Die Sondelose gooi die eerste stene op die ontroue hoerstad Babilon

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2013-02-03
Teks: 
Openbaring 16:21a
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Openbaring 16:18-21

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Ek weet, ek het nou al verskeie male gesê: “Ons is amper daar! Die finale oordeel is nou amper by sy klimaks.” U begin seker al wonder wanneer kom ons daar. Wel, broers en susters, vandag is ons daar! Die sewe skale van Openbaring 16 bevat immers die sewe lááste plae (15:1). Sewe skale gevul met God se grimmigheid (15:7). Nou, hierdie sewe laaste plae met God se grimmigheid kom natuurlik nie uit die bloute nie; nee, dit is al die hele tyd besig om op te bou. Ons het deur die loop van die boek Openbaring gesien hoe God se oordeel steeds intenser word – by die opening van die seëls (Openb. 6) word ‘n vierde deel, ‘n kwart, van die land deur God se oordeel getref; by die blaas van die basuine (Openb. 8) neem dit toe – dan is dit telkens ‘n derde deel wat getref word; en by die sewe skale (Openb. 16) is daar geen onderskeid meer nie, die hele land word getref. God se grimmigheid bereik ‘n klimaks!

En tog, gemeente, is daar sélfs by die uitgiet van die sewe skale nog geleentheid vir bekering. Daar is ‘n toename in intensiteit, dis waar, maar daar is steeds ruimte om terug te keer na die Here. Ruimte waarvan diegene, wat deur die laaste plae getref word, helaas nie gebruik maak nie. Want ons lees tot tweemaal toe wat die mense se reaksie was op God se plae; by die vierde en vyfde skale lees ons: hulle het God gelaster en hulle nie bekeer nie (16:9 en 11). Selfs in die voltrekking van die sewe laaste plae, is God nog genadig (want God soek nie die dood van die sondaar nie!), maar sy ontroue verbondsvolk het haar hart verhard. Net soos Farao, elke keer wanneer een van die plae Egipteland getref het, hom verder verhard het, so verhard die ontroue verbondsvolk haar onder elkeen van God se laaste plae.

 

En dan, wanneer ten slotte die sewende engel sy skaal uitgooi, dan klink daar ‘n stem vanaf die troon wat sê: “Dit is verby” (16:17). Christus se bekende kruiswoord “dit is volbring”, vind sy keersy in hierdie finale oordeelswoord. En wanneer hierdie woord gespreek word, dán is die geleentheid vir bekering verby. En dan volg die voltrekking van die doodstraf oor die hoer wat haar Man verlaat het (16:18-21). Onthou u nog: die skeibrief (die boekrol) is in hoofstuk 5 alreeds deur die Lam in ontvangs geneem. Van daardie oomblik af straf en waarsku die Lam deur sy oordeel wat steeds intenser word – ja, deur die Romeine wat al hoe nader aan Jerusalem kom. Maar as daar geen bekering is nie, en as selfs die sewe laaste plae nie die gewenste uitwerking het nie, dan volg die finale voltrekking van die straf, dan volg die straf wat die wet van Moses bepaal het vir hoerery – dit is ons teks vir vandag. En in die hoofstukke hierna (hoofstukke 17-19) volg die outopsie op die onnatuurlike dood van hierdie hoer. Maar dit los ons vir die komende weke; vandag kyk ons eers na die wetlike straf op die hoerery van Israel.

Tema: die Sondelose gooi die eerste stene op die ontroue hoerstad Babilon…

 

Gemeente, wanneer die sewende engel sy skaal in die lug uitgooi, en daar ‘n groot stem vanaf die troon kom wat sê: “Dit is verby!”, dan verwag ‘n mens eintlik dat dit ook regtig verby is. ‘n Mens verwag dat dit, ná die onrus van die ses voorafgaande skale (wat almal hulle vervulling vind in die beleg en verwoesting van Jerusalem), dat dit nou stil sal word. Maar dit lyk egter asof die teendeel gebeur: “daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie – so ‘n geweldige aardbewing” (vers 18), “en groot hael het uit die hemel op die mense geval” (vers 21). Hoe moet ons dit verstaan, gemeente? Skaars is die sewe laaste plae verby, of dit wil voorkom asof die geweld van God se oordeel nog vir ‘n laaste keer in al sy krag losbreek. Kom ons kyk of ons sin hieruit kan maak…

 

