Jy mag ’n geloofskind wees

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-03-09
Teks: 
Génesis 7 : 7-14
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
9 Maart 2014 AD, 10:15 (heilige doop)

Votum

Seën

Ps 39.3,5

Wet

Ps 39.6,7

Gebed

Doopsformulier

Bediening heilige doop: Christo Mark
Bouwman

Sing na doopsbediening: Ps 116:1,2,7

Skriflesing: Genesis 17

Ps 107.1

Teks: Genesis 17.7-14

Preek

Amenlied: Ps 105.2-6

Gebed

Kollekte

Ps 116.8,9,10

Seën

Preek: Genesis 17:7-14

Vanoggend is
Christo Mark voor die oë van die hele gemeente gedoop.

Die teks vir
vanoggend se preek praat oor die seremonie van die besnydenis.

Dit was die
teken dat iemand hoort by die verbond wat God met Abraham gesluit het.

Maar soos
die Nuwe Testament ons leer, is die besnydenis vervang deur die doop.

Sedert die
koms van Christus en sy werk op aarde het die nageslag van Abraham geweldig
uitgebrei.

Vandag is
kinders van Abraham nie net meer onder die Jode te vinde nie, maar letterlik
orals.

Ook in
Kameeldrif.

Deur die
doop word sigbaar dat hierdie kindjie ook opgeneem word in die verbond wat God
destyds met Abraham gesluit het.

Abraham die
vader van alle gelowiges.

Dit is dan
ook die onderwerp vir vandag se preek.

 

Tema: Jy mag ’n geloofskind wees

1 Kind van Abraham

2 Kind van God

3 Kind van gelowige ouers

 

1 Kind van Abraham

Dis
opvallend hoe God Homself voorstel in vers 1:

“Ek is God,
die Almagtige”.

God stel Homself bewus so voor.

Hy bedoel om
te sê: Ek is die Een wat vir jou nageslag sal sorg.

Al is julle
bejaarde mense en onvrugbaar.

 

God vervolg
dan: “wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.”

Mens kan ook
vertaal: leef met ’n opregte hart voor my aangesig.

God sê vir
Abraham: laat jou hart nie verdeeld wees tussen My en iemand anders nie.

Plaas al jou
vertroue op My.

God sê dit
nie toevallig nie.

Want Hy het
Abraham geken, dat dit vir Abraham moeilik was.

Kyk maar in
die vorige hoofstuk, Genesis 16.

Daardie
hoofstuk handel oor – kom ons noem dit – die noodoplossing Hagar.

God het
naamlik vir Abraham ’n nageslag belowe, uit die skoot van Sara.

Maar Abraham
was nog nie so oortuig nie.

Daarom het
hy langs God se plan, sê maar plan A, ook nog ’n plan B agter die hand gehou.

’n
Noodoplossing, vir die geval dat dit nie sou werk met Sara nie.

Abraham het
by sy byvrou Hagar ’n seun gekry, Ismaël.

Maar die
HERE sê dan vir hom:

Vertrou
onverdeeld op My.

Dit help nie
om jou vertroue op iets anders te stel nie.

Jy hoef nie
’n plan B te hê nie.

 

En dan
herinner God vir Abraham in vers 2 aan die verbond wat Hy met hom gesluit het.

Dit is nie
so dat die HERE nou eers, hier in Genesis 17, ’n verbond met Abraham sluit nie.

Die eintlike
verbondsluiting het al eerder plaasgevind.

Daaroor lees
mens in Genesis 15 - die hele seremonie van die verbondsluiting word daar
beskryf.

Hier in
Genesis 17 herinner die HERE vir Abraham weer aan daardie verbond.

As daar in
vers 2 staan:

“Ek wil my
verbond sluit tussen My en jou”, dan kan ons dit lees in die sin van:

Ek sal my
verbond gestand doen. Ek sal dit bevestig.

Wat Ek in
die verbond van my kant beloof het, sal ek waarmaak.

Naamlik: Ek
sal jou buitengewoon vermeerder.

