As laaste remedie beveel God Esegiël om ‘n drama op te voer voor die oë van sy volk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-02-08
Teks: 
Eségiël 4
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
8 Februarie 2015 AD, 10:15

Voorsang: Ps 145:6,7,8

Votum

Seën

Ps 96:5,7

Wet

Ps 71:9

Gebed

Skriflesing: Esegiël 3:16-27

Ps 89:6

Teks: Esegiël 4

Preek

Ps 78:20,21,22

Gebed

Kollekte

Ps 78:12

Seën

 

 

 


 

Preek:
Esegiël 4

Wat baie tipies is vir ‘n
kerkdiens, is dat ‘n mens lank moet stilsit en na ‘n preek luister.

‘n Kerkdiens is nie soos ‘n
skoolkonsert, waar daar die heeltyd iets anders op die verhoog gebeur nie.

Mens moet die heeltyd vir die
dominee kyk, en hoor wat hy sê.

Dit is natuurlik nie ‘n
verrassing dat veral in ons visuele tyd, mense nie altyd hiervan hou nie.

Mense is tuis gewoond aan groot
plasmaskerms, waar volkleur beelde mekaar elke sekonde afwissel.

Vergeleke daarby is dit wat in
die kerk gebeur, nogal eentonig.

In sommige kerke word daar geprobeer
om rekening te hou met die mense se behoeftes.

Mense van ons tyd is nie meer
gewoond om lang stil te sit en luister nie.

Daarom word daar in die kerk ook
video’s vertoon, of word daar dalk deur ‘n paar gemeentelede ‘n dramastuk
opgevoer, of soms word ‘n professionele dramagroep selfs uitgenooi.

Met die doel om die erediens te
verlewendig, en om te sorg dat mense ten minste nog kerk toe kom.

 

Tema: As
laaste remedie beveel God Esegiël om ‘n drama op te voer voor die oë van sy
volk

 

In hoofstuk 1 van Esegiël kan
mens lees hoe die HERE sy heerlikheid aan sy profeet geopenbaar het.

Dit was ‘n baie indrukwekkende en
ook beangstigende ervaring.

Die werk wat Esegiël as profeet
te wagte gestaan het, sou ongekend swaar wees.

Soos ons in hoofstuk 3:14 kan
lees: die hand van die HERE was sterk, oftewel SWAAR, op Esegiël.

Toe Esegiël dan ook by sy
werksplek aangekom het, was hy verbysterd.

Die eerste sewe dae het hy daar
verlam gesit, verstom tussen die mense.

 

Dit is waarskynlik die rede
hoekom die HERE Esegiël nou weer opsoek.

‘n Tweede keer verskyn Hy aan
hom.

Esegiël ervaar weer hoe die Geees
in hom kom, en hom op sy voete laat staan.

Weer maak God aan hom duidelik
watter swaar taak daar op sy skouers rus.

Esegiël, luister goed, ek stel
jou as wagter aan.

‘n Wag, of ‘n wagter, dit was
iemand wat op die muur van die stad waggehou het.

En wat, as hy gevaar op ‘n
afstand sien aankom het, almal moes waarsku.

In sy eentjie was die wag nie in staat
om die gevaar te keer nie, maar dit is sy taak om almal se aandag daarop te
vestig.

Dieselfde taak kry Esegiël.

Hy moet waarsku.

Dit is miskien nie ‘n aangename
taak nie.

Niemand hoor graag dat daar
onraad is nie.

Maar tog is dit ‘n baie
noodsaaklike taak.

Waarsku voordat dit te laat is.

Esegiël, as jy die kerklede wat
in sonde lewe, gewaarsku het, dan het jy jou lewe gered.

As jy dit nalaat, sal ek hulle
bloed van jou eis.

 

Die HERE noem vier moontlikhede.

Ten eerste: as jy ‘n goddelose NIE waarsku dat hy vir seker
sal sterf as hy voortgaan op sy goddelose weg nie, dan sal ek sy bloed van jou
eis.

