Gen 4 :3-5a : Die groot skeidslyn in die mensheid

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2014-01-26
Teks: 
Génesis 4
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik skakel asseblief ds PG Boon.

Kopiereg voorbehou

PRETORIA-MARANATA,
26 Januarie 2014

 

voorsang: Ps 11:1,2,4,5

 

Votum

Seën

S: Ps 100:2,4

Wet

S: Ps 95:3,4

Gebed

Skriflesing: Genesis 4

S: Ps 139:1,2

Teks: Genesis 4:3-5a

Preek

S: Ps 33:5,8

Gebed

Kollekte

S: Ps 33:11

Seën

 

 

 

Tema: Die
groot skeidslyn in die mensheid

 

Die hoofstuk wat ons gelees het, openbaar die eerste gevolge van die
sondeval.

Daar begin ’n skeidslyn te ontstaan.

Na die sondeval is Adam en Eva uit die paradys verdryf.

Dit was die straf.

God het gesê, dat wie sondig, die dood sou sterf.

Die paradys was sinoniem aan ewige lewe.

In die paradys het die boom van die lewe gestaan, waarvan Adam en Eva mog
eet.

Ewige lewe dus.

Maar nou, na hulle opstand teen God, het hulle geen reg meer gehad op die
ewige lewe, op die boom van die lewe nie.

Hulle het sterflik geword.

’n Fase van verganklikheid het aangebreek vir die wêreldgeskiedenis.

Tog was God hulle ook nog genadig.

God het Adam en Eva toegelaat om nog steeds kinders te kry.

En hulle het die ouers van Kaïn en Abel geword.

 

Kaïn en Abel was boeties.

Hulle het buite die paradys opgegroei.

Abel het ’n skaapherder geword.

Terwyl Kaïn ’n landbouer geword het.

Die een was skynbaar lief vir diere, die ander een vir plante.

Dis nie dat Abel se beroep beter was nie.

Die werk van Abel en die werk van Kaïn was gelykwaardig, ewe goed.

 

En dan lees ons oor die offer wat Kaïn gebring het, en die offer van Abel.

Hulle het offers gebring om God te dank.

Want God is die Skepper van hemel en aarde.

God is ook die Skepper van die diere, wild en mak.

God is ook die Skepper van die plante op aarde.

God is die een wat wasdom skenk, vog en voeding vir plante en diere.

Daarom behoort die mense op aarde God te dank vir sy gawes.

En so het dit gebeur dat Kaïn van die vrugte van die land, die opbrengs van
sy oes, as ’n offer aan die HERE gebring het.

En Abel het ’n offer aan die HERE gebring van die eersgeborenes van sy
kleinvee.

 

Tot dusver is daar geen verskil nie.

Altwee broers het ’n offer gebring.

So te sien wou altwee hulle dankbaarheid aan die HERE laat blyk.

Maar tog gebeur daar dan iets onverwags – vir ons gevoel altans.

Die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien, maar Kain en sy offer nie
aangesien nie.

Hoekom hierdie verskil?

Want dis nie so dat Abel se werk beter was as Kaïn nie.

Dis mos nie so dat God meer van veeboere hou as van graan- of vrugteboere
nie?

 

Is dit miskien so dat ons moet konkludeer: God sien die hart aan...?

God sien wat ons nie kan sien nie.

En skynbaar het God iets anders in Abel se hart gesien as in Kain s’n...?

Ja, dit is natuurlik so, God kan in ’n mens kyk.

God lees gedagtes, Hy sien ’n gesindheid raak.

 

Maar tog is daar iets in ons teks wat ’n leidraad is.

’n Klein opmerking waaruit boekdele spreek.

Ons lees in vers 4: “En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee
gebring, naamlik van hulle vet.”

Ek herhaal veral die laaste woorde: NAAMLIK VAN HULLE VET.

Vet is die beste deel van ’n dier.

