Sondag 38(4) : die oorvloed van Pinkster bepaal die gesig van die kerk!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2013-01-27
Teks: 
Handelinge 2 : 37-47
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Sondag 38; lees
Handelinge 2:37-47

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Daardie Pinksterdag in Jerusalem moes ‘n besondere ervaring gewees
het, sowel vir die apostels as vir die omstanders. Die kragtige wind, die tonge
van vuur, die spreek in tale – dit alles was die sigbare bewys van Jesus Christus
se heerskappy. Hy het hemelse volmag ontvang om oor sy kerk die volheid van die
Gees uit te stort. En hoewel Pinkster ‘n unieke, eenmalige heilshistoriese
gebeurtenis was, en die Heilige Gees slegs eenmaal in hierdie sigbare vorm aan die dissipels geskenk
is, mag ons vandag steeds daarvan verseker wees dat die Here se onsigbare en
verborge genade ons nooit sal ontbreek nie. Pinkster word nie herhaal nie, maar
die Gees is en bly altyd by die kerk!

En tog, broers en susters, het hierdie eenmalige, sigbare gebeurtenis
van Pinkster ‘n effek in daardie eerste tyd gehad wat ons nie tot daardie tyd
mag beperk nie; ‘n sigbare effek wat vandag nog net so sigbaar behoort te wees,
omdat ons met dieselfde Gees van Pinkster begenadig is. Mense het naamlik op
grond van Petrus se prediking en oproep tot bekering gekom: “Bekeer julle, en
laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing
van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang… En die wat sy
woord met blydskap aangeneem het, is gedoop” (2:38 en 41). Dít waartoe Petrus
opgeroep het, het inderdaad ook gebeur! Maar daar is nog meer: want daar is op
dié dag omtrent drieduisend siele toegebring
(2:41). Mense het nie net elkeen individueel tot bekering gekom nie, nee, hulle
het ook sáám vanuit die werk van die gekruisigde Christus begin léwe. Mense is immers
toegebring – toegebring tot wat? Tot
die kerk! Die kerk het sigbare gestalte begin aanneem. Sigbare gelowiges het ‘n
sigbare kerk geword, wat gelewe het vanuit die genade van Christus en vervul was
met die Gees van Pinkster.

Nou, na dáárdie kerk wil ons vanmiddag kyk – want daaraan kan ons
toets of ons vandag nog steeds vervul is met die Gees van Pinkster.

 Tema: die oorvloed van Pinkster
bepaal die gesig van die kerk!

  1. Die gesig van die kerk se openbare erediens
  2. Die gesig van die kerk se daaglikse lewenswandel

 

1. Die eerste vraag wat dalk by jou opkom, is: wat het hierdie tema nou
te make met Sondag 38 en met die vierde gebod (“gedenk die sabbatdag dat jy dit
heilig”)? Want die woorde ‘sabbat’ of ‘sondag’ is nog nie eens een keer genoem
nie. En tog, broers en susters, het hierdie tema alles met die vierde gebod en
met Sondag 38 te make. Want as jy die elemente van Sondag 38 wat “veral op die
rusdag” sigbaar moet wees, begin vergelyk met die skets van die eerste gemeente
in Handelinge 2 (veral vers 42), dan sien jy dat dit presies ooreenstem. Ek wys
vir u baie vinnig die ooreenkomste, en daarna sal ons ‘n bietjie dieper delf in
elkeen van die elemente. Antwoord 103 sê:

  • “Ook moet ek veral op die rusdag ywerig met die gemeente van
    God saamkom” – nou, dit is presies wat die eerste gemeente gedoen het; kyk
    maar na vers 44: “en almal wat gelowig geword het, was bymekaar”, asook vers
    46: “dag vir dag het hulle eendragtig volhard”. Dus, die gemeente moet saamkom,
    en ek moet saam met die gemeente saamkom – hoekom? Wel, sê antwoord 103, om
    die Woord van God te hoor, die sakramente te gebruik, die Here openlik aan
    te roep en die Christelike liefdegawes te gee. Hier is vier elemente wat
    ons byna letterlik terugvind in Handelinge 2:42:

1.     
Om die Woord van God te hoor –
hulle het volhard in die leer van die apostels.

2.     
Om die sakramente te gebruik –
hulle het volhard in die breking van die brood.

3.     
Om die Here openlik aan te roep
– hulle het volhard in die gebede.

4.     
Om die Christelike liefdegawes
te gee – hulle het volhard in die gemeenskap.

Dus, dit wat ons belydenis in antwoord 103 beskryf as tiperend van
die samekomste van die gemeente, veral die samekoms op die rusdag, dít beskryf
Handelinge 2 as tiperend van die samekomste van die eerste gemeente daar in
Jerusalem. Nou goed, kom ons ondersoek hierdie elemente afsonderlik.

