Getuig van Christus, waar en in watter omstandighede jy ook al is

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-08-16
Teks: 
Handelinge 26 : 22-23
Preek Inhoud: 

 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA, 16 Augustus 2015 AD, 10:15

 

Voorsang: Sb 31:1-3

Votum

Seën

Ps 125:1

Wet

Ps 125:6,7

Nagmaalsformulier

Gebed

sing: Onse Vader

sing: Apostoliese
Geloofsbelydenis (tafel in gereedheid)

1e tafel: Handelinge 26:1-18; Ps
34:3

2e tafel: Handelinge 26:19-32; Ps
34:9

3e tafel: Lofverheffing; Ps 56:4

Dankgebed

Teks: Handelinge 26:22-23

Preek

Ps 116:4,5

Gebed

Kollekte

Ps 117:1

Seën

 

 

 

 

Preek:
Handelinge 26:22-23

 

 

Ons bring vandag in dankbare
herinnering wat Christus vir ons gedoen het.

Soos ons teks skryf: die Christus
moes ly. Daarna was Hy die eerste wat uit die dode opgestaan het. Hy is ‘n lig
vir sowel die Jode as die heidene.

 

Tema: Getuig
van Christus, waar en in watter omstandighede jy ook al is

 

In ons teks is Paulus in gesprek met
Agrippa.

Hy vertel uitgebreid oor hoe
Jesus aan Hom verskyn het.

Die felle lig, wat hom op die pad
na Damaskus oorval het.

Hy was op pad om die Christene
ook daar te vervolg.

Maar vanaf daardie oomblik het
Paulus, wat ‘n fanatieke Jood was en gekant teen Christus en sy volgelinge,
vanaf daardie oomblik het hy tot inkeer gekom.

Dit alles vertel hy uitgebreid
aan Agrippa.

 

Ons sal vandag dalk wonder:

Hoekom het Paulus so baie aandag
aan hierdie hemelse lig geskenk, in sy gesprek met Agrippa?

Arippa het nie in Christus geglo
nie.

Het so ‘n verhaal oor ‘n
bonatuurlike gebeurtenis hom nie net nog meer skepties gemaak nie?

Per slot van rekening, Paulus
staan hier voor Agrippa om te pleit vir sy vrylating.

 

Nou is dit belangrik om te besef
dat die wêreld toe nie dieselfde was as vandag nie.

Waar mense deesdae skepties kan
wees oor bonatuurlike dinge, in daardie tyd was dit anders.

Bonatuurlike verskynings is as
heel normaal beskou.

Die feit dat Paulus so uitvoerig
vertel oor die lig wat hom oorval het op pad na Damaskus, dit het hy juis
gedoen om om die geloofwaardigheid van sy verdediging te onderstreep.

Baie geleerdes uit die Griekse
en  Romeinse oudheid het ook geskryf oor
bonatuurlike verskynsels.

Paulus was dus nie ‘n
uitsondering nie.

 

Maar daar was nog ‘n ander rede
hoekom Paulus so uitgebreid vertel het oor Jesus se verskyning aan hom.

‘n Rede nog belangriker as sy
poging om vrygelaat te word.

Paulus staan naamlik hier voor
Agrippa, nie net om homself te verdedig sodat hy vrygelaat kan word nie, maar
om te getuig.

As gevangene word hom naamlik die
geleentheid gebied – iets wat hy anders nie sou gehad het nie – om voor die
magtige Agrippa te staan en getuig.

Paulus probeer hom selfs oorreed!

En Agrippa het dit agtergekom.

“Jy beweeg my byna om ‘n Christen
te word.” – vers 28.

Paulus het dit nie ontken nie.

“Ek sou wel God wil bid dat sowel
byna as heeltemal nie alleen u nie, maar ook almal wat my vandag aanhoor, so
mag word soos ek is, buiten hierdie boeie.”

 

Paulus was inderdaad geboei.

Maar hy het dit nie net as
negatief ervaar nie.

Want nou het hy die kans gekry om
met hierdie koning ‘n gesprek oor Christus te voer.

