Christus se versoening maak die verskil tussen ewige lewe en ewige dood

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-07-19
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 21
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
19 Julie 2015 AD, 17:30

Voorsang: Sb 29:1-5

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 110:1,2

Gebed

Skriflesing: Hebreërs 7

Ps 110:5-8

Skriflesing: Jesaja 53

Ps 69:1-4

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis artikel 21

Preek

Ps 69:13,14

Gebed

Geloofsbelydenis: Apostoliese

Sb 27:2,3

Kollekte

Ps 22:9,12

Seën

 

 

 

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 21

 

Vanaand kom een van die mooiste
artikels uit die NGB aan die orde.

Ook hierdie artikel begin met die
twee woordjies: ons glo...

As kerk bely ons met hierdie
artikel dit wat die kern van die Evangelie is.

Met bely bedoel ek: ons roep dit
uit, sodat die hele wêreld dit mag hoor.

En terselfdertyd word met bely
bedoel: ons staan daarvoor, ons veg daarvoor.

Niemand sal hierdie belydenis van
ons afvat nie.

 

 

Christus se
versoening maak die verskil tussen ewige lewe en ewige dood

1                  
Christus se offerdiens in
Melgisedek se orde het ewige waarde

2                  
Christus se offerdiens is
plaasvervangend

 

 

1       Christus se offerdiens in Melgisedek se orde het ewige waarde

 

Jesus Christus is ‘n ewige
Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.

So begin artikel 21.

Wat beteken dit eintlik?

In die Ou Testament vind ons twee
verskillende priesterordes.

Die orde van Melgisedek, en die
orde van Aäron of Levi (Hebr 7:11).

Laasgenoemde was ‘n erflike orde.

Iemand kon slegs in hierdie orde
dien, as hy van Levi afgestam het.

Die priesters in hierdie orde
moes die offers wat die volk gebring het, administreer.

Tog kon die offers wat binne
hierdie orde gebring is, die sondes nie wegneem nie.

Dit was iets soos ‘n voorlopige
skuldsanering, om algehele bankrotskap uit te stel.

Hierdie priesterorde het nie ‘n
permanente oplossing gehad om van die skuld af te kom nie.

Dieselfde offers wat jaar na jaar
gedurig gebring is, kon nie tot volmaaktheid lei nie.

Hierdie offers was bloot jaar na
jaar ‘n herinnering aan die sonde, want die bloed van stiere en bokke kon
onmoontlik die sonde wegneem.

So beoordeel die Hebreërboek die
Aäronitiese priesterorde.

Elke priester het dag vir dag die
diens waargeneem, dikwels dieselfde slagoffers gebring wat tog nooit die sondes
kon wegneem nie (Hebr 10:11).

Dit was ‘n tussentydse
noodmaatreël wat God ingestel het, totdat ‘n permanente skulddelging beskikbaar
gekom het.

Dit het gebeur in die volheid van
die tyd, toe Christus volgens ‘n heel ander priesterorde dit wel reggekry het.

Deur een offer het Hy vir altyd
betaal.

Nadat Hy een slagoffer vir die
sondes gebring het, het Hy vir altyd gaan sit aan die regterhand van God (Hebr
10:12-14).

En omdat Hy ‘n permanente
oplossing gebring het, is deur sy offer die Aäronitiese priesterskap afgeskaf.

Dit het oorbodig geword vir die
nuwe bedeling.

 

In die Hebreërboek word die twee
priesterordes uitgebreid met mekaar vergelyk.

Ons weet nie presies wie Hebreërs
geskryf het nie, moontlik was dit die apostel Paulus.

In hierdie boek word die Joodse
volk, waaronder Christenjode, maar ook die Jode wat nog nie Jesus as Messias
aanvaar het nie, oortuig dat die priesterorde van Aäron sy tyd gehad het.

Christus het ‘n einde daaraan
gemaak, omdat Hy iets veel beters gedoen het.

Christus was nie priester binne
Aäron se orde nie.

Christus mog nie binne sy orde
priester word nie, want Hy het nie van Levi afgestam nie, maar uit die stam van
Juda (Hebr 7:14).

Die skrywer van die Hebreërbrief
verduidelik hoe Christus gedien het binne Melgisedek se orde.

Wie was Melgisedek eintlik?

In die Bybel word daar maar net
enkele kere na hom verwys.

