Die ‘reeds’ en die ‘nog nie’ van die nuwe Jerusalem

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2013-03-10
Teks: 
Openbaring 21:9-22:5
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Openbaring 21:9-22:5

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het gesien dat Johannes se perspektief – wat deur die grootste deel van die boek sterk gefokus was op die Here se verbondsoordeel oor Jerusalem en die tempel in die jaar 70 nC – dat daardie perspektief vanaf hoofstuk 20 heelwat verder in die toekoms gerig word. Die duisend jaar van hoofstuk 20, wat in Johannes se eie dae alreeds begin het, hou sy blik nou nie net meer gevange op die hede van sy dag nie, maar rig dit ook op die toekoms. En selfs nog verder as dit… Want teen die einde van die duisend jaar, so lees ons in hoofstuk 20:7-10, sal die Satan ontbind word, en sal hy in die finale veldslag teen die geliefde stad deur God se vuur verslind word. Dáárna volg die laaste oordeel (20:11-15), en ten slotte word in hoofstuk 21 vir ons vertel van die nuwe hemel en aarde, en die nuwe Jerusalem.

En wanneer ons hierdie toekomsgebeure so agter mekaar lees in Openbaring 20 en 21, dan lyk dit vir ons na ‘n uitgemaakte saak dat ons hier met ‘n reeks gebeure te make het wat mekaar chronologies opvolg: 70 nC, daarna die duisend jaar, vervolgens die einde van die duisend jaar, die laaste oordeel, die nuwe hemel en aarde… Dus, dan moet die nuwe Jerusalem mos ‘n aanduiding wees van die ewige lewe by God; die nuwe Jerusalem moet die laaste akte op God se pad van verlossing wees. En ons is nie verkeerd wanneer ons so redeneer nie, gemeente, maar ons het daarmee nog nie alles gesê nie. Hoofstuk 21 se uitleg is nie so eenvoudig nie. Ons vind hier naamlik, soos so dikwels in die profesieë, ‘n mengsel van elemente: elemente wat duidelik vooruit wys na die volmaakte en ewige lewe met God (soos byvoorbeeld die feit dat daar op die nuwe hemel en aarde geen dood meer sal wees nie – Op. 21:4), maar óók elemente wat ons laat vermoed dat iets van wat in Openbaring 21 vir ons geskets word, alreeds in Johannes se eie dae begin realiseer het. Die ewigheid vind alreeds realisering in die tyd!

 

En dit maak die lees van die boek Openbaring soms so verwarrend, nie waar nie? Die ‘reeds’ en die ‘nog nie’ loop deurmekaar heen. Dieselfde verwarring vind ons, byvoorbeeld, ook in Jesus se profetiese rede (Mt. 24), waar dit enersyds baie duidelik gaan oor die verwoesting van Jerusalem en die tempel in daardie tyd, maar waarin daar andersyds ook elemente is wat duidelik eers aan die einde van die tye hulle vervulling sal vind. Maar, gemeente, ons moet goed verstaan dat hierdie verweefdheid van kontemporêre en toekomselemente bewustelik gedoen is! En ons moet in ons lees ook aan beide die nodige aandag gee. Dus, wanneer ons vandag luister na Openbarig 21 oor die nuwe Jerusalem, dan gaan dit nie nét oor eendag in die verre toekoms nie. Nee, dan vind ons daar ook elemente wat vandág reeds sigbaar is! En die teks self wys dit vir ons. Hoe weet ek dit?

Wel, om mee te begin, moet ons daarop let dat die skets van die nuwe Jerusalem, die bruid, ‘n kontras vorm met die skets van die ou Jerusalem, die hoer Babilon. Beide sketse begin immers met amper letterlik dieselfde woorde – kyk maar na hoofstuk 17:1: “En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer…” Vergelyk dit nou met hoofstuk 21:9: “En een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon…” En daarby vertoon die slot van die Babilon-seksie en die slot van die Jerusalem-seksie ook groot ooreenkomste. Dus, die hoer en die bruid, Babilon en Jerusalem vorm duidelik mekaar se teenpole. Nou, as die ou Jerusalem, Babilon, in 70 nC verwoes is, dan verwag ‘n mens tog sekerlik dat die koms van die nuwe Jerusalem spoedig daarna sal volg, eerder as om duisende jare te wag. Dit is dan ook opmerklik dat, direk nadat Johannes die nuwe Jerusalem aanskou het, die stem vir hom sê: moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby.” (Op. 22:6 en 10). Die tyd is naby – nie net vir die val van Babilon nie, maar ook vir die koms van die nuwe Jerusalem. En dit is dan ook nie vreemd dat daar reeds in die Nuwe Testament, net soos in Openbaring 21 se skets, na die kerk as die bruid verwys word nie (Ef. 5, 2 Kor. 11:2, Joh. 3:29).

