Oestyd bring skeiding in Sion!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2013-01-06
Teks: 
Openbaring 14:14-20
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Preek – Openbaring 14

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Ons gaan verder met die boek Openbaring. Vir ingeval u vergeet het waaroor dit tot dusver gegaan het, gee ek ‘n baie vinnige oorsig (as u meer besonderhede wil hê, dan moet u weer die eerste sewe preke gaan lees). Ons het gesê dat dit in die boek Openbaring gaan oor die aankondiging van Christus se verbondsoordeel, spesifiek oor die volk Israel, omdat hulle Hom nie as hulle Verlosser wou erken nie. Hierdie oordeel het sy vervulling gevind in die Romeine se oorlog teen die Joodse volk vanaf 67 nC, en het uiteindelik uitgeloop op die verwoesting van Jerusalem en die tempel in die jaar 70 nC. Nou, ons is nog steeds besig om, treetjie vir treetjie, na daardie finale verwoesting toe te beweeg – ons het tot dusver die opening van die sewe seëls gehad (Op. 6), vervolgens is die sewe basuine geblaas (Op. 8-9), en in hoofstuk 16 sal die sewe skale van God se oordeel leeggegooi word. Ons vind hierin ‘n toename in intensiteit; dit word al hoe spannender namate ons nader aan die finale voltrekking van die oordeel kom. En hierdie geleidelike toename in intensiteit moet ons nie negatief beoordeel nie; nee, dit is ‘n bewys van Christus se geduld en genade, want Hy soek nie die dood van die sondaar nie, maar dat die sondaar hom moet bekeer en lewe! En daarom die geleidelike toename in intensiteit – daar bly nog bekeringstyd.

En te midde van al hierdie dreigende oordeelswolke met die gepaardgaande oproep tot bekering, is daar steeds weer die rustige versekering dat God sy kerk, die ware Israel, beskerm en bewaar, ook al mag dit dalk vir haar voel asof sy lank moet wag (Op. 6:10) (ons sien dit onder andere in hoofstukke 4 en 5, en in besonder in hoofstukke 7 en 11). Nou, al hierdie elemente – die dreigende oordeel, die oproep tot bekering, asook die beskerming van die kerk – vind ons terug in ons gedeelte vir vandag. Openbaring 14 is, net soos die paar hoofstukke daarvoor, ‘n meer algemene, tematiese hoofstuk, voordat ons vanaf hoofstuk 16 by die konkrete voltrekking van die oordeel kom.

Tema: oestyd bring skeiding in Sion!

 

Broers en susters, soos ek reeds gesê het: die oordeel is op hande. Die finale slag teen Jerusalem en die tempel is nou nie meer ver nie; volgens Openbaring 14:7 het die uur van God se oordeel gekom. En tog berus God Hom nog nie in die dood van die onbekeerde sondaars nie. Ter elfder ure stuur Hy nog tot driemaal toe sy boodskappers (sy engele) om die ewige evangelie aan die bewoners van die land, en daarmee saam ook aan alle nasies en stamme en tale en volke, te verkondig (vers 6). Die eerste engel het ‘n duidelike oproep: “Vrees God en gee Hom heerlikheid… aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.” Dat God hier spesifiek die Skepper van die hemel en die land, die see en die waterfonteine genoem word, het te make met die oordeel wat binnekort juis teen dáárdie elemente gaan losbars. Immers, in hoofstuk 16:2 sien ons dat die eerste engel sy skaal op die aarde uitgooi. Die tweede engel gooi sy skaal op die see uit (16:3). Die derde engel gooi sy skaal op die riviere en die waterfonteine uit (16:4). En die vierde engel gooi sy skaal op die son (die hemel) uit (16:8). En daarom: voordat die Skepper van hemel en aarde en see en waterfonteine hierdie rampe uitvoer, bekeer julle en aanbid Hom! 

Die tweede engel profeteer die val van die groot stad, Babilon. Hierdie stad het, volgens vers 8,  hoerery bedrywe en daarom word sy in hoofstuk 17:5 ook die moeder van die hoere genoem. Nou, gemeente, dink gou mooi: wie kan teen die Here hoereer? Dit is mos net sy wat deur die Here as sy vrou geneem is! ‘n Vreemde vrou kan mos nie teen die Here hoereer nie? Nee, dit kan net Israel wees! Dus, as hier gepraat word van die groot stad, Babilon, wat hoerery bedryf het, dan gaan dit oor Jerusalem. Terloops, in Openbaring 11:8 word ook gepraat van ‘die groot stad’, en daar word dit duidelik gekwalifiseer met “waar ook onse Here gekruisig is”. Dus, die groot stad, Babilon, die hoer – dit is Jerusalem, wat van die Here afvallig geword het. En die tweede engel profeteer nou die val van hierdie stad, om daarmee die volk van die Here te waarsku – oppas, dit gaan kom! Bekeer julle!