 

Van die eerste gemeente word in die eerste plek gesê dat hulle
volhard het in die leer van die apostels. Die leer van die apostels – maar moet
ons dan vashou aan die leer van mense, ook al was hulle die apostels? Nee,
broers en susters, want die leer van die apostels is die leer van Jesus
Christus. Immers, voordat hulle apostels (gestuurdes) geword het, was hulle
eers dissipels (leerlinge). Drie jaar lank het Jesus vir Petrus en Johannes en
Jakobus en die ander dissipels onderrig gegee, drie jaar lank was hulle
voltydse studente in die skool van die hemelse Meester. En selfs ná sy
opstanding het Jesus gedurende veertig dae met hulle gespreek oor die koninkryk
van God (Hand. 1:3); dus, selfs kort voor sy hemelvaart gee Jesus nog aan sy
leerlinge ‘n soort opfrissingskursus. Wanneer die apostels daarna uitgaan om te
preek, dan preek hulle dus nie hul eie uitvindsels nie, maar soos goeie ambassadeurs
het hulle getrou oorgelewer wat deur Jesus aan hulle toevertrou was. En presies
om daardie rede kan Paulus in Efesiërs 2:20 sê dat God se gebou, die kerk,
gebou is op die fondament van die apostels en die profete; en om dieselfde rede
bestaan die muur van die nuwe Jerusalem in Openbarig 21 uit twaalf fondamente
waarop die name van die twaalf apostels van die Lam geskrywe staan. Want die
leer van die apostels is die leer van Jesus Christus, en
die leer van Jesus Christus is die leer van die Skrif, en die
leer van die Skrif is die fondament van die kerk, met Christus as die hoeksteen. En
dít is waarin die eerste gemeente volhard het!

Dit is so anders as wat ons vandag dikwels sien. Baie Christene vandag
wil graag die Gees van Pinkster ervaar, hulle wil graag die sigbare, die
skouspelagtige van daardie unieke Pinksterdag terughê, maar om soos die eerste
Pinkstergemeente te bly by die leer van die Skrif, is eenvoudig te gewoon. Ons
vind vandag ‘n duiwelse aversie teen die ‘leer’, teen die ‘doctrina’. Natuurlik
lees mense nog wel die Bybel, natuurlik lees hulle nog Bybeltekste, sulke los
teksverse wat mense per sms vir mekaar stuur – immers, wat is Christenskap
sonder die Bybel. Maar die feit dat die Bybel ‘n leer verkondig, wat
samehangend en eenvormig en allesomvattend is, daaraan wil min mense vandag nog
byt. Maar besef goed: as jy die leer van die Skrif ontken, dan ontken jy wat
die Skrif leer – immers, tot viermaal toe in sy pastorale briewe (1 en 2
Timotheus en Titus) praat Paulus van ‘die gesonde leer’. Hierdie leer is goed vir jou, dit maak jou gesond! Ja,
dit proe dalk nie altyd so aangenaam soos die spookasem wat die sogenaamde
Pinkster-beweging jou bied nie, want dit vertel jou van sonde en oordeel. Soms
is die smaak maar redelik bitter wanneer jy jou eie ellende daarin ontdek. Maar
uiteindelik maak dit jou gesond, want dit bring jou by Jesus Christus!

Ma’s, julle weet mos dat julle kinders nie kan groei van McDonalds
en Spur-kos nie. En daarom doen julle moeite om ‘n gesonde dieet vir julle kinders
te bied. Wel, die Here weet watter dieet ons vir ons geestelike lewe nodig het
– die leer van die Skrif. God wil daarom dat die Woordbediening en die skole
(kortweg: die teologiese opleiding) in stand gehou moet word (begin van
antwoord 103). Laat ons dus voortgaan om die Skrif te preek en onsself onder
daardie prediking te plaas, laat ons voortgaan om saam die Skrifte te
ondersoek, want so het ons Geesvervulde broers en susters daar in Jerusalem dit
gedoen. Pinkster bepaal die gesig van die openbare erediens, en die heel eerste
wat jou moet opval van die openbare erediens is die stewige, gesonde kos wat op
‘n deurlopende basis hier gegee word – volharding in die leer van die apostels.
Dit is die siel van die kerk – haal die leer weg, en al waarmee jy oorbly is ‘n
dooie liggaam, ‘n lyk.