 

Dus, ek gaan nie vir u ‘n preek hou oor een of ander verre ideaal, die magiese nuwe Jerusalem nie. Nee, ek gaan vir u die werklikheid verkondig van die nuwe Jerusalem wat rééds hier is, én wat nog in sy volheid moet kom. Hierdie werklikheid sien Johannes neerdaal van God uit die hemel. Dit is ‘n hemelse werklikheid, daar waar Jesus Christus sedert die hemelvaart regeer, maar wat in ons werklikheid gestalte aanneem.  

Tema: die ‘reeds’ en die ‘nog nie’ van die nuwe Jerusalem

  1. die nuwe Jerusalem in wording (21:9-14)
  2. God se heerlike aanwesigheid (21:15-23)
  3. Die roeping van die volke (21:24-27)
  4. Die lewe in die stad (22:1-5)

 

1. Johannes sien dus die nuwe Jerusalem uit die hemel van God neerdaal (21:10). En die eerste wat hy dan vir ons beskryf, is God se heerlikheid in hierdie stad (21:11) – ons kom net-nou weer hierop terug. Vervolgens beskryf hy vir ons die fisiese trekke van die stad. Die stad het ‘n groot en hoë muur (21:12a). Die funksie van hierdie muur is om die stad as ‘n stad te kenmerk; ons het hier te make met ‘n duidelik-afgebakende woongemeenskap van mense. En binne hierdie woongemeenskap is die inwoners veilig; die mure bied beveiliging. Die Here belowe immers in Sagaria 2:5 aan Jerusalem om vir hom ‘n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in te wees. Hierdie einste belofte vind sigbare uitwerking in Johannes se visioen van die nuwe Jerusalem.

Nou, hierdie ommuurde stad het twaalf poorte, en by die poorte staan daar twaalf engele. Hierdie engele vervul dieselfde funksie as die cherubs wat die toegang tot die lewensboom in die paradys bewaak het (Gen. 3:24). Dit is ‘n funksie wat saamhang met Openbaring 21:27: “En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.” Die toegang tot die nuwe Jerusalem word goed gekontroleer, die sonde mag nie inkom nie! En tog beteken dit nie dat die poorte angsvallig toegehou word nie – nee, die poorte staan uitnodigend oop, en die wagters laat ‘n stroom van mense deur hierdie geopende poorte inkom.

Daar is nog iets wat Johannes tref: op die poorte staan name geskrywe. Maar watter name is dan so belangrik dat hulle nie vergeet mag word nie? Dit is die name van die twaalf stamme van die kinders van Israel! Ja, dis waar, die inwoners van hierdie stad word uit alle windrigtings vergader; daar is drie poorte elk na die ooste, die noorde, die suide en die weste-kant (21:13). Die inwoners van die nuwe Jerusalem bestaan uit alle volke, nasies en tale – dit is die katolisiteit van die kerk wat teenoor die eksklusivisme van die Jodendom staan! En tóg mag die inwoners van die stad nooit haar heilshistoriese oorsprong vergeet nie! Die vrug van die Ou Testamentiese heilsgeskiedenis is deel van die glorie van die nuwe Jerusalem. Gelowiges wat deur die poorte binnegaan, moet besef dat hulle ingevoeg word in God se Israel, dat hulle ingeënt word op die ware olyfboom (Rom. 11:17 e.v.).

