Wie fokus op God se werk, kom tot rus en egte godsdiens

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-07-05
Teks: 
Handelinge 11 : 17-18
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
5 Julie 2015 AD, 10:15

Voorsang: Sb 23:1-4

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 68:3

Wet

Ps 60:1,2

Gebed

Skriflesing: Handelinge 11:1-18

Ps 81:4,6,7

Skriflesing: Galasiërs 2:11-14

Ps 81:8,9,10

Teks: Handelinge 11:17-18

Preek

Ps 102:7,10,12

Gebed

Kollekte

Ps 5:10,11

Seën

 

 

 

 

Preek:
Handelinge 11:17-18

 

In die kerk dink ons nie almal
eenders nie.

Oor verskillende sake is daar
verskil van mening.

Die manier hoe ons dink, het te
make met wat ons in die verlede ervaar het.

Ons opvoeding het ‘n belangrike
rol gespeel in die manier waarop ons dink.

Ons denke is ook gevorm deur ons
opleiding, die skole wat ons besoek het.

Verder word ons denke ook gevorm
deur dit wat ons lees, of dalk nie lees nie.

Al hierdie dinge het ‘n invloed
op hoe ons aktuele onderwerpe benader.

Sake in die samelewing of in die
kerk.

As mens oor die kerk praat, kan
jy jouself afvra hoe mens eenstemmigheid in die kerk kan bereik.

Die antwoord is eintlik
eenvoudig.

Mens sal nooit eenstemmigheid in
die kerk bereik nie.

Wel het ons in die kerk ‘n
gesamentlike fondament waarop ons almal behoort te bou.

As iemand belydenis van geloof
aflê, bely daardie persoon dat die Ou en Nuwe Testament die Woord van God is,
dat dit die volkome leer van die saligheid is, en dat God se Woord in die
Belydenisskrifte saamgevat is.

Dit is dus die fondament waarop
ons bou.

As iemand in die amp bevestig
word, onderteken hy die ondertekeningsformulier.

Daarin beloof hy dat hy as
ampsdraer lojaal sal wees teenoor God se Woord en die belydenis van die kerk.

Hy sal nie ‘n ander leer
verkondig nie.

Hy sal ook die volle leer uitdra,
en nie sommige vir sy gevoel minder aanvaarbare dinge agterweë laat nie.

Hy sal nie heimlik of subtiel ‘n
nuwe denkwyse invoer wat op gespanne voet staan met die Skrif en die belydenis
nie.

Hierdie gesamentlike fondament
skep vertroue oor en weer.

Mens hoef nie die heel tyd
agterdogtig te wees nie.

Ons bou saam op dieselfde
fondament.

En mense wat dit nie doen nie,
moet summier geskors word.

So is dit vasgelê in die
ondertekeningsformulier.

 

Tema: Wie
fokus op God se werk, kom tot rus en egte godsdiens

1                  
Petrus se verantwoording fokus op
God se werk

2                  
Die fokus op God se werk bring
rus en egte godsdies

 

1       Petrus se verantwoording fokus op God se werk

In Handelinge 10, die vorige
hoofstuk, kan mens lees dat die Heilige Gees vir die tweede keer uitgestort is.

Dit was nie weer in Jerusalem
nie, en ook nie op die Jode nie.

Hierdie keer was dit in Caesarea
op volbloed heidene.

Caeserea, die naam sê dit al, was
‘n stad wat gestig is deur die Romeinse keiser.

‘n Stad so ‘n 100 km vanaf
Jerusalem in noordwestelike rigting, aan die kus.

Baie militêre mense het daar
gewoon.

Onder hulle was die offisier
Cornelius.

Nadat Petrus ‘n veelseggende
visioen ontvang het, is hy meegeneem deur die diensknegte van Cornelius.

Hy het toe Cornelius se huis
binnegegaan, en hy mog daar die Evangelie verkondig aan Cornelius en sy
huisgenote, wat baie gewilligde hoorders was.