In ons hedendaagse kultuur van oorvloed dink ons miskien nie meer so nie,
maar mens hoef maar net ’n besoek aan die township te bring om dit weer agter
te kom.

En in die Bybelse tyd was vet ook die allerbeste deel van ’n dier.

Die sappigste, die lekkerste.

Nie verniet lees ons later in die wette wat God aan Moses gegee het, dat
die volk veral die vet van die diere aan Hom moes offer.

Die beste deel vir Hom.

Dit was om te toets of die gesindheid van die volk reg was.

Kortom, die woord vet, dit was in die Bybelse tyd veral ’n positiewe woord.

As jy vandag vir iemand sê, jy’s vet!, dan is dit ’n belediging.

As ons lees in Rigters 3:17 dat daar oor Eglon die koning van Moab gesê
word:

en Eglon was ’n baie vet man,

dan staan dit daar nie as ’n belediging nie, maar juis as ’n kompliment.

Hy was groot en sterk en stewig, kortom lekker vet.

En oor Abel lees ons nou: hy het die vet van die diere geoffer.

Hierdie opmerking spreek boekdele.

Dit wil sê: Abel was REGTIG dankbaar.

Abel het REGTIG van die HERE gehou.

Abel wou REGTIG vir die HERE dankie sê.

Abel was nie soos byvoorbeeld die seuns van Eli, wat voordat die mense die
vet aan die Here kon offer, dit by hulle afgevat het nie. (1 Sam 2:15-16)

 

Aan die ander kant was Kain se offer klein.

Ja, hy HET ook geoffer, maar tog was sy offer anders as die van Abel.

In die hart van Kain was daar nie liefde vir God nie.

Die lewe van Kain was selfgesentreerd.

 

Ook vandag gee ons ons gawes aan God, om ons dankbaarheid te toon.

Alles behoort in elk geval aan God,

alle diere op aarde,

alle plante en gewasse,

alles is syne.

Ons het dit in bruikleen, ons mag dit bewerk en verwerk.

Maar God wil dat ons ’n deel aan Hom teruggee, om ons gesindheid te toets.

Jou kollekte, jou vvb, dit is iets tussen jou en God, in die eerste plek.

Die manier hoe jy gee, en wat jy gee, ander mense kan nie altyd die gesindheid
sien nie.

Jou hand gooi iets in die kollektesak, niemand sien hoeveel dit is nie.

Jy betaal vvb, die res van die gemeente weet nie hoeveel nie.

Tog blyk daaruit jou prioriteite.

Is jou eerste prioriteit om God te dank?

 

Die houding in Kain se lewe was verkeerd.

God het in die hart van Kain gekyk.

God het vir liefde en geloof en toewyding gesoek.

Maar Hy kon dit nie vind nie.

 

Daar was ’n verskil tussen Kain en Abel.

In die boek Hebreërs in die Nuwe Testament lees ons:

“Deur die geloof
het Abel 'n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang
het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee
het;” (Hebreërs 11:4)

Abel het in God geglo.

Maar Kain het nie geglo nie.

Die woordjie glo moet ons hier nie verkeerd verstaan nie.

As ek sê, Kain het nie geglo nie, bedoel ek nie dat Kain nie in die bestaan
van God geglo het nie.

Natuurlik het Kain geglo, GEWEET dat God bestaan.

God het self met Kain gepraat.

Glo beteken hier: God dien, God liefhê, nie vir jou self lewe nie, nie
selfgesentreerd, egoïsties lewe nie, maar op God gerig wees in alles wat jy
doen.

Daardie verskil was daar tussen Kain en Abel.

En dis hoekom God Abel se offer aangeneem het, en nie Kain s’n nie.

 

Wat het Kain toe gedoen?

Ons lees in vers 5: “Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat
hang.”

Kain het gesien dat God Abel se offer aanneem.

En haat het in sy hart begin groei.

Die HERE het Kain gewaarsku: Hoekom is jy kwaad, en hoekom laat jy jou hoof
hang?

