Die Christen se ekonomie is ‘n ekonomie van dankbaarheid

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2013-03-24
Teks: 
Spreuke 15:16-17
Verwysing: 
Spreuke 15 (2013)
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

 

Preek – Spreuke 15:16-17; lees Spreuke 30:7-9, Hebreërs 13:1-6

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Waaraan dink jy wanneer jy die woord ‘ekonomie’ hoor? Waarskynlik sal by die meeste van ons die volgende gedagtes of begrippe deur ons koppe gaan: geld (rande, dollars, euros), wisselkoers, effektebeurse, Amerika, China, eerste wêreld, derde wêreld, beleggings en spaargeld. Iets in dié lyn… Maar, broers en susters, weet ons nog wat die oorspronklike betekenis is van die woord ‘ekonomie’? Hierdie woord kom immers van die Griekse samestelling oikos en nomos. Oikos beteken ‘huis’, en nomos beteken ‘wet’. Dus, die grondbetekenis van die woord ‘ekonomie’ is eenvoudig: die wet van die huis, die standaard vir die huisgesin.

Nou weet ons almal wat die wet is van die wêreldhuis waarbinne ons onsself bevind; hierdie wet sê altyd: meer, meer, meer. Die wêreldoikos se nomos lui altyd: tyd is geld, en geld laat die wêreld draai. Of in die woorde van die sanggroep Abba: ‘money, money, money’. Dít is die taal van die wêreldekonomie waarmee ons daagliks gekonfronteer en gebombardeer word, en die gevaar is nie denkbeeldig nie dat dit begin om ook ons denke te beheers. En daarom is die volgende vraag ‘n belangrike een waaroor ons, as kinders van die Here, op hierdie Dankdag moet besin: wat is ons ekonomie? Dus, wat is die wet van ons huise en van ons huisgesinne? Heers daar in ons huise ook ‘n wet, wat sê: meer, meer, meer? Of het ons huise ‘n ander wet? Wat is die maatstaf in ons huise en gesinne wanneer dit kom by materiële en finansiële sake? Die antwoorde op hierdie vrae het ‘n belangrike invloed op ons dankbaarheid teenoor die Here. Ek het die tema vir die preek op hierdie Dankdag soos volg geformuleer:

Tema: die Christen se ekonomie is ‘n ekonomie van dankbaarheid

  1. Hou die wisselkoers dop (Spr. 30:7-9)
  2. Let op die groot Ekonoom (Hebr. 13:1-6)

 

1. ‘n Goeie beginsel by die uitleg van ‘n Skrifgedeelte is altyd om daardie gedeelte in sy konteks te lees – eers die onmiddellike konteks van die omringende verse, maar vervolgens ook die breër konteks van die hoofstuk, die spesifieke Bybelboek, en ten slotte die konteks van die hele Skrif. Dit is die beginsel. Helaas is die Spreuke-boek van so ‘n aard dat die omringende konteks ons nie altyd verder help nie; in die Spreuke-boek vind ons dikwels ‘n aaneenryging van wyse uitsprake, sonder direkte verband met mekaar. Dit is ook die geval by ons teks – die direkte konteks bied nie werklik iets waardeur ons hierdie verse beter kan verstaan nie. Daarom moet ons hierdie verse eenvoudig op hulleself beskou, en daarby ook die res van die Skrif se onderrig oor hierdie onderwerp laat spreek.

 

Nou goed, wat vind ons in ons teks – Spreuke 15:16 en 17? Wel, ons vind in hierdie verse tweemaal ‘n soortgelyke vergelyking: Liewer hierdie, as daardie; eerder dit, as dat. Met die eerste oogopslag lyk die vergelykings nogal ongebalanseerd; dit lyk asof die skaal onewewigtig gelaai is aan die een kant. Want kyk maar: “‘n bietjie” word in vers 16 vergelyk met “‘n groot skat”, en “‘n porsie/rantsoen groente” word in vers 17 vergelyk met “‘n vetgevoerde bees”. Is dit ‘n eerlike vergelyking? Dit lyk nie so nie. Maar opmerklik genoeg val die Spreuke-digter se keuse albei kere op die eerste deel van die vergelyking: op die bietjie (vers 16) en op die rantsoen groente (vers 17), eerder as op die groot skat en die lekker stuk beesfillet. Is dit werklik die keuse wat ek en jy sou gemaak het? Is dit die keuse wat jy maak wanneer jy voor die winkelrakke staan?