Ten tweede: as jy ‘n goddelose WEL gewaarsku het, maar hy
slaan jou woorde in die wind, dan sal hy in sy ongeregtigheid sterf, maar jy
het jou eie lewe gered.

Ten derde: As ‘n regverdige, sê maar ‘n kerkganger, in
sonde lewe, en hy sterf sonder dat jy hom gewaarsku het, dan sal ek sy bloed
van jou eis.

En as vierde moontlikheid: as jy
daardie regverdige gewaarsku het, en
hy luister na jou, en hy keer terug van sy sondige weg, dan is nie net sy, maar
ook jou lewe gered.

 

Soos gesê, die HERE het ‘n tweede
keer aan Esegiël verskyn.

Skynbaar het dit nogal moeite
gekos om hierdie profeet in beweging te kry, noudat daar so ‘n swaar las op sy
skouers gedruk het.

En Esegiël ervaar weer presies
dieselfde as die eerste keer.

Voor hom sien hy weer die
heerlikheid van die HERE, net soos hy in hoofstuk 1 aan die Kebarrivier gesien
het.

En weer het hy op die grond geval,
so indrukwekkend en ontsagwekkend.

En weer het die Gees om in staat
gestel om hom weer op sy voete te laat staan.

Mensekind, luister nou mooi, die
volgende is ek van plan met my gewese stad Jerusalem.

En dit is wat jy aan die mense
duidelik moet maak.

Die mense – ons dink hier aan die
ballinge uit die eerste ballingskap.

Onder hulle was byvoorbeeld
Daniël en sy drie vriende.

Want daar was twee ballingskappe
vanuit Juda, met ongeveer 10 jaar daartussen.

Hierdie mense van die eerste
ballingskap, wat daar in Babel in die vreemde gesit het, hulle het natuurlik
baie uitgesien na enige nuus wat vanuit Jerusalem gekom het.

Hulle stad, nou so ver weg.

Hoe sou dit daar gaan?

Sou die volk nog standhou?

Wanneer kan hulle weer teruggaan
na hulle geliefde stad en tempel?

 

Esegiël het inderdaad nuus vir
hulle gehad. Direk van God af.

Maar, dit het Esegiël goed besef,
dit is nuus waarvan hulle nie gaan hou nie.

Nie HULLE sal binnekort terugkeer
Jerusalem toe nie.

Nee, hulle moet daardie gedagte
maar uit hulle kop sit.

Inteendeel, die mense wat in
Jerusalem agtergebly het, kom ook hierdie kant toe.

Hulle kom ook in ballingskap.

En van Jerusalem sal nie veel
oorbly nie.

Gemeente, u kan u voorstel dat
hierdie nuus nie goeie nuus was nie.

Ons as mense hoor meestal net
graag wat ons wil hoor.

En as dit iets is wat ons nie wil
hoor nie, dan verdring ons dus.

Of soms selfs hoor ons die
omgekeerde as wat daar gesê is.

Ons as mense leef dan in ‘n
sogenaamde ontkenningsfase.

En dit is hoekom die HERE nou ‘n
ander strategie kies:

Esegiël, luister, praat help nie
nou meer nie.

Jy moet dit nou vir die mense
laat sien!

En daarom kry Esegiël die opdrag
om ‘n hele DRAMA op te voer.

Ja, hoe verdrietig is dit nie as
die volk nie meer genoeg het aan die helder woorde van God nie.

Woorde deur die mond van sy
profeet.

Hulle het horende doof geword.

As die boodskap net nie meer tot
die hoorder wil deurdring nie., tensy daar ‘n hele drama opgevoer word.

 

So ver was dit dus met God se
kinders.

So ver was hulle verwyder van
eerbied vir hulle God en sy Woord.

En dus sê die HERE – wat nou ‘n
ekstra myl stap om sy volk vas te hou en te waarsku – dus beveel Hy nou vir
Esegiël:

Luister, Esegiël, ek wil dat jy
die boodskap nou soos volg aan hulle oordra:

Neem ‘n baksteen.