As jy doen wat reg is, sal jy tog ook aangeneem word?

Maar as jy doen wat nie reg is nie – die sonde lê en loer voor die deur, en
sy begeerte is na jou, maar jy moet daaroor heers.

Jy moet daaroor die baas wees.

 

Die HERE het natuurlik geweet wat in Kain se kop aangaan.

Hy het geweet dat Kain planne begin beraam het om Abel dood te maak.

Hy het hom gewaarsku.

Maar Kain het nie geluister nie.

Ons lees: En Kain het met sy broer Abel gepraat.

Die vertaling van vers 8 is dalk nie so duidelik nie.

Mens kan dit eerder so vertaal:

Kain het met sy broer Abel gepraat: (dubbelpunt): Kom ons gaan uit in die
veld.

As mens dit so vertaal, besef jy net nog duideliker dat Kain ’n plan beraam
het.

Met voorbedagte rade het hy te werk gegaan.

Soos gesê, die HERE het geweet wat in sy kop aangaan.

Hy het gesien Kain beraam ’n plan om sy broer te vermoor,

om hom eers in die veld te lok, en hom dan daar dood te slaan.

In die veld waar almal ver weg is, in die veld sal sy ouers mos nie sien of
hoor nie.

Is dit nie vandag nog steeds so nie?

Wie ’n sonde wil pleeg, beraam sy plan so dat dit êrens gebeur waar ander
dit nie sien nie.

Is die veld nie vandag nog steeds ’n plek waar baie mense vermoor word nie?

Wat dit betref het daar niks verander nie.

Soos gesê, God het sy gedagtes gelees, sy donker planne, God het hom
gewaarsku.

Maar hy wou nie luister nie.

Hy het voortgegaan.

Hy het sy broer weggelok veld toe.

En toe hulle in die veld was, het hy sy broer aangeval en hom vermoor.

Hy’t hom doodgeslaan.

Die eerste moord op aarde.

 

In die paradys het die Here God al vir die mense sy wette bekendgemaak.

Ook die gebod: jy mag nie doodslaan nie.

Adam en Eva, die ouers, hulle het begin met sondig, hulle wou nie luister
nie.

En die kinders het die voorbeeld van hulle ouers oorgeneem.

Kaïn wou ook nie luister nie.

Die HERE het hom persoonlik gewaarsku.

Die woord van God in vers 7 staan in die konteks van die feit dat Kain
GEWEET het dat doodslaan sonde is.

Maar Kain was horende doof, hy’t voortgegaan met sy plan.

 

En toe dit gebeur, en God vir hom vra: Waar is jou broer Abel?, gee hy die
onverskillige antwoord:

Is ek my broer
se wagter?

Hierdie antwoord verraai die sonde in sy hart.

Kain het nie van sy broer Abel gehou nie.

Die sonde, die moord, het in Kain se hart begin.

Ons sien hier hoe die gevolg van die sonde – al begin dit maar klein en
onsigbaar in jou hart – dat die gevolg van die sonde die dood is.

Abel het die eerste mens geword om te sterwe.

God het die mense in die paradys gewaarsku:

“maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet
nie;

want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” Genesis 2:17.

En nou sien ons in ons teks ’n illustrasie hiervan.

Eet van daardie boom, dit beteken: ek besluit self wat ek wil doen, God
hoef my nie voor te sê nie.

En so het dit by Kain gegaan.

God HET met hom gepraat, maar hy wou nie luister nie.

Hy het sy eie ding gedoen, soos hy dit beplan het, en die gevolg van die
sonde was die dood.

 

Abel het die ketting van die dood begin.

Na hom het elke mens op aarde dieselfde paadjie gestap.

Sommiges het die voorreg beleef om tydelik weer terug te keer na die aardse
lewe, dink aan Lasarus, of die dogterjie van Jaïrus.

Maar daarna het hulle tog weer gesterf.

Elke mens, behalwe een.

