Die diagnose van die Skrif is hard, maar genadig

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-05-24
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 15
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
24 Mei 2015 AD, 17:30

Voorsang: Sb 17:1,3,4,6

Votum

Seën

Ps 130:1,2 (2e beryming)

Gebed

Skriflesing: Romeine 5:12-21,
6:1-13, 7:18-26

Ps 51:3,4

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis art. 15

Preek

Ps 14:3-7

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis

Sb 27:4,5

Kollekte

Ps 34:8,9

Seën

 

 

 

 

 

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 15

Teen die leer van die erfsonde is
daar baie weerstand.

Niemand sal ontken dat daar
slegte dinge in die wêreld is nie.

Niemand sal ontken dat daar ook mense
is wat slegte dinge doen nie.

Tog word so dikwels betoog dat
die mens inherent goed is.

Soos Pelagius al lank gelede
beweer het: die sonde ontstaan uit navolging.

Deurdat inherent goeie mense met
slegte voorbeelde gekonfronteer word, neem hulle ook slegte gedragspatrone oor.

Wie in ‘n ideale omgewing
opgroei, sal volmaak, dit wil sê, sonder slegte neigings, sonder sonde, bly.

Interessant dat die wetenskap,
die sielkunde, die psigologie, of antropologie, dit nog nooit uitgeprobeer het
nie.

Dat hulle nog nooi ‘n eksperiment
uitgevoer het om iemand op ‘n onbewoonde eiland te laat opgroei, sonder enige
slegte invloed van ander mense, om te sien of dit regtig so werk, of iemand dan
regtig volwasse kan word sonder om enige sonde te hê.

Maar ja, dit wat wetenskaplikes
in hulle ivoortorings leer en argumenteer, is dikwels ver van die werklikheid
af.

Nader aan die werklikheid is om
na enige jong ouer se ervaring te vra.

As jou baba gebore word, dink
ouers natuurlik hulle kind is volmaak.

Maar daar kom ‘n dag – ons het
dit self meegemaak – en daardie dag is al baie vinnig, dat jy tot jou skok
agterkom dat jou kind iets verkeerd sê of doen, terwyl dit oorduidelik is dat
die kind dit van niemand kon afgekyk het nie.

Daardie verkeerde, die Bybel noem
dit sondige gedrag, kom uit die kind self.

Dit is nie net immitasie nie.

Moenie die sielkundiges of
antropoloë glo nie, hulle praat agter mekaar aan, dit wat in die mode is tans
in die wetenskaplike wêreld.

Plat op die aarde ouers se
ervaring is baie nader aan die werklikheid.

 

Vandag luister ons na dit wat die
Skrif openbaar oor die geaardheid van die mens.

Die Skrif wat al deur die eeue
mense se opvattings gevorm het, ook oor die geaardheid van die mens.

In elke eeu blyk die Skrif tog
maar weer ‘n betroubare rigsnoer te wees.

Soos iemand gesê het: die Skrif
is die kleed wat die beste op die skepping pas.

Dis nie toevallig nie, want die
skepping en die Skrif het dieselfde Outeur.

En dit is die Skrif wat vir ons
openbaar, ja die eerlike diagnose maak:

 “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een
nie.” Romeine 3:10.

 

 

Tema: Die
diagnose van die Skrif is hard, maar genadig

-         
Term erfsonde

-         
Oorsaak van die erfsonde

-         
Uitgestrektheid van die erfsonde

-         
Gevolge van die erfsonde

-         
Impak op die gelowiges

 

Dit is dalk goed om hier iets oor
die term erfsonde te sê.

Net soos ander terme wat die NGB
gebruik, soos voorsienigheid, en Drieëenheid, kom hierdie term nie uit die
Bybel nie, maar funksioneer as ‘n begrip om ‘n Bybelse werklikheid, ‘n Bybelse
leerstuk, saam te vat.

