Luk 2 : 41-52 Jesus se jeug in die perspektief van sy Goddelike roeping

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2013-11-10
Teks: 
Lukas 2 : 25-40
Preek Inhoud: 

As u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds PG Boon

Kopiereg  voorbehou.

PRETORIA-MARANATA, 10 November
2013 AD

 

 

Liturgie:

Votum

Seën

S: Ps 33:11

Wet

S: Ps 119:20

Gebed

Skriflesing: Lukas 2:25-40

S: Sb 5:1,2

Teks: Lukas 2:41-52

Preek

S: Sb 2:3,4

Gebed

Kollekte

S: Ps 148:4,5

Seën

 

 


 

Preek:

 

Wat weet ons eintlik van die Here Jesus se jeug af?

By bekende persoonlikhede gebeur dit dikwels dat mense baie nuuskierig is
na hulle jeug.

So word daar in boeke, biografieë, films uitgebreid aandag bestee aan die
jeug van byvoorbeeld Mozart, of Lady Diana, of Mandela, ensovoorts.

Oor die jeug van die Here Jesus bestaan daar slegs een verhaal, altans,
slegs een verhaal wat histories betroubaar is.

Dit is die geskiedenis wat ons nounet gelees het oor hoe die kind Jesus in
Jerusalem weggeraak het.

Hoekom staan hierdie verhaal eintlik in die Bybel?

Verhale oor die jeug van ’n glanspersoonlikheid soos Lady Diana trek
gewoonlik baie kyksyfers.

Het die evangelis Lukas hierdie verhaal ook in sy boek opgeneem om hoë
leessyfers te haal?

Hoekom staan hierdie boeiende verhaal eintlik in die Bybel?

 

Ek verkondig u God se Woord met die volgende tema:

 

Tema: Jesus
se jeug in die perspektief van sy Goddelike roeping

 

Dit is opvallend dat Lukas so weinig oor die jeug van Jesus vertel.

Nadat hy uitgebreid geskryf het oor die geboorte van Jesus, die vir ons so
bekende Kersgeskiedenis, staan hy maar vir ’n oomblik stil by die twaalfjarige
Jesus.

Die eerste wat ons daarna oor Hom hoor is hoe Hy versoek is in die woestyn
deur die duiwel, as man van dertig jaar.

 

Dat die mense in die eerste eeue egter baie nuuskierig was na die jeug van
Jesus, blyk wel uit al die verhale wat ons in die apokriewe evangelies vind.

Apokrief, mens sou ook kon sê, nagemaakte of ‘fake’ evangelies.

Ons vind in hierdie apokriewe geskrifte baie verhale oor die klein Jesus.

So was Hy as seuntjie ’n keer besig om te speel met sy maatjies by ’n
riviertjie.

Van die klei aan die oewer van die rivier het hulle voëltjies gemaak.

Na ’n rukkie gaan staan Jesus toe regop, hy klap in sy handjies, waarna sy
klei voëltjie lewendig word en wegvlieg.

Wat ’n oulike verhaal oor hoe Jesus as kind alreeds wondere verrig het.

Nog so ’n verhaal gaan soos volg:

Jesus was besig om met sy maatjies op die dak te speel.

In Israël het die huise plat dakke, waarop die mense gewoonlik in die aand
sit as die son gesak het, om af te koel.

Jesus en sy maatjies was besig om op die dak te speel.

Terwyl hulle speel val daar toe een van sy maatjies van die dak af, dood op
die grond.

Wat het Jesus toe gedoen?

Wel, die ouers van die seuntjie wat gesterf het, het vir Jesus beskuldig
dat Hy vir hom van die dak afgestamp het.

Die Here Jesus het toe na sy maatjie gestap, hom opgewek, en direk aan hom
gevra:

Sê vir jou ouers, het ek jou van die dak afgestamp?

Waarna die maatjie antwoord: nee, ek het self afgeval.

