Sondag 41(2) : Die Here soek ‘n bruid wat heilig is!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2013-02-24
Teks: 
Deuteronómium 22 : 5-30
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – HK
Sondag 41; lees Deuteronomium 22:5-30

 

Geliefde gemeente,

“… dan moet hulle die dogter na die deur van haar vader se huis
uitbring, en die manne van haar stad moet haar stenig, dat sy sterwe” (vers
21), “dan moet hulle altwee sterwe” (vers 22), “dan moet julle hulle twee na
die poort van die stad uitbring en hulle stenig, dat hulle sterwe…” (vers 24).
Is dit nie opmerklik om te sien hoe ernstig die Here na die oortreding van die
sewende gebod gekyk het nie? Dit wil selfs voorkom asof die straf wat daar op
hierdie sondes gerus het, net daardie tikkie swaarder was as die strawwe op die
oortreding van enige van die ander gebooie; dit is asof die Here, by die
oortreding van die sewende gebod, sy toorngloed net ‘n graad of wat warmer laat
brand het as in die geval van ander oortredings. Wat sou die rede hiervoor
wees, broers en susters?

Wel, miskien sal ons dit die beste verstaan wanneer ons daaraan dink
dat die Here se verbond met sy volk, die verhouding waarin Hy met sy volk
gestaan het, op verskeie plekke in die bybel as ‘n huwelik beskryf word. God is
die bruidegom, en sy volk is die bruid. Dink maar net aan die pragtige taal van
Jesaja 62:5: “… soos die bruidegom bly is oor die bruid, so sal jou God oor jou
bly wees.” En God se vreugde oor sy bruid vind ook weerklank in die vreugde van
die bruid self, die volk; luister maar na Jesaja 61:10: “Ek is baie bly in die
Here, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my
in die mantel van geregtigheid gewikkel – soos ‘n bruidegom wat priesterlik die
hoofversiersel ombind, en soos ‘n bruid wat haar versier met haar juwele.”
Pragtige taal! Maar hou in gedagte, gemeente, dat hierdie huwelik tussen Jahwe
en Israel vir die grootste deel nie rose en maanskyn was nie; telkemale in die
geskiedenis moes die Here tot die konklusie kom dat sy volk weereens owerspel
gepleeg het, dat hulle weereens van Hom af gehoereer het. Om dit grafies vir sy
volk uit te beeld, laat die Here die profeet Hosea selfs met ‘n hoer trou.
Daarmee wou Hy sy volk laat verstaan wat hulle besig was om te doen, en wou Hy
hulle tot terugkeer, tot bekering, bring. Maar die hoerery het met verloop van
tyd so erg geraak dat die Here uiteindelik verplig was om aan sy volk ‘n
skeibrief te gee (Jer. 3:8), ‘n egskeiding wat gerealiseer het in die
ballingskap.

 

Nou, gemeente, as ons hierdie agtergrond in gedagte hou, en as ons
iets kan voel van die pyn wat hierdie ontroue huweliksmaat die Here persoonlik
aangedoen het, en hoe verwoestend daardie ontrou in die lewe van sy volk gewerk
het, dan verstaan ons waarskynlik waarom die Here by die sewende gebod so hard
toeslaan. Sy innige liefde is soveel keer vertrap, so dikwels verwerp. Soveel
keer was Hy geduldig, het Hy sy ontroue vrou weer teruggevat, en elke keer moes
Hy weer die seer van verwerping ervaar. Die Allerhoogste God weet wat dit is,
en daarom werp Hy alles in die stryd om te voorkom dat dit in die lewe van sy
kinders sal plaasvind. Hierdie pyn wil Hy sy kinders spaar, en daarom gee Hy
heilsame en konkrete riglyne vir die omgang tussen die geslagte. In die
strengheid van die sewende gebod skyn die Here se liefde vir sy volk, asook sy
liefdevolle beskerming van elkeen daarin.

Tema: Die Here soek ‘n bruid wat heilig is!