Nou moet mens by hierdie term erfsonde wel noem dat dit eintlik
bietjie ‘n verwarrende term is.

Want dit laat mens dink dat dit
gaan oor sonde wat mens erf.

Maar daaroor is die Skrif
natuurlik heel duidelik.

‘n Mens kan nie sonde erf nie.

‘n Kind word nie vir sy ouers se
sondes gestraf nie.

Die Bybel gebruik hiervoor die
spreekwoord: Die ouers het groen druiwe geëet, en die kinders se tande het
stomp geword.

Dit werk dus nie so nie.

Elke indiwidu is aanspreeklik vir
sy eie sondes.

Ons lees in Jeremia 31:

“In dié dae sal hulle nie meer sê nie: Die
vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp
geword. Maar elkeen sal weens sy eie ongeregtigheid sterwe; elke mens wat
die groen druiwe eet, sy tande sal stomp word.“ (vers 29-30)

 

Mens sou in pleks van erfsonde, eerder van erfsmet kon praat.

Erfsmet is die geneigdheid wat
mens oorerf van jou ouers, om ook geneig te wees om te sondig.

Om geneig te wees om egoïsties te
wees.

Wanneer hierdie neiging
aanleiding gee tot ‘n verkeerde daad, dan praat mens van ‘n sonde.

 

Deesdae se genetiese wetenskap
kan wat dit betref ‘n bietjie help om dit te verstaan.

Jy kan ‘n genetiese afwyking van
jou ouers erf.

‘n Genetiese afwyking op sigself
is nog nie ‘n siekte nie.

Maar dit gee meestal aanleiding
tot ‘n siekte.

So is die erfsonde, of beter, die
erfsmet, die afwyking wat jy van jou ouers oorgeërf het, en hulle van hulle
ouers, tot by Adam.

Hierdie afwyking veroorsaak dat
jy die natuurlike geneigdheid het om sonde te doen.

Jy is geprekondisioneer om die
verkeerde te doen.

 

In die dogmatiek word die term
erfsonde ook wel opgedeel in twee aparte woorde:

Erfskuld en
erfsmet.

Erfskuld wil sê dat alle mense, al Adam
se nakomelinge, saam met hom ook skuldig is aan die sondeval.

Hierdie opvatting weerspreek nie
wat ons hierbo gesê het, dat kinders se tande nie stomp word as die ouers groen
druiwe geëet het nie.

En vervolgens dui erfsmet op die feit dat alle mense
sedertdien besmet is, ‘n giftige fontein binne-in hulle het.

Op sig is dit nie nodig om altyd
hierdie onderskeid te maak nie.

Mens kan gewoonweg praat van erfsonde of erfsmet.

Solank jy nie begin redeneer dat
jy eintlik ‘n slagoffer is van wat Adam en Eva verkeerd gedoen het nie.

Hulle was dom en ongehoorsaam, en
nou dra ons die gevolge...

Die Bybel openbaar aan ons dat
die mensdom as kollektief verantwoordelik is vir die sondeval.

Of om dit meer prakties te
verwoord:

Pleks van Adam en Eva te blameer,
kan ons nederig sê dat mog ek en jy toe daar in die paradys gestaan het, ons ook
dieselfde sou gedoen het.

 

Kom ons kyk nou na die oorsaak van die erfsonde

Die Skrif openbaar vir ons dat
die oorsaak in die paradys lê.

Die eerste mens op aarde het in
opstand gekom.

Nou is dit belangrik om te besef
dat die sondeval in die paradys nie net ‘n verbode appeltjie was wat gepluk is
nie.

Die boom van kennis van goed en
kwaad het ‘n grens gemarkeer.

Adam en Eva het besluit om
daardie grens oor te steek.

Hulle het die proefgebod
verontagsaam.

Met daardie daad het hulle oorlog
teen God verklaar.

Dit is soos toe die Russiese
tenks die grens met Ukraïene oorgesteek het.