Maar, gemeente, die digter voeg ook nog iets daarby, die skale is nog nie klaar gelaai nie… Want aan die een kant van die skaal, waarin die “bietjie” van vers 16 lê, word ook nog die vrees van die Here bygevoeg. Met die vrees van die Here word bedoel die kinderlike en nederige erkentlikheid wat ons het vir die HERE as Skepper en as Onderhouer en as Verlosser. En aan die ander kant van die skaal, waarin die groot skat lê, word onrus bygevoeg – onrus wat noodwendig moet ontstaan wanneer so ‘n groot skat beskerm en beheer moet word. Watter verskil, dink jy, sal hierdie byvoegings maak aan die ewewig? In vers 17 vind iets soorgelyks plaas: aan die een kant van die skaal, waarin die porsie groente lê, word liefde bygevoeg – liefde as ‘n sfeer van harmonie en eensgesindheid. En aan die ander kant, waarin die vetgevoerde bees lê, word haat bygevoeg – haat, wat selfs aan die lekkerste maaltyd ‘n bitter bysmaak gee. Ja, wat weeg nou eintlik die swaarste?

 

Gemeente, wat die Spreuke-digter hier doen, is om aan ons ‘n les in hemelse ekonomie te gee. Ons word geleer om reg te weeg. Of met behulp van die beeld wat ek in die tema gebruik het: ons word geleer om die wisselkoers dop te hou. Want daar lê ons probleem so dikwels: ons hou nie die wisselkoers dop nie. Ons gryp na wat vir ons, met die eerste oogopslag, die meeste en die beste lyk, maar ons het nie goed gekyk of dit ook werklik die meeste en die beste is nie; dikwels is ons so besoedel met die ekonomiese beginsels van die wêreld dat ons nie meer dinge na hulle werklike waarde kan skat nie.

Ons is so dikwels soos ‘n drie- of vierjarige kind. As jy vir so ‘n kind twee hande met geld uitsteek – die een hand vól met tweesent munstukke, en in die ander hand ‘n enkele tweehonderd rand noot – watter een gaan hy kies? Ek waarborg jou dat hy die hand vol munstukke gaan kies, want ‘n kind kan die geld nog nie na sy waarde skat nie. Of gee vir iemand, wat nie die wisselkoers ken nie, die keuse of hy tienduisend Rand of negeduisend Euro wil hê – die kanse is baie goed dat hy die tienduisend Rand gaan vat. Want hy weet nie dat hy, met die huidige wisselkoers, byna honderdduisend Rand vir sy negeduisend Euro kan kry nie. Hy verstaan nie die waarde nie!

 

So is ons ook dikwels, broers en susters. Ons hou nie die wisselkoers dop wat die hemelse ekonomie vir ons bekend gemaak het nie. O ja, die aardse wisselkoers ken ons maar alte goed; ons ken die standaarde en die giere van ons omgewing. En ons doen alles in ons vermoë om aan daardie standaarde en giere te voldoen – as ons welgesteld is, is dit uiteraard makliker en kan ons selfs die merknaam koop van daardie nuwe gier wat almal in sy greep het; en as ons finansieel bietjie sukkel, dan moet ons eenvoudig maar net kliphard werk om daardie nuwe gier te kan koop, ook al is dit dan die namaak-weergawe (niemand hoef dit mos te weet nie?!). En verder moet ons karre net nie uitstaan in hulle oudheid nie; ons kinderpartytjies kan nie minder uitspattig wees as die ander een s’n nie; ons troues moet net die beste wees; ons binneshuise versiering moet asseblief modieus en nuut wees, net soos daardie ander s’n. En wanneer ons vriende vir ‘n braai nooi, dan moet dit nog beter wees as laaskeer toe húlle óns onthaal het – ook al is daar nog meer dae oor in die maand as wat daar rande oor is. Ja, gemeente, ons lewe in ‘n kultuur van gierigheid en hebsug; ons is deel van ‘n samelewing wat ons almal met ‘n slapriem vang oor wat werklik die norm vir ‘n goeie lewe is; ons voel voortdurend dat ons verantwoordelikheid verskuldig is voor die oë van die samelewing wat dophou of ons ook hierdie of daardie besit. Ons moet eenvoudig inpas, anders is ons uit…

 