  1. Sekere sake meng eenvoudig nie
  2. God bring bymekaar wat bymekaar hoort

 

1. Gemeente, daar is verskeie verse in Deuteronomium 22:5-12 wat, na
my mening, die sleutel bied om die slot oop te sluit van die res van hoofstuk 22.
Deuteronomium 22:13-30 het sonder twyfel met die sewende gebod te make, niemand
sal dit ontken nie. Maar om die unieke betekenis van hierdie gedeelte na behore
te verstaan, om die spesifieke spits van hierdie verse te gryp, moet ons die
sleutel in die voorafgaande verse (verse 5-12) gaan haal. En veral vers 5 is
hier van belang, aangesien dit baie duidelik aan die sewende gebod verbind kan word.
In hierdie vers waarsku die Here teen transvestisisme, die sieklike drang om
die klere van die teenoorgestelde geslag te wil dra. Dit hou spesifiek verband
met die kultusgebruike van die omringende heidense nasies, waarby die verskil
tussen die manlike en die vroulike geslag deur middel van klere uitgewis is. Dit
is verder nie onmoontlik nie dat hierdie verskynsel van godsdienstige ‘vermomming’
met die klere van die teenoorgestelde geslag ook verband gehou het met bepaalde
vorms van homoseksualiteit. Met dit alles in gedagte is dit verstaanbaar dat die
Here die walglike uitwissing van die grense tussen die geslagte, wat by die
heidense godsdiensplegtighede as iets vrooms beskou is, dat Hy dit as
verwoestend vir Israel se volksbestaan verbied het.

Nou, dit is alles goed en wel, maar beteken dit nou dat dit ‘n sonde
is as jou vrou jou hemp dra? Of moet ons hierdie wet dalk gebruik in ‘n veldtog
om christelike vroue te ontmoedig om jeans te dra, soos wat in die verlede al
gebeur het? Nee, gemeente, ons moet die gees van hierdie wetgewing verstaan.
Dit gaan hier oor die handhawing van Godgegewe grense op die gebied van
seksualiteit, dit gaan daaroor dat Israel op seksuele gebied nie dinge mag
vermeng wat fundamenteel van mekaar verskil nie. En interessant genoeg, selfs
in die manier waarop ons soms praat, het daar nog iets van hierdie seksueel-gekleurde
spraakgebruik oorgebly om die skeiding te beklemtoon. Ons sien dit byvoorbeeld wanneer
ons dit ‘n ‘verkragting’ sal noem wanneer sekere kossoorte met mekaar vermeng
word wat vir ons gevoel net nie bymekaar hoort nie. ‘n Vermenging van dinge wat
nie bymekaar hoort nie, word dikwels ‘n verkragting van daardie dinge genoem.

 

‘n Verdere uitwerking hiervan sien ons ook in Deuteronomium 22:9-11
waar die Here bepaalde samevoeginge verbied: Hy verbied die Israeliet om twee
soorte saad in sy wingerd te saai, Hy verbied hom om tegelyk met ‘n os en ‘n
esel te ploeg, en Hy verbied hom om klere van gemengde stof aan te trek. Nou, as
sulks was hierdie dinge natuurlik nie verkeerd nie, maar die Here verbied
hierdie samevoeginge met die doel om op verskillende terreine van die lewe een
en dieselfde beginsel by sy volk vas te lê: moenie dinge vermeng wat nie
bymekaar hoort nie. Vir ‘n volk wat op die punt gestaan het om Kanaan binne te
trek, wat op die punt gestaan het om ‘n land binne te trek waar die heidense
volke afskuwelike seksuele praktyke beoefen het, vir hulle gee die Here hierdie
sigbare onderwys-hulpmiddels: moenie twee soort saad in jou wingerd saai nie,
moenie tegelyk met ‘n os en ‘n esel ploeg nie, moenie klere van gemengde stof
aantrek nie… En wanneer jy dit alles nakom, dink dan daaraan: ek mag op
seksuele gebied nie vermeng wat nie bymekaar hoort nie! Ek mag myself ook nie
met die heidense nasies assosieer deur hulle seksuele praktyke oor te neem nie!

En om julle aan hierdie beginsel te herinner, sê die Here nog in vers
12, maak vir jou klossies aan die vier hoeke van jou kleed. Dit is interessant
dat hierdie klossies in Numeri 15:37-41 baie konkreet aan die seksualiteit
verbind; ons lees in Numeri 15:39: “… as julle [die klossies] sien, moet julle
aan al die gebooie van die Here dink, dat julle dit doen en nie jul hart en jul
oë navolg waar julle agter aan hoereer nie.” Dus, sowel deur middel
van die verbode samevoeginge, as deur middel van die klossies wil die Here sy
volk beskerm teen seksuele praktyke wat die grense oorskry wat die Here
daargestel het.

