Openbaring 15 & 16 : Weet wat jy doen as jy God regverdig noem!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2013-01-13
Teks: 
Openbaring 15 : 1-16 : 7
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van Alten.

 

Preek –
Openbaring 15 en 16

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

“En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring!” (Joh.
19:30). Geliefde woorde onder gelowiges. Dit is woorde wat gelaai is met die
dramatiese krag van die oorwinning oor die sonde en die dood. Dit sê alles oor
ons verlossing! Maar, broers en susters, besef baie goed: as ons Jesus se kruiswoord
– “dit-is-volbring” – onsself wil toeëien, dan moet ons ook bereid wees om saam
met Openbaring 16:17 te sê: “dit-is-verby” – en dan is daardie woorde ook gelaai,
nie met die dramatiese krag van die verlossing nie, maar met dié van die oordeel.
As ons in dieselfde konteks die vervulling van Psalm 69:22 glo (“vir my dors
het hulle my asyn laat drink”), dan moet ons ook bereid wees om Psalm 69 verder
te lees: “Stort oor hulle u grimmigheid uit, en laat u toorngloed hulle inhaal”
(Ps. 69:25). As jy saam met die oorwinnaars by die see van glas en vuur wil
staan, soos dit in Openbaring 15 vir ons beskryf word, dan sal jy God ook moet
prys vir die lyke van die Egiptenaars wat op die strand uitgespoel word.

Ja, gemeente, verlossing én oordeel, God se vriendelike aangesig én
sy toorn, seën én vloek – dit is die werklikheid van die geloof wat ons nie van
mekaar kan of mag skei nie. Ons moet enersyds met die woorde van Psalm 137 kan
sing van ons verlange na Sion, maar ons moet tegelykertyd met dieselfde Psalm kan
sê: “Gelukkig is hy wat jou kinders gryp en verpletter teen die rots.” Moeilik,
nie waar nie!? Dink hoe moeilik was dit vir die vroeë christene – christene uit
die heidendom wat Jerusalem as hulle geestelike tuiste beskou het, maar ook
christene uit die Jodendom wat hulle eie volksgenote so liefgehad het – om
hierdie gedeelte van Johannes se Openbaring te moet lees: sewe engele met die
sewe laaste plae, want die grimmigheid van God is voleindig… en om dan tóg te
sê: “regverdig is u oordele” (16:7). Ja, gemeente, God is regverdig… in sy
verlossingswerk, maar ook in sy werk van oordeel. Weet daarom wat jy doen as jy
God regverdig noem.

 

Tema: Weet wat jy doen as jy God regverdig noem!

 

Johannes sien ‘n ander teken – ‘n ander teken as die tekens in
Openbaring 12:1 en 3, die enigste ander plek in Openbaring waar daar van tekens
gepraat word. Hy sien naamlik sewe engele met die sewe laaste plae. Dit is die
sewe plae van God se verbondsvloek, soos wat ons daarvan lees in Levitikus 26:
“En as julle jul teen My versit en na My nie wil luister nie, sal Ek meer plae
op julle lê, sewevoudig volgens julle
sondes” (sien Lev. 26:21, 24 en 28). En met hierdie sewe laaste plae, só sê
vers 1, word God se grimmigheid voleindig – dit kom tot ‘n einde. Dit is ‘n
soortgelyke uitdrukking as wat Paulus gebruik in 1 Thessalonicense 2:14-16 [lees dit saam]. Dit gaan in hierdie paar
verse, net soos in die boek Openbaring, oor God se toorn oor die Jode, tot die
einde toe, totdat dit voltooi is. En hierdie einde, hierdie voleindiging, tree
in by die ondergang en verwoesting van Jerusalem. Ons is dus nou baie naby aan
die einde, broers en susters; die finale voltrekking van die oordeel is om die
draai.