 

En dan lees
ons in vers 3 dat Abram op sy aangesig val.

Dit is ’n
uitdrukking wat in die ou Ooste gebruik is as iemand voor die koning verskyn
het.

Jy het met
jou gesig op die grond gekniel.

En toe het
God begin praat.

Hy herinner
aan die so bekende verbond wat Hy met Abraham gesluit het.

Die verbond
waar by die doop van elke kindjie tot vandag toe nog na verwys word.

Ja op grond
van wat in hierdie hoofstuk staan, word tot vandag toe gesê dat Abraham die
vader van alle gelowiges is!

 

Kom ons kyk
nou eers na wat die oorsprong van hierdie uitdrukking is: Abraham, die vader
van alle gelowiges...

In eerste
instansie verwys dit na Abraham self.

Abraham moes
GLO dat God vir hom ’n nageslag uit Sara sou gee.

Abraham se
nageslag uit Hagar is dus nie sy geloofskinders nie.

Ismael is ’n
beplande kind.

Maar die
kind van Sara, dít is sy geloofskind.

Die geboorte
van Isak het Abraham nie kon beplan nie.

Sy geboorte
was in die oë van alle mense ’n Godswonder.

Uit sy seun
Isak is later ’n volk gebore wat God as sy volk gekies het.

Israel.

Die volk wat
God in sy genade opgesoek het.

 

Tog verklaar
hierdie nog nie hoekom ons ook vandag so genoem word nie – nl. kinders van
Abraham.

Want ons is geen
direkte afstammelinge van Abraham nie.

Ons is nie
bloedverwante in biologiese sin nie.

Tog word ons
wel kinders van Abraham genoem.

Hierdie titel
het ons naamlik te danke aan Christus.

Deur sy werk
het Hy die geskiedenis so beïnvloed, dat voortaan mense uit alle volke
Abrahamskinders genoem kan word.

 

Ek dink dan
aan die pragtige verse uit Galasiërs 3, waar hierdie feit verduidelik word.

Byvoorbeeld
Galasiërs 3:14: “sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus
Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.”

En vers 29:
“as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en
volgens die belofte erfgename.”

 

Dit is om
hierdie rede dat ons vandag ook Christo Mark ’n kind van Abraham noem.

’n Kind wat
mag begin lewe in dieselfde verbond wat God ooit met Abraham gesluit het.

Nie dat hy
daardeur outomaties gelowig is nie.

Inteendeel,
ons het nounet in die doopsformulier gehoor dat ook hy in sonde ontvang en
gebore is en aan die ewige oordeel onderworpe.

Maar wat
belangrik is, is dat sy ouers vanoggend die ja-woord gegee het.

Hoewel sy
ouers sondige mense is, glo hulle wel in Christus.

Dws, hulle
soek hulle redding buite hulleself in Christus.

En hulle
besef dat dit ook die enigste redding vir Christo Mark gaan wees.

Dat hy,
hoewel in sonde ontvang en gebore, ja aan die ewige oordeel onderworpe, tog in
Christus geheilig is en daarom behoort gedoop te wees.

Hulle
ja-woord getuig daarvan dat hulle diep deurdronge is dat Christo Mark nie
vanself gelowig sal word nie.

Daarin moes
hulle ja antwoord op die tweede doopvraag, oor hoe hulle eie geloof is.

Bely u dat
die leer van die Ou en Nuwe Testament, ... soos dit in die Christelike kerk
hier geleer word, die ware en volkome leer van die verlossing is?

Ouers wat
nie self hiervan oortuig is nie, kan dit ook nie op hulle kinders oordra nie.

En vandaar
dat hulle met die derde vraag ’n belofte moes aflê:

Belowe u en
neem u dit op u om Christo Mark in hierdie leer van die Bybel, hierdie leer wat
sal lei tot sy redding van die ewige dood, hierdie leer wat hom ’n gelukkig
lewe sal bring hier op aarde, en selfs na sy sterfdag, belowe u dat u hom in
hierdie leer sal onderrig en laat onderrig?