Die verskynsels wat in verse 18 en 21 genoem word, herinner ons, net soos op verskeie ander plekke tot dusver in die boek Openbaring, aan God se verskyning op die berg Sinai. Ons lees daarvan in Exodus 19:16-19 [lees dit saam]. Hierdie selfde Sinai-verskynsels word in die boek Openbaring as’t ware die herkenningsmelodie wat God se ontsagwekkende koms begelei. Dié van ons wat graag na ‘n sekere program op televisie kyk of na ‘n sekere program op radio luister, behoort dit te verstaan – jou gunsteling-program het mos ‘n baie spesifieke kenwysie, nie waar nie? As jy daardie kenwysie hoor, dan weet jy dat jou program nou gaan begin. Nou, net so het God se koms ook ‘n sekere herkenningsmelodie. Dit is ‘n herkenningsmelodie wat gekomponeer is op die Sinai, toe God Homself vir die eerste keer formeel aan sy volk bekend gemaak het. En dit is ‘n herkenningsmelodie wat vervolgens regdeur die boek Openbaring loop – lees maar saam met my: Openbaring 4:5 (weerligte, donderslae, stemme), 8:5 (hier kom ‘n element by: ‘n aardbewing) en 11:19 (hier kom nog ‘n element by: hael).

 

Nou, ons teks het al hierdie elemente (stemme, donderslae, bliksemstrale, aardbewing [in vers 18], en hael [in vers 21]), maar net in ‘n ekstreme vorm (in besonder die aardbewing en die haelstene). Hoekom? Want, broers en susters, hier vind ons die klimaks van God se koms om te oordeel. En hierdie klimaks het geen presedent in die voorafgaande geskiedenis van die mensdom nie. Luister maar wat lees ons in vers 18 in verband met die aardbewing: so ‘n groot aardbewing was daar nog nooit vandat die mense op die aarde was nie. Hierdie massiewe aardbewing kan nie op die skaal van Richter gemeet word nie, want dit kom uit die skaal van die Regter in die hemel!

Dus, gemeente, soos wat ons vroeër gepraat het van ‘n toename in intensiteit van God se oordeel, so sien ons dit hier weer. God se Sinai-verskynsels neem geleidelik toe in intensiteit en in krag, totdat dit uteindelik sy hoogtepunt bereik in hierdie finale oordeel. Maar belangrik: moenie vergeet waar hierdie verskynsels in Openbaring 16 vandaan kom nie. Hierdie verskynsels vat ons elke keer weer terug na daardie eerste verskyning op die Sinai, waar God Homself amptelik aan sy volk verbind het. Dáár moet ons gaan soek na die grond en die rede vir God se oordeel oor sy volk!

 

Ja, gemenete, dit is baie belangrik dat ons sal onthou wat daar by die Sinai gebeur het. By die Sinai het God naamlik, vergesel van hierdie verskynsels, ‘n verbond met Israel gesluit. Uit genade het Hy hulle as sy volk aangeneem. Uit genade het Hy verantwoordelikheid geneem om vir hierdie volk te sorg. Die beeld wat die Bybel dikwels gebruik, is dat die Here ‘n huwelik met die volk aangegaan het – Hy was die Bruidegom, sy die bruid. Dít was God se onverdiende liefde aan Israel! Onverdiend, want sy was die geringste onder die volke.

Die Here het dus met Israel getrou, máár Hy het vervolgens ook verwag dat sy bruid huwelikstrou aan Hom sal bewys! En daarvoor het Hy by die Sinai sy wet gegee as riglyn vir die lewe met Hom. Met sy eie vinger het God hierdie huwelikskontrak opgeteken! En dit is helaas waar dit in Israel se geskiedenis misgegaan het. Want Israel was nie trou in die huweliksverhouding met die Here nie, Israel was ongehoorsaam, Israel het met ander mans gehoereer, sodanig dat die profeet Hosea uiteindelik met ‘n hoervrou moet trou om konkreet vir Israel uit te beeld wat sy gedoen het. Eeue lank was God geduldig, eeue lank het God sy volk telkens maar weer terug ontvang, maar toe sy uiteindelik Jesus Christus, God se eie Seun verwerp het, toe was die maat van God se geduld vol, en toe het God vir Israel die wetlike straf op haar hoerery gegee.

