Prediker 3 : Hoe om aan wisselende tye sin te gee.

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2012-12-23
Teks: 
Prediker 3 : 1-15
Preek Inhoud: 

 

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – Prediker
3:11 en 14; lees Prediker 3:1-15

 

Geliefde gemeentes van ons Here, Jesus Christus,

Ons staan op die draaipunt van die ou jaar na die nuwe jaar, van
2012 na 2013. En sulke draaipunte is altyd ook stilword-punte, besinningspunte.
Terugkyk na wat agterlê, uitsien na wat voorlê. En wat sien jy dan as jy
terugkyk? Was dit ‘n besondere jaar? Het jy gekry waarna jy gesoek het? Is jy
dalk trots op wat jy hierdie jaar bereik het, of was dit dalk ‘n jaar van groot
hartseer en diepe teleurstelling? En wat sien jy as jy vooruit kyk? Het jy
groot planne vir 2013? Kom daar dalk groot verandering in jou lewe? Beskou jy
die nuwejaar as dié jaar waarin dinge
vir jou gaan gebeur, of sien jy dalk op teen dit wat voorlê?

Broers en susters, die onderliggende vraag in al hierdie vrae, is: hoe
evalueer ons die tyd – die verlede-tyd, maar ook die tyd van die toekoms? Hoe
weeg ons die gebeure van ons lewe? Hoe weeg jy jou eie plekkie in die loop van
die geskiedenis? Kom ons leer vanaand by die Prediker die antwoord op hierdie
vrae. Ook al het die Prediker duisende jare gelede geleef, kan ons nogtans by
hom leer, want – vers 15 – alles wat is, was alreeds. Of meer uitgebreid in die
woorde van Prediker 1:9: “Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur
het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.” Nou ja,
as daar dan niks nuuts onder die son is nie, laat ons die wysheid van duisende
jare gelede toepas vir vandag.

Tema: Hoe om aan wisselende tye sin te gee…

  1. Relativeer jouself
  2. Vrees God

 

1. Broers en susters, alles in hierdie lewe is tydelik, alles verander.
Elke ding het sy vasgestelde tyd – daar is ‘n begin, maar daar is ook weer ‘n
einde. In veertien baie konkrete voorbeeld-pare, waarin goed en kwaad mekaar die
hele tyd afwissel (die bekende woorde van verse 2-8), wys die Prediker vir ons
hoe daar vir elke ding ‘n vasgestelde tyd is, met die gevolg dat daar ook ‘n
bepaalde afwisseling en ‘n bepaalde ritme in die lewe is. En in hierdie ritme
van die afwisseling van tye is daar uiteraard iets aantrekliks – want wie sou
altyd winter wou hê sonder dat daar ooit ‘n somer gekom het? En wie sou altyd
lente wou hê – ‘n tyd om te plant, maar nooit ‘n tyd om te oes nie? Wie sou wou
hê dat dit altyd Maandag moet bly, sonder dat dit ook Dinsdag en Woensdag, en
uiteindelik Saterdag en Sondag geword het? Nee, hierdie ritme is nie in sigself
sleg nie. Ritme – met die gepaardgaande afwisseling en herhaling – is deel van God
se geskape werklikheid.

Van die begin af het God Adam geskape in die tyd. En in daardie goeie skepping het God ook ritme en afwisseling
ingebou – die wisseling van dag en nag, die opeenvolging van die seisoene, die
daaglikse arbeid in die tuin met die afwisseling van die rus op die sewende
dag. Dit is hoe God dit gemaak het. Elke ding op sy tyd. Of in die woorde van
vers 1: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n
tyd.” En dit geld vir die hele skepping. Die hele geskape werklikheid is
geplaas in die tyd – die tyd wat
tydelik is, die tyd wat voortdurend voortskrei. En God het gesien wat Hy gemaak
het, en kyk, ook dít – ook hierdie
verandering van die tye – was baie goed! (Gen. 1:31). Dus, die tydelikheid van
alle dinge, en die feit dat daar vir elke saak onder die hemel ‘n tyd is, en
die feit dat die tye mekaar afwissel – dit is nie noodwendig ‘n gevolg van die
sondeval nie, maar iets wat God in sy goedheid deel van die oorspronklike
skepping gemaak het.