Hulle het nog nie ‘n mens
doodgeskiet nie, maar net die aksie om die grens oor te steek, was al ‘n
oorlogsverklaring.

Dit was ‘n groot oortreding, die
skending van die buurland se soewereiniteit.

Adam en Eva het, onder aanhitsing
van die duiwel, die grens oorgesteek.

Hulle wou self onderskei tussen
goed en kwaad.

Die uitdrukking wat ons in
Genesis 2 lees: kennis van goed en kwaad, moet ons nie verkeerd verstaan nie.

Dit beteken nie dat Adam en Eva
voor die tyd nog nie geweet het wat goed en wat verkeerd was nie.

Maar dit gaan hier oor wie bepaal wat goed en wat verkeerd is.

Dit is God wat dit bepaal, en
Adam en Eva het dit aanvaar en hulle daaraan onderwerp.

Maar nou kom hulle in opstand, en
wil self bepaal wat goed en wat verkeerd is.

By die huis is dit jou ouers wat
bepaal wat die reëls van die huis is.

En die kinders moet daaraan
gehoorsaam wees.

As die ouers sê die kinders moet
so laat tuis wees, dan kan die kinders nie self daardie reël verander nie.

Onder aanhitsing van die duiwel
het Adam en Eva gerebelleer, hulle wou voortaan self die reëls bepaal.

Self bepaal wat goed en sleg is.

En daardie neiging, daarmee is
ons almal sedertdien besmet.

 

Net nog iets oor die oorsaak van
die erfsonde, dis opvallend dat daar steeds in die Bybel – dit geld ook vir
Romeine wat ons gelees het – dat daar steeds staan dat Adam in sonde geval het.

Terwyl Genesis 3 tog duidelik
maak dat Eva die eerste was wat gesondig het.

Hoe werk dit?

Dit is so omdat Adam aanspreeklik
gehou word in sy posisie as eindverantwoordelike.

Hy is die hoof in die huwelik, en
dit is ‘n posisie wat hy beklee – soos die uitdrukking sê – for better and
worse.

Soms kla mense teenwoordig dat die
Bybel vrou-onvriendelik is.

Omdat die man die hoof is.

En ook omdt God in die Bybel as
manlik voorgestel word.

Die Bybel sou man-gesentreerd
wees, paternalisties, ens. ens.

Wel, die geskiedenis van die
sondeval bewys dat dit onsin is.

En as die feministe kla oor die
feit dat God net as manlik voorgestel word,

kla hulle dan ook oor die feit
dat die duiwel ook net as manlik voorgestel word?

Dit gebeur so dikwels, gemeente,
dat mense eensydig dinge uit die Bybel haal, om dit dan voor hulle karretjie te
span.

 

Adam is dus deur God aanspreeklik
gehou.

Adam as verbondshoof, soos hy in
die dogmatiek genoem word.

Toe die eerste Russiese tenk die
Oekraïense grens oorgesteek het, het die Oekraïense president nie vir die
drywer van daardie tenk gebel nie, maar vir Putin, die hoof van die Russiese
leër, en hom aanspreeklik gehou.

 

Romeine 3 wys die wese van die situasie vir ons duidelik
uit.

In Adam as verbondshoof, het elke
onderdaan afgewyk, nie een is regverdig nie.

Na die sondeval verkeer die
mensdom in staat van oorlog met God.

Met die sondeval het die mensdom
die kant van die satan gekies.

En soos Romeine 8:7 skryf,
sedertdien is wat die vlees bedink, vyandskap teen God.

Die vlees, dws die sondige
mensdom, wil homself nie onderwerp aan die wet van God nie.

Dit is die wese van die erfsonde, die erfsmet, tot vandag toe.

Wie bepaal wat is reg en wat is
verkeerd?

Dit is die wese van die saak.

 

En hierdie wesentlike effek het
elke individu op aarde geaffekteer.

Die erfsonde, erfsmet, strek homself uit oor elke nakomeling van
Adam
.