 

Nog so ’n verhaal vertel hoe Jesus ’n keer vir Josef, wat ’n timmerman was,
gehelp het om ’n deur te maak.

Toe dit blyk dat Josef nie genoeg hout gehad het nie, het Jesus ’n plank
gevat, dit met albei sy hande uitgerek, totdat dit die regte lengte was.

 

Hoewel dit mooi verhale is, is hulle histories nie betroubaar nie.

Die meeste van hierdie verhale het eers meer as ’n eeu na Christus se
hemelvaart tot stand gekom.

Maar wat Lukas skryf is wel betroubaar.

Hy het alles noukeurig ondersoek.

Hy het ook met Jesus se ma gepraat.

Ons weet dat sy alles wat met haar Seun gebeur het, in haar hart bewaar
het.

En sy ma het waarskynlik vir Lukas die verhaal van ons teks vertel:

Jesus het inderdaad ’n keer weggeraak in Jerusalem.

Altans, so
het ons as ouers gedink ...

 

Broers en susters, voordat ons verder gaan, wil ek graag die volgende vra:

Met watter verwagting luister ons eintlik na hierdie verhaal?

’n Mens kan met verskillende ore na ’n gebeurtenis luister.

Ek bedoel, ons het ’n selektiewe gehoor.

Ons hoor dikwels net die dinge wat vir ons interessant is.

Dit is ook die rede hoekom daar so baie namaak verhale rondom die jeug van
ons Heiland ontstaan het.

Die mense het gewoon behoefte gehad aan spektakulêre stories.

Mens sou amper kon sê: ’n skinderpers oor ons Heiland.

Sensasie wat nie die feite so ernstig neem nie.

Nou is dit goed om te besef, ek sê dit baie oordrewe, dit is belangrik om
te besef dat Lukas se evangelie nie ’n sensasie blad is nie.

’n Tydskrif wat weer iets nuuts uitgevind het oor ’n glanspersoonlikheid.

Ons het hier te make met geskiedskrywing.

Lukas skryf sy evangelie met ’n baie spesifieke doel.

Hy doen dit in opdrag van die Heilige Gees.

Net soos die ander 3 evangelies, bereik die Lukasevangelie ook sy klimaks
in die kruisiging en opstanding van Jesus.

Dat Hy gesterf het en vir ons sondes betaal het.

Dat Hy die dood oorwin het.

Dit was die taak wat God aan Hom opgedra het.

Dit was die hoofdoel van die hele lewe van Jesus op aarde.

En hierdie hoofdoel staan ook sentraal in die Lukasevangelie.

Met hierdie hooftema in gedagte moet ons nou na ons teks kyk.

Dit is die konteks.

Ook hierdie verhaal, hoe Jesus in Jerusalem weggeraak het, het met die
hooftema van die boek te make.

Mens sou kon sê: Vanaf sy jeug het Jesus al in diens gestaan van sy hemelse
Vader.

Vanaf sy jeug het Hy homself al begin voorberei op sy taak.

 

Eintlik het Jesus glad nie ’n spektakulêre jeug gehad nie.

Nie ’n jeug wat vir ’n skinderblad interessant genoeg is om te publiseer
nie.

’n Kind soos Mozart het wel so ’n jeug gehad.

Mozart was ’n wonderkind, en sy pa het die hele Europa platgereis om hom te
vertoon.

’n Kind wat al op tienjarige ouderdom ’n hele simfonie kon komponeer!

Maar vir Jesus het gegeld dat Hy in Nasaret opgegroei het.

Nasaret, ’n agteraf dorpie, wat vir die buitewêreld nie interessant was
nie.

In Nasaret het Jesus waarskynlik die grootste deel van die eerste dertig
jaar van sy lewe gewoon.

En uit daardie periode vertel Lukas slegs hierdie verhaal.

Jesus het, soos dit waarskynlik jaarliks die gewoonte was, saam met sy
ouers na Jerusalem gegaan, na die tempel vir die Paasfees.