Dít is wat hier in ons teks gebeur, gemeente – Israel kry die wetlike straf op haar hoerery. Die Here se verskyning op die Sinai is nie slegs genade nie; nee, Sinai bring ook oordeel, Sinai bring ook donderslae en weerlig en aardbewing en hael oor die ontroue bruid. Sinai bring die wetlike straf op die hoerery van Israel. En die rede hoekom ek die hele tyd spesifiek praat van Israel se hoerery, is omdat Openbaring 16 sélf ons daarheen lei. In vers 19 word immers gepraat van ‘die groot Babilon’ – en ons het alreeds gesien dat Babilon ‘n baie duidelike verwysing is na Jerusalem, en van hierdie einste Babilon word daar in die outopsie van hoofstuk 17 en verder gesê dat sy die groot hoer was wat hoerery bedryf het. Jerusalem, die bruid Israel, het Babilon geword vanweë haar ontrou teenoor haar man, en daarvoor ontvang sy die straf wat die wet van Moses voorgeskryf het. En wat was daardie straf? Watter straf het die wet van Moses voorgeskryf vir owerspel? Wel, gemeente, om ‘n antwoord hierop te kry, kom ons kyk saam na die geskiedenis wat in Johannes 8 vir ons beskryf word, ‘n geskiedenis waarin daar ‘n bedekte – maar tog duidelike – verwysing is na God se oordeel oor die hoer Israel in Openbaring.

 

 

In Johannes 8 is Jesus in ‘n twisgesprek betrokke met die Skrifgeleerdes en die Fariseërs. En dit is nie sommer ‘n uitwisseling van bybeltekste nie, dit is nie sommer ‘n akademiese debat nie. Nee, Jesus word gevra om regter te wees in ‘n baie konkrete saak van owerspel. En dit is nie maar net ‘n denkbeeldige saak nie; nee, die skuldige is aanwesig, sy word voor Jesus neergesit. En die wet van Moses, in steen gegrif deur die vinger van God, word betrek om daarmee Jesus voor die vraag te stel: moet hierdie vrou nie, volgens die wet van Moses, gestenig word nie? Maar Jesus spreek Hom nie uit oor hierdie vrou óf oor die wet van Moses nie. Tot tweemaal toe (kyk maar verse 6 en 8) buk Jesus neer en skrywe met sy vinger op die grond. Die vraag ontstaan: wat sou Jesus op die grond geskryf het? Is dit onbelangrik vir ons om dit te weet, omdat die Gees dit doelbewus vir ons verborge gehou het? Of kan ons dalk tog uit die konteks aflei wat Jesus sou geskryf het?

 

Wel, gemeente, dit is baie goed moontlik – vanuit die konteks, maar ook vanuit die Griekse taal – dat ons verse 6 en 8 kan vertaal met: en Jesus het neergebuk en dit met die vinger op die grond geskrywe. Jesus het dit op die grond geskryf – wat is ‘dit’? Wel, ‘dit’ is die aanklag. Die Skrifgeleerdes en die Fariseërs het hierdie vrou, wat op owerspel betrap is, na Jesus toe gebring en haar formeel by Jesus aangekla. En presies hierdie aanklag skryf Jesus nou op de grond neer: “Hierdie vrou is op ‘n daad van egbreuk betrap.” Die Griekse woord wat hier met ‘geskryf’ vertaal is, het ook die betekenis van ‘vaslê’ of ‘registreer’. Dus Jesus registreer die aanklag van owerspel teen hierdie vrou.

 

Maar ons moet verder gaan, want Jesus skryf dit op die grond neer. Maar dan moet ons weet dat hier nie die woorde vir ‘sand’ of ‘stof’ gebruik word nie, maar dieselfde woord as wat ons in Openbaring tot dusver steeds met ‘land’ vertaal het. Johannes wil daarmee iets belangriks oordra. Jesus skryf in die grond, in die stuk aarde waarop Jerusalem en die tempel gebou is, en daarmee skryf Hy in die grond van die beloofde land waarheen God sy verbondsvolk gelei het. Wanneer Jesus in hierdie grond die aanklag skryf: “hierdie vrou is op ‘n daad van egbreuk betrap”, en vervolgens niks verder sê nie, dan wil Johannes vir ons wys dat Jesus die beskuldiging teen die vrou ombuig tot ‘n beskuldiging met ‘n baie groter reikwydte. Jesus impliseer iets wat reeds deur verskeie profete gesê is, toe hulle Israel aangekla het van egbreuk.

En as Jesus dan ook nog sê: “Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi…”, dan bedoel Hy nie in die algemeen dat elkeen van ons teen die sewende gebod sondig, of dat elke mens in sonde ontvang en gebore is nie. Nee, Jesus wil die ontrou van Israel aan die lig bring, Hy wil nie hierdie vrou nie, maar Israel se ontrou en hoerery aan die kaak stel. Jesus gebruik die leiers se aanklag teen die vrou om vir die leiers en die volk die diepte van hulle ontrou aan te toon. Hierdie vrou word ‘n simbool van Israel! En daarom ook dat die man wat saam met haar betrap is – sy identiteit moes immers bekend gewees het, want sy is dan op heterdaad betrap – dit is hoekom hy verder nie genoem word nie. Want die vrou word simbool van Israel!