 

Maar, net soos voor die opening van die sewe seëls (Openb. 6 e.v.)
én voor die blaas van die sewe basuine (Openb. 8 e.v.), kry ons ook hier eers
‘n stukkie hemelse liturgie voordat die sewe engele daadwerklik begin optree
deur hulle skale leeg te gooi. Dit is ‘n baie opmerklike feit: elke keer voordat
een van die reekse van sewe afskop, is daar eers ‘n gewyde oomblik van
aanbidding en lofprysing in die hemel. En in die geval van hoofstuk 15 het dit
tot gevolg dat die teken van die sewe engele in vers 1 eers onderbreek word met
‘n kykie in die hemelse erediens (verse 2-5), en vervolgens vanaf vers 6 weer
hervat word. Dus, die teken is daar, die engele staan gereed, hulle wag as’t
ware al in die wegspringblokke… maar eers word daar erediens gehou in die hemel!

En dit is ‘n pragtige stukkie hemelse liturgie wat ons te sien kry! Aangrypend!
Maar daarby ook ‘n konfronterende stukkie liturgie… Want hierdie hemelse
liturgie laat ons besef dat God se oordeel oor sy ontroue verbondsvolk álles te
make het met die geloof en die gebede van die heiliges. God se grimmigheid staan
nie los van my geloof en gebede nie – inteendeel, ons kan selfs sê dat God júís
op grond van die gebede van die gelowiges in beweging kom! Die christene van
Johannes se dae was dus eerstehands betrokke by die oordeel oor Jerusalem,
hulle het daarvoor gevra in hulle gebede, hulle was selfs binne-in die
beheerkamer van God se aanvalsbasis, hulle het as’t ware die kode gegee waardeur
God se oordeelsmissiele gelanseer is. En dit behoort nie ‘n vreemde gedagte te
wees nie, gemeente, want dit is presies wat ons in hoofstuk 8 se hemelse
liturgie so treffend gelees het: “en die rook van die reukwerk het met die
gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God. En die
engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar volgemaak en dit
op die aarde gegooi; en daar het stemme gekom en donderslae en weerligte en
aardbewing.” Dit is merkwaardig – dit is asof die gelowiges die afsitter is wat
die skoot laat afgaan wat die engele vanuit hulle wegspringblokke in beweging
bring. Die gelowiges ‘trigger’ – om nou maar ‘n Engelse woord te gebruik – die
oordeel. En net so is ons vandag, deur middel van ons erediens en gebede, ook direk
betrokke by God se oordeel oor almal wat nie deel van die ware Israel is nie! Weet
daarom wat jy doen as jy God regverdig noem!

 

Maar kom ons kyk eers wat Johannes in die hemelse erediens sien
gebeur…

Om te begin, sien Johannes ‘n see van glas, gemeng met vuur. Hierdie
see het ons alreeds in hoofstuk 4:6 teëgekom toe Johannes die eerste keer ‘n
kykie in die hemel gekry het. Maar op daardie stadium was daar, in hierdie see
van glas, nog nie sprake van vuur nie. Waar kom die vuur dan nou vandaan? Wel,
as ons ‘n bietjie verder lees (vers 3), dan sien ons dat hierdie see eintlik ‘n
verwysing is na die Rooisee, waardeur die volk moes trek ná hulle uittog uit
Egipte – immers die oorwinnaars staan by die see en hulle sing die lied van
Moses en die Lam. Dit is gedeeltelik ‘n verwysing na die lied van Moses in
Exodus 15 direk nadat die volk deur die Rooisee getrek het. Dus, die see,
gemeng met vuur, moet ons êrens in daardie konteks soek. Nou, as ons dít in
gedagte hou, kom ons lees gou saam uit Psalm 77:16-21 [lees saam]. Dit is duidelik dat dit in hierdie gedeelte gaan oor
die uittog uit Egipte en die deurtog deur die Rooisee, en daarmee gaan gepaard
(verse 18 en 19): donder en pyle en bliksems. Dít is die Here se vuur in die
see – ‘n verwysing na sy oordeel oor die Egiptenaars wat agter die volk aan die
Rooisee wou deurtrek!