 

Nou weet ons dat, ook ná die sondeval, hierdie tydelikheid, hierdie
ritme, deel van ons bestaan is. Maar nou is dit natuurlik nie meer net mooi
dinge wat afgewissel word met ander mooi dinge nie; dit is nie meer slegs die
dinge van God se goeie skepping wat mekaar afwissel nie. Nee, nou is dit mooi
én lelike dinge, goeie én hartseer dinge wat mekaar afwissel: ‘n tyd om gebore
te word, maar ook ‘n tyd om te sterwe; ‘n tyd om lief te hê, maar ook ‘n tyd om
te haat; ‘n tyd om te ween, maar ook ‘n tyd om te lag; ‘n tyd vir vrede, maar
ook ‘n tyd vir oorlog. Goed en kwaad wissel mekaar af. En omdat die sondige
mens korter lewe – want waar Adam ongeveer 500 jaar gelewe het, en Metusalag
amper ‘n 1000 jaar gehaal het, lewe ons gemiddeld net 10% daarvan – daarom volg
die dinge mekaar ook nog soveel vinniger op. Die kringloop van afwisseling, die
ritme waarin óns lewe, word soveel meer intens.

Wat jy vandag klaarmaak, kan jy more maar weer oordoen. Wat vandag
skoon is, is more weer vuil. En die ontwikkelinge van ons tyd maak dit nog
soveel vinniger. Want wat vandag nuut is, is binnekort weer verouderd. Die
nuutste tegnologie word met groot fanfare vir ons aangebied, maar dit sal nie vir
lank die nuutste tegnologie bly nie. Dieselfde geld ook vir standpunte wat
mense inneem – wat nou belangrik is en almal se aandag en instemming vra, kan
oor ‘n paar maande presies andersom verkondig word. Kyk maar na die politiek in
ons land. En wat van jouself? Vandag is jy dalk iemand, en more beteken jy niks
meer nie. Vandag is jy ‘n baie bekende persoonlikheid, maar ‘n paar maande
later is jy deel van die geskiedenis. Vandag het jy ‘n belangrike werk, more
miskien nie meer nie. Niks in hierdie wêreld, en niks wat ons najaag het
permanentheid nie.

 

En as ‘n mens op hierdie manier, vanuit die sondige en gebroke
werklikheid, na die tyd kyk, dan kan ‘n mens baie maklik moedeloos word. Is dit
verbasend dat mense ‘n houding kry van “ag, watter sin het dit alles? Hoekom
moet ek myself nog oor al hierdie dinge bekommer, hoekom moet ek myself nog
hiermee moeg maak?” Gevolglik begin mense hulleself van hierdie kringloop van
afwisseling en herhaling onttrek, want hulle kan nie die sin daarvan verstaan
nie. Wat ons ook al doen, watter vaardighede en inisiatiewe ons ook al aan die
dag lê, dit lyk asof dit altyd onderhewig is aan die afwisseling van die tye, dit
lyk asof die kringloop van die tyd ons meester geword het. Niks wat ons doen,
lyk asof dit vry is van die relatiwiteit van die tyd nie. Met die gevolg dat
die Prediker in verse 9 en 10 van hoofstuk 3 moet sê: “Watter voordeel het hy
wat werk, daardeur dat hy hom vermoei? Ek het die taak gesien wat God aan die
mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.” Die Prediker verstaan hierdie
reaksie op die afwisselende tye baie goed – hy het immers self daarmee
geworstel!

En tog, broers en susters, skets die Prediker hierdie veranderende
tye in vers 11 nie aan ons as iets wat ons moedeloos moet maak nie. Nee, hy skets
die veranderende tye eerder as ‘n Godgegewe patroon wat homself ontvou – want “alles
het Hy mooi gemaak op sy tyd” (vers 11a). Mooi? Is dood mooi? Is doodmaak mooi?
Is oorlog mooi? Nee, ons kan beter vertaal met ‘gepas’. Alles pas presies op
die tyd waarvoor God dit beplan het, en só dra elke tyd by tot die totale
meesterstuk waarmee die Skepper besig is. Elke tyd, elke geleentheid – hoe
verganklik ook al! – is ‘n onderdeel van die geheel. En God het iets van
daardie geheel in ons harte gelê – kyk maar na vers 11b: “ook het Hy die eeu in
hulle harte gelê.” Bedoelende: God het die besef van tyd, van hede en verlede
en toekoms, deel van ons mens-wees gemaak; dit sit in ons om meer te wil weet
van die verlede / die geskiedenis, dit sit in ons om vandág te wil analiseer en
verstaan, dit sit in ons om die toekoms te wil ken. En tóg, so sluit vers 11
af, kan ons die werk wat God doen, van begin tot end, nie uitvind nie. Ons
probleem is dus nie dat die lewe weier om tot stilstand te kom nie, gemeente, ons
probleem is nie dat daar voortdurende veranderings is nie, maar ons probleem is
dat ons slegs ‘n fraksie van die totale beeld kan sien. Ons het geen oorsig
nie, ons sien die deeltjies (die afwisselende tye), maar ons sien nie die
geheel nie.