Dit was toe dat die Heilige Gees
vir die tweede keer uitgestort is.

Mens kan dit ook anders verwoord:
Christus het die apostel Petrus na die tweede plek gelei waar Hy sy Gees wou
uitstort, naamlik in die huis van ‘n heiden.

 

Nou sien ons in hoofstuk 11 egter
dat hierdie gebeurtenis ‘n nasleep gehad het.

Petrus moes homself kom
verantwoord in Jerusalem.

Hy moes sy handelwyse verdedig
teenoor die Christene in Jerusalem.

En dan nie soseer omdat hy
heidene gedoop het nie.

Maar veral omdat hy ‘n heidense
huis binnegegaan het asook saam met hulle geëet het.

Want hierdeur het hy die grens
oorgesteek.

Hulle het hom hieroor
gekritiseer.

Jy het met die heidene geëet.

Jy mog dit nie gedoen het nie.

 

Petrus het al vermoed dat hulle
hom hierop sou aankla.

Meer nog, sy eie gevoel, sy eie
gewete, het hom op daardie punt ook al aangekla.

Hierdie weerstand wat daar in Jerusalem
bestaan het, was dieselfde weerstand wat daar binne-in homself ook was.

‘n Weerstand wat Christus nog
maar baie onlangs by hom deurbreek het.

Die feit dat Petrus ‘n heidense
huis binnegegaan het, en saam met hulle geëet het, dit was iets wat hy waarskynlik
teen sy eie gevoel in gedoen het.

Maar die feit dat hy dit gedoen
het, was nie sy eie inisiatief nie.

Dit was nie ‘n vernuwing, ‘n
eksperiment, wat hy self deurgedruk het nie.

Dit was ‘n aantal gebeurtenisse
wat hom oorval het.

En Petrus verantwoord homself in
Jerusalem, deur juis hierop te wys.

In hoofstuk 11 sien ons hoe hy
die gebeurtenisse een vir een oorvertel.

Want die Christene in Jerusalem
was naamlik nog nie bewus van wat presies gebeur het nie.

 

Petrus vertel vir hulle.

Hy beskryf die visioen.

Hoe onrein diere vir hom opgedien
is.

Hoe hy weerstand gebied het.

Want hy was altyd al iemand
gewees wat die wet nougeset nageleef het.

Om onrein diere te eet, soos die
heidene, dit iets wat ‘n mens miskien van ‘n afvallige Jood sou verwag.

Dalk van ‘n Sadduseër, omdat
hulle maatjies was met die Romeinse besetters.

Die Sadduseërs was nie so streng
in leer en lewe nie.

Van Petrus sou mens dit egter nie
verwag het nie.

“niks onheiliges of onreins het
ooit in my mond ingegaan nie”, verseker hy in vers 8.

Maar tog het hy dit nou gedoen.

Skielik van die een dag op die
ander.

Dit was nie ‘n lang proses, ‘n sogenaamde
hellende vlak, waartydens hy al hoe soepeler geraak het in sy omgang met die
heidene nie.

Nee van die een op die ander dag
het hy die huis van ‘n heiden binnegegaan en saam met hulle onrein voedsel
geëet.

Eerlik bieg hy dit op in
Jerusalem.

Of beter gesê: eerlik getuig hy
wat die Heilige Gees gedoen het.

Want dit was die Heilige Gees wat
hom daartoe gebring het.

Petrus het hierin sy Heiland herken.

Toe Christus nog op aarde was,
het Hy van Petrus verwag om Hom te volg, ook dikwels op paaie wat Petrus self nie
sou gekies het nie.

En nou het Petrus weer sy Heiland
se stem herken.

Hy het die instruksies van die
Gees gevolg.

En alles het wonderbaarlik op sy
plek geval.

Want parallel aan die visioen wat
hy gehad het, het twee manne op sy deur geklop.

Juis om hom uit te nooi na die
huis van ‘n heiden.

Die feit dat die twee manne daar
voor Petrus se huis gestaan het, was omdat ‘n engel aan Cornelius verskyn het
en hom daardie bevel gegee het.