 

Dus, broers en susters, ons word in hierdie hemelse liturgie teruggevat
na die tyd van Israel se uittog uit die slawehuis van Egipte, toe Farao en sy
manne in die Rooisee verdrink het. Die see van glas en vuur – wat ‘n deel is van
God se hemelse inrigting – is ‘n blywende herinnering aan daardie magtige
verlossingsdaad! Maar goed, wie is in hierdie geval die oorwinnaars wat by die
see van glas staan? En wie is in die hierdie geval die Egiptenaars wat in die
see vergaan? Wel, net ‘n paar hoofstukke terug – hoofstuk 11:8 – word gepraat
van Jerusalem as die groot stad, “wat geestelik genoem word Sodom en Egipte,
waar ook onse Here gekruisig is.” Jerusalem is Egipte wat in die see van God se
oordeel ondergaan! Hulle wat eers uitgelei is, maar toe nie wou glo nie,
ondergaan nou dieselfde lot as die Egiptenaars. En wie is die oorwinnaars wat
aan die kant van die see staan? Wel, in vers 2 word van hulle gesê dat hulle
“die oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken, oor die getal
van sy naam” is. Dit is die honderd-vier-en-veertigduisend van hoofstuk 14,
hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar (Op. 14:12).

Gemeente, wat ons hier vind, is ‘n nuwe uittog, ‘n nuwe exodus, maar
die rolspelers is anders. Die ware gelowiges, dié wat die Messias van Israel in
geloof aanvaar het, hulle word bevry uit die slawerny van Israel-na-die-vlees; hulle
word bevry van hulle wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge
van die satan (Op. 2:9); hulle word bevry van diegene wat meen dat hulle die
volk van die Here is, maar dit vanweë hulle ongeloof nie meer is nie. Dit is
die skokkende realiteit van ons Skrifgedeelte. ‘n Stukkie geskiedenis waarop
die Jode so trots was, word hier téén hulleself gekeer. Die weg deur die
Rooisee word vir hulle toegemaak, want Jesus Christus is die weg en die
waarheid en die lewe – óók die weg deur die Rooisee! Sonder geloof in Hom is jy
net soos die Egiptenaars, ook al vloei daar Joodse bloed deur jou are. Sonder
geloof in Hom vergaan jy, net soos die Egiptenaars, in die see van sonde en dood.
Net deur geloof in Jesus Christus, net wanneer jy verdrink in die water van die
doop in die Naam van Jesus, is die water van die Rooisee vir jou geen
bedreiging meer nie. Net deur geloof in Jesus Christus ontkom jy aan God se
oordeel, en mag jy deel wees van die skare van oorwinnaars wat by die see van
glas staan!

 

En dan sing die oorwinnaars, net soos Moses en die volk destyds, ‘n
lied. Die lied van Moses, die middelaar van die ou verbond. Maar dit is
tegelykertyd ook die lied van die Lam, die Middelaar en Verlosser van die nuwe
verbond. Moses word hier “die dienskneg van God” genoem – hy was immers die
instrument in die hand van die Here om ‘n begin
te maak met die verlossing van Israel. As kneg van die Here het hy die volk uit
Egipteland gelei. En daarom kon hy ook ‘n begin maak met die sing van ‘n
oorwinningslied, daar aan die oewers van die Rooisee. Maar die verlossing deur
die hand van Moses was nie die beslissende
verlossing nie. En ook die knegte wat ná Moses gekom het – Josua, die rigters,
die konings – nie een van hulle kon die beslissende verlossing bring nie.
Daarvoor moes uiteindelik dié Kneg van
die Here
kom, Hy wat Homself soos ‘n lam na die slagplek laat lei het (Jes.
53:7), Jesus Christus! Al God se verlossingsdade deur die geskiedenis kom in
Hom tot volle verwerkliking; alle liedere in die Skrif is, vanaf Moses, op Hom
gerig. Dit is waar, God se verbondsvolk, Israel, is inderdaad deur Moses uit
Egipte, uit die slawehuis, uitgelei, en daarom sing die oorwinnaars by die see
van glas ook die lied van Moses. Maar tegelykertyd is dit die lied van die Lam,
deur wie die beslissende uittog plaasgevind het.