In Genesis 14, dan weer in Psalm
110, en dan laastens in hierdie gedeeltes van Hebreërs.

Melgisedek se naam beteken:
koning van geregtigheid; of ook moontlik: my koning is regverdig.

Melgisedek het geregeer oor
Salem, die stad wat later die Joodse Jerusalem sou word.

Melgisedek het te midde van die
goddelose Kanaäniete as ‘n regverdige en vreedsame koning geregeer.

Sy amp van priester-koning het hy
nie ontvang deur erfopvolging nie, maar – volgens Hebreërs 7:13 – regstreeks
van God uit die hemel.

In Genesis 14 lees ons oor die
ontmoeting wat Melgisedek met Abraham gehad het.

Hy het nie vyandig teenoor Abraham
gestaan, wat eintlik ‘n vreemde indringer in die land Kanaän was nie.

Maar saam met Abraham het hy
dieselfde God gedien.

In Genesis 14 kan mens lees dat
Melgisedek vir Abraham geseën het in God se naam, en dat Abraham vervolgens aan
hom die tiendes betaal het.

Abraham het sy gesag en amp
erken.

Sy amp as priester-koning het nie
geval binne die bepalings wat later in die Mosaïese wet vir God se volk sou
geld, naamlik dat die amp van koning en priester streng onderskei is.

Volgens God se wetgewing aan Moses
mog ‘n persoon nooit tegelyk koning en priester wees nie.

Dink aan hoe ernstig die HERE dit
opgevat het, toe koning Saul self begin offer het.

Samuël moes hom hieroor bestraf.

Maar Melgisedek se amp val nie
binne die Mosaïese wetgewing nie, dit gaan terug op die amp soos Adam dit in
die paradys ontvang het.

Melgisedek was een van die laaste
mense gewees wat nog die drievoudige amp, wat God die mens in die paradys gegee
het, vervul het.

As sodanig tree hy op in die
geskiedenis.

So verwys koning Dawid ook terug
na hom in Psalm 110, as hy in hierdie psalm profeteer oor die HERE se gesalfde,
wat as koning sal heers en terselfdertyd ook priester sal wees, vir ewig
volgens die orde van Melgisedek.

Art. 21 van die NGB verwys na
hierdie psalm as dit begin deur te sê: ons glo dat Jesus Christus – kragtens ‘n
eed – ‘n ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek.

 

Wat was so besonder aan hierdie
orde?

Die orde van Melgisedek het nie
gewerk volgens ‘n bepaalde afstamming nie.

Hierdie orde het bekend geword in
die Skrif onder Melgisedek se naam, wat in Abraham se tyd sowel koning as
priester was.

In Genesis 14 word hy priester
van die allerhoogste God genoem (Gen 14:18-20).

Maar eintlik gaan hierdie orde
terug na die skepping.

Dit is die oorspronklike amp waarin
God vir Adam aangestel het.

‘n Drievoudige amp van profeet,
priester en koning.

Christus het as priester in
hierdie orde van Melgisedek, in hierdie oorspronklike skeppingsorde, vervul en
voltooi wat alle Aäronitiese hoëpriesters en priesters nie kon regkry nie.

As tweede Adam het Hy volkome
betaal vir alle skuld wat Adam en sy nageslag gemaak het.

 

Die impak van wat Christus gedoen
het, en wat Hebreërs hier beskryf, moet mens nie onderskat nie.

Veral die impak op die
priesterdiens.

Met Christus se kruisiging het
die tempelgordyn veelbetekenend geskeur.

Die tempeldiens het oorbodig
geraak.

Maar vir die Jode om met so ‘n
eeue-oue tradisie te stop, was nie eenvoudig nie.

Die meeste Jode wou eenvoudigweg
nie daarmee stop nie.

Hulle het Christus se offer nie
op waarde geskat nie, hulle het hul oë daarvoor gesluit, en gewoon aangegaan
met die daaglikse offers by die tempel volgens die orde van Aäron.

Dit het so aangegaan tot die jaar
70nC, toe die tempel deur die Romeine verwoes is.

Daarna het die offerkultus van
die Jode opgehou.

In die Hebreërbrief is al
uitvoerig aangetoon dat dit nie meer nodig was nie.

Soos gesê, ons weet nie presies
wie hierdie brief geskryf het nie.