Petrus moes maar net luister en
die Goddelike bevel gehoorsaam.

Ons lees dat, toe Petrus na
Caesarea vertrek – hy ses broeders uit Joppe saamgevat het.

Dit was nie ‘n individuele aksie
van Petrus nie.

Getuies het met hom saamgegaan.

En toe hulle in Caesarea aankom,
het hulle getuie geword van ‘n herhaling van die Pinksterwonder, soos dit in
Jerusalem plaasgevind het, maar nou in ‘n heidense huis.

 

Deur al hierdie feite een vir een
op ‘n rytjie te plaas, wys Petrus daarop dat dit nie sy eie inisitief was nie,
dit was nie wensdenkery nie, dit was nie dat hy afvallig geraak het nie,
inteendeel dit was die Here wat aan hom verskyn het.

Mens kan hierdie gebeure toets
aan die hand van die maatstaf wat God in die Ou Testament aangelê het vir sy
profete.

Ons lees byvoorbeeld in
Deuteronomium 18 dat die HERE belowe dat Hy profete na sy volk sal stuur.

En op die vraag hoe die volk sal
kan onderskei tussen ware en valse profete, was daar ‘n eenvoudige antwoord.

Deut 18:21-22: “as jy in jou hart
sê: Hoe sal ons die woord weet wat die HERE nie gespreek het nie?” En dan volg
die antwoord: “as die profeet in die Naam van die HERE spreek, en wat hy gesê
het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat die HERE nie
gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir
hom nie bang wees nie.”

Die visioen wat Petrus gehad het,
kon die gemeente in Jerusalem aan hierdie selfde maatstaf uit Deuteronomium 18
onderwerp.

Die feit dat die oomblik nadat
Petrus die visioen ontvang het, daar twee heidense manne op sy deur geklop het.

Die feit dat toe Petrus met hulle
saamgegaan het, hy in ‘n heidense huis aangekom het waar almal al gereed
gestaan het om na die Evangelie te luister.

Die feit dat ‘n engel aan
Cornelius verskyn het.

Die feit dat die Heilige Gees
uitgestort is in daardie heidense huis op dieselfde manier as op die apostels
op die Pinksterdag –

al hierdie feite was objektiewe
bevestiging dat Petrus se visioen die waarheid was,

dat dit nie net dagdromery was
nie,

maar dat dit ‘n profetiese
boodskap van God, van Christus vanaf sy hemelse troon was.

 

In ons teks sluit Petrus die
verantwoording van sy optrede af.

Hy trek die konklusie.

Dit wat hy mog deurmaak,
interpreteer hy.

In die lig van die Skrif, in die
lig van die onderwys van sy Heiland, Hy wat vlak voor sy hemelvaart die
apostels opgedra het om sy getuies te wees nie net in Jerusalem en Judea nie,
maar ook in Samaria en tot aan die uiteindes van die aarde.

Dus, wanneer die Gees van
Christus ook oor die heidene uitgestort is, dan is ek tog nie in staat om Hom
teë te hou nie?

Dan bou Hy mos self die brug na
die heidene toe?

As Hy die kloof oorbrug, sou ek
dan nie volg nie?

Ek kon eenvoudigweg nie weier
nie.

Petrus vestig die aandag op dit
wat God doen.

Teen God is ek tot niks in staat
nie.

Petrus probeer nie om homself te
verdedig nie, hy hou ook nie ‘n welsprekende rede om op die Jerusalemmers in te
werk nie.

Petrus getuig in eenvoudige
woorde oor dit wat hy meegemaak het.

Daar het ek dan gestaan, ek kon
nie anders nie.

Wie was ek, dat ek God kon
verhinder?

 

(Tema: Wie fokus op God se werk,
kom tot rus en egte godsdiens

1       
Petrus se verantwoording fokus op God se werk)

 

2          Die fokus op God se werk bring rus en
egte godsdiens

Vers 18 sluit af met die
gevolgtrekking wat die gelowiges in Jerusalem gemaak het.

