Sondag 42(2) : God se paradysinstelling leer ons om geestelik met die materiële om te gaan

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2013-03-03
Teks: 
Génesis 2
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Sondag
42; lees Genesis 2

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Dit bly altyd ‘n groot uitdaging vir die gelowiges om die regte
dilemmas in die lewe te stel, om die regte teenstellings te maak. Of anders
gestel: dit bly ‘n uitdaging om dié dinge teenoor mekaar te stel wat werklik
teenoor mekaar moet staan, en om nie dít wat in wese bymekaar hoort teenoor
mekaar te gaan stel nie. Kom ek verduidelik dit in terme van die agste gebod
waarna ons vanaand wil kyk. Ons is soms nogal geneig om ‘n teenstelling te maak
tussen die geestelike dinge én die materiële dinge. In hierdie teenstelling is
die geestelike dinge dan dié dinge wat betrekking het op die lewe met God, terwyl
die materiële dinge los daarvan staan en my eie saak is. ‘n Mens kan dit konkreet
maak met ‘n paar baie eenvoudige voorbeelde… * Die ouderling kom besoek my, en
hy vra my uit oor my bybelstudie; ek is heeltemal bereid om met hom daaroor te
praat – dit is mos waarvoor hy hier is, die geestelike dinge. Dan vra hy egter vervolgens:
broeder, suster, wy jy ook genoeg van jou geld en goed aan die Here? Maar… daarmee
het hy mos niks te make nie!? * ‘n Ander voorbeeld: die kerkraad het die taak
om te waak oor die heiligheid van die nagmaal, en ons is baie ernstig daaroor:
wie eet van die brood en drink van die wyn? Maar watter uitspattige eet- en
drinkpartytjies en watter luukse brood- en wynfeeste ek in die privaatheid van
eie huis hou, dit is ten slotte my eie saak. * Of ‘n laaste voorbeeld: ek is
bereid om van my inkomste ‘n deel aan die Here af te staan, maar wat ek
vervolgens met die res maak, dit is mos my vryheid.

Ek weet, dit is drie baie simplistiese voorbeelde. Maar dit gee tog
iets weer van die teenstelling wat ons geneig is om te maak tussen die
geestelike dinge en die materiële dinge, tussen God se gawes en my eiendom,
tussen Sondag en Maandag, tussen rekening-hou-met-die-Here en my eie bankrekening.
Maar gemeente, dít is nou wat ons noem ‘n valse teenstelling, ‘n vals dilemma. Dít
is nou om dinge teenoor mekaar te plaas wat in wese bymekaar hoort, wat Gód
bymekaar geplaas het. Die bybel ken naamlik nie hierdie teenstelling tussen die
geestelike en die materiële nie; die bybel ken slegs die teenstelling tussen Gees
en vlees, tussen lig en duisternis, tussen geloof en ongeloof. Dít is die
teenstelling wat die Skrif maak!

Ek verkondig daarom aan u die agste gebod onder die tema:

Tema: God se paradysinstelling leer ons om geestelik met die
materiële om te gaan…

  1. God is die Gewer
  2. Ons is die arbeiders

 

1. Gemeente, hoe meer ‘n mens Genesis 1-3 lees en bestudeer, hoe meer
kom jy onder die indruk van die feit dat God in hierdie eerste drie hoofstukke
alreeds die belangrikste grondlyne vir die héle vervolg van die Skrif neergelê
het. Dit is daarom nie verniet dat, in die stryd oor die gesag van die Skrif,
die satan sy pyle veral op hierdie drie hoofstukke rig nie. Hier het ons
naamlik die volledige evangelie alreeds in ‘n neutedop! Ek vermoed selfs dat as
ons mooi gaan ondersoek, ons alreeds die grondpatroon vir elkeen van die tien
gebooie in hierdie hoofstukke sal vind. Dit geld in elk geval vir die agste
gebod: jy mag nie steel nie. Kyk maar saam met my…