En dit wil voorkom asof die Fariseërs en Skrifgeleerdes Jesus se boodskap baie goed verstaan het, want een vir een het hulle weggegaan, deur hulle gewete bestraf (Joh. 8:9). En kort daarna kom die Fariseërs en Skrifgeleerdes eintlik self terug op Jesus se boodskap wanneer hulle vir Hom sê: “Ons is nie uit ontug (hoerery) gebore nie…” (Joh. 8:41) Dus, gemeente, hierdie leiers wil sien dat die skuldige vrou gestraf word – gestenig word! – vir haar owerspel, maar wanneer Jesus hulle wys op die owerspel van die volk Israel, dan sien hulle nie kans om die eerste steen op te tel nie.

 

Ons sal weer terugkom na Johannes 8, maar kom ons trek eers die lyn na Openbaring 16. Israel word deur Jesus self van hoerery beskuldig, die land word aangekla van owerspel. En saam met die beskuldiging impliseer die Here Jesus ook die straf: steniging. Israel moet gestenig word vanweë haar eeue-lange ontrou en owerspel. En dit is nou die verstommende van ons teks. Want in vers 21 word immers gepraat van haelstene uit die hemel. Hierdie hael vorm, soos wat ons alreeds gesien het, deel van die verskynsels wat met die koms van God gepaardgaan. En tog word dit deur verse 19 en 20 van die ander verskynsels – die stemme, donderslae, bliksemstrale en aardbewing – onderskei. Die hael kom laaste in die ry, die hael voltooi die oordeel, die hael is die doodskoot. In die hael sien ons die voltrekking van die wetlike straf oor Israel se hoerery - steniging!

Maar… hael is mos nie klippe nie? ‘n Haelbui kan mos nie aan steniging gelykgestel word nie? Nee, gemeente, maar ons moet raaksien dat hierdie haelstene nie letterlike haelstene is nie, maar eerder ‘n verwysing is na die laaste aanslag op Jerusalem, toe die Romeine met hulle katapulte massiewe stene op Jerusalem afgevuur het. Net om vir die kinders te verduidelik wat ‘n katapult is: almal van julle het waarskynlik tydens die maaltyd al jou lepel gevat en hard op die punt van die lepel gedruk. Wat gebeur? Ja, die lepel skiet op! En as jy dan nog ‘n paar ertjies op jou lepel sit, en jy druk weer hard op die punt, dan vlieg die ertjies oor die hele tafel. Nou, dit is ongeveer die beginsel waarop ‘n katapult werk – dit is ‘n lang ‘lepel’ van hout, en in die ‘lepel’ word stene gesit en dit word dan deur middel van ‘n sekere meganisme geslinger, sodat die klippe honderde meters ver gegooi kan word. En dit is waarmee ons hier te make het – die haelstene van ons teks is die stene wat deur die Romeinse katapulte op Jerusalem geslinger is.

Hoe weet ons dit? Wel, vers 21 vertel vir ons dat hierdie haelstene omtrent ‘n talent swaar was. En dan lees ons by die Joodse geskiedskrywer Josefus, wanneer hy vir ons vertel van die Romeinse katapulte waarmee Jerusalem verwoes is, die volgende: “Die stene wat gegooi is, was die gewig van ‘n talent, en het twee stadia en verder getrek. Die slag van hierdie stene kon op geen manier weerstaan word nie, nie deur diegene wat eerste in die linie gestaan het nie, maar ook nie deur diegene wat agter hulle gestaan het nie. Wat die Jode betref, hulle het die stene sien aankom, want dit was wit van kleur.” Haelstene soos kanonkoeëls – daarmee is Israel gestenig vir haar hoerery! Die God van die verbond is trou aan sy eie wet – wie owerspel bedryf moet gestenig word. En dit is presies die straf wat Israel gekry het!

 

 

En ons moet dit goed tot ons laat deurdring, gemeente, want die straf oor Israel is nie maar net ‘n historiese feit nie. Ja, ons begin by die historiese feit – dit is die mooi van die boek Openbaring, dit is ‘n boek in ‘n spesifieke konteks, en ons moet by daardie konteks begin. Maar in die historiese feit van Israel se straf lê die boodskap vir ons. Want óns is vandag die Israel van God. Onthou u nog Romeine 11: óns is ingeënt op die olyfboom. Saam met die gelowiges van die ou verbond is ons God se Israel! Maar maak dit ons immuun vir God se oordeel? Nee, want sê Paulus in Romeine 11:21, as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie.