 

Vervolgens word van die eerste gemeente gesê dat hulle volhard het
in die gemeenskap (die bekende Griekse woord koinonia word hier gebruik). Hier gaan dit oor die saamwees van die lede van Christus se
liggaam en die gepaardgaande sorg vir die liggaam van Christus en vir die lede
afsonderlik. Om ‘n gelowige te wees – vervul met die Heilige Gees – beteken dus
nooit dat ek op my eie kan bly staan nie, want die Gees van Pinkster bring gelowiges
bymekaar – daar is op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring, toegevoeg tot
die kerk. Nie as ‘n byvoordeel nie, maar as ‘n wesenlike kenmerk van die geloof.
Ons bely mos: “ek glo in die Heilige Gees”, maar dan volg onmiddellik ook: “ek
glo aan ‘n heilige, algemene, christelike kerk, die gemeenskap van die
heiliges”. Dit hoort bymekaar! En moenie dink dat, net omdat jy Sondae in die
kerk is, jy ook besig is met gemeenskapsoefening nie. Want gemeenskapsoefening
is ‘n aksie, dit is ‘n aktiewe daad. As ons week na week ‘n aanwesigheidslys
van die eredienste sou byhou, dan sou dit vir ons ‘n klomp getalle gee, maar op
sigself sou dit nog niks sê van ons saamwees en ons een-wees nie! Koinonia (gemeenskap) is nie net om die
kerk vol te maak nie, maar dit is die feit dat jy en ek nie hier verby mekaar
kan loop sonder om ons Familie-band te verstewig nie. Koinonia is dat jy en ek ons stemme bewustelik bymekaarvoeg in ons
lof op God, dat ek met verwondering na jou luister terwyl ons sing, en jy na
my.

En koinonia is óók dat
ons, soos wat antwoord 103 dit verwoord, die Christelike liefdegawes sal gee.
Ja, die kollektes wat opgeneem word, is waarskynlik die mees sigbare vorm van
gemeenskapsbeoefening in die erediens. En daarom hoort dit ook voluit in
die erediens. In die geskiedenis was daar gereeld ‘n debat oor die vraag of die
kollekte eintlik in die erediens tuishoort. En die antwoord op daardie vraag
behoort ‘n onomwonde ‘ja’ te wees. Die kollekte-moment in die erediens is
gemeenskapsoefening met diegene wat finansieel swaarkry, ook al weet ek nie wie
hulle is nie.

Gemeente, waak vir die geeste van hierdie eeu wat propageer dat
geloof slegs gaan oor my vertikale lyntjie met God, en dat ek slegs in die kerk
kom om daardie lyntjie te verstewig. Oppas vir daardie gees, want die Gees van
Pinkster leer ons iets anders: koinonia,
gemeenskap met my mede-gelowiges, omdat ons een Hoof het, Jesus Christus.

 

In die derde plek word van die gemeente in Jerusalem gesê dat hulle
volhard het in die breking van die brood. Sommige meen dat dit hier gaan oor gemeenskaplike
maaltye wat gemeentelede gehou het, maar onthou: in hierdie vers word vir ons
die openbare gesig van die kerk geskets. En aangesien ons reeds die koinonia behandel het, sal dit hier móét
gaan oor die sakrament van die nagmaal. Dus, ook die sakramente – nagmaal én
doop – is deel van die openbare gesig van die kerk. Ons kan nie daarsonder nie.
Die Gees van Pinkster bind die kerk aan die tekens van water en brood en wyn;
Christus gee hierdie tekens aan die kerk as bevestiging van die leer van die
apostels.

En ten slotte word van die gemeente gesê dat hulle volhard het in
die gebede. Ja, die aanroeping van die Here is ‘n belangrike deel van die openbare
gesig van die kerk. Die kerk leef in afhanklikheid van haar God, en sy wys dit vir
almal om haar heen deur op haar knieë te gaan. Ook vir die kerk geld dat die
gebed die vernaamste deel van die dankbaarheid is, soos wat Sondag 45 ons leer.
En in hierdie gebede bring ons alles voor die Here – ons behoeftes, ons
dankbaarheid, ons bekommernisse, ons seer. Dit wat ons gemeenskaplik aangaan
bring ons Hom, en dit beteken uiteraard ook dat ons baie konkreet, by die naam,
vir mekaar mag bid. Want waar een lid ly, ly die hele liggaam saam, en waar een
lid bly is, daar is die hele liggaam saam bly. Die kinders kla dikwels dat die
dominees se gebede so lank is – en natuurlik hoef ons nie mekaar se geduld te
beproef met uitgerekte gebede nie. Maar as ons werklik biddende kerk wil wees,
dan het ons baie om vir die Here te sê. Kom ons neem die tyd daarvoor!