Daar is dus nie so iets soos gevriesde volmaaktheid nie; nee, daar
is ‘n dinamiese, goddelike beweging, met ‘n duidelike begin by die skepping en
‘n beplande einddoel waarvan God alleen weet. Máár, en dit is ons probleem, ons
vang net die verskillende momente op: soms wonderlike, asemrowende tye; soms
donker, hartseer tye. Ten spyte van ons kennis van al hierdie afsonderlike
momente, al hierdie aparte tye, bly ons onvergenoegd want ons kan die totale
betekenis nie gryp nie. Ons is soos ‘n bysiende persoon wat met sy neus teen ‘n
massiewe muurskildery of mosaiek staan. Ons sien genoeg om te besef dat ons
hier met ‘n werk van uitsonderlike kwaliteit te make het, maar die geheel
ontgaan ons. Ons kan nooit ver genoeg terugstaan om daarna te kyk soos wat die
Skepper daarna kyk nie – heel en volledig, van begin tot end.

Nou, broers en susters, sonder om ons moedeloos te wil maak – want
dit is nie die Prediker se doel nie – is dit tog belangrik dat ons vir ‘n
oomblik by hierdie bysiendheid van ons stilstaan, dat ons verstaan dat ons met
ons neuse teen God se muurskildery staan en die geheel nie kan oorsien nie.
Want as jy dít verstaan, dan leer jy iets van jouself ken. Wie is ek regtig?
Wat het ek regtig bereik? En só leer die Here jou om jouself en die gebeure in
jou lewensgeskiedenis te relativeer. Dit gee aan ons ‘n stukkie beskeidenheid
wanneer ons besef dat ons die belang van ons lewens – die belang van ons
prestasies, van ons opinies, van ons swaakry – dat ons die belang daarvan in
die geheel van God se muurskildery nie ken nie en ook nie kan oorsien nie. Jy
kan die geheel nie oorsien nie, en tog gee dit perspektief wanneer jy besef dat
jou lewe maar net ‘n klein steentjie is in die geheel van God se eeue-omvattende,
wêreld-omspannende mosaiek. En kyk dan weer na jou lewe van die afgelope jaar…

Jy het dalk in die afgelope jaar ‘n prominente rol in die samelewing
gespeel as besigheidsman of as akademikus of as beleidsmaker… Óf jy het dalk ‘n
verandering aan mense se lewens gemaak met jou liefdadigheidswerk of
liefdesdiens… Óf jy het dalk ‘n groot prestasie behaal met jou matriek-uitslae
of die graad wat jy behaal het of daardie sportspan waarvoor jy verkies is…
En?! Hoe weet jy of jou oomblik, wat jyself so belangrik ag, in die geheel van
God se plan so belangrik is? Dit is maar net ‘n tyd – as dit nie al
verby is nie, gaan dit binnekort wees. Jou oomblik in die kollig is presies
dit: ‘n vlietende oomblik. Relativeer daarom dit wat jy in die afgelope jaar
bereik het; moenie dat jou steentjie in die mosaiek die hele mosaiek word nie.
Dit is maar net ‘n steentjie – haal dit uit die mosaiek, en dit verloor sy
betekenis in die geheel.  

Of jy het dalk in die afgelope jaar swaar tye deurgegaan, jy het
miskien groot hartseer beleef, jy was dalk deur ‘n dal van doodskaduwee. In ‘n
jaar kan daar baie in mense lewens gebeur: miskien het ‘n geliefde gesterf, jy
het dalk ‘n liefdesteleurstelling beleef, jy is dalk deur ‘n egskeiding,
miskien het jy jou werk verloor. Ook dit is deel van God se groter mosaiek –
onthou (en ek sê dit met groot deernis en versigtigheid): jou hartseer en
teleurstellings is ‘n deel, nie die geheel nie. Jou en my swaarkry is ‘n
teëltjie in God se massiewe mosaiek. Maar so is daar miljoene ander
swaarkry-teëltjies – in die kerk, in ons land, en op soveel ander plekke in die
wêreld.