Ons sien hoe hulle die getuienis
aanvaar.

Al hoef hulle self nog nie die
stap te sit nie, die kloof te oorbrug deur ook ‘n heidense huis binne te gaan,
ook onrein voedsel te eet nie, tog erken hulle dat God hier besig was.

En dit het die gemoedere laat
bedaar.

 

Hulle het God verheerlik, omdat
daar weer ‘n wonder gebeur het.

Ons teks sluit af met ‘n sin
waarin God die onderwerp is, die handelende persoon.

“So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.”

Hierdie woord – bekering – is in
Handelinge 5:31 ook vir die Jode gebruik.

Die Joodse volk het ‘n pad gekies
wat tot hulle ondergang sou lei.

Maar God het sy eie Seun gestuur.

Sodat die volk sou omdraai,
omkeer, hulle sou bekeer.

Die oproep tot bekering het al
hoe indringender geklink sedert Pinksterdag.

En hierdie roep tot bekering
klink nou ook rigting die heidene.

Die heidenvolke, wat elkeen ook
op sy eie dwaalweg beland het.

Ook hulle hoor nou die roep tot
ommekeer.

Om die weg na die lewe in te
slaan.

Ja hiervoor sorg die Heilige
Gees.

En Petrus en die gemeente in
Jerusalem besef dit:

God het nou ook aan die heidene
die bekering ten lewe geskenk.

 

In Handelinge 11 is dit duidelik
Joodse Christene in Jerusalem, net soos Petrus, hierdie nuwe koers wat Christus
uitgesit het in die nuwe bedeling, dat hulle dit aanvaar het.

Maar soos ek hierbo al genoem
het, hulle was self nog dikwels nie in die omstandighede om dit self in die
praktyk te gebring het nie.

En later in die Nuwe Testament
blyk ook dat dit makliker gesê as gedaan was.

Selfs vir iemand soos Petrus.

Ons weet dit byvoorbeeld uit
Paulus se Galasiërsbrief.

Daar het tog in Jerusalem en
Judea ‘n groep gebly wat beswaard was teen hierdie ontwikkeling.

Jodechristene wat gesukkel het om
die heidenchristene volmondig te aanvaar.

Die tradisies soos die
besnydenis, voedselwette, kalenders en reinheidsvoorskrifte was vir hulle so
belangrik, dat hulle dit aan die heidene ook wou oplê, dit in teenstelling tot
die boodskap wat Christus vir Petrus in die visioen duidelik gemaak het.

Selfs Petrus het later onder druk
van hierdie beswaardes, teruggekrabbel.

In die sin naamlik, dat hy aan
die een kant wel ingesien het dat die heidene al hierdie dinge nie hoef na te
kom nie, maar aan die ander kant was hy bang vir die beswaardes.

As hulle in die buurt was, het hy
nie gedurf om vrymoedig met die Christene uit die heidene om te gaan nie.

Die gees is gewillig, maar die
vlees is swak.

Hierdie saak – die omgang met die
Christene uit die heidene – het nog vir jare in Jerusalem ‘n kontroversiële
saak gebly.

In die sogenaamde kring rondom
Jakobus.

Jakobus, wat ‘n leier was in die
kerk van Jerusalem.

 

Wat is Christus se boodskap vir
ons vandag vanuit hierdie teks?

Die belangrikste is dat ons
raaksien dat God die handelende Persoon, die onderwerp is in ons teks.

Ons moet veral let op wat Hy
doen.

Hy het die kloof na die heidene
oorbrug.

Petrus het geen keuse gehad nie.

Hy mog en hy moes ook daardie
brug oorsteek.

Al was dit iets vir hom, en vir
die Joodse Christene, om te slik.

Hulle was nog vir jare lank
ongemaklik daarmee.

Maar dit was wel goed, van God
wou dit.

 

As dit in ons eie tyd, gemeente,
gebeur dat ons as kerk in ‘n nuwe of ‘n veranderde situasie tereg kom.