In Job lees ons: “Ag, kon maar ‘n
reine voortkom uit ‘n onreine – nie een nie!” (Job 14:4)

Elke mens word in ongeregtigheid
gebore, in staat van oorlog met God.

Ook die ongebore babas wat
vanaand saam met ons hier in die kerk is.

Soos die doopsformulier sê: hulle
word in sonde ontvang en gebore. Daarom rus die toorn van God op ons, sodat ons
nie in die ryk van God kan inkom nie, tensy ons opnuut gebore word.

 

Tussen hakies, mense wat die
ewolusionisme begin akkomodeer, ten aansien van die ontstaan van die mens,
verloën daardeur nie net wat daar oor die skepping in die Bybel staan nie, maar
verloën daardeur ook die erfsonde.

As jy die hipotese aanhang dat
mense uit ape ontstaan het, dan kan jy die leer van die erfsonde ook maar in
die asblik gooi.

Dan word Adam ‘n mitiese
oerfiguur wat nie werklik bestaan het nie.

Dan word die sondeval ‘n legende,
wat nie werklik gebeur het soos wat dit met soveel woorde in Genesis 3 beskryf
is nie.

Ongeveer ‘n eeu gelede was daar
onder Gereformeerdes ‘n groot diskussie of Eva werklik wel ‘n vrug van ‘n boom
gepluk het, en of die slang regtig wel gepraat het.

Dit was nie net ‘n onbenullige
diskussie nie.

Die leer oor die erfsonde was in
geding.

As die sondeval ‘n legende is,
dan maak die gedeeltes wat ons uit Romeine gelees het, ook nie meer sin nie.

Die leer van die erfsonde is
veranker in die wat die Bybel as histories openbaar.

Die eerste mensepaar, wat deur
God geskape is, het teen Hom gerebelleer.

Daardeur het hulle hulleself en
hulle nageslag in die ellende gestort.

Sedertdien word geen baba as ‘n
neutrale wese gebore nie.

Uit sy hart kom allerlei sonde
op, sy hart is soos ‘n giftige fontein.

Niemand het dit daarin geplaas
nie, dit sit klaar daarin.

“Bedrieglik is die hart bo alle
dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” so skryf die profeet Jeremia (Jer
17:9)

“Want van binne, uit die hart van
die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug,
boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie
booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.” sê Jesus in Markus
7:21-23.

Dit is radikale woorde.

 

Dus nogmaals, die gevolg van die erfsonde is dat daar ‘n
giftige fontein in elke mens is, wat ons in staat van beskuldiging teenoor God
stel.

Hierdie giftige fontein is ook in
die gelowiges.

Die gelowiges is nie uitgesluit
nie.

Die NGB skryf: “Dit word selfs
nie deur die doop geheel en al tot niet gemaak of volkome uitgeroei nie”

Hierdie sinnetjie uit die NGB kan
misverstand wek.

Soos mens dit hier lees, mag dit
klink of die doop darem iets doen.

Soort van, dat die doop die
giftige fontein darem bietjie minder giftig maak, maar nog nie heeltemal gesond
nie.

Om hierdie sin so te lees, is
egter nie korrek nie.

Die doop op sig was nie die sonde
of erfsmet weg nie.

Die doop is slegs ‘n sakrament,
‘n teken.

Later in die NGB, in art. 34,
word presies verduidelik wat die doop is.

Dit voer nou te ver om te
verduidelik wat hierdie sin beteken en hoe dit in die NGB gekom het.

Dit sal nogal ‘n ingewikkelde teologiese
verduideliking word, wat ek nie in hierdie preek gaan doen nie.

Tussen hakies, in die
oorspronklike teks wat Guido de Brès geskryf het, het slegs gestaan: die
erfsonde word nie deur die doop tenietgedoen nie.

 

En dit is uiteindelik waaroor die
gaan.