Dit is ons Here Jesus Christus.

Hy het na die aarde gekom om die satan, die sonde, die dood te oorwin.

Hy het uit die graf opgestaan.

Hy het die straf gedra, vir die sondes.

Hy is gedood, vermoor, aan die kruis.

Toe Abel vermoor is, het sy bloed na God geroep van die aarde af.

’n Noodkreet – HELP!

’n Magtelose kreet.

Toe Christus gekruisig is, het sy bloed gevloei.

Sy bloed het ook geroep, van die aarde af.

En God HET geluister.

Abel se bloed is gewreek.

God het Christus se offer aanvaar.

Jesus het nie net die vet van die diere geoffer nie.

Hy het sy eie lewe geoffer!

Sy offer, sy gesindheid, styg ver bo Abel se offer uit.

En toe Jesus op Paassondag opstaan, toe was dit duidelik:

God het sy offer aanvaar!

Sy offer op Golgota het die dood oorwin, die straf op die sonde.

Vir Adam en Eva, vir al hulle kinders en nageslag.

Vir elkeen wat opkyk na God, in hoop, in gehoorsaamheid, bereid om te
luister.

 

Hoe het dit toe verder met Kain gegaan?

Wie iemand doodslaan, kry self die doodstraf.

Dis wat die HERE later in die wette van Moses vir sy volk vasgelê het.

Maar hoewel daar voortaan ’n vloek op Kain sou rus, is dit opvallend dat hy
nie die doodstraf gekry nie.

Die HERE verleen aan hom amnestie.

Of is dit dalk dat Kain self vlug vir die straf wat bo sy kop hang?

Vir sy ouers, sy broers en susters, wat hom soek om Abel se bloed te wreek?

Kain verdwyn, hy gaan woon op ’n ander plek, in die land Nod, vanaf Eden
nog verder oos as waar sy ouers gewoon het.

Ons lees dat hy daar kinders en kleinkinders gekry het.

Dis een van die dinge waaroor baie mense wonder.

Wie kon eintlik Kain se vrou gewees het?

Was daar in die land Nod, waarheen Kain getrek het, alreeds mense?

Gemeente, dis belangrik dat ons noukeurig lees wat hier staan.

Hier staan nie dat Kain in die land Nod ’n vrou ontmoet het nie.

Ons lees wel dat hy in die land Nod kinders en kleinkinders gekry het.

Hier staan ook nie dat die land Nod al bestaan het toe Kain daar aangekom
het nie.

Ons moet onthou dat die boek Genesis geskryf is deur Moses, in eerste
instansie vir die volk Israël, nadat hulle uit Egipte gelei is.

As Moses skryf – die land Nod – dan verwys hy na hoe die gebied waarheen
Kain gevlug het, later bekend kon geword het.

Net soos wanneer iemand vir my sou vra: waar is jy gebore?

En ek sou antwoord: in Gauteng.

Dan verwys ek na die gebied waar ek gebore is – dis reg ja.

Maar aan die ander kant, toe ek in die jare ’70 gebore is, het die
provinsie Gauteng nog nie bestaan nie.

Die land Nod was in Kain se dae dus ’n onbewoonde gebied,

waarheen Kain met sy vrou gevlug het.

Die woord Nod hou verband met die Hebreeuse stamwoord vir verbanning of
omswerwing.

Moontlik dat hierdie gebied dus later so genoem is, juis omdat Kaïn daar ’n
nomadiese bestaan gevoer het.

 

Maar wie was dan Kain se vrou?

Dit is iets wat die Bybel ons nie openbaar nie.

Ons ken nie haar naam nie.

Ek het ’n rukkie terug ’n boek gelees wat handel oor skepping en ewolusionisme.

En wat my verbaas het, is dat vir miljoene mense hierdie vraag een van die
hoofredes is hoekom hulle nie die Bybel wil glo nie.

Want wie was Kain se vrou???