Dit mag wees vanweë politieke en
maatskaplike veranderinge in ons land,

Dit mag dalk wees as gevolg van
die sendingswerk en die impak wat dit op ons kerkverband het.

Dit mag wees as gevolg van samesprekings
met ander kerkgroepe.

Wat die rede ook al is, as ons
dalk in nuwe omstandighede tereg kom, en voor nuwe uitdagings te staan kom, dan
sal ons dit ook moet hanteer soos die teks ons voorhou.

Naamlik deur te fokus op wat God
doen.

‘n Mens het dalk die neiging om
as daar nuwe omstandighede op jou pad kom, jou veiligheid en sekuriteit te soek
in die verlede, in die tradisie, hoe dinge altyd gedoen is.

Daardie meganisme sien mens ook
by die Jodechristene in Jerusalem.

Ons teks leer ons egter om op
Christus te fokus.

Sy Woord wys ons die weg.

Dit is die fondament waarop ons
bou, niks meer, ook niks minder nie.

Dit help nie om alle tradisies
wat ons het, krampagtig te probeer vashou nie.

Dit help net so min om, die ander
uiterste, alles wat in die verlede normaal was, nou te begin kritiseer nie.

Laat ons eerder fokus op ons God.

Wat ook vandag sy kerk versamel,
beskerm, onderhou en uitbrei, soms op verrassende maniere.

 

En dan is daar in ons teks ook
nog ‘n baie troosryke boodskap.

Ek dink aan die pragtige sinsnede
uit vers 18:

“en toe hulle dit hoor, het hulle
geswyg”.

Mens kan ook vertaal: hulle het bedaar,
of: hulle het tot rus gekom.

Hierdie woorde behoort ons beslis
aan te spreek.

Mens voel soms opgejaag van alle
kante.

As dit die duiwel pas, sal hy
graag onrus stook in die kerk.

As dit die duiwel pas, sal hy ook
‘n soete vrede oor die kerk bring, sodat die kerk ongemerk wegdryf van Christus
en sy Woord.

Maar wanneer die kerk op Christus
en sy Woord fokus, kom daar regte vrede.

Petrus het in sy verantwoording
gewys op wat God doen, en dit het die beswaardes stilgemaak.

Die Heilige Gees het die vertroue
herstel.

Wie fokus op God se werk, kom tot
rus en egte godsdiens.

Saam het die gemeente weer begin
let op wat God besig was om te doen.

Saam het hulle God verheerlik.

Dit het nie meer oor hulle eie
mening gegaan nie, maar oor wat God gedoen het.

God het aan die heidene ook die
bekering ten lewe geskenk.

Daaroor was almal dankbaar.

 

Gemeente, hierdie troos bied ons
teks.

As ons let op God se optrede, dit
is wat ons verenig.

Mensewerk is altyd gebrekkig.

Maar God staan bo mensewerk.

As ons na die geskiedenis van die
Vrye Gereformeerde Kerke hier in Suid-Afrika kyk, dan sien ons baie mensewerk.

So baie gebrekkige dinge, waaroor
ons ons behoort te verootmoedig.

As ons oor mensewerk begin praat,
dan verskil mens gou van mening.

Ons het elkeen ons eie omstandighede
en ervarings.

Laat ons eerder let op wat God
besig is om te doen, en ook gedoen het in die geskiedenis van die Vrye
Gereformeerde Kerke.

Laat ons mekaar aan Hom en sy wil
bind.

Sy Woord, wat ons as kerk mag
naspreek in die belydenis.

Niks meer, niks minder.

Dit is waaroor dit in die kerk
gaan.

Meer oor God praat, minder oor
mekaar.

Dit is die vertroosting van die
teks:

Waar dit gebeur, kom daar rus en
eenheid.

Daar vind die kerk sy deurgang na
die toekoms.

Daar word God verheerlik.

Wie fokus op God se werk, kom tot
rus en egte godsdiens.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)