Christus is ons enigste Middelaar en Voorspraak

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-08-30
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 26
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
30 Augustus 2015 AD, 17:30

(ander orde van diens)

Voorsang: Sb 36:1-5

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 119:40

Geloofsbelydenis: sing

Skriflesing: Hebreërs 10:19-39

Ps 76:1,6

Gebed

Kollekte

Ps 69:12-14

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis art. 26

Preek

Ps 51:7,8

Gebed

Ps 138:1,2

Seën

 

 

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 26

 

 

Vir iemand wat in die kerk
opgegroei het, is dit moontlik om die woorde en sinne van art. 26 aan te hoor,
sonder dat dit meer werklik indruk maak.

Dit is bekende klanke.

Aan my, en aan u die uitdaging
vanaand, die oproep, om met nuwe ore na hierdie woorde te luister.

Want dit is wel woorde wat ‘n
verskil maak tussen lewe en dood.

Ewige lewe en ewige dood.

 

Ek verkondig aan u die blye
Evangelie dat Christus ons enigste Middelaar en Voorspraak is.

 

Tema:
Christus is ons enigste Middelaar en Voorspraak

1                  
Daar is niemand anders soos Hy

2                  
Hy is die verskil tussen ewige
redding en ewige dood

 

1       Daar is niemand anders soos Hy

Daar is geen ander toegang tot
God as deur Jesus Christus.

Hy het juis mens geword, sodat
ons tot die Goddelike majesteit toegang kan hê.

Die menswording van Jesus
Christus, dit is iets wat ons weet, dit is ‘n feit wat in die geskiedenis
gebeur het.

Maar hoewel dit gebeur het, is dit
iets wat ons nooit volledig sal kan verstaan nie.

Dat Hy wat in die gestalte van
God was, Homself ontledig het.

Soos dit in Filippense 2:6-8
staan: “Hy, wat in die gestalte van God was... het Homself ontledig deur die
gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword”.

Ja Hy het “Homself verneder deur
gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”

Dat hy ‘n mens, ja selfs ‘n slaaf
geword het.

Ons kan nie bevat dat Iemand so
baie vir ander oorgehad het nie.

 

Gemeente, broers en susters, u
wat die naam van hierdie Middelaar en Voorspraak goed ken, besef julle nog wel
wat ‘n voorreg dit is dat jy sy naam ken?

Pasop dat sy naam nie gemeengoed
vir jou raak nie.

Vir baie mense in die Westerse
wêreld, aan wie hierdie naam al vir eeue bekend is, het dit gemeengoed geword.

Selfs so erg dat hulle sy naam as
vloekwoord begin gebruik het.

Dit gebeur as mense nie kerk toe
gaan nie, en as hulle dink hulle weet, maar eintlik weet hulle nie.

Dis maar goed dat die NGB ons
aandag nogmaals hierby bepaal.

Die ongelooflike eienskappe van
hierdie Middelaar en Voorspraak word vir ons gelys:

-         
in die eerste plek, soek ‘n bietjie na ‘n ander middelaar wat
sondaars goedgesind is, wat selfs sy eie lewe sal aflê vir mense wat Hom
vyandig gesind is (Rom 5:8,10). Waar op aarde vind jy so iemand?

-         
soek ‘n bietjie na ‘n ander middelaar wat net soos ons deur die
duiwel versoek is, wat net soos ons op aarde gely het, ja nog veel meer. (Hebr
4:14-16)

-         
soek ‘n bietjie na ‘n ander middelaar wat soveel mag en aansien
het. Waar op aarde vind jy iemand wat aan die regterhand van God sit en alle
mag in hemel en op aarde het? (Matth 28:28)

-         
soek bietjie iemand wat ‘n beter ingang by God het as sy eie
geliefde Seun? Waar op aarde sal jy ‘n beter middelaar vind?

 

Gemeente, laat sy naam nooit ooit
vir jou gemeengoed word nie.

Oordenk sy naam elke dag weer.

Verdiep jou elke dag in die
Skrif, wat die rykdom van hierdie Middelaar en Voorspraak verduidelik.

Deur sy naam het ons volle
geloofsversekerdheid.

Ons mag in die heiligdom ingaan
deur die bloed van Jesus. (Hebr 10:19,22)

Gemeente, ons lees dalk maklik
oor hierdie opmerking van die skrywer van die Hebreërbrief heen.

Maar probeer jouself vir ‘n
oomblik te verplaas in daardie tyd.

Heel moontlik was dit die apostel
Paulus wat hierdie brief geskryf het.