 

Nou goed, vanaf Deuteronomium 22:13 begin Moses om eksplisiet te
maak wat hierdie verbode samevoeginge op seksuele gebied dan nou eintlik is…

Vanaf vers 13 tot vers 21 bespreek hy eers die vraag oor die
maagdelikheid. Onder die volk van die Here is daar naamlik ‘n baie hoë pryskaartjie
aan maagdelikheid geheg. Maar hierdie hoë pryskaartjie kon natuurlik deur die
man misbruik word… En daarom: indien ‘n man sy vrou valslik daarvan sou
beskuldig dat sy by die sluiting van hulle huwelik nie meer ‘n maagd was nie – eenvoudig
omdat hy van haar ontslae wou raak – dan sou hy 1) lyfstraf ontvang, 2) ‘n
groot geldelike boete moes betaal en 3) vir die res van sy lewe nooit sy vrou
mag verstoot nie. So sou die man gestraf word oor die slegte naam wat hy aan
die meisie en haar familie besorg het. En só is die vrou ook beskerm teen
oneerbare praktyke van ‘n wispelturige man. Máár
– en dit is die eintlike punt hier – indien sy beskuldiging gegrond was, indien
die meisie inderdaad as verloofde voor haar huwelik rondgeslaap het – en onthou
dat ‘n verlowing in die bybelse tyd in dieselfde lig beskou is as ‘n
huweliksverbond – dan moes sy gestenig word, doodgemaak word. Want hier het ons
te make met ‘n verbode samevoeging. Seksuele omgang van ‘n verloofde met iemand
anders as die eie lewensmaat – dit is dinge wat, voor die aangesig van die
Here, eenvoudig nie met mekaar mag meng nie. En daarom, gelowiges wat uitgaan
of wat verloof is en op die punt staan om te trou, beskerm julleself van
hierdie verbode samevoeging.

In vers 22 bespreek Moses vervolgens ‘n baie eenvoudige geval van
owerspel. Hier het ons te make met getroudes wat nie getrou is aan die eie
lewensmaat nie. Beide die man en die vrou wat in hierdie owerspel betrap word,
moes doodgemaak word om sodoende die kwaad van hierdie ongeoorloofde
samevoeging uit Israel uit te roei. Dit is opmerklik om in ‘n patriargale
kultuur te sien hoe eerlik hierdie wetgewing is teenoor sowel die man as die vrou:
altwee van hulle moes sterwe! Getroudes, pas julleself verskriklik mooi op! Die
samevoeging van ‘n getroude met ‘n ander persoon as die eie lewensmaat – of dit
nou fisies of slegs in die gedagte is – is ‘n gruwel voor die Here. Hierdie
twee hoort nie saam nie, hulle mag nie meng nie.

In verse 23-27 het ons te make met verkragting. Om mee te begin sê
Moses dat daar nie so iets bestaan soos verkragting in die stad nie. In die
boustyl van die antieke stede waar die huise baie naby aan mekaar was – eintlik
teenaan mekaar – en daar nie glasvensters was nie, was dit baie eenvoudig om
verkragting te voorkom. Daarom, as die verloofde vrou nie geskreeu het nie, dan
was daar geen verkragting nie – en dan moes beide man en vrou sterwe. Maar in
die veld is dit ‘n ander storie. In daardie geval aanvaar jy dat die verloofde
vrou wel geskreeu het, maar nie gehoor is nie. Daarom word die man tereggestel,
maar die vrou is vry. Hier het ons te make met ‘n afskuwelike samevoeging, ‘n
samevoeging wat geen samevoeging is nie. ‘n Man wat in sy wellus ‘n verloofde vrou
oormeester en verkrag. Die Here wil absoluut nie hierdie samevoeging onder sy
heilige volk opmerk nie.