Nadat God die hemel en die aarde en alles daarop geskape het, het Hy
dit alles aan die mens gegee. Ons sien dit alreeds in Genesis 1:28, waar God
die mens skep met die opdrag: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde,
onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en
oor al die diere wat op die aarde kruip.” Die aarde is dus die woon- en die
werk- en die speelplek van die mens; God géé dit aan hom met ‘n baie spesifieke
opdrag. Ons sien dieselfde ook weer in hoofstuk 2:15 waar God die mens in die
tuin van Eden gestel het om dit te bewerk en te bewaak. En dan wys God sy
vrygewigheid in besonder in vers 16: “Van al die bome van die tuin mag jy vry
eet.” Die mens ontvang hierdie aarde met alles
daarop uit God se hand.

 

Met een uitsondering… “Van die boom van die kennis van goed en
kwaad, daarvan mag jy nie eet nie” (Gen. 2:17). Hoekom nie? Omdat God tog nog
iets vir Homself wou hou? Omdat Hy dit nie oor sy hart kon kry om alles net so weg te gee nie? Nee,
gemeente, God is en het in Homself meer as genoeg! Maar Hy sonder daardie een
boom uit, sodat die mens nie sou vergeet dat alles van God af kom nie! Van
daardie een boom kon hulle nie eet nie, sodat hulle sou onthou Wie al
daardie orige rykdom en weelde geskenk het. Die boom van die kennis van goed en
kwaad was die lewende prediking aan die mens, daardie boom was verkondiging
soos wat ons dit elke week van die preekstoel af kry. Verkondiging wat sê:
Erken jou God as Gewer, en ken jou plek as mens! Alles wat jy het, het jy
van God ontvang. Moet jouself daarom nie begin gedra asof jy dit self bewerk en
aangeskaf het nie, moenie jouself die titel ‘skepper-eienaar’ aanmatig nie. En,
gemeente, solank as wat die mens aan hierdie gebod van God gehoorsaam sou wees,
sou dit ‘n erkenning wees van die groot Eienaar, die groot Gewer en sy
beskikkingsreg. Solank as wat hy voor hierdie prediking sou buig, soos wat u
geroep word om voor elke Sondag se prediking te buig, sou dit met hom goed gaan
en sou hy nooit enige gebrek ly nie. Ja, as die mens aan God se agste
paradysgebod gehoorsaam sou gewees het, sou die tuin van Eden homself deur alle
geslagte heen uitgebrei het sodat uiteindelik die hele aarde een groot en
heerlike paradys sou wees!

Maar die mens het die prediking verwerp; hy wou nie meer die aarde
as geskénk erken nie, maar het
homself die beskikkingsreg oor die aarde toegeëien. Nee, broers en susters, dit
was nie maar net ‘n kwessie van ‘n appeltjie steel nie, een klein happie. Nee,
die sondeval het, in terme van die agste gebod, verwerping van die Eienaar
beteken. Die sondeval was, in die lig van die agste gebod, diefstal van die
hele aarde. Die mens het die aarde losgemaak van die vrygewige Eienaar en van
die liefdevolle Gewer daarvan; die mens het die aarde gesteel. Die oomblik toe
die mens onder aanhitsing van die duiwel die aarde – en in besonder die boom
van die kennis van goed en kwaad – losgemaak het van die Gewer om sélf daaroor
te beskik, op daardie oomblik het die mens ‘n chroniese dief geword. Dit is wat
jy en ek van nature is!

