Luk 10 :38-42 Kies die goeie deel – luister na sy Woord

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2013-10-13
Teks: 
Lukas 9 : 51-56 en 10 : 1-24
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds PG Boon.

Kopiereg voorbehou

 

 

Votum

Seën

S: Ps 33:5

Wet

S: Ps 119:2,5

Gebed

Skriflesing: Lukas 9:51-56 & 10:1-24

S: Ps 40:3

Teks: Lukas 10:38-42

Preek

S: Ps 89:6

Gebed

Kollekte

S: Sb 43:4,5

Seën

 

 

 

 

Lukas 10:38-42

 

Is jy ’n Maria of ’n
Martha?

Is jy iemand wat graag sit en luister, en droom, dalk ook bietjie
verstrooid?

Of is jy iemand wat graag dinge doen, nie te veel nadink nie, nie tyd mors
nie, ’n raakvat vrou?

Maria en Martha ...

Twee mense wat deur die eeue twee persoonlikheidstipes begin versinnebeeld
het.

Maar is dit korrek?

Is dit die boodskap van die teks wat ons vanoggend gelees het?

Kom ons kyk vandag bietjie nader na hierdie geskiedenis.

 

Tema: Kies die goeie deel –
luister na sy Woord

 

Op ’n dag kom Jesus in die dorp aan waar Martha gewoon het.

Ons weet nie presies watter dorp dit was nie.

Sommige mense meen dat dit Betanië naby Jerusalem was.

Want in Johannes 11 lees ons weer van die twee susters, in verband met die
dood van hulle broer Lasarus.

En dit was in Betanië.

 

Maar Martha se dorp kon ook die Betanië in Perea, dit is oos van die
Jordaan gewees het, of dalk nog ’n ander dorp in Perea.

En dat hulle later – met die geskiedenis van Lasarus se siekte, dood en
opwekking – by hulle broer in Betanië op besoek was.

Op besoek dalk vanweë sy ernstige siekte.

Of dalk vanweë een van die Joodse feeste in Jerusalem, omdat Betanië baie
naby aan Jerusalem geleë was.

Dit sou dus sin maak vir die twee susters om in so ’n geval by hulle broer
te logeer.

 

Nou kan mens jouself afvra:

Hoekom het Jesus juis hulle huis besoek?

Die antwoord op hierdie vraag vind ons moontlik in hoofstuk 10.

Daar kan ons lees hoe Jesus sewentig dissipels uitgestuur het, twee aan
twee.

Hy’t hulle gestuur na elke stad en plek waar Hy sou kom.

Jesus het vir hulle duidelike instruksies gegee:

In watter huis julle ook al mag ingaan, sê eers: Vrede vir hierdie huis!

... Bly dan in daardie selfde huis en eet en drink wat hulle het ...

En in watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul ontvang, eet wat aan
julle voorgesit word ...

En sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom.

Maar in watter stad ... hulle jul nie ontvang nie, gaan uit op sy strate en
sê:

Selfs die stof wat uit julle stad aan ons kleef, vee ons vir julle af.

 

Dus waarskynlik was twee van hierdie dissipels van Jesus al eerder in die
dorp gewees.

En waarskynlik is hulle welkom ontvang by die twee susters.

Waarskynlik is hulle daar gasvry ’n maaltyd voorgesit.

En nou – noudat Jesus op sy reis ook by hierdie dorp aankom – volg Hy op
wat sy dissipels al voorberei het.

Die dissipels het waarskynlik aan Hom deurgegee:

Die mense van daardie huis staan oop vir die Evangelie.

Hulle het ons gasvry ontvang.

En so het dit waarskynlik gebeur dat Jesus nou self op besoek is by Martha
en Maria.

 

En soos gesê, hulle was susters.

Net vir die duidelikheid, Maria was ’n ander Maria as die bekende Maria,
die ma van die Here Jesus.

Maria was ’n baie algemene naam in daardie tyd.