Ook mense wat gedoop is, wat
gelowiges is, kerklede, ook ons het nog hierdie giftige fontein in ons.

Ook ‘n bekeerde, ‘n wedergebore
mens, het nog hierdie giftige fontein in hom.

Sommige charismatiese groepering
beweer dat wedergeboorte veroorsaak dat jy die geneigdheid tot sonde agter jou
laat.

Iemand wat so iets beweer, ken
homself nie goed genoeg nie, of is oneerlik met homself.

Ons is eers heeltemal van die
giftige fontein ontslae, en die sondes wat daaruit opborrel, wanneer ons sterf
– Rom 6:7.

 

Terselfdertyd mag ons sê, saam
met die pragtige woorde uit die Romeinebrief:

Desondanks is ons nie meer in
staan van beskuldiging voor God nie.

Danksy die tweede Adam, danksy Jesus
Christus se voldoening aan die kruis, mag ons elke dag vergifnis vra vir elke
sonde – of dit nou was in woorde, dade of gedagtes – elke sonde wat die
afgelope dag uit die giftige fontein opgeborrel het.

So mag ons, as ons ten minste
elke dag uit die vergifnis van sondes leef, mag ons elke dag in staat van vrede
en harmonie, ja as regverdiges voor God lewe!

Wat ‘n geweldige voorreg.

 

Dit mag ons egter nie lui maak
nie, maar moet as aansporing dien.

Elke dag is daar ‘n tweestryd in
jou lewe.

Soos Paulus dit verwoord:

“Want ek weet dat in my, dit wil
sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwsig, maar om
goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die
kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek...” (Romeine 7:18-19)

Geliefde broers en susters,
daardie giftige fontein wat in elkeen van ons is, hou ons nederig.

En u word aangespoor om daarvoor
te sorg, dat jou giftige fontein so min moontlik skade veroorsaak.

Dit doen jy deur uit vergifnis te
lewe.

Stop die sonde betyds, voordat
dit op straat beland en verderf saai.

“Laat die son nie ondergaan oor
julle toorn nie” Efesiërs 4:26.

As sonde die verhouding tussen
jou en God, of tussen jou en jou medemens vertroebel het – of dit ‘n daad was
of dalk net ‘n verkeerde woord – moenie dat die son daaroor ondergaan nie.

Vra vergewing, los die saak op.

Sorg dat die giftige fontein in
sy loop gestuit word.

Laat ons gebruik maak van die
voldoening wat Christus vir ons verwerf het.

Deur daarvan gebruik te maak, bly
ons gesond en bly die skade wat die giftige fontein veroorsaak, beperk.

Ek hoor laas dat dit medies
aangetoon is dat mense wat in konflik met iemand anders leef, se gesondheid
daardeur aangetas word.

Om voortdurend in konflik met
iemand anders te leef, is skynbaar meer skadelik vir jou liggaam as om ‘n kettingroker
te wees.

Die giftige fontein in ons kan
baie skadelik wees, as ons nie elke dag van Christus se vergewing gebruik maak
nie.

Gemeente, broer, suster, mag dit
nie van u gesê word dat die giftige water uit u fontein op straat uitloop,
omdat jy nie vrede wil maak met jou naaste nie.

Omdat jy iets het teen iemand
anders, en dit nie wil oplos nie.

Skaam vir jou, as dit so is.

Bekeer jou daarvan.

En dit terwyl Christus wel vrede
met jou wil maak.

As gedooptes het ons toegang tot
barmhartigheid en vergifnis in die naam van Jesus Christus.

Hierdie vergifnis maak ons nie
lui, sodat ons rustig aangaan om te sondig nie (soos die NGB sê: rustig in die
sonde sou bly slaap nie).

Hierdie vergifnis laat nie toe
dat ons in onvrede met ons naaste lewe nie.

Maar die verlange word in ons wakker
gemaak om vergoed verlos te word van die erfsonde, van die giftige fontein.

 

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)