 

Gemeente, in hierdie vier elemente – die leer van die apostels, die
onderlinge gemeenskap, die breking van die brood en die gebede – neem die kerk haar
vorm aan voor die oog van die publiek. Hierdie dinge behoort die profiel van
die gemeente te kenmerk. Soos wat my facebook-profiel vir mense sê wie ek is,
waar ek woon en werk, en of ek getroud is, net só het die kerk ook ‘n profiel.
En hierdie profiel 1) word bepaal deur die Gees van Pinkster, 2) dit het as
voorbeeld die eerste gemeente in Jerusalem, en 3) dit kom tot uiting in ons openbare
samekomste, veral die Sondagse eredienste.

En laat ons onsself maar daaraan toets. Ons gaan baie maklik en baie
staties om met die drie kenmerke van die ware kerk, soos wat ons dit vind in
artikel 29 van die NGB. Maar hier in Handelinge 2 word konkrete invulling gegee
aan daardie kenmerke, hier kry die drie kenmerke van artikel 29 vlees en bloed,
hier kry dit lewe – hier besef ons dat ons kerk-wees gaan oor mense wat saam,
in die eenheid van die geloof die Skrifte ondersoek; mense wat werklik omgee
vir mekaar, ook al kom almal nie noodwendig ewe goed oor die weg nie; mense wat
bewustelik saam die sakramente vier; mense wat saam hulle hande kan vou en kan
bid. Dit is die gemeente wat deur die werk van die Gees dít doen, wat die vierde
gebod onderhou. Dán heilig ons die dag van die Here. En dan is daar baie om te
doen op die Sondag, dan word my Sondag vol met arbeid in diens van die
koninkryk!

Maar kom ons gaan verder:
ons het nou eers gelet op die gesig van die kerk in die openbare erediens; ons
let nou vervolgens op die gesig van die kerk in die daaglikse lewe.

 

2. Die mooiste van Sondag 38 is waarskynlik die feit dat dit die lewe
met die Here en die lewe in sy gemeente, wat veral op Sondae tot uiting kom,
nie tot die Sondag beperk nie, maar dit deel maak van die hele lewe. Die
Kategismus kan in elk geval nie daarvan beskuldig word dat dit Sondagschristene
kweek nie, want die Sondag werk deur na elke ander dag: “Ten tweede moet ek
elke dag van my lewe van my bose werke rus en die Here deur sy Gees in my laat
werk. So begin ek die ewige sabbat reeds in hierdie lewe.” Nou, dit wat Sondag
38 hier op ‘n negatiewe manier verwoord – “elke dag van my lewe van my bose
werke rus” – dit verwoord Handelinge 2 eintlik maar net op ‘n positiewe manier.
Ons sien naamlik in die laaste verse van Handelinge 2 dat dieselfde elemente
wat die gesig van die kerk in haar openbare erediens bepaal het, ook weer
terugkom in die daaglikse lewe van die gemeentelede. Wanneer die kerk in
Jerusalem op Sondae uitgegaan het, het daar waarlik iets van die kerk uitgegaan.
Dit wat die christene in die erediens beoefen het, dit het hulle ook gaan
uitleef!

 

Ons sien dit al baie konkret in verse 44 en 45: “En almal wat
gelowig geword het, was bymekaar, en het alles gemeenskaplik besit. En hulle
eiendomme en besittings het hulle verkoop en die opbrings onder almal verdeel,
volgens wat elkeen nodig gehad het”. Dit is die gemeenskap waarvan vers 42
praat. Die gemeentelede was bymekaar, en in hulle bymekaar-wees het hulle gedeel
– uiteraard het hulle die geloof gedeel, maar hulle het ook hulle kos en hulle
klere en hulle geld gedeel. Aan elkeen is uitgedeel soos wat hy nodig gehad
het. Dit beteken regtig nie dat elkeen dit op hierdie manier gedoen het nie, en
hierdie teks kan ook nie as bewys van een of ander vorm van sosialisme gebruik
word nie. Maar dit wys vir ons iets van die gees en die houding in die gemeente
van Jerusalem. Sou dit nie wonderlik wees as dit onder ons ook so kon wees nie?
Ek sê nie dat dit nie so is nie, maar
ons moet nog verder daarin groei, die Pinkstergees wil nog meer onder ons werk.
Want is ons nog werklik bymekaar? Kom
ons regtig bymekaar? Deel ons nog met
mekaar? En dit is nie die dominee wat
wil hê dat die VVB opgestoot moet word nie; nee, dit is die Gees van Pinkster
wat ons aanspreek.