Die derde engel sluit by die tweede engel aan en werk sy boodskap nog verder uit. Want wat was Jerusalem se groot probleem? Wat was die inhoud van haar hoerery? Met wie het sy gehoereer? Wel, as ons hoofstuk 17 lees, dan sien ons dat hierdie hoerstad bo-op die dier sit (17:3 en 9). Dit is nou die dier van hoofstuk 13, wat ons in ‘n vorige preek as Rome geïdentifiseer het. Dus, Jerusalem het haarself met Rome gaan verbind, Jerusalem het ‘n bondgenootskap met die dier, Rome, gesluit. Dit is tipies wat Israel deur die eeue gedoen het – haarself met ander bondgenote gaan verbind, in plaas daarvan om trou aan die Here te bly! En daarom is die waarskuwing van die derde engel: enige iemand wat die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal self ook drink van die wyn van die grimmigheid. Jerusalem se hoerery met Rome sal dus  binnekort deur die Here gestraf word. Bekeer julle!

 

Gemeente, driemaal, in verse 6-11, sien ons God se oproep én geduld én waarskuwings aan sy ontroue verbondsvolk. Hoe onheilspellend en dreigend die woorde van hierdie drie engele ook al mag klink, nogtans word dit in vers 6 ‘evangelie’ genoem. Maar hoe kan dit evangelie wees? Want hierdie waarskuwende profesie is goeie nuus vir ‘n volk wat op die punt staan om deur God se vernietigende toorn getref te word – dit gee immers aan hulle geleentheid vir bekering! Máár as dit nie die nodige uitwerking het nie, dán volg die oordeel, dán word dit oestyd in Sion, en word die skeiding tussen geloof en ongeloof aan ons geprofeteer – dit is waarvan verse 14-20 ons vertel.

Enersyds is daar die graanoes – die Menseseun, Jesus Christus, wat op die wit wolk sit met die goue kroon op sy hoof en ‘n sekel in sy hand, Hy kry vanuit die tempel van God die opdrag om sy sekel in die ryp graanoes te slaan (vers 15). Maar let wel, dit is nie sommer ‘n algemene graanoes nie; nee, dit is die oes van ‘die land’ – ek het in die begin van die reeks oor Openbaring al gesê dat ons die Griekse woord wat hier met ‘aarde’ vertaal is, eerder moet vertaal met ‘land’. En dan lui die laaste woorde van vers 15 soos volg: “die uur het vir U gekom om te maai, omdat die oes van die land oorryp geword het.” En dan dui dit spesifiek op die beloofde land, die land Kanaan. Dus, die Menseseun slaan sy sekel in die graanoes van Israel. Maar as ons dink aan ander Skrifgedeeltes (byvoorbeeld Johannes die Doper se uitspraak dat Jesus sy koring in sy skuur sal saambring, óf die gelykenis van die onkruid tussen die koring), dan verstaan ons dat graan / koring hier ‘n beeld is van die gelowiges. ‘Om te oes’ het hier dus ‘n positiewe betekenis. Die gelowige Jode, dié lede van God se volk wat Jesus Christus in geloof aangeneem het, word deur Hom ingesamel – dit is die res, die oorblyfsel, die honderd-vier-en-veertigduisend waarvan ons in Openbaring 7 gelees het, en wat ons ook in die eerste deel van hoofstuk 14 teëkom. Hulle is die oorryp graanoes wat deur die Seun in sy graanskuur versamel word. Oorryp, vanweë die geduld wat die Seun tot nog toe met die ongelowige deel van sy volk gehad het…

 