 

Dit is opvallend dat die teks aandui dat die huis aan Martha behoort het.

Moontlik het Maria, haar suster, by haar ingewoon?

Of was sy net op besoek?

En was Martha dalk ’n weduwee?

Of was sy ’n getroude vrou?

Ons weet nie.

Dis wel duidelik dat Martha die een is wat die baas in huis is.

En dus verbaas dit ook nie dat Martha na ’n rukkie haar suster uit die
geselskap gaan haal met die versoek om haar in die kombuis te help nie.

Sy vervies haar, sy fluister nie in Maria se oor – wanneer kom jy ’n keer
kombuis toe nie –

sy praat sommer met Jesus: sê vir haar dat sy my moet kom help!

 

Soos gesê, hierdie was waarskynlik die eerste besoek van Jesus aan die twee
susters.

Geen wonder dat Martha haar uitertse bes wou doen om ’n goeie indruk te maak
nie.

Martha was ’n raakvat vrou.

Ons kan goed verstaan dat sy – noudat Jesus hulle huis besoek – haar beste
wil uithaal.

Maar ja, dan die reaksie van Jesus ...

Wat sou Hy daarmee bedoel het?

 

Moet ons dan nie fluks wees nie?

Moet ons liewer onsself terugtrek?

’n kontemplatiewe lewe...? ’n lui lewe...?

Soos roomse teoloë in Calvyn se tyd gesê het:

Martha simboliseer die alledaagse lewe, die besige wêreld.

Maria simboliseer die lewe in die klooster.

Die beste lewe is in ’n klooster, weg van die huzzle en buzzle van die alledaagse
lewe.

Daar kan jy – soos Maria – aan Jesus se voete sit.

Daar kan jy ’n soort engelagtige bestaan voer...

Want elke dag se drukte trek jou weg van die hemel af...

 

Is dit wat Jesus bedoel het?

Maar jy kan jou tog nie heeltemal onttrek aan al die sorge en probleme van
die lewe nie?

Dis mos ook nie so dat Jesus glad nie behoefte aan ’n maaltyd gehad het,

daardie dag toe Hy by die twee susters op besoek was nie.

Dis tog nie so dat daar hoegenaamd niks tyd in die kombuis gespandeer moes
word nie ...

Tog sê Jesus:

Jy, Martha, is besorg en verontrus oor baie dinge.

Maar Maria het die een goeie ding gekies.

 

Gemeente, dit help ook, as ons die gedeelte goed wil verstaan,

om vir ’n oomblik goed na te dink oor die historiese omstandighede op
daardie stadium.

In die eerste plek moet ons besef dat Jesus nou op pad is na Jerusalem.

In Galilea het Hy baie wonders gedoen.

Die mense daar, die skare ken Hom goed, hulle vereer Hom.

En die meeste van hulle dink Hy is nou op pad na Jerusalem om daar as
Koning gekroon te word.

Baie van die wat Hom volg, volg Hom na Jerusalem omdat hulle hierdie groot
gebeurtenis nie graag sal wil mis nie.

En, laat ons eerlik wees, om self dalk ook voordeel daaruit te trek.

Dink byvoorbeeld aan die ma van Jakobus en Johannes – die seuns van
Sebedeüs.

Het sy nie ’n keer vir Jesus herinner om ook aan haar te dink – en haar
twee seuns – wanneer Hy plaas neem op die troon nie?

’n Bietjie eie belang dus.

Nou sou mens jouself kon afvra: was dit nie dalk by Martha ook die geval
nie?

As sy nou vir die Messias op ’n koninklike wyse in haar huis onthaal,

sal Hy nie dalk aan haar terugdink die oomblik as Hy op die troon plaasneem
nie?

As Hy dalk personeel vir
sy paleis soek,

wat hardwerkend is,

wat heerlik kan kos maak…?