Die stad het ook twaalf fondamente (21:14). Daarop staan geskrywe die name van die twaalf apostels van die Lam. Dit herinner ons aan die begin van die Nuwe Testamentiese geskiedenis – dít is ook deel van die glorie van die nuwe Jerusalem. Dus, sowel die twaalf stamme van Israel as die twaalf apostels van die Lam is diensbaar aan hierdie nuwe stad. En daarmee word die eenheid van die ou en die nuwe verbond vir ons aangetoon. Verder wys die apostel-name ook vir ons dat hulle prediking – die apostoliese leer – die fondament is onder die vergadering van die Nuwe Testamentiese kerk. Dit is ook wat Paulus leer in Efesiërs 2:20: “julle is huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is.” Elkeen wat die stad wil binnegaan, word daaraan herinner dat hulle toetrede slegs moontlik is deur die prediking van die apostels van die Lam. Die werk van die Lam, sy offer aan die kruis, is die draende grond onder die nuwe Jerusalem.

 

Gemeente, dit is die eerste deel van Johannes se visioen. Ek hoop u het bygehou, want hierin is so ‘n kragtige boodskap vir die kerk vandag! Ek vat nog ‘n keer saam… Die bruid, die groot stad, die heilige Jerusalem is hemelse werk – Christus bou haar vanuit die hemel. Eendag? Nee, vandag alreeds! En Hy beskerm haar rondom teen alle gevare; Hy is die vurige muur rondom sy volk. En verder is toegang tot hierdie stad gratis, enige iemand is welkom, maar jou sondes en jou onreinheid moet jy buite los – daarvoor sorg die twaalf engele. Want as jy hierdie stad betree, dan plaas jy daarmee jou lewe op die grondslag van die evangelie (die verkondiging van die apostels), dan bou jy daarmee jou lewe op die bloed van die Lam en nie meer op die sonde nie. En besef ook dat, as jy hierdie stad ingaan, jy deel word van die Israel van God. Jy word deel van die stroom van God se heilsgeskiedenis deur alle eeue, jy word deel van die katolieke kerk van die ou en die nuwe verbond.

Gemeente, as ons hierdie beskrywing van die nuwe Jerusalem op ons laat inwerk, dan hoor ons daarin die belydenis oor die kerk resoneer, die belydenis oor die kerk soos wat ons dit vind in die geloofsbelydenis van Nicea: ek glo in een, heilige, katolieke en apostoliese kerk. Ja, ons hoor daarin die eenheid van die kerk in die een, ommuurde stad wat van die een God uit die hemel neerdaal; daar is een stad, een kerk! Ons hoor daarin die heiligheid van die kerk, want die twaalf wagter-engele sorg dat die sonde buitebly. Ons hoor daarin die katolisiteit van die kerk, want dit is die een volk deur alle eeue (ou en nuwe verbond), die volk uit Abraham gebore. En ons hoor daarin die apostolisiteit van die kerk, wat gebou is op die fondamente van die leer van die apostels. En wat sê dit vir ons, broers en susters? Dit sê vir ons dat die kerk vandag die nuwe Jerusalem in wording is! Ons, hier, mag deel vorm van die vrugbeginsel van die volmaakte bruid! Is dit nie ongelooflik nie? Die verstommende beelde van Openbaring 21 is in beginsel alreeds hier aanwesig. Ek weet, ons sien nie altyd so baie daarvan nie. Ek weet, dit is beperk en gebrekkig. Maar laat ons maar net trou bly aan die leer van die apostels in prediking en onderrig, en laat ons die sonde uit ons midde weer deur middel van die tug. Wanneer ons, deur die Here se genade, die kenmerke van die ware kerk vertoon, dan sal die mure en die poorte en die fondamente van die nuwe Jerusalem voor ons oprys! Dan sal binnekort, dít wat nou nog onvolmaak en gebrekkig is, skitter met die heerlikheid van God!

Dit is ons volgende gedagte: God se heerlike aanwesigheid.

