Die Vader weet wat ons nodig het

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2015-10-01
Teks: 
Matthéüs 6 : 7-13
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik
kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word voorbehou.

PRETORIA-MARANATA
& PRETORIA, 1 Oktober 2015 AD, 19:00 (Biddag vir gewas en arbeid)

Voorsang: Sb 45:1,2,3,4,10

Votum

Seën

Ps 147:5

Gebed: sing Sb 49:4-7

Skriflesing: Mattheüs 6

Ps 147:6,7

Teks: Mattheüs 6:7-13

Preek (tussensang: Sb 17:1,2)

na preek: Sb 17: 3,4

Geloofsbelydenis: HK Sondag 10

Ps 127:1,2

Gebed

Kollekte

Sb 17:5,6

Seën

 

 

Preek: Mattheüs
6:7-13

 

 

Ons lewe in ‘n land waar die
eerste en die derde wêreld langs mekaar bestaan.

In ons land lewe mense met
uiteenlopende wêreldbeskouings langs mekaar en saam met mekaar.

Toordokters en towery is
springlewendig en vorm ‘n groot probleem op die sendingsveld.

Dit vereis ‘n groot geestelike
stryd om nie na die toordokter te gaan as daar nood is nie.

Dit is vir baie van ons
medegelowiges op die sendingsveld die werklikheid.

Vir baie van ons hier vanaand is
dit amper soos ‘n fantasiewêreld, en alhoewel daar orals ook in ons woonbuurte
advertensies van toordokters op die lamppale geplak word, sien ons dit dikwels
nie eers raak nie.

Ons kan ons moeilik inleef daarin
dat dit op baie van ons landgenote ‘n groot aantrekkingskrag uitoefen.

 

Tog is dit die moeite werd om
jouself af te vra, wat towery of magie eintlik inhou.

Magie is om bepaalde middele te
gebruik (bv. ‘n spreuk, of ‘n rite, of bepaalde voorwerpe), waarmee mens ‘n
krag groter as jyself wil beïnvloed.

Daardie krag kan die geeste van
jou oorlede voorouers wees, of dit kan die afgode wees.

Maar in elk geval is dit ‘n krag
buite jouself waaroor jy geen beheer het nie.

Tensy jy towery gebruik.

Wil jy daardie krag vir jou eie
voordeel inspan, dan moet jy daarvoor die regte dinge doen.

‘n Toordokter weet hoe en help
jou om die regte dinge te doen.

Sodat jy byvoorbeeld ‘n goeie oes
kry, sodat jou diere nie siek word nie, sodat jyself nie siek word nie, ensovoorts.

 

Nou sou jy jouself kon afvra of
bid nie ook ‘n vorm van magie is nie.

Wanneer jy agterkom dat jou
gesondheid nie meer is wat dit was nie, dat jy dit nie meer kan beheer nie,
wanneer jy agterkom dat jou werk nie meer seker is nie, of jou voorspoed, dan
begin ons te bid.

Ons gebruik die gebed as middel
om weer grip op die situasie te kry.

En sou mens biddag vir gewas en
arbeid nie ook ‘n vorm van magie kon noem nie?

Is dit nie ‘n tradisionele
ritueel om te verseker dat die oes hierdie seisoen nie sal teleurstel nie, dat
die reën nie uit sal bly nie?

Is biddag nie maar net die
Christelike weegawe van Afrika met sy toordokters en rituele nie?

 

Tema: Die
Vader weet wat ons nodig het

-        
soek allereers sy koninkryk

-        
vertrou Hom

 

1 Soek
allereers sy koninkryk

Kom ons luister na wat ons Here
Jesus Christus hieroor sê.

In Mattheüs 6 leer die Here Jesus
aan sy dissipels die bekende gebed, die Onse Vader.

Soos die begin van hierdie gebed
al sê, bring Christus ons by sy Vader, wat ons danksy Hom ook ons Vader mag noem.

Christus is die Weg tot die
Vader.

Danksy Hom mag ons God se kinders
wees.

Hy, die God wat hemel en aarde
gemaak is, is ons Vader, en ons is sy kinders.

Die verhouding Vader-kind pas ons
dikwels toe op die verhoring van ons gebede.

Soos Jesus ons geleer het: as
aardse vaders – wat sondig is – goeie gawes aan hulle kinders gee, hoeveel te meer
die Vader wat in die hemel is.

 

Maar nog ‘n belangrike aspek wat
die Vader-kind verhouding inhou, is dat Jesus ons leer om met die Vader se oë
na alles te kyk.

‘n Kind vind dit belangrik wat sy
pa belangrik vind.