As ons die skeppingsverhaal moet glo, dan kon Kain mos nie ’n vrou gehad
het nie?

Dalk is dit goed, noudat ons hierdie hoofstuk gelees het, om iets meer
hieroor te sê.

In die eerste plek moet ons versigtig wees om uitsprake te doen oor dinge
wat die Bybel nie aan ons openbaar nie.

Die Bybel is nie ’n boek wat ons alle feite oor die verlede meedeel nie.

Die boek Genesis vertel ons eintlik maar min oor die begin van die aarde.

Wat daar opgeskryf is, is eintlik maar ’n opstappie na die hooftema van die
boek Genesis:

die begin van God se volk uit Abraham, Isak en Jakob.

In Genesis wil die Heilige Gees ons leer dat die volk Israel se God,
dieselfde God is wat hemel en aarde geskape het, dieselfde God is wat die
sondvloed laat gebeur het.

Dus op baie van ons nuuskierige vrae kry ons in Genesis nie antwoord nie.

Soos gesê, ons vind daar ook nie die naam van Kaïn se vrou nie.

Tog beteken dit nie dat mens niks verder kan sê nie.

Want waaroor die Bybel wel duidelik is, is die feit dat die HELE MENSLIKE
GESLAG op aarde voortgekom het uit slegs een ouerpaar, Adam en Eva.

Dus as daar ’n vrou vir Kain was, dan was daar net die moontlikheid dat dit
’n sussie van hom was, of moontlik die kind van een van sy broers of susters.

Volgens die Joodse
tradisie het Adam 33 seuns en 23 dogters gehad.

Tien teen een het Kain dus met sy suster getrou.

Dit mag snaaks klink, want staan daar nie in die wet van Moses dat jy nie
met ’n bloedverwant mag trou nie?

 

In die boek waarna ek al eerder verwys het, wat handel oor skepping en
ewolusionisme,

word hierdie vraagstuk ook uit ’n genetiese oogpunt benader.

Waar daar vandag ’n groot kans is dat ’n kind ’n afwyking sal hê, as sy
ouers broer en suster is, en dit het ook vir die dae van Moses gegeld toe die
Here daardie wet uitgevaardig het,

was dit – geneties gesproke – in die dae van Adam en Eva, en hulle kinders,
nog nie die geval nie.

Die kans op genetiese afwyking was toe, aan die begin, weglaatbaar klein.

Die verbod op ’n huwelik met ’n bloedverwant – soos in die Mosaiese
wetgewing – was toe dus nog nie relevant nie.

 

Nog ’n interessante feit wat genoem kan word, is met betrekking tot
ewolusionisme.

Tot nie so lang gelede het ewolusioniste beweer dat op verskillende plekke
op die aarde mense ontwikkel het uit ape.

Mense wat die skeppingsverhaal en ewolusionisme in die verlede probeer
kombineer het, het dus tot die konklusie gekom dat toe Kain na die land Nod
getrek het, hy daar ander mense gevind het, mense wat nie van sy ouers Adam en
Eva afgestam het nie, en dat hy daar dus vir hom ’n vrou gevat het.

Dis duidelik dat hierdie konstruksie nie kan nie, in die lig van die Bybel.

Soos ek reeds gesê het, die Bybel is baie duidelik daaroor dat die HELE
MENSLIKE GESLAG uit Adam en Eva voortgekom het.

Neem byvoorbeeld
Handelinge 17:26 “Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om
oor die hele aarde te woon.”

Een bloed – dit
kan ook vertaal word met – een mens.

Soos die Nuwe
Vertaling die byvoorbeeld doen: “Uit een mens het Hy al die nasies gemaak”.

Maar selfs
ewolusioniste sal teenwoordig nie meer beweer dat mense op verskillende plekke op aarde uit ape ontwikkel het nie.

As gevolg van al
die genetiese navorsing in die wetenskap van die afgelope dekades, staan dit
nou vas dat die hele mensheid voortkom uit een ouerpaar.