In vers 28 en 29 het ons te make met twee jongmense wat
voorhuwelikse seksuele gemeenskap beoefen. Ook dít is vir die Here ‘n verbode
samevoeging. Omdat hier egter nie in ‘n huweliksverbond inbreuk gemaak word
nie, straf die Here dit ligter as in die vorige gevalle, maar dit bly nogtans
iets wat voor die Here nie mag bestaan nie. Dit is dan ook ‘n ernstige
waarskuwing vir ons jongmense om hulleself hiervan te weerhou. En dan gaan dit hier
nie eers in die eerste plek oor ‘n eenmalige plesiertjie nie; nee, selfs al is
jy en sy / jy en hy, baie lief vir mekaar, dan bly die samevoeging van julle
liggame as ongetroudes ‘n ongeoorloofde samevoeging.

Ten slotte, in vers 30, gaan dit oor seksuele omgang met die vrou
van jou vader. Hiermee word nie bedoel jou eie ma nie, maar waarskynlik ‘n
tweede vrou waarmee jou pa getrou het. As jy Levitikus 18 gaan lees, dan sal jy
duidelik sien dat hierdie enkele voorbeeld van vers 30 eintlik deel vorm van ‘n
lang lys van huweliksbetrekkinge wat die Here verbied het, samevoeginge wat vir
Hom verbode was.

 

Gemeente, die Here soek ‘n bruid wat heilig is, ‘n bruid wat in haar
verhouding met Hom volledig aan Hom toegewy is. En dan is daar in daardie
verhouding sekere dinge wat eenvoudig nie met mekaar meng nie, in daardie
verhouding het die Here sekere grense getrek wat eenvoudig nie oorskry mag word
nie. En tog lewe ons as kerk en as gelowiges in ‘n wêreld waar ongeoorloofde en
abnormale vermengings eintlik doodnormaal en aanvaarbaar geword het. En ons
leef in ‘n wêreld wat lag vir God se wysheid in die wetgewing van Deuteronomium
22:9-11 – hoekom mag ek nie twee soorte saad saai nie? Hoekom kan ‘n os en ‘n
esel nie saam ploeg nie? Vir wat kan ek nie klere aantrek van gemengde stof
nie? Vreemde wette… Maar omdat hulle die wysheid van hierdie wette nie meer
deursien nie, nie verstaan wat die Here hiermee wil sê nie, daarom raak ook die
grense wat die Here deur middel van hierdie wette wou trek, vreemde grense,
onaanvaarbare grense, grense wat deurbreek moet word. Alles wat vandag met
seksualiteit te make het, het beland binne die gees van vryheid, gelykheid en
broederskap. En dit is die gees waarbinne ons lewe, dit is die gees wat ons
inasem – nie as iets wat ver is nie, maar as iets wat baie naby aan ons kom, in
ons eie huise…

Pornografie is nie meer iets van ‘n obskure winkel met swart
vensters êrens in ‘n afteraf straatjie nie. Homoseksualiteit is nie meer beperk
tot ‘n klompie vreemde figure op ‘n klein stukkie strand in Seepunt in die Kaap
nie. Voorhuwelikse geslagsgemeenskap is nie meer iets vir die waaghalsiges onder
ons nie. Owerspel vind ‘n mens in elke fabriek, in elke kantoor, in elke kroeg.
Natuurlik, dis waar, die mensdom veg deur al die eeue alreeds teen die
Godgegewe grense, maar dit is tog asof die grense vanaf die seksuele rewolusie van
die 1960’s eenvoudig weggevee word, uitgewis word. Daar mag geen grense meer
wees nie, alles moet moontlik wees – van homoseksualiteit tot bestialiteit
(geslagtelike omgang van ‘n mens met ‘n dier). So het die mens in sy drifte
dierlik geword. En wie is ek om iemand anders daarin te bevraagteken?