 

Só konkreet, gemeente, is die geestelikheid van die agste gebod. Jou
omgang met die materiële dinge is in alle opsigte ‘n geestelike saak. Géén
materie – geen paar skoene of t-hemp, geen sokkerbal of tennisraket, geen kar
of sleepwa, geen twintig sent of tienrand-noot – niks van dit alles staan los
van die Gewer daarvan nie. En elke keer wanneer ons hierdie dinge wél losmaak
van die Gewer, pleeg ons diefstal. Elke keer wanneer ons nie geestelik met ons
eiendom omgaan nie – of dit nou baie is of bittermin – dan is dit eiendom wat
ons gesteel het. God verbied dus nie slegs – soos wat die Kategismus sê – dié
diefstal en roof wat die owerheid straf nie. God verbied ook nie slegs al die
skelmstreke en liste waardeur ons probeer om ons naaste se besittings in die
hande te kry nie. Natuurlik, dit ook! Maar moenie slegs dáárop fokus nie, want
dan kan kinders van die Here hulle soms redelik maklik uit die erns van die
agste gebod uitwurm. Nee, bo al hierdie voor die handliggende oortredings verbied
God dié soort omgang met ons geld en besittings waarby ons Hóm nie meer as Gewer
erken nie. Dít is die kernoortreding van die agste gebod.

En, broers en susters, as ons so daaroor nadink, is dit iets ysliks,
nie waar nie? Want wie van ons dink bewustelik daaroor na dat God die Gewer is
van die toebroodjie wat ons vinnig wegsluk voordat ons werk toe ry, of dat die
motor waarmee ek in die verkeersopeenhoping vassit van God afkom, of dat die
geld waarmee ek daardie hoë rekening moet betaal syne is? Vir selfgesentreerde
stelers, wat ons van nature almal is, is dit ‘n ondraaglike las, een wat in ons
oë onrealistiese eise stel.

 

Inderdaad! Maar, gemeente, luister dan na die Here Jesus. Hy nooi
ons uit om hierdie ondraaglike las van die agste gebod te kom verruil vir sy
sagte juk en sy ligte las (Mt. 11:28-30). Hy het op aarde gedra wat vir ons ondraaglik
was en die agste gebod in al sy volheid volbring. Hy was vir veertig dae sonder
brood in die woestyn, en toe die satan Hom versoek het om uit die klippe vir
Homself brood te maak, het Hy nie daaraan toegegee nie. Want, het Hy gesê, die
mens sal nie van brood alleen lewe nie – nie van brood-sonder-God nie – maar
van elke woord wat uit die mond van God uitgaan. Jesus wou slegs eet wanneer
die Vader die woord gespreek het, wanneer Hy sy seën daaroor gebied het. Hy was
immers nie afhanklik van brood nie, maar van God! En op die tye wanneer Hy wel
brood gehad het, gaan hierdie selfde Jesus ons op pragtige wyse voor in danksegging
en gebed – by elkeen van die broodwonders waarvan in die evangelies vir ons
vertel word, by al die verskillende verhale van maaltye, sien ons hoe Jesus
eers sy Vader in die hemel vir die kos dank; Hy wil nie een snytjie brood eet
los van God nie. En aan die kruis dra Hy ons oortredings teen die agste gebod, terwyl
sy klere van sy lyf af gesteel word. Ja, ten slotte mag Hy nie eens meer die
sonlig geniet nie, maar word Hy deur God self uitgewerp in die buitenste
duisternis. Hy is gesteel en verkoop onder die sonde, maar in dit alles het Hy
nie gesondig nie.

