Openb 18 : 23b en 24 ; die outopsie wys vir ons die redes vir die val van Babilon

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2013-02-17
Teks: 
Openbaring 17 en 28
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten.

 

Preek –
Openbaring 17-18

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Na die spanning en die klimaks van God se oordeel in hoofstuk 16,
waarna ons twee weke gelede gekyk het, volg daar nou in hoofstuk 17 en 18 (en
eintlik ook in die eerste verse van hoofstuk 19) ‘n breë toeligting op hierdie
gebeure. Die val van Babilon, wat die resultaat was van die uitgiet van die
sewe skale, word uitvoerig toegelig en verklaar. Ons kan sê daar word ‘n
outopsie gedoen, ‘n lykskouing, ‘n na-doodse ondersoek van die gevalle hoer
Babilon. En hierdie outopsie van Babilon (in hoofstukke 17-19) loop parallel
met die gedeelte oor die nuwe Jerusalem wat in die daaropvolgende hoofstukke beskryf
word. Twee kontrasterende stede word in die slothoofstukke van Openbaring vir
ons geskets – Babilon en Jerusalem, die ou Jerusalem en die nuwe Jerusalem, die
hoer en die bruid. Maar goed, eerste dinge eerste: vandag kyk ons eers na die
outopsie…

Tema: die outopsie wys vir ons die redes vir die val van Babilon…

  1. Die handelaars
  2. Die towery
  3. Die bloed

 

Gemeente, voordat ons na hierdie drie punte kyk, kom ons begin eers met
‘n kort oorsig, sodat ons kan verstaan wat ons gelees het. Babilon is gestenig
vir haar hoerery, sy het die straf gekry wat die wet van Moses voorgeskryf het;
in die praktyk is dit gerealiseer deurdat Jerusalem en die tempel, God se
ontroue verbondsvolk, verwoes is deur die katapulte van die Romeinse leër – dit
is wat ons aan die einde van hoofstuk 16 beleef het. In hoofstuk 17 kry
Johannes nou toeligting op hierdie gebeure. En die verband is sommer dadelik
sigbaar. Onmiddellik na die steniging van hoofstuk 16:21 (die straf wat die wet
van Moses voorgeskryf het vir hoerery), wys die engel vir Johannes die hoer,
die een wat gestenig is. En hy wys vir Johannes as’t ware die voorgeskiedenis: wat
het aanleiding gegee tot die steniging?

Wel, hierdie hoer het haarself baie mooi en baie vroom voorgedoen –
sy het haarself naamlik beklee met priesterkleding (verse 4 en 5): sy was
bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en
pêrels. Nou, gaan lees maar ‘n slag Exodus 28 en die omringende gedeeltes, dan
sal jy sien dat dit presies die versiering van die priesterkleding was wat God
voorgeskryf het. En verder het sy ‘n goue beker in haar hand gehad, soortgelyk
aan die goue en silwer voorwerpe wat vir die tempel voorgeskryf was. En op die
voorhoof van hierdie hoer was daar ‘n naam, net soos die naam op die voorhoof
van die hoëpriester (“heilig aan die Here”), maar háár naam was ‘n godslasterlike
naam (“Babilon, die moeder van die hoere”). Dit alles wys vir ons, gemeente, dat
hierdie hoer haarself as priester vóórgedoen het, maar dit wys ook aan wie sy wérklik
haar offers gebring het, aan wie sy wérklik haar lewe gewy het.

Hierdie vrou het die skyn gedra van toewyding aan die God van die
Sinai – daar waar Moses op die berg ‘n voorbeeld gesien het van die tabernakel
en sy inhoud, en van die klere van die priesters – maar in werklikheid het sy
haar lewe gewy aan die volke en menigtes en nasies en tale van hierdie wêreld. Want
die waters waarop die hoer, volgens vers 1, gesit het, word immers in vers 15
verklaar as presies dit: volke en menigtes en nasies en tale. Met húlle het sy
gehoereer (vers 2), aan húlle het sy haar lewe gewy. En in besonder het sy haar
lewe gewy en haar offers gebring aan die wêreldmag van daardie tyd, Rome! Want
ons sien naamlik hoe hierdie hoer in vers 3 bo-op die dier met die sewe koppe
en die tien horings gesit het, en dit is dieselfde dier as wat ons in hoofstuk
13 alreeds as die Romeinse ryk geïdentifiseer het. Israel het haar heil by Rome
gesoek!