 

Ons is niks beter as die natuurlike Israel nie, broers en susters. Ons is nie van nature ‘n meer getroue eggenote as Israel nie. Die ontrou sit ook in ons, die hoerery is ook deel van ons harte. Die natuurlike neiging van ons harte is, net soos dié van Israel, weg van God af – na die afgode! Ons soek net soos Israel ons krag by die nasies, ons soek net soos Jerusalem ons sekuriteit in hierdie wêreld. Ons is van nature net so onbekeerbaar soos Israel. Van nature laster ons ook wanneer God se straf oor ons kom, wanneer daar swaarkry en seer in ons lewens kom. Die verskil tussen die ou en die nuwe verbond lê daarom nie in die kwaliteit van God se bondgenoot nie. Israel van die ou verbond en Israel van die nuwe verbond is voëls van eenderse vere. Jesus se aanklag in die grond is vandag nog net so ernstig. En daarom kan ons nie afstandelik bly staan wanneer ons die haelstene oor Jerusalem sien kom nie. Nee, gemeente, want dit is die stene wat ook ons toekom. Steniging is ook my, is ook ons verdiende loon!

 

Maar dan hoor ons die stem van Jesus, wat te midde van alle aanklagte van die wet, die duiwel en my eie gewete, vir ons sê: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie” (Joh. 8:11). Die beskuldigers het verdwyn, die opgetekende aanklag word geskrap, en die op-heterdaad-betrapte vrou is vry om te gaan. Daar is ‘n toekoms vir die ontroue vrou. Jesus gee daardie toekoms, want Hy het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om die wêreld te red (Joh. 12:47)!

En dit is waar die uitkoms lê – die Godgegewe uitkoms van die wetlike straf. By Jesus Christus. Dit is die uitkoms vir God se volk, Israel na die vlees, die Jode, want – sê Paulus in Romeine 11:24 – “as jy afgekap is van die olyfboom wat van nature wild was, en teen die natuur op die mak olyfboom ingeënt kan word, hoeveel te meer kan hulle dan wat dit van nature is, op hul eie olyfboom ingeënt word?” Daar is hoop vir die Jode in Jesus Christus! En dit is die hoop vir elke mens. Dit is die hoop vir jou en my, dit is die hoop vir hierdie gemeente. Mense wat die dood-deur-steniging verdien, mag hoor: “Ek veroordeel jou nie! Deur My kry jy nie wat jy verdien nie (die ewige dood), maar jy kry eerder dít wat jy nie verdien nie (die lewe)!” Dit is wat die nagmaal ons leer, gemeente: lewe uit onverdiende genade. Maar dan ook die oproep deur dieselfde Here: gaan heen, en sondig nie meer nie. Dan moet daar ook bekering kom – iets wat by die volk, oor wie die sewe laaste plae gekom het, helaas nie gebeur het nie. En dan leer Sondag 32 ons dat diegene wat in hulle goddelose lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie, hulle kan nie salig word nie. Die vryspraak deur Jesus Christus, roep om die antwoord van geloof en bekering. Gaan heen, jy’s vry, maar sondig nie meer nie! En Christus sê dit nie net eenmaal nie; nee, Hy sê dit elke keer weer vir wie by Hom skuil, Hy sê dit honderdmaal elke dag vir wie met berou en bekering na Hom toe vlug. Wonderlik, nie waar nie!?

 

Maar laat ons met hierdie genade van Jesus Christus nie ligtelik omgaan nie. Jesus Christus is nie ‘n sagte, liewe teddiebeer-verlosser nie. Nee, Hy is steeds die God van die Sinai, skrikwekkend in sy majesteit. HY IS DIE GOD VAN DIE VERBOND! Wee jou as jy jou nie bekeer nie, want sy wet is steeds van krag: owerspel verdien steniging! Maar genade wanneer jy by Hom skuil. Gemeente, laat ons onsself in die komende week baie eerlik ondersoek. Hoe staan ons voor die Here – individueel, maar ook as gemeente. En as die skrif in die grond ons aankla, en as ons gewete ons aankla, moenie omdraai en wegloop nie. Ontvang van Jesus die vryspraak. Kom ontvang dit hier aan die nagmaal. En gaan heen en sondig nie meer nie. Wees die ware Israel, die volk wat vra na Gods bestel, en wat Hom soek in hul gebede.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM          Ps. 148:3-5

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. / Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 29:1, 3 en 4

Wetslesing

Sing Ps. 6:1, 2 en 4

Gebed

Lees:    Openbaring 16

            Johannes 8:1-11

Sing Ps. 105:15, 18 en 23

Teks: Openbaring 16:21a

Preek

Amenlied Ps. 18:4, 7, 8 en 11

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 111:4 en 5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)