Dit was ‘n tyd toe die tempel nog
in Jerusalem gestaan het.

En dit was net vir die priesters
geoorloof om in die tempel in te gaan, op voorwaarde dat hulle die bloed van
die geslagte offers by hulle gehad het.

En dit was net vir die
hoëpriester geoorloof om een keer per jaar die allerheiligste te betree, op
voorwaarde dat hy ‘n skaaltjie bloed by hom gehad het.

Maar, soos ons weet, op die dag
van Christus se kruisiging het die voorhangsel geskeur.

Na daardie dramatiese paar dae
kan ons aanneem dat die priesters die voorhangsel weer toegewerk het.

En dat hulle daarna weer
aangegaan het met die eeue oue gewoonte, dat net die hoëpriester een keer per
jaar die allerheiligste mog betree.

Iemand anders wat dit gewaag het,
sou deur die tempelpolisie hardhandig verwyder geword het.

Selfs die Romeine, wat heidene
was, het hierdie tradisie gerespekteer.

 

Maar nou skryf die outeur van die
Hebreërbrief:

Ons het vrymoedigheid om in die
heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus, op die nuwe en lewende weg wat
Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen.

Ons – hiermee word bedoel die
gewone gelowiges – nie die hoëpriester en priesters nie – nee, ons.

Ons, gewone mense, gewone gelowiges,
elkeen van ons mag nou by in die tempel inloop, nie met ‘n skaaltjie dierebloed
in die hand nie, maar met die bloed van Jesus.

Gemeente, begryp u nou ‘n bietjie
beter wat die impak is van hierdie woorde?

Ons, gelowiges, het nie meer
toegang tot God, toegang tot vergewing en versoening, deur middel van die
hoëpriester nie.

Nee, ons het nou direk toegang
tot God, direk toegang tot versoening, naamlik deur ons enige Voorspraak en
Middelaar.

Met ‘n beroep op sy bloed mag
ons, elkeen van ons, direk binnedring in die allerheiligste, ja voor God se
hemelse troon.

Wat ‘n geleentheid!

En, sê Jesus in Johannes 16:23, alles wat ons in sy Naam bid, sal die
Vader ons ook skenk.

 

Die NGB roep ons dan ook op om
hierdie rykdom opnuut te besef.

In die tyd toe die NGB geskryf
is, het baie mense, beïnvloed deur die Roomse leer, buite Jesus ook nog ander
middelare gesoek om vir hulle as voorspraak by God te dien.

Die heilige Maria, die heilige
Anna, die heilige ensovoorts.

Mense het die kerke besoek, voor
die beelde van die heiliges gekniel, lang gesprekke met hulle gevoer, ‘n band
met hulle opgebou.

Die ergste van die Roomse leer
was eintlik dat dit die mense bang vir Jesus Christus gemaak het.

Die heiliges soos Maria en
Franciscus moes die arme sondaars die hemel in lei, en sorg dat Jesus hulle aanneem.

Dink net hoe bang Martin Luther
vir God was, voor sy bekering, voor hy die genade van Christus leer ken het.

 

Nou is dit goed om net te noem
dat die heiligeverering nie afgodery is nie. Dit is altans die mening van die
Roomse kerk self.

Hulle onderskei naamlik tussen
aanbidding en verering.

Net God mag aanbid word.

Daarenteen word heiliges vereer.

Die hoogste trap van verering kom
Maria toe, die moeder van Jesus.

 

Hierdie onderskeid wat die Roomse
kerk aanbring, die onderskeid tussen aanbidding
en verering, is egter meer teorie as
praktyk.

Soos genoem, die mense het meer
met die heiliges as met God gepraat.

Hulle bou ‘n intieme band op met
‘n heilige, alles word van die heilige verwag, die sogenaamde beskermheilige,
en aan die einde van die dag verdwyn God op die agtergrond.

Geen wonder die HERE sê in die
tweede gebod dat Hy ‘n jaloerse God is nie.

Hy eis onverdeelde aandag, alle
eer.

Hy deel nie verering en aandag
met sogenaamde heiliges nie.

Dit is tog die wese van afgodery,
dat mense naas of in die plek van God iets of iemand het waarop hulle hul
vertroue stel.

Die HERE wil nie dat ons via
gestorwe heiliges met Hom praat nie.

Nee, Hy het sy geliefde Seun,
Jesus Christus, as Middelaar en Voorspraak gegee.

Hy laat nie ‘n indirekte
verhouding toe nie.

Hy wil dat ons ‘n direkte
verhouding met Hom het.

En danksy Christus se voorspraak
is dit ook moontlik.

