

Veral in die
lig van hoe ons die HERE ken uit die res van die Bybel, naamlik dat Hy baie
geduldig van aard is, en dat Hy mense geweldig baie kanse gee – in die lig
hiervan is dit net nog meer ingrypend wat die HERE hier besluit.

Wat het die
HERE eintlik tot hierdie ongelooflike maatreël gebring?

 

Die eerste
verse van Genesis 6 lig ’n tippie van die sluier,

al is dit
wat geskryf word oor die toenmalige wêreld baie min.

In vers 2
word gepraat oor die seuns van God – mens kan ook vertaal – die kinders van God
aan die een kant, en die dogters van die mense aan die ander kant.

Wie word
hier bedoel met die seuns of kinders van God?

Verskillende
verklarings is al deur die eeue aangedra.

Sommiges
dink aan engele.

Want in bv.
Job 1 word die engele ook seuns van God genoem.

Maar,
hierdie betekenis is nie die enigste nie.

Daar is
ander plekke in die Bybel waar met seuns van God bedoel word die volk van God,
Israel.

Of die
gelowiges, die vromes.

Dink bv. aan
Psalm 73:15 (berymd) “Maar nee, al wil my hart ook breek, my mond mag so oor
God nie spreek: dan sou’k verraai wie ek bemin het, Gods volk met wie’k die
stryd begin het”.

Daar is
ander wat volhou dat hier in Gen 6:2 gode bedoel word.

Hierdie
Bybelgedeelte sou ’n mitologiese agtergrond hê.

Vergelykbaar
met die mitiese verhale van die Babiloniërs, of die Grieke.

Die heidense
volke het baie gode vereer – ’n veelgodendom, oftewel politeïsme.

En soos
bekend uit hulle mitiese verhale,

is sommige
van hierdie gode verlei toe hulle die mooi meisies op aarde sien.

Uit hierdie
verbindtenis sou dan ’n aparte ras voortgekom het, die sogenaamde reuse waaroor
vers 4 praat.

Maar met die
sondvloed sou die HERE aan hierdie gebeure toe ’n einde gemaak het.

Die boodskap
van Genesis 6 sou dan wees dat God triomfeer oor al die afgode van die heidene.

 

Dis dalk
goed om met ’n gesonde dosis skepsis na hierdie eksegese te kyk.

Kom ons doen
dit vanuit die oë van Moses, die skrywer van die boek Genesis, en ook die
skrywer van die res van die Pentateug – Exodus tot Deuteronomium.

Die boodskap
uit die Pentateug is nie dat die God van Israël – Jahweh – sterker is as al die
ander gode nie, en dat Hy hulle oorwin het – of dit nou is in die skepping of
by die sondvloed nie.

Die boodskap
van die Pentateug is veel radikaler: daar is slegs een God.

Ander gode
bestaan nie eers nie.

Afgode
bestaan net in die koppe van mense.

Natuurlik –
daaroor is Moses duidelik – bestaan daar ’n mag van die kwaad – die slang, die
satan en sy bose geeste.

Terug na
hierdie gedeelte in Genesis 6 – as mens volhou dat met ‘seuns van God’ ander
gode bedoel word, dan staan dit op gespanne voet met die res van die Pentateug,
en natuurlik die res van die Bybel.

Maak dit sin
dat hierdie Bybelboek sê dat God die gode van die heidene oorwin, terwyl
dieselde boek elders sê dat daardie gode nie eens bestaan nie?

 

Tussen
hakies, as mens na vers 4 kyk, word daar gesê dat hierdie sg. reuse – wat sou
ontstaan het uit die geflirt van die gode met die meisies op aarde – in vers 4
word gesê dat hierdie gode al op aarde bestaan het voordat hierdie
sogenaamde verbindtenis tussen godeseuns en mooi meisies op aarde tot stand
gekom het.

Dus – dis
nou bietjie tegnies, maar tog goed om te noem – hierdie sg. reuse is nie ’n gevolg
van die verbintenis tussen die godeseuns en die meisies nie.

Dis eerder
andersom, hierdie sg. ‘reuse’ was al daar, en toe – in hulle tyd – het daar ’n
ontwikkeling op gang gekom dat die seuns van God vir hulle as vroue geneem het
die dogters van die mense.

 

Dalk is dit
goed om op hierdie stadium bietjie nader in te gaan op die term: reus.