 

Broers en susters, met hierdie grensdeurbreking en grensvervaging
raak dit vir die gelowiges geweldig moeilik om God se grense te handhaaf. Om in
die 21ste eeu seksueel rein en heilig te wees, om uitmekaar te hou waarvan die
Here gesê het dat dit nie mag meng nie, dit is sekerlik een van die grootste
uitdagings. En om hierin vordering te maak, kan ons dit nie bekostig om die
besoedelde gees van die wêreld in te asem nie, maar moet ons die heilige gees
van die Here inasem, en moet ons die grense ken wat die Here in sy Woord getrek
het. Want so maklik begin die grense vir onsself ook vervaag, weet ons self nie
meer mooi waar die lyne loop nie: “Almal in my klas het dit dan al gedoen,
hoekom sal ek dit nie ook doen nie? Dit is niks snaaks onder vandag se
paartjies nie, ons weet mos ons gaan trou! Ek doen mos niemand skade aan as ek
na daardie film kyk nie…” Dit is die gees van die wêreld. Maar kom ons gee
gehoor aan die oproep van Paulus in 2 Korinthiërs 10: “Laat elke gedagte – ook
elke seksuele gedagte, en elke seksuele daad, gebaar, woord en lus – gevange neem
tot die gehoorsaamheid aan Christus.” Laat ons in die kerk weer die duidelike
grense trek wat die Here in sy Woord vir ons aanwys. Laat ons verhouding met
Hom ons oortuig van die werklikheid dat sekere dinge eenvoudig nie met mekaar
meng nie, dat alle onkuisheid deur Hom vervloek is en dat ons dit daarom
hartgrondig moet haat. Kom ons besef weer dat die christen homself nie kan
vermeng met die wêreldse gedagtes nie. As jy, as ons, daarom aan God behoort,
wees dan heilig, want Hy is heilig!

In die tweede plek: God
bring bymekaar wat bymekaar hoort.

 

2. Maar as God dan duidelik gemaak het wat nie mag vermeng nie, wat
eenvoudig nie bymekaar hoort nie, wat hoort dan op seksuele gebied wél bymekaar?
Wel, gemeente, Paulus maak in Efesiërs 5 – waarin dit spesifiek gaan oor die
verhouding tussen man en vrou – in hierdie hoofstuk maak hy duidelik dat Jesus Christus
die geméénte so liefhet dat Hy sy lewe daarvoor gegee het “om dit te heilig,
nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die
gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets
dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:26-27). As ons
die gemeente van Christus is, dan hoort by ons lewe die reinheid en die
heiligheid wat Christus vir sy gemeente verdien het. Dit is dus die heel eerste
wat bymekaar hoort op seksuele gebied: ‘n christen én reinheid – dié twee is ‘n eenheid. ‘n Christen word opgeroep om
op die gebied van die seksualiteit heilig te lewe, om nie te vermeng wat God
uitdruklik in sy wet verbied het nie, om sy liggaam op te pas as ‘n heilige tempel
waarin die Heilige Gees sy intrek kan neem. God bring, deur die bloed van Jesus
Christus, bymekaar wat bymekaar hoort – die christen en die Christus, die
christen en reinheid, die christen en heiligheid.

Maar, gemeente, wie kan onsself beroem op ons reinheid op hierdie
gebied? Wie van ons kan sê: “Ek het myself nog altyd ver gehou van seksuele
sondes”? Wie van ons kan die sewende gebod oorslaan in ons selfondersoek? Asseblief,
wie op hierdie gebied sonder sonde is, tel dan nou die eerste klip op en stenig
die res van ons wat wel teen hierdie gebod gesondig het! Niemand nie? Almal
onrein? Nou goed, luister dan na die blye boodskap, na die geheim van ons
reinheid: dit is Christus wat ons reinig, dit is Hy wat ons liefhet en Homself vir ons oorgegee het. Ons reinheid lê
nie daarin dat ons nog nooit verkeerd na ‘n ander vrou gekyk het, of nog nooit
oor ‘n ander man gedroom het, of nog nooit oor die Godgegewe grense in ons
verhouding getrap het, of nog nooit aan pornografie blootgestel was nie. Nee,
ons reinheid lê in Christus! Ons is rein omdat Hy ons rein máák. Vlug daarom na Hom,
elke man wat sy eie swakheid ken! Vlug na Hom, elke vrou wat haar verkeerde
begeertes ken! Vlug na Hom, elke jongmens, wat weet van die geraamtes in die
kas. Vlug na Christus, want Hy bring bymekaar wat bymekaar hoort, naamlik die
christen en reinheid. Hy maak my wat ek moet wees. Hy was my skoon, deur sy
bloed is daar vergifnis vir al my vuil dade en gebare en woorde en luste. Deur
Hom mag nou die verbryselde en die verminkte en selfs die baster – hulle wat volgens
Deuteronomium 23 eers uitgesluit was – hulle mag weer in die vergadering van
die Here kom. Hulle is rein! Ons is rein, deur Jesus Christus!