 

En, broers en susters, dit is geen vreemde gedagte nie. Die Skrif
self vertel vir ons hoe God se verbondsvolk telkemale met Rome geheul het. Ons
hoor hoe hulle Jesus se kruisiging eis met die uitroep: “Ons het geen koning
behalwe die keiser nie” (Joh. 19:15). En in daardie lyn bid die gelowiges dan
ook in Handelinge 4:27: “Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met
heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf
het…” En in die vervolg van die boek Handelinge sien ons telkemale hoe die Jode
die Romeine ingeskakel het in die vervolging van die Christene. Ja, gemeente, die
Joodse volk (die hoer Babilon) het op Rome (die dier) gesteun, sy het haar
vertroue op hom gestel, sy het haar heil by hom gesoek. Maar weet u wat is nou die
ironie? Die einste Rome mét haar onderdane (dit is die tien vasal-konings van
vers 12) het omgedraai en die hoer, wat op hulle gebou het, verslind. Hulle het
haar gehaat en verlate gemaak, en haar uiteindelik met vuur verbrand (vers 16).
So het hulle, volgens vers 17, God se bedoeling uitgevoer. Israel het haar God
verlaat en haar Messias verloën, ten gunste van Rome, maar uiteindelik word die
einste Rome haar ondergang. Hoerery betaal nie!

 

In hoofstukke 18 en 19 vind ons vervolgens die reaksie op die val
van Babilon. “Geval, geval het die groot Babilon” – so lui die aankondiging van
die engel in hoofstuk 18:2. En dan vind ons in die res van hoofstuk 18 die negatiewe
reaksie
op die val van Babilon: wee, wee (18:10, 16 en 19). En hierdie
‘wee’ kom veral uit die mond van drie groepe: die konings van die aarde (vers
9), die handelaars (vers 11), en die seelui (vers 17). Hoekom juis van hulle af?
Want dit is hulle wat wins behaal het uit die hoerery van Israel. O nee, met
haar ondergang wil hulle verder niks te make hê nie; hulle bly immers almal ver
weg staan. Maar hulle treur uit egoïstiese motiewe oor dit wat hulle verloor
het. Die winste van haar hoerery is iets van die verlede! Daarteenoor word die
hemel en die apostels en die profete in vers 20 opgeroep om hulle te verbly oor
God se oordeel oor Babilon. En hierdie oproep vind sy weerklank in die kerk se hallelujas
in hoofstuk 19 (19:1, 3, 4 en 6).

Gemeente, Babilon, die groot stad, is finaal verwoes. Soos wat ‘n
groot meulsteen in die see gegooi word en nie weer daaruit opkom nie, so is
Babilon neergegooi en sal nie meer gevind word nie (vers 21). Alles wat so
kenmerkend was van Oosterse stede – sangers en fluitspelers en basuinblasers en
kunstenaars, en die geluid van die meul, en die lig van die lamp, en die stem van
bruidegom en bruid – dit alles sal nooit meer in Babilon (in Jerusalem) gehoor
word nie (verse 22 en 23a). Daardie tyd is verby!

Hoekom? Wel, dit bring ons by ons teks. Hier vind ons die uitslag
van die outopsie. En die outopsie wys vir ons drie redes vir die finale en onherroeplike
ondergang en verwoesting van Jerusalem en die tempel. En hierdie drie redes geld
as ‘n aanklag teen Israel-na-die-vlees, en as ‘n waarskuwing vir
Israel-na-die-gees, die kerk. Die eerste rede waarna ons wil kyk, is die handelaars.