Mens kan ook sê: neem ‘n kleitablet.

Ons sou vandag sê: vat ‘n stuk
papier, of gaan sit agter jou rekenaar,

en teken daarop die stad
Jerusalem.

‘n Kaart van Jerusalem.

By opgrawings in die Midde-Ooste
is daar honderde bakstene, of kleitablette uit die oudheid gevind,

plat gebakte klippe van klei, wat
gebruik is as die papier in die oudheid, byvoorbeeld om ‘n kaart op te teken.

Op so ‘n kleitablet is die
stadmure noukeurig ingeteken, die poorte, die paaie, die tempel, de
bevloeiingskanale, ensovoorts.

Toe Esegiël klaar was met die
tekening, het die mede-ballinge dit onmiddelik herken as hulle moederstad.

Die vorm van die stad, die
poorte, die diep Kedrondal, die hoë burg Sion met die tempel van Salomo, en die
paleis van Salomo, noem maar op.

Voordeel van so ‘n kleitablet was
dat mens dit driedimensioneel kon doen.

Maar, dit het nie net by ‘n kaart
gebly nie.

Esegiël het nog meer dinge in die
klei gegraveer.

‘n Skans, oftewel forte, met die
bedoeling om die stad volledig van die buitewêreld af te sluit.

En ‘n wal, dit was ‘n soort
geplaveide pad, waaroor swaar leërvoertuie heen en weer kon ry.

Ook laers, mens kan ook vertaal:
leërkampe.

Dit spreek vanself – die plek
waar die vyandelike soldate gebivakkeer het.

En stormramme, sê maar die tenks
van vroeër.

Swaar hout voertuie, beskerm met
yster plate, wat gebruik is om ‘n gat in die stad se muur te stamp.

Hierdie voorwerpe moes Esegiël
dus ook op die kaart inteken.

En die bedoeling, die betekenis
was self verduidelikend: hier is oorlog op koms!

En vir die geval dat die mense
dalk nog in onsekerheid sou verkeer oor die afloop van die beleëring, moes
Esegiël ‘n ysterpan neem, mens kan ook vertaal – ‘n ysterplaat – en dit regop
in die grond plant tussen hom en die kleitablet waarop hy Jerusalem uitgebeeld
het.

Met as betekenis: hierdie
ysterplaat tussen my en die stad beteken: God hou Homself afsydig.

Jerusalem hoef nie nou op sy hulp
te reken nie.

Net soos Esegiël daar sit en kyk
na die kleitablet, sonder om iets te doen; so sit die HERE God en toekyk na dit
wat Jerusalem gaan tref, sonder om enigsins in te gryp.

 

Die profeet moes eers 390 dae op
sy linkersy lê.

Moenie te gou hieroorheen lees
nie, 390 dae is meer as ‘n jaar! Heeltyd net op een sy!!

Hy moes daar lê asof met toue
vasgebind.

Soos in vers 8 staan: “Ek sit vir
jou toue aan, sodat jy jou nie kan omdraai van die een kant na die ander nie”

Hierdie is ‘n spreekwoord en wil
sê dat hy nie so nou en dan net ‘n daggie kon afvat nie.

Dit was menens.

Nie dat hy soms moes opstaan om
byvoorbeeld kos gaar te maak, of toilet toe te gaan nie.

As ons oor ‘n siek mens sê: hy is
aan huis gebonde, bedoel ons ook nie dat hy letterlik aan die huis vasgebind is
nie.

Maar so moes Esegiël al met al
430 dae bly lê, asof met toue vasgebind.

 

Ons lees dat die aantal dae die
aantal jare simboliseer, so lank as wat God se volk skuld gemaak het.

In totaal 430 jaar.

Eeuelange ongehoorsaamheid.

Neiging om die afgode pleks van
die lewende God te vereer, iets wat al tydens die regering van Salomo begin
het.

Al daardie skuld het opgehoop.

Nou is dit genoeg.

God sit en toekyk hoe Jerusalem
geteiken word.

Die vyand beleër die stad.

Die vyand honger die stad uit.

Die mense binne die mure roep om
hulp.

Want so is dit nou eenmaal: nood
leer bid.

Maar God bly toekyk, 430 dae
lank.

Vir elke jaar een dag.

 

Die feit dat Esegiël so moes bly
lê, steeds sy oë gerig op die kleitablet van die stad, het ‘n betekenis.

Die feit dat dit al hoe slegter
gaan met Jerusalem, dis nie omdat God die stad vergeet het nie.

Dis nie omdat God dalk magteloos
sou wees nie.

Dis nie omdat Hy per ongeluk die
ander kant opgekyk het en onkant gevang is nie.

Nee, Esegiël moes daar lê met sy
oë gefokus op die stad.

Die betekenis is: God is besig om die stad te straf.

Hy begryp bewus nie in nie.

430 dae lank.

 

Nog ‘n detail is dat Esegiël daar
moet lê met ‘n ontblote arm – vers 7.

Iemand wat sy moue oprol, maak
reg vir ‘n vuisgeveg.

Tydens die beleëring maak God
Homself gereed om die stad by te kom, ja stukkend te slaan.

 

En so voer Esegiël, terwyl hy
daar lê, ‘n stuk drama op.

Ja ‘n egte DRAMA, dit is wat
besig is om homself met Jerusalem te voltrek.

Ons lees dat, terwyl Esegiël op
sy linkerkant gelê het, hy drie aspekte van die komende nood moes demonstreer.

In die eerste plek mog hy slegs
die minimum eet.

Slegs brood.

Maar dan nie lekker vars gebakte
brood nie.

Nee, brood wat gebak was uit ‘n
mengsel van verskillende soorte graan en peulvrugte.

Brood wat gebak is uit al die
ressies wat die mense nog in Jerusalem se strate kon optel.

Want die stad was hermeties
afgesluit van sy omringende graanvelde.

Nuwe graan het die stad nie meer
ingekom nie.

Verder mog die profeet per dag
nie meer drink as ‘n sesde hin water nie.

Dit was ongeveer ‘n halwe liter
per dag.

Onthou net, Esegiël was op
daardie oomblik in die gebied wat vandag bekend staan as Irak.

Waar dit oordag maklik veertig
grade kan word.

Normaal sou eerder ‘n paar liter
per dag wees.

Maar, die ergste kom nog.

Esegiël het natuurlik ook iets
nodig gehad om sy kos op gaar te maak.

Maar moenie dink dat daar in die
beleërde Jerusalem genoeg hout was om ‘n vuurtjie te maak nie.

Dus, waar die toevoer van alle
produkte in die stad in, of dit nou koring is of hout, gestaak was, word dit
wat daar nog wel in die stad is, skielik baie kosbaar.

Dit het selfs gegeld vir menslike
ontlasting, drek soos ons hier lees.

Honde-jy weet wel- uitwerpsels, was
daar nie meer nie, want alle honde was al gebraai en opgeëet.

Maar van die mense se – jy weet
wel – was daar uiteraard nog wel.

Esegiël moes op – soos vers 12 sê
– die mis van mensedrek sy kos bak.

‘n Sidderende teken vir wat
Jerusalem te wagte gestaan het.

 

En dan, eweskielik, eintlik
begryplik, sien ons dat Esegiël begin om te protesteer.

Ag nee, Here HERE!

Die dramastuk word nou te erg.

Moet hy dit alles regtig doen??

En dan gaan dit nog nie eers oor
die feit dat dit verskriklik onsmaaklik is om te doen nie.

Maar by ‘n Jood is dit nou
eenmaal so dat jy nie iets onreins mag doen nie.

Varkvleis eet, laat staan
mensevleis.

Ook jou kos gaarmaak op die
gedroogte uitwerpsels van mens, ook dan het jy die kosjerwette oortree.

Daarom protesteer Esegiël.

HERE, nou gaan U te ver!

Ek weier.

Ons lees vervolgens dat die HERE
sy profeet tegemoet kom.

Maar tog.

Ook dit laat sien wat die
ongehoorsame Jerusalem te wagte staan.

Naamlik dat hulle binnekort
toestande sal beleef, daar in hulle eie stad, waardeur dit eenvoudigweg
prakties onmoontlik sal word om jou nog aan die kosjerwette te hou.

Wees maar voorbereid daarop.

 

Wat ‘n drama!

Een groot afskrikwekkende
demonstrasie van Jerusalem se voorland.

Waar woorde geen ingang meer vind
nie, blyk DIT nodig te wees.

Die laaste veertig dae op die
ander sy was waarskynlik die swaarste.

In hierdie laaste fase sou God
selfs die ‘staf van brood’ in Jerusalem verbreek.

Staf van brood, dit is ‘n
spreekwoord, wat daarop dui dat brood die stapelvoedsel is.

Jou lewe steun elke dag daarop,
net soos jy op ‘n staf steun.

Dus, geen brood vir Jerusalem
meer nie, in die laaste fase van die beleëring.

Selfs die water sal afgesny word.

Jerusalem het in daardie tyd ‘n
geheime ondergrondse tonnel gehad, vir watertoevoer.

Tydens ‘n beleëring was dit altyd
vir die vyand ‘n uitdaging om die stad se water af te sny.

Want dit sou veroorsaak dat ‘n
stad homself baie vinniger oorgee.

Hoofstuk 4 sluit af met die
opmerking:

Saam sal julle verstom staan en in
julle ongeregtigheid wegkwyn.

 

Wat ‘n dramastuk wat die profeet
moes opvoer.

Ek het die preek begin, gemeente,
met die opmerking dat daar deesdae in sommige kerke ook ‘n dramastuk opgevoer
word.

Die mense stel nie meer belang in
net ‘n dominee wat op die preekstoel staan en preek nie.

Hulle soek meer aksie.

Hulle soek meer afwisseling.

Is dit nie ‘n goeie idee, om ook
op ander maniere, behalwe vir die verkondiging, die boodskap in die mense se
lewens te laat land nie?

Dalk onthou die mense iets dan
baie beter, as wat hulle net na die dominee geluister het...

 

Gemeente, laat ons uit die teks
vanoggend die volgende leer,

en trouens ook uit meerdere
plekke in die Bybel, waar die HERE sy profete ‘n dramastuk laat opvoer het.

Of dit nou was om met ‘n yster
juk die hele tyd op hulle skouers rond te loop, of dat die profeet met ‘n
prostituut moes trou, alle hierdie dramastukke – hoe DRAMATIES ook – met name
vir die profeet en sy persoonlike lewe – al hierdie dramastukke laat God slegs
voor die oë van sy volk opvoer as dit vyf
minute voor twaalf
is.

As alle waarskuwende oproepe al
vir jare op dowe ore geval het.

As dit die harte van die mense
skynbaar nie meer bereik nie.

As mense horende doof geword het.

 

As ons as mense ouer word, dan
gebeur dit dikwels dat ons ook minder goed kan hoor.

Dan het ons gehoorapparate nodig.

En mense wat baie oud geword het,
begin ook dikwels vergeetagtig raak.

Wat jy vandag vir hulle vertel,
het hulle môre weer vergeet.

Soms weet hulle nie eers watse
dag dit is nie.

Soms sien mens in ouetehuise dat
daar ‘n groot vel papier op die muur is met die dag se naam op, of ‘n groot
kalender.

Hierdie is alles hulpmiddels –
soos gehoorapparate, bejaardetehuise – waarvan mens nie vrywillig gebruik van
maak nie.

‘n Noodsaaklike kwaad, sou mens
dit kon noem.

 

Dit is ook wat ons van ons teks
kan sê.

Hierdie dramastuk van Esegiël.

‘n Noodsaaklike kwaad, gesien die
feit dat die normale kommunikasie nie meer wou werk nie.

Dit is God se volgehoue
bemoeienis met sy volk.

Sy gekwetste liefde, wat Hom so
ver bring.

 

Net vir die duidelik, ek praat
nie nou oor drama as sulks nie.

Daar is niks verkeerd met drama
as sulks nie.

Studente wat drama studeer, en
mense wat daarvan hulle beroep maak, dit is geen sonde nie.

Maar dit is nie die medium wat
die lewende God gekies het om elke week met sy kinders te kommunikeer nie.

Iets waarmee daar op sig niks
meer verkeerd is nie, wat selfs mooi is, hoef daarom nog nie ook ‘n plek in die
erediens te kry nie.

Daar is ook niks verkeerd met ‘n
goeie film nie.

Maar dit beteken nog nie dat ons
nou in die erediens films gaan kyk nie.

Dit het die HERE behaag om in die
prediking tot sy kinders te kom.

Soos Paulus sê – dalk vir die
heidene ‘n dwaasheid – maar dit maak nie saak nie.

In die kerk laat ons ons nie lei
deur wat die wêreld dink nie.

Die Verbondsgod wil met sy
kinders praat in gewone verstaanbare taal, deur die prediking van die
Evangelie.

Dit is vir God kwaliteittyd,
kwaliteitkommunikasie met sy kinders.

 

Gemeente, ‘n kerkgemeenskap, wat
gesond is,

het nie behoefte aan hierdie
soort drama nie.

Ons het Jesus Christus, die
lewende Woord wat tot ons kom, in die eenvoudige prediking van die Evangelie.

Staan daar nie in die Bybel:

dit het “God behaag om deur die
dwaasheid van die prediking die wat glo te red”? (1 Kor 1:21)

Inderdaad, die ongelowige wêreld
vind dit die reinste dwaasheid.

Dat jy op Sondag twee keer in die
kerk gaan sit en luister vir ‘n dominee wat vir jou vertel hoe sondig jy is, en
hoe jy gered moet word...

Die wêreld doen liewerste op
Sondag ander dinge.

Maar laat ons dit dus leer uit
die teks:

‘n Kerk wat nie meer genoeg het
aan die eenvoudige prediking, die uitleg van die Skrif, en die toepassing
daarvan op vandag,

‘n kerk wat hieraan nie meer
genoeg het nie –

dan praat ons oor ‘n
siekteverskynsel.

Dit is ‘n simptoom van iets wat
nie meer gesond is nie.

 

Ja, God het self sy profeet
opgedra om die drama uit te voer.

Dit was ‘n geval van nood, vyf
voor twaalf.

In ‘n tyd van groot afval.

As mense nie meer onder die
indruk raak van die woorde uit die mond van sy profete nie.

As sinne soos:

Die Here Jesus het vir jou sondes
gesterf!

Hy gee jou ‘n nuwe lewe!

Daar is redding na die dood,
selfs opstanding van die liggaam!

As sinne soos hierdie ons nie
meer beïndruk nie, ons nie meer intens dankbaar maak nie, ons nie meer aanspoor
tot ‘n lewe wat bruis van dankbaarheid vir God se verlossingsdade nie,

dan behoort ons ook te besin.

 

Verkeer ons as kerk ook in so ‘n
tyd?

Dat die boodskap van die Bybel
nie meer vir ons interessant is nie?

Dat Christus se offer ons nie
meer raak nie?

Ons nie meer in beweging bring
nie?

Dat die grootste geskenk wat ons
kan ontvang – bevryding van sonde, dood en hel – dat dit nie meer vir ons
interessant is nie?

Dan is dit vyf voor twaalf ook
vir ons kerk.

 

Laat ons hoop dat God nie ‘n man
soos Esegiël na ons toe stuur nie.

In die laaste hoofstuk van die
Bybel staan:

“Salig is hy wat die woorde van
die profesie van hierdie boek bewaar.” (Openb 22:7)

Bewaar, dit beteken: ‘n plek gee
in jou lewe.

Salig is jy, as jy vashou aan, en
bly by niks meer en ook niks minder nie as hierdie eenvoudige maar tog so ryke
woorde van die Evangelie.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)