Maar andersyds, gemeente, is daar ook die druiwe-oes. Nou, die beeld van die wingerdstok met die druiwe daaraan was ‘n baie gelaaide beeld in Israel. Want Israel was God se wingerdstok! Nie vir niks het daar ‘n goue wynstok bo die ingang van die tempel gepryk nie. En ons sing mos ook in Psalm 80:5: “U, Heer, het ons in vroeër dae geken, en in u welbehae ‘n wynstok uit Egipteland gebring, en self hier ingeplant.” Maar, helaas, Israel het nie die vrugte opgelewer wat die Here verwag het nie, sodat Hy by monde van Jesaja alreeds moes sê: “Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word” (Jes. 5:5). En dit is presies wat ons nou by die druiwe-oes sien gebeur…

Maar, opmerklik, by die druiwe-oes is dit nie die Menseseun wat oes nie, maar ‘n engel. En hy kry sy bevel van ‘n ánder engel, een wat uit die altaar uitkom en mag oor die vuur het (vers 18). Dit herinner ons aan die engel in hoofstuk 8:5 wat, in antwoord op die gebede van die gelowiges, vuur van die altaar afneem en dit op die aarde gooi as teken van God se oordeel – net daarna word immers die sewe basuine geblaas. Dus, wanneer spesifiek hierdie engel opdrag gee om die trosse van die wingerdstok in te samel, dan voorspel dit niks goeds nie, dan voorspel dit oordeel. ‘Om te oes’ word hier dus nie positief bedoel nie, maar negatief. En dit blyk dan ook uit die vervolg, want die wingerdstok word afgeoes en in die groot parskuip van God se grimmigheid gegooi. Israel, God se wynstok, het die ware Wynstok van Johannes 15 – Jesus Christus! – verwerp, en daarom sal die druiwe in God se parskuip gegooi word om daarin vertrap te word. “En – lees ons dan aan die einde van vers 20 – bloed het uit die parskuip gekom tot aan die tooms van die perde, tweehonderd myl ver.” Tweehonderd myl – in die Grieks staan daar 1600 stadia. Nou, ‘n ‘stadium’ is ‘n Grieks-Romeinse lengtemaat, en dit is opmerklik dat in ou Romeinse bronne die lengte van Palestina, van die beloofde land, beskryf staan: 1664 stadia. Ons vind hier dus ‘n beskrywing van die bloedvergieting oor die hele lengte van Palestina tydens die Romeins-Joodse oorlog.

 

Twee oeste, gemeente. ‘n Graanoes, die gelowiges, wat deur Jesus Christus bymekaar gemaak word (dit is die honderd-vier-en-veertigduisend van vers 1 wat saam met die Lam op die berg Sion staan). Én ‘n druiwe-oes, die ongelowiges, wat buite die stad vertrap sal word, daar waar eers Jesus Christus gekruisig is. Dit is die skeiding wat tydens God se oestyd, sy oordeel oor Jerusalem en die tempel in die jaar 70 nC, voltrek word.

En wat is die betekenis daarvan vir ons? Hoe is ons verbonde aan ons gelowige broeders en susters van die eerste eeu? Wel, gemeente, daarin wys die eerste verse van hoofstuk 14 vir ons die weg. Want hoewel die gelowige Jode in vers 1 op die Sionsberg rondom die Lam vergader is, weet ons dat dit nie die aardse Sionsberg kan wees nie. Immers, die aardse Sionsberg sou omring word deur die Romeine, daar was nie nog ‘n stukkie bevryde gebied êrens in Jerusalem nie. En verder is dit ook nie so dat die ongelowige Jode létterlik buite Jerusalem vertrap is nie – inteendeel, baie van hulle het, tydens die beleg deur die Romeine, eerder binne-in die stad gesterf! Nee, die berg Sion en die stad Jerusalem is hier beelde van ‘n dieper, geestelike werklikheid! Want, leer die Hebreërskrywer ons in hoofstuk 12, ons het “gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is…” Dit gaan hier in die begin van Openbaring 14 dus oor die hemelse Jerusalem, die Sion in die hemel! Dáár bevind die Lam Homself!