 

1. Vers 23b: “want [belangrik: hierdie ‘want’ gee die rede vir die
verwoesting aan!] jou handelaars was die grotes van die aarde.” Die Griekse
woord wat hier met ‘grotes’ vertaal is, is megistanes
– dit dui op hoogwaardigheidsbekleërs. Dit gaan hier dus oor Joodse sakemanne
wat deur hulle maatskappye en deur hulle handel geweldig baie mag opgebou het. Sodanig
dat hulle selfs in die wêreld van daardie tyd as ‘grotes’ beskou is! Ja,
gemeente, Israel het geprofiteer van die rykdom en weelde van die Romeinse Ryk,
en regdeur hoofstukke 17 en 18 word dit vir ons beklemtoon. Ons sien immers die
weelde van die hoer se klere en versiering in hoofstuk 17:4 en 5; ons lees van
haar weelderigheid in hoofstuk 18:3; ons hoor dat sy weelderig gelewe het in
hoofstuk 18:7 en 9; daar word in hoofstuk 18:12-14 vir ons ‘n prentjie geskets
van al die weelderige ware wat sy aangekoop het; in vers 16 lees ons dat
Jerusalem bekleed was met fyn linne en purper en skarlaken en versierd met goud
en edelgesteentes en pêrels; en in vers 19 word vertel dat almal deur haar
kostelike skatte ryk geword het.

Maar, broers en susters, dit gaan hier vir die Here nie oor die
rykdom as sulks nie; trouens, nêrens in die Skrif word rykdom as sulks afgewys
nie. Maar dit gaan vir die Here daaroor dat hierdie rykdom Israel tot sonde en
afval gebring het. In hoofstuk 18:4 word die gelowiges immers opgeroep om uit
haar – uit Babilon, uit Jerusalem – uit te gaan, sodat hulle nie met haar
sondes gemeenskap sou hê nie. En dan word as een van haar sondes genoem dat die
handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid (18:3).
En verder wil dit voorkom asof Israel se weelde haar tot selfverheerliking
verlei het (18:7). En haar weelde het haar tot hoerery met die konings van die
aarde gebring (18:9). En al die koopware van verse 12 en 13, al die blinkende
en skitterende dinge, het uiteindelik die vrugte geword wat Jerusalem se siel
begeer het (18:14). Dít was Israel se probleem!

Ja, dit is so waar wat Paulus vir Timotheus leer: “Die wat ryk wil
word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat
die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ‘n
wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van
die geloof en hulleself met baie smarte deurboor” (1 Tim. 6:9 en 10). Hierdie
woorde kon net sowel as toeligting in Openbaring 18 gestaan het. Die weelde van
die toenmalige wêreld het bygedra tot die ondergang van Jerusalem en die
tempel. En hierdie is nie ‘n nuwe gedagte in die Skrif nie, gemeente! Nee, dit
is God se aanklag regdeur die geskiedenis van die Ou Testament. En in Jesus se
dae het Hy ook daarteen getoorn en gewaarsku toe Hy die handelaars uit die tempel
gejaag, en vir hulle gesê het: “moenie die huis van my Vader ‘n handelshuis
maak nie.” Maar helaas, Israel het die woorde van die Messias verwerp, en die
rykdom van Rome nagejaag!