En hy maak daarvan gebruik.

Deur hierdie gesprek het koning
Agrippa vinnig agtergekom dat Paulus nie ‘n misdadiger kan wees nie, nie ‘n
rewolusionêr, soos die Jode probeer voorgee het nie.

Sy gevolgtrekking was dan ook:

Hierdie man is aan niks skuldig,
wat die dood of boeie verdien nie.

Hy kon losgelaat gewees het, as
hy hom nie op die keiser beroep het nie.

 

Vir koning Agrippa was hierdie
hele affêre ‘n binne-Joodse aangeleentheid.

Dit het volgens hom gegaan oor ‘n
Joodse man met die naam Jesus, waaroor daar verskil van mening bestaan, Iemand
wat die gemoedere nogal hoog laat oploop het.

En ja, Jesus was inderdaad,
etnies, ‘n Joodse man.

Hy is gebore in ‘n Joodse gesin.

Toe Hy volwasse geword het, het
hy gearbei onder die Joodse volk.

Byna alle siek mense wat Hy
genees het, was Joodse mense.

En op hierdie oomblik was die
meerderheid van sy volgelinge waarskynlik ook van Joodse afkoms.

 

Maar tog was sy werk op aarde nie
net vir die Joodse volk bedoel nie.

Hy het sy reddingswerk onder die
Jode begin.

Maar daarby het dit nie gebly
nie.

Soos Paulus by herhaling in sy
brief aan die Romeine geskryf het:

Christus se heil is nie alleen
vir die Jood nie, maar ook vir die Griek.

Griek as benaming vir alle ander
mense van alle ander volke.

 

En in ons teks beklemtoon Paulus
juis hierdie punt.

Hy sê: Christus het ‘n lydensweg
gehad wat op die kruisdood uitgeloop het.

Maar daarna het Hy uit die dood
opgestaan.

Hy is ‘n lig nie net vir sy eie
volk nie, maar ook vir die heidene.

Die uitdrukking “’n lig” word
hier in kombinasie gebruik met die verwysing na sy dood en opstanding.

Die bedoeling is dan duidelik:
daar is lig na die dood!

Daar is lewe na die dood, vir wie
in Hom glo.

En dit geld nie net vir sy eie
volk nie, maar ook vir die heidene.

Dit is – in ‘n neutedop – die
pragtige nuus, die Evangelie van Jesus 
Christus.

En dit moet Agrippa ook hoor!

God wil hom ook red.

Paulus, wat daar geboeid voor
Agrippa staan, vertel oor die egte bevryding uit die boeie van die dood.

Lig na die dood!

 

In ons teks is daar nog ‘n
belangrike aspek, waarop Paulus Agrippa se aandag vestig.

Dit is die feit dat hierdie nie
‘n nuwe boodskap, ‘n nuwe leer is nie.

Want die boeke van die Jode het
al van ouds af hierop gewys.

Hierdie is ‘n belangrike
opmerking, wat Paulus voor Agrippa maak.

Ons moet onthou wie Agrippa was.

Paulus het naamlik tereg gestaan
voor Festus.

Festus was onlangs aangestel as
stadhouer oor die Jode.

Maar omdat Hy nog nie op alle
punte genoeg geweet het oor al die interne Joodse spanninge nie, het hy advies
aan koning Agrippa gevra.

Koning Agrippa het ‘n besoek
gebring aan Festus.

Koning Agrippa het oor die gebied
ten noordooste van Judea geregeer.

En hy was beter op die hoogte met
al die interne Joodse spanninge as die nuwe stadhouer Festus.

Paulus noem daarom bewus dat hy
nie iemand is wat die Joodse godsdiens aanval nie, dat hy nie ‘n onrusstoker
onder die Jode is nie, maar dat hy gewoon verkondig wat in die Ou Testament
staan.

 

Paulus noem dit om die aanklag
van Joodse kant te ontkrag.