Alles draai om sy pa, wat die
beste pa in die wêreld is.

In die Onse Vader het Jesus ons
leer bid, in die eerste plek, die eerste bede, dat sy naam geheilig word, en die tweede bede, vir die koms van sy koninkryk, en die derde bede, dat sy wil geskied.

Die eerste drie bedes gaan
daaroor dat die Vader geëer word.

 

Hier op aarde is daar nog soveel
dinge wat nie in lyn is met die wil van ons hemelse Vader nie.

Hier op aarde het die satan nog
soveel invloed.

Mense doen hulle eie wil, mense
bou hulle eie koninkrykies.

Maar ons bid as die Vader se kinders: laat u koninrkyk kom, en laat u wil
geskied.

 

Soos u waarskynlik weet, is die
Onse Vader in twee dele opgedeel.

Die eerste drie bedes fokus op
die Here, en die laaste drie bedes op ons behoeftes.

Ons moet egter die eerste drie
bedes nie hanteer as ‘n soort beleefheidsfrase om daarna self gehelp te word
nie.

Dan draai dit uiteindelik weer om
onsself.

Dan kom ons in die vaarwaters van
towery en magie.

Uiteindelik is magie nie ver weg
nie, maar skuil in elkeen van ons se hard.

Magie as die wens om iemand wat
magtiger as jy is te manipuleer.

Eers ‘n paar mooi dinge sê oor
God in jou gebed, sodat hy positief oor jou is, en dan brand jy los met jou
wenslysie.

 

So mag ons nie bid nie, nie die
Onse Vader nie, en ook nie ons eie gebede nie.

Want dat God se naam geheilig
word, is ook ons prioriteit.

Dat God se koninkryk kom, is juis
ook in ons belang.

‘n Vader en ‘n kind hoort
onafskeidelik by mekaar.

Jy kan nie hulle belange teen
mekaar uitspeel nie.

Jesus Christus se lewe op aarde is
‘n pragtige voorbeeld hiervan.

Sy Vader se koninkryk het sy hele
lewe beheers, daarvoor het Hy geleef.

Deur sy Vader se oë het Hy na
alles in hierdie wêreld gekyk.

Die Vader se perspektief was sy
perspektief.

En so behoort dit ook vir ons te
wees.

Ons is mos ook sy kinders.

 

Dit is vandag biddag vir gewas en
arbeid.

As ek bid soos Jesus my geleer
het, leer dit my om met ander oë na alles te kyk.

Ek kyk anders na my werk, my
dagtaak.

Of daar aan my dagtaak ‘n salaris
verbonde is of nie, my dagtaak is eerstens werk vir God se koninkryk.

Ons is arbeiders vir sy
koninkryk.

Dit is belangrik om dit te besef,
want dit bepaal die houding waarmee ek my werk doen.

 

Jesus leer ons om biddende ons
dagtaak te doen.

Bid is nie ‘n towerkunsie om
dinge gedaan te kry nie.

Bid is ‘n manier van lewe, anders
in die lewe staan.

God se koninkryk voorop.

As mens op hierdie manier in die
lewe staan – allereers soekende die koninkryk van God – kyk mens ook anders na
jou eie behoeftes.

Soos ons maar alte goed hier in
Suid-Afrika weet, het nie almal dieselfde behoeftes nie.

Daar is mense wat weet hoe om met
baie min klaar te kom, en baie van ons hier vanaand in die kerk se behoeftes lê
ver bo die gemiddelde van die land.

 

Tog leer Christus ons om ons eie
behoeftes te relativeer.

Of dit gaan oor werk, salaris,
voedsel, skoolgeld vir jou kinders, mediese kostes, wat ook al.

Weer eens, Christus verander ons
blikrigting.

Dat ons onsself afvra: wat het
ons eintlik nodig as arbeiders in God se koninkryk?

Nie in die eerste plek ons eie
behoeftes nie.

Nie dat ons geen behoeftes het en
mag hê nie.

Maar as ons allereers die
koninkryk van God soek, dan is ons behoeftes ook God se behoeftes.

En omgekeerd is God se behoeftes
ook ons behoeftes.

Ons behoeftes – as ons
byvoorbeeld dink aan die 4e bede – ons daaglikse brood; en die 5e bede –
delging van ons skuld; en die 6e bede – beskerming teen die Bose – hierdie
behoeftes van ons is ook God se behoeftes, want ons mag mede-arbeiders vir sy
koninkryk wees.

 

As God wil dat ons ons lewe
inspan vir sy koninkryk, dan sal Hy ons ook onderhou om daardie doel te
verwesenlik.