 

En wat sing hierdie oorwinnaars?

Wel, hulle sing ‘n Koningslied: “Groot en wonderlik is u werke, Here
God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges.” As
‘n mens die elemente van hierdie lied ‘n bietjie nagaan, dan sien jy dat hierdie
lied ‘n samevoeging – ‘n mosaiek – is van talle Skrifgedeeltes uit die Psalms
en die profete. Maar ten spyte daarvan dat dit ‘n samevoeging van vroeëre
Skrifgedeeltes is, bly dit relevant, want God se werke en weë bly altyd groot
en wonderlik en regverdig en waaragtig. Hierdie lied besing die Koningskap /
die heerskappy van God oor die heiliges. God se ware Israel is nou nie meer
Israel-na-die-vlees nie; nee, God se ware Israel bestaan nou uit alle volke,
nasies, stamme en tale. En daarom herinner die begin van vers 4 – “wie sal U
nie vrees nie?” – dit herinner ons aan die naam wat daardie heidene gekry het
wat gereelde besoekers van ‘n Joodse sinagoge was: hulle is Godvresendes genoem. En baie van hierdie
Godvresendes het dan ook, via die sinagoge, die weg na die kerk gevind. En
verder sê vers 4 dat al die nasies sal kom en voor die Here aanbid – ja, die
vreemdelinge het nou huisgenote van God se Koninkryk geword, volle burgers van
die hemelse Sion. God het immers ook die heidene uit die geloof geregverdig!
Daarin word die regverdige dade van die Here openbaar, soos wat vers 4 afsluit:
God regverdig heidene deur die geloof! En as ons praat van heidene dan gaan dit
óók oor onsself. Ook óns is heidene wat slegs deur die geloof geregverdig word.

 

Maar, broers en susters, besef goed: wanneer die Here sy gemeente uit
alle volke en nasies en tale regverdig, dan kies Hy tegelykertyd posisie teen hulle
wat hulleself Jode noem, en dit nie is nie. Die gerig oor sy afvallige
verbondsvolk is dus deel van God se regverdiging. In Romeine 11, waarin dit
gaan oor die plek van die heidene in die ware Israel – en waarna ek al verskeie
male in hierdie reeks verwys het – sien ons baie duidelik hoe die ongelowige
Jode nie meer deel is van die ware Israel nie. In ‘n gedeelte waarin dit gaan
oor die inlywing, die inenting van heidene op die olyfboom van Israel, in
daardie einste gedeelte gaan dit ook oor die verwydering van die dooie olyftakke
van Israel-na-die-vlees.

Dus, wanneer die oorwinnaars aan die see van glas God se dade regverdig
noem, dan werk dit twee kante toe. God se regverdige dade werk deur na hulle
wat geregverdig is deur die geloof, hulle wat oorwin het deur die bloed van die
Lam, die regverdiges! Maar dit werk óók deur na diegene wat onder God se
oordeel val, hulle wat die regverdiging wat deur Christus verdien is, nie
gelowig aanvaar nie. En dit word ook onmiddellik daarna duidelik. Want skaars
het die oorwinnaars God se dade regverdig verklaar, of Johannes se blik word
verskuif, weg van die hemelse liturgie en terug na die sewe engele met die sewe
plae. Dít, gemeente, is die tweesnydende swaard van God se regverdigheid. Weet
daarom wat jy doen wanneer jy God regverdig noem!