Op dieselfde manier moet ons ook ons eie opinies van die afgelope
jaar kan relativeer. Ons ag ons opinies, ons menings, geweldig gewigtig; ons
vat onsself baie ernstig op. Ag, soms is dit goed om maar ‘n noot laer te sing.
Want opinies verander. Mense verander. Iemand kan in die kerk baie sterk voel
oor ‘n sekere saak, maar die oomblik as dit homself oorkom, dan sing hy ‘n
ander deuntjie – die praktyk bewys dit oor en oor. Wees maar beskeie oor jou
opinies, moet jou gedagtes maar nie te veel verabsoluteer nie. Tye verander.
Let wel, daarmee sê ek nie dat ons die geloofsinhoud moet relativeer nie, ek sê
nie dat ons die Here se Woord moet relativeer nie, maar weet wel dat jou
verstaan van God se Woord ook maar gebrekkig is; dalk gee die Here jou oor ‘n
jaar verdieping van kennis, en kan jy jou opinie bystel. Dus, die waarheid
verander nie, maar ken wel jou eie, beskeie plekkie in die geheel.

 

En so, broers en susters, begin ons om onsself – ons eie
lewensgeskiedenis, ons eie prestasies, ons eie opinies, selfs ons eie swaarkry –
te relativeer. Nie onbelangrik te maak nie, maar wel die regte plekkie te gee
in die groot geheel. En wanneer dit gebeur, en ons vra vervolgens: “Maar wat
nou?”, dan sê die Prediker: doen eenvoudig wat goed is (vers 12), en wees bly
met die goeie wat God gee, dit is sy gawe aan jou (vers 13). En dit is
belangrik vir die nuwejaar. Moenie jouself te hoog ag nie, moenie jou posisie
te belangrik ag nie, moenie dink jy is onmisbaar nie. Doen wat goed is voor die
Here en geniet sy goeie gawes. En dit is nie ‘n humanistiese “don’t worry, be
happy”-boodskap nie – nee, dit is waartoe die Here jou roep wanneer jy
gekonfronteer word met die wisselvalligheid van alle dinge, en met die
verganklikheid van jou eie lewe.

In die tweede plek: vrees
God!

 

2. Die Prediker het leer verstaan dat alles in die tyd tydelik is.
Alles wat mense doen, is tydelik. Máár, dan leer hy vervolgens ook die
teendeel: “Ek het ingesien dat alles wat Gód doen, vir ewig sal bestaan; daar
kan niks bygevoeg en daar kan niks van weggeneem word nie” (vers 14). Dus, mense
en hulle werke is relatief, dit gaan verby en word vergeet, maar God se werke
is ewig, dit bly vir altyd bestaan. Te midde van alles wat verander, te midde
van wisselende omstandighede, is daar die ewige God! Of soos wat ons so pragtig
sing in Psalm 9: “Maar bo wat wissel en vergaan, bly ewig God se rykstroon
staan.”

Dit is ‘n doelbewuste kontras wat die Prediker hier vir ons skets:
die tydelikheid van die mens en sy werke, teenoor die ewigheid van God en sy
werke. En die doel daarvan? Wel, sê hy aan die einde van vers 14, “God het dit
so gemaak dat hulle moet vrees voor sy aangesig.” God het sy ewigheid doelbewus
teenoor die tydelikheid van die mens geplaas, sodat die mens sy eie beperktheid
en verganklikheid sal raaksien, en Hom eerbiedig sal aanbid! Sien u, op dié
manier word die sondige verganklikheid diensbaar aan die goeie – want as alles
in hierdie lewe in versnelde tempo verbygaan, dan kom des te duideliker na vore
wat wél standhoudend is! Ja, God het doelbewus die skepping aan die verganklikheid
onderwerp (Rom. 8), om daarmee die lig te laat val op Homself! Die tyd staan in
diens van die ewigheid!