 

En die waarskuwing daarin moet ons goed ter harte neem: die kerk
moet kerk bly! Waarlik kerk, pilaar en grondslag van die waarheid (1 Tim.
3:15), waar die waarheid in liefde betrag word (Ef. 4:15), waar aan elkeen
uitgedeel word, soos wat hy nodig het (Hand. 4:35), waar die rykes goed doen en
ryk is in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ‘n skat weglê, ‘n
goeie fondament vir die toekoms (1 Tim. 6:17-18). Herken ons onsself nog in
hierdie bybelse penskets van die kerk? Of het ons êrens langs die pad in
dieselfde spoor begin loop as Israel-na-die-vlees? Trek ons dalk, net soos
Babilon, vir die oog van die mense ons priesterkleed aan – “óns dien die Here, óns
wy ons lewe aan Christus!” – maar in die praktyk het ons ons koningskroon
afgehaal, omdat ons nie ons kultuurmandaat wil nakom nie, omdat ons nie
rentmeesters van God se eiendom wil wees nie? Ken ons nog die hartklop van die
vroeë kerk, wat haar armes versorg het, waar almal alles gemeenskaplik gehad
het, en waar die gelowiges selfs aan hulle vyande goed gedoen het?

Die Here vra van ons om in daardie spoor te gaan – diakonaal (almal
van ons), en nie materialisties nie. Ons verbruikerskultuur maak dit geweldig
moeilik, ek weet. Die korrupte land waarin ons leef is ‘n verleiding vir elkeen
van ons om op ons eie gerafineerde manier daaraan deel te neem. Die stryd om
meer en meer bymekaar te maak, maak ons egoïsties. Of dalk is dit ons egoïsme wat
ons na meer en meer laat streef. Hoe dit ook al sy, die tydsgees is teen ons. Maar
dit is juis in hierdie tyd dat die kerk die liefde én die krag van die Lam
sigbaar mag maak. Dit is juis vandag dat die kerk kan wys wat dit beteken om in die wêreld te wees, maar nie van die wêreld nie. Dit is juis vandag
dat die kerk kan wys dat sy die ware Israel is, uit genade ingeënt op die
olyfboom om ook genade te kan bewys! Gemeente, neem die waarskuwing ter harte,
sodat ons nie uiteindelik as groot handelaars van die aarde bevind sal word
nie, maar dat ons deur Jesus Christus groot mag wees in die Koninkryk van die
hemel.

Die tweede rede wat die
outopsie uitwys vir die val van Babilon, is towery
.

 

2. “Want [weer die redegewende ‘want’] deur jou towery is al die
nasies verlei…” (vers 23b). Towery is tipies van Babilon – sien ons nie in
Daniël 2 hoe Nebukadnesar, die koning van Babilon, sy besweerdes en towenaars
bymekaar geroep het om sy droom te verklaar nie? Babilon en towery is sinoniem
met mekaar! Maar dan moet ons, wanneer dit gaan oor die hoer Babilon, wat ‘n
aanduiding is van Jerusalem en die tempel, nie dink aan allerhande towerkunsies
en truuks nie. Dit gaan hier nie oor magie nie! Towery is hier iets anders;
towery onder God se volk, Israel, het alles te make met eiewillige godsdiens. Is dit nie wat Samuel vir Saul gesê het nadat
hy, in plaas daarvan om Amalek met die banvloek te tref, die koning en die
beste van die buit gespaar het nie: “Want wederstrewigheid is ‘n sonde van
towery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens” (1 Sam. 15:23). En net
soos in die geval van Israel, lei dit ook by Saul tot sy verwerping!

Dus, broers en susters, wederstrewigheid en eiesinnigheid is vir die
Here soos towery en afgodery. Om die Here te wil dien, maar daarby self die
terme en voorwaardes te stel, is vir Hom dieselfde as towery; jy erken wel die
goddelike in jou lewe en in die gebeure van jou lewe, maar jy gee jou eie
invulling daaraan – dit is presies wat by towery gebeur. Jy word die beheerder
van die godheid en van jou eie godsdiens. Dít is wat hier in ons teks bedoel
word. Jerusalem het steeds die Here erken as haar God – immers, sy het dan die
tempel in haar midde gehad, en sy het haarself met priesterlike klere getooi,
en sy het mos die tempelbeker hanteer. Maar intussen het sy vergeet dat
gehoorsaamheid beter is as drankoffers. Sy het gedink dat, omdat sy die volk
van God is, sit sy as koningin en sal sy nooit droefheid sien nie (kyk maar na 18:7),
maar sy het vergeet wat dit beteken om eenvoudig te doen wat die Here van haar vra!
“Sal die Here ‘n welbehae hê in duisende ramme en tienduisende strome van
olie?” – so vra die profeet Miga. En dan antwoord hy sy eie vraag: “Wat vra die
Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te
wandel met jou God?” (Miga 6:7-8) Wat vra die Here anders as om eenvoudig te
doen wat reg is?