Wat of wie
word bedoel met hierdie sg. reuse?

Die
Hebreeuse woord wat hiervoor gebruik word, kom maar min in die Ou Testament
voor.

Slegs een
ander keer, in Numeri 13:33, waar die 12 Joodse verspieders wat Moses
uitgestuur het, die Enakiete in die land Kanaän beskryf as reuse, daarby
vergeleke het hulle self gevoel soos sprinkane.

Wat wel
opvallend is, is dat die Hebreeuse woord vir reus wat hier gebruik word,
afgelei is van ’n ander woord, ‘n woord wat iets soos ’n miskraam beteken.

Op ’n manier
is daar ’n korrelasie met ’n persoon wat ’n afwyking het.

Nou weet ons
vandag dat mense wat ekstreem groot en lank word, dit is omdat hulle ’n
afwyking het.

Volgens die
Guiness Book of World Records was die langste man ooit deur hulle opgeteken
2,72 meter lank.

Dit was ’n
Amerikaner wat van 1918-1940 geleef het.

Die langste
vrou opgeteken is ’n Chinees, en wel 2,48 meter lank.

Sy is in
1982 oorlede en het 18 jaar geword.

In beide
hierdie gevalle was daar sprake van ’n afwyking, ’n gestremdheid.

 

Hoe was dit
presies met hierdie ‘reuse’ waaroor Genesis 6 praat?

Soos wat ek
deur die verklarings gelees het, het dit my opgeval dat mens nie net op die
liggaamlike kant moet let nie, maar ook op die karakter.

Juis in die konteks
van Genesis 6 maak dit nogal sin.

‘Reuse’ nie
net in die sin van liggaamlike grootte nie, maar reuse in die sin van SKOFTE.

Ongemanierde
bullebakke.

Mense wat
net vir hulleself gelewe het, en wat met al hulle mag en krag gedoen het net
wat hulle wou, en sonodig ander uit die pad gestamp het.

Miskien kan
ons dink aan hoe sommiges hulle vandag op die paaie gedra, met hulle groot
bloulig konfooie, of sommiges met hulle groot 4x4 bakkies ...

In elk
geval, hierdie reuse was tipes wat hulle aan God en gebod nie gesteur het nie.

Hulle het
hulleself gedien, verryk, en het geleef asof die aarde aan hulle behoort.

Moontlik dat
in hierdie konteks die liggaamlike aspek – die liggaamsgrote – ook inpas, in
die sin van ’n superras.

Hitler, wat
hom ook nie aan God of gebod gesteur het nie, het bewus begin om ’n soort super
Ariese ras te kweek,

sterkter en groter
en beter as die res.

Verafgoding
van die mens.

Net soos ’n
honderas geteel kan word, om bogemiddeld groot te wees.

Wie weet,
het dit voor die sondvloed ook met die mense gebeur?

Dat die
mensheid – die kinders van Kain – in hulle arrogansie, ’n übermensch probeer teel het?

 

Maar dit was
nog nie die ergste nie.

Die
skokkendste van die toestand net voor die sondvloed is wat ons ook hier lees,

naamlik dat
die seuns of kinders van God – bedoelende hulle wat God dien, die vromes –

dat juis hulle
ook afvallig begin raak het.

Dat hulle
voorkeur begin uitgaan het, by die uitsoek van ’n huweliksmaat, nie in die
eerste plek na iemand wat die HERE dien nie,

maar na die
dogters van die mense wat mooi was.

Mooi
gedefinieer dan in terme van wat hierdie übermense, hierdie onbeskufte
bullebakke, as mooi beskou het.

Ook hier
moet ons nie net aan die liggaamlike kant dink nie – reuse van meisies, baie
lank en gespierde groot meisies – maar ook aan die karakter, die geestelike
kant.

Dit was
moontlik toe die ideaalbeeld.

Maar kom ons
sê dit maar reguit: die wêreldse sondige meisies was vir die seuns van God
aantrekliker as die wat die HERE gedien het.

Ons sien
hier gebeur wat Bileam later ook as advies vir Balak sou gee.

Hoe oorwin
jy God se volk?

Jy gaan
hulle nie op die slagveld kan wen nie, maar probeer net om hulle te verlei.

 

En so sien
ons hier dat daar ’n afval op ongekende skaal begin optree het onder die wat
die HERE vrees.