 

2. Johannes se visioen betree ‘n nuwe fase. In die hand van die engel, wat hom sopas die stad gewys het, sien Johannes ‘n goue meetroede. Dit was die gedagte dat die engel met hierdie meetroede die stad, sy poorte en sy muur moes meet. En wat hy meet, is eenvoudig ontsagwekkend! ‘n Kubus, waarvan die lengte en die breedte en die hoogte alles ewe lank is – elkeen 12 x 1000 stadia (ons vertaling praat in vers 16 van duisend-vyf-honderd myl). In vandag se terme het ons hier te make met ‘n stad waarvan die grondvlak ongeveer 5 miljoen vierkante kilometer beslaan, omtrent so groot soos die hele Middelandse See-gebied met sy omringende lande – dus, die bekende wêreld van daardie tyd. Daarmee is die boodskap baie duidelik: daar is genoeg plek vir almal in hierdie stad, die woonkapasiteit is groot genoeg vir almal; in die huis van die Vader is daar baie wonings.

Maar belangriker nog as die feit dat dit hier gaan oor die woonplek van mense, is dat ons hier te make het met die woonplek van Gód! Immers, net soos die stad was die allerheiligste van die tempel ook ‘n kubus, en dit was ‘n aanduiding van God se aanwesigheid in al sy volheid. En daarby herinner die goud waarmee die stad gebou is (21:18) aan die goud waarmee die allerheiligste uitgevoer is (kyk maar wat lees ons in 1 Kon. 6:20: “en die binneste vertrek was twintig el in lengte en twintig el in breedte en twintig el in sy hoogte, en hy het dit oorgetrek met fyn goud”). Die stad is ‘n massiewe uitvergroting van die allerheiligste! Hierdie ruimte – die allerheiligste – waar vroeër slegs die hoëpriester toegelaat was om eenmaal per jaar te kom, is nou so breed en lank en hoog dat dit die permanente woonplek van God by sy volk geword het. God in al sy heerlikheid – vers 11 – woon by sy volk, en hulle mag by Hom woon! Daar is geen tempel meer in hierdie stad nie, want alles is tempel, omdat die Here God en die Lam daar woon (21:22)! Hierdie stad is een groot allerheiligste! Selfs die son en die maan is hier nie meer nodig nie, want God se heerlik verlig die stad, en die Lam is sy lamp (21:23)!

 

Met die gevolg dat alles in hierdie stad God se heerlikheid weerspieël, weerkaats! Kyk maar saam met my… Die heerlikheid van God, wat soos ‘n kristalhelder jaspissteen geskyn het (21:11), word weerkaats teen die mure van die stad wat óók van jaspis gemaak was (21:18). Die stad en sy strate was van suiwer goud (21:18) – en nie dowwe goud nie, nee, suiwer goud soos suiwer glas. Hierdie goud was van so ‘n hoë kwaliteit dat jy daardeur kan kyk; dit was soos deurskynende glas (21:21) – die strate weerkaats die heerlikheid van die allerheiligste. Verder was die fondamente versier met die mooiste edelgesteentes (21:19-20) – die fondament van die apostels, die verkondiging van die evangelie, straal God se heerlikheid in al sy skoonheid en skittering uit! En dan was die twaalf poorte elkeen gemaak uit een massiewe pêrel wat ‘n pragtige uitnodigende glans uitgestraal het.

Sien u, goud, edelgesteentes en pêrels vorm die boumateriaal van die nuwe Jerusalem. Die mure, die huise, die fondamente, die poorte, die strate en die stadsplein, alles mag die heerlikheid van God se aanwesigheid uitstraal. Alles, werklik alles, in hierdie stad is aan die Here gewy! Alles is daarop gerig om sy heerlikheid, wat in hierdie stad woning kom maak het, te weerkaats! En eendag sal dit werklik wees soos wat Johannes dit in sy visioen gesien het.

Maar die wonder, broers en susters, is dat ons nie vir eendag hoef te wag nie. Want in die menswording van Christus wil God vandag reeds by ons woning maak. En deur die Gees van die verhoogde Christus mag ons vandag reeds God se heerlikheid weerkaats. Ons mag ons hele lewe, alles wat ons is en het, in heiligheid aan die Here wy. Dit is die aard van die kerk van Christus, sodat Sagaria in hoofstuk 14:20 van sy profesie kan sê: “In dié dag sal op die klokke van die perde staan: heilig aan die HERE!” Selfs die klokke van die perde word aan die Here gewy! Die mees gewone dinge is heilig aan die Here! Ja, deur die genade van die Here mag ek vandag reeds op die enigste fondament bou met goud en silwer en kosbare stene – volgens Paulus in 1 Korinthiërs 3:12. En so mag die nuwe Jerusalem vandag reeds sigbaar word in die kerk deurdat die Gees die heiliging van die lewe bewerk. Die volmaaktheid wag nog, en ons sien uit daarna wanneer ons telkens weer met ons eie gebrokenheid gekonfronteer word. Maar mag dit tog so wees, dat ons vandag alreeds ons lewens, en alles daarin, aan die Here wy. Mag sy heerlikheid hier straal! En as jy dit raaksien, hoe heerlik sal die heerlikheid van die toekoms dan nie wees nie!