En wie is in Openbaring 14 rondom die Lam vergader? Ja, die honderd-vier-en-veertigduisend, dis reg! En wat word onder andere van hierdie honderd-vier-en-veertigduisend gesê? Wel, kyk maar na die einde van vers 4: hulle is die eerstelinge vir God en die Lam! Die eerstelinge – is dit nie presies wat die Hebreërskrywer in 12:23 ook sê nie: ons het gekom by die gemeente van die eersgeborenes! Hier lê die relevansie vir ons, broers en susters! Die honderd-vier-en-veertigduisend – twaalduisend uit elkeen van die twaalf stamme van Israel (Openb. 7) – hulle is die eersgeborenes, die eerstelinge van die graanoes. U ken mos hierdie beeld uit die Ou Testament – die eerstelinge van die oes is tydens die groot feeste in Israel aan die Here opgedra, as verteenwoordigend van die hele oes. Maar dan beteken dit dat die res van die oes nog moet inkom. En wie is dit? Wel, ná die eerstelinge uit Israel volg die res van die oes – die gelowiges uit alle nasies en stamme en tale en volke. En op dié manier – só leer Paulus ons in Romeine 11:26 – sal die hele Israel gered word! Dit is die relevansie vir ons vandag…

 

Maar kom ons bring dit nog nader, want hoe word ons – hoe word ek – deel van hierdie skare rondom die Lam? Hoe word ons inwoners van die hemelse Jerusalem? Hoe word ons deel van Jesus Christus se graanoes? Want die skeiding wat God se oestyd in 70 nC gebring het, daardie selfde skeiding gaan ook in die finale oordeel, tydens die finale oes, voltrek word. Wel, kom ons kyk wat daar van hierdie honderd-vier-en-veertigduisend gesê word…

1. In die eerste plek is hulle die vrygekooptes van die land (einde vers 3) – hulle is losgekoop deur die geslagte Lam. Hy het sy bloed vir hulle gestort, sodat hulle vry is van die verbondsoordeel wat oor Israel sou kom. En só het hulle die eiendom geword van die Vader en die Seun, wie se name hulle op hulle voorkoppe gedra het (vers 1) – dit staan in kontras tot diegene wat die merk van die dier op hulle voorhof en hand ontvang het (vers 9). Hierdie honderd-vier-en-veertigduisend is dus die eerstelinge van die loskoop-aksie van die Lam. En soos wat Jesaja gespreek het in hoofstuk 35 van sy profesie: “die losgekooptes van die HERE sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg.” Dit is wat ons hier sien gebeur. Maar vervolgens sal elkeen – uit alle nasies en stamme en tale en volke – wat hulle redding verwag van die bloed van Jesus Christus, saam met hierdie eerstelinge losgemaak wees van die oordeel van God. Van hierdie losgekooptes mag jy en ek deelwees deur die geloof in Jesus Christus. Sy bloed alléén bevry ons van God se oordeel!

2. Verder sê Openbaring 14:4 dat hierdie vrygekooptes hulleself nie met vroue besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein. Natuurlik sê hierdie woorde niks oor die selibaat, soos wat Rome dit verstaan nie. Hoe kan Johannes die huwelik verag as hy elders in die boek Openbaring die nuwe Jerusalem vergelyk met ‘n bruid wat vir haar man versier is (Op. 21:2)? Nee, ons moet hier nie een of ander asketiese toepassing soek nie. Dit gaan hier oor ‘n kontras tussen die hoerstad en die rein bruid. Jerusalem het haar huwelik met die lewende God op die spel geplaas toe sy Rome se bedmaat geword het, maar die honderd-vier-en-veertigduisend het hieraan geen deel gehad nie. Deur sy genade het hulle hulself geheel en al aan Christus verbind! Deur sy krag het hulle elke verleiding tot ontrou aan Christus weerstaan. Hulle het hulself nie aan afgodery of aanbidding van die dier oorgegee nie, maar hulle het die geloof suiwer bewaar. Hulle het die verleiding, wat daar geskuil het in die optrede van die Nikolaiete (waarvan ons verskeie male in die briewe aan die sewe gemeentes gelees het), weerstaan en die lojaliteit aan Christus nie prysgegee nie. Dit gaan hier dus oor toewyding aan Christus, broers en susters! Die vrygekooptes – juis omdat hulle vrygekoop is! – word opgeroep tot algehele toewyding aan hulle Redder. Dit is ook die oproep aan ons wat die merkteken van Christus op ons voorhoofde ontvang het. Laat ons hele lewe aan Hom wy!