Gemeente, dit is deur hierdie verlossingswerk van Christus – ook ten
opsigte van die agste gebod – dat óns weer die woord mag hoor wat Paulus onder
andere in 1 Korinthiërs 3 uitspreek: “alles behoort aan julle, maar julle
behoort aan Christus.” Ons ontvang alles wat ons het om Christus wil! Deur sy
bloed is daar geld en goed, kos en klere, karre en huise. Ja, alles
behoort nou weer aan ons – net soos met Adam en Eva in die paradys! Maar, en hier lê dan ook vir Nuwe
Testamentiese gelowiges die kruks, maar
julle behoort aan Christus. Slegs in ‘n persoonlike verhouding met Jesus
Christus – God se hoogste gawe van liefde aan die mens! – kan ons die Vader
weer leer ken en erken as die Gewer van alle ander dinge wat ons besit. Die weg
van vervulling van die agste gebod loop daarom reguit na Jesus Christus. Jy kan
die agste gebod nie gehoorsaam sonder Hom nie! Gaan daardie weg, gemeente. Nie
as opgawe nie, nie as las nie, maar as enigste uitkoms. Gooi jou hele lewe en
al jou besittings waaraan jy so klou voor Hom neer, en ontvang dit weer
geheilig uit sy hand terug. Geheiligde klere, geheiligde aandete, geheiligde
motors… Nee, dan word jy nie noodwendig ryk nie, dit bring nie noodwendig
ekonomiese wins nie. Maar dan is jy ryk in God, en geen bank of skuldeiser of bankrotskap
kan dit van jou wegneem nie. Kom ons leer in Christus weer die Vader ken as
Gewer! Gewer van Jesus Christus, my Heiland, maar vervolgens ook Gewer van die
mees gewone materiële dinge in die lewe.  

In die eerste plek het ons
daarop gelet dat God die Gewer is. Nou, in die tweede plek, sien ons nog
kortliks dat ons die arbeiders is.

 

2. Ons gaan nog ‘n slag terug na Genesis 2, daardie goeie begin… Daar
lees ons, in vers 15, dat God die mens in die tuin van Eden gestel het om dit
te bewerk en te bewaak. Die mens kry dus reeds voor die sondeval van God ‘n
opdrag om te werk, om te arbei; die mens kry van die Here ‘n kultuurtaak. Arbeid
– dit wat jy môre weer gaan doen – is daarom nie 'n droewige gevolg van die
sondeval nie; dit is nie maar net 'n noodsaaklike kwaad om aan die einde van
die maand weer betaling te kan kry om sodoende te kan oorleef nie. Ons moet ook
nie dink dat Adam homself in die paradys in ‘n soort ewige vakansie-toestand
bevind het nie. Ons behoort onsself daarom ook nie van vakansie na vakansie, en
van langnaweek na langnaweek voort te sleep nie. En ek sê dit omdat dit ‘n
tendens van ons tyd is wat ‘n mens ook in die gemeente optel. Mense wat leef
vir naweke, mense wat nie daarvoor kan wag om die eerste die beste langnaweek
hulle goedjies te pak en weg te kom nie.

Nee, broers en susters, arbeid is deur God as iets moois, iets
vrugbaars, in die skepping ingelê. God het aan alle mense gawes uitgedeel om in
sy skepping te kan arbei; die mens moes deur naspeuring die kosmos ontdek; hy
moes bebou, bewoon en vermenigvuldig. En ook ná die sondeval bly hierdie opdrag
steeds geld. O ja, dit het swaarder geword, die aarde is vervloek om die mens
ontwil, en in die sweet van sy aangesig sal hy sy brood moet verdien. Arbeid is
harde werk! Maar nogtans bly die opdrag, en dit is ‘n positiewe opdrag. As
gelowiges het ons dus nie slegs ‘n roeping om salig te word nie; ons is nie
maar net skattejagters na die ewige lewe nie, ons kyk nie maar net met so ‘n
veraf blik in ons oë na die ewigheid nie. Nee, ons kry ‘n positiewe opdrag in
hierdie wêreld, selfs al het daar intussen sonde in die wêreld gekom.

 

En natuurlik was Adam se taak anders as die dagtaak wat die meeste
van ons verrig. Syne was aanvanklik ‘n landboutaak; Adam het nog nie die
verantwoordelikheid gehad om chemiese toetse te doen of om
dubbelverdieping-huise te bou of om rekenaarprogramme te skryf nie. Maar soos
wat Adam sy taak al hoe meer uitgevoer het, en soos wat die wêreld al verder
ontdek en ontgin sou word en die paradys al hoe groter en verder sou uitbrei, sou
dit die mensdom outomaties bring by al die beroepe wat ons vandag ken. En
daarom mág ons vandag studeer, ons mág ontwikkel, ons mág entrepreneurs wees en vooruit kom. Dit is alles deel van die
roeping tot arbeid wat God in die skepping gelê het.