 

Ons is dus terug by die sewe engele…

Die tempel van die tent van die getuienis in die hemel word geopen
(vers 5). ‘n Effense vreemde sin, maar waarskynlik word dit duideliker wanneer
ons soos volg vertaal: “Die tempel, naamlik die tent van die getuienis in die
hemel, is geopen.” Dus, die tent – die tabernakel – uit die woestyntyd, én die
latere tempel is een en dieselfde. In die hemel word tent en tempel as’t ware
inmekaar geskuif. Maar let op dat hier spesifiek van die tent van die getuienis gepraat word. Die tent
van die getuienis – want in hierdie tent was “die ark van die getuienis”, en
daar binne-in was die twee “tafels van die getuienis”. Dus, wanneer die sewe
engele met die sewe laaste plae juis uit die tent van die getuienis kom, dan
impliseer dit God se getuienis téén hulle wat sy verbondswet verag het. Vanuit
die tent word getuig téén Israel! Nou gaan God se regverdigheid openbaar word.
Wanneer God ‘ja’ sê vir sy kerk, die erfgename van die beloftes aan Israel, dan
kom daarmee saam sy gerig oor die vleeslike Israel.

En die uitvoerders van daardie gerig is die sewe engele, bekleed met
rein, blink linne, en om die bors omgord met goue gordels (vers 6). Hierdie
engele dra amptelike priesterdrag. Geklee in linne, en omgord met gordels. Die
gordels van goud getuig van hulle verhewenheid. Dus, wanneer die voorhangsel
van die tent/tempel weggeskuif word, sien Johannes die troon en die wesens
daaromheen. Vervolgens sien hy hoe een van die vier lewende wesens aan die sewe
engele sewe goue skale gee, vol van die grimmigheid van God (vers 7).

 

Op daardie oomblik het die tempel vol geword met rook vanweë die
heerlikheid en die krag van God (vers 8). Niemand kon die tempel binnegaan nie.
Presies dieselfde het gebeur by die inwyding van die tabernakel (Ex. 40:34-35) en
by die inwyding van die tempel (1 Kon. 8:10-11). God se glorie is ontsagwekkend
en oorweldigend. By die verskyning van soveel glorie kan niemand dit uithou
nie. Die tempel, wat sopas nog oopgegaan het, is tydens die uitvoering van die
laaste plae geslote. Geen mens kan nou tot God nader nie. Niemand kan Hom gaan
spreek nie, niemand kan meer pleit vir die ongelowiges nie. Hierdie laaste
rampe kan nie meer gekeer word nie. God se toorn gaan nou ontlaai word!

Gemeente, ons sal volgende keer in meer besonderhede kyk na die
inhoud van die skale met God se laaste oordeel. Maar ek wil u net wys wat die
hemelse reaksie is op God se oordele. Engele en kerklidmate leef saam met wat
gebeur. Hulle was begerig om God se oordeelsdade te sien, en noudat dit gekom
het, wys hulle ook hulle instemming daarmee. Vir die engele-ryk tree as  verteenwoordiger op die engel van die waters
(Op. 16:5), en die altaar (Op. 16:7) is verteenwoordigend van die kerk wat om
reg skreeu. En beide sê in werklikheid dieselfde – beide noem God se
oordeelsdade regverdig! Die
engele-wêreld en die kerk knik instemmend wanneer hulle die Egiptiese plae sien
kom oor die ontroue verbondsvolk wat die bloed van die heilige en profete
vergiet het: “Ja, God, die Heilige, is waaragtig en regverdig!”

 

Gemeente, God is regverdig! Hy doen altyd wat reg is. Ja, Hy
verklaar húlle regverdig wat hulle klere gewas het in die bloed van die Lam,
wat hulle saligheid buite hulleself in Jesus Christus soek. Só is God regverdig!
Dit was Maarten Luther se groot ontdekking gewees – Luther was so deurdring van
God se straffende regverdigheid, dat hy in angs gevra het: “Maar waar vind ek
‘n genadige God?!” Totdat hy die ware betekenis van Romeine 1:17 ontdek het:
“Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof,
soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.” Dit is die
ligkant van God regverdigheid waarvoor elke gelowige die Here wil prys! Deur
die geloof in Jesus Christus mag ons deel wees van Israel, nakomelinge van
Abraham en erfgename van die belofte!