3. Vervolgens word van die honderd-vier-en-veertigduisend gesê dat hulle die Lam volg waar Hy ook heengaan. Hier word die toewyding van die vorige punt verder ingevul – dit gaan oor gehoorsaamheid aan die stem van die Lam, wat tegelykertyd die goeie Herder is. Dit gaan oor trou in alle situasies, dit gaan daaroor dat ons voortdurend sal luister na die Woord van die Here. En dit staan in kontras tot die wêreld wat, volgens hoofstuk 13:3, agter die dier aan gegaan het. Daarteenoor vra die Lam dat die gelowiges Hom trou sal navolg. Maar ons moet besef dat hierdie navolging lyding kan meebring – daarvan vertel Openbaring ons in hoofstuk 11, waar ons lees van die dood van die twee getuies, asook in hoofstuk 13:7, waar ons lees dat die dier oorlog teen die heiliges gevoer het. Die marteldood van talle gelowiges in die vroeë kerk bewys vir ons wat die prys is van navolging van die Lam. En daarom dat Johannes ook in reaksie op die boodskap van die drie engele praat van die lydsaamheid van die heiliges (verse 12-13).

4. Daarna word van hierdie honderd-vier-en-veertigduisend gesê dat in hulle mond daar geen bedrog gevind is nie. Weereens is daar die kontras met die dier – by die dier is dit een en al leuen; alles van die dier is pseudo, alles wat hy doen is na-apery. Maar hierdie gelowiges lewe uit die waarheid. Want hulle is uit die Waarheid, Jesus Christus, en hulle luister na sy stem. Dit is die oproep aan alle gelowiges, naamlik om by Jesus Christus se waarheid te bly, wat die wêreld ook al as waarheid vir ons mag aanbied, en hoe aanloklik die sogenaamde ‘waarheid’ van die wêreld ook al lyk.

5. En ten slotte word gesê dat hulle sonder gebrek voor die troon van God is. Dit is ‘n term uit die offerkultus van Israel. ‘n Offerdier mag naamlik geen gebreke gehad het nie, anders is so ‘n dier afgekeur. Die diere wat Israel aan die Here gebring het, moes volmaak en sonder gebrek wees. Nou, net so is die honderd-vier-en-veertigduisend rondom die Lam mense uit een stuk. Daarmee sê ons nie dat hulle sondeloos was nie – as dít die geval was, dan was dit nie nodig dat hulle losgekoop moes word nie. Maar hulle het wel met hulle hele hart, heelhartig, hulleself by die Lam geskaar, en nie agter die dier aangegaan nie. Dit is mos waaroor dit verlede week, in die preek oor de eerste gebod, gegaan het – die Here vra dat ons Hom heelhartig, met heel harte, sal dien! So sal ons, net soos die honderd-vier-en-veertigduisend sonder gebrek voor die troon van God wees.

 

Gemeente, só was elkeen van die honderd-vier-en-veertigduisend. Vrygekoop deur Christus – sy werk van verlossing het absolute prioriteit. Dank God daarvoor! Maar juis dáárom is hulle ook maagdelik rein, navolgers van die Lam, sonder bedrog in hulle mond, en sonder gebrek voor die troon van God. En op dieselfde manier – uit genade alleen, deur die werk van die Lam – mag jy en ek deel wees van die groot menigte wat niemand kan tel nie. Die honderd-vier-en-veertigduisend is die eerstelinge, maar ons mag deel wees van die volle oes. Soek dit daarom by die Lam, vind jou saligheid by Hom en laat Hy van jou ‘n navolger maak, sonder bedrog, sonder gebrek. En moenie hiermee wag nie, doen dit nou en doen dit vinnig.

Want, broers en susters, oestyd is weer op hande. Daar gaan weer ‘n skeiding plaasvind wanneer die Here Jesus terugkom op die wolke. En dit kan enige oomblik plaasvind! Moenie die ewige evangelie laat wag nie, moenie die waarskuwings en dreiging van God se boodskappers in die wind slaan nie. Want as die oestyd aanbreek, is die tyd om. Pas op dat julle Hom wat spreek nie afwys nie, want onse God is ‘n verterende vuur. Nee, gaan na Jesus, die Middelaar van die nuwe testament. En laat ons, omdat ons in Hom ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Mag Hy sy heil en bystand stuur uit hoë heiligdom, en u uit Sion ondersteun, van waar u hulp sal kom!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (oggend)

 

  • VOORPSALM Ps. 48:1, 4 en 5

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 100

Wetslesing

Sing Ps. 80:5, 7, 8 en 10

Gebed

Lees:    Openbaring 14

            Hebreërs 12:22-29

Sing Ps. 137:1, 3-5

Teks: Openbaring 14:14-20

Preek

Amenlied Ps. 20:1-3, 5 en 6

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 84:3 en 4

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen. / Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)