Ons kan in Handelinge 24 lees hoe
die hoëpriester, Ananias, met ‘n klomp ouderlinge en ‘n advokaat, Tertullus, ‘n
aanklag by die stadhouer teen Paulus ingedien het.

Naamlik, hy sou ‘n onrusstoker
wees.

Sien hoofstuk 24:5: hierdie man
is ‘n pes en ‘n verwekker van oproer onder al die Jode in die wêreld en ‘n
voorman van die sekte van die Nasareners.

 

Maar teen hierdie aanklag plaas
Paulus nou die Ou Testament self.

Die profete en Moses – die woorde
in ons teks – dit is ‘n aanduiding vir die Ou Testament; die manier hoe daar
meestal in die Nuwe Testament na die Ou Testament verwys word.

Die profete en Moses dui reeds
aan dat die Messias sou ly, dat Hy as eerste uit die dood sou opstaan, dat Hy
die lig sou aankondig aan die volk en aan die heidene.

Paulus haal hier die profeet
Jesaja aan.

Jesaja 42:6, daar word
geprofeteer oor die komende Messias:

Ek gee u as ‘n lig van die
nasies.

En in Jesaja 49:6 word oor die
Messias voorspel:

“Dit is te gering dat U my Kneg
sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in
Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan
die einde van die aarde.”

 

Na hierdie woorde was dit wel vir
Agrippa duidelik.

Paulus is nie ‘n opstandeling
nie.

Hy en die priesters en Fariseërs
verskil oor die uitleg van die boeke van die Jode.

Dit is nie ‘n politieke saak nie.

Dit is ‘n godsdienstige debat.

En daaroor hoef Festus nie ‘n
uitspraak te doen nie – hy hoef nie ‘n vonnis te vel nie.

Dit was die afspraak.

Laat die Jode hulle godsdienstige
verskille self onderlig oplos.

Dit wat Paulus beweer, staan
duidelik in hulle Bybel.

Maar hoe jy dit uitlê, daaroor
verskil hulle van mening.

Kortom, Agrippa se konklusie was
helder:

Dit gaan my en Festus nie aan
nie.

Dit is ‘n godsdienstige
diskussie.

Hulle, Agrippa en Festus, kan
hulle hande van die saak terugtrek.

Paulus kan weer vrygelaat word.

Ten minste, as hy hom nie op die
keiser sou beroep het nie.

En dit het hy gedoen.

Dus vir hom beteken dit agteraf
‘n teleurstelling.

Want anders sou hy nou vry gewees
het.

Dis soos Agrippa die saak beskou
heet.

 

Maar hoe het Paulus dit beleef?

Paulus, die man aan wie Christus
in daardie helder lig verskyn het?

Paulus, wat sedertdien bereid was
om orals te gaan wat die Here Jesus hom heengestuur het.

Ons sien dat Paulus hierdie
regsaak heel anders beleef.

Nie dat hy dit geniet het om
geboeid te wees en in die gevangenis te sit nie.

Maar wel dat hy die geleentheid
uitgebuit het, om voor hierdie hooggeplaastes oor Jesus te getuig.

Felix, Festus, Agrippa, en nou
moontlik selfs die keiser in Rome!

 

Ons het gesien dat Paulus se
verdediging voor Agrippa nie net bedoel was om homself weer vry te kry nie.

Hy het bewus ook getuig met die
bedoeling om koning Agrippa in sy hart te raak.

En nie net hom nie, maar ook alle
toehoorders:

Bernice, Festus, die owerstes,
die voornaamstes van die stad, almal was aanwesig.

En aan Paulus is gevra om te
vertel waaroor dit gaan.

Hierdie was ‘n onverwagse
geleentheid wat Christus hom in die skoot gewerp het.

 

Weet u, gemeente, in ons eie lewe
gaan dit dikwels ook so.

Mens kan die kans afwag wat God
jou in die skoot werp.

Daardie kanse gebeur, wanneer jy
nie jouself op hoef te dring nie, maar wanneer ander vir jou uitvra.

Wanneer ander jou die geleentheid
bied.

Jy hoef nie die woord te vra nie,
maar hulle gee dit vir jou.