Maar wanneer die gaste weg is en ek saans my gordyne toemaak, dan is dit ek en my God; dan is dit ek en my vrou en my gesin. En hoe gaan dit dáár, waar dit werklik saakmaak? Is daar vrees vir die Here? Hoe gaan dit dáár in my huis, waar ek en my gesin om die etenstafel sit? Is daar liefde? Weet ek nog wat dit beteken om in vrede met my God te lewe, onder alle omstandighede? Weet ek nog wat dit is om snags rustig my kop te kan neerlê, omdat ek weet dat God sorg? Weet ek nog wie my vrou of my man vir my is? Is daar tussen ons-twee nog daardie geluk wat slegs in die Here moontlik is? Ken ek nog die waarde daarvan om met my gesin om die tafel te sit, om te hoor hoe almal vertel van die dag wat hulle gehad het, om vir hulle te sê dat ek vir hulle lief is, en om saam met hulle te geniet van wat die Here aan ons toebedeel het? Hoe swaar weeg dít vir ons? Gemeente, hierdie is belangrike vrae in elke christen se ekonomie – hoe lyk jou ekonomie, jou oikos nomos? Wat is die wet van jou huis en jou gesin? As dit ‘n wet is van voortdurend meer en meer wil hê, van ryk word en aansien verwerf, dan gaan daarmee noodwendig die dankbaarheid ‘n ander kleur kry. Want dan word dit al hoe moeiliker om die dankbaarheid op te wek en aan die gang te kry, dan is ‘n al hoe groter skat nodig om ‘n eenvoudige “dankie Here” oor my lippe te kan kry. Want dit is wat die Skrif en die praktyk vir ons leer, naamlik dat die ekonomie van die wêreld net eenvoudig nooit genoeg kry nie…

Of kan ek in diepe dankbaarheid saam met Psalm 128 sing (en luister mooi wat sê hierdie psalm):

“Wie deur Gods vrees bewoë, trou op die weg wil gaan, waar hom Gods wil voor oë en klaar getekend staan – die arbeid van sy hande sal hy met vreug geniet wanneer die koringlande met seen hul opbrings bied. Soos ons met welgevalle die wingerstok aanskou, en tel die trossetalle wat ons die blare ontvou, so sal sy in jou lewe, die huisvrou van jou jeug, aan jou die volheid gewe van huiselike vreug. Soos jong olyfboomplante, wat uitspruit sterk en fris,

so bloei aan alle kante jou kinders om jou dis.”

Sien u, die digter besing hier sy dankbaarheid omdat hy God mag vrees, hy sing hoe wonderlik dit is om van sy vrou te mag geniet, en hy sing van blydskap oor sy kinders wat saam met hom om die tafel sit. Dít is die ekonomie van dankbaarheid, dít is die huiswet van ware dankbaarheid. En hierdie wet kan slegs tot uitvoering kom waar die hemelse wisselkoers goed in die oog gehou word, waar mense verstaan wat werklik van belang is in ons lewens. Hierdie wet sal slegs realiseer waar mense geleer het om reg te weeg – watter kant van die skaal weeg vir jou die swaarste? En as jy sukkel om reg te weeg, gaan leer dan by die Prediker, hy wat al die wêreldse rykdomme en genietinge uitprobeer het, en wat elke keer maar weer tot die konklusie moes kom: dit is alles ‘n gejaag na wind. Waarna jaag ons? Wat maak ons dankbaar? Dít wat baie lyk, maar nooit bevredig nie? Of dit wat baie is, en werklik dankbaar en gelukkig maak? Jy staan hier voor ‘n keuse, broer en susters…

 

Maar sê ons nou daarmee dat die ‘bietjie’ van vers 16 en die ‘porsie groente’ van vers 17 die norm geword het vir God se kinders? Is armoede die christelike ideaal waarna ons moet strewe? Nee, gemeente, die arm persoon is beslis nie die ideaal nie. Die ideaal is veel eerder wat die Spreuke-digter verwoord in hoofstuk 30: “gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is, dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie en sê: Wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie.” Die Spreuke-digter vra vir die goue middeweg, want in die goue middeweg hoef ek nie die Naam van God te laster nie. En uiteraard gaan hierdie goue middeweg verskil van tyd tot tyd en van plek tot plek; die goue middeweg in 2013 is anders as dié van die Tweede Wêreldoorlog, en die goue middeweg in Amerika is anders as dié in Suid-Afrika. Maar onder alle wisselende omstandighede vra ons vir vergenoegdheid, tevredenheid met wat die Here ons toebedeel het, omdat ons verseker weet dat die hemelse ekonomie vir ons ‘n baie groter skat bied as wat enige aardse rykdom ooit vir ons kan bied.