 

Maar, en dit is wat Martha en eintlik al die ander mense nie besef het nie:

Jesus is nie op pad na Jerusalem om koning te word nie.

Hy gaan daarheen om gekruisig te word.

En na sy opstanding gaan Hy nie op aarde bly nie.

Hy gaan plaasneem op die hemelse
troon.

Dus ’n hofhouding op aarde het Hy nie nodig nie.

En dit is die historiese agtergrond, gemeente, hoekom Hy vir Martha sê:
Maria het die goeie deel uitgekies.

Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge.

Maar onthou: My gaan julle nie altyd in julle midde hê nie.

Maar wel my Woord.

Luister na my Woord. Bewaar my Woord.

Dan het jy die goeie deel gekies.

Ek – soos ek nou onder julle is – sal van julle weggeneem word.

Maar my Woorde sal nooit van julle weggeneem word nie.

 

Gemeente, begryp u nou hierdie historiese konteks?

Dit help ons om te verstaan dat dit nie soseer ’n teenstelling is tussen die
aardse en die hemelse,

Tussen ‘n lewe in die wêreld en ‘n lewe in die klooster nie.

Dit help ons om te verstaan dat die aksent lê op die Woord van Jesus.

Dit is hoekom Hy na die aarde gekom het.

As ons na al sy woorde luister, en dit bewaar, dan is Hy bly.

Dit is die belangrikste.

Martha hoef Hom nou nie soos ’n koning te behandel, as dit ten koste gaan
van die geleentheid om na Hom te luister nie.

Nie dat spesiale behandeling verkeerd sou wees nie.

Ons lees later hoe die einste Maria die voete van Jesus met kosbare
nardussalf gesalf het.

 

Gemeente, dit is dus, in kort, die meerwaarde as ons die teks in sy
historiese konteks lees.

In hierdie lyn wil ek dan ook die teks vir ons vandag toepas.

As mens ’n teks uit die Bybel wil toepas, is dit baie belangrik om na
historiese konteks te kyk.

Wat het die Here Jesus bedoel, daardie dag toe Hy met Martha en Maria
gepraat het?

Wat wou die Heilige Gees sê, toe hy hierdie gedeelte deur die evangelis
Lukas laat opskryf het?

As mens die historiese konteks nie in ag neem nie, kan jy dalk ’n
aansprekende toepassing uit hierdie gedeelte maak,

maar dan loop jy die risiko om iets daarin te lees wat Jesus nie bedoel het
nie.

Dit het die roomse teoloë uit Calvyn se tyd gedoen.

Hulle het hierdie gedeelte gebruik – misbruik – om ’n kloosterlewe aan te
prys bo ’n lewe in die wêreld.

Maar dis nie wat Jesus bedoel het nie.

Hy’t nie bedoel ’n lewe met die Woord los van die wêreld nie.

Inteendeel, hy’t bedoel: ’n lewe met die Woord as kompas binne hierdie
wêreld,

om alle aspekte van hierdie wêreld te hervorm.

 

Maar ook in ons eie tyd word hierdie gedeelte toegepas op ’n manier wat die
historiese konteks nie ernstig neem nie.

So het ek ’n toepassing teengekom uit die feministiese hoek.

Martha verteenwoordig die huisvrou, wat as ’n soort slaaf al die
huishoudelike eentonige werk moet doen.

Maria verteenwoordig die vrou in die amp, wat met die Woord besig is.

Jesus kies in die teks heel duidelik vir Maria.

Sy lei ’n goeie lewe, en nie Martha nie.

Ook hierdie toepassing misbruik die teksgedeelte om ’n hedendaags aanvaarde
denkrigting te verdedig, net soos die Roomse kerk dit in Calvyn se tyd gedoen
het om die kloosterwese te verdedig.

Maar ook nou weer word die historiese konteks oor die hoof gesien.

Martha was nie ’n soort slaaf nie, sy was juis die meesteres van die huis.

Ook keur Jesus Martha se bedrywighede nie af nie.