Volgens die tradisie is dit deur
die apostel Paulus geskryf.

Sommige uitleggers beweer dat
Lukas dit dalk geskryf het.

‘n Groot verskil is hierdie egter
nie, aangesien Lukas ‘n reisgenoot was van Paulus op sy sendingsreise, en Lukas
byvoorbeeld in die boek Handelinge verslag gedoen het van wat Paulus gedoen en
gepreek het.

Dit beteken, in beide gevalle –
of Paulus of Lukas die skrywer was – dat ons in die Hebreërboek kan lees watter
boodskap Paulus in al die sinagoges wat hy besoek het, gepreek het.

Hoe Paulus in elke stad en dorp
die Jode probeer oortuig het.

Die Hebreërbrief is nie goed verstaanbaar,
as mens nie die agtergrondkennis van die Ou Testament het nie.

Dit het die Jode gehad, en in
hulle sinagoges, of dit nou in Jerusalem was, of op Cyprus, of in Korinthe,
Efese, of waar oor al, orals het Paulus hierdie boodskap gebring.

Christus het ‘n blywende
oplossing van die skuld gebring, iets wat die orde van Aäron nie kon bring nie.

Christus het die priesteramp
vervul in die orde van Melgisedek.

En deur dit te doen, het Aäron se
orde oorbodig geword.

In die nuwe bedeling ken ons nie
meer die Aäronitiese orde nie.

Dit is nie meer nodig nie.

Die Roomse kerk wat nog steeds ‘n
priesterorde ken, wat, al werk dit in die Roomse kerk nie meer volgens
afstamming nie, tog nog op Aäron se priesterorde gebaseer is,

die Roomse kerk wat nog ‘n altaar
in hulle kerkgeboue het, waar die priesters ‘n offer bring,

die Roomse kerk is wat dit betref
nie op datum met die nuwe bedeling nie.

Dit geld ook vir die baie vorme
van sinkretistiese Christendom in Afrika, wat ook nog die offerpraktyk aanhou.

As ons die Nuwe Testament goed
lees, is daar geen enkele instruksie tot ‘n voortgaande offerkultus nie.

Inteendeel, daar is vele
aanwysings dat dit moet ophou, omdat Christus se offer voldoende was, eens en
vir altyd.

Die Aäronitiese offerkultus is
verlede tyd.

Die orde deur erfopvolging vir
Levi se stam is opgehef.

Want Christus se offerdiens, in
Melgisedek se orde, het ewige waarde.

 

In die nuwe bedeling het God ‘n
nuwe orde ingestel.

Die orde, of die spesisiale
ampte, van ouderlinge en diakens.

In hulle gaan die offerkultus uit
die orde van Aäron nie voort nie.

In hulle gaan die taak wel voort
wat die priesters en Leviete in die Ou Testament gehad het, naamlik om die volk
te onderrig en om barmhartigheid te betoon.

Dit is die spesiale ampte, of
orde, van die Nuwe Testamentiese tyd.

Maar daarnaas is daar die amp van
elke gelowige.

Ons mag, as Christene, almal dien
in die orde van Melgisedek.

Soos die Heidelbergse Kategismus
dit in Sondag 12 verduidelik.

Net soos Christus volgens
Melgisedek se orde ‘n drievoudige amp beklee, so ook ons.

Ons is deur geloof ‘n lid van
Christus, ons het deel aan sy salwing tot profeet, priester en koning.

Ons priesterlike taak is nie meer
om versoening te bewerkstellig nie, dit het reeds gebeur.

Maar ons taak het te make met
dankbaarheid vir dit wat deur Christus bereik is.

Soos Sondag 12 dit verwoord: as
priester mag ek myself as ‘n lewende dankoffer aan Hom toewy.

 

(Die versoening deur Christus
maak die verskil tussen ewige lewe en ewige dood

1       
Christus se offerdiens in Melgisedek se orde het ewige waarde)

 

2       Christus se offerdiens is plaasvervangend

 

In art. 21 bely ons die
werklikheid van versoening deur voldoening: “Hy het Homself in ons naam voor sy
Vader gestel om sy toorn met volledige betaling te stil...”

As ons hier lees oor God se toorn,
moet ons nie in die eerste plek aan ‘n emosie dink nie, soiets soos ‘n
woede-uitbarsting nie.