Tradisioneel
was dit die onderskeid, die antitese, tussen die nageslag van Kain, en die
nageslag van Set, die Setiete soos hulle soms genoem word.

Al is dit
belangrik om te besef dat dit nie die mees akkurate onderskeid is nie.

Want ook in
Set se nageslag was daar wat deur die eeue afvallig geraak het en God nie meer
gedien het nie.

En ook in
die nageslag van Kain sou daar hulle gewees het wat deur die HERE se genade, na
Hom en die wat Hom vrees die pad teruggevind het.

 

In elk
geval, wat nou hier plaasvind, is ’n periode in die wêreldgeskiedenis voor die
sondvloed, ’n periode van afval op ongekende skaal.

So groot dat
dit die HERE moedeloos gemaak het.

Daar staan
selfs dat dit die HERE berou het dat Hy die mens op die aarde gemaak het.

Daar was
smart in sy hart.

So iets word
nie gou van die HERE gesê nie.

Dit moet
daarop dui dat die situasie buitengewoon buitengewoon
desperaat was.

Die
slangesaad het omtrent volledig die vrousaad ingesluk, as u begryp wat ek
bedoel, verwysende na die moederbelofte in Genesis 3:15.

En daarom dat
die HERE sê: my Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie.

Hier word
verwys na die Gees van die HERE wat die lewensasem in elke mens gee, in elke
mens en dier (vgl. Ps 104).

God is dus
van plan om die lewe wat Hy geskenk het, nou terug te neem.

Hy wil dat
die mense sterf, in die lig van wat hulle op aarde aangevang het.

 

Tog sien ons
ook hier hoe genadig en geduldig die HERE is.

Ons lees in
vers 3: sy dae sal wees honderd en twintig jaar.

Hierdie vers
word dikwels misverstaan, asof die HERE die lewensverwagting hier inkort.

Eers kon die
mense amper 1000 jaar oud word, nou bring God dit terug op rofweg 120 jaar.

Maar dis nie
wat in hierdie vers bedoel word nie.

As dit die
geval was, sou ons later in die geskiedenis nie meer van mense moes lees wat
meer as 120 jaar geword het nie.

Maar ons
doen.

Abraham het
bv. 175 jaar oud geword, Isak 180, Jakob 147.

In Genesis
11 lees ons van Sem wat 600 geleef het, Selag 533, Heber 464, ens. ens.

As hier
staan: maar sy dae sal wees 120 jaar, dan bedoel die HERE iets anders.

Naamlik: Hy
het besluit om hierdie goddelose geslag uit te roei, met die sondvloed te tref,

maar Hy gee
hulle nog 120 jaar.

Inderdaad,
die HERE is genadig en geduldig.

Hy gee hulle
nog ’n grasieperiode van meer as ’n eeu, om tot bekering te kom.

En in
hierdie eeu los Hy hulle nie uit nie, nee Hy val hulle lastig, Hy roep hulle
tot bekering.

Om presies
te wees: God stel vir Noag aan.

In 2 Petrus
word Noag die prediker van geregtigheid genoem (2 Petr 2:5).

God het Noag
aangestel as ’n profeet, ’n prediker.

Hy moes die
mense oproep tot bekering, terugkeer na God.

Hy moes die
mense betyds waarsku vir die komende oordeel.

Hy moes dit
doen, nie net met woorde nie, maar ook met sy dade.

Want die
HERE het vir Noag beveel om ’n ark te bou.

Ark – dit
beteken: ’n plek van veiligheid.

Ons kan
aanneem dat Noag ’n lang ruk aan die ark gebou het.

Dink maar
net aan sy mate: lengte van 140 meter.

Dit is 1 en
’n halwe sokkerveld lank.

En dit was
14 meter hoog – ’n gebou met 4 verdiepings.

Inderdaad
die afmetings van – wat ons vandag sou noem – ’n oceanliner.

Mens kan
aanneem dat Noag ’n hele klompie jare aan die ding gebou het.

Ek weet nie
of daar mense was wat hom gehelp het nie.

Dalk sy
seuns?

Die ander mense
het spottend staan en toekyk.

Wie bou nou
’n skip in die woestyn?

Waar’s die
water?

Hulle het
hom uitgelag. Grappies gemaak.

Maar God was
genadig.

120 jaar
lank.