Hy maak net vir haar duidelik dat Hy nie in die eerste plek in haar huis
gekom het om koninklik onthaal te word nie, maar dat Hy gekom het om die Woord
met hulle te deel.

Hulle moet nou eers tyd maak vir die Woord.

 

Gemeente, kom ons probeer nou self ons teks toepas, en dan natuurlik na die
beste van ons vermoë, op ’n verantwoorde wyse,

sodat ons die teks nie laat buikspreek nie, maar die boodskap tot ons kom
soos die Heilige Gees dit bedoel het.

Neem jy die tyd – soos Maria – om aan die voete van Jesus te sit?

Dit wil sê, om te luister na sy Woord?

Is daar genoeg momente van rus in jou lewe?

Dan bedoel ek nie slaap, of niks doen nie.

Maar tot rus kom by die Woord van Jesus.

Dit jy dit indrink, soos ’n glas koue water op ’n warm dag.

Aan sy voete sit: ’n luisterhouding.

Dit begin op Sondag.

Die eerste aktiwiteit van die nuwe week is dat ons kerk toe gaan, soggens
en saans.

Daar word ons rustig, ontvanklik vir God se Woord.

Maar ook elke dag daarna.

Dink aan huisgodsdiens.

Ook dit doen ons nie gejaagd nie. Jy word rustig, ontvanklik vir God se Woord.

Tyd om vir Hom se sing, daagliks.

Tyd om vir Hom te bid.

Tyd om oor sy Woord saam te praat.

 

Maria het nie die hele dag gesit nie.

Maar nou wel.

Bepaal jou prioriteite:

As ‘n ma kan jy sorg dat jou gesin ’n perfekte maaltyd kry.

In die oggend kan jy sorg dat jou kinders al hulle kos saamkry skool toe, dat
hulle klere skoon is, gesigte gewas, hande, voete, hare netjies, naels geknip,
neus gesnuit, huiswerk gedoen, ...

Maar onthou jy ook die belangrikste?

Dat jy elke oggend saam met jou kinders gaan sit aan Jesus se voete?

Nie gou-gou Bybellees en bid nie.

Tyd vat, dat julle ordentlik die dag begin.

Met ordentlik bedoel ek, weereens, nie in die eerste plek dat jou gesin
spik en spam is nie.

Maar ordentlik, bedoelende: kies die goeie deel vir jou en jou kinders.

Lees saam ’n stukkie uit die Woord.

Sing saam tot eer van die Heiland.

Bid rustig tot Hom, dra die dag aan Hom op.

 

Jesus kritiseer nie Martha se gasvryheid nie.

Gasvryheid is ’n belangrike christelike deug.

In 1 Timotheüs 5 word dit selfs genoem as ’n belangrike karaktereienskap
vir ’n weduwee.

Maar ware gasvryheid is nie in die eerste plek ’n skoon huis, ’n pragtig
gedekte tafel, smaaklike kos wat nie aangebrand is nie ...

Draai dit dan nie dalk te veel om jouself nie?

Dat jy wil hê dat die mense dink dat jy so ’n perfekte huisvrou is ...

Was dit nie dalk ook Martha se probleem nie?

Dat SY wou indruk maak op die Heiland,

dalk met bykomstige motiewe ...

Wie weet ... dink die Heiland aan my ... as Hy eendag op sy koninklike
troon sit...

In vers 40 staan: sy was BAIE besig om ALLES klaar te maak.

ALLES moes skynbaar perfek wees.

Alle puntjies op die i.

Vir so ’n belangrike gas moet die huis blinkskoon wees, en die maaltyd uit
die boonste rakke...

Maar is egte gasvryheid nie eerder dat jy ’n oor het vir die ander een nie?

Jesus sou nie omgegee het as Martha haar eerder ‘n bietjie meer alledaagse
kos sou gegee het nie ...