En omdat Israel dít nagelaat het, het sy die nasies verlei (vers
23b) – want waar Israel bestem was om ‘n voorbeeld te wees van gehoorsaamheid
en trou aan die Here, sodat die nasies kon sien dat sy anders was en sodat die
nasies daardeur getrek kon word tot die God van Israel, daar het sy nou die
nasies as’t ware saamgeneem in haar hoerery. Israel moes die nasies by die ware
God bring, maar sy het hulle van Hom af weg verlei.

 

Gemeente, dit is die dodelike gevaar van towery, van eiewillige
godsdiens. Die kerk, die gelowiges, is veronderstel om ‘n advertensiebord vir
Jesus Christus te wees. Ons is veronderstel om mense na Christus toe te trek
met ons getroue diens aan Hom! Maar wanneer ons die Here dien soos wat ons goed
dink, wanneer ons eiewillige christene is, dan gee ons die verkeerde indruk,
dan adverteer ons iets anders as wat ons veronderstel is om te adverteer. En so
lei ons mense weg van Christus – dit is dodelik vir hulle, maar ook vir ons.
Waar ons by die ryk handelaars van die vorige punt te make gehad het met sonde
teen die eerste gebod – ander gode in die plek van die Here – het ons hier te
make met sonde teen die tweede gebod – die Here, maar op my manier. En beide is
ewe dodelik! Laat ons daarom baie fyn luister, broers en susters, na die Here
se woord; laat ons fyn luister na hoe Hy gedien wil word. En dit vra
selfverloëning, dit vra dat ek myself prysgee om te doen wat die Here van my
vra. En weereens: dit is moeilik in ‘n kultuur wat soek na selfbevrediging – en
nie later nie; nee, nou! Dit is moeilik in ‘n hedonistiese genotkultuur. Maar
laat ons in Christus ons voorbeeld en ons krag vind van ware selfverloëning, Hy
wat Homself verneder het deur gehoorsaam te word tot die dood aan die kruis,
maar wat deur God verhoog is en ‘n naam ontvang het wat bo elke naam is! Wie sy
lewe vind, sal dit verloor; maar wie sy lewe om My ontwil verloor (prysgee!),
hy sal dit vind. Kom ons gaan weer in die weg van selfverloëning, broers en
susters. Ek gee my lewe prys, ek gee alles prys wat ek moontlik graag wil doen
maar wat teen die Here se wil is (en elkeen moet daarin sy eie lewe ondersoek).
En ek doen dit omdat ek in Christus die ewige lewe het!

Die laaste rede wat die
outopsie uitwys vir die val van Babilon, is die bloed
.

 

3. “En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van
almal wat op die aarde gedood is” (vers 24). Hierdie is nie nuut nie, gemeente!
Verskeie male al het ons hierdie analise teëgekom. Immers, ná die uitgiet van
die derde skaal hoor ons die engel van die waters sê: “Regverdig, Here, is U,
omdat U hierdie oordeel uitgevoer het, want hulle het die bloed van heiliges en
profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink” (16:5-6). In
hoofstuk 17:6 vind ons dit weer: “En ek het die vrou gesien, dronk van die
bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus.” En hier in
vers 24 weer.