 

Art. 26 van die NGB onderstreep,
met ‘n dik streep, alles wat in die voorgaande artikels gesê is, art. 21-25,
naamlik dat Christus ALLEEN versoening gebring het (art. 21), dat ons slegs
deur geloof in Christus geregverdig word (art. 22), dat slegs Hy ons
geregtigheid voor God is (art. 23), dat ons heiligmaking dubbele genade deur
Christus is (art. 24), dat Christus alle offerpraktyke van die Ou Testament
finaal beeïndig het (art. 25).

Hieronder word ‘n dik streep
getrek in art. 26: Christus is ons enige Voorspraak en Redder.

Geen heiliges, geen voorvaders,
geen afgode, niemand en niks anders nie.

Christus alleen.

 

Ons word vandag dalk nie meer
verlei om tot die heiliges te bid, soos in Guido de Brès se tyd nie.

Hoewel ons ons voorgangers gedenk
wat aan ons die woord van God verkondig het, soos Hebreërs 13:7 ons oproep,
praat ons nie tot God deur iemand soos Calvyn of Luther nie.

Maar vir ons dreig eerder die
gevaar dat ons gewoond geraak het aan die naam van ons enige Voorspraak.

Dat ons nie meer die ontsaglike
voorreg besef om Jesus Christus te mag ken nie.

Dat ons die motivering verloor
het om sy naam van die dakke af te skreeu, sodat almal dit kan hoor.

Dat ons geestelik ingeslaap het.

Dat ons nie meer die erns van die
lewe en van die dood besef nie.

Dat dit ons nie meer wakker skud,
dat die besef ons nie meer angstig maak, dat so baie mense op pad is om ewig
verlore te gaan, omdat hulle nog nie die naam van hierdie Voorspraak en
Middelaar gehoor het nie.

 

(Tema: Christus is ons enigste
Middelaar en Voorspraak

1       
Daar is niemand anders soos Hy

2       
Hy is die verskil tussen ewige redding en ewige dood)

 

 

2       Hy is die verskil tussen ewige redding en ewige dood

Maar is dit regtig so?

Mense wat nooit wat Christus
gehoor het nie, is daar vir hulle regtig geen moontlikheid om gered te word
nie?

Ons mag nie mense veroordeel nie,
maar God het wel baie duidelik gemaak dat daar slegs deur sy Seun redding is.

Geen ander moontlikheid nie.

Dit kan inderdaad beteken dat die
evangelie van Jesus Christus vir baie mense te laat gekom het.

 

Ek wil dit vir ‘n oomblik
vergelyk met die siekte malaria.

Voordat die oorsprong van die
siekte malaria ontdek is, rond die begin van die 20e eeu, het prakties alle
mense wat die siekte opgedoen het, gesterf.

En dit was vir baie eeue die
geval.

Die eerste verwysings na die
siekte dateer al uit 2700 vC.

Deur die eeue het miljoene en
miljoene mense aan malaria gesterf.

Eeue lank het mense gegis na die
oorsprong van die siekte.

Soos die woord malaria aandui, het mense lank gedink
dit kom van vervuilde lug.

Maar eers rond 1900 is ontdek dat
malaria afkomstig is van parasiete, en dat muskiete daardie parasiete op mense
oordra.

Sedertdien kon daar gerigte
behandeling toegepas word.

Eerstens voorkoming, deur die
muskiete te bestry, dink aan ‘n middel soos DDT.

En tweedens, genesing, met
medisyne om die parasiete uit geïnfekteerde mense se bloed te verwyder.

 

Vandag sterf daar nog steeds baie
mense aan malaria.

Volgens die Wêreld
Gesondheidsraad sterf daar elke minuut ‘n kind in Afrika aan malaria.

Tog is dit net ‘n fraksie van die
hoeveelheid wat gesterf het voordat die oorsaak van die siekte ontdek is.

Waar gerigte voorkoming en
behandeling toegepas word, is daar ‘n baie goeie kans op oorlewing.

Nou kan mens jouself afvra:
hoekom is die oorsaak van hierdie siekte eers aan die begin van die 20e eeu
ontdek?

Is dit nie oneerlik vir al die
mense wat in die verlede geleef het, en wat aan die siekte dood is nie?

Dink net hoeveel lewens sou
gespaar gewees het, as die oorsaak eerder ontdek was.

Gemeente, eintlik help dit nie
veel om so ‘n vraag te vra nie.

Mens het gewoon te make met die
realiteit dat ‘n effektiewe behandeling eers relatief onlangs ontdek is.