Hy’t nie haar huis ingekom om ’n koninklike maaltyd te kom geniet nie, maar
om die Woord, die blye boodskap van die koninkryk met hulle te deel.

En uiteindelik was dit in Martha se eie nadeel.

Deur so te fokus op die beste van die beste, beroof sy haarself van die
geleentheid.

Om werklik baat te vind uit die feit dat Jesus nou haar huis besoek.

Inderdaad: dit maak nie sin nie:

Om die beste onthaal denkbaar vir die koning te gee,

maar om nie geïnteresseerd te wees in die woorde van die koning nie,

om nie nuuskierig te wees na hoekom die koning nou eintlik by jou op besoek
wil kom nie...

 

Dalk kan ons dit so toepas.

Hardloop ons nie soms ook te veel rond vir allerlei dinge, terwyl ons die belangrikste
afskeep nie?

Dit geld nie net tuis nie.

Ook hier in die kerk.

Ook al die dinge wat ons hier in die kerk doen.

Hou ons wel fokus?

Hoekom doen ons so baie dinge hier in die kerk?

Hoekom so baie kommissies, hoekom so baie dit en dat?

Hoekom verwag ons so baie van mekaar?

Hoekom al die vol agendas?

Wil ons dalk indruk maak?

Op wie wil ons indruk maak?

Op God?

Of op mekaar?

Of op ander mense?

Maar kan die Woord nie soms op die agtergrond raak nie?

 

Gereformeerde mense staan daarvoor bekend dat hulle goed kan organiseer.

Hulle kan baie dinge doen.

Hulle is aktief, dalk soms aktivisties.

Baie besig om alles in orde te maak.

Maar as die Woord van die Heiland uit die sentrum van ons lewe verdwyn,

uit die sentrum van die organisasies wat ons gestig het,

wat dan?

Wel, ’n pragtige gebou sonder fondament is nie veel werd nie.

 

Daar is ’n tyd om dinge te doen.

Maar daar is ook ’n tyd om te luister.

Om jou batterye te laai.

As jy dit nie doen nie, en net aanhou sake afwerk, die een na die ander,

dan gaan jou batterye een of ander tyd heeltemal pap wees,

En dan gaan jy in elk geval niks meer kan doen nie.

Kies die goeie deel.

 

Wat dalk nog meer kwalik was, is Martha se houding, haar kort-af-heid
teenoor haar sussie Maria.

Hier is ’n belangrike les vir ons – dikwels sulke besige Christene, besige
gereformeerdes, besige kerkmense.

Ons word hier gewaarsku dat ons nie moet dink – terwyl ons besig is om
goeie dinge te doen – dat ons beter as ander mense sou wees nie.

 

Gelukkig het Martha Jesus se berisping ter harte geneem.

In Johannes 11 en 12 lees ons weer oor haar.

Een van die mooiste geloofsbelydenisse in die Nuwe Testament kom uit haar
mond:

“Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun
van God, wat in die wêreld sou kom.” (Joh 11:27)

Voortaan sou sy beter luister.

Nie dat sy nooit meer sou bedien nie, asof dit verkeerd sou gewees het.

Juis in Johannes 12:2 lees ons, na Lasarus se opwekking:

“Hulle het toe vir Hom [Jesus]
daar 'n maaltyd berei, en Martha het bedien; en Lasarus was een van die wat
saam met Hom aan tafel was.” 

 

As ons nou volgende week nagmaal gaan vier, dan is ons gaste aan Jesus se
tafel.

Ons hoef nie te bedien nie, ons word bedien.

Ons kan sit en ontspan, fokus op die Woord van die Evangelie,

dat Christus na die wêreld gekom het, nie om bedien te word nie, maar om te
dien,

om sy lewe te gee as ’n losprys,

om ons vry te koop met sy liggaam en bloed.

Hierdie blye woorde van ons Heiland mag ons volgende week herdenk.

Aan sy voete.

Aan die voet van die kruis.

Aan die voet van sy hemelse troon.

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)