Liggaamlike onderhoud, vergewing,
geestelike krag en beskerming.

Uit onsself sal ons nie kan
oorleef nie.

Ons kom by God as sy kinders, die
oë gerig op sy Vaderhand.

 

En veral vir die van ons wat
welvarend is, is dit belangrik om te besef dat dit ook jou swakheid kan wees.

Soms as die ekonomie agteruit
gaan, as ons gesondheid buite ons beheer raak, kan die Here ons daardeur leer
om ons swakheid te besef.

Ons kan nie die wêreld manipuleer
nie.

Ons landgenote kan nie met die
hulp van ‘n toordokter die werklikheid manipuleer nie.

Maar ook ons kan nie die
werklikheid manipuleer nie, ook nie as ons baie geld het nie.

Laat ons ons swakheid besef.

Ons krag lê nie in onsself nie.

As ons welvarend is, is dit ‘n
gevaar, ‘n versoeking, om te dink alles kan met geld gereël en reggemaak word.

Laat ons nie in daardie valkuil
trap nie.

 

Vir ‘n Christen lê sy krag juis
daarin dat hy sy swakheid besef en toegee.

Die krag van ‘n kind lê in sy
Vader, by wie hy skuil.

Kennis van jou swakheid, kennis
van jou ellende.

As jy besef jy is swak en
afhanklik, eers dan is jy bruikbaar in God se koninkryk.

Jesus het ons geleer: “Salig is
die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele...

Salig is die wat honger en dors
na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.

Salig is die barmhartiges, want
aan hulle sal barmhartigheid bewys word.” (Mattheüs 5:3-7)

 

Soek eers die koninkryk der
heemle

en Gods geregtigheid, dan laat,

Hy seën druppel uit die hemel –

vir elke dag die dag se maat.”
(Sb 17:6)

 

(Tema: Die Vader weet wat ons
nodig het

-        
soek allereers sy koninkryk)

 

2 Vertrou
Hom

Gebed is nie towery nie.

Gebed is ‘n manier van lewe.

‘n Lewenshouding.

Die Onse Vader is ten diepste ‘n
gebed van vertroue.

Nie soos die heidene nie, waarna
Jesus in vers 7 verwys.

Met baie woorde probeer hulle die
krag groter as hulleself te manipuleer.

Met die hulp van ‘n toordokter
probeer heidene die gode te beïndruk met ‘n goed geformuleerde gebed, en met
hoe lank jy bid.

Dit is juis towery.

Om op een of ander manier die
kragte groter as jyself te manipuleer.

 

As Jesus in vers 7 sê: moenie, as
julle bid, ‘n ydele herhaling van woorde gebruik soos die heidene nie, wat dink
dat hulle deur hulle baie woorde verhoor sal word.

As Hy dit sê, verwys Hy na wat
baie gebruiklik was onder die heidene, byvoorbeeld die Grieke en Romeine, in
daardie tyd.

Die Romeine het toe die wêreld
oorheers, en baie van hulle het ook in Judea gewoon.

Die Jode was bekend met hulle
godsdienstige praktyke, en in vers 7 verwys die Here Jesus daarna.

As ‘n Romein iets van die gode
wou hê, was dit ‘n nogal omslagtige prosedure.

Hy moes na ‘n heidense tempel
gaan.

Hy mog nie self bid nie, maar die
priester van die betrokke god moes dit vir hom doen.

Die priester het geweet hoe om
met die regte stemtoon te bid.

Die priester het ook al die name
van die god geken, wat hy moes uitspreek.

Die priester het ook al die
verblyfplekke van die god geken, wat hy ook moes opnoem.

Anders was daar ‘n kans dat die
gebed nie sy bestemming sou bereik nie.

Sommige gode het ‘n berg gehad
waar hulle in die somer gebly het, en ‘n ander berg waar hulle in die winter
gebly het.

Die priester kon wel vir ‘n
halfuur besig wees met die korrekte aanhef van die gebed, en vervolgens as hy
by die persoon se versoek gekom het, moes dit ook op die regte wyse uitgespreek
word.

Die persoon moes self duidelik
geïdentifiseer word, sodat die god hom nie dalk met iemand anders sou verwar
nie.

Sê nou maar die persoon se
versoek was, dat sy landerye die komende seisoen genoeg reën sou kry, moes die
landerye se spesifieke lokasie ook presies in die gebed vermeld word, om te
verseker dat die god die reën op die regte landerye sou laat val.

Al met al was ‘n gebed ‘n vermoeiende
besigheid, iets wat net ‘n opgeleide priester kon doen.