En laat ons daardie skat weer leer ken en leer waardeer, broers en susters. Kom ons staan weer persoonlik stil voor die Here; maak tyd daarvoor, dink na oor jou verhouding met die Here, want aardse skatte roes en vergaan, maar die hemelse skat bly tot in ewigheid. Maak verder weer bewustelik tyd vir jou huwelik, want geen geld in die wêreld kan as vervanging dien van ‘n liefdevolle verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou nie, en geen geld gaan jou kan troos wanneer jy dit verloor nie. Soek ook weer die samesyn met jou kinders op, want as jou kinders van jou wegdryf, gaan niks daarvoor kan opmaak nie. Kom ons skaal terug op ons najaag van die wêreldse ekonomie, kom ons oordink weer die standaarde wat ons onder die druk van die samelewing vir onsself gestel het, en kry weer ‘n helder blik op dit wat saakmaak in hierdie lewe.

Sien hierdie dinge weer raak, en dan sal jy agterkom hoe die Dankdag begin vorm kry. Want dán is daar soveel rede om die Here te dank! Dan sien ons nie meer wat húlle daarbuite het en wat ons moet mis nie, maar dan sien ons watter rykdom ons wél ontvang het in die afgelope jaar. Met die eerste oogopslag is die skat van vers 16 baie meer werd as die bietjie, en die vetgevoerde bees van vers 17 baie meer werd as die porsie groente. Maar voeg die vrees van die Here en liefde by die eenvoudige maaltyd, en voeg onrus en haat by die skat en die beesfillet… ja, dan lyk die dinge tog anders. Leer dus om goed te weeg, broers en susters, en hou die hemelse wisselkoers dop! [sing Ps. 128]

In die tweede plek: let op die groot Ekonoom.

 

2. “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het…” – hierdie woorde in Hebreërs 13:5 is ‘n redelike goeie samevatting van waaroor dit in die eerste punt gegaan het. Ja, goed, maar wat nou as ek werklik net daardie ‘bietjie’ van vers 16 besit, en wat nou as ek skaars vir my gesin die ‘porsie groente’ van vers 17 kan voorsien? Wat daarvan as dit die realiteit in my lewe is? Dus, kom ons weeg vir ‘n oomblik net die aardse dinge wat in die skaal van Spreuke 15 geplaas is. Dan kan ek hoe gelukkig wees saam met die Here, en saam met vrou en kinders, dan kan daar liefde wees in my huis, maar daar moet nogtans elke dag kos op die tafel kom, en daar moet rekeninge betaal word, en skoolgeld moet betaal word, en hierdie of daardie produk is opgebruik en moet weer aangeskaf word. Dis waar, die ander se boeke is duister om te lees, maar die Here weet dat dit soms maar ‘n stryd kan wees om maandeliks te oorleef. “Wees tevrede met wat julle het” – dit kan soms maar ‘n moeilike oproep wees om aan gehoor te gee.

Maar, broers en susters, die Hebreërskrywer voeg ook nog ‘n pragtige belofte by: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” Dit is ‘n wonderlike belofte wat direk uit die Here se mond aan jou gemaak word! Ek en jy, ons kán tevrede en vergenoeg wees oor wat ons het, want die Here, die grootste rykdom in hierdie lewe, is by ons. Ja, die hemelse Ekonoom is by ons! Hoe onseker my salaris en hoe groot my maandelikse uitgawes ook al is, hoe onseker my werksituasie ook al is (of ek werk het, en of ek genoeg werk gaan hê in die komende maande), nogtans sê die Here vir my: “Ek is by jou!” Ek mag in geloof die onsekerheid van my eie finansiële situasie vervang met die ‘Sekerheid in eie Persoon’! Ek mag vir die onsekerheid en die bekommernis sê: “Gaan weg uit my lewe!”, en ek word opgeroep om vir die Here te sê: “Here, kom vul my lewe met die sekerheid, met Uself!” Ek mag dit doen… maar die vraag is: doen ek dit ook werklik? Verruil ek die onsekerheid vir die sekerheid? Waarop rig ek my oog? Maak die onsekerheid my bang, laat die onsekerheid my snags wakker lê, of sê ek: die sekerheid – die Here! – is daar, dus het ek geen rede tot vrees nie? Gemeente, die Here gee aan ons sy belofte, Hy gee aan ons sy betroubare Woord. Kom ons vat dit!