 

En, gemeente, in daardie reinheid bring God ook op ‘n ander vlak
bymekaar wat bymekaar hoort; in daardie reinheid bring God man en ‘n vrou
bymekaar, Adam en Mannin. Vanaf die begin is dit hierdie twee wat die Here vir
mekaar bestem het – nie ‘n man en ‘n man, of ‘n vrou en ‘n vrou, of ‘n getroude
man met ‘n ongetroude meisie, of ‘n mens en ‘n dier nie. Nee, ‘n heilige vrou
en ‘n heilige man – hierdie twee wil God aan mekaar verbind. Daarom moet die
man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een
vlees word (Gen. 2:24, Ef. 5:31). Dit is hierdie twee wat waarlik bymekaar
hoort! Só wou die Here dit van die begin af gehad het.

Maar, let wel, ons is nog nie klaar as ons vir mekaar gegee is nie.
Nee, as julle-twee dan bymekaar is – of dit nou ‘n paar maande is of ‘n volle
vyftig jaar – dan wys Paulus in Efesiërs 5 ook nog vir ons hoe ons met mekaar
moet lewe. Man en vrou het elkeen hulle eie plek en hulle eie taak. Van die
vrou word gevra om aan haar eie man onderdanig te wees, om hom te volg soos wat
die gemeente Christus volg – ‘n groot opgawe in ons tyd. Maar voordat die mans
nou breed glimlag, vir jou is daar nog ‘n swaarder taak weggelê: vir jou is
daar die taak van ware liefde en selfopoffering, van oorgawe en koestering. Om
bymekaar te hoort en vir mekaar gegee te word, is ‘n gawe van God. Om vervolgens
ook met mekaar te lewe soos wat God dit wil hê, dit is ‘n uitdaging waarvoor
ons God se krag nodig het.

 

Let wel, as ek sê: ‘n heilige vrou en ‘n heilige man hoort bymekaar,
dan bedoel ek daarmee nie dat aan elke
heilige vrou en aan elke heilige man iemand
gegéé
sal word nie. Daaroor het God se wet ons niks geopenbaar nie; dít is deel van
sy verborge plan. Of ons eendag gaan trou of nie… daaroor sê die Woord ons niks
nie. Maar laat ons gehoorsaam wees aan wat wel aan ons geopenbaar is: die
sewende gebod in al sy wydheid. En dan doen ons dit elkeen in die staat waarin
die Here ons geplaas het: “Die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here,
hoe hy die Here sal behaag, maar die getroude is besorg oor die dinge van die
wêreld, hoe hy die vrou sal behaag. Daar is ook onderskeid tussen ‘n vrou en ‘n
maagd; die ongetroude is besorg oor die dinge van die Here om heilig te wees na
die liggaam sowel as na die gees, maar die getroude is besorg oor die dinge van
wêreld, hoe sy die man sal behaag” (1 Kor. 7:32-34). In elke Christen se lewe
voeg God bymekaar wat bymekaar hoort, naamlik christenskap en reinheid. En dan
hang dit af van die staat waarin die Here ons plaas hoe ons dit uitleef; daarin
het die ongetroude, die getroude, die weduwee, die wewenaar en die geskeide
verskillende verantwoordelikhede. Maar laat ons almal in Christus ons reinheid
vind, en laat ons almal deur die krag van sy Gees daardie reinheid uitleef. Vir
elke sondaar teen die sewende gebod sê Jesus Christus vanaand: Ek veroordeel
jou ook nie; gaan dan heen en sondig nie meer nie.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Psalm 24:2-5

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 29:1 en 4

Gebed

Teks: HK, Sondag 41

Lees:    Deuteronomium 22:5-30

            Efesiërs
5:22-33

Ps. 25:2 en 3

Preek

Amenlied Ps. 51:5 en 6

Gebed

Belydenis van geloof (singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 128:2 en 3

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig
oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef
en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)