 

Onderrig,
dit beteken nie net dat jy af en toe ’n stukkie uit die Kinderbybel lees nie.

Dit gaan oor
die hele sfeer wat jy tuis skep.

’n Sfeer
waar die televisie byvoorbeeld nie die hele tyd aanstaan nie.

’n Sfeer
waar daar ’n ouer tuis is, as die kind ook tuis is. 

Onderrig
moet mens nie net teoreties sien nie, dit is ’n in diens opleiding.

Vir miskien
wel 20 jaar of meer gaan Christo Mark by julle teoreties en prakties opgelei
word.

Hy leer by
julle hoe om te lewe.

Dit is ’n
pragtige voorreeg.

Maar ook, ’n
taak waarby mens as ouer God se hulp dringend nodig het.

Waarby jy
ook die middele moet aangryp om jou daarin by te staan.

Nie vir niks
nie het julle ook belowe om julle kind te laat onderrig.

Dit wil nie
sê dat jy die geloofsopvoeding uitbestee nie.

Ouers moenie
dink dat as hulle hulle kinders katkesasie toe stuur, vereniging en ’n
gereformeerde skool, dat die kind dan wel gelowig sal word nie, en dat hulle
nou maar bietjie minder moeite hoef te doen doen.

Dit is nie
óf óf nie.

Dit is én
én.

Belowe jy om
jou kind te onderrig én te laat onderrig.

 

2 Kind van God

Christo Mark
is ook ’n kind van Abraham, die vader van alle gelowiges.

Meer nog, hy
is ’n kind van God.

Vandag
verseël God sy verbond met hierdie kindjie.

Dit is die
pragtige boodskap uit ons teks.

Die HERE sê vir Abraham:

Ek sal my
verbond oprig tussen My en jou EN JOU NAGESLAG NA JOU in hulle geslagte as ‘n
ewige verbond.

En soos
gesê: danksy Jesus Christus is ons nageslag van Abraham, deur die geloof.

Geloofskinders
van Abraham.

Geen
bloedverwante, maar geloofsverwante.

Die apostel
Paulus verwys terug na hierdie selfde teks in sy eerste preek na Pinkster:

“Want die
belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die
Here onse God na Hom sal roep” (Hand 2:39)

Christo Mark
is volwaardige lid van Christus se kerk.

Nie omdat hy
uit omself sonder sonde is.

Nie omdat hy
so ’n liewe klein babatjie is nie.

Die
doopformulier het die feite nie verdoesel nie.

Oók in sonde
ontvang en gebore.

Oók oppad na
die ewige dood.

Dis net
danksy God se genade, dat Hy sê:

Christo
Mark, kom, jy is nou ook my verbondskind.

Sê God dit
vir alle babatjies so sag en lief as wat hulle is?

Nee, so is
dit nie.

God sluit sy
verbond van genade slegs met die kinders van die gelowiges.

 

3 Kind van gelowige ouers

Nie dat die
babas van Christene beter en minder sondig is nie.

Geen enkele
verskil.

Wat is wel
die verskil?

Die verskil
lê in die opvoeding, wat hierdie kinders te wagte staan.

’n
Geloofsopvoeding.

Christo Mark
sal sy eie ek moet leer kruisig.

Hy sal moet
leer om ’n nuwe lewe deur die Gees te lewe.

Dit gaan nie
vanself nie.

Dit is die
vrug van jarelange geloofsopvoeding.

Met liefde,
sorg, tyd, konsekwentheid, aandag.

Soos iemand
gesê het: kinders het veral behoefte aan vitamine E.

E vir die
Evangelie.

 

Maar is dit
dan nie diskriminasie nie?

Wel ’n
genadeverbond met die kinders van die gelowiges, en nie met die kinders van die
ongelowiges nie?

Dit hang
maar af vanaf watter kant jy dit bekyk,

Bekyk jy dit
van God se kant, dan is daar van diskriminasie geen sprake nie.

God bied die
in sonde gevalle wêreld redding aan.