 

Maar onthou, broers en susters, dat hierdie kultuurtaak altyd in
Christus gedoen moet word. Die diens aan die Here (anders gestel: die kultus)
beheers altyd die kultuur; jou daaglikse werk begin by jou diens aan God en
word bepaal deur jou diens aan God. Want, onthou wat ons in Genesis 2:15 lees: Gód
neem die mens en Hy stel hom in die tuin om te bewerk en te bewaak. Jou opdrag tot
arbeid en die werk wat jy gevolglik elke dag doen, kom van Hom af, dit kom deur
sy Woord en Gees. Daarom is dit ook so heerlik dat, deur die werk van Jesus
Christus, ons op die Sondag, op die eerste dag van die week, God mag ontmoet. En
vanuit hierdie ontmoeting met God, vanaf die sprekende Christus in die
prediking, mag ons dan heengaan en in sy diens gaan werk. Hy is jou groot
Werkgewer!

Broers en susters, let daarom ook baie bewustelik daarop dat, as jy
God as Gewer van alle goeie dinge erken, jy vervolgens ook in sy diens jou arbeid
sal verrig en jou eiendom sal gebruik. En dan sal jy waarskynlik agterkom dat
jou daaglikse arbeid ook heeltemal verander. Nee, die werk bly waarskynlik
dieselfde, maar jy verander, jy doen jou werk op ‘n ander manier,
met ‘n ander houding, met ‘n ander doel. Dan is arbeid nie meer slegs die
nastreef van wins nie, dan is arbeid nie meer ‘n suiwer materiële saak nie,
maar dan word dit ons geestelike omgang met die materiële ding.

Gevolglik begin ons op ‘n ander manier ons werk doen – nie meer met
die oog op die baas om te kyk of hy ons oneerlikheid sien nie, ook nie meer met
die oog op die klok om te sien wanneer ons kan huistoe gaan nie, maar met die
oog op God in die hemel van wie ons opdrag kom. En vervolgens kyk ons ook
heeltemal anders na ons kerklike bydraes – is dit iets waarvoor mense vra, of
is dit ‘n geloofsdaad in diens van die Gewer? En ons begin anders kyk na
daardie naaste wat by my huis of motor kom vra vir ‘n stukkie brood of geld –
is dit die persoon wat sleg ruik of lyk, of is dit die naaste wat God op my pad
geplaas het? En ons begin ander doele soek vir daardie rande wat ons oor het –
nie meer slegs eie genot nie, maar die eer van die Here. En gemeente, gaan vul
dit vir u self verder in. Dit is die
vervulling van die agste gebod in sy diepste wese! Hy wat dit doen, doen goed!

 

Waak dus vir die vals dilemma waarvan die Skrif niks weet nie, dié
tussen geestelike en materiële dinge. Hierdie twee hoort bymekaar, beide voor
die aangesig van God. Sien jouself met alles wat jy het onder ‘n oop hemel
staan, ‘n hemel wat Christus deur sy werk vir ons geopen het. Ja, julle is duur
gekoop; verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat beide aan God
behoort.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 65:3, 6-8

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Skr. 10:1 en 2

Gebed

Lees: Genesis 2

Teks: HK, Sondag 42

Sing Ps. 8:4-6

Preek

Kollekte

Amenlied Ps. 104:8, 9, 14, 15 (op
die wysie van Ps. 134)

Gebed

Belydenis van geloof (ek sal
opsê)

Slotsang Ps. 104:19-21

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy
aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor
jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)