Maar wat van diegene wat nie glo nie? Miskien ‘n ongelowige kind, ‘n
kind wat ons laat doop het maar wat op later leeftyd die geloof in God laat
vaar het? Wat van ‘n ongelowige vriend of kollega – ‘goeie mense’ noem ons
hulle dikwels – wat van die Here en sy wil niks wil weet nie? Wat van kerke –
hulle wat sê dat hulle kerk is, maar dit nie meer is nie? Is ons bereid om ook in
sulke gevalle die Here ‘regverdig’ te noem – regverdig in sy oordele? Is ons
bereid om ook die skadukant van God se regverdigheid te honoreer en te
handhaaf, in die besef dat God se ewige oordeel gaan kom oor hulle wat nie in
Jesus Christus glo nie? Kan ons steeds die Here prys wanneer ‘n geliefde te
sterwe kom sonder dat hy/sy in die Here geglo het? En dan bedoel ons met ‘prys’
nie dat ons opgewonde op en af moet spring nie, maar dat ons erkenning moet gee
aan God se soewereine regverdigheid! Ja, ons kan ook prys deur ons trane heen…

 

Dit moes vir ons broers en susters uit die eerste eeu baie swaar
gewees het om God se dade regverdig te noem, terwyl hulle geweet het dat
daardie dade ook dade van oordeel behels het oor Israel-na-die-vlees. En tog
wys die Openbaring van Johannes ons daarin die weg! Kom ons spreek dit hulle
na: “Here, U is regverdig! U is regverdig wanneer U sondaars verlos deur die
waters van die Rooisee heen en van hulle oorwinnaars maak, maar U is ook
regverdig wanneer U die Egiptenaars, die verlorenes, verlore laat gaan in
daardie selfde waters.” En dan buig onsself eerbiedig voor ons Koning, ook al
sukkel ons om sy reg te verstaan. Want Hy is die troue Verbondsgod – Hy doen
altyd wat Hy sê. Sy beloftewoord is getrou – hou daaraan vas. Maar sy
oordeelswoord is net so getrou – hou ook dááraan vas.

En dit is baie moeilik in ‘n tyd wat graag die verlossing aan alle
mense toeskryf, wat graag glo dat God uiteindelik alle mense sal red, elkeen op
sy eie manier. Dit is baie moeilik in ‘n tyd waarin gelowiges, wat wél God se
oordeel wil handhaaf, gekruisig word as mense wat glo in ‘n bloeddorstige God. Hulle
word uitgekryt as harteloos en veroordelend. Nee, broers en susters, die
teenoorgestelde is eerder waar. Mense wat nie meer glo dat God gaan oordeel nie,
hulle is die harteloses, hulle is die liefdeloses. Want by hulle is daar geen
drang en geen rede meer om die evangelie uit te dra nie. Hoekom sou ons nog
sending en evangelisasie doen as mense in elk geval gered word? By sulkes het
die sendingsopdrag – “gaan dan heen, maak dissipels van alle nasies” – geen
krag meer nie! Maar elkeen wat diep oortuig is van God se ewige oordeel, dit is
hulle wat gedryf word deur God se liefde vir sondaars, dit is hulle wat Paulus
se woorde in 2 Korinthiërs 5 oorneem: “Ons bid julle om Christus wil: Laat
julle met God versoen!” En as mense nie wil luister nie, as mense in ongeloof
hulle rug draai, dan prys ons God omdat Hy regverdig is, altyd doen wat reg is,
ook in sy oordeel. En soms prys ons Hom deur ons trane heen, dis waar. Maar God
bly regverdig! Weet daarom wat jy doen as jy God regverdig noem!

Amen

Liturgie
(oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 124

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat
hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was
en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus,
die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die
konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 93:1, 2 en 4

Wetslesing

Sing Skr. 26:7 (die psalm van die gr. 3’s)

Gebed

Lees:    Openbaring 15:1-16:7

Sing Ps. 75:2, 4, 5 en 6

Teks: Openbaring 15:2-4

Preek

Amenlied Ps. 69:4, 9, 10 en 13

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 97:1, 2 en 7

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
/
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy
vrede gee. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)