By toorn moet ons eerder aan ‘n
karaktereienskap van God dink.

God se toorn is op ‘n manier
sinoniem aan sy heiligheid.

Of aan sy – nog ‘n
karaktereienskap wat genoem word – sy jaloersheid.

Hy het ‘n heilige afkeer van die
sonde.

Hy is ‘n heilige vuur wat alles
wat sondig en onrein is, verbrand.

 

In die Skrif is daar baie aandag
vir die realiteit van plaasvervangende straf.

Ons het byvoorbeeld ‘n gedeelte
uit Jesaja 53 gelees.

Hierdie gedeelte kan mens slegs
verstaan as jy besef dat dit hier oor ‘n plaasvervanger gaan.

Hy is verag, geslaan, verbrysel.

Dit het nie maar net per ongeluk
gebeur nie.

Dit was nie maar net die gevolg
van ‘n volksoploop wat uit die hand geloop het nie.

Dit was nie maar net ‘n sinlose
dood, soos daar somtyds gepraat word oor iemand wat ‘n totaal onnodige dood
gesterf het, iets wat ‘n groot skokreaksie tot gevolg gehad het en in die sin
‘n positiewe invloed op die samelewing kan hê.

Inteendeel, Jesus se dood was
bewus, dit was ‘n straf.

Jesaja 53 maak duidelik dat dit
nie ‘n toevallige, ‘n onnodige dood was nie.

Dit was ‘n dood uit vergelding.

Hierdie straf vind sy oorsprong
by God se regverdige toorn.

Christus het bewus hiervoor
gekies.

En God het bewus sy Seun gestraf.

Dit is iets wat ons nie kan bevat
nie.

Dit is iets wat ons ongelooflik
nederig en skuldbewus maak.

Versoening deur voldoening.

Dit herinneer ons aan die
onderwerp van die vorige artikel van die NGB, art. 20:

God se regverdigheid en
barmhartigheid in Christus.

By God omarm liefde en reg
mekaar.

Liefde sonder reg is
sentimentaliteit.

Reg sonder liefde is wreedheid.

In God is altwee een.

 

Dit is die ongelooflike
werklikheid van God se verlossingsplan.

Dit het gebeur.

Eers het Hy sy eie Seun
ongelooflik hard gestraf.

Maar direk daarna, direk nadat Hy
gedoen het wat gedoen moes word, het Hy Hom beloon.

Jesaja 53:9 skryf: hulle het Hom
sy graf by die goddelose gegee.

Dit was die intensie, omdat Hy as
‘n misdadiger gekruisig is en oppad was om ‘n eselsbegrafnis te kry, wat
eintlik beteken – geen begrafnis, geen enkele laaste eerbetoon nie.

Maar God het toe ingegryp, Hy het
Josef van Arimathea gestuur om Hom ‘n graf by ‘n ryke te gee, soos Jesaja voorspel
het.

Ook lees ons in Jesaja (Jes
53:10): dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel.

Maar toe dit gebeur het, toe dit
klaar was, hierdie verbryseling aan die kruis, het God sy Seun die beloning gee
wat Hy verdien het.

Soos Jesaja geprofeteer het: Hy
sal ‘n nakroos sien. Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal
deur sy hand voorspoedig wees.

Hy sal baie regverdig maak.

 

Deel van sy plaasvervangende
optrede was dat Hy gebrandmerk is as misdadiger deur Pontius Pilatus.

Hy is gevonnis om die straf van
‘n misdadiger te ontvang.

Nogtans het Pilatus hom
herhaaldelik onskuldig verklaar.

Ook hieruit blyk sy
plaasvervangende posisie.

Nog ‘n teks wat op sy
plaasvervangende lyde dui is 1 Petrus 3:18, waar daar staan: Hy het as
regverdige vir onregverdiges gely.

Soos die nagmaalsformulier dit so
mooi verwoord, met verwysing na Lukas 22:44: Hy het uitgeroep: “My God, my God,
waarom het U my verlaat?” sodat ons nooit meer deur God verlaat sou word nie.

 

Ons mag vandag die vrugte hiervan
pluk.

Ons mag opgelug sê: dit is nou
verby.

Dit het gebeur.

Wat ‘n misterie, wat ‘n wonder,
dat God dit gedoen het.

Halleluja.