Nou, gemeente, natuurlik weet ons dat keiser Nero in daardie tyd ook
die christene vervolg het – hoofstuk 13 het ons alreeds hiervan vertel. Maar
nogtans was Rome nie die eerste en ook nie die mees felle vervolger nie. Nee,
dwarsdeur die boek Handelinge is Jerusalem en die Jode die belangirkste
vervolgers. En verder was Rome nie verantwoordelik vir die doodmaak van die
profete van die Ou Testament, soos wat Jerusalem was nie. Jesus sê in Mattheus
23:34 en 35: “Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na
julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van
hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat
oor julle kan kom al die regverdige bloed van die regverdige Abel af tot op die
bloed van Sagaria, die seun van Beregja, wat julle vermoor het tusen die tempel
en die altaar.” En Stefanus stel die vraag vir die Joodse leiers: “Watter een
van die profete het julle vader nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat
vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers
en moordenaars geword het” (Hand. 7:52).

 

Wat eintlik die lieflike voete moes gewees het van diegene wat die
evangelie van vrede verkondig het, soos wat Jesaja en Paulus daarvan praat, het
helaas voete van bloed geword. Die verkondigers van die goeie boodskap is
stilgemaak. So dikwels het God geywer vir die hart van sy volk, so dikwels wou
Hy sy volk bymekaar maak soos ‘n hen haar kuiken onder haar vlerke bymekaar
maak. Maar hulle wou nie! Israel het ander gode gehad (sonde teen die eerste
gebod), sy het die Here gedien soos wat sy wou (sonde teen die tweede gebod),
omdat sy die Woord van die Here verag het. Dit is nie verniet dat die Woord die
een enkele kenmerk van die ware kerk is nie, gemeente – die hoorbare Woord van
die prediking, die sigbare Woord in die sakramente, en die voelbare Woord in
die tug. Maar uiteindelik net 1 kenmerk: die stem van die Here! Nie my stem
nie, nie my opinie nie, nie die stemme en opinies van mense nie. Saam moet die
kerk haar buig onder die stem van die goeie Herder.

En daardie stem kom na ons toe in die weeklikse prediking, dit kom
na ons toe in die huisbesoeke van die ampsdraers, in die kategese, in die
bybelstudies (persoonlik en gesamentlik). Ken ons nog daardie stem? Hoor ons
nog die evangelie van vrede, selfs wanneer ons vermaan en tereg gewys word? Israel-na-die-vlees
het geval – en haar val was groot – omdat sy nie meer na die Here se stem wou
luister nie, en omdat sy diegene doodgemaak het wat die Woord gebring het.
Israel-na-die-gees, die kerk, sal bly staan om een rede: sy luister na die stem
van die Here!

 

Gemeente, Israel-na-die-vlees is nie iets van die verlede nie. Dit
is nie iets wat ver weg is nie. Nee, Israel-na-die-vlees sit in ons. Die sondes
en afval van die volk Israel is opgeskrywe as waarskuwing aan ons, sê Paulus in
1 Korinthiërs 10:11. En dan vervolg hy in vers 12: wie meen dat hy staan, met
oppas dat hy nie val nie. Of in die woorde van Romeine 11:21: “as God die
natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie.”
Laat ons staande bly deur die geloof (Rom. 11:20). En die geloof is uit die
gehoor, en die gehoor is deur die woord van God. Ja, hoe lieflik is die voete
van die wat die evangelie van vrede verkondig – ontvang die gebrekkige
prediking in welwillendheid, ontvang die ampsdraers in welwillendheid, ontvang
elkeen wat die woord bring in welwillendheid. So sal Israel bly staan, so word
sy bewaar van materialisme en eiewilligheid. En so sal sy binnekort die nuwe
Jerusalem sien neerdaal! Amen.

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 62:5-8

Votum Ps. 124:4

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 48:4 en 5

  • Sing voor wetslesing Skr. 26:1

Wetslesing

  • Sing Skr. 26:10 en 11

Gebed

Lees: Openbaring 17 en 18

Sing Ps. 69:10, 11, 13 en 14

Teks: Openbaring 18:23b en 24

Preek

Amenlied Ps. 79:4-7 en 9

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 70

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
/
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy
vrede gee. Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)