Dink aan die
bekende teks uit Johannes 3:16:

“Want so
lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat
elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Hierdie
redding bied God aan alle ouers aan.

Die oproep
tot alle mense is: kom tot inkeer en glo die Evangelie.

 

Maar, as
mens dit van die ander kant af bekyk, die kant van die ongelowige ouers, ja,
dan is dit wel diskriminasie.

En dit
bedoel ek só:

Hoekom neem
ongelowige ouers nie die stap om die beste vir hulle kinders te gee nie?

Hoekom gryp
sommige ouers nie die Evangelie van ewige redding aan – vir hulleself en vir
hulle kinders nie?

Dit is
diskriminasie na hulle kinders toe – dat hulle dit aan hulle kinders onthou.

Laat ouers
tog besef waarmee hulle begin as hulle kinders kry.

Dit is ’n
enorme verantwoordelikheid op hulle skouers.

As jy jou
kind opvoed sonder om hom by sy Skepper en Verlosser te bring, dan voed jy hom
op vir die hel, hy is oppad na die ewige dood.

Dit is as
God nie ongevraagd ingryp en daardie kind se lewenskoers verander nie.

En jy as
ouer sal moet rekenskap aflê.

Besef jou
verantwoordelikheid.

 

Nie dat jy
as ouer self volmaak en foutloos moet of kan wees nie.

Niemand van
ons kan.

Gryp net die
Evangelie aan.

Leef self
uit vergewing van sondes.

So voorkom
jy dat jou foute vir jou kinders gaan benadeel.

Ongelowige
ouers het inderdaad ’n loodsware las op hulle skouers.

’n
Meulsteen, soos Jesus gesê het...

Vir elke
ouer op aarde klink daarom die dringende oproep:

Glo en leef
volgens die Evangelie, tot jy eie redding en die van jou kinders.

 

Ons was
vanoggend bevoorreg om te hoor hoe die ouers ja geantwoord het op die doopvrae.

Hulle glo gelukkig
die Evangelie.

En in geloof
mag julle God se woorde wat Hy tot Abraham gespreek het, ook jou eie maak.

Ek sal ’n
God wees vir jou nageslag.

En soos
gesê, die kriterium is nie of die kind ’n bloedverwant van Abraham is nie.

Maar dat die
ouers gelowig is, en daarom vir die kind ’n gelowige opvoeding gaan gee.

’n
Christelike huishouding, omdat die ouers uit die Evangelie lewe.

 

Ons het in
vers 13 gelees, dat Abraham nie net sy kinders moes besny nie, maar almal wat
deel was van sy huishouding.

“Wat in jou
huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny word.”

Selfs toe
het dit nie in die eerste plek oor die bloedverwantskap gegaan nie, maar oor
die sfeer in die huis.

’n Lewe met
die HERE, waarin die huishouding deel.

’n
Geloofsopvoeding vir die wat in die huis is.

 

Dit is
pragtig om te sien hoe in die loop van die geskiedenis dat die nageslag van
Abraham steeds verder uitgebrei het.

Wat eers
vernaamlik uit Jode bestaan het, is na Pinkster verbreed na alle volke en tale
toe.

Tot vandag, waar
mens in ontelbare huishoudings, oor kultuurgrense heen, in huise ver weg in
Amerika of Australië, of in China, of in Afrika, in alle lande oor die wêreld
waaraan jy maar kan dink, heers daar in baie huishoudings ’n Christelike
atmosfeer.

’n Gesonde
huishouding, danksy die vitamine E.

Ook in julle
huis in Kameeldrif.

En so is ons
internasionaal verwant.

Ouers wat
almal ja gesê het by die doop van hulle kinders.

So skep God
die Heilige Gees die juiste voedingsbodem vir nog ’n kindjie van Abraham om op
te groei tot ’n gelowige kind van God.

Of soos ons
nou gaan sing in Psalm 105:5 sing: “verbond met Abraham sy vrind, bevestig Hy
van kind tot kind”.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)