Mens kan maar net dankbaar wees
dat die oorsaak ontdek is, al was dit vir baie mense te laat.

Wat onsself betref kan ons maar
net geweldig dankbaar wees.

Anders sou ons lewe ook baie
onsekerder gewees het.

Ook hier in Pretoria was malaria
in die 19e eeu algemeen.

En die feit dat ons nou die
kennis het, hoe om die siekte te voorkom en te bestry, dit is maar net ‘n
aansporing om dit met ander mense te deel, ook hier in Afrika, sodat hooplik
eendag niemand meer van malaria hoef te sterf nie.

 

Nou kan mens jouself ook afvra.

Wat van al daardie mense wat
gesterf het voordat hulle die naam van die enigste Middelaar en Voorspraak
tussen hemel en aarde, Jesus Christus, gehoor het?

Is hulle nou ewig verlore omdat
sy Naam nie betyds by hulle uitgekom het nie?

Weer eens, dit is nie vir ons om
vanaf God se regterstoel uitsprake te maak nie.

Ons weet dat alle mense in sonde
ontvang en gebore word, in ‘n staat van opstand teen God.

Niemand is sonder
verontskuldiging.

Die skepping, onderhouding en
regering van die wêreld deur God behoort voldoende te wees vir elke mens.

Maar ook weet ons dat God deur sy
Seun na die aarde te stuur, ver agteroorgebuig het om die redding vir vele sondaars
op aarde moontlik, makliker, te maak.

In Jesus Christus word redding
van die ewige dood vir die mensheid aangebied.

Ieder en elkeen wat sy Naam bely,
Hom aangryp, sal gered word.

Was dit nie vir Hom nie, sê die
NGB, dan sou die toegang tot die ewige lewe vir elkeen van ons gesluit gewees
het.

En gemeente, net soos by die
voorbeeld van malaria en die medisyne daarteen, laat hierdie vir ons ‘n ekstra
aansporing wees.

Des te meer ‘n aansporing om ‘n
lig op ‘n berg te wees.

Om aktief te wees in sending en
evangelisasie.

Om daardie reddende boodskap by
die massa’s mense uit te kry.

 

Dit is eintlik skokkend om te
hoor dat daar nog elke minuut ‘n kind aan malaria in Afrika sterf.

Want, met die kennis wat ons
deesdae besit, kon dit voorkom gewees het.

Is dit dan ook nie skokkend dat
daar vandag ook mense op aarde is, wat nog nie die Naam van die enigste Middelaar
en Voorspraak, Jesus Christus, gehoor het nie?

Soos afgekondig, na hierdie
erediens is daar ‘n sprekersaand wat die Evangelisasiekommissie reël.

Dit is iets om met beide hande
aan te gryp.

Sorg dat jy daar is, jonk en oud.

 

In die hoofstuk wat ons vanaand
gelees het, word ons ook opgeroep om ons onderlinge byeenkoms nie te versuim
soos sommige die gewoonte het nie.

Maar laat ons mekaar vermaan.

Ons is die liggaam van Christus.

As die liggaam bymekaar kom,
behoort almal daar te wees.

Hierdie vers, Hebreërs 10:25,
spesifiseer nie watter soort byeenkoms nie.

Dit gaan daaroor dat as die
liggaam bymekaar kom, sommige lede nie gemis kan word nie.

En as dit wel gebeur, behoort ons
mekaar onderling te vermaan.

In die eerste plek val dit my op,
dat die aanddienste deesdae leër begin raak.

En as daar na die aanddiens iets
aangebied word, is daar nog minder mense.

Kom aan, gemeente, laat ons wys
dat ons een liggaam is.

Laat ons wys dat die naam van ons
enige Voorspraak en Middelaar nie vir ons gemeengoed geraak het nie.

Laat ons verlang na die
onderlinge byeenkomste.

Laat ons dit nie sonder gewigtige
rede versuim nie.

Die res van Hebreërs 10 brei nog
uit oor die straf wat iemand te wagte staan wat nadat hy Christus leer ken het,
onverskillig geraak het.

Ek hoef dit nie nou te herhaal
nie.

Kom ons hou mekaar vas, by ons
enigste Voorspraak en Middelaar.

Kom ons rus onsself toe, kom ons
kry ons motivering terug, om in brand te staan, met ‘n brandende begeerte, om
oor ons Here Jesus Christus te getuig na die vele miljoene toe in ons
generasie, wat sy naam nog nie ken nie, of dalk net iets gehoor het, maar nog
nie die rykdom van sy naam geproe het nie.

 

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)