 

Want dit is ware dankbaarheid, broers en susters! Dit is ware dankbaarheid, om op hierdie Dankdag die Here se belofte in geloof aan te gryp en te beantwoord met die woorde wat ons in Hebreërs 11:6 vind: “Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?” Natuurlik, ware dankbaarheid kom ook uit in ons dade, ware dankbaarheid word sigbaar en tasbaar in die kollektes wat ons net hierna gaan gee, en in ons kerklike bydraes, en in die manier waarop ek ander mense help. Maar ware dankbaarheid begin dáár waar ek die Here eenvoudig op sy woord vat dat Hy met ons is en vir ons sal sorg – nie omdat ek dit elke dag en elke oomblik sien nie, maar eenvoudig omdat die Here so sê!

En hoe sien ons hierdie geloofsvertroue nie in die voorbeelde van die geloof waarvan vir ons in die einste Hebreërboek (hoofstuk 11) vertel word nie. Ons vind daar ‘n Noag, wat teen alle spot in, die Here gehoorsaam het en die ark gereed gemaak het – malligheid, as jy na die omstandighede gekyk het. Ons vind ‘n Abraham wat in geloof weggetrek het, sonder om te weet waarheen hy sou gaan – wie doen so iets? Ons vind ‘n Moses wat verkies het om liewer sleg behandel te word as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê in die hof van Farao. En ons vind nog vele ander wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop, die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het. Ander weer het die proef van bespottinge en geselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis. Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel, hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en in skeure in die grond (Hebr. 11:33-37). Hoekom? Omdat hulle God op sy Woord gevat het.

 

En dit is ook die oproep aan ons. Die Here sê vir jou, sy kind: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” Wat is dan die gepaste reaksie daarop? Watter soort reaksie getuig van dankbaarheid? Dankbaarheid is om te sê: “So sê die Here, en daarom glo ek Hom, ook al getuig my omstandighede van iets totaal anders.” En dit is ‘n ander kyk op dankbaarheid as wat ons so dikwels hoor, nie waar nie? Dankbaarheid is so dikwels ‘n reaksie op wat ek gekry het, en hoe meer ek gekry het hoe groter is my dankbaarheid. Maar in hierdie geval is dankbaarheid ‘n reaksie op wat die Here gesê het – ek vat die Here op sy Woord, ook al het ek net ‘n bietjie, ook al het ek net ‘n porsie groente. En ervaar en aanskou dan dat die Here goed is! Ervaar hoe Hy by jou is, wanneer julle-twee saam na die gesinbegroting kyk en daar eenvoudig nie meer genoeg oor is vir die maand nie. Ervaar hoe Hy by jou is wanneer nog een van jou tenders afgewys word, of wanneer jy so baie tenders het dat jy nie weet hoe jy dit gaan uitvoer nie. Ervaar hoe Hy by jou is, wanneer jy besig is om te soek na werk. Sien hoe die Here jou Helper is!

 

En as ons só lewe, gemeente, in vertroue op ons Helper, dan kom daar ook ruimte om gehoor te gee aan die oproep van die eerste verse van Hebreërs 13: “Die broederliefde moet bly. Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg. Dink aan die gevangenes asof julle medegevangenes is, en aan die wat mishandel word, as mense wat self ook ‘n liggaam het.” Wanneer ons houding verander oor wat ons ontvang, dan verander ook ons houding oor wat ons uitdeel.

Gemeente, gaan lewe in die komende jaar met die oog gerig op die Helper in die hemel. Laat ons ‘n bewustelike keuse maak om op te sien na die hemelse Ekonoom, want bo alle wetmatighede in die ekonomie weet Hy presies waarheen alles gaan. Kry by Hom ekonomiese advies, vra vir Hom waar jy die beste kan belê, hoor by Hom waarop jy jou geld die beste kan spandeer. En as jy só na Hom opkyk, sal jy leer wat dit beteken: “Soek allereers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 65:6-9

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 92:1 en 2

Wetslesing

  • Sing Ps. 130:2
  • Lees HK, Sondag 38
  • Lees formulier vir afsnyding
  • Gebed
  • Sing Ps. 130:4 (staande)

Lees:    Spreuke 30:7-9

            Hebreërs 13:1-6

Sing Ps. 118:2-4

Teks: Spreuke 15:16-17

Preek

  • Na 1ste punt Ps. 128
  • Amenlied Ps. 56:1 en 3

Sing voor kollekte Ps. 136:2, 18 en 20

Kollekte

Gebed

Slotsang Ps. 37:2, 10, 15, 16

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)