Ons let in die derde plek op die roeping van die volke.

 

3. Die heerlikheid van God is in die nuwe Jerusalem, en daardie heerlikheid straal na alle kante toe – so het ons sopas gesien. Vervolgens sien ons hoe die nasies in hierdie ligstraal lewe. Kyk maar na vers 24: “die nasies wat gered word, sal in die lig daarvan wandel…” Selfs hooggeplaastes sal in daardie ligstraal lewe: “die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin.” Ons vind dus ‘n internasionale geselskap in die nuwe Jerusalem, die inwoners van die nuwe Jerusalem is God se verenigde nasies wat opgeskryf is in die boek van die lewe van die Lam.

Nou, verse 25-27 vertoon baie duidelik elemente wat slegs aan die einde van die tyd verwerklik sal word: “bedags – want nag sal daar nie meer wees nie – sal sy poorte nooit gesluit word nie…” Sluitingstye is dan nie meer nodig nie, want dan is daar met alle vyande van die Here afgereken. Nag bestaan nie meer nie, dit bly ewig dag. En verder: “daarin sal slegs inkom die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.” Die nuwe Jerusalem in al sy volmaaktheid sal slegs bestaan uit uitverkorenes, uitverkorenes uit alle lae en stande van die wêreldbevolking (tot selfs konings). En dan is daar geen geleentheid meer vir bekering nie. Ons moenie dink dat daar dán nog geleentheid vir die vyande is om uit die poel van vuur gered te word nie. As die poorte van die stad oopstaan, dan is dit nie om te lok nie. Loktyd is verby. ‘n Lewe buite die poorte van die stad bestaan dan nie meer nie, want hierdie massiewe kubus-stad beslaan immers die hele aarde! En burgerskap van hierdie stad is uitsluitlik gekoppel aan registrasie in die lewensboek van die Lam.

 

En tog, gemeente, is die oopstaan van die poorte ook ‘n kontemporêre element, iets vir vandag. Daar is vandag nog lewe buite die stad-in-wording, hoeveel miljoene is daar nie wat vandag nog buite die kerk lewe nie. En juis daarom moet ons vandag soveel erns maak om die nasies te lok, vandag is daar nog loktyd. Vandag is daar nog geleentheid vir alle lae en stande van die bevolking om die heerlikheid aan God te bring. Laat ons hulle nooi! Laat ons hulle uitnooi na Jesus Christus: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is!”

Maar… ons weet mos nie wie opgeteken is in die boek van die lewe van die Lam nie? Nee, heeltemal reg. Maar… aan wie moet ons dan die evangelie bring? Aan almal! Dit is wat ons bely in Dordtse Leerreëls, hoofstuk 2, paragraaf 5: “Dit is die belofte van die evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof.” Sonder enige onderskeid – los die uitverkiesing maar vir God, gaan jy heen en maak dissipels van alle nasies! Sodat die stad vol kan word!

En dan let ons nog kortliks op die lewe in die stad.

 

3. Want die stad is nie maar net een en al luister en heerlikheid… sonder lewe nie. Nee, die uiterlike glorie omvat groot geluk aan die binnekant. Johannes sien ‘n suiwer rivier van die water van die lewe wat uit die troon van God en die Lam vloei (22:1). Net soos die riviere in die paradys (Gen. 2:10-14), is hier ook ‘n rivier! En oral waar daardie rivier vloei, bloei die lewe op. Langs die rivier staan daar immers bome (22:2) – die een boom van die lewe van die tuin van Eden, keer nou in veelheid terug. Daar is ‘n hele laning van bome. En hierdie bome dra elke maand van die jaar vrugte, vrugte wat genesende krag het vir die nasies. Die nuwe Jerusalem is daarmee ‘n volmaakte Mediese Sentrum. Dit beteken natuurlik nie dat daar op die nuwe aarde mense gaan wees wat genesing van pyn en siekte nodig sal hê nie, maar dit gaan oor die kontras tussen hierdie wêreld met sy lyding en sterwe, en die toekomstige wêreld waar daar geen pyn en lyding meer sal wees nie.