Ons lees in
1 Petrus 2: die lankmoedigheid van God het bly wag in die dae van Noag,
onderwyl die ark gereed gemaak is (vers 20).

Daar was ’n
terugkomkans, meer as genoeg kans.

Noag het
gepreek.

Daar kom ’n
straf, ’n sondvloed.

Maak gereed.

Maar die
mense het gedog hy’s mal.

Sommige
mense raak mos getik, hulle oordryf ’n gedagte.

Dis was
hulle van Noag gedink het.

En so was die
generasie voor die sondvloed horende doof.

Die menslike
geslag, daardie onbeskofte reuse het gewoon aangegaan om te sondig.

Hulle het
hulleself geniet.

Hulle het
gelieg en bedrieg, gehoer en gerumoer, gesteel en vermoor.

Hulle het
‘vergeet’ van God en sy gebooie.

En so het die
straf toe gekom.

 

Hoewel –
weereens bewys van God se genade – daar was nog ’n allerlaaste kans.

Nadat Noag
hulle tydig en ontydig gewaarsku het, sonder enige effek, het hulle ooggetuies
van ’n wonder geword.

Hulle het
naamlik al die diere na die ark toe sien beweeg.

Op ’n
ordelike wyse, mannetjie en wyfie.

Let wel:
HULLE HET DIT SIEN GEBEUR!

Hierdie
wonder.

Werklikwaar,
hierdie wonder moes hulle oë oopgemaak het.

Diere, wat
die afgelope eeue geleer het om skrikkerig vir mense te wees,

diere wat
geleer het om hulle eie gang te gaan, liefs so ver moontlik van die mense af,

hierdie
diere het nou na Noag gekom, en die ark binnegegaan.

Hierdie
voorval MOES hulle oë oopgemaak het.

Maar dit het
nie.

Hulle was
verhard.

Jesus sê oor
mense soos hierdie: terwyl hulle sien, sien hulle nie, en terwyl hulle hoor,
hoor of verstaan hulle nie. Aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat
sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en
kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en
met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hul oë het hulle toegesluit, sodat
hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart
verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. (Mattheüs 13:13-15)

 

Die deur van
die ark was nog oop.

Elkeen wat
wou, kon inkom, in die plek van veiligheid.

Maar daardie
mense, die sondaars, die gewese seuns van God, die dogters van die mense, die
reuse, daardie onbeskofte supermense, hulle wou nie.

Hulle het
gedog dis net ’n grap. En Noag is agterlik.

En dis toe –
na 120 jaar – dat God vir Noag gesê het:

Gaan in die
ark, jy en jou hele huisgesin, want jou het Ek reverdig bevind voor my aangesig
in hierdie geslag.

En toe, na
hulle en al die diere wat God gestuur het ingekom het, het God self die deur
toegemaak.

Niemand kan
op die oordeelsdag sê: Noag, ek wou inkom, maar toe slaan jy al die deur toe in
my gesig.

God self het
die deur toegemaak, let wel na baie lank, meer as ’n eeu se geduld, maar toe was
dit op.

Nou was die
tyd van genade verby.

Inderdaad,
God is genadig.

As God na
jou toe kom – byvoorbeeld deur sy predikers soos Noag in hierdie geval –
luister dan.

Maak jou oë
oop en sien sy werk in jou lewe!

 

Geliefde
gemeente, in die Nuwe Testament word die kerk van Jesus Christus die ark
genoem.

Die plek van
veiligheid.

Kom binne,
sluit aan by die kerk, en jy sal gered word.

Moenie dink
die kerk is nie nodig nie.

Moenie dink
die kerk is belaglik nie.

Moenie dink
die kerk is net ’n plek vir mense wat nog nie by die tyd is nie.

Inteendeel,
die kerk is die enigste plek waar jy gered kan word.

Die
oordeelsdag is op koms.

Maar ook in
ons tyd, die Nuwe Testamentiese tyd, het God baie geduld.

Hy wil nie
hê dat mense verlore gaan nie, maar dat hulle hul bekeer en gered word.

Kom binne,
nou dat dit nog kan, en bly binne.

Voordat die
deur toegemaak word.

Vir die wat
dan nog buite is, sal dit die buitenste duisternis wees.

Maar vir die
wat binne is, breek die bruilof aan, die groot fees van ons Heiland, Jesus Christus.

 

Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)