En na afloop van die fees het sy ouers teruggekeer, terwyl Hy ongemerk in
Jerusalem agtergebly het.

 

Ons ken die verhaal.

Na drie dae soek vind sy ouers Hom in die tempel.

In die tempel, dit beteken uiteraard nie in die tempel self, daar waar die
tafel met toonbrode en die ark gestaan het nie.

Daar mog net die priesters kom.

Maar met die tempel word die tempelkompleks bedoel, al die geboue
daaromheen.

Byvoorbeeld ook die slaapkamers van die priesters, wat diens gedoen het,

en die ruimtes waar die leraars die volk onderwys gegee het.

Josef en Maria het hulle twaaljarige seun uiteindelik êrens in die tempelkompleks
gevind.

Daar het Hy by die leraars, die Skrifgeleerdes gesit, waar hulle besig was
om die volk te onderrig.

Daar het hulle Hom gevind, waar Hy aktief, entoesiasties deelgeneem het aan
die onderrig, deur vrae te vrae, en antwoorde te gee.

 

Soos ek genoem het, hierdie is nie ’n verhaal oor die wonderkind Jesus, op
byvoorbeeld die manier hoe daar oor iemand soos Mozart geskryf is nie.

Beslis, Jesus wás ’n wonderkind, maar daarmee word heeltemal iets anders
bedoel.

Lukas vertel hierdie verhaal nie in die trant van:

Het jy gehoor dat ’n seuntjie van 12 jaar meer oor God en oor die Bybel weet
as die dominees en teoloë, wat jare daarvoor gestudeer het?

’n Seuntjie vanaf die platteland wat almal strikvrae vir die Skrifgeleerdes
stel?!

Gemeente, as ons die verhaal in so ’n trant lees, dan begryp ons nie die
bedoeling nie.

Want wat was naamlik die geval?

Soos gesê, rondom die tempel was die Skrifgeleerdes gewoond om hulle beroep
uit te oefen.

By die tempel was daar altyd baie mense, en vir die leraars was dit ’n
geskikte plek om die volk onderrig in die Woord te gee.

Veral met Paasfees was daar baie mense in Jerusalem.

Na aanleiding van die onderrig van die Skrifgeleerdes het daar dikwels diep
gesprekke by die tempel ontstaan, soms selfs debatte, diskussies tussen
verskillende geleerdes.

Ons lees in die evangelie van Johannes dat Jesus, toe Hy later self ’n
Skrifgeleerde was, dat Hy ook hier lesgegee het.

Daar staan byvoorbeeld in Johannes 7:14:

“En toe dit al in die middel van die fees was, Het Jesus opgegaan na die
tempel en geleer.”

En ook het Jesus later op die tempelplein, en in die ruimtes van die
tempelkompleks, debatte gevoer met ander leraars, met die Fariseërs
byvoorbeeld.

Maar goed, die gebeurtenis wat Lukas in ons teks beskryf, was van so ’n
aard.

En Jesus, as seun van twaalf jaar, was geïnteresseerd in die onderwys van
die Skrifgeleerdes.

Hy was daar, na alle waarskynlikheid, saam met baie ander Jode, wat na die
rabbi’s kom luister het.

 

Nou is dit belangrik om te weet hoe daar vroeër deur die Skrifgeleerdes
lesgegee is.

Dit was veral die gewoonte dat dit vraenderwys gedoen is.

Die rabbi het nie ’n preek, ’n monoloog gehou nie.

Mens kan dit meer vergelyk met ’n skoolles, waar die meneer aan die kinders
vrae vra, en omgekeerd.

En wat opgeval het was dat hierdie seun, Jesus, baie aandagtig gesit en
luister het, en dat Hy nie na ’n rukkie weggeloop het nie.

Hy het selfs soms ’n vraag gevra, waaruit geblyk het dat Hy al baie diep
oor die dinge nagedink het.

En as hulle vir Hom ’n vraag gevra het, dan was almal verbaas oor sy
diepsinnige antwoorde.

Drie dae, en waarskynlik nog wel langer, het Jesus elke dag weer
teruggekom.

Dit het gelyk of Hy nie genoeg kon kry nie.

In hierdie kader moet ons ook die verbasing van sy ma verstaan.

Sy het Hom waarskynlik orals in die stad, orals in die tempelkompleks
gesoek.

Vir drie dae lank gesoek.

Oral waar ’n seun van 12 jaar hom moontlik sou kon ophou.

Maar dat Hy hier sou wees, daaraan het sy in haar bui van moederlike
wanhoop nie gedink nie.

 

As ons so na hierdie verhaal kyk, dan maak die manier hoe Jesus sy ma
antwoord ook sin:

Hoekom moes u vir my soek?

Het u nie geweet dat ek in die dinge van my Vader moet wees nie?

Hy het bedoel om te sê:

Ma, as ma nou net goed nagedink het, dan was dit mos nie nódig om my te
soek nie?

Ma kon mos vermoed dat ek hier sou wees?

Ma weet mos waarmee ek besig moet wees, waarmee ek besig wil wees?

Het die engel dit nie destyds vir Ma vertel nie?

Onthou Ma nie wat die engel gesê het nie:

Hy sal “die Seun van die Allerhoogste genoem word.”

 

Gemeente, hierdie is nie ’n spektakulêre verhaal nie.

Dit is wel ’n pragtige verhaal.

Eintlik ontroerend.

Maria het hier waarskynlik vir die eerste keer begin bewus raak van die
feit dat háár seun, ook Gód se Seun is, en dat Hy al besig was om Homself vir
sy latere taak voor te berei.

Nie dat sy ampsperiode nou al begin het nie.

Dit sou eers begin op sy dertigste, die ouderdom waarop volgens die Ou
Testament priesters ook met hulle amptelike diens begin het.

Maar ons sien hier dat Hy nou al aktief begin het om Hom op sy taak voor te
berei.

Sy taak om as priester Homself te offer.

Sy taak om as profeet God se verborge raad te openbaar.

Sy taak as Heiland van die wêreld.

Sy taak om jou en my Verlosser te word.

Sy ma Maria het nie alles toe al begryp nie.

Maar sy het die woorde wel in haar hart bewaar.

En later het alles eers vir haar begin sin maak.

Nadat haar seun, God se Seun, sy taak volbring het.

Sy Godgegewe taak.

Later het sy ingesien wat haar Seun destyds bedoel het, toe Hy gesê het:

“Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?”

Die Skrifgeleerdes sou Jesus weer ontmoet, later.

Maar dan self ook as rabbi, wat op die tempelplein, en in die tempelpoort,
in die ruimtes rondom die tempel die groot nuus kom bring het:

Ek is die lewende water!

Ek is die brood van die lewe!

Ek bring die aangename jaar van die HERE!

Maar nou, as twaalfjarige seun is ons Heiland al intensief besig om Hom op
hierdie latere taak voor te berei.

Nou het Hy al besef hoe belangrik dit is om te weet watter gedagtes daar
onder die volk en onder die Skrifgeleerdes geleef het.

Toe Hy as dertigjarige begin het met sy ampswerk, was Hy nie onvoorbereid
nie.

 

Gemeente, hierdie verhaal hoe Jesus in Jerusalem weggeraak het, laat dus
sien hoe Hy al as kind Hom vir sy latere taak begin voorberei het.

Sy jeug het al gestaan in die perspektief van sy toekomstige roeping.

Dit is die boodskap van die preek.

 

Nou kan ons onsself afvra, wat is die toepassing vir my lewe vandag?

Moet ek nou ook soos die twaalfjarige Jesus begin lewe?

En moet ek as ouers my kind opvoed om ook soos Jesus te wees?

Kom ons wees eerlik, dit sal ons nie regkry nie.

Hoekom nie?

Omdat ons sondig is.

En dit was nou juis waarin Jesus van alle ander mense verskil het.

Hy was sonder sonde.

Maar hoe sit dit dan met die feit dat Jesus ook moes leer?

Lukas sê dat Hy toegeneem het in wysheid.

Was Jesus dan nie alwetend nie?

Is dit dan nie sonde dat Hy nog moes leer nie?

Gemeente, miskien is hierdie opvatting die gevolg van ’n verkeerde beeld
wat ons van die wonderkind Jesus het.

As Jesus God én mens was, beteken dit dan nie dat Hy alles moes weet nie?

Dit is belangrik om te besef dat as ons oor die godheid van Jesus praat,
daarmee nie in die eerste plek bedoel word dat Hy ’n geweldige hoë IK gehad het
nie.

’n Bomenslike intelligensie, waarvan ons teks dan ’n voorbeeld sou wees.

Ons het gesien dat dit nie die doel van hierdie verhaal is nie.

Jesus was ’n gewone mens, ook as seun van twaalf jaar.

Hy was wel ’n mens met ’n baie spesifieke taak, ’n taak waarvoor Hy sy
godheid baie nodig gehad het.

In Sondag 6 van die Heidelbergse Kategismus staan:

Hoekom moet Hy tegelykertyd waaragtig God wees?

Antwoord: “Om uit die krag van sy Godheid die las van die toorn van God aan
sy mensheid te kan dra.”

Daarom was Hy dus God, ook op aarde.

Om immuun te kan wees teen die sonde.

Maar dat Hy nog moes leer, dat Hy homself op sy taak moes voorberei, dit
was nie ’n sonde nie.

 

Hoe pas ons hierdie boodskap op ons lewe toe?

In die eerste plek:

Kom ons wees ontsettend bly met ons Heiland!

Kom ons wees verwonderd oor wie Hy is.

Hy is nie ’n wonderkind in die gewone sin van die woord nie, soos Mozart
byvoorbeeld was.

Hy is die wonderkind wat God spesiaal gestuur het.

Om sy lewe te offer, om die dood te oorwin.

Om vrede op aarde te bring.

Om ons weer met God te versoen.

Om ons skoon te was van ons sondes.

 

En in die tweede plek:

Jesus was gehoorsaam aan sy taak, wat Hy van sy hemelse Vader ontvang het.

As kind het Hy homself al begin voorberei.

Laat ons ook van harte die taak doen wat God aan ons opdra.

Uiteraard is ons taak iets anders as die van Jesus.

Maar ons staan almal in diens van God.

Die taak wat jy van God kry, kan vir jou gevoel heel gewone dinge wees.

Dat jy byvoorbeeld ’n goeie ma is.

Dat jy ’n betroubare kollega is.

Dat jy ’n ouma is wat vir jou kleinkind oor God se goedheid in jou lewe
vertel.

Laat ons trou wees op ons pos.

Laat ons bewus lewe,

saam bou aan God se koninkryk.

Ook as dit soms swaarkry behels.

Laat ons vasbyt in ons roeping.

Laat ons ons lewe, al vanaf jou jeug, jou skooljare, jou studiejare, as jy
begin verdien, as jy trou of ongetroud bly, as jy pa of ma word of nie, as jy
afgetree is, laat ons hele lewe in die perspektief staan van die taak wat God
vir ons gee.

God roep elkeen van ons.

God gee jou ’n taak.

As kind het Jesus na die roepstem van sy hemelse Vader geluister.

Hy het sy Vader gedien op die plek waar Hy Hom gestel het.

Hy het sy taak gewillig gedoen.

Ook ons word geroep om ons taak, met die hulp van sy Gees, gewillig voor
God se aangesig uitoefen.

Of jy jong is, volwasse, of hoogbejaard.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)