 

En só kom ons, te midde van alles wat om ons heen wankel en verander,
te midde van alle verganklikheid en sterflikheid, te midde van ons eie
beperktheid en gebrokenheid, tereg by die ewige, onveranderlike God. En as ons
by hierdie God tereg kom, dan gaan die ewigheid vir ons oop! Want dan kom ons
ook tereg by sy ewige plan vir hierdie wêreld – die redding van sondaars (2
Tim. 1:9)! En ons kom tereg by sy Woord, waarvan Jesaja 40 sê: “Die gras
verdor, die blom verwelk, maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.”
En ons kom tereg by Jesus Christus, ons Redder, wat – volgens Hebreërs 13:8 –
gister en vandag dieselfde is, en tot in alle ewigheid. En ons kom tereg by God
se ewige verbond met Abraham, Isak en Jakob en hulle hele nageslag, soos wat
ons sing in Psalm 105. En wie dit alles in geloof omhels, wie dit aanvaar as
die antwoord op die verganklikheid, daardie persoon ontvang die ewige lewe
(Tit. 3:7), die ewige erfenis (Hebr. 9:15), die ewige saligheid (Hebr. 5:9),
die ewige heerlikheid in Christus Jesus (1 Petr. 5:10). Hy word ‘n burger van
die ewige koninkryk (2 Petr. 1:11)! En hy sing die lof van hierdie God: “want
aan U behoort die Koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid!”
Dit is so waar wat ons sing in Skrifberyming 24:4: “die ewigheid is nie meer
stil nie! In Jesus Christus het die ewigheid vir ons oopgegaan, die ewigheid
roep dit uit dat Christus ons Verlosser is, en elkeen wat in Hom glo word deel
van die ewige lewe!

 

Sien u die kontras, broer en suster? Ek en my werke is so kort van
duur – vandag is ek belangrik, môre is ek vergete; vandag bou ek iets op, môre
word dit weer afgebreek; vandag is ek ‘n blom van die veld, môre is my plek nie
meer daar nie. Dit is genoeg om enige mens moedeloos te maak. Maar dán die
uitkoms: God is ewig, en sy verbond is ewig en sy verlossing duur tot in
ewigheid!

En daarmee word dan ook die belangrike vraag vir 2013 aan ons
voorgehou: wil jy in die tyd wandel
met die ewige God? Dit is die maak-of-breek-vraag. Natuurlik – en ek het dit in
die eerste punt reeds gesê – is die tydelike dinge nie onbelangrik nie. Jou
lewe hier op aarde – jou huwelik, jou gesin, jou werk, jou ontspanning – is nie
sinneloos nie. Maar wanneer jy hierdie tydelike, daaglikse dinge losmaak van
die ewige God, dan verloor dit alle sin. Die oproep is daarom om die tydelike –
alles wat jy doen en is – om dit op te neem in jou omgang met die ewige God.
Maak jou hele lewe deel van jou verhouding met God. En dit kan, dit moet! Want
die ewige het in die tyd ingekom – die ewige God het mens geword en onder ons
kom woon, sodat die tydelike sinvol kan wees in diens van die ewige. Al jou
werke wat jy in die tyd doen in diens
van die ewige God, al daardie werke sal jou dan navolg, want ons arbeid in die
Here is nie tevergeefs nie (1 Kor. 15). Maar laat dit dan arbeid in die Here wees, want Hy is die ewige
God wat aan ons arbeid ewigheidswaarde gee.

 

Broers en susters, welgeluksalig is elkeen wat, ook in 2013, die
Here vrees. 2013 is ‘n vlietende oomblik, ‘n sug en dis weer verby. Jy sal sien
– jy dink nog dis Januarie, dan is dit alweer Junie. En jy sien nog uit na ‘n
vakansie in Julie, dan is dit alweer eksamen in November. Laat daarom elke
vlietende oomblik bewustelik deel wees van jou verhouding met Jesus Christus. Dan
sal die lewe sin maak; dan sal 2013 werklik die jaar van onse Here wees. En wie
weet, moontlik is 2013 selfsdie laaste jaar van onse Here, want… alles het immers
sy bepaalde uur. Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd. Ook die wederkoms van
Jesus Christus. Vrees Hom dan, en jy sal lewe!

Amen

 

Liturgie (aand)

 

  • VOORPSALM Ps. 90:2,
    3, 7, 9

Votum en seëngroet: Ons hulp is in die Naam van die Here wat
hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van
die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 47:1 en 4

Gebed

Lees: Prediker 3:1-15

Sing Ps. 104:12-15

Teks: Prediker 3:11 en 14

Preek

Amenlied Ps. 31:5, 12 en 15

Gebed

Sing Geloofsbelydenis

Kollekte

Slotsang Ps. 103:8, 9 en 11

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van
God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.
/
Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn
en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy
vrede gee. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)