Dan lees ons verder in vers 46: “En dag vir dag het hulle eendragtig
volhard in die tempel…” Wat sou hulle daar gedoen het? Wel, hulle sou verseker
die apostoliese leer bestudeer en ondersoek het – hier vind ons die konkrete
invulling van volharding in die leer van die apostels in die daaglikse lewe. En
as net hierna ons in Handelinge 3:1 lees dat Petrus en Johannes na die tempel
oppad was op die uur van die gebed, dan
kan ons aanneem dat hulle daar ook saam gebid het. Dus, Bybelstudie en gebed –
dit was die gesig van die eerste gemeente, nie net op Sondae nie. Hoe baie van
óns doen dit nog – saam met ander gelowiges die apostoliese leer bestudeer en
bid? Nee, nie nét die leer bestudeer nie, maar dit ook konkreet en persoonlik
maak in die gesamentlike gebed. Nee, nie nét bid nie, maar ook die stof vir die
gebed uit die apostoliese leer haal.

Ons lees verder in vers 46: “hulle het van huis tot huis brood
gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet, terwyl
hulle God geprys het en in guns was by die hele volk.” Gemeentelede het dus saam
geëet, hulle het met mekaar hulle voedsel geniet – nie uitspattig nie, nie
luuks nie, nee, met eenvoudigheid van hart. Eenvoudige maaltye met
medegelowiges waarin die Here geprys word – dit is ‘n getuienis vir die kerk
wat uitleef wat sy preek. Want dit help nie ons sit vroom om een nagmaalstafel,
maar in die praktyk van die dag weier ons om mekaar aan te kyk nie. Die
gemeenskaplike maaltyd van die Here, moet uitwerking vind in die gemeenskaplike
maaltye van broers en susters wat omgee en omsien.

 

En dan sluit vers 47 af: “En die Here het daagliks by die gemeente
gevoeg die wat gered is.” Is dit sommer ‘n lukrake toevoeging? Nee, gemeente,
dit is die gevolg van ‘n kerk wat lewe volgens haar profiel! Die Here gebruik
die gemeente se profiel om mense tot die kerk aangetrokke te maak. Die deursnee
ongelowige kom vandag nie meer in ‘n kerk nie, en het ook geen planne om in sy
lewe ‘n kerk te gaan besoek nie. En daarom moet ons nie verwag dat die gesig
van die erediens mense gaan trek nie. Nee, ons moet mense trek met die gesig
van ons daaglikse lewenswandel. Ons moet van ons bose werke rus en begin
uitleef wat ons hier op Sondae doen. Dís wat mense gaan raaksien! En as hulle
dan, deur die werk van die Gees, uiteindelik die bereidwilligheid uitspreek om
‘n slag kerk toe te gaan, dan moet hulle hier instap en onmiddellik weet: dit
wat ek hier in die erediens sien, is presies dieselfde as wat ek in die lewe
van lidmaat x of lidmaat y gesien het.

Gedenk die sabbatdag dat jy dit heilig, dis ‘n gebod van die Here.
Maar wees ook ‘n alledaagse kerk, ‘n gemeente vir elke dag. Anders word ons
strenge Sondagsheiliging ‘n rookskerm vir iets wat dit in werklikheid nie meer
is nie. Gedenk die sabbatdag dat jy dit heilig – doen dit nougeset. Maar gedenk
ook Maandag en Dinsdag en elke ander dag, dat jy dit heilig. So begin ek die
ewige sabbat reeds in hierdie lewe. Laat die Gees van Pinkster jou lewe vul en
jou profiel bepaal – op Sondag en elke ander dag.

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Skr. 21:4-6

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en
wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 139:12

Gebed

Lees: Handelinge 2:37-47

Sing Skr. 27:4 en 5

Teks: HK, Sondag 38

Preek

Kollekte (kom ons beoefen
gemeenskap, en dan bely ons daarna ons geloof staande en singende)

Sing Geloofsbelydenis (staande)

Gebed

Sing Ps. 133

Sing Ps. 134:4 (as gebed om die seën; verander ‘hul’ na ‘ons’)

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
/
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy
vrede gee. Amen.

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)