Gemeente, leer om hierdie kanse
raak te sien, en hulle dan ook te gebruik.

Probeer oog kry vir die kanse wat
God jou gee om te getuig.

Probeer om voorbereid te wees, as
die geleentheid hom voordoen.

Sodat jy nie oorval word nie,
maar sodat jy dan weet wat jy wil sê.

Deel van die belydeniskatkisasie
is dat ook vir die jongmense gevra word om in ‘n kort paragraaf te getuig wat
die geloof beteken.

En ook, wat die belangrikste is
wat hy/sy vir ‘n ongelowige sou wou meegee.

Maar dis nie net iets vir die
belydeniskatkisante nie.

Elkeen van ons kan ons daarop
voorberei:

Sê nou maar iemand vra uit
belangstelling vir jou:

Wat glo jy?

Hoekom gaan jy na daardie kerk?

Kyk, as iemand so iets vra, dan
is die persoon bereid om te luister.

En dan is daar ‘n kans om te
getuig.

Maar is jy dan ook gereed om te
sê wat jy wil sê?

As jy vooraf al hieroor nagedink
het, dan weet jy wat jy wil sê.

Dan hoef jy nie die kans te laat
verbygaan nie.

 

In ons teks getuig Paulus
vrymoedig, noudat hy die kans kry, oor sy Heiland.

En die feit dat hy homself op die
keiser beroep het – iets wat nou blyk sy gevangskap net gaan verleng en nie
verkort nie – dit beskou hy agteraf nie as onnosel nie, maar eerder as ‘n
geleentheid wat hom voordoen.

Hy wou mos al lank al Rome toe
gaan.

Nou gaan hy wel as geboeide man,
maar hy gaan ten minste.

En moontlik kry hy selfs die
geleentheid om te getuig voor die belangrikste man van die ryk, die keiser in
Rome.

Wat ‘n geleentheid!

 

So sien ons dat Christus self
daarvoor sorg dat die goeie boodskap versprei.

Soos jy hier sit, mag jy ook vir
‘n oomblik daarby stilstaan, hoe die evangelie by jou uitgekom het.

Dalk sê jy: ek het gewoon in die
kerk opgegroei.

My ouers het my in die geloof
opgevoed.

Maar dit is mos ook besonder, dit
is nie vanselfsprekend nie.

Dalk het jy familie wat glad nie
kerk toe gaan nie.

Dalk het jy bure wat ongelowig
is, omdat hulle nie sulke ouers soos jy gehad het nie.

Dit is nie gewoon, dat jy
gelowige ouers het nie.

Dit is nie gewoon en
vanselfsprekend, dat jy nou hier in die kerk sit waar jy sit nie.

 

En geliefdes, staan ook ‘n
oomblik stil by die vraag:

Hoe wil God my dalk gebruik as ‘n
instrument om die evangelie na iemand anders te bring?

Soos Paulus mog getuig voor
Agrippa, wil God dalk dat jy die Evangelie ook by iemand bring?

Gemeente, ek nooi u uit om op
hierdie oomblik aan iemand te dink, en die komende week ook vir daardie persoon
te bid.

Iemand waarvan jy dink: dalk wil
God my gebruik om die evangelie met hom of haar te deel.

Dink aan ‘n konkrete persoon,
maak nie saak wie nie.

Dalk ‘n familielid, of ‘n vriend
of vriendin, of ‘n kollega, of ‘n buurman.

En vervolgens, wat jy dan doen
is: berei jouself voor, berei voor wat jy met daardie persoon sou wou deel.

Berei voor wat jy sou wil sê, en
vra.

En vervolgens, wag en bid, dat
God jou ‘n geskikte geleentheid gee.

Nie jy wat jouself opdring nie,
maar ‘n kans wat die Here gee.

En wees dan gereed.

Sodat jy die kans kan aangryp.

 

Geliefdes, ek sluit af: Christus
is die lig.

Sy lig skyn ook in jou lewe.

Getuig van Christus, waar en in
watter omstandighede jy ook al is.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)