Verder sien ons dat daar in die nuwe Jerusalem geen vervloeking meer sal wees nie (22:3). Die versteuring in die eerste paradys, wat God genoodsaak het om ‘n vervloeking uit te spreek, sal in die nuwe Eden nie meer bestaan nie: niks waarop God se vloek rus, sal in die stad aangetref word nie. Geen vervloekte sal daar wees nie, slegs diensknegte! Daar is geen sonde meer nie, en daarom ook geen vervloeking meer nie. Hier sal die mens weer van aangesig tot aangesig met God leef (22:4) – net soos wat Adam en Eva in die paradys met God gewandel het (Gen. 3:8). Daar sal regstreekse omgang wees. Ja, om God te kan sien, was dikwels in die geskiedenis ‘n wens van die mens, maar dit was nie moontlik nie. Maar in die nuwe Jerusalem word dit moontlik! Die mens mag in die lig van God se aangesig lewe, sodat nag nie meer sal bestaan nie (22:5). God is die enigste en genoegsame Ligbron waarin die mens dan sal lewe – die einde keer weer terug na die begin (Gen. 1:1). En dit wat die mens in die paradys reeds was, onderkoning van die skepping, keer ook weer terug: hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid (22:5).

 

Sien u, gemeente, die paradys keer weer terug. Die volmaakte toestand word herstel. Maar daar is ook vooruitgang. Die nuwe Jerusalem is nie maar net ‘n replika van die tuin van Eden nie. Nee, deur die werk van Jesus Christus vind ons vooruitgang. Die tuin het immers ‘n stad geword! Die riviere ontspring nou nie meer vanaf die aarde nie, maar vanuit die troon van God en die Lam. Die enkele boom van die lewe is nou ‘n hele laning geneeskragtige bome. As Adam en Eva in hulle ongeskonde staat gebly het, dan is dít waar hulle ook sou uitgekom het. En dít is waarheen ons oppad is, broers en susters. Lewe met God!

En weereens, iets hiervan mag vandag reeds sigbaar word in die kerk. As die kerk presies dieselfde lyk as die wêreld, en as kerkmense op presies dieselfde manier met mekaar omgaan as mense van die wêreld, en as die boodskap in die kerk dieselfde is as die boodskap van politici, dan het ons êrens iets verloor. Want God maak die kerk anders as die wêreld, en die boodskap van die evangelie maak mense werklik nuut, dit werk genesing in hulle lewe. En God wil hê dat sy kinders anders met mekaar omgaan as die ongelowiges. Gemeente, is dit hier die geval? Ervaar u in die prediking iets van die lewe met God wat vir ons wag? Mag u hier alreeds drink uit die stroom van die water van die lewe? Weerspieël jou broeder se omgang met jou, en jou omgang met jou suster iets van die koningskap van die nuwe Jerusalem? Kom ons smeek die Here om dit te werk: dat die lewe van die kerk vandag iets sal weerspieël van die lewe in die nuwe Jerusalem. Want Christus regeer alreeds, en sy hoofstad is reeds in wording. Kom ons leef uit wat ons rééds mag verwag, en ons bid met volharding vir dit wat nog moet kom.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 45:9, 10, 12-14

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. / Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 150

Wetslesing + genadeverkondiging

Sing Ps. 71:9, 10, 12 en 14

Gebed

Kollekte (orrel speel)

Lees: Openbaring 21:1-22:11

Teks: Openbaring 21:9-22:5

Sing Skr. 23

Preek

Amenlied Ps. 87:1 & Skr. 45:4+7

Gebed

Slotsang Ps. 87:2+5 & Skr. 45:3+10

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)