Ons bely met verwondering die
werklikheid van versoening deur voldoening.

 

Die feit dat ons dit bely met die
NGB, is nie net ‘n teoretiese saak nie.

Want ook in ons tyd word hierdie
belydenis aangeveg.

Volgens die liberale teologie is
die leer van versoening deur voldoening oordrewe.

Die liberale teologie hou nie van
‘n God van toorn nie.

Die liberale teologie is ‘n soort
‘alles is OK’-teologie.

Dit wil nie die werklikheid van
die sondeval, die erns van die sonde, erken nie.

Dit wil nie die werklikheid van
die ewige straf en die hel erken nie.

Dit vorm ‘n ander Godsbeeld, ‘n
God wat ook ly aan die kwaad, maar nie ‘n God wat toorn oor die kwaad nie.

Nie ‘n God wie se regverdigheid
en barmhartigheid saamgaan op ‘n vir ons onbegryplike wyse nie.

Maar dit is wel wat vir ons in
die Bybel geopenbaar word.

Hierdie leer, versoening deur
voldoening, dat God se Seun plaasvervangend die straf ondergaan het, dit is die
kern van die Evangelie.

Soos Paulus dit verwoord: Ons
praat met julle oor niks anders as oor Jesus Christus, as die gekruisigde (1
Korinthiërs 2:2).

Ons beskou alles as waardeloos,
want om Christus Jesus, ons Here, te ken, oortref alles in waarde (Filippense
3:8).

Jesus is na die aarde gestuur en
dit was dit hoofdoel van sy lewe op aarde.

Die naam wat Hy ontvang het,
getuig daarvan: Jesus, dit beteken Verlosser (Matt 1:21).

Ons vind volkome vertroosting
deur sy wonde.

Ons het niks anders nodig om ons
met God te versoen nie.

Slegs hierdie een offerande,
eenmaal gebring, waardeur die gelowige vir altyd volmaak word (Hebr 10:14).

Die versoening deur Christus, sy
versoening deur voldoening, lig op teen die donker skaduwees van dat sonde,
opstand, dood, en hel, wat lewende werklikhede is.

Wie nie die plaasvervangende
versoening van Christus aangryp nie, sal ongetwyfeld ewig verlore gaan.

God is regverdig in sy ewige
straf.

God is ook barmhartig omdat Hy
self vir ‘n manier sorg om te ontkom aan die oordeel.

 

In teenstelling tot die liberale
teologie, sê ons nie dat alle godsdienste uiteindelik na God toe lei nie.

Ons sê nie dat alle godsdienste goed
is omdat hulle almal waarheidselemente bevat nie.

Dit mag waar wees, maar ‘n element van die waarheid gaan jou nie
beskerm teen die oordeel nie.

Dit is net die Persoon Jesus
Christus en sy plaasvervangende voldoening wat jou sal beskerm teen die
oordeel.

Vandaar die geweldige
dringendheid om sy Naam aan elke mens op aarde bekend te maak.

In die voorafgaande eeue is daar
baie sending en evangelisasie gedoen.

Dit mag nie stop nie.

Ook vir die huidige generasie,
ook vir julle, jongmense, wat nou studeer, en wat nou skool toe gaan, ook op
julle skouers lê ‘n geweldig belangrike taak, wat nie uitgestel kan word nie.

Ek het dit dalk eerder al ‘n keer
genoem: sedert 1990 (dit is 25 jaar gelede) het daar 2 miljard mense op aarde
bygekom.

In Afrika het daar 300 miljoen
mense bygekom.

Is hierdie massas mense oppad hel
toe?

Of gaan hulle betyds die Naam van
Jesus Christus te hore kry, en nie net dit nie.

Gaan daar iemand wees om aan
hulle die wonder van die plaasvervangende versoening van Christus te verkondig?

Christus se versoening maak die
verskil tussen ewige lewe en ewige dood.

Dit was die tema van hierdie
preek.

En ek sluit hierdie preek daarom
af met twee indringende vrae.

In die eerste plek: maak jy elke
dag self gebruik van Christus se plaasvervangende versoening?

En in die tweede plek: wat doen
jy om hierdie boodskap wat ‘n verskil gaan maak tussen ewige dood en ewige
lewe, wat doen jy om hierdie boodskap by iemand anders uit te kry?

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)