En dit het natuurlik ook met ‘n
prys gekom.

Daar moes saam met die gebed ‘n
offer gebring word, om te verseker dat die god ten minste die gebed sou
verhoor.

 

Vergeleke hiermee is die aanhef
van die Onse Vader baie kort en kragtig: Onse Vader wat in die hemele is.

Ons hoef nie al die baie name van
God te noem, voordat Hy tevrede is nie.

Net: Onse Vader.

Ons hoef ook nie alle moontlike
blyplekke van God te noem nie.

Ons Vader is alomteenwoordig.

Ons hoef maar net: in die hemel,
by te voeg, en dan ook nie met die doel om ons gebed in die regte rigting te
stuur nie.

Dis nie die rede nie, maar eerder
voeg ons dit by ter wille van onsself: sodat ons van ons God se hemelse
majesteit nie aards sal dink nie.

Ook leer Jesus sy dissipels bid.

Ja al God se kinders mag direk
voor sy hemelse troon nader.

 

Die heidense gewoontes is
manipulatief.

Dis nie soos ‘n kind behoort te
bid nie.

‘n Kind gee sy bekommernis uit
hande.

Lê alles in die hande van Hom wat
ons Vader is.

In die vertroue dat Vader en kind
dieselfde belang het.

Jy kan jouself volledig aan Hom
toevertrou.

Hy sal sorg dat sy koninkryk kom.

Selfs as dit hierdie jaar minder
goed sal gaan met ‘gewas en arbeid’, dan weet ons dat ons bestemming nog steeds
gewis is.

 

Ons is vanaand nie hier in die
kerk bymekaar om ‘n soort ritueel uit te voer, waardeur die kans groter is dat
die komende seisoen vrugbaar sal wees nie.

Dat daar genoeg reën sal wees,
dat elkeen sy goeie werk en salaris sal behou, en dat hulle wat dit nie het
nie, dit sal kry, dat die ekonomie weer sal optel, dat die Rand sal verstewig,
ensovoorts.

Biddag is nie ‘n ritueel om ons
gelukskanse te vergroot nie.

In daardie geval sou ons afdaal
tot die manipulatiewe houding wat die heidene gehad het, en wat toordokters
vandag ook het, en al hulle kliënte.

In daardie geval sal ons blyk
daarvan gee dat ons nie die verbond, die vertrouensband tussen God en sy
kinders verstaan nie.

God is nie ver weg, amper
onbereikbaar nie.

Ons hoef nie kontak met Hom te
maak met allerlei kuns en vliegwerk, soos die heidense priesters dit gedoen
het, en soos die toordokters dit vandag doen nie.

God het na ons gekom, Hy het
Homself geopenbaar.

Hy het sy liefde aan ons in Christus
reeds bewys.

Hy weet selfs wat ons nodig het
nog voordat ons dit van Hom vra.

Natuurlik weet God wat ons wense
en behoeftes is waarmee ons vanaand op hierdie biddag tot Hom kom.

Natuurlik weet Hy wat ons nodig
het, en wat ons graag wil hê in die komende seisoen.

 

Kom ons gebruik hierdie biddag om
weer duidelikheid te kry oor die hoofdoel van ons lewe.

Ons hoef nie God te manipuleer of
om te koop nie.

Uit soewereine genade het God ons
Vader geword deur Christus.

Sy liefde vir sy kinders staan bo
elke verdenking.

Sy sorg vir sy kinders is so
seker as wat die aarde vasstaan in sy hand.

As sy kinders gee Hy ons ‘n doel
op aarde.

Medearbeiders vir sy koninkryk.

As ons duidelik gefokus is
daarop, dan kan ons vervolgens met alle vrymoedigheid vir die Here vra om ons
alles te gee wat ons nodig het om daardie amp en plig te kan uitvoer.

In bepaalde gevalle sal dit
beteken dat die Here vir sommiges van ons juis ietsie minder sal gee, juis om
daardeur die regte fokus weer te kry.

In ander gevalle sal die Here aan
ander van ons dalk ietsie meer gee.

Mag hierdie biddag ‘n grondtoon
van vertroue uitstraal.

Soos ons in Sondag 1 bely.

Ons is duur gekoop, ons is
kosbaar vir God.

Geen haar sal van ons hoof val
sonder sy wil nie.

Ons kan ons aan Hom toevertrou.

Saam met Hom is ons oppad na die
volle verwerkliking van sy koninkryk.

En tot daardie dag aanbreek,
daardie jongste dag, sal Hy ons voorsien in wat ons nodig het.

Dag vir dag.

Ongetwyfeld.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)