Selfs die
ewolusioniste erken dit deesdae.

Dus die bewering
dat Kain ’n vir hom onbekende vrou in die land Nod gevind het, dis iets wat
onmoontlik is om te glo, of jy nou ’n christen of ’n ewolusionis is.

 

Wat in elk geval
duidelik blyk, is dat die antitese tussen hulle wat die Here wil dien en hulle
wat hulle eie pad gaan, dat dit dus al in die gesin van Adam en Eva begin het.

Kain en sy vrou,
en ook hulle kinders en kleinkinders, kies hulle eie pad.

Hulle lewe vir
hulleself.

Hulle is nie
bereid om die vet vir die HERE te offer nie.

En die haat wat in
Kain se hart was, het ongelukkig ook oorgespoel op sy nageslag.

Dink aan die
uitspraak van Lameg: ek slaan ’n man dood wat my wond.

Die seun wat my
durf kwets, vermoor ek.

 

In skril kontras
hiermee is wat ons lees aan die einde van die hoofstuk.

Set, wat gebore is
nadat Abel omgekom het.

Set en sy kinders
het aan die HERE trou gebly.

Hulle het in die
voetspore van Abel gevolg.

Hulle het – sê ons
hoofstuk – die naam van die HERE begin aanroep.

Die begin van die
diens aan die HERE deur ’n in sonde gevalle mensheid.

Dis wat ons ook in
hierdie hoofstuk vind.

Offer en gebed.

Offer vanuit die
hart.

Offer en gebed,
offer vanuit die regte gesindheid, dit is onontbeerlik.

 

Tussen hakies,
gemeente, het u al daaraan gedink hoe Adam en Eva oor dit alles moes gevoel
het?

Het u al besef
hoeveel dinge Adam en Eva in hulle lewe meegemaak het?

Adam het 930 jaar
lank gelewe.

Die Bybel sê nie
hoe lank Eva gelewe het nie.

As u op die
tydbalk gaan kyk, wat hier onder in die saal van die kerk hang, sal u kan sien
dat Adam nog vele generasies van sy nageslag gesien en geken het.

Gedurende hierdie
nege eeue was Adam en Eva getuies van hoe hulle kinders en kindskinders of die
HERE bly dien het, of van Hom af weggedwaal het.

’n Groot deel van
die wêreldgeskiedenis voor die sondvloed het Adam meegemaak.

Een van Adam se
kindskinders – Metusalag – wat vir sover ons weet die rekord hou van die oudste
mens op aarde – 969 jaar, Metusalag is gebore toe sy oupa oupa ens grootjie
Adam nog geleef het.

En ten minste ’n
eeu en nog langer het hy – Metusalag – en Adam saam op aarde rondgewandel.

Sterk gene was
daar toe, sou ons deesdae sê.

Maar ja, elkeen
van hulle het gesterwe, Metusalag so ver mens kan bereken, toe die sondvloed
aangebreek het.

Dit laat mens
wonder of hy een van die baie was wat ook nie meer die HERE gedien het nie ...

Metusalag het
afgestam van Set, maar nie al Set se nageslag het met God gewandel nie.

Ja die groot
skeidslyn het sigbaar geword, in Adam en Eva se nageslag, in die mensheid.

Hulle was self
daarvan getuie.

En tot vandag toe,
tot in die 21e eeu, duur dit nog voort.

Ja die mensdom
stam af van een ouerpaar.

En ook in ons
moderne samelewing loop hierdie skeidslyn, hierdie beslissende skeidslyn.

Dien jy vandag die
HERE, of dien jy jouself?

Abel se dood het
vir jou ’n boodskap.

Soos die Hebreërbrief dit verwoord:

“Deur die geloof
het Abel 'n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang
het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur
dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is. (Hebreërs 11:4)

Ja ook vandag nog
spreek Abel tot jou.

Abel se geloof roep
jou op om ook reg te kies.

 

Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)