Sondag 12 : Die ampsdraers van die nuwe aarde

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2013-10-27
Teks: 
Jesaja 61
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief ds PG Boon

Kopiereg voorbehou.

 

 

Liturgie

Votum

Seën

S: 61:3,5 (Ons sing oor en tot eer van ons ewige Koning, Jesus Christus.
Sondag 12 gaan oa oor Hom as ons ewige koning)

Gebed

Skriflesing: Jesaja 61

Sing: Ps 21:1,2,3 (U maak o HEER die koning bly... Hy het van U, o God
begeer, die onverwelkb’re lewe. U het dit hom gegewe. –
Sondag 12: Christus as ons ewige Koning)

Teks: HK Sondag 12

Preek

S: Ps 132:6,10 (God beklee ons as priesters)

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

S: Ps 72:1,2,3,4 (ons sing oor ons ewige Koning, en oor die nuwe aarde: O
saalge ryk waar enkel vrede oor berg’ en heuwels sweef)

 

 

 

 

Preek

Volgende jaar, 2014, gaan daar weer verkiesings in Suid-Afrika gehou word.

Hoewel dit nog ’n lang ruk is, sien mens dat dit tog al vandag se politiek
beheers.

Met alles wat die staatspresident, alles wat ministers nou sê, hou hulle al
in hulle agterkoppe rekening met volgende jaar se verkiesings.

Alles wat nou gesê en gedoen word, het skynbaar al ’n impak op hoe die
kaarte volgende jaar geskud gaan word.

Dan dink ek nie net aan die verskillende politieke partye nie, en hoe groot
of klein hulle volgende jaar uit die verkiesing te voorskyn gaan kom nie.

Ek dink ook aan die verskillende ministersposte.

Wie gaan in welke pos aangestel word?

Wie gaan sy pos as minister behou?

Wie gaan dalk geskuif word na ’n ander pos?

Wie gaan dalk glad nie meer in aanmerking kom vir ’n pos nie?

Al hierdie vrae het te make met hoe die betrokke mense nou al praat, met
watter faksie in die party hulle simpatiseer,

ensovoorts.

En dan het ons nog nie eens gepraat oor die vraag of ’n persoon wel geskik
is vir ’n bepaalde portefeuille nie.

As dit goed is, behoort dit ook ’n rol te speel.

Wat sê ek? behoort dit eintlik ’n primêre rol te speel.

Al hierdie bewindhebbers, ampsdraers, feit is dat hulle ’n groot invloed
het op dinge ons land – onderwys, gesondheidsorg, landbou, wet en orde ...

As dit nie ten goede is nie, dan dalk ten kwade.

Hoe mens dit ook wend of keer, hierdie ampsbekleders kan dinge maak of breek,
want hulle beklee baie verantwoordelike posisies.

 

Nou handel Sondag 12 van die Heidelbergse Kategismus ook oor ampsbekleders,
ampsdraers.

En ook hier gaan dit nie net oor iets teoreties nie.

Laat ons wel wees, dit gaan hier oor die drie belangrikste ampte op aarde.

En oor wie hulle behoort te beklee.

Dit gaan selfs nie net oor hierdie aarde nie, net net oor die hede nie, of
nie net oor ’n termyn van 5 jaar tot daar weer verkiesings kom nie,

dit gaan hier oor die toekoms, dit gaan selfs oor die nuwe aarde.

 

Tema: Die
ampsdraers van die nuwe aarde

1.     Die Christus

2.     Die Christen

 

1.     Die Christus

Die Bybel leer ons dat dit God se bedoeling is om ’n nuwe hemel en aarde te
vestig.

Dit is die doel van sy herskeppingsplan.

’n Wêreld waar daar geen sprake meer sal wees van sonde, opstand,
korrupsie, gebrokenheid, dood, duiwel, noem maar op.

En om hierdie doel te realiseer, neem God ampsdraers in diens.

Trouens, die woord ampsdraer en
die woord gesalfde beteken vir ’n
groot deel dieselfde.

’n Gesalfde is ’n ampsdraer.

Gesalf wees, die woord herinner aan die ou Oosterse gewoonte om iemand te
salf, wanneer hy op die punt staan om ’n belangrike amp te gaan beklee.

Dit was ’n teken van aanstelling, maar ook van bekwaam making.

So is David gesalf as teken van sy aanstelling in die amp van koning.

Die woord gesalfde, of om die
Griekse woord te gebruik, christos¸ is
nie ’n eienaam nie.

Dit is ’n titel.

Dit is die titel van Jesus.

Jesus, die Christus, oftewel: Jesus, die Gesalfde.

Net soos mens oor iemand praat as – ek noem net ‘n voorbeeld:

Wynand, die
professor. Of: Professor Wynand.

Wynand is die naam. Professor is die titel.

 

Nou is dit wel so by Jesus, dat sy persoon en sy amp so goed bymekaar pas,
dat sy titel – Christus oftewel Gesalfde – al redelik vinnig begin gebruik is
ook as sy eienaam.

Baie vinnig, selfs al in die latere boeke van die NT kom mens al agter dat
die benaming Christus nie meer as
titel gebruik is nie, maar alreeds ook as ’n eienaam vir ons Heiland, saam met
sy eerste naam, Jesus.

En ook ons praat nouliks nog oor Jesus die
Christus,
of Jesus die Gesalfde, maar
kortweg net oor Jesus Christus, of selfs net oor: Christus.

Hierdie titel, hierdie amp wat Jesus van sy Vader ontvang het, het Hy so
perfek uitgeoefen, dat die titel vir Hom ’n eienaam geword het.

En selfs al sy volgelinge word nou ook op hierdie naam genoem: Christene.

Dit het trouens die eerste keer in Antiochië gebeur (Hand 11:26).

Die Kategismus herinner ons tereg hieraan:

dit wil sê dat ons óók gesalfdes is.

Ons is óók ampsdraers.

Danksy Christus is ons ook profeet, priester en koning.

 

Wanneer is die Here Jesus eintlik gesalf, oftewel aangestel in sy amp?

Die Nuwe Testament gee dit duidelik aan: Mattheüs 3, Lukas 3, Markus 1 én
Johannes 1.

Dit het gebeur met sy doop in die Jordaan.

Die Heilige Gees het neergedaal uit die hemel soos ’n duif en op Hom gekom.

Dus hier geen olie as simbool van bekwaammaking nie, soos dit was by koning
David byvoorbeeld, maar hier ’n duif.

Ook het die aanstelling nie plaasgevind deur middel van ’n derde persoon
nie, soos God byvoorbeeld vir Samuël gebruik het om David te salf.

By Jesus het God dit persoonlik gedoen.

God se eie stem het uit die hemel geklink by Jesus se doop.

So is Hy in sy amp aangestel.

 

Daarna sien ons hoe Jesus aktief raak in sy amp.

Tydens sy eerste optrede onder die mense na sy doop hoor ons Hom sê:

“Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My
gestuur om die wat verbrysel van hart is, te genees”, ens. (Luk 4:18)

Wat die Here Jesus hier sê, is ’n aanhaling uit Jesaja 61.

Ons het die hoofstuk gelees.

Deur dit aan te haal, wys Jesus daarop dat Hy nou besig is om hierdie
profesie te vervul!

 

Kom ons bekyk hierdie profesie van bietjie naderby.

In Jesaja 61 lees ons ook oor ’n amptelike aanstelling, of soos dit toe
genoem is, ’n salwing.

“Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het”

Met die doop van Jesus – sý salwing – het hierdie profesie dus in
vervulling gegaan.

Kom ons luister vir watter taak Jesus gesalf is:

Daar staan: die HERE het My gesalf om “’n blye boodskap te bring aan die
ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir
die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die
gevangenis ...”

Gemeente, as u mooi luister, hoor u hierin dalk die drievoudige amp van die
Here Jesus terug?

 

Inderdaad, ten eerste: Hy het my gestuur om ’n blye boodskap te bring aan
ootmoediges.

Dit is uit en uit die werk van ’n profeet.

Sondag 12 omskryf dit soos volg:

As profeet het Hy aan ons “die verborge raad en wil van God aangaande ons
verlossing ten volle geopenbaar”.

Hierdie verborge raad en wil van God was beslis ’n BAIE BLYE BOODSKAP!

Jesus het met die boodskap na die aarde gekom dat God van plan is om Hom HEELTEMAL
met die mense te versoen.

Of soos daar in Jes 61:2 staan:

“om uit te roep ’n jaar van die welbehae van die HERE”.

Hier word verwys na die jubeljaar in die OT.

Die 50e jaar as alle skulde vrygeskeld moes word.

Dit is dus wat God van plan was om te gaan doen.

En hiérvoor het Hy Jesus aangestel en in diens geneem.

Gesalf vir HIERDIE OPDRAG.

Wat ’n skitterende boodskap is dit uit die mond van die Profeet Jesus.

Op verskillende plekke in die Bybel lees ons oor hierdie aanstelling van
Jesus, asook oor sy optrede as profeet.

Dink byvoorbeeld aan Joh 1:18: Niemand het ooit God gesien nie; die
eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.

En Jesaja 55:4: “Kyk, Ek het hom tot ’n getuie van die volke gemaak”

 

Kom ons gaan verder.

Naas profeet is Jesus ook priester.

In die profesie van Jesaja 61 lees ons ook iets wat tipies die werk van ’n
priester is:

“Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart”.

Iemand wat ’n gebroke hart heel, dan moet mens dink aan ’n priester wat aan
’n mens, wat baie skuldbewus ’n offer by die tempel kom bring het, vergewing
aankondig.

So word sy hart, gebroke deur skuld, weer geheel.

Die Kategismus sê oor Jesus se hoëpriesterlike taak:

Hy het ons met die enige offer van sy liggaam verlos.

Nog ’n belangrike taak vir ’n priester is om te bid.

Pas nadat ’n priester tot God om vergewing gebid het, kon hy die vergewing
teenoor die volk uitspreek.

Voorbede, of soos dit ook genoem word, pleit, dit is iets wat Jesus as
hoëpriester by uitstek doen.

Sondag 12 sê: met sy voorbidding tree Hy vir ons gedurigdeur by die Vader
in.

Met sy voorbidding pleit Hy gedurigdeur by die Vader vir ons.

Elke keer as jou lewe nie is wat dit behoort te wees nie – as ’n Christen
synde naamlik – dan pleit Hy vir ons:

Vader, asseblief, tog ’n bietjie geduld met hierdie sondige mense ... want
Ek het mos vir hulle gesterf!

So pleit Jesus vir ons. (Rom 8:34 & Hebr 7:25)

 

Vervolgens noem die profesie van Jesaja 61 nog iets.

Die HERE het My gestuur “om vir die gevangenes vrylating uit te roep en vir
die geboeides opening van die gevangenis”.

Dit is natuurlik heeltemal die werk van ’n koning.

’n Koning is bevoeg om amnestie te verleen.

En Jesus wys daarop dat sy heerskappy as koning baie feestelik sal begin!

Net soos die jubeljaar van ouds.

Elkeen wat onder skuld gebuk gaan,

elkeen wat homself as ’n slaaf moes verkoop of in die gevangenis geëindig
het, ontvang amnestie, genade.

Bevryding.

’n Nuwe kans!

Dit is wat Jesus as Koning doen.

Met hierdie koninklike werk het Hy al op aarde begin.

Dink aan al die genesingswonders wat Hy gedoen het, dink aan al die duiwels
wat Hy uitgedryf het.

Dink selfs aan die dooies wat Hy opgewek het.

Maar die volle verwesenliking van sy koningskap moet ons nog tegemoet sien.

Soos daar in Openbaring staan oor die toekoms:

Ek het ’n groot stem in die hemel hoor sê: Nou het die heil en die krag en
die koningskap die eiendom van onse God geword en die mag van sy Gesalfde
(Openb 12:10)

Jesus regeer as Koning.

En wat Hy doen, dit sê Hy self in Johannes 10:28:

“Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in
ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”

Of soos Sondag 12 dit verwoord:

As Koning regeer Hy ons met sy Woord en Gees en beskerm en bewaar Hy ons by
die verlossing wat Hy verwerf het.

 

So, om saam te vat, beklee Jesus dus, geheel in ooreenstemming met die
profesie in Jesaja 61, ’n drievoudige amp.

En soos ek gesê het, die Here Jesus het sy amp so nougeset en voortreflik
vervul, dat Hy die amp in eie persoon geword het!

Die amptelike aanduiding: Christus –
Gesalfde –
dit het sy eienaam geword.

Soiets was tot dan toe, en ook sedert dan, nog nooit moontlik gewees nie.

Want dikwels is dit so dat jy iemand moet respekteer vanweë sy amp, maar
dat sy persoonlike optrede, sy uitoefening
van die amp, nie werklik respek afdwing nie.

Ek dink dat ons dikwels in ons land maar met moeite die respek kan opbring
wat ons verskuldig is teenoor bv. ons president, of teenoor sommige ministers.

Eer hulle vanweë hulle amp, maar die persoonlike uitoefening van die amp
laat veel te wense oor.

En gemeente, was dit nie ook die geval met koning David nie?

Wat dink u, ’n koning wat sy buurman se vrou vat, en die buurman vermoor.

’n Koning wat ’n volkstelling hou, slegs en alleen om sy prestige te ‘boost’,

en dan nog met die konsekwensie dat baie mense as gevolg hiervan gesterf
het.

Ek vermoed daar was toe baie burgers wat koning David geëer het vanweë sy
amp, maar nie vanweë sy persoon nie.

En dieselfde kan ook gesê word oor persone in ander ampte.

Dink aan die priester Eli.

Dink aan die profeet Jona.

Maar, by Jesus vloei amp en persoon so perfek in mekaar, dat sy ampsnaam sy
eienaam geword het, en omgekeerd.

Ons eer en aanbid Hom nie minder om sy persoon as om sy amp nie!

Hy is die volmaakte Ampsdraer vir die nuwe aarde.

 

(Tema: Die ampsdraers van die nuwe aarde

1.Die Christus)

 

2.     Die Christen

Soos die Here Jesus met die Heilige Gess gesalf is, so is sy dissipels ook
later, op Pinksterdag, met die Heilige Gees gesalf.

En dit het nie by die dissipels gebly nie.

Selfs heidene wat tot geloof gekom het, het die Heilige Gees ontvang.

Dink aan Cornelius in Handelinge 10.

En sedertien word elke Christen gesalf met die Heilige Gees.

Ook u, ook jy, julle het die salwing van die Heilige Gees.

As jy gedoop is in die naam van die
Heilige Gees.

En so mag ons vandag trots en met dankbaarheid Christene genoem word.

Want deur die geloof is ek ’n lid van Christus en daardeur het ek deel aan
sy salwing.

Dit betéken, dat die pragtige profesie uit Jesaja 61 wat ons gelees het,
ook op jou van toepassing is.

Dit gaan ook DEUR JOU in vervulling.

Jy is ook ’n profeet, wat die Here sy naam moet bely.

Iemand het ’n keer gesê:

Heidene, ongelowiges, hulle het nie ’n Bybel nie.

U IS HULLE BYBEL!

Onkerklike mense ken nie vir Christus nie.

MAAR HULLE KEN WEL VIR U!

Jy wat vir hulle ’n buurman, of ’n kollega, of ’n familielid is.

Sien hulle Christus in jou?

Nie dat jy Christus is nie.

Maar jy dra dieselfde amp.

Jy word Christen genoem.

Dieselfde Gees woon in jou.

En die Gees vuur jou aan om in ’n sondige en gebroke wêreld sy naam te
bely,

met woord, met jou dade.

In hierdie wêreld word jy gestuur as profeet, priester en koning.

Om aktief te wees met die oog op die herstel van hierdie wêreld.

Die herskepping van die aarde deur God se Gees.

Jy is nou, in hierdie wêreld, ampsdraer van die nuwe wêreld.

 

Die Kategismus sê in antwoord 32:

As profeet gaan ek sy Naam bely.

Die eerste vereiste vir ’n profeet is natuurlik om self God se Woord te
ken.

Hoe jonger jy daarmee begin, hoe beter.

Bybellees by die huis, dit begin al by die KinderBybel, daar begin jou
amptelike toerusting.

Ook onderwys, Bybelonderwys, gereformeerde onderwys, katkesasie,
Bybelstudie.

Ondergedompel in die Woord, dit verwag God van elke profeet.

Want dit gee jou die moed om nie stil te bly nie, maar om leuens uit die
wêreld te help, om op te kom vir die waarheid.

Dit gee jou die vermoë om jou nie te skaam vir Christus nie.

Dit wat die Bybel jou voorhou, om dit aan jouself voor te hou en aan ander.

En nie slegs voorhou nie, ook voordoen.

Dit is jou profetiese taak.

Dit is nie iets wat jy net aan dominees en ouderlinge en evangeliste kan
oorlaat nie.

Elkeen is
gesalf as profeet.

Laat ons nie bang wees om misstande aan te spreek nie, net soos Jesus as
profeet die tempel ingevaar het en elkeen uitgejaag het.

 

Jy kry as Christen ook die aanstelling as priester.

Ons is almal priesters volgens die Bybel (vgl. Petrus 2:5,9; Openb 1:6;
5:10).

Dink ook aan Romeine 12:1 “Ek vermaan julle ... dat julle jul liggame stel
as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer”

’n Priester offer.

’n Priester offer op.

Dit kan selfs inhou dat ons net soos Jesus sal moet ly.

Wanneer God dit ons waardig keur (inderdaad, so staan dit in die Bybel, dit
is in sekere sin ’n voorreg!), wanneer God dit ons waardig keur om deel te hê
aan die vervolging en lyde van Christus (Kolossens 1:24; 1 Petrus 4:16).

As Hy dit ons waardig keur, dan moet ons ook bereid wees om sy smaadheid te
dra.

Soos Paulus byvoorbeeld in Kolossense 1:24 sê: “Nou verbly ek my in my
lyding vir julle”.

Die Kategismus sê: my doel as priester is om myself as ’n lewende dankoffer
aan Hom toe te wy.

En soos ons al by Jesus as Priester gesien het, die belangrikste werk van
’n priester is om te bid, om te pleit.

Dus geld ook vir jou, broer, suster: bid vir die mense!

Dra die sondige wêreld aan God op.

Net soos Jesus vir die oortreders gebid het.

Net soos Stefanus vir sy moordenaars gebid het.

Die priesterlike gebed van Stefanus het gevolge gehad.

Onder andere danksy hierdie gebed mog Saulus tot bekering kom.

En mog hy – Paulus – baie heidene op sy beurt tot Christus lei.

Die gebed van ’n priester het groot krag.

 

En ten slotte ontvang jy van God ook die aanstelling tot koning.

Toe God die wêreld geskape het, het Hy die mens aangestel as koning –
onderkoning.

Maar die mens het homself gedegradeer tot ’n slaaf.

Want elkeen wat die sonde doen, is ’n slaaf van die sonde (Joh 8:34).

Maar, onderdeel van God se herskeppingsplan is dat die gelowiges opnuut in
diens geneem word as konings.

Onderkonings.

Om hierna – op die nuwe aarde – in ewigheid saam met Hom oor alle skepsele
te regeer.

Desnietemin is dit nie net iets vir die toekoms nie.

Sondag 12 sê ook, en dit gaan oor ons koninklike taak in die hede:

dat ek met ’n vrye en goeie gewete in hierdie lewe teen die sonde en die
duiwel stry.

So is jy as christen nou al intensief besig met jou koninklike taak.

As onderkoning kom jy op vir reg en geregtigheid.

As onderkoning beywer jy jouself vir die beskerming van die swakkes.

As onderkoning neem jy standpunt in oor aktuele sake en gee jy leiding.

En dit alles doen jy deur self eers te luister na die Koning van die
konings, die hemelse Koning Jesus Christus.

In Romeine 6 vat Paulus dit alles in 2 sinne saam:

“Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy
begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking
van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot
beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede
as werktuie van geregtigheid in die diens van God." (Rom 6:12-13)

 

In die inleiding het ek genoem dat die president en ministers wat in
amptelike posisies oor ons land aangestel is, ’n wesenlike invloed uitoefen op
die toekoms van die land, hetsy ten goede, hetsy ten kwade.

Net so is Sondag 12 nie net teorie nie, maar wesenlik vir die toekoms van
die hele aarde.

Hierdie gebroke wêreld, wat so gebuk gaan onder die las van sonde en
opstand van die mensheid.

In die persoon van Jesus Christus het hierdie wêreld die beste ampsdraer
wat ooit bestaan het.

Jesus Christus, hoogste Profeet en Leraar, enigste Hoëpriester, ewige
Koning.

In sy kielsog stel Hy nog baie ampsdraers aan, wat bekwaam gemaak word deur
sy Gees.

Christene mag julle genoem word.

Ampsdraers van die nuwe aarde.

 

Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)