Waar die genade afgestof word, begryp en aanvaar mense mekaar

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-05-17
Teks: 
Handelinge 15 : 10-11
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
17 Mei 2015 AD, 10:15

Voorsang: Sb 15:1-5

Votum

Seën

Ps 46:1,3

Wet

Ps 40:6

Gebed

Skriflesing: Handelinge 15:1-34

Ps 112:4,6,7

Teks: Handelinge 15:10-11

Preek

Ps 102:8,9

Gebed

Kollekte

Ps 40:8

Seën

 

 


 

Preek:
Handelinge 15:10-11

Sê nou maar jy sou besluit om na
die buiteland te verhuis.

Na Australië, of Nieu-Seeland, of
Engeland, of Nederland, of Canada, of Amerika.

Hoe lank, dink jy, sal dit vat
voordat jy daar ‘n bietjie tuis voel?

Jy sal die taal moet leer, die
kultuur, die verwagtingspatrone.

Jy sal moet begin heg aan die
dinge wat vir die bevolking daar belangrik is.

Ander eetgewoontes, ander
vakansiedae, ander denkpatrone.

En dit waaraan jy gewoond was in
Suid-Afrika, daarvan sal jy moet ontheg.

Dit sal vir jou minder belangrik
moet word, jy sal hoe langer hoe minder daarna moet terugverlang.

Hoe lank, dink u, sal dit neem
voordat mens in die nuwe land bietjie tuis voel?

 

Nou ‘n ander vraag.

Hoe lank, dink u, sal dit duur
voordat iemand wat onkerklik was, of van ‘n heel ander kerk, bietjie tuis sal
voel in ons kerk?

As mens hierdie vraag vra aan
kerklede wat dit self deurgemaak het, kry mens uiteenlopende antwoorde.

Maar tog praat mens al gou oor ‘n
paar jaar.

‘n Paar jaar voordat hulle begryp
hoe dinge in die kerk werk, en voordat die ander kerkmense begryp hoe hulle
koppe werk.

 

Nog ‘n ander vraag: hoe lank duur
dit gemiddeld vir iemand om ‘n Christen te word?

Dit is oor hierdie vraag waaroor
ons teks handel.

Ons teks kom uit ‘n heel ander
tyd en omstandighede, tog is die vraag nog net so relevant.

 

Tema: Waar
die genade afgestof word, begryp  en
aanvaar mense mekaar

1                  
Onrus en wantroue

2                  
Petrus herinner aan die visioen

3                  
Petrus herstel die fokus op die
genade

 

1       Onrus en wantroue

In die jaar 47nC, ongeveer
vyftien jaar na die hemelvaart van Christus, was die situasie so dat daar in
elk geval twee redelik gevestigde gemeentes bestaan het.

Waarskynlik was daar meer, maar
hierdie twee was die eerstes.

Jerusalem en Antiochië.

Die een was so 400km van die
ander een verwyderd.

Ook in ‘n ander opsig het hulle
nie dieselfde ligging gehad nie.

Die gemeente in Jerusalem het
veral bestaan uit Jodechristene.

Terwyl die kerk in Antiochië vir
die meerderheid waarskynlik bestaan het uit eks-heidene.

Waar die blikrigting, die fokus,
in Jerusalem veral gerig was op die eie Joodse volk, om soveel as moontlik van
hulle vir Christus te wen,

het die fokus in Antiochië steeds
meer na die heidenwêreld verskuif.

Dit het veral gekom deur die reis
wat Paulus en Barnabas gemaak het.

Hulle reis deur Ciprus en
Klein-Asië.

En al die verhale oor hulle
ervarings in daardie streke.

Hoeveel heidene hulle bekeer het
tot Christus en by die kerk aangesluit het.

Hierdie verskil in blikrigting
het egter ook tot ‘n verskil in ligging gelei.

En waar daar verskil in ligging
ervaar word, kan daar gou irritasies ontstaan oor en weer.

Dit het dus redelik vinning
gebeur tussen die eerste twee Christelike gemeentes.

Die rede was, dat die
gemeentelede gevoel het dat die aktiwiteite en die uitreikaksies van die een
gemeente, die ander gemeente se ideaal eerder skade berokken as gehelp het.

Kom ek probeer dit te verduidelik
vanuit die oogpunt van Jerusalem.

Die kerk in Jerusalem wou graag
soveel as moontlik Jode na Christus toe lei.

Onderdeel van hulle evangelisasie
was dan ook dat hulle veral baie klem gelê het op die groot ooreenkoms tussen
Christus en die Ou Testament.

Die sien mens ook terug in die
preke wat in die boek Handelinge opgeteken is.

Hierdie preke is vol aanhalings
uit die Ou Testament.

Om aan te toon dat Christus nie
‘n nuwe godsdiens begin het nie.

Hy het juis die Ou Testament tot
vervulling gebring.

Hy is die lang beloofde Messias.

Hy wil dat geen jota of tittel
uit die wet van Moses verlore gaan nie.

 

Maar wanneer daar dan op ‘n dag
berigte vanuit die susterkerk in Antiochië vir Jerusalem bereik, en veral
wanneer Paulus en Barnabas op besoek kom in Jerusalem met hulle eerstehandse
verhale,

naamlik dat die kerk daar in
Antiochië inderdaad nogal anders lyk,

dat daar ‘n groot groep heidene
by die kerk aangesluit het,

en dat hulle daar in volle regte
lid is, sonder dat hulle eers besny is, en sonder dat hulle hulle aan die
spyswette hou, ensovoorts ensovoorts,

wanneer hierdie berigte begin
bekend word in Jerusalem, skiet dit by baie gelowiges in Jerusalem in die verkeerde
keelgat.

Want hulle wil juis dat daar nog
so veel moontlik Jode by die kerk aansluit.

Dit is hulle ideaal.

En dit is mos ‘n goeie ideaal!

Maar geen Jood sou dit meer
oorweeg om aan te sluit, as hulle hierdie verhale van Paulus ter ore kry nie.

‘n Gemiddelde Jood sou in daardie
tyd nie daaroor peins om met ‘n heiden saam in die kerk te sit nie, laat staan
om saam met ‘n heiden aan tafel te sit, veral as daardie heiden onrein voedsel
opdis.

Dit was vir ‘n Jood ondenkbaar om
in die huis van ‘n onbesnede in te gaan.

Hoe oortuig mens dan nou ineens
vir ‘n Jood om in die kerk langs ‘n onbesnedene plaas te neem?

Geen wonder dat daar onrus
ontstaan het nie.

Ons lees in vers 5: sommige
gelowiges uit die party van die Fariseërs het opgestaan en gesê, dat dit
noodsaaklik was dat hulle daar in Antiochië besny moes word,

en dat hulle beveel moes word om
die wet van Moses op alle gebiede na te kom, ook wat betref die voedselwette.

 

Hulle kan mos nie nou skielik die
boeke van Moses – Genesis tot Deuteronomium – wat vol staan van voedsel- en
onreinheidswette, hulle kan mos nie daar in Antiochië hierdie boeke ineens
oorboord gooi nie?

As hulle gister die besnydenis
afgeskaf het, en vandag die voedselwette, wat gaan hulle môre afskaf?

Miskien wel die tien gebooie?

Dit kan nie langer so aangaan
nie!

 

Daar was dus groot onrus in die
kerk van Jerusalem.

En dit het daartoe gelei dat die
apostels en ouderlinge – sien vers 6 – spesiaal hieroor moes vergader.

Dit was ‘n moeilike saak, en daar
was nie direk eenstemmigheid nie.

Daar was verskil van mening.

 

(Tema: Waar die genade afgestof
word, begryp  en aanvaar mense mekaar

1 Onrus en wantroue)

 

2       Petrus herinner aan die visioen

Onder hulle was ook Petrus.

Petrus wat kort daarvoor daardie
besondere visioen ontvang het.

As gevolg waarvan hy dit gewaag
het om die heiden Cornelius te besoek.

Toe, mens kan dit in Handelinge
11 lees, het daar baie onrus ontstaan as gevolg van hierdie besoek.

Maar toe is die saak gelukkig
bygelê, omdat hy aan die Jerusalemse gemeente duidelik kon maak dat God daar
besig was,

dat God ook aan die heidene die
bekering tot die lewe geskenk het – Handelinge 11:18.

Maar daarna het die onderwerp in
Jerusalem waarskynlik weer bietjie op die agtergrond geraak.

Die bekering van die heidene –
die gemeentelede het nie elke dag daarmee te make gekry nie.

 

Maar in Antiochië was dit dus
anders.

En toe die berigte vanuit
Antiochië vir Jerusalem begin bereik, het dit as ‘n skok gekom.

Toe uit Paulus en Barnabas se
berig blyk hoe ver dinge in Antiochië al gevorder het, om naamlik na die
heidene uit te reik.

Die gevolg was dat ‘n aantal
eks-Fariseërs, Christene wat afkomstig was uit een van die mees konserwatiewe
godsdienstige partye onder die Jode, ‘n aantal van hierdie eks-Fariseërs het
toe ‘n ernstige beswaarskrif ingedien.

Die kerkverband, die verhouding
met die gemeente in Antiochië, het wat hulle betref hier op die spel gestaan.

 

Maar soos ek genoem het – Petrus
het in Handelinge 11 wel daardie visioen ontvang.

In reaksie daarop het hy vir
Cornelius toe tuis besoek.

En hoewel die implikasie van
daardie visioen en Petrus se besoek, hoewel die implikasie daarvan die jare
daarna miskien net teorie gebly het, het die implikasie nou naby gekom, en dit
het veroorsaak dat Petrus hom genoodsaak gevoel het om op te staan.

Broeders, het hy begin om die
apostels en ouderlinge en aanwesiges aan te spreek:

Julle weet dat God lank gelede
dit so verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie
gehoor het en gelowig geword het.

Met hierdie opmerking herinner hy
sy luisteraars aan die geskiedenis rondom Cornelius.

En Hy herinner hulle: God het dit gedoen.

Ons kon toe niks daarteen in
bring nie.

Omdat ons gesien het dat God self
toe daar besig was.

Ons het gesien hoe Hy toe, sonder
om enige onderskeid te maak tussen ons en hulle (die heidene) – hoe God toe
hulle hart gereinig het deur die geloof.

 

Hierdie opmerking is van groot
belang.

God het hulle hart gereinig deur
die geloof.

Hulle hart gereinig – hulle
gered, hulle skuld vergeef, hulle onreinheid weggeneem – dit is wat met
Cornelius en sy heidense huisgenote gebeur het.

En hulle is, let wel, nie
gereinig deur die besnydenis te ontvang nie, of omdat hulle hulleself
voorgeneem het om voortaan die Joodse voedselwette na te leef nie, of hulle aan
die reinheidswette begin hou het nie.

Nee, hulle hart is gereinig deur die geloof in die Here Jesus Christus.

Of om dit in Outestamentiese
terme te stel: hulle is besny nie aan hulle voorhuid nie, maar in hulle hart.

En dit is wat in die kerk die
deurslag gee.

Nie die besnydenis nie, nie
kosher voedsel of soiets nie.

Maar, wat jou verhouding met
Jesus Christus is.

Wie in Hom glo, en sy lewe aan
Hom wy, hoort by die kerk.

Ook al is dit ‘n eks-heiden.

Hierdie les het God aan Petrus
geleer.

En al hoef Petrus hierdie les vir
‘n paar jaar, na die Cornelius episode, nie weer in praktyk te gebring het nie,
omdat die Jerusalemse gemeente vernaaamlik uit Jode bestaan het, raak hierdie
les nou weer aktueel.

En gelukkig het God dit so gelei
dat Petrus hier opgestaan het, om die beslissende woord te spreek.

 

(Tema: Waar die genade afgestof
word, begryp  en aanvaar mense mekaar

1       
Onrus en wantroue

2       
Petrus herinner aan die visioen)

 

3 Petrus
herstel die fokus op die genade

Nou dan... sê Petrus.

So begin ons teks.

Dit is die konklusie wat Petrus trek.

Nou dan, waarom versoek julle God
deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in
staat was om te dra nie?

Ons en ons vaders, verduidelik
Petrus, het ons steeds nougest aan die wet probeer hou.

Maar laat ons eerlik wees:

Wie van ons was in hierdie opsig
onberispelik?

Was nie ons beste wetswerke ook
met sonde en gebrekkigheid besmet nie?

Maar, vervolg Petrus, deur die
genade van die Here Jesus Christus glo ons dat ons gered word op dieselfde
manier as hulle ook.

 

Hierdie konklusie van Petrus is
opmerklik.

Kom ons bekyk dit van digterby.

Mens sou eintlik verwag dat
Petrus iets anders sou gesê het.

Soiets soos: broers, kom ons
probeer nou wys wees, en nie die jong onervare heidenchristene in Antiochië
aanstoot gee nie.

Laat ons maar nie te moeilik doen
nie.

Die kerklike lewe wat ons lei,
daaraan sal hulle nie sommer een twee drie gewoond raak nie.

Vir hulle is dit nog ‘n lang pad
om vertroud te raak met al die wette en reëls, en om ook daarvolgens te begin
lewe.

Gee asseblief vir hierdie mense
die tyd, dan sal hulle ook aan ons gewoontes en tradisies gewoond raak, en
hooplik ook daaraan begin deelneem.

Mens sou verwag dat Petrus soiets
sou gesê het.

Maar nee dus.

Petrus sê dit juis nie.

 

Inteendeel, hy gaan direk na die
kern van die saak.

Hy draai die saak, die diskussie,
heeltemal om.

As dit gaan oor die redding van
‘n mens, dan is al hierdie tradisies, dinge soos besnydenis, voedselwette,
reinheidswette, as dit oor ‘n mens se ewige behoud gaan, dan is al hierdie dinge
NIE TER SAKE NIE.

Dan is slegs een vraag ter sake:

Hoe staan jy teenoor Jesus
Christus?

En baie ontnugterend sê Petrus
dan:

Slegs deur die genade van die
Here Jesus glo ons dat ons gered woord, op
dieselfde wyse as hulle!

Deur dit so te stel, vra Petrus
aan die Jodechristene in Jerusalem, daardie eks-Fariseërs, ‘n indringende
vraag:

Hoe word julle eintlik gered?

Het julle gedink dat julle
besnydenis, of julle lewenswyse volgens die voedselwette van Moses enige
aandeel het in julle redding?

Broeders, alleen genade!

Sola gratia!

Slegs genade.

Die sola gratia het skynbaar in Jerusalem onder die stof beland.

En nou danksy die koms van Paulus
en Barnabas, en hulle verhale van bekerings in die heidenwêreld, en danksy
hierdie indringende woorde van Petrus, word die stof nou afgeblaas.

Sodat hierdie kosbare skat weer
kan skitter.

Deur die genade van die Here Jesus Christus glo ons dat ons gered word.

En miskien gaan die heidenchristene
ons wel voor in die besef wat genade is.

Hulle wat eintlik niks anders het
om hulle op te beroem nie.

 

Daardie geleidelike proses, dat
daar ‘n al hoe dikker stoflaag op die genade gekom het in Jerusalem, mens kan
dit gerus deformasie noem,

daardie proses is iets wat sommer
met enige kerk kan gebeur.

Veral met ‘n gevestigde kerk.

Dan kan ons ook aan ons kerk
dink, waarvan ons lid is.

Is daar in ons kerk ‘n dik laag
stof op die genade?

Wat is bepalend vir jou
identiteit?

Ons het deur die jare ‘n kerklike
lewe opgebou wat indrukwekkend is.

In ywer en toegewydheid, in
aktiwiteite, nie net op Sondag nie maar ook deur die week, ons val maklik onder
die top 10 van mees aktiewe gemeentes hier in Pretoria.

Moontlik wel top 5.

Alles werk soos ‘n geoliede
masjien.

Hoe om te leef, wat om te doen en
wanneer om dit te doen, dit is alles vasgelê.

Of op papier, of in die
ongeskrewe verwagtingspatrone.

Vir mense wat van buite af by ons
aansluit, duur dit ‘n hele periode om agter te kom wat van hulle verwag word,
en veral ook hoekom.

En hulle vra hulle af: wanneer
voldoen ek aan die verwagtinge?

Is ek wel ‘n goeie christen?

Wanneer is ek goed genoeg om
regtig deel van hierdie gemeenskap te wees?

 

Maar, gemeente, dikwels help
mense wat van buite kom ons om weer te besin oor wat die wesentlike is

Hoekom ons dinge doen.

Wat is die kern van ons kerklike
lewe?

Van ons gesprekke?

Hoe praat ons met mekaar?

Hoekom is ons lewenspatroon soos
dit is.

Ons gaan kerk toe twee keer op ‘n
Sondag, ons kinders woon katkisasie by, ons gaan Bybelstudievereniging toe, ons
doen huisgodsdiens.

Maar hoekom dit alles?

Omdat die kerk dit van jou
verwag?

Omdat die ouderling op huisbesoek
vra of ek dit alles wel doen?

Begin jy dalk te dink, as ek so
lewe, as ek hierdie dinge doen, dan kom dit wel goed met my?

En as my kinders darem ook kerk
toe gaan, en vereniging, en katkisasie, dan sal dit ook wel goed kom met
hulle...?

Gemeente, as ons so begin
redeneer, dan lê die genade onder die stof.

En as dit die gesprekstrant is
onder ons.

Om te glo, dit hou in: jy moet
kerk toe gaan, jy moet vereniging toe gaan, ens.

Die genade het onder die stof
geraak.

 

As die naam van Jesus Christus
nie meer in ons gesprekke voorkom nie.

Jy en jou kinders sal nie gered
word omdat julle kerk toe kom, en en en...

Jy en jou kinders word gered as
julle glo in Jesus Christus.

As sy genade in jou lewe aanwesig
is.

 

Weet u, as Christus en sy redding
nie in die middelpunt staan nie, as ons van dag tot dag nie meer daaroor praat
nie, dan maak ons die drumpel vir buitestaanders baie hoog.

As jy te min oor Christus praat,
en veral net oor kerk toe gaan, twee keer, en vereniging, en Gereformeerde
skool, en en en.

Ongewild – ek besef ons bedoel
dit dalk nie so nie – maar ongewild straal jy dan as kerk uit: jy moet dit self
doen.

Ons is ‘n super-kerk, ons doen
baie meer as die ander kerke.

En vir ‘n buitestaander, wat nie
van alle ins en outs op die hoogte is nie, word die drumpel na die kerk dan ‘n
muur.

In Jerusalem was die
Jodechristene besig om ‘n muur te bou.

Die heidene moes eers daaroor
klim.

Besnydenis, voedselwette,
reinheidswette, en ek weet nie wat nog alles nie.

Dit is dus ‘n sluimerende gevaar
vir elke gevestigde kerk.

Nou bedoel ek nie om die situasie
toe heeltemal gelyk te stel met vandag se situasie nie.

Die kerk het toe geleef op die
skarnierpunt tussen Ou en Nuwe Testament.

Christus het self bepaalde dinge
afgeskaf met die begin van die nuwe verbond.

Vandag verkeer ons in ‘n ander
tydperk.

Gewoontes soos kerk toe gaan,
Bybelstudie, katkisasie, word nie vir nuwe kerklede afgeskaf nie.

Verstaan my goed.

 

Maar wat ons wel leer uit hierdie
teks, en wat ook vir ons baie belangrik is en dalk ook ‘n ontnugtering, is om
Petrus se woorde tot ons te laat deurdring:

Ons word op dieselfde manier gered as hulle.

Naamlik deur die genade van die
Here Jesus.

Nie omdat ons twee keer kerk toe
gaan nie.

Nie omdat ons nie egskei, of
saamwoon, of dobbel nie.

Nee, ons word ook uit genade
gered.

Baie baie belangrik om dit te bly
besef.

Want as ons dit regtig besef, dan
straal jy dit ook uit.

Dit het tot gevolg dat jy ‘n
buitestaande nie uit die hoogte benader nie, of dat jy hom selfs vermy nie.

 

Beteken dit dat alle kerklike
aktiwiteite onbelangrik is?

Kerkbesoek, twee keer per Sondag,

Sondag deurbring as ‘n rusdag,
vir myself en vir ander.

Gesamentlike Bybelstudie,

Katkisasie,

Gereformeerde onderwys...

Is hierdie dinge van sekondêre
belang, omdat die genade primêr is?

Is hierdie dinge opsioneel, as jy
jou hart maar opreg vir die Here gee?

Nee, dit bedoel ek nie.

Maar dit gaan wel oor ons
houding.

Skuif ons hierdie soort dinge op
die voorgrond om daarmee aan te dui dat ons gelowig is?

Of sê ons nog wel met soveel
woorde dat Christus se genade ons lewe red?

Laat ons nie vergeet nie om
voldoende oor ons Heiland en Saligmaker te praat.

Al hierdie aktiwiteite lê in die
verlengde van ons toewyding aan Christus.

Maar Christus staan op die
voorgrond.

As ons mond vol is, en ons hart
oorloop van Jesus se genade, dan sal daar nie ‘n hoë drumpel wees tussen ‘n
nuwe kerklid en ‘n ou ervare kerklid nie.

Ons is beide sondaars.

En die genade skitter eweveel in
elkeen van ons se lewens.

Ons is nie ‘n goeie kerk omdat
ons so baie aktiwiteite het nie.

Christus se genade is ons alles,
en al ons aktiwiteite is daarop gerig om Hom te dank, te aanbid en prys, en om
van Hom te getuig.

 

Kyk, die omgekeerde is net so
verkeerd.

As iemand sou beweer:

Ek glo in Christus, maar ek sê by
voorbaat: julle sal my nie elke Sondag in die kerk sien nie,

En ek stuur my kinders nie na
katkisasie of Gereformeerde onderwys nie.

Iemand met so ‘n houding moet
homself afvra: het ek my lewe regtig wel aan Christus gewy?

Wie Christus se genade leer ken
het, het ‘n dienende houding, en ‘n lojale houding teenoor sy gemeente.

 

Sê nou maar ‘n heidenchristen uit
Antiochië sou in Jerusalem op besoek kom.

Hoe behoort hy hom te gedra het?

Moontlik sou hy homself bietjie
terughoudend opstel, beseffende watter gevoelighede daar by die Jode was.

In die tweede plek juis ook
nuuskierig.

Hoekom het julle as Jode al
hierdie gebruike en tradisies?

Wat is eintlik die betekenis van
die besnydenis, die voedselwette, die reinheidswette?

Dalk kan ek iets daaruit leer.

Dit is dan ook die manier waarop
die Nuwe Testament omgaan met wat ons noem seremoniële wette van Moses, wat in
in Christus vervul is.

Soos ons byvoorbeeld in die
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 25 bely:

Ons glo dat die seremonies en heenwysings
van die wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing
tot ‘n einde gekom het.

Die gebruik daarvan moet derhalwe
onder die Christene afgeskaf word.

Maar die waarheid en inhoud
daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan.

In Hom het hierdie seremonies en
heenwysings juis hulle vervulling.

Deur die bedoeling agter hierdie
instellings te begryp, kan ons daaruit leer en ons lewe nog beter inrig tot God
se eer.

 

Begryp u die bedoeling, gemeente?

Daardie wette wat vir die
eks-Fariseërs so belangrik was, is aan die een kant deur Christus afgeskaf,
maar aan die ander kant het hulle nog vir ons waarde.

Die heidenchristene kon daarmee
hulle wins doen.

Vandag sien ons op die
sendingsveld dat nuwe gemeentes probeer om hulle kerklike lewe vorm te gee.

Dit word dalk nie ‘n bloudruk van
hoe dit by ons gebeur nie.

Dit is nie verkeerd nie.

Wat wel verkeerd sou wees, is as
hulle glad nie belangstelling sou hê in hoe die gevestigde kerke funksioneer,
en hoekom hulle so funksioneer nie.

Juis via die gevestigde kerke kan
hulle baie ervaring en wysheid oorneem.

En as dit goed is, sal hulle hul
wins daarmee doen.

En vir die gevestigde kerke is
dit belangrik om nie by voorbaat van nuwe christene te verwag dat hulle ‘n
kopie word van wat ons is nie.

Waar dit om gaan is dat sowel die
gevestigde as die nuwe gemeente, en sowel die ou ervare christen as die
nuweling, besef dat ons op dieselfde manier gered word.

Uit genade.

 

Ons ryk kerklike lewe, met al sy
aktiwiteite, is ‘n seën.

Dis ‘n seën as kinders in so ‘n
omgewing mag opgroei.

Laat ons daarvoor waak dat ons
hierdie seën nie as ‘n eie verworvenheid, ‘n eie prestasie, ‘n eksklusiewe
tradisie, begin beskou nie.

Bly fokus op die genade.

“Aan ‘n moord’naar, haas verlore,
word die hoogste guns bewys:

“Hede sal jy met My saam wees in
die vredesparadys.” (Sb 6:2)

So mag ons elke nuwe
belangstellende, elke jong en onervare kerkmens, benader.

Net soos Jesus met die moordenaar
aan kruis gedoen het.

Vanaf dag 1 is daar vir hom 100%
genade.

En ook vir die ou ervare kerklede
geld dieselfde, tot jou laaste dag, is jy aangewese